Monday, August 24, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (23 Augustus 2009)

Bybelse Aanbidding - 01 (God se Heiligheid en Heerlikheid) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons praat baie maklik en sê baie gou en ook baie dikwels, dat ons die Here ken. Ons sê dat ons op allerlei wyses met God praat. Ons sê ook gereeld dat ons die Here hoor praat met ons deur Sy Woord. Ons sê gereeld dat ons gemeenskap met God het. Ons sê ook dat ons God gereeld verheerlik deur ons lofprysing en aanbidding.

Jesaja was ’n profeet van God wat ’n baie nou verhouding met God gehad het – ’n Profeet wat God se stem – Sy direkte spreke, gereeld gehoor het, maar kom ons luister net na wat Jesaja se reaksie was toe hy ’n kykie gekry het in ware aanbidding van die Drie-Enige God.

2. SKRIFLESING:
Jes.6:1-6 ~ In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2 By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. 3 Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” 4 Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. 5 Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” 6 Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. . 7 Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” 8 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

3. INLEIDING:
Ons probleem as gelowiges, is dat ons God so maklik laat inpas by óns besige lewens; óns dagboek; en selfs by ons vorm van godsdiens, dat ons aanbidding van God so dikwels (en dalk permanent), niks anders is as bloot maar net nog ’n aktiwiteit nie – ons gaan maar net deur die “motions”. Die probleem is egter dat wanneer ons bely dat God ewig is; dat Hy almagtig is; dat Hy alomteenwoordig is; dat Hy alwys is; dat Hy soewerein is, kan ons aandag en ons tyd en ons aanbidding nie maar net bloot verval in roetine en net maar nog ’n aktiwiteit wees nie. Inteendeel, ons aanbidding en die lof en eer wat ons aan Hom bring behoort die hoogtepunt van ons dag te wees (elke dag) – dit behoort die mees uitstaande, ernstigste en heerlikste gebeurtenis van ons dag te wees! Ongelukkig gebeur dit bitter min, indien ooit, dat ons onsself losmaak van hierdie wêreld en sy trekkragte sodat ons God in al Sy heerlikheid en heiligheid kan verheerlik.

Ons moet besef dat die God wat ons sê ons ken, dié Een is oor wie duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene engele, hard uitgeroep en sê, Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang. Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is. Hulle sê dat Hý die Een is aan wie toekom, al die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid, ja Hý is die Een voor wie die ouderlinge gekniel het om aanbid te word (Openb.5:11-14).

Hierdie God wat ons sê ons aanbid, het net ’n woord gespreek en die ganse heelal het tot stand gekom. Hy spreek net ’n woord en tienduisende engele staan gereed om Sy opdragte uit te voer. Hy is volkome uniek en waarlik glansryk en onvergelykbaar en volkome heilig – daar is niemand soos Hy nie – nêrens of ooit nie.

Wanneer ons so daaroor dink, dan begin ons twee keer dink of ons God régtig ken en wil ons net soos Jesaja uitroep en sê ~ Dit is klaar met my! Ek is verlore!

4. DIE HEILIGHEID VAN GOD:
Ten einde ons gesindheid en siening van ons aanbidding van God te verander en in die regte perspektief te plaas sodat dit in ooreenstemming met die Woord kan geskied, moet ons uiteraard na die Woord gaan kyk, en sien hoe God van die skepping af beplan en bepaal het, dat Sy kinders Hom moet aanbid. En daarvoor moet ons by die middelpunt van ons aanbidding kom, nl. die Heilige God self.

As ons net weer kan kyk na die konteks van die visioen wat Jesaja gehad het, sien ons dat koning Ussia gesterf het en dat daar baie onrus in die land was, ook het die volk van Juda hulleself o.a. oorgegee aan afgodery. Jesaja sien en besef egter dat die Hemelse Koning nie aardsgebonde is nie – Hy is nie onderworpe aan aardse gode nie, want Hý is die soewereine Here God en die ewige Koning van Heerlikheid.

Hierdie visioen van Jesaja plaas sy land en volk se huidige omstandighede in perspektief vir hom en word sy oë gevestig op die Here en word hy terselfdertyd voorberei vir die baie spesiale roeping waartoe die Here hom roep. Sy primêre roeping was om die volk te herinner aan die intieme verhouding wat daar tussen God en hulle bestaan het – die verbond wat tussen Abraham en God gesluit was. Jesaja moes dus die volk oproep om weer in daardie verbondsverhouding met God te staan, soos wat dit vantevore die geval was.

God laat Jesaja egter toe om die derduisende engele te sien wat aan God eer bring en uitroep ~ Heilig, heilig, heilig is die Here van die Leërskare! (Jes.6:3). Ons sien ook dat dit die lied is wat op ons lippe sal wees, wanneer ons eendag by die engelekoor sal aansluit in die hemel (Openb.4:8).

