Monday, September 7, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 06 September 2009

Openbaring Ontsluit - 12 (Die Lam van God) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Hoofstuk 4 (waarna ons verlede week gekyk het), asook hoofstuk 5 staan kop en skouers uit teenoor al die ander hoofstukke van die Openbaringboek omdat hierdie twee hoofstukke die agtergrond voorsien waarteen al die ander gesigte of visioene van Openbaring verklaar moet word. Dit is verder ook belangrik om te besef dat hoofstuk 5 ’n voortsetting is van dieselfde gesig wat Johannes in hoofstuk 4 ontvang het, alhoewel die fokus nou in hoofstuk 5 verskuif vanaf God die Vader, na die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid, nl. Jesus Christus.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
· Openb.5:1
~ In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ’n boekrol gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. Johannes sien Iemand hier op die troon sit en dit is dieselfde Persoon wat hy in hoofstuk 4 gesien het, nl. God die Vader. Wat interessant is, is die feit dat hier nie baie gesê word van die Vader nie. Waarom nie? Omdat Hy op die beste wyse geken kan word, deur Sy Seun, Jesus Christus en daarom moet Christus eers bekend gestel word. Omdat Christus beide mens en God is, is Hy die onmisbare skakel tussen God en die mens. Slegs wanneer ons God die Vader, deur Jesus Christus ken, kan ons Hom waarlik ken.

In hierdie vers sien Johannes ’n boekrol in die hand van Hom wat op die troon sit. In die antieke tye was hierdie papirusrolle soos wat Johannes gesien het, gebruik vir openbare én privaat doeleindes. Gewoonlik was die geskrewe gedeeltes in vertikale kolomme geskryf en wel net aan die eenkant, nl. die binnekant – so ’n rol is ’n kodeks genoem. Van tyd tot egter is daar aan beide kante van so rol geskryf en dan is hierdie boekrol, ’n “opistograaf” genoem. Sulke dubbelkantige rolle was net vir privaatgebruik en ons sien dus hier in vers 5, dat daar aan beide kante van hierdie rol geskryf was en is dit dus betekenisvol om te besef dat hierdie rol wat God vasgehou het, dus net vir privaatgebruik was – vir gebruik deur God self.

Verder is hierdie boekrolle geseël met klonte was of lak en is dit geseël met die besondere seëlring van die skrywer van die rol en net hy en hy alleen mog hierdie seël gebreek het.

Hierdie rol wat in God se hand is, is dus ’n privaatrol en dit behoort aan God en daarom mag net Hy die seëls breek en daaruit lees. Die inhoud van hierdie boekrol bevat God se plan met die geskiedenis van die mensdom Ons het ook gesien dat daar aan beide kante geskryf was, wat impliseer dat daar geen blanko spasies op die boekrol was nie, m.a.w. God is in beheer en Hy ken elke stukkie detail van alle gebeure in die ganse heelal en dit sluit elke individu op aarde se ganse lewe in! Die rede waarom hierdie boekrol geseël is, dui vir ons daarop, dat slegs God weet wat nog gaan gebeur. Alles in die toekoms is ’n geheim wat net Hy ken – selfs die dag van Jesus se wederkoms is vir Jesus onbekend (Matt.24:36).

· Openb.5:2-4 ~ Toe het ek ’n sterk engel gesien wat met ’n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” 3 Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 4 Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. Waarom roep die sterk engel enige iemand op om die seëls van die boekrol te breek, waarop niemand in die hemel of op die aarde reageer nie – geen mens, of engel nie? Die antwoord vind ons in vers 3, nl. dat niemand in staat was om dit te doen nie en dit was natuurlik, omdat die boekrol deur God self geseël was en net Hy en Hy alleen die reg tot toegang tot hierdie boekrol het. Hierdie rol met al sy kennis is net toeganklik vir God self en geen mens mag daarin kyk en sodoende God se kennis bekom nie – Dit herinner aan Gen.2:16-17 ~ Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17 maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

Ons sien hier dat Johannes baie gehuil het, omdat hierdie boekrol nog nooit geopen is nie en dit kan wees omdat hy teleurgesteld was omdat hy dalk gehoop het om ’n kykie te kry in wat in die toekoms opgesluit lê – dink bv. aan die dissipels se vraag in Matt.24:3 ~ Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?” Of dit kan wees dat Johannes teleurgesteld en hartseer was oor die feit dat niemand nog ooit waardig genoeg was om ’n kykie in die boekrol te kon kry nie.

