Sunday, May 17, 2009

Die Boodskap van die Kruis en van Redding - 01 (Waarom ons redding nodig het)

Die Boodskap van die Kruis en van Redding - 01 (Waarom ons redding nodig het) [1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.


1. INLEIDING:
Ek wil graag vanoggend met ’n lewensbelangrike reeks begin wat ek afwisselend met ander boodskappe en reekse sal preek. Ek wil u ook daarop wys, dat hierdie reeks boodskappe geen nuwe en vars inligting is wat ekself “oopgebreek” het nie, maar is basies ’n weergawe en samevatting van ’n kombinasie van ’n paar boeke, waaronder die belangrikste; twee uitstaande boeke is, nl.: “The Message of the Cross” deur Derek Tidball en “The Message of Salvation” deur Philip Ryken. Beide hierdie boeke is vryelik verkrygbaar.

Mag die Here deur Sy Heilige Gees hierdie reeks boodskappe gebruik om nie net jou hart opnuut weer aan te raak en dalk te verander nie, maar ook talle ander wat die Here Jesus Christus as persoonlike Saligmaker só nodig het.

2. SKRIFLESING:
Gen.2:15-3:6 ~ Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16 Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17 maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” 18 Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” 19 Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees. 20 Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie. 21 Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22 en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe. 23 Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” 24 Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. 25 Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie. 3 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” 2 Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.” 4 Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.” 6 Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

3. DIE DOEL MET DIE MENSDOM:
Wanneer ons rondom ons kyk en ons kyk na die nuus ens., kan ons nie anders as om te besef dat die mensdom ’n probleem het – ’n baie groot probleem. Daar is oral oorlog, verkragtings, terrorisme, dwelmverslawing, HIV-pandemies, prostitusie, armoede en hongersnood, bedrog, “aardverwarming”, wildspesies wat teen ’n skrikwekkende tempo verdwyn, en die lys kan nog aan en aan gaan.

Daar is mense wat sê dat die 20ste eeu die slegste eeu van alle tye was en dat alle aanduidings reeds bestaan dat die 21ste eeu nog veel-veel slegter gaan wees. Daar is natuurkundiges wat sê dat die enigste oplossing vir die aarde se probleme is dat die mens uitgewis moet word, want dan kan die natuur weer herstel en verdwyn al die ander mensgemaakte probleme.

Wat is nodig om die mens van homself te red? Die antwoord vir ons as gelowiges lê opgesluit in die Woord van God, want daar word God se plan haarfyn beskryf om die mens te red van al hierdie nare dinge – van homself Die antwoord lê opgesluit in die feit dat die mens gered moet word van sy sonde en verlorenheid en dood en dit kan net bewerkstellig word deur die kruisiging en opstanding van Christus Jesus – Seun van God.

Ten einde God se oplossing vir die mensdom se probleem te verstaan, moet ons verstaan waarom dit nodig is dat ons gered moet word. Ons moet verstaan waarvan ons gered moet word. Ons moet ook verstaan waarom ons onsself nie kan red nie (hierop gaan ons antwoorde soek gedurende die volgende week of wat).

Alvorens ons hierdie vrae kan beantwoord, moet ons vasstel wat die doel met die mens se skepping is – eers dán, wanneer ons hierdie vraag kan beantwoord, kan ons die mensdom (ons) probleem identifiseer en antwoorde begin vind.

Daar bestaan verskillende sieninge wat die doel vir die mensdom is – eenvoudig gestel:
· Die “Epikuriste” glo, dat die mens net vir die plesier van die lewe geskep is;
· Die “Hedoniste” glo, dat die mens se doel is om net vir die fisiese, seksuele en die estetiese te lewe;
· Die “Kommuniste” vir werk;
· Die “Kapitaliste” om te koop;
· Die “Panteïste” glo weer dat die mens maar net ’n deel is van die heelal, met geen Skepper nie, maar net die skepping en die mens word geabsorbeer in ’n “kosmiese oseaan” ten einde deel te word van ’n ondeelbare mag – hierdie is dan ook die tipiese filosofie van die “New Age”- beweging en die Boeddhisme en die Hindoeïsme.
· Die “Islamiete” (of Islam) glo weer dat Allah die bron van alle goed en kwaad is – selfs van sonde en is die mens onderworpe aan die lot van ’n wispelturige god.
· Die “Naturaliste” glo dat die mens die produk van betekenislose kans is –hierdie filosofie word gekoppel aan die filosofie van evolusie.
· Die “Eksistensialiste” glo weer dat die mens se bestaan geen betekenis het nie – die menslike lewe begin uit niks en eindig in niks.
· Die “Humaniste” glo weer dat die mens ten diepste, goed is en dat hy sy volle potensiaal kan bereik deur kuns, tegnologie en die denke – dit gaan dus alles net oor die self.
· Die Christene – Wat glo ons?

