Monday, May 18, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 17 Mei 2009

Openbaring Ontsluit - 01 (Inleidend)[1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Daar bestaan geen twyfel oor die feit dat die boek Openbaring ’n uitsonderlike boek is. Dit is ’n boek wat deur baie gelowiges vermy word, omdat dit ’n “moeilike boek” is om te verstaan en dit is juis omdat daar so baie simboliek ingeweef is in die boek

Ook word die boek deur baie regsinnige gelowiges vermy, omdat daar soveel onbybelse “twak” kwyt geraak word oor Openbaring – alles omdat die interpretasie van die boek vanuit verskillende invalshoeke plaasvind – natuurlik bestaan daar nog vele ander redes (dink aan sensasiesoekers; dink aan outeurs wat hul boeke wil verkoop ens.). Ten einde hierdie onsekerhede en verkeerde invalshoeke uit die weg te ruim, dink ek is dit nodig dat ons saam deur Openbaring sal werk.

2. AGTERGROND:
Soos met enige ander boek in die Bybel, beskik Openbaring ook oor ’n bepaalde tema en anders as die ander boeke van die Bybel, word hierdie tema op ’n heel ander wyse, ja selfs vreemde wyse, aangebied.

Die tema van hierdie boek wat deur die apostel Johannes rondom 95 n.C. geskryf is, is “Die triomf van Christus en Sy kerk oor die duiwel en sy kamerade”. Die tema word dan ook gebaseer op o.a. Openb.6:1-2 ~ Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die knal van ’n donderslag: “Gaan uit!” 2 Ek het gesien: daar was ’n wit perd. Sy ruiter het ’n pyl en boog gehad. ’n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin, asook Openb.11:15 ~ Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid” en 20:4 ~ Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer.

Is dit nie ’n wonderlike boodskap wat in hierdie teksverse weergegee word vir ons as gelowiges wat voortdurend gebuk gaan onder die aanslae van die bose nie!

Die styl waarin die boek geskryf is, is soos reeds gemeld, simbolies van aard. Daar word dikwels in die Ou Testament gebruik gemaak van simboliek ten einde Nuwe Testamentiese verhoudinge en profesie vir ons deur te gee. Hierdie is ’n baie belangrike feit wat ons moet vashou, want baie interpretasie pogings van Openbaring het in die verlede skeef getrek, omdat daar vergeet word, dat Johannes se visioene, as Nuwe Testamentiese geestelike waarhede geskryf is en wat op Ou Testamentiese vertellinge gebaseer is – bv.: Openb.2:14 is ’n Ou Testamentiese vertelling wat verleen word aan Num.25:1 en 31:16 ~ Maar Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. So word daar gepraat van die Israelitiese stamme in Openb.7:4-8; die tempel in 11:1,19; Sodom in 11:8; Egipte – 11:8; Babilon – 14:8; die Boom van die Lewe – 22:2, ens. Om daarop aan te dui dat Openbaring dus letterlik vertolk moet word, is ondenkbaar.

’n Ander voorbeeld is bv. die voorkoms van die syfer 7 en hierdie getal kom so dikwels voor dat ’n mens noodwendig moet gaan kyk wat dit beteken. En wanneer ’n mens die regte hermeneutiese stappe volg, sal jy gou agterkom dat die getal sewe soos in Openbaring gebruik, dui op kwalitatiewe volmaaktheid of voltooiing. En dit is glad nie toevallig dat die tema van die boek Openbaring, sewe keer herhaal word – ’n mens kan amper sê dat daar sewe wentelbane, of sewe golwe, of sewe siklusse in die boek plaasvind.

Elke wentelbaan verskaf ’n bevredigende en volledige weergawe van gebeure wat ontplooi, of ontvou, of geopenbaar word in die een bedeling of dispensasie waarop die boek se fokus val – hierdie dispensasie is dan die tydperk tussen Christus se eerste en Sy tweede koms – anders gestel, die “Laaste Dae”.

Ons vind die eerste siklus in hoofstukke 1 tot 3; die tweede in hoofstukke 4 tot 7; die derde in 8 tot 11; die vierde in 12 tot 14; die vyfde in 15 tot 16; die sesde in 17-19 en die sewende in hoofstukke 20 tot 22. Wat baie interessant is van hierdie siklusse, is dat dit ’n herhaling van die tema is, maar elke siklus beklemtoon ’n ander faset van dieselfde tema (soos die vier Evangelies byvoorbeeld).