Wat beteken dit as ons sê dat God heilig is? Wat beteken dit régtig as die engele uitroep dat God heilig is? Die woord “heilig” beteken in die Grieks, om “opsy gesit te wees”; of om “uniek te wees”; “enig in sy soort”; of om “afgesonder te word vir iets bepaalds”. Ons het ’n tydjie gelede ook hierna verwys en die voorbeeld gebruik van ’n skottel wat opsy gesit en afgesonder moes word vir ’n bepaalde funksie in die tempel en derhalwe is daardie skottel, “heilig” genoem en kon dit nie vir gewone huislike gebruik aangewend word nie (sien bv. Dan.5:23). Hierteenoor kry ons skottels wat nié afgesonder is vir gebruik in die tempel nie en daardie skottels is ook bruikbaar, maar nie heilig nie, omdat die nie deur God opsy gesit is vir Sy gebruik nie.

Om dan te sê dat God heilig is, is om ’n baie unieke eienskap aan Hom toe te dig en dui vir ons daarop dat Hy afgesonder is en dat Hy gans anders is as enige iets of iemand anders. Dit bevestig die feit dat God nie soos mense of engele of diere of vals gode, of enige iets anders is nie. In kort dus – daar is niks of niemand soos God nie – Hy is dus uniek en dit is waarom Jesaja in Jes.57:15 sê ~ So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. Hierdie wete opsigself maak dit so wonderlik vir ons om gemeenskap met God te mag hê.

Op watter wyse is God hoog en verhewe, m.a.w. op watter wyse is Hy heilig? Ten einde dit te antwoord, moet ons na die verskillende karaktereienskappe van God kyk. Bv.:
· Hy is almagtig (“omnipotent” – sien bv. Gen.18:14; Matt.19:26). Sy krag word geopenbaar in Sy magtige dade, soos bv. die skepping; redding en oordeel. Niemand anders het soortgelyke krag nie – nie op aarde of in die hemel nie. Wat sy almag betref is Hy dus heilig.
· Die Woord openbaar ook dat God ’n alwyse God is (“omniscient” – sien bv. Ps.139:1-6; Matt.10:29-30; Rom.11:22). Hy weet alles – Hy weet alles wat reeds gebeur het, wat nou gebeur en wat nog gaan gebeur – in die fynste detail denkbaar. Niemand anders beskik oor soveel kennis nie – God is uniek wat dit betref en daarom, wat kennis aan betref, is God dus heilig – uniek en afgesonder.
· God is alomteenwoordig – oral ter gelykertyd (“omnipresent” – 1Kon.8:27-29; Ps.139:7-12; Hand.17:27-28). Wie in die hemel of op aarde kan dit regkry? Wie kan dit verstaan? Wat ruimte aan betref is God dus ook heilig – net Hy kan dit doen – net Hy is afgesonder om so te wees!
· God is ewig – Hy is sonder begin en sonder einde (“eternal” – Ps.90:1-2; Jes.43:10-13; Openb.1:8). Hy leef op so ’n wyse dat ons dit nie eens naastenby kan verstaan nie – Hy ís die Gewer van lewe, omdat Hý lewe ís! Wat hierdie aspek aan betref, nl. tyd en ewigheid, is Hy dus ook heilig.
· God is geregtigheid (“righteous” – Gen.18:25; Ps.7:9-12; 145:17). Sy optrede is te alle tye en in alle opsigte reg en regverdig. Hy begaan nooit, ooit enige sonde nie en tree nooit, ooit onregverdig op nie en daarom laat Hy ook geen sonde of ongeregtigheid ooit ongestraf nie, maar terselfdertyd gaan die goeie ook nooit ongeseënd by Hom verby nie. God is dus ook volmaak in dit wat reg en verkeerd is, en daarom dus ook volkome heilig wat geregtigheid betref.

Ons moet verstaan dat daar talle karaktereienskappe is wat ons op ’n gekwalifiseerde wyse, met God deel (bv. liefde, goedheid, wysheid ens.), maar ons ooreenstemmende eienskappe verskil steeds onmeetbaar van Syne en is dit onvolmaak en daarom nie heilig nie.

Ons sien dus dat heiligheid, nie één van baie beskrywings van God is nie – heiligheid ís die somtotaal van God se karakter en sluit al hierdie gemelde eienskappe in.

5. DIE HEERLIKHEID VAN GOD:
In Jesaja se visioen, het die Engele ook uitgeroep, Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid! (Jes.6:3b). In die Woord is die teenwoordigheid van God (of soos die O.A.V. dit vertaal, die “heerlikheid” van God), die mees dramatiese manifestasie van die belangrikheid van God. Om van God se heiligheid te praat, is om van die essensie van Sy karakter te praat; maar om van God se heerlikheid, of teenwoordigheid te praat, is om God se onbeskryflike belangrikheid in die geskiedenis en die skepping te beskryf.