4. DIE BYBELSE PERSPEKTIEF:
Die beste plek om vas te stel wat ons as Christene glo, wat die doel met die mens se skepping is, is die Word van God – die Bybel en veral die eerste paar hoofstukke. Martin Luther het op ’n keer gesê, dat die eerste klompie hoofstukke van Genesis die fondasie lê vir die res van die Woord; dit is die basis waarvolgens God, die wêreld en die mensdom verstaan kan word. En wanneer ’n mens deur hierdie eerste hoofstukke van Genesis werk (soos wat ons al die afgelope klompie maande begin doen het), dan besef jy dat een na die ander van die filosofieë waarna ons so pas, op baie simplistiese wyse gekyk het, in die stof byt.

Ons lees reg aan die begin van Genesis – Gen.1:1, dat God die hemel en die aarde geskape het (vs. panteïsme) en die hoogtepunt van Sy skeppingsdade, vind op die sesde dag plaas, toe Hy in die woorde van 1:26 gesê het ~ Kom Ons maak die mens... (vs. naturalisme). God het die mens gekape en nie net dit nie, Hy het die mens na Sy beeld geskape. Die mens is dus nie die gevolg van ’n betekenislose “toeval” nie – nee, die mens is die “kroon van God se skepping”. God het self lewe in die mens ingeblaas (2:7). Meer nog, God het ons nie alleen geskape nie – ons is na Sy beeld geskape. Hierdie feit is bepaald baie belangrik, want dit word drie keer in Gen.1:26-27 herhaal, wat dui op die uniekheid en besondersheid daarvan ~ En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape (O.A.V.).

Wanneer die Woord sê dat ons na die beeld van God geskape is, is dit soos ’n muntstuk wat ’n kopie is van ’n oorspronklike patroon of templaat. As die Woord dan sê dat die mens na “God se beeld” geskep is, moet ons gaan kyk na wat die Woord sê, hoe God lyk en dan moet ons na dieselfde eienskappe in die mens gaan soek.

Ons sien dan in die skepping, dat God kreatief is en dat Hy uit niks, iets gemaak het. Ons sien dat Hy lief is vir skoonheid en rede en orde. Dat Hy kan praat en bevele gee en kan heers en ook dat Hy in verhoudinge kan staan (daar staan in 1:26 ~ Laat Ons mense maak... Dit dui dus daarop, dat daar verhoudinge in die Goddelike Drie-Eenheid bestaan).

Hierdie is alles eienskappe wat ons as mense in gemeen het met God. ’n Ander manier om ons as beelddraers van God te definieer, is om na Kol.3:10 te kyk ~ ...en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God, asook Ef.4:24 ~ ...lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. Om dus soos God te lyk, is om meer en meer soos Hy te word en ’n heilige lewe te leef.

5. GESKAPE OM GOD TE VERHEERLIK:
Juis hierdie laaste verwysing na die beeld van God, is uiters belangrik om te besef wat die doel met die mens is.

Ons is dus ’n weerkaatsing van wie God is. Ons leef dus nie vir onsself nie, maar ons staan in verhouding tot God –ons leef vír Hom – Hy die Gewer van lewe. Daarom is ons geskape om God te verheerlik. Ons het geen ander doel en rede om te leef, behalwe om tot Sy eer te leef nie – die mens het geen bestaansreg indien hy nie aan hierdie doel voldoen nie.

Die geskiedenis van die skepping openbaar dan ook dat God die mens geskep het om Hom in elke area van ons lewe te dien. God sonder drie areas in ons lewe uit waardeur ons Hom moet dien en verheerlik en dit is in en deur ons werk en wanneer ons nie werk nie, rus ons – werk en rus omsluit ons hele lewe en daarmee saam ons verhoudinge, want of ons werk en of ons ontspan, dit geskied altyd in en met en deur verhoudinge.

Eerstens sien ons dat God ons geskep het om te werk en dit word in Gen.1:26 bevestig ~ ... laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. Hierdie werksopdrag was aan die begin van die mens se bestaan, ’n seën en daarom is werk nie deel van die sondeval se vloek nie, maar was dit deel van God se oorspronklike plan vir die mensdom. Die mens was dus geroep om as God se verteenwoordiger op te tree in sy heerskappy oor die aarde – ons noem dit die mens se skeppingsmandaat.

Tweedens moet die mens God eer en verheerlik deur sy rus en ontspanning. God het die mens geskape om beide te werk én te rus. God self het dit aan ons gedemonstreer deur op die sewende skeppingsdag te rus (Gen.2:2-3). Wanneer ons rus en ontspan, moet God se rus deur ons rus gereflekteer word.

