Tuesday, August 18, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (16 Augustus 2009)

“Die Brief aan die Efesiërs - 04 (Die Funksie van die Heilige Gees in die Reddingsproses)” [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het in die vorige tien verse van Ef.1 gesien dat diegene wat in Christus ingeplant is, bepaalde seën ontvang.

Eerstens het gelowiges reeds lank voor die grondlegging van die aarde, die eerste seën ontvang, nl. die feit dat hulle in Christus uitverkies is. Tweedens ontvang gelowiges die seën van verlossing en hierdie verlossing het o.a. vergifnis, oorvloedige genade, geestelike onderskeiding en die vereniging onder Een Hoof, nl. Jesus Christus, tot gevolg.

Kom ons kyk dan nou na die volgende perikoop, nl. Ef.1:11-14.

2. SKRIFLESING:
Ef.1:11-14 ~ Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12 Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13 Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14 Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Hierdie gedeelte wat ons pas gelees het, is die einde van een lang sin in die Grieks wat van vers 3 af gestrek het tot hier aan die einde van vers 14. Paulus begin egter weer hierdie nuwe perikoop met dieselfde loflied waarmee hy afgeskop het in verse 4-6 en dit handel oor God se plan van verlossing wat Hy reeds voor die skepping van die heelal, in gedagte gehad het en wat sal voortduur regdeur die ewigheid.

Wat verder interessant is, is dat Paulus tot en met vers 10 gepraat het van alle uitverkorenes, maar nou hier in die volgende verse begin hy hom toespits op die heidene wat ingesluit is by God se plan van verlossing. Ons sien dit eers in vers 11, waar Paulus sê ~ ...Deur Christus het ons deel geword van die volk van God – baie duidelik verwys hy hier na die Jode, wanneer hy praat van “ons”, maar in vers 13 sê hy ~ ... Deur Christus het ook julle deel geword. Wie is die “julle” waarvan hy hier praat? Die heidene.

Paulus besing dus in hierdie perikoop, die wonder van die uitverkiesing van beide Jood en heiden, daarom dat hy hierdie perikoop afsluit met die woorde ~ ...Daarom moet ons sy grootheid prys.

3. DIE FUNKSIE VAN DIE HEILIGE GEES:
Nog ’n interessante verwikkeling wat ons in hierdie gedeelte vind, is die aandag wat Paulus skenk aan die rol of funksie van die Heilige Gees in die reddingsproses van die mens – vers 13b ~ In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël... en wat daarop volg. Hierdie werking van die Heilige Gees is dan ook die eerste werking van die Gees in ’n uitverkorene se lewe en in teologiese terme word dit die “effektiewe roeping” van ’n gelowige genoem. Vers 11 verwys dan ook hierna ~ Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

Op die oog af klink vers 11 dieselfde as vers 4, nl. ~ So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In vers 4 verduidelik Paulus egter aan sy lesers, dat gelowiges reeds voor die skepping, vooruitbestem was tot redding, maar hier in vers 11verduidelik hy hoe hierdie vooruitbestemde redding geskied. En hierdie geboorteproses geskied deur die werking van die Heilige Gees, wanneer die Gees ons oë oopmaak ten einde te kan sien wat Christus vir ons gedoen het toe Hy aan die kruis versoening vir ons sonde bewerkstellig het. Verder, dat die Heilige Gees aan ons die geloof geskenk het om in Christus te glo en derdens dat Hy ons wil verander ten einde Christus as Persoonlike Saligmaker te omhels.

Ons moet verstaan dat hierdie “effektiewe roeping” van die Heilige Gees, absoluut noodsaaklik is, want sonder dit, sal geen mens, ván sonde, ná Christus draai nie. Inteendeel sonder die Heilige Gees se “effektiewe roeping” sal die mens nog verder wegdwaal van Christus en Sy heerskappy en Sy Goddelikheid verwerp. Sonder die Heilige Gees kruisig die wêreld Christus maar net keer op keer. Dit is waarom Christus die Heilige Gees gestuur het, sodat... ~ ...wanneer Hy kom, Hy (sal) bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9 Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10 die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11 die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel (Joh.16:8-11).

