Monday, August 3, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (02 Augustus 2009)

“Die Brief aan die Efesiërs - 03 (Verlossing, Vergifnis & Onderskeiding)” [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Die vorige keer het ons na Ef.1:3-6 gekyk en daaruit het dit duidelik geblyk dat diegene van ons wat in Christus ingeplant is, bepaalde seëninge van God ontvang – juis omdat ons in Christus ingeplant is. Ons het ook in daardie perikoop gekyk na die eerste seën wat ons as gelowiges ontvang, nl. dat ons reeds lank voor die grondlegging van die aarde, in Christus uitverkies is. Die eerste seën waarvan Paulus dus praat, is ’n enorme stuk seën wat in die verlede lê. Hy kom egter nou met nog seën wat die gelowige te beurt val, maar dit is seën wat oor die gelowige uitgestort word tydens en na sy wedergeboorte en daarvoor moet ons na die volgende perikoop gaan kyk.

2. SKRIFLESING:
Ef.1:7-10 ~ Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9 Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10 en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

Wat bedoel Paulus met die uitdrukking, Deur die bloed van sy Seun is ons verlos...? Ons sien dat Paulus hier vyf elemente beklemtoon, nl. verlossing, vergifnis, oorvloedige genade, geestelike onderskeiding en laastens, “die vereniging van alles onder een hoof, nl. Christus Jesus”. Kom ons kyk dan eerstens na die begrip verlossing (In die Grieks - apolutrosis).

3. VERLOSSING:
Hierdie is ’n geweldige ryk woord en word afgelei van nie minder nie as ses begrippe wat ontleen word aan die regswêreld. O.a. word hierdie woord verlossing, afgelei van die woord (Grieks = dikaioo) wat dui op die wettige kwytskelding van ’n aanklag en die gepaardgaande vrylating van die aangeklaagde. Dít is dus die geval met ’n sondaar wat skuldig staan voor God, maar dan uiteindelik regverdig verklaar word en dan sonder blaam of skuld voor God staan. Hierdie vryskelding is deur Jesus Christus bewerkstellig aan die kruis – bv. Rom.5:18 ~ Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. (sien ook Rom.3:4; 4:15; 1Tim.3:16).

’n Tweede woord wat gebruik word om die gedagte van verlossing te illustreer, is (Grieks = aphiemi), wat basies beteken om weg te stuur en dui op die terugbetaling of kwytskelding van skuld en dit word in die Woord gebruik om God se vergifnis van sonde te illustreer, bv. Matt.9:2 ~ Daar het hulle ’n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe (sien o.a. ook Rom.4:7; Ef.1:7; 4:32).

’n Derde woord (Grieks = huiothesia) wat gebruik word, dui op die regsproses wat gevolg word om ’n kind wettig aan te neem en Paulus gebruik hierdie woord om die gelowige se aanneming en inplanting in Christus se gesin te illustreer, bv. Gal.4:5 ~ ...om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word (sien ook Rom.8:15; Ef.1:5).

Nog ’n woord wat gebruik word, is (Grieks = katallasso) en word gebruik om twee strydende partye met mekaar te versoen en in die Bybelse sin word dit dus gebruik om die sondaar met God, deur Jesus Christus te versoen (bv. Rom.5:10; 2Kor.5:18-20).

Ook word die woord (Grieks = exagorazo) gebruik en dui dit op die koop en verkoop van goedere. In die Grieks word daar na die markplein verwys as die “Agora” en dit is waar hierdie woord vandaan kom. Bybels dui dit dus op die geestelike kooptransaksie wat plaasvind wanneer Christus ons loskoop (sien o.a. Gal.3:13; Openb.5:9; 14:3-4).

’n Ander woord wat verlossing omskryf, is ’n woord (Grieks = lutroo) wat dui op die bevryding van iets of iemand uit gevangenisskap (bv.Luk.24:21).

