Sunday, July 29, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 07 (Christus ons Oudste Broer)


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDING:
       Kom ons vat net weer kortliks saam wat ons verlede week in vv.5-9 van Hebr.2 gesê het:
·           Ons het gesien dat God die mens met heerlikheid en eer en gesag beklee het, maar dat die mens dit tydens die sondeval verloor het.
·           Ons het na die uitdrukking, die "toekomstige wêreld" gekyk en gesien dat dit na die era van die Kerk verwys, m.a.w. die tyd van Christus se menswording, tot en met Sy wederkoms en dat ons tans midde in die "toekomstige wêreld" leef.
·           Ons het egter ook gesien dat Christus uiteindelik tot die mens se redding gekom het en dat die vloek wat op ons gerus het, verwyder is, deurdat Jesus as Verlosser aan die kruis gesterf het.
·           Die implikasie van Jesus se soendood, is dat ons as gelowiges weer ons heerserskrone sal ontvang en saam met Christus oor die ganse heelal sal regeer en heers. 

Sunday, July 22, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 06 (Maar Jesus!)


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.



1.    INLEIDING:
       Ons gaan vanoggend na vv.5-9 van Hebreërs 2 kyk, maar t.w.v. die konteks en volledigheid, asook om ons voor te berei op die volgende paar boodskappe wat gaan volg uit hoofstuk 2, gaan ons vanoggend die volledige hoofstuk 2 lees.

       Soos wat die geval met hoofstuk 1 was, maak die Hebreërskrywer weer in hierdie gedeelte gebruik van aanhalings vanuit die Ou Testament – so haal hy bv. in 2:6-7 aan uit Ps.8:5-7. Ps.22:23 word in 2:12 vermeld, en in 2:13 gebruik hy die woorde van Jes.8:17-18.

       Elke keer as die skrywer sulke aanhalings gebruik, vertel hy ’n deel van Jesus se verhaal. Hy lei Jesus se verhaal as't ware af vanuit die Ou Testament, want baie van die tekste in die Ou Testament wys juis heen na Jesus Christus en daarom moet ons ook, wanneer ons die Ou Testament lees, dit in die lig van Jesus Christus lees, want Jesus se verhaal plaas Ou Testamentiese verhale in perspektief en maak ook ’n verskil aan mense in die Ou Testament se individuele verhale.  


Monday, July 16, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 05 (Stewig Geanker)


1.    INLEIDING:

       In hoofstuk 1 het die Hebreërskrywer vir ons verduidelik dat Jesus, die Seun van God, verhewe is bo die engele. Hy het egter ook vir ons daarop gewys dat Jesus God is en dat Hy verhef is bo die ganse skepping en dat Hy op ’n ewige troon sit met ’n septer in Sy hand en vir altyd oor die heelal heers.

       In hoofstuk 2 sal ons ook sien dat die Hebreërskrywer vir ons daarop wys dat Jesus mens geword het en dat Hy daarom volmaakte Middelaar tussen ons en God is – iets waarop geen engel homself kan beroem nie. Die skrywer hanteer egter eers ’n ander saak in vv.1-4 in hoofstuk 2, voor hy aangaan met Sy beskrywing van die Seun van God se vleeswording en in hierdie vier verse sal ons sien dat geen mens die gevolge sal ontsnap indien hy nie ernstig aandag gee aan Jesus nie.


Tuesday, July 10, 2012

BYBELSTUDIE – Die Evangelie van Johannes – 08 (Joh.2:12-22)


Lees Joh.2:12-22:
Vers 12 begin deur te sê ~ Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie. As ons na die voorafgaande gedeelte kyk, sien ons dat hier gepraat word van Jesus wat in Kana was, waar Hy by ’n bruilof, water in wyn verander het.

Na Kanaän het Jesus saam met Sy moeder, sy broers en die dissipels, ’n vlugtige besoek gebring aan Kapernaum – die Woord gee nie aan ons ’n aanduiding waarom hulle daarheen is nie. Nadat hulle aangedoen het by Kapernaum, is hulle, soos só baie Jode, Jerusalem toe vir die Paasfees (v.13). In Jerusalem aangekom is Jesus reguit na die Tempel.

1.    Gebeure tydens die Pasga:
Die Paasfees of die "Die Pasga" staan ook bekend as die "Seisoen van Vrymaking" en die "Seisoen van Vreugde" en beide hierdie benaminge hou verband met die Hebreërs se verlossing uit Egipte gedurende die maand Nissan (Maart-April).

Die Pasga as eerste feesseisoen is ook onderverdeel