Die mees waarskynlikste verklaring egter, is dat Johannes se trane, die trane van al God se kinders deur die eeue verteenwoordig. Sy trane is dié van Adam en Eva toe hulle uit die Tuin van Eden gedryf is. Hulle trane toe hulle oor die eerste graf gebuig het – die graf van die eerste sterfling op aarde – hul seun Abel. Sy trane verteenwoordig die trane van die volk van God toe hulle in slawerny in Egipte was. Die trane van al die uitverkorenes wat hul gestort het deur die eeue oor hulle lyding en sterwe. In kort, Johannes se trane verteenwoordig die trane oor eeue heen a.g.v. die sondeval en die effek van die sondeval.

Hierdie trane van Johannes was egter prematuur en uit plek uit, want God was op die punt om oor te gaan tot aksie.

Net so ’n terloopse opmerking. Al was Johannes hier in die Gees, het hy nie beheer oor sy verstand en emosies verloor nie. Dit is waarom hy gehuil het. Om Geesvervuld te wees beteken nie dat jy onsensitief en onbeheerde gedrag aan die dag lê nie.

· Openb.5:5-6 ~ Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” 6 Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. Nadat Johannes die boekrol gesien het en hy huil oor die sonde van hierdie wêreld, val sy oë op een van die 24 ouderlinge wat rondom God se troon gesit het en hierdie ouderling troos Johannes deur hom te troos met die feit dat Jesus Christus die Verlosser is en dat Hy as Verlosser, die sonde van hierdie wêreld op Hom geneem het en volkome versoening daarvoor gemaak het. Die ouderling verduidelik aan Johannes dat Jesus, die verwagte Messias is en dan gaan hierdie ouderling voort en hy beskryf Jesus op drie maniere:
o Hy sê dat Jesus, die Leeu uit die stam van Juda is die Leeu wat die magtige oorwinnaar oor Sy vyande is – Sy vyande, nl. Satan, die sonde en die dood.
o Die ouderling beskryf Jesus as ’n Afstammeling van Dawid – die magtige Koning wat verdedig, regeer en Sy onderdane red en seën. Dawid se koningskap is ’n voorafskaduwing van ’n Christus se Koningskap.
o Derdens word Christus beskryf as ’n Lam wat geslag is.

Die ouderling wys aan Johannes die Lam van God, die Verlosser en met hierdie gesig wat Johannes sien, word die hele Evangelie van die Ou Testament en die Nuwe Testament saamgetrek in die Geslagte Lam! Hier gaan stol die ganse geskiedenis in een enkele moment.

Alles oor die Offerlam in die Ou Testament, kry hier op hierdie oomblik, sy vervulling. Al die bloed wat eeue lank in Israel se tabernakel en oor hulle altare gevloei het, word in die hemel voor die troon van God uitgestal ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! het Johannes die Doper uitgeroep toe hy Jesus aan die mensdom bekendgestel het (Joh.1:29). Die dissipel Johannes wat die Evangelie van Johannes geskryf het en nou ook weer die opdrag ontvang het om die Openbaringboek te skryf, het onmiddellik geweet – Die groot sterk Leeu wat die wêreld oorwin, ís die Lam.