’n Verdere interessante waarneming, is dat die eerste paar siklusse (hoofstukke 1 tot 11) die klem laat val op die waarneembare aspekte van die geestelike oorlog, soos gesien vanuit die wêreld se perspektief, terwyl die laaste siklusse (hoofstukke 12-22), dieper insig op die geestelike agtergrond van die geestelike oorlog plaas.

3. ENKELE WANOPVATTINGS:
Ons moet ook kortliks kyk na enkele wanopvattings t.o.v. Openbaring, alvorens ons na die teksinhoud self kyk:
· Hierdie is nie ’n boek wat handel oor dinge in die hemel nie, maar dit is ’n boek oor dinge in die heelal vanuit ’n “hemelse perspektief”.
· Hierdie is nie ’n boek wat handel oor dinge wat kort voor die einde van die wêreld gaan plaasvind nie, maar dit handel oor dinge wat plaasvind gedurende die laaste dispensasie of bedeling, wat strek van Christus se hemelvaart, tot en met Sy tweede koms en dit “vloei” selfs oor na die ewige staat (na die finale oordeel).
· Alhoewel die fokus in hierdie boek op die laaste dispensasie val, het die boek tog ook die geskiedenis van die ganse aarde hier in die gedagte.
· Hierdie is nié net ’n boek wat uit simbole en allerlei tekens bestaan nie. Nee, dit handel oor werklike dinge wat gebeur en gaan gebeur, maar in simboliese taal. Hierdie werklike gebeure word egter gewoonlik as beginsels aangebied. William Hendriksen beskryf dit in sy boek “More than Conquerors”, as volg: The seals, trumpets, bowls of wrath and the similar symbols refer not to specific events, particular happenings, or details of history, but to principles – of human conduct and of divine moral government – that are operating throughout the history of the world, especially throughout the new dispensation.
· Hierdie is nié net ’n boek wat uit simbole en allerlei tekens bestaan nie, maar ook letterlike dinge. Alles in Openbaring moet dus nie net as simbolies gesien of geïnterpreteer word nie.
· Al is elke stukkie detail en simbool belangrik, het elkeen nie noodwendig ’n interpretasie of verklaring nie. Sommige dinge sal kripties of verborge vir ons bly.
· Hierdie is nie ’n boek met verskeie losstaande temas nie, maar ’n enkele en eenvormige tema en dit is Christus en Sy kerk versus Satan en sy volgelinge en die einde waar Christus as oorwinnaar sal uittree en die Satan oorwin gaan word.
· Die boodskap van die boek verskyn nie in chronologiese of opeenvolgende volgorde in Openbaring nie. Soos reeds gesien verskyn dit siklies in sewe stelle deur die verskillende hoofstukke, maar tog in toenemende intensiteit in elke opeenvolgende siklus.

Een ding wat die boek Openbaring uitstekend doen, is om die dwaasheid van diegene wat God se soewereiniteit in twyfel trek, die nek om te draai. Verder dui Openbaring ondubbelsinnig aan dat die satan ’n aktiewe realiteit is en dat die mensdom se uiteinde, óf die hemel, óf die hel gaan wees.

Hoe meer en meer jy die hierdie boek lees en hoe meer en meer jy dit verstaan, des te meer kom die profesie soos vervat in 1:3 tot vervulling, nl. ~ Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.

4. SIMBOLIEK VERKLAAR:
Voor ons met ’n studie van Openbaring kan begin, moet ons eers na die betekenis van die verskillende simbole en simboliek in Openbaring kyk.

Dit is belangrik om daarop te let dat sommige simbole nie altyd dieselfde betekenis het nie, hoewel dit nie algemeen voorkom nie sal ons spesifiek daarna kyk wanneer dit wel gebeur.

As ’n algemene reël, moet ons altyd in gedagte hou, dat die onmiddellike konteks baie belangrik is ten einde die spesifieke betekenis van elke simbool te bepaal.

Wanneer ons na simbole kyk, moet ons onthou dat die betekenis van elke simbool nie totaal vreemd is aan sy natuurlike betekenis nie, bv.: ’n swaard kan nie ’n instrument wees wat vreugde of saligheid bv. beteken nie. Net so sal wit bv. altyd ’n positiewe betekenis dra. Wanneer ons dit in gedagte hou, is die verklaring van simbole, nie so ingewikkeld nie.

