Sunday, May 24, 2009

Die Boodskap van die Kruis en van Redding - 02 ("Wat die mens nodig het)

Die Boodskap van die Kruis en van Redding - 02 (Wat die mens nodig het) [1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Gen.3:1-24 ~ Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” 2 Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.” 4 Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.” 6 Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7 Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere. 8 Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9 Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” 10 En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.” 11 Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?” 12 Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.” 13 Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.” 14 En die Here God sê vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank. 15 Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” 16 Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” 17 Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.” 20 Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense. 21 Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek. 22 Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!” 23 Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. 24 Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

2. INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat die mensdom ’n ontsaglike nood het aan redding en verlossing, omdat Adam (en daarmee saam, sy nageslag – wat ons dus insluit), nie die toets wat God in die Tuin van Eden aan Hom voorgehou het, kon slaag nie (Gen.2:16).

Wat interessant is, is dat, van die oomblik af wat Adam en Eva die verbode vrug geëet het, die mens sy eie eer begin soek het en nie meer dié van God nie. Dit is dus so dat die mens in wese nie goed is nie, maar ten diepste sondig en daarom verlore. Dit impliseer dus dat indien die mens gered wil word, hy van homself en sy sonde gered moet word.

Die boodskap van redding is dan ook God se antwoord op die gevolge van ons sonde. Wanneer ons dan kyk na die leerstuk van die sonde, sal ons presies sien wat nodig is vir die mens om gered te word.

Ek het die afgelope tyd heelwat aanhalings voorgelees en ek weet dat ’n mens dit nie te veel moet doen nie, maar die woorde van J.C. Ryle in sy boek “Holiness”, is so waar, nl.: The plain truth is that a right knowledge of sin lies at the root of all saving Christianity. Met ander woorde, indien ons nie die hele kwessie van sonde reg verstaan nie, sal teologiese- en Bybelse waarhede t.o.v. die uitverkiesing, redding en heiligmaking, vir ons geen sin maak nie – ons moet sonde dus verstaan en weet waar dit vandaan kom.

Die eerste ding wat dus gebeur met ’n persoon wat tot redding kom, is dat God deur Sy Gees, so ’n persoon se hart aan homself ontbloot, sodat hy kan sien hoe skuldig hy voor God staan en dat hy verlore is – sonder sondebesef kan daar dus nie redding wees nie.

3. DIE REALITEIT VAN DIE SONDEVAL:
Die oomblik toe Adam en Eva van die vrug geëet het, het hulle geweet dat hulle skuldig staan voor God en dat hulle m.a.w. gesondig het – 3:7a ~ Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Hierdie hele gebeurtenis is so ironies – hoor net wat sê Satan aan Eva in 3:4-5 (en weereens is die N.A.V. swak vertaal en daarom kyk ons hier eerder na die O.A.V.) ~ Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Hoor u wat sê die Satan hier? Die Satan het vir Adam en Eva gesê, dat indien hulle van die vrug eet, hulle die verskil tussen goed en kwaad sal ken. Hulle sal dus kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is. In kort, hulle sal sonde in hulle lewe kan identifiseer – en dit is presies wat met hulle gebeur het ~ Hulle het geëet en hulle oë het oopgegaan en hulle het gesien dat hulle kaal is! Eva het gedink dat sy oor positiewe kennis gaan beskik, soos waaroor God beskik – dat sy antwoorde op al haar vrae gaan hê, maar tipies soos die misleidende Satan is, het Eva wel kennis gekry – maar kennis van haar eie sonde gevalle toestand!

Net so terloops – Adam en Eva was nakend vóór die sondeval, maar die verskil is dat hulle nie voor die sondeval skaam was oor hulle naaktheid nie – nie fisies of geestelik nie, maar ná die sondeval, was hulle intens bewus van hulle naaktheid – veral geestelik, want hulle het besef dat hulle gefouteer het en dat hulle die toets gefaal het. Adam en Eva het ontbloot gevoel nadat hulle gesondig het, daarom maak hulle vir hulle klere om hulle fisiese naaktheid te bedek, maar hulle kruip ook vir God weg, ten einde hulle geestelike naaktheid te probeer bedek.

Deur hierdie gebeurtenis in die Tuin van Eden, sien ons dus dat sonde twee gevolge het:
· Eerstens staan ons skuldig voor God.
· Tweedens, het sonde altyd ’n geestelike impak en gevolge vir die mens, want alle mense is ten diepste bewus van hulle sonde – hulle weet wanneer hulle iets verkeerd gedoen het. Die mens se gewete spreek hom dus aan – dit is waarom God vir Adam vra ~ Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? (3:11). Die antwoord is natuurlik dat niemand dit vir Adam gesê het nie – hy’t net gewéét.

Hierdie sonde van Adam het dan gelei tot die verlorenheid van die ganse mensdom en dit noem ons in die teologie, die oorspronklike sonde.