Eeue vantevore het die profeet Jesaja, ook die Messias as die Lam beskryf toe hy gesê het ~ Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie (Jes.53:7). Die geslagte lam gaan ver terug in die geskiedenis van Israel. In die donker nag van die tiende plaag in Egipte was die bloed van die paaslam aan die deurkosyne van die Israeliete gesmeer wat ’n teken van verlossing en redding was. Waar God die bloed van hierdie lam gesien het, het Hy verbygegaan en hulle eersgeborenes nie soos die Egiptenaars getref nie (Eks.12:13). Van toe af was die geslagte Paaslam, die offer vir die volk se sonde. Dit was die prediking van die ewige Verlosser, Jesus Christus. En in die laaste nag vóór Jesus se dood vier Hy die Paasfees saam met Sy dissipels (Matt.26:17). Hulle sit saam aan die tafel. Die geslagte lam lê voor hulle oë. Die Heilige Nagmaal word ingestel. Die profesie van eeue gaan in vervulling. Die Paaslam op die tafel word die Paaslam aan die kruis. Die apostel Paulus skryf aan die Korintiërs ~ ...ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus (1Kor.5:7 – O.A.V.).

Dit is nou hierdie Lam van God wat Johannes in die hemel sien. Met simboliese taal word die lam verder beskryf. Hy het sewe horings wat vertel van Sy volmaakte krag. Hy het sewe oë wat Sy alwetendheid versinnebeeld, asook die “sewe Geeste van God” wat die Heilige Gees in Sy volheid beskryf, maar ook as Gees wat uitgestuur word oor die hele aarde om diegene wat weier om hul te bekeer, te veroordeel (Openb.1:4; 4:5; Joh.16:8).

· Openb.5:7-10
~ Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit 8 Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ’n siter gehad en ’n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. 9 Toe sing hulle ’n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.  Wie neem hierdie boekrol in ontvangs van die Vader? Dit is die Lam van God, Jesus Christus, wat hierdie boekrol van God se raadsbesluite neem en Hy gaan die seëls breek en daarmee gaan Hy wat Christus is, die geskiedenis van die wêreld, stap vir stap tot die einde toe volvoer.

Die oomblik toe Christus hierdie boekrol in ontvangs neem, het die grootste erediens van alle tye begin. Die 24 ouderlinge val in aanbidding neer. Volmaakte musiek van siters word gehoor. Daar is goue bakke vol reukwerk “wat die gebede van heiliges is”, m.a.w. al die gebede van alle gelowiges deur die eeue heen, en dit word voor Christus neergesit (Openb.8:4). En dan word al die geestelike liedere van alle tye saamgevat in een nuwe lied wat vir die Lam gesing word – ’n Verlossinglied wat Christus se soendood besing (verse 9 & 10).

Saam met hierdie koor wat tot eer van die Lam sing, is daar ook ’n Spreekkoor van duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene engele wat met ’n groot gedreun uitroep, Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.

· Openb.5:10 ~ U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer. Wanneer ons hier lees dat die priesters oor die aarde sal regeer, moet ons noodwendig vasstel wié hierdie priesters is en wat presies bedoel word met die uitdrukking, hulle sal oor die aarde regeer. Ons moet ook vasstel wanneer of waar hierdie regeringstyd gaan geskied. Die A-Millennialiste en die Post-Millennialististe het hier twee uiteenlopende standpunte en dan praat ek nie eens van die Pre-Millennialiste nie.
o A-Mil.: Die regeerders van hierdie koninkryk is God se uitverkorenes wat geestelik regeer oor hul eie gees, m.a.w. hulle is nie langer slawe van hul eie sonde nie, omdat hulle sonde reeds vergewe is. Hierdie “regeringstyd” geskied dus in hierdie lewe en nie tydens ’n sg. vredetydperk nie, omdat vrede vir die gelowiges aanbreek, die oomblik as hulle gered word.
o Post-Mil.: Die regeerders is al die konings en presidente van hierdie wêreld wat gelowig gaan word en regeer tydens die 1000 jaar van vrede wat Christus hier op aarde gaan vestig, voor die finale oordeelsdag.
o Pre-Mil.: Al die gelowiges word weggeraap voor die groot verdrukking en na hierdie tydperk van verdrukking, kom hulle saam met Christus om op die aarde te regeer tydens die 1000-jarige vrederyk, waarna hulle dan weer na die 1000 jaar, saam met Christus vir die res van die ewigheid na die hemel gaan.