Kom ons kyk dan kortliks na van die belangrikste simbole:

Syfers:
§ Drie-en-’n- half jaar: Die kerk verkeer voortdurend vir kort tydperke onder beproewing – bv. Openb.11:3 ~ Ek sal aan my twee getuies opdrag gee, en hulle sal, met rouklere aan, my boodskap twaalf honderd en sestig dae lank verkondig.
§ Die syfer 4: Die aarde, die heelal, of iets met ’n universele dimensie (bv. die vier lewende wesens; engele, hoekstene van die aarde – bv. Openb.4:6 ~ Voor die troon was dit soos ’n spieëlgladde see, helder soos kristal. Naby, rondom die troon, was daar vier lewende wesens, vol oë van voor en van agter.
§ Die syfer 7: Kwalitatiewe volmaaktheid of voltalligheid.
§ Die getal 10: Kwantitatiewe volmaaktheid of voltalligheid – bv. die Tien Gebooie; die Ten Maagde, ens.
§ Die getal 12: Dui op hoofskap – bv. Openb.12:1 ~ Toe het daar ’n groot teken in die hemel verskyn: daar was ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre (ook – Openb.7:4-8).
§ Die getal 666: Openb.13:18 ~ Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.
§ Die getal 1 000: Lang tydperk of groot hoeveel
.
§ Die getal 144 000: Die militante kerk.

Kleur:
Swart: Boosheid; dood.
Goud: Kwaliteit, waardevol.
Pers: Rykdom; koninklikheid.
Rooi: Bloed; oordeel.
Wit: Suiwerheid; heiligheid.

Kleredrag:
§ Kroon/sierkrans: Koninklike status
§ Mantel: Aanvaarding – bv. Openb.6:11 ~ Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.

Minerale:

§ Brons: Krag; onoorwinlik.
§ Goud: Kosbaar; waardevol.
§ Edelstene: Elegansie.

Diere en kenmerke van diere:
§ Beer: Krag; wild; skadelik – bv. Openb.13:2 ~ Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee.
§ Bees: ’n Kreatuur; ’n stelsel; ’n organisasie of instelling.
§ Bloed: Dood.
§ Draak: Verteenwoording van gruwelikheid; moord en vernietiging.
§ Oë: Insig.
§ Kop of Hoof: Kennis; wysheid; mag van ’n regeerder – bv. Openb.13:1 ~ En toe het ek ’n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name (sien ook Openb.12:3,7; 17:9-11; 13:3; 17:3,7). Omdat ’n kop of hoof dui op o.a. mag van ’n regeerder, dra hierdie koppe gewoonlik krone.
§ Horings: Krag; gesag.
§ Perde: Oorlogstuig
§ Luiperd: Flinkheid; gevaar.
§ Leeu: Moedigheid; gesag; dodelik.
§ Os: Werkywer; fluksheid.
§ Vlerke: Vinnig; spoed; lenigheid.

Kosmiese elemente:
§ Maan: Gewoonlik letterlike gebruik behalwe in Openb.12:1 waar die idee van heerlikheid of verhewenheid deurgegee word ~ Toe het daar ’n groot teken in die hemel verskyn: daar was ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre.
§ Ster: Heerlikheid; verheerlikte objek of wese – bv. Openb.2:28 ~ Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee (sien ook: Openb.8:10; 9:1; 22:16).
§ Son: Gewoonlik letterlike betekenis, behalwe in Openb.12:1.

Stede, volkere en koninkryke:
§ Armageddon: Die groot en beslissende geveg tussen goed en boos, waarin God triomfeer oor Sy vyande – bv. Openb.16:16 ~ Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.
§ Babilon: Die antichristelike verleiding van die wêreld.
§ Egipte: Plek van gevangenisskap of slawerny.
§ Gog en Magog: Die wêreld se bose magte wat optree teen God en Sy kinders.
§ Jerusalem: God se stad en die kerk in heerlikheid – bv. Openb.3:12 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.
§ Sodom: Plek van immoraliteit.

5. TENSLOTTE:
Benewens hierdie simbole is daar nog talle ander, maar ons sal gedurende die behandeling van elke afsonderlike hoofstuk na hierdie simbole en simboliek kyk – enkele voorbeeld hiervan is bv. die lampstaanders; die trompet; die boekrol; sewe seëls; die harp; die skale; die skag na die onderaardse diepte; die Berg Sion; die Bruid; die tweede dood; ens.

Ons sal D.V. volgende Sondag begin kyk na die eerste siklus, of te wel hoofstukke 1-3.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 17 Mei 2009