U mag dalk vra waarom daar soveel Griekse woorde was wat in die alledaagse regspleging gebruik was en wat uiteindelik maar net “verlossing” beteken. Ons moet in gedagte hou dat daar in die tyd van Paulus, nagenoeg ses miljoen slawe in die Romeinse Ryk was en dat daar dus baie deeglike en gedetailleerde wetgewing nodig was om die slawehandel te reguleer. En al hierdie woorde word nou tot ons voordeel ingespan, om die begrip “verlossing” beter te verduidelik, veral ook as ons in gedagte hou dat alle mense sedert die sondeval, slawe van die sonde geword het en daarom is geen mens vry van sonde en die sonde se gevolge nie en volgens Rom.6:23a is, die loon wat die sonde gee, die dood.

Dit is dus baie duidelik uit al hierdie Griekse woorde, dat “verlossing” beteken, dat ’n prys betaal is vir sondaars, sodat hulle sondeskuld, kwyt geskeld kan word; hulle bevry kan word van hul sonde; dat daar versoening plaasvind tussen God en sondaar en dat die kwytgeskelde sondaar, aangeneem word as kind en in die huisgesin van God ingeplant word. Die klem val dus op ’n prys wat betaal is en daardie prys is betaal deur Christus en die “betaalmiddel” was Sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het.

Ons bevryding het dus die lewe van Christus gekos! Ons kan maar net verstom staan oor God se genade en liefde dat Hy hierdie verlossingsaksie lank reeds voor die skepping beplan het – iets wat Hy nie nodig gehad het om te doen nie, maar nogtans het Hy dit gedoen – ’n raaisel dus waarom Hy dit gedoen het – ’n raaisel waaroor selfs die Engele wonder – 1Pet.1:10-12 ~ Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry. Is dit nie nog meer rede vir ons om God te loof en te prys en te dank vir soveel genade wat Hy onverdiend oor ons uitgestort het nie! Geen wonder dat Openb.5:9-12 sê dat ons as gelowiges, eendag in die hiernamaals, ’n nuwe lied sal sing, met die woorde, ...U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. 10 U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.” 11 Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ’n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12 uitroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.

4. VERGIFNIS:
Soos ons reeds gesien het, gaan vergifnis hand aan hand met verlossing – daar kan dus geen verlossing wees as daar nie vergifnis van sonde is nie.

Paulus was pynlik bewus van sy sondige toestand, daarom dat hy aan Timoteus sê, dat hy die grootste sondaar van almal is (1Tim.1:15).

Die enigste Nazi van die 24 oorlogmisdadigers wat tydens die Nurembergverhoor sy skuld en aandeel aan die slagting op die Jode erken het, was ene Albert Speer. Hy het uiteindelik twintig jaar tronkstraf in die Spandau gevangenis uitgedien en nogtans het hy enkele dae voor sy dood tydens ’n TV onderhoud in Amerika gesê dat daar geen vergifnis vir sy dade kon wees nie. Ongelukkig het Speer nie die Woord van God geken nie, want die Woord is vol daarvan, dat ons wat in en deur Christus verlos is, vergifnis vir al ons sonde ontvang, bv.: Ps.103:12 ~ So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Of Jes.44:22a ~ Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.... Of Matt.26:28 ~ ... want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Paulus sê ook in Hand.13;38-39 ~ Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie.

Vergifnis is een van die sentrale temas van beide die Ou- en Nuwe Testament. Vergifnis is dan ook afgelei van die Griekse woord (Grieks = aphiemi) wat “om weg te stuur” beteken, maar in regsterme het dit ook beteken om skuld te betaal. In die Ou Testament het die Jode jaarliks die “Yom Kippurdag”, of te wel die Groot Versoendag gevier, waartydnes die Hoë Priester twee onbevlekte of gebreklose bokke gekies het vir die offerande. Die een bok is dood gemaak en sy bloed is op die offeraltaar gesprinkel as ’n offer. Daarna het die Hoë Priester sy hande op die kop van die ander bok geplaas en sodoende die sonde van die volk, simbolies op die bok se kop geplaas. Daarna is die bok so diep die woestyn ingeneem, dat dit nooit kon terugkeer nie en het dit daar in die woesteny gevrek. Die sonde van die volk is dus simbolies, saam met die bok weggeneem – so ver dat dit nooit weer sou terugkeer na hulle nie (Lev.16:7-10).