Wanneer ons na vers 9 kyk, is dit duidelik dat die priesters en konings, diegene is wie deur die bloed van Jesus losgekoop is en wel uit elke stam en taal en volk en nasie. Hierdie regeerders; hierdie konings en priesters is die gelowiges (priesters omdat hulle God tot in ewigheid gaan aanbid) wat deur die Bloed van die Lam losgekoop is.

· Openb.5:11-12 ~ Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ’n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12 uitroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”  Benewens die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wat rondom die troon vergader, sien Johannes nou ook ’n ontelbare hoeveelheid engele. Hierdie gesig herinner sterk aan Dan.7:10 ~ Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. Hierdie lofsang van die engele is ’n “Qumram-liturgie” wat die sewevoudige karaktereienskappe van Christus hier besing – die getal sewe dui weereens vir ons op die volmaaktheid van Christus.

Wanneer ’n mens hierdie vers lees klink dit so asof Christus tot nou toe nie die lof en die eer ontvang het wat Hom toekom nie – dit is egter nie die geval nie, want die engele sing hierdie lied by herhaling om Christus se heiligheid en heerlikheid te besing. Allereers word Christus se krag besing, omdat die sterk ram met die sewe horings, die satan oorwin het. Verder, rykdom, wysheid en sterkte. Christus het Homself ontledig en arm geword, deurdat Hy Homself vir ons gegee het – In die oë van die wêreld is Hy swak en dwaas, maar in die oë van die uitverkorenes is Hy juis ryk en wys en sterk en gaan Christus, eendag die wyses en rykes van hierdie wêreld beskaam. Op grond hiervan word Hy geloof, maar ook op grond van die feit dat Hy hoog geag word (eer); omdat Hy volkome heerlikheid is en omdat Hy self, lofwaardig is.

Openb.5:13-14 ~ Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.” 14 Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid. Daar gaan ’n tyd aanbreek wanneer elke knie voor Christus gaan buig en elke tong Sy heerskappy sal erken en bely. Die eer en heerlikheid wat vir die Vader bedoel is, moet ook nou gaan aan die Seun en dit sal tot in ewigheid geskied. Selfs ongelowiges sal geen keuse hê as om hierdie erkenning en lof aan Christus te gee. Op hierdie fenomenale universele lofprysing en aanbidding van Christus, waar alles, absoluut alles in die ganse skepping, eer aan Christus bring, kom die vier lewende wesens en hulle plaas hulle goedkeuring op hierdie lofprysing en aanbidding deur “Amen” daarop te sê.

Weer sien ons ook hier vier karaktereienskappe van Christus wat besing word, nl.: Sy lof; Sy eer; Sy heerlikheid en Sy krag.

Ons kan die volgende indeling maak van hierdie doksologie of lofverheffing waarvan ons in hoofstukke vier tot vyf gelees het:
· Lof aan God, die Skepper:
o Lofsang deur die drie lewende wesens (4:8 – 3 x heilig).
o Toekomstige lofsange deur die drie wesens – doksologie wat drie attribute (karaktereienskappe) besing (4:9).
o Toekomstige lofsange deur die ouderlinge – doksologie wat sewe attribute besing (4:11).
· Lof aan die Lam – Die Verlosser Jesus Christus:
o Lofsang deur die ouderlinge en die diere (5:9-10).
o Lofsang deur die engele – doksologie wat sewe attribute besing (5:12).
· Lof aan die Vader en aan die Lam:
o Lofsange deur alle skepsele vanuit die ganse skepping. Hulle besing vier attribute (5:13).
o “Amen” van die lewende wesens en die neerbuig
van die ouderlinge (5:14).

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging), Sondagaand 06 September 2009