Sunday, May 17, 2009

Die Bybelse Hantering van Beproewing

Die Bybelse Hantering van Beproewing[1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ek wil oor ’n noodsaaklike onderwerp met julle deel. Daar is nie een van ons wat hier sit wat nie op een of ander stadium van ons lewe, een of ander vorm van beproewing of pyn of lyding ervaar of ervaar het nie. Niemand word gespaar van pyn en lyding nie – almal van ons ervaar beproewing op een of ander stadium in ’n mindere of meerdere mate!

Dit is verder van die uiterste belang dat ons as gelowiges sal leer om pyn en lyding, of beproewing as u wil, op die regte wyse te hanteer, want wanneer ons dit verkeerd hanteer kan ons ontnugter raak in God; kan ons verbitterd en uitsigloos raak, ens.

Ek wil graag twee vrae aanspreek in ons soeke na ’n Bybelse hantering van beproewing:
· Hoe moet ek God se soewereiniteit en beproewing met mekaar versoen?
· Hoe moet ek pyn en lyding op die regte wyse, nee, op ’n Bybelse wyse hanteer?

2. BEPROEWING EN GOD SE SOEWEREINITEIT:
Ons lees die volgende in 1 Kron.29:10-16 ~ Dawid het ’n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. 11 Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. 12 Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. 13 En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, 14 want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. 15 Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan verby. 16 Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om ’n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U.

Hierdie is ’n klassieke Skrifgedeelte wat na God se Soewereiniteit verwys.

A.W. Pink sê ~ To say that God is sovereign is to declare that He is the Most High, doing according to His will in the army of heaven, and among the inhabitants of the earth, so that none can stay His hand or say unto Him, What doest Thou? Hy gaan voort en sê: To say that God is sovereign is to declare that He is the Almighty, the Posessor of all power in heaven and earth, so that no one can defeat His counsels, thwart His purposes, or resist His will. Dit weer, grond hy op Ps.115:3 ~ En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy.

Hierdie is ‘n pragtige en Bybels korrekte definisie van God se soewereiniteit.

Wanneer ons gekonfronteer word met allerlei swaarkry en beproewing is die meeste van ons ook reeds baie vinnig om te sê dat God soewerein is en dat Hy nie foute begaan nie. Hy is in beheer! Dit is reg, die vraag is egter, hoe ek God se soewereiniteit sien. Sien ek God as ’n soewereine God wat maak net wat Hy wil en gevoelloos en liefdeloos optree en straf Hy my, of is daar genade, liefde, guns en barmhartigheid in die uitvoering van Sy soewereine wil?

Indien ek sê dat God my straf as ek beproewing ervaar, kan dit op een van twee maniere manifesteer.
· Ons kan óf in opstand kom teen God en, uiteindelik bedroë daarvan af kom. Soos Jesaja beskryf ~ Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. 19 As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet, 20 maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.
· Óf ons kan God se soewereiniteit gelate aanvaar, want ek mag mos nie teen God in opstand kom nie en daarom onderdruk ek enige negatiewe gevoelens oor my pyn en lyding, maar ek tree tog ook nie Bybels korrek op nie, want ek dra en hanteer hierdie pyn en lyding steeds nie met die regte gesindheid nie – ek kan nie oorwinning kry nie; ek kan nie in vrede lewe nie.

Wat is die gevolg van hierdie gesindhede. Hierdie gesindhede kan lei tot wanhoop en uitsigloosheid en ontnugtering – ontnugtering in ’n God wat toelaat dat hierdie swaarkry oor my kom en uiteindelik kan ek so maklik uitroep: Hoe kan die Woord sê dat Hy ’n God van liefde is? Of, die Woord maak ten diepste net nie vir my sin nie – ek verstaan God se karakter nie; ek verstaan Sy liefde nie – in kort, ek verstaan Sy Woord nie.

Hoe moet ek dan God se soewereiniteit sien?
· Ons moet besef dat God in die eerste plek ’n barmhartige God is. ’n Volmaakte voorbeeld van God se soewereine barmhartigheid, is die feit dat Sy Seun, Jesus Christus mens geword het en tussen ons kom bly het. Of, bv. die genesing van die siek man by die Bad van Betesda (Joh.5:1-9).
· Tweedens leer die Woord ons, dat God se soewereiniteit genadig van aard is. God stort Sy genade uit oor almal van ons wat dit beslis nie verdien nie. Ons sien God se soewereine genade pragtig uitgebeeld in Rom.5:21 ~ Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.
· Ons het eerstens gesien dat God se soewereiniteit gaan oor barmhartigheid en tweedens het ons gesien dat God se soewereiniteit vol genade is. Nou sien ons in die derde plek, dat die fondasie van God se soewereiniteit, Sy liefde is. Rom.8:35-39 beskryf dit vir ons pragtig ~ 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Indien God liefdevol, genadig en barmhartig soewerein is, waarom ervaar ons dan hierdie beproewing - Sy Woord sê tog immers in Rom.8:28 ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Alles werk nié nou terwyl ek hierdie beproewing ervaar ten goede vir my uit nie en as ek dan glo dat God se soewereiniteit in liefde en genade en barmhartigheid geskied, moet die fout mos by my lê! Daar is dan gelowiges wat begin hulle glo dat hulle gesondig het en God hulle nou straf.