Hierdie seremonie, al was dit ook hoe betekenisvol, het egter nooit die volk se sonde werklik weggeneem nie – en hulle het dit geweet. Hierdie hele seremonie was maar net ’n heenwysing na dít wat slegs Christus as Offerlam kon kom doen, nl. om Sy eie bloed te stort ten einde die sonde van diegene wat in Christus uitverkies is, weg te neem.

Wanneer ons al hierdie dinge in gedagte hou, is dit só tragies dat so baie gelowiges nog steeds depressief is oor hulle huidige en toekomstige omstandighede en tekortkominge – dít terwyl Christus ons Hoof, reeds in beheer is en alle dinge aan Hom onderwerp is – ook ons lewens en omstandighede.

So baie van ons dink en tree steeds op, asof die Vader steeds ons sonde van die verlede teen ons hou – ten spyte van die feit dat die Woord ons leer dat ons sonde vergewe is – soos wat Ps.103:12 dit ook tereg uitdruk ~ So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Ons vergeet van God se belofte soos deur Jesaja aan ons gegee ~ Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos (Jes.44:22).

5. GENADE:
Paulus spreek ’n derde element in verse 7 en 8 aan, nl. oorvloedige genade. Hy sê m.a.w. dat hierdie verlossing en vergifnis wat ons ontvang het, uit genade alleen aan ons geskenk is ~ ...kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het (v.7b-8). Hierdie uitdrukking, kragtens die ryke genade van God, of soos die O.A.V. dit stel, na die rykdom van sy genade, het veel dieper betekenis as wat dit sommer so op die oog af mag lyk. Dit kan vergelyk word met 1Tim.1:14 waar daar staan ~ Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus, of soos die O.A.V. dit sel, ...en die genade van onse Here was baie oorvloedig. Die N.K.J.V. stel dit nog mooier en duideliker, nl. And the grace of our Lord was exceedingly abundant. Dit is dus nie sommer net ’n “vyfsent stukkie genade” nie, nee, dit was ’n “meer-oorvloedige-maat-genade” as wat ons, onsself kan indink.

God skenk dus nie vanuit Sy ryke genade nie, want dan kan dit maar net ’n bietjie genade wees – net genoeg genade om ons vry te koop dus (“vyfsent genade”). Nee, Hy skenk genade aan ons, volgens (of kragtens) Sy ryke genade en dit is onmeetbaar meer as bloot net vanuit Sy genade – omdat Hy onmeetbaar baie het, gee Hy ook onmeetbaar (kragtens). En wat meer is, Hy skenk dit aan ons sonder ’n greintjie verdienste van ons kant.

Maar veel meer as net dit – Noudat ons Sy genade ontvang het, en kinders van Hom geword het, bly ons genade op genade van Hom ontvang. Ons is dus ryker as wat ons onsself kan indink en ons gaan hierdie genadige rykdom en seën tot in ewigheid ontvang.

6. GEESTELIKE ONDERSKEIDING:
Laastens sê Paulus dat ons verlossing geestelike onderskeiding tot gevolg het vir ons, daarom dat hy in vers 8 sê ~ wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. Wanneer ’n mens hierdie vers lees, lyk dit asof God aan ons verlossing, vergifnis en genade skenk, omdat Hy hierdie geskenk in Sy wysheid en vanuit Sy insig aan ons skenk. Dit is egter nié wat hier geskryf staan nie. Wat Paulus hier vir ons wil sê, is dat God, tesame met die verlossing, vergifnis en genade, ons nog óók seën met wysheid en insig, of te wel onderskeiding.