In die derde plek moet ons God eer, deur ons verhoudinge as mans en vrouens. Ons identiteit as mans en vrouens is ’n gawe van God wat die eienskappe van Sy persoonlikheid as Drie-enige God weerspieël ~ En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape (Gen.1:27 - O.A.V.). Hierdie teksvers dui dus ondubbelsinnig daarop dat die man en vrou absoluut gelyk is in status voor God (maar nie in funksie nie). Wat dus waar is van die man, is net so waar van die vrou en andersom. Die vrou is uit die man se rib geneem (Gen.2:21-22) en is daarom van dieselfde “stoffasie” as die man gemaak, daarom dat die man in Gen.2:23a (O.A.V.) sê ~ Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Die man en die vrou is vir mekaar geskep, maar, al is ons gelyk, is ons nie identies nie – Man en vrou, is ons geskape. Selfs Adam het dit geweet en daarom sê hy in Gen.2:23b ~ ...Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.

Hierdie eenheid tussen man en vrou word pragtig uitgebeeld in hul seksuele verhouding ~ Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word (Gen.2:24). Hierdie seksuele eenheid simboliseer die geestelike eenheid tussen man en vrou, maar terselfdertyd is die vervulling en vervolmaking van die man en die vrou se liefde vir mekaar, juis geleë in hulle fisiese verskille en daarom kan homoseksuele nie tot eer van God leef nie en hedoniste gebruik hul seksualiteit vir hul eie plesier en nie om God te verheerlik nie.

Die eerste ding wat God vir Adam gesê het, was ~ Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde... (Gen.1:28 – O.A.V.). Van die begin af was die huwelik en ook die seksuele verhouding tussen man en vrou, daargestel om eer aan God te bring, want voortplanting was deel van Sy plan om die wêreld te seën en eer aan Homself te bring.

Die Westminster Shorter Catechism is dus reg as dit vra: What is the chief end of Man? En die antwoord: Man’s chief end is to glorify God, and to enjoy Him for ever. As ons as gelowiges dus wil weet wat die doel met die mens is, is die antwoord baie duidelik, nl. dat ons in elke area van ons lewe, God moet verheerlik – deur ons werk; deur ons ontspanning; deur ons rus; in ons huwelike; in en deur ons gesinslewe; in ons sosiale vriendskappe – oral.

6. DIE TOETS:
Die tweede aspek wat hiermee saamhang en wat uiters belangrik is, is om te besef dat daar maar net een wyse is waarop die mens God kan verheerlik en dit is om volkome gehoorsaam te wees aan God.

Adam en Eva is volmaak en heilig geskape (Gen.1:31). Hoe lank hulle so volmaak en heilig gelewe het, weet ons nie, maar uiteindelik, ten einde te sien of die mens daartoe in staat is om God deur alles en in alles te verheerlik, het God die mens aan ’n toets onderwerp.

Ons lees in Gen.1:29 dat God gesê het ~ Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees, en in Gen.2:9 sien ons dat ~ Die Here God verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit (het), ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis, maar dan kom die toets in Gen.2:16-17 ~ Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17 maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy. Die een boom het lewe gegee en die ander die dood. Die een boom het God se seën verteenwoordig en die ander God se vloek; Sy straf; Sy oordeel.

Hierdie was nie ’n volwaardige Goddelike verbond nie, maar dieselfde elemente van ’n verbond word hier aangetref. Hierdie voorwaarde wat God aan die mens gestel het, staan dan ook bekend as die “natuurverbond”, of die “werksverbond”. Wat het hier gebeur? God stel ’n voorwaarde. Gehoorsaamheid aan die voorwaarde hou seën in, maar ongehoorsaamheid hieraan, het straf tot gevolg. Die voorwaarde – jy mag nie eet nie. Die straf as jy ongehoorsaam is – jy sal sekerlik sterf en nie net jy alleen nie, maar jou hele nageslag.

Baie mense redeneer dat dit onregverdig is dat God my en jou ook straf, omdat Adam ongehoorsaam was, maar wat hulle nie besef nie, is dat ook hulle nie hierdie toets sou slaag as God dit aan ons sou voorhou nie en daarom het God in Sy alwysheid, die mens byvoorbaat in en deur Adam gestraf.

Hierdie twee bome het tot gevolg dat Adam moes kies – óf hy kies om God te verheerlik deur sy gehoorsaamheid en derhalwe te lewe, óf hy kies ongehoorsaamheid en daarmee saam, die dood. Adam kon kies – of hy lewe tot eer van God, of hy lewe vir sy eie eer en ons weet wat hy gekies het! Hier moet ons dit net baie duidelik stel, dat Adam en daarom ons as mense, se vryheid tot keuse binne God se soewereiniteit val, m.a.w. ons moet onthou dat God die mens geskape het met ’n verantwoordelikheid t.o.v. sy vryheid. Ene Milton het gesê dat, Adam and Eva were able to stand, but free to fall.