Ons het verlede keer gesien dat God ’n bindende ooreenkoms met Adam aangegaan het – eet van die boom van alle kennis en jy sal sekerlik sterf (Ons moet onthou, dat Adam tydens hierdie ooreenkoms, die ganse mensdom – sy nageslag verteenwoordig het). Adam het oortree en daarom word sy sonde, ’n universele sonde.

Die feit dat Adam se sonde ’n universele sonde is, word regdeur die Woord beklemtoon. Ons sien reeds so vroeg as Gen.4 dat ook Adam se kinders, sondegevalle was. Waarom was dit die geval? Het dit in die gene gelê? Was dit die swak omgewing waarin hulle gebly het? Was dit swak ouerskap? Dit is so, dat al hierdie moontlikhede ’n rol gespeel het, want Adam hét ’n swak voorbeeld aan sy kinders gestel. Daar ís ’n oorerflikheidsfaktor wat ’n rol gespeel het. Dit is egter van die uiterste belang dat ons sal verstaan dat Adam se kinders nie sondaars was bloot omdat hulle gesondig het nie. Nee, hulle het gesondig omdat hulle in wese, sondaars was. Hulle is as sondaars gebore, omdat hulle die skuldigheid, of die staat van beskuldiging waarin hulle verkeer het, van hulle vader oorgeërf het.

Paulus beskryf hierdie oorspronklike sonde van Adam en die gevolg daarvan, pragtig in Rom.5:12 ~ Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. In Ef.2:3 sê Paulus ~ So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. God het dus Adam se sonde aan elke persoon na Adam toegereken, daarom praat ons van Adam se oorgeërfde sonde, of die mens se toegerekende sonde. Waarop dit dus neerkom, is dat God ons moreel verantwoordelik hou vir Adam se sonde en daarom word alle mense in sonde ontvang en gebore (Die Heidelbergse Kategismus – Sondag III, Vraag en antwoord 6) – dit noem ons die erfsonde en dit laat ons dus skuldig staan voor God –dit noem ons, ons erfskuld.

Ons het reeds verlede week gesien dat dit nie onregverdig is, dat ons ingesluit is by hierdie straf van Adam nie. Adam het die geleentheid gehad om as ons verteenwoordiger, gehoorsaam te kon wees aan nét een toets wat voor hom gestel was, maar hy het nie geslaag nie en daardeur is ons almal gedoem.

Dit is dan juis in hierdie oënskynlike “onregverdigheid”, dat daar geweldige sekuriteit vir ons opgesluit lê, want dit is juis deur hierdie beginsel van verteenwoordiging (Adam ons eerste verteenwoordiger), dat die grondslag gelê word vir ons verlossing in Christus – Christus wat dan ook as Verteenwoordiger van ons sou optree (Christus ons tweede Verteenwoordiger).

Hierdie beginsel van verteenwoordiging word vir ons beskryf in Rom.5:17 ~ Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Deur Christus se volmaakte lewe; Sy soenoffer wat Hy gebring het toe Hy in gehoorsaamheid aan die kruis gesterf het en deur Sy glansryke opstanding, het Hy Sy kinders verteenwoordig voor God. Dit was slegs deur op te tree as ons verteenwoordiger, dat Hy versoening vir ons kon bewerk by die Vader.

Om dus deur een mens, Adam veroordeel en “gevonnis” te word, blyk op die ou einde ons enigste hoop op redding te wees! Die verhaal van Adam se val is dus nie alleen ’n verhaal van wat gebeur het nie, maar ook van wat sou gebeur en nog steeds gebeur.

Ons het dan tot nou toe gepraat oor die sonde wat ons geërf het by Adam, of te wel die erfsonde. Daar is egter ’n tweede tipe sonde, nl. die erfsmet en dit is die sonde wat ons van dag tot dag begaan. Om die verskil tussen hierdie twee teologiese uitdrukkings te verstaan is onbeskryflik belangrik, want om maar net een rede te noem, is dat baie van ons, so dikwels ervaar dat ons nie gered of wederbaar is nie, omdat ons so sleg voel oor ons daaglikse sonde (erfsmet). Ons moet egter onthou, dat indien ons wederbaar is, ons, ons erfsmet en ons erfsonde van mekaar moet skei.