Die eerste funksie van die Heilige Gees is dus om diegene wat in Christus uitverkies is, te oortuig van sonde en sodoende geloof in Christus in hul binneste te bewerk.

Wanneer ons verder na verse 11 en 12 kyk, vind ons ’n tweede funksie van die Heilige Gees. Ons sien dat Paulus sy gedagte in vers 11, nl. dat ons deel geword het van God se volk, nou verder voer in vers 12 en sê dat ons as God se uitverkore volk, Christus moet verheerlik vir die feit dat ons volgens Sy raadbesluit, nou deel uitmaak van God se volk. ’n Tweede funksie dus van die Heilige Gees, is om ons op te roep om Christus te verheerlik.

Wanneer ons Joh.15:26 in gedagte hou, sien ons dat, in baie opsigte, die primêre doel met die Heilige Gees, juis is om Christus te verheerlik ~ Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig en Joh.16:13-14 ~ Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14 Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.

Die oomblik wanneer die kerk hierdie Bybelse feit vergeet en meer op die Heilige Gees fokus as op Christus, dan is so ’n kerk se aanbidding en Woordverkondiging nié meer Woord-gesentreerd nie, omdat dit nie meer Christus-verheerlikend is nie. Wanneer mense bv. vrae begin vra soos, “het jy al die Heilige Gees ontvang”, of “het jy al die ‘second blessing’ ontvang”, of “spreek jy in tale”, ens., dan is die kerk nie besig om Christus te verheerlik nie. Wanneer die klem méér op die verheerliking van die Heilige Gees geplaas word en nie op die verheerliking van Christus nie, is sulke optrede nie van die Heilige Gees nie, maar van ’n ander gees ~ Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3 En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is (1Joh.4:2-3).

Daarteenoor, waar en wanneer Christus ook al verheerlik word, kan ons weet dat dit ’n werk van die Heilige Gees is en kan ons Hom daarvoor dank.

In die lig van dit wat ek so pas gesê het, is dit egter belangrik dat ons sal besef dat die “verheerliking van Christus” deur die Heilige Gees, nié sonder ons mag plaasvind nie en daarmee bedoel ek nie dat die Heilige Gees afhanklik is van ons deelname al dan nie, wat ek daarmee bedoel, is dat ons aktiewe deelnemers aan die verheerliking van Christus, saam met die Heilige Gees sal wees, dit is waarom Paulus in verse 12 en 14 sê ~ Daarom moet ons sy grootheid prys en die “ons” hier verwys na die Heilige Gees tesame met ons.

Gelowiges baseer baie dikwels hul geloof op opeenvolgende gebeurtenisse en ervaringe, waar hulleself die fokus is. Aan die anderkant kan gelowiges ewe maklik die teenoorgestelde doen en ons geloof uiters abstrak en dogmaties beleef en hanteer en word God se werk in ons, geheel en al eensydig gesien – net Hy doen die werk en ons absoluut niks nie. Hulle vergeet dat God middellik werk. Byvoorbeeld: Tydens wedergeboorte werk God deur die Woord en die Gees verlig en open die Woord vir ons, net so, wanneer Christus verheerlik word, word dit deur die Gees én ons gedoen, deurdat ons deur die Gees na Christus gelei word en ons dan deur ons lewe, meer en meer aan Christus gelykvormig word – dit is hoe God middellik werk.

Die vraag wat ons, onsself dus voortdurend moet afvra, is of ons Christus voortdurend deur ons lewe verheerlik? Verheerlik ons Hom deur ons spreke en dade? Verheerlik ons Hom deur ons doen en late? Indien nie, het ons geen deel aan die Gees nie, omdat dit juis die doel met Sy koms was.

’n Derde funksie (onthou die eerste twee is, dat die Gees ons oortuig van sonde, geregtigheid en waarheid en tweedens dat Hy Christus verheerlik) – die derde dan, is dat Hy al die gelowiges byeen bring en in die Kerk van Jesus Christus inplant. Paulus spreek hierdie onderwerp volledig aan in hoofstuk 2, maar in verse 11-14 het ons dan ook gesien dat nie net die Jode nie, maar ook die heidene in die kerk van Christus ingeplant word.