Alles kom uit God se hand, ons beproewing ook. Sy soewereine wil bestaan uit barmhartigheid, genade en in volmaakte Goddelike liefde.

3. HOE OM BEPROEWING BYBELS TE HANTEER:
Hoe dan, moet ons beproewing op ’n Bybelse wyse hanteer? Kom ons kyk na die Woord van God:
· In die eerste plek leer die Woord ons dat alle pyn en lyding en beproewing, uiteindelik terug gelei kan word na Adam se sonde. Gen.3:17-20 ~ Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe. Adam se sonde en daarom pyn en lyding sal nooit verdwyn alvorens Jesus Christus se wederkoms nie.

· Tweedens leer die Woord ons, dat sommige van die ellende in hierdie lewe, die gevolg is van ons eie sonde. Die Woord leer ons bv. dat ons, ons moet onderwerp aan die gesag wat oor ons aangestel is (Rom.13:1-5) en hierdie “gesag” bepaal dat ek nie die snelheidsgrens van 60 k.p.u. in die dorp mag oorskry nie – en as ek ongehoorsaam is, word ek gevang en lei ek aan die gevolge van my eie sonde, deurdat ek ’n boete moet betaal.

Ons kan egter staatmaak op God se liefdevolle en barmhartige soewereiniteit, deurdat ek my sonde teenoor Hom kan bely en om vergifnis kan vra ~ 1Joh.1:9 ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

· Derdens kan beproewing veroorsaak word deur andere se sonde.
Ons ken die verhaal van Jakob en Esau baie goed, waar Jakob sy pa Isak bedrieg het en sy ouer broer Esau, se seën “gesteel” het. Die gevolg was dat Esau vir die res van sy lewe, asook sy nageslag, erge beproewing sou moes ervaar. Esau is ontneem, van sy eersgeboortereg (Gen.27:36). Esau en sy nageslag sou Jakob se diensknegte moes word (v.37). In vers 41 sien ons dat Esau gebuk gegaan het onder haatgevoelens jeens sy broer en hy wou hom selfs vermoor.

Ook in hierdie geval sien ons dat God se soewereine liefde en genade ons kan help om hierdie beproewing te bowe te kom, deur o.a. die volgende Bybelse beginsels toe te pas:
- Matt.6:14 ~ As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Indien ons nie andere vergewe nie, sê die Woord, kan ons nie
verwag dat die Vader ons moet vergewe nie. Hy is egter getrou en regverdig en Hy sal ons vergewe, het ons netnou in 1Joh.1:9 gesien.
- Die uiteinde van Jakob en Esau se verhaal ken ons ook – Gen.33:4 ~ Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels.
Ons moet dus diegene wat teen ons sondig, vergewe!

· In die vierde plek kan God beproewing in ons lewe wil,
sodat ons Hom kan verheerlik. Dit impliseer dus dat nie elke stuk beproewing, noodwendig terug gelei kan word na eie sonde, of ander se sonde nie.

Ook hier kan ons aan voorbeelde in die Skrif dink waar die persoon wat deur beproewing gegaan het, nie geweet het waarom dit hom getref het nie, maar sy gesindheid was deurgaans om God te loof en te prys in sy omstandighede. Bv. Joh.9:1-3 ~ Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2 Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” 3 En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

Kan ons dit uit eie krag regkry om God te verheerlik deur ons swaarkry? Nee ons kan nie, maar Hy kan en wil ons deur Sy soewereine liefde en barmhartigheid help om dit wel te doen.

· In die vyfde plek leer die Woord ons dat sommige gevalle van beproewing oor ons pad kom, t.w.v. ons eie geestelike groei.

Hier moet ek myself spieël in die “Vrug van die Gees” wat ons in Gal.5:22-23 en 1Tim.6:11 en 2Tim.2:22 kry.

Ek moet myself dus afvra of die Here wil hê dat ek moet groei wat my liefde vir andere aan betref, of skiet ek tekort wat betref my vreugde, of my vrede, of my geduld, of vriendelikheid, of goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, of my selfbeheersing.

Dit is dus ook duidelik dat die Here God beproewing oor ons pad bring, omdat Hy ons oneindig lief het.

· Sesdens sodat ons andere wat onder Beproewing gebuk gaan, kan ondersteun en vertroos (1:1-7): Die woord parakalew (parakaleo) kom tien keer voor in vers 1 tot 7 en word in Afrikaans vertaal met o.a. “moed gee” of “bemoedig”. Dit is presies dieselfde woord wat Jesus in Joh.14:16 gebruik vir die Heilige Gees nl. die “Parakletos”, of te wel die Trooster. Is dit nie wonderlik om te weet dat die Here, Sy Gees na ons gestuur het, om ons o.a. te troos wanneer ons deur beproewing gaan nie?