Kom ek probeer dit prakties en eenvoudig verduidelik.
· Ek is wederbaar. Die erfsonde is dus gekanselleer – Ek staan onbevlek voor God se genadetroon. Niks kan my meer uit “God se hand laat val nie”.
· Ek word egter daagliks gekonfronteer met my erfsmet, maar omdat ek dit nie skei van die erfsonde nie, raak ek só depressief daaroor en voel ek so hopeloos daaroor, dat dit my ontneem van vrymoedigheid om na God te gaan in gebed ten einde vergifnis daarvoor te vra – ek dink eerder dat God my verlaat het en dat Hy my wéér verwerp het, soos toe ons in Adam verwerp is. In die proses ly ek geestelik skade, omdat ek nie geestelik groei nie; ek hou selfs op om te bid (geen vrymoedigheid nie) en Bybel te lees.
· Ons vergeet egter dat hierdie daaglikse sonde (die erfsmet) niks te doen het met ons erfskuld nie (wat uitgekanselleer is deur Christus se soendood) en daarom kan ek steeds met vrymoedigheid na die Vader gaan om my erfsmet voor Hom te bely en om vergifnis daarvoor te vra, want ek is steeds Sy kind, op grond van die feit dat Christus my erfskuld op Hom geneem het.

Terug na die erfsmet (die tweede tipe sonde). Een van die beste aanduidings van ons skuld voor God, is die feit dat ons skaam en skuldig voel oor ons sonde. Iets moet dus gedoen word aan hierdie skaam- en skuldgevoelens. Adam en Eva het dit direk na die sondeval ervaar en daarom probeer hulle dit “toesmeer” of wegsteek, deur blare aan mekaar te werk.

Ons kan egter nie kledingstukke oor ons sonde trek nie, omdat God reg in ons harte sien, maar God het ’n plan om ons uit ons verleentheid te help – ís Hy nie ’n genadige God nie! Ons verwerp Hom, maar Hy kom steeds met ’n teenprestasie om ons te help! En Hy doen dit reeds in Gen.3:21, toe Hy Adam en Eva help om hulle skuld voor Hom, behoorlik te bedek deurdat ~ ... die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek (het).

Hierdie velklere wat God vir die mens gemaak en aangetrek het, was teken daarvan, dat die gevalle mens nooit weer sou kon terugkeer na sy oorspronklike “naakte vryheid” nie – sy toestand van onskuld dus. Hierdie klere was egter ook teken van God se genade. Dit wys dat God iets vir ons kan en wil doen – iets wat ons nie vir onsself kan doen nie.

Dit is verder ook betekenisvol dat ’n dier moes sterf as gevolg van Adam en Eva se sonde. Ten einde Adam en Eva se skuld en skaamte dus te bedek, was ’n offer van bloed nodig en hierdie feit, is deel van die verlossingsboodskap. Sonde – beide die erfskuld en die erfsmet – het verleentheid en skuld tot gevolg wat bedek (of betaal) moet word d.m.v. ’n soenoffer. Slegs wanneer dít gebeur, kan ons onbevlek en geregverdig voor God staan.

4. VERDERE GEVOLGE VAN DIE SONDE:
Bo en behalwe die feit dat die sonde tot gevolg het dat ons skuldig staan voor God en dat dit ’n geestelike impak op ons het (verleentheid byvoorbeeld), is daar egter ’n verdere gevolg en dit is dat daar skeiding kom tussen mens en God.

Voor die sondeval het daar ’n wonderlike intimiteit tussen God en die mens bestaan en het hulle gereeld in die koeligheid van die aand saam in die Tuin gewandel, maar
na die sondeval, bestaan dit nie meer nie – Gen.3:8-10 ~ Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9 Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” 10 En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip”. Die mens kry skaam oor sy sonde. Sy sonde het verwydering tussen hom en God gebring.

God vra aan Adam ~ Waar is jy? God het nie hierdie vraag gevra omdat Hy nie geweet het waar die mens is nie. Nee, Hy vra dit ten einde die ongelukkige toestand wat die sonde tot gevolg gehad het, te openbaar en dit het Adam geforseer om te erken dat Hy gesondig het en derhalwe skeiding tussen hom en God gebring het. Hierdie erkenning van skuld het nou vrees tot gevolg en daarom kruip die mens weg. Dit is presies wat met ons ook gebeur, elke keer wanneer ons sondig – dit bring skeiding tussen ons en God. Ons verhouding met God word deur sonde vertroebel en daarom bring dit skeiding tussen ons en Hom. Kol.1:21 bevestig hierdie feit ~ Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse.

Nie net het sonde tot gevolg dat daar skeiding tussen mens en God kom nie, maar skeiding tussen mens en mens. Adam en Eva het na die sondeval, nie net gevoel om hulle te verberg van God se aangesig nie, maar ook van mekaar en dit blyk uit die feit dat Adam onmiddellik nadat God hom gekonfronteer het, die skuld op Eva pak (3:12).

Hierdie verwydering tussen die mensdom het o.a. ook tot gevolg dat die mensdom mekaar wil oorheers en dit is presies die betekenis van Gen.3:16b toe God vir Eva gesê het ~ ...Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.

In sekere opsigte is die mens self, sy ergste vyand en daarom het ons God nodig om ons van onsself te red.