Hierdie was ’n baie belangrike saak in Paulus se tyd, omdat die Jode baie vyandiggesind was teenoor die heidense gelowiges en uiteraard het dit ook vir ons verrykende betekenis, omdat almal van ons uit die heidennasies stam en hier vind ons dan ook die wonderlike gerusstelling dat die Koninkryk van God ook vir ons geopen is deur Jesus Christus en dat ons deur die Heilige Gees in die Kerk ingeplant is.

Christus word dus verheerlik deur die Heilige Gees, elke keer wanneer Hy ’n gelowige in die kerk inplant en daarom is dit geen geringe saak wanneer mense deel word van ’n gemeente nie, inteendeel dit is rede tot lofprysing aan Christus.

Die vierde funksie van die Heilige Gees volgens ons gelese gedeelte, is die verbintenis tussen die Heilige Gees en die Woord van God. In vers 13 verwys Paulus as volg na die Woord ~ ...die waarheid wat aan julle verkondig is... en ...die evangelie van julle verlossing.

Op dieselfde wyse as wat Christus deur die Heilige Gees verheerlik word en nie van Hom geskei mag word nie – op dieselfde wyse spreek die Heilige Gees altyd deur die Woord van God en kan die Gees en die Woord nie van mekaar geskei word nie. Die Heilige Gees spreek en werk nóóit los van die Woord nie. Hierdie feit was een van die groot ontdekkings wat die Reformatoriese Vaders, soos Luther en Calvyn, gemaak het. Hulle het geglo in die werk van die Heilige Gees wanneer dit gekom het by die wedergeboorte van gelowiges; hulle het geglo dat dit die Heilige Gees was wat mense tot geloof gebring het en hulle het geglo dat dit die Heilige Gees is wat mense laat volhard en laat groei het in die geloof. Hulle het in die werking van die Heilige Gees geglo omdat die Woord hulle daarvan geleer het.

Dit beteken dus dat die Heilige Gees nié in die na-Apostoliese tyd, meer deur mense profeteer nie, omdat ons glo en bely dat die kanon van die Woord afgesluit is en die Woord algenoegsaam is, m.a.w. dit bevat alles wat ons nodig het vir redding. Daarom is die funksie van die Heilige Gees nou, om ons geestesoë te open en die Woord te verstaan wanneer dit gepredik of gelees word.

Ons lees laastens in vers 13 van ’n vyfde funksie van die Gees, nl. dat Hy ons ...in Christus..as die eiendom van God beseël.

Omdat ons as gelowiges nie die volheid van God se beloftes by wedergeboorte ontvang nie – omdat dit, soos 1Pet.1:3-4 dit stel, vir ons in die hemel in bewaring gehou word as ...’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis, gebeur dit dikwels dat ons as gelowiges in die versoeking val om te twyfel oor ons redding, juis omdat dit so onwerklik lyk en voel (sien Rom.8:23).

Paulus gee egter aan ons die versekering in Rom.8:9 dat elkeen wat aan God behoort, die Heilige Gees ontvang het (sien ook 1Kor.6:19) en word ons derhalwe, soos wat Ef.1:13 dan ook sê, deur die Heilige Gees beseël as kinders van God. Wat beteken hierdie uitdrukking, om “deur die Heilige Gees beseël te wees as kinders van God”? Hierdie seël verwys na die amptelike identifikasiemerk wat destyds op ’n brief, of kontrak, of ander belangrike dokumente geplaas was. Hierdie seël het gewoonlik uit warm was bestaan wat op ’n koevert of dokument gedrup is en dan is ’n seëlring daarin gedruk. So ’n dokument is dan amptelik verbind met die draer van die ring en bekragtig deur die gesag wat hy gedra het.

Hierdie is dan presies dieselfde gedagte wat ons het wanneer ons verwys na die beseëling deur die Heilige Gees. Hierdie seël impliseer vier primêre dinge: Sekuriteit, egtheid/betroubaarheid, eienaarskap en gesag.

