Sunday, May 24, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 31 Mei 2009

Openbaring Ontsluit – 02 (Christus die Sentrale Figuur)[1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Te midde van fel vervolging wat aan die gang was rondom ongeveer 95n.C., ontvang die apostel Johannes ’n openbaring of profesie van dinge wat van daardie eerste dag af verder aan in die toekoms sou plaasvind. Die inhoud van die profesie, wat in boekvorm gebind sou word, was vir die aandag van sewe gemeentes in Klein-Asië (1:11). Maar, soos geldend vir al die ander Sendbriewe, nl. dat die inhoud van die briewe gerig word aan spesifieke gemeentes ten einde bepaalde probleme in die gemeente aan te spreek, is die inhoud van hierdie bepaalde brief en daarom ook met hierdie bepaalde openbaring, van toepassing op die breë kerk van alle tye (hierdie feit word beklemtoon deur 1:3 waarna ons netnou sal kyk).

Die wyse waarop Johannes hierdie openbaring ontvang het was uitsonderlik. Geen ander profesie het ooit vantevore op so ’n treffend wyse na iemand gekom nie. Terwyl hy op die eiland van Patmos is ontvang hy hierdie profesie en wat nog meer besonder is, is die feit dat hy dit op ’n Sondag ontvang – hy sien die Here van die Sabbat self, nl. Jesus Christus ons Here. Sy verskyning was ontsagwekkend en tog ook wonderlik. Só ontsaglik was Jesus se verskyning aan Johannes, dat selfs hy wat Jesus goed geken het, nie die heerlikheid waarin Christus aan hom verskyn het, kon verduur nie.

Hierdie wonderlike openbaring en visioen waaruit die brief Openbaring bestaan kom voort uit hierdie ontmoeting wat Johannes met die Seun van God gehad het.

2. INLEIDING TOT DIE OPENBARING:
Kom ons kyk na die inleidende verse tot die openbaring,
nl. Openb.1:1-3. Hierdie verse staan dan ook bekend as die karakter van die openbaring ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. 2 Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het. 3 Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.

Hierdie verse is ’n tipiese voorwoord of inleiding tot ’n apokalips of ’n openbaring. Wat is ’n apokalips? In kort kan ons sê dat ’n apokalips, ’n onthulling, of ’n openbaarmaking van iets is. In hierdie opsig is ’n apokalips dus beide ’n geheimenis en ’n profesie. Wat bedoel ons met ’n geheimenis? ’n Geheimenis is iets wat onbekend is vir die mens en slegs bekend is aan God. ’n Profesie weer, verwys na ’n boodskap wat in geheel, as bron die Here God het. ’n Openbaring is dus ’n reeks geheimenisse t.o.v. die waarheid, wat net God openbaar maak en wat nooit bekend sou raak, as God dit nie oop gemaak het nie.

Ons sien in die openingsvers van hierdie openbaring, dat dit ’n openbaring is wat deur Jesus Christus gegee is. Dit is nie ’n openbaring wat Christus gesien het nie, maar ’n openbaring waarvan Hy die outeur is en waarin Hy, die sentrale figuur is. Dit is ook belangrik om te besef dat die openbaring ook nie oor Christus per sé is nie, maar oor die menslike geskiedenis waarin Hy die sentrale rol speel. Die keuse om hierdie openbaring deur te gee aan “die diensknegte van God” is egter die keuse van die Vader – vers 2a ~ ... wat getuig het van die woord van God... (O.A.V.). Christus is dus die Middelaar aan wie die opdrag gegee is om hierdie openbaring “deur te gee”, of dit te openbaar aan die mense vir wie dit bedoel was. Christus het weer op Sy beurt, hierdie boodskap deur ’n Engel aan Johannes geopenbaar. Johannes weer, was die finale transporteur of “kanaal” wat die boodskap deurgegee het aan die vooraf bestemde ontvangers. Ons sal ook verderaan sien dat Engele ’n baie belangrike rol speel in hierdie “geestelike toer” waarop Johannes geneem is. Hierdie Engele moet egter nie verwar word met die Engel wat die boodskap self gebring het nie.

Johannes het ook hierdie boodskap wat hy ontvang het – hierdie openbaring, wat die getuienis van Jesus Christus is, getrou oorgedra – ons sien dit in vers 2 ~ Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het. Die laaste gedeelte van vers 2 bevestig ook dat Johannes, alles, absoluut alles weergegee het - ... hy getuig van alles wat hy gesien het. Vers 2b bevestig ook vir ons die feit, dat Christus die getuie van hierdie waarhede is. En as Alfa en Omega (die begin en die einde – 1:8), weet Christus alles – weet Hy van alles wat in die openbaar ontvou gaan word; Hy verstaan alles en Hy het doelbewus deel daaraan en daarom ís Hy ’n geloofwaardige en ware getuie, soos vers 5 en ook 3:14 sê.