Meer nog, ons sien dat die Vader ook vir ons ’n Trooster is, wanneer ons na vers 3 van ons Skriflesing kyk ~ Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. Daar is dus troos onder alle omstandighede en tydens alle
vorme van beproewing.

Hierdie troos is egter nie net vir óns nie, maar dit word aan ons geskenk sodat ons dit met andere wat ook beproewing ervaar, kan deel – God berei ons dus voor om andere te vertroos en te bemoedig.

· In die sewende plek wil die Here hê dat ons deur beproewing sal leer......
Om op God se beloftes te vertrou
Ons moet leer om eerder op God se beloftes te vertrou, as om ons eie planne te beraam wanneer ons beproewing ervaar. Ons kán dit doen omdat Sy Woord betroubaar is – Ps.19:8 sê nie verniet ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Ons in ontvang in Christus deur die Heilige Gees, die krag om dit te doen.

In die agste plek sien ons dat beproewing baie dikwels oor ons pad kom,......
· Om nederigheid in ons lewe te bewerkstellig:
Ons lees in 2Kor.12:7b-9 ~ Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8 Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Hieruit blyk dit dus baie duidelik dat God, Paulus beproewing laat ervaar het om hom nederig te hou. Jesus sê Luk.14:11 ~ Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.

4. TEN SLOTTE:
· Dit is belangrik dat ons, midde in beproewing en pyn en lyding, die regte gesindheid jeens God en beproewing sal hê ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (1Pet.4:12-13).

· Tweedens is dit belangrik dat ons sal besef dat daar verskeie redes is waarom ons beproewing ervaar en dat ons sal vasstel watter rede op ons van toepassing is.

Ons moet besef dat beproewing altyd deel van Adam se sonde is. Volgende moet ons vir ons afvra, of die beproewing, die toedoen van my eie sonde is, of dié van andere; of die moeilikste een om dalk te onderskei, is of dit bloot is om God te verheerlik en laastens dat ek my daarin kan verheug dat dit altyd sal lei tot my eie heiligmaking.

· Derdens is dit belangrik dat ons sal besef dat beproewing ’n doel dien. Probeer dus vasstel wat dit is wat die Here vir jou wil leer – en léér dit! Jakobus sê hieroor in Jak.1:3-4 ~ ...want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

· Vierdens is dit van die uiterste belang, dat jy getrou en gehoorsaam aan die Here sal bly tydens jou beproewing ~ 16Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 19 Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (1Pet.4:16,19).

· In die Vyfde plek moet ons altyd onthou dat daar nie so iets bestaan, soos ’n lewe sonder beproewing nie.

· Sesdens moet ons besef dat vryheid van beproewing, nooit ons hoofdoel in die lewe mag wees nie. Verligting van die beproewing moet dus sekondêr wees. Laat Paulus se woorde in Rom.14:7-8 ons uitgangspunt wees ~Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

· Wanneer ons geroep word om te ly, moet ons besin oor God se doel met ons lyding.

· Wanneer ons beproef word, moet ons kíés om te glo dat God dit gebruik om iets goeds daaruit tot stand te bring. Ps.37:23 ~ Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

· Wanneer ons beproewing ervaar moet ons dit as ’n wonderlike geleentheid beskou – iets wat ewigheidswaarde het, eerder as wat ons die geleentheid by ons laat verbygaan. 1Pet.4:13 ~ Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (sien ook Rom.8:28-29).

· Wanneer ons beproewing ervaar, moet ons onsself daaraan herinner, dat al die beproewing in ons lewe saam, nie vergelyk met die heerlikheid wat in die hiernamaals op ons wag nie. Rom.8:18 ~ Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (sien ook 2Kor.4:17; Openb.21:4).

· Wanneer ons deur beproewing gaan, moet ons in gedagte hou, dat ons lyding tot voordeel vir andere mag wees. Paulus sê in Fil.1:12 ~ Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het (sien ook Fil.1:18; Hand.16;
Ef.5:20).

· Ons moet leer om tydens beproewing, op God se wysheid, Sy barmhartigheid, genade en Sy liefdevolle soewereiniteit te vertrou. Ek moet vra hoe kan ek God verheerlik deur my reaksie op hierdie beproewing?

· Ons moet voorts, altyd onthou dat God belowe dat Hy te alle tye, alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet (Rom.8:28).

· En laastens moet ons weet dat God in Sy Woord belowe dat Hy ons nooit bo ons kragte sal versoek nie (1Kor.10:13 – sien ook 2Kor.9:8; 12:9-10).

My gebed is dat elkeen van ons, wanneer ons beproewing beleef, dieselfde gesindheid sal openbaar as wat Paulus in 2Kor.1-11: geopenbaar het, nl. ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, 5 want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. 6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. 7 En wat julle betref, het ons ’n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het. 8 Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. 10 Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. 11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.

Mag jy en ek, God se barmhartige en genadige en liefdevolle soewereiniteit ervaar, elke keer wanneer ons beproewinging in ons lewe ervaar en mag ons dit telkens op ’n Bybelse wyse hanteer.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op
22 Februarie 2009