· Kom ons kyk kortliks na wat sekuriteit beteken: In antieke tye het die seël van bv. die koning, sekuriteit en onaantasbaarheid geïmpliseer. Ons sien dit bv. in die geval van Daniël toe hy in die leeukuil gegooi is. Koning Darius het sy seël op die ingang na die put geplaas - Dan.6:18 ~ Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. Indien enige iemand behalwe die koning, hierdie seël gebreek het, sou hy boet met sy lewe. Op soortgelyke wyse was die grafkelder van Jesus geseël deur die seël van Pilatus (Matt.27:62-66).

Op ’n veel-veel meer permanente en intenser wyse word ons as gelowiges beseël deur die Heilige Gees en kan niks of niemand hierdie seël verbreek en ons derhalwe uit Sy hand ruk nie.

· Egtheid is ’n tweede ding wat hierdie beseëling van die Heilige Gees impliseer. Daar kan geen vals seël wees nie. As ons kyk na die verhaal van Isebel (vrou van koning Agab) in 1Kon.21:6-16), het sy briewe in die naam van Agab geskryf waarin sy uiteindelik Nabot se grond bekom het en alhoewel sy bedrog gepleeg het, is die grond gekonfiskeer omdat die seël op die briewe wat sy in die koning se naam geseël het, eg was.

Wanneer God die Heilige Gees aan ons skenk, is dit Sy seël wat Hy op ’n brief plaas, waarin daar staan: “Hierdie persoon behoort aan my en hy is ’n ware en egte burger van My Koninkryk.”

· Derdens is hierdie seël waarmee ons beseël word, ’n teken van eienaarskap. Wanneer die Heilige Gees ons seël, verklaar Hy dat ons God se eiendom is van die oomblik dat ons gered is tot in ewigheid. Die Heilige Gees se seël verklaar dat die “transaksie van redding” amptelik en finaal is. Dit kan vergelyk word met die gebeurtenis in Jer.32, waar Jeremia ’n stuk gegrond van sy neef Ganamel gekoop het. Nadat hy daarvoor betaal het, is die transaksie beseël – vers 10 ~ Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ’n skaal.

· In die vierde plek verleen die seël van die Heilige Gees, gesag aan gelowiges – gesag om te proklameer, te leer, te bedien en God se Woord en die Evangelie te verdedig.

Die Heilige Gees waarborg nie alleen ons erfenis in Jesus Christus met ’n seël nie, maar Hyself is ook ’n waarborg van ons verlossing. Vers 14a ~ Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Hierdie woord “waarborg” is in die Hebreeus, “arrabon” en het oorspronklik verwys na die betaling van geld ten einde ’n kooptransaksie te verseker. ’n Vorm van hierdie woord is ook gebruik om na ’n verloofring te verwys wat as pand van waarborg aan die meisie gegee is, waardeur die jongman dus ewige trou sweer aan sy verloofde. Op dieselfde wyse wil die Heilige Gees gelowiges daarvan verseker dat elkeen, sy of haar volle erfenis gaan ontvang. Die Heilige Gees is die kerk se “verloofring” wat as pand van belofte aan Christus se bruid gegee word.

4. AFSLUITING:
Ons moet egter daarop let, dat ons erfenis wat gewaarborg is, al is dit hoe wonderlik, nie die primêre doel met ons redding is nie. Die groot en oorheersende doel met God se redding van gelowiges is om lof en eer aan Hom te bring. Paulus bevestig hierdie feit in beide verse 6 en 12 ~ Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het en ... Daarom moet ons... die grootheid van God prys. God red ons dus ter wille van Sy eer, inteendeel die ganse skepping – mens en dier is geroep om eer aan God te bring – Jes.43:20-21 ~ Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. 21 Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.

Ons as individue, maar ook ons as gemeente is geroep om eer aan God te bring. Ek dink u sal met my saamstem, dat wanneer ons die woorde in Openb.5:11-14 lees, ons nog onmeetbaar ver is van dit wat ons kan en behoort te doen t.o.v. lofprysing en aanbidding. In Openb.5:11-14 staan daar ~ Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ’n groot menigte engele gesien. Daar was duisende derduisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12 uitroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” 13 Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.” 14 Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.

In die lig hiervan het ek dit goed gedink om vir ’n wyle weg te breek van ons studie van die brief aan die gemeente in Efese en na die Woord te gaan kyk en te sien wat die Woord vir ons leer t.o.v. lofprysing en aanbidding.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 16 Augustus 2009