3. DIE TYD EN VERVULLING VAN DIE PROFESIE:
Daar bestaan geweldige meningsverskil oor wanneer die gebeure van hierdie openbaring gaan plaasvind, maar wanneer ons kyk na vers 1, is dit duidelik dat hierdie dinge waarvan Johannes hier skryf, binnekort moet gebeur. Dit gaan dus nié oor dinge wat gedurende die Ou Testamentiese tyd plaas gevind het nie. Dit gaan egter ook nie oor dinge wat eksklusief gedurende die Nuwe Testamentiese tyd plaasgevind het nie. Ook gaan dit nie oor dinge wat gaan plaasvind net voor Christus se tweede koms nie. Nee, hierdie openbaring of apokalips handel oor gebeure wat gaan plaasvind, kort nadat die visioen aan Johannes gegee is en tot en met die tweede koms
van Christus (m.a.w. vanaf ±95n.C. totdat Christus weer kom).

Ons lees in vers 3 die volgende woorde ~ Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby. Openbaring is ’n moeilike brief om te verstaan, maar dit is terselfdertyd ’n uitsonderlike brief, want hier in vers 3 vind ons ’n belofte, nl. dat wanneer ons hierdie brief lees, ons geseën sal word – natuurlik is daar ook ’n voorwaarde hieraan gekoppel, nl. dat ons die boodskap ter harte moet neem. Die klem val dus eerder op die gehoorsaamheidsaspek, eerder as die blote lees van die brief. Elkeen wat dus die brief Openbaring vermy, of huiwerig is om dit te lees, ontneem homself van ’n groot seën.

Wat is hierdie seën waarvan die brief praat? Dit is nie baie duidelik nie, maar dit word algemeen aanvaar dat enige gelowige wat die brief lees, geseën sal word deur die diepgaande- en gerusstellende boodskap en die sekuriteit wat daaruit voortvloei. Geen ander brief in die Bybel skilder God so pragtig en uitdruklik as dié soewereine Heerser wat, tesame met Sy geheiligdes, uiteindelik ’n algehele en permanente oorwinning oor die Satan gaan behaal nie. Die “ankervers” van die gelowige word voortdurend deur hierdie openbaring geëggo, nl. ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Rom.8:28).

4. DIE GROETEWOORD:
Ons vind die groetewoord van die brief Openbaring in 1:4-8 ~ Van Johannes. Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië. Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5 en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6 en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. 7 Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker! 8 “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

· Die bron van hierdie groeteboodskap: (1:4a) – “Johannes...”. Dit is niemand anders as Johannes die apostel, een van die twaalf en seun van Sebedeus (Mark.10:35). Hierdie feit word weer in 1:9, asook 1:1 en 22:8 bevestig. Johannes skryf hier as ’n ooggetuie en daarom is hy die sekondêre outeur.
· Die ontvangers van die groetewoord: (1:4b) ... die sewe gemeentes in die provinsie Asië. Hierdie gemeentes aan wie Johannes sy groetewoord rig, sluit o.a. Efese (2:1-7), Smirna (2:8-11), Pergamum (2:12-17), Tiatira (2:18-29), Sardis (3:1-6), Filadelfia (3:7-13) en Laodisea (3:14-22) in. Hierdie gemeentes het werklik bestaan in Johannes se tyd en alhoewel hierdie gemeentes, die primêre fokus van die apokalips was, is die boodskap tog ook universeel van aard, m.a.w. vir alle kerke van alle tye, maar wanneer hierdie sendbrief geïnterpreteer word, moet die omstandighede van hierdie destydse gemeentes steeds in gedagte gehou word.

Die feit dat daar meer as net sewe gemeentes in Klein-Asië op daardie stadium was, en die ander gemeentes ook soortgelyke nood, aanmoediging of probleme gehad het, dui vir ons juis daarop dat die syfer sewe ook in hierdie geval, simbolies waarde gehad het. ’n Verdere rede waarom die ander gemeentes nie genoem word nie, is omdat die gemelde gemeentes, verteenwoordigend van al die ander gemeentes was.
· Die wyse van die groetewoord: (1:4c-8) ...Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5 en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6 en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. 7 Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker! 8 “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Hierdie groetewoord is niks anders as ’n gebed wat die skrywer rig tot God, wat die Gewer is van alle goeie, om Sy guns en genade oor die onverdiende geadresseerdes uit te stort.