Hierdie woord “heerlikheid” of “teenwoordigheid”, is in die Hebreeus “kãvôd” en dit is die woord wat gebruik word om iemand van belang te beskryf. So is daar bv. na Josef se belangrikheid verwys as “kãvôd”, toe sy broers vir hul pa, Jakob vertel het van Josef se belangrike pos wat hy in Egipte beklee het (Gen.45:13). Alle mense beskik dus oor hierdie innerlik “kãvôd”, maar die Here het ’n innerlike kwaliteit wat ver verhewe bo enige mens se innerlike “kãvôd” is. Wanneer hierdie uitdrukking, nl. God se heerlikheid, of Sy teenwoordigheid, of Sy “kãvôd”, gebruik word, word daar verwys na alle vorme en uitdrukkings van Sy teenwoordigheid – soos bv. die sterre en die hemele in Ps.19:1 ~ Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Wanneer die Bybel dan die uitdrukking, “God se teenwoordigheid”, of “God se heerlikheid” gebruik, sê dit basies vir ons dat Hy die mees belangrike- of uitnemende (“pre-eminent”) Persoon in die ganse heelal is en dat alles aan Hom onderworpe is.

Jesus Christus word dan ook in die Nuwe Testament as die finale openbaring van God se heerlikheid beskryf – Hebr.1:3 ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Johannes sê dat, al het geen mens God al gesien nie, het Jesus die Vader aan ons geopenbaar ~ Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak (Joh.1:18). In Joh.1:14 sê Johannes, dat ons deur Jesus Christus, wél hierdie heerlikheid van God aanskou het ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Ten einde God weer na behore te verheerlik en te aanbid, moet elkeen van ons individueel, maar ook ons as gemeente, weer opnuut begin fokus op hierdie openbaringe van God, nl. Sy heiligheid en Sy heerlikheid, soos geopenbaar deur die Woord en in Jesus Christus. Sonder dít, sal ons lofprysing en aanbidding van God al meer en meer afgewater raak. Máár met dít voortdurend in gedagte sal dit vir ons moontlik wees om ons oë op die ewige gevestig te hou (2Kor.4:16-18). En deur dit te doen, sal ons verander word en sal ons aanbidding weer die heerlikheid van die Here begin weerspieël, omdat die sluier van ons gesigte af weggeneem is, soos dit hoort en sal ons, soos 2Kor.3:18 dit stel, al meer verander (word) om aan die beeld van Christus gelyk te word. (En sal die) heerlikheid wat van ons uitstraal, steeds toe(neem).

6. ONS REAKSIE OP GOD SE OPENBARING:
Ons moet besef dat wanneer ons werklik gekonfronteer word met hierdie openbaring van God, nl. Sy heiligheid en heerlikheid, sal ons reaksie ook dieselfde wees as dié van Jesaja in Jes.6:5 ~ Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” En wanneer dít nie ons reaksie is nie, moet ons besef dat daar ten diepste groot fout is met ons insig, ons gesindheid en ons eerbied t.o.v. van ons aanbidding en van Wie God werklik is.

Diegene wie gekonfronteer was met hierdie heiligheid en heerlikheid van God, was net soos Jesaja geheel en al oorweldig – dink aan Johannes op Patmos ~ Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is (Openb.1:17). En Jakob, nadat hy by Bet-El wakker geword het, ná sy gesig van die leer waarteen die Engele op en af geklim het? Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” 17 Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel (Gen.28:16-17).

Nie net is daar elke keer ’n erkenning van Wie God is nie, maar daar is ook telkens opregte belydenis en ’n gewilligheid om God in gehoorsaamheid te dien. Wat gebeur met Jesaja nadat hy gekonfronteer is met die teenwoordigheid van God? Jes.6:6-8 ~ Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7 Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” 8 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” En met Jakob? Gen.28:18-22 ~ Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. 19 Hy het die plek Bet-El genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus. 20 Jakob het toe ’n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, 21 sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. 22 Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal ’n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U ’n tiende gee.” En wat was Johannes se reaksie? Johannes het opgestaan en geluister na wat die Here vir hom gesê het en hy het alles neergeskryf en die eindresultaat was die wonderlike brief van Openbaring, wat o.a. die sewe briewe aan die gemeentes in Klein-Asië ingesluit het.

7. GOD SE GENADE:

Onse God is egter ook ’n genadige God. Kom ons kyk net kortliks na wat Hy elke keer gedoen het in die geval van Jesaja en Johannes en Jakob.
· Jesaja: Jes.6:6-7 ~ Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7 Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”
· Jakob: Gen. 28:13-15 ~ Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14 Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15 Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”
· Johannes: Openb.1:17b-19 ~ Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18 die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. 19 Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur.

8. AFSLUITING:
Daar ís dus vergifnis en herstel vir ons moontlik as ons nie op die regte plek is t.o.v. ons aanbidding, en eer, en lofprysing, en aanbidding van God nie, nl. God se genade en God se vergifnis in en deur Jesus Christus!

God-Drie Enig moet voorwaar die Middelpunt van ons aanbidding wees en dit mag nooit anders wees as dit nie. Laat ons daarom nie moedeloos wees oor ons tekortkominge nie, maar laat ons eerder intens bewus raak, van Wie God werklik is en kom ons verootmoedig onsself voor God se genadetroon en vra dat Hy ons individueel, maar ook gesamentlik as gemeente sal vergewe en sal oprig, sodat ons ook kan sê ~ Hier is ek! Stuur my!

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 23 Augustus 2009