Maar, ons het egter nodig om van ’n nog groter vyand verlos te word en dit is Satan. In Gen.3:14-15 sê God vir die satan (let op, God redeneer nie met hom nie – Hy veroordeel hom net en dit is omdat God geen reddingsplan vir die satan en sy demone het nie – hy wil hulle net vernietig) ~ Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank. 15 Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.

Die satan het die mens al voor die sondeval gehaat – daarom dat hy die mens in versoeking lei en daarom is hy steeds besig om te poog om die mens saam met hom die hel in te sleep. Ons het dus elke dag van ons lewe te kampe met die aanslae van die bose. Sonde het ons onder die mag van Satan gebring, maar genadiglik beteken die boodskap van die Evangelie dat die kop van die slang uiteindelik verbrysel sal word. En omdat God die satan haat, moet ons ook die satan haat.

Ongelukkig, soos ons tot nou toe gesien het, het sonde verskriklike gevolge. God se “voor-sondeval-opdragte” aan Adam en Eva bly steeds van krag ná die sondeval, maar hierdie aktiwiteite sal nou gepaard gaan met moeite en met pyn en lyding (Gen.3:16-24). God het voor die sondeval, opdrag gegee dat die aarde gevul moet word – nou (na die sondeval) sal die vrou pyn ervaar tydens die geboorteproses, maar ook sal dit swaar en seer vir die vrou wees as sy nie kinders in die wêreld kan bring nie, of sal die grootmaak van kinders geen maklike taak wees nie. Die Here het opdrag gegee dat die aarde bewerk moet word, maar nou sal dit gepaard gaan met swaarkry; die man sal met moeite moet werk. Die vrou sal oorheers word deur die man. In kort, die lewe sal nie meer “paradys” wees nie, want die mens is uit die paradys gedryf.

Laastens het die sondeval, die dood van die mens tot gevolg. Hierdie oordeel word in vers 3:19 oor die mens gevel, wanneer God sê ~ Stof is jy, en jy sal weer stof word.

Die vernietiging van die mens se liggaam en siel, is die gevolg van die erfsonde. Ons onontkombare sterwe is die onbetwisbare bewys dat ons sondaars is. In plaas daarvan dat die mens dus die aarde onderwerp aan hom, sal die aarde die mens aan hom onderwerp - Stof is jy, en jy sal weer stof word. Die mens wat volhard in sy sonde sal nie net sterf nie, maar gaan ’n ewigheid in die hel tegemoet.

5. DIE BELOFTE VAN VERLOSSING:
Die tragiese toestand van die mens is dus alles toe te skryf aan die sondeval. Ons sondegevallenheid is dus so erg dat redding geen geringe saak is nie.

Ons sal van die sonde van die verlede gered moet word (die erfsonde), maar ons sal ook van ons huidige sonde verlos moet word (die erfsmet) en ons sal van die straf op die sonde in die toekoms gered moet word. Hierdie is geen geringe saak nie, maar hoe kan ons hiervan gered word?

Die redding van die mens kan alleen bewerkstellig word, indien God die inisiatief neem (soos wat Hy alreeds in Gen.3:21 begin doen het). Hierdie redding het eerstens ’n soenoffer nodig (“propitiation”) om ons sonde voor God te offer en hierdie offer het Jesus klaar gebring, toe Sy bloed aan die kruis gevloei het vir God se uitverkorenes se sonde. Eers na hierdie soenoffer kan sondaars regverdig verklaar word in God se oë (“justification”). Wanneer ons regverdig verklaar is, vind versoening tussen ons en God plaas (“reconciliation”). Wanneer hierdie drie stappe plaas gevind het, verklaar God dat die sondaar verlos en gered is (“redemption”). Hierdie proses vind plaas wanneer die Heilige Gees ons roep en die geloof aan ons skenk om Christus se soenoffer aan te neem. Wat nou plaasvind is die wedergeboorte (“regeneration”) en vir die res van die gelowige se lewe vind heiligmaking plaas (“sanctification”) en na die dood word die verlostes verheerlik (“glorification”).

Die boodskap van redding bied hoop aan elkeen wat daarna luister, 1Tes.5:9 leer ons dat... ~ God ons tog nie bestem (het) om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Die Woord is verder in Heb.7:25a, baie duidelik daaroor, dat Christus Jesus ...ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos.

Jesus Christus het dus en sal steeds alles in Sy volmaakte wil doen om elke sondaar wie die Vader gekies het, te verlos en met die Vader te versoen. Hy sal ons verlos van die aanslae van die bose en ons uiteindelik die gawe van die ewige lewe skenk.

Jesus Christus is dus die volmaakte en enigste oplossing vir die probleem op sonde, met al sy gevolge.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 24 Mei 2009