Hierdie wysheid en insig waarvan Paulus praat, is die wysheid en insig waarna hy in 1Kor.2:6-7, 12 verwys ~ Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan ’n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan. 7 Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. .... 12 Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. Maar wat nog meer verstommend is, is dat Paulus hierdie wysheid as volg omskryf in die laaste vers van 1Kor.2, nl. ~ Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus (v.16). Paulus sê dus dat ons soveel insig en wysheid ontvang het, dat ons o.l.v. die Heilige Gees die diep waarhede t.o.v. van ons redding uit genade, kan verstaan. Dit is waarom Christus in Matt.11:25 die volgende gesê het ~ Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26 Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

7. ALLES ONDER CHRISTUS SE BEHEER:

Ons het tot nou gekyk na die seën uit die verlede, nl. die uitverkiesing en dan ook na die huidige seën wat ons ontvang op ons verlossing, nl. vergifnis, genade en geestelike onderskeiding. Paulus kom egter nou in verse 9 en 10 en hy skets vir ons nog ’n element van seën wat voortspruit uit ons verlossing, nl. ’n nuwe bestel. Paulus sê dat dit in die verlede ’n geheimenis was, maar God het hierdie geheimenis aan ons as Nuwe Testamentiese gelowiges geopenbaar. En wat is hierdie geheimenis? Ons vind die antwoord in vers 10b ~ Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus (sien ook Ef.1:19-23; Kol.1:20). Hierdie feit word ook beklemtoon in Fil.2:9-11 ~ Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. En wanneer het dit gebeur? Ef.1:20 ~ ...toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21 hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Dit beteken dus dat alle dinge op aarde, sowel as in die hemel, alles bo ons en alles onder ons, alles om ons en alles binne in ons – alle geestelike en alle materiële dinge, nou onder een Hoof, nl. Christus Jesus se beheer geplaas word.

Wat is die implikasies hiervan vir ons wat verlos is?
· Rom.8:34 ~ Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Christus weet dat ons voortdurend in ’n geestelike stryd verkeer en daarom pleit Hy by die Vader vir ons.
· Hebr.7:25 ~ Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree. Christus doen ook voorspraak vir ons en tree voortdurend vir ons in by die Vader en daarom, wanneer ons in Christus se Naam bid, kan ons weet dat die Vader ons hoor.
· Joh.14:2 ~ In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. Hy is nou reeds besig om vir ons ’n plek voor te berei in die Hemel.
· Ef.4:8 ~ Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee. Hy skenk allerlei gawes aan ons as gelowiges.
· Hand.3:6,16 ~ Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”... 16 Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal. Hy skenk geloof aan ons; Hybeskerm ons; Hy genees ons; Hy seën ons, volgens Sy wil.
· Openb.1:13 ~ ...en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ’n lang kleed aangehad en ’n goue band om sy bors gedra. Hy is deur Sy Gees teenwoordig in ons midde.
· Ef.3:17-19 ~ ...dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Hy skenk aan ons kennis en insig en wysheid en begelei ons op ons pad van heiligmaking.
· Openb.17:14 ~ Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is. Hy is tans reeds besig om oorlog te voer teen ons gemeenskaplike vyand, die satan en sy demone.
· Ef.1:22 ~ Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Hy is in beheer van die ganse skepping en reël en regeer daaroor en hierdie selfde Heerser oor die ganse skepping is ons as Kerk se Hoof – wat ’n sekuriteit!

8. AFSLUITING:
Waarom doen God al hierdie dinge vir ons? Waarom het Hy ons uitverkies? Waarom seën Hy ons met verlossing, met vergifnis, met genade, met onderskeiding en met die feit dat alles onder Christus se beheer geplaas is? God doen dit ten einde eer aan Homself te gee. Ons moet onsself die vraag afvra of ons medewerkers is in hierdie proses waar God eer aan Homself bring. Glo ons hierdie beloftes van seën waarvan Paulus praat? Leef ons reeds nou met die ewigheid in gedagte – ’n ewigheid wat voorlê waar Christus die Heerser gaan wees en ons saam met Hom gaan regeer, of is ons vasgevang in ons aardse omstandighede en is ons uitsigloos, moedeloos en depressief? Paulus was, terwyl hy hierdie brief aan die Efesiërs geskryf het, vasgeboei in ’n tronksel en nogtans sien Hy die ewigheid en lééf hy daarvolgens in sy omstandighede – vol dankbaarheid en lof aan die Here!

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 02 Augustus 2009