Adam en Eva was dus goed en volmaak geskape (Augustinus het dit posse non peccare genoem, m.a.w. in staat om nie te sondig nie – teenoor die engele wat nie kan sondig nie – non posse peccare), en hulle sou net so bly, indien hulle die toets wat God voor hulle gelê het, geslaag het en ons weet dat hulle misluk het – net soos wat nie een van ons ooit uit onsself sal kan slaag nie.

7. ADAM EN EVA SLAAG NIE DIE TOETS NIE:
Dit is onwys om daaraan te dink wat die uiteinde sou gewees het as Adam en Eva wel die toets geslaag het. Wat wel seker is, is dat die mensdom nie nodig sou hê om gered te word nie. Ook sou die Evangelieboodskap van redding nie nodig gewees het nie. Ons sou dus slegs God se instandhoudingsgenade (of algemene genade) nodig gehad het, maar nie Sy reddingsgenade nie. Die hartseer realiteit is egter dat ons wél reddingsgenade nodig het omdat ons voorouers, Adam en Eva nie die toets geslaag het nie en ons dit ook nie sou slaag nie. Die ironie is dat dit slegs twee hoofstuk van die Bybel neem om Adam en Eva se perfekte toestand te beskryf; slegs ’n paar verse om hul val te beskryf, maar genadiglik, die res van die Bybel om aan ons te beskryf, hoe ons as mense, hierdie perfekte toestand kan herwin.

Hoe het Adam en Eva dan geval? Dit word vir ons in verse 1–24 van Gen.3 beskryf, waar ons sien dat die duiwel in die gedaante van ’n slang na Eva kom en haar verlei en mislei om wel van die verbodevrug in die middel van die tuin te eet en hoe Eva se man, Adam ook van die verbode vrug eet. Die uiteinde word vir ons treffend in vers 24 weergegee ~ Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

Daar is verskillende wyses waarop ’n mens die boosheid van die eerste sonde kan beskryf. Dit was baie duidelik ’n optrede van uittarting; dit was rebellie en ’n uitdaging van ’n soewereine God. Dit was ’n verdorwe misbruik van God se volmaakte skepping. Dit was ’n eensydige verbreking van ’n verbond – die lewensverbond tussen God en Adam. Dit was ’n “selfverwydering” van ’n voorreg om in God se teenwoordigheid te kon staan. Dit was ’n poging om God van Sy heerlikheid en eer te beroof. Dit was ’n verbreking van elkeen van die gebooie van die Tien Gebooie wat nog sou kom.

Toets ’n bietjie al hierdie oortredings en verbrekings aan ons eie lewe – Is dit nie presies waaraan ons, die mensdom, ook maar skuldig is nie?

8. DIE OPLOSSING:
Is daar ’n oplossing vir die mensdom se probleem? Wel, daar is vele lesse vir ons te leer uit hierdie verhaal van die val van Adam en daar ís ’n oplossing:

· Eerstens moet ons die doel waarvoor ons geskep is, in herinnering roep. Wat is die doel met ons bestaan? Ons het reeds gehoor, dat dit is om God in die eerste en laaste plek deur ons ganse lewe te verheerlik.
· Tweedens moet ons weeklaag en treur oor dit wat ons verloor het – die volmaakte geluk en sondelose bestaan van Adam en dink aan die ellende en lyding wat voortgespruit het uit hulle en ons sonde. En ons moet voor God daaroor kom en ons eie afvalligheid bely.
· Daar is egter ’n derde saak, wat die sleutel tot ’n herstel van ons gevalle posisie behels en dit is God se reddingsgenade wat Hy aan ons as sondaars beskikbaar stel.

Ons as verlore sondaars kan dus dieselfde vraag vra wat die tronkbewaarder in Hand.16:30 aan Paulus en Silas gevra het, nl. ~ Menere, wat moet ek doen om gered te word? Wat moet ons dus doen om gered te word? Die skokkende is dat ons absoluut niks kan doen nie! Die enigste wat ons kan red van ’n ewige dood, is dit wat God gedoen het deur die dood en opstanding van Jesus Christus en op grond daarvan antwoord Paulus en Silas die tronkbewaarder in vers 31 van Hand.16, deur vir hom te sê ~ Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.

God red enige persoon wat sy of haar vertroue plaas in Jesus Christus om hom/haar van hul sonde te verlos, uit genade, deur geloof alleen en dit alles geskied tot eer en verheerliking van God.

Ons sal D.V. volgende keer kyk na die vraag wat ons nodig het om gered te word.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 17 Mei 2009