Kom ons kyk dan kortliks na die onderskeie gedeeltes van hierdie gebed:
- ...Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom... (1:4b). God die Vader wat van ewigheid tot ewigheid is, word hier geïdentifiseer as die Skenker van die genade en vrede. Hierdie genade en vrede verwys na die genade en vrede wat net van God kan kom – daardie genade en vrede wat Hy in en deur Sy Seun Jesus Christus aan verlore siele skenk, wanneer Hy hulle red!
- ...Genade en vrede vir julle...van die sewe Geeste... (1:4c). Dit is interessant om te sien dat die Heilige Gees hier voor Christus, wat die sentrale Figuur in die brief is, genoem word. Die enigste verklaring hiervoor, is dat dit juis so is om die fokus op Christus te plaas en daarom word Hy laaste genoem, so asof daar opgebou word na die Fokusfiguur. Die Gees word hier ietwat vreemd voorgestel, nl. as die sewe Geeste. Weereens sien ons hier die syfer sewe en besef ons dat die simboliese taal van Openbaring reeds so vroeg as vers 4 ’n aanvang neem. Ons moet onthou dat die syfer sewe na volmaaktheid verwys en daarom verwys hierdie uitdrukking na die volmaakte en volkome manifestasie van die Heilige Gees. Hoor net hoe word hierdie volmaakte Heilige Gees in – Jes.11:2-3 beskryf ~ Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. 3 Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. Die Heilige Gees wat hier as die sewe Geeste beskryf word, is ’n verwysing na die derde persoon van die Goddelike Drie-Eenheid wat voor die troon van die Vader staan vanwaar Hy kom om Sy bediening ten uitvoer te bring – Joh.14:26 ~ ...en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. En wat is Sy bediening? Om ons alles te leer en ons te herinner aan alles wat Christus gesê het.

Die Heilige Gees wie onbeskryflik heilig is, is verder bereid om Homself neer te buig en in die harte van sondaars te woon, ten einde hulle te reinig, te troos en te lei – dít is voorwaar genade en dit is juis hierdie genade wat Johannes sy lesers toebid.
- ... Genade en vrede vir julle ...van Jesus Christus (1:5a). Hier verskaf Johannes nou ’n gedetailleerde beskrywing van Christus en net Hy word nie in figuurlike taal beskryf nie, maar met Sy Goddelike name, nl. Jesus Christus. Hierdie naam van Jesus is betekenisvol, want “Jesus” beteken Verlosser en “Christus” verwys na die wyse waarop Jesus, ons as sondaars red. Hierdie verlossingswerk van Jesus geskied deur Sy ampte as Profeet, Priester en Koning – Profeet, omdat Hy die getroue getuie is – Priester, omdat Hy in Sy opgestane en verrese toestand toegetree het tot die Allerheiligste Heiligdom (Hebr.9:12 ~ Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring), ten einde ons kwytskelding van God se wraak, met Sy bloed te verseël. En as Koning – omdat Hy die heerser oor die konings van die aarde is (1:5b).

Voor Johannes die laaste woord spreek oor Jesus die Middelaar, gee hy eers ’n opsomming van Christus se bediening en die vrug daarop, waarmee sy lesers kan identifiseer.
- Eerstens beskryf hy die eienskap wat Jesus beweeg het om ons te red, nl. 1:5c ~ Uit liefde vir ons ...
- Tweedens beskryf hy haarfyn hoe Christus te werk gegaan het om ons te red, nl. 1:5c ~ ... deur sy bloed van ons sondes verlos.
- Derdens beskryf hy die vrug van Christus se reddingswerk – 1:6a ~ ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.

Aan die einde van hierdie groetewoord, herinner Johannes sy lesers aan die wonderlike vooruitsig wanneer Christus op die wolke gaan kom om ons te kom haal (1:7). Hierdie sal ’n openbare verskyning wees – almal sal dit sien (beide gelowige, sowel as ongelowige). En al praat die Woord van ’n naderende wegraping (“rapture”) aan die einde van die dae, sal hierdie nié ’n geheime wegraping wees nie – baie mense grond hul standpunt vir ’n geheime wegraping op Matt.24:42 ~ Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. Al waarop hierdie vers egter vir ons die klem laat val, is die onverwagse- of verrassingselement, van die wederkoms (sien ook konteks: Luk.17:26-36; Matt.24:26-27; 30-31; 36-44).

Johannes sluit hierdie groetewoord van Hom af, deur die egtheid van hierdie apokalips te bevestig deur Christus se eie woorde aan te haal waardeur Hy verklaar dat Hy een is met Sy Vader (1:4), deurdat Hy sê, dat Hy die eerste is (Alfa = die eerste letter van die Griekse alfabet) en die laaste (Omega = die laaste letter van die Griekse alfabet). Die Goddelikheid van Christus blyk dus duidelik hieruit en verder word die feit beklemtoon, dat dit Christus Jesus is wat hierdie profesie aan Johannes gegee het en nie God die Vader nie – Hy Jesus Christus, wat gaan kom en Sy kinders uiteindelik gaan verheerlik.

[1]Bybelstudiereeks deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 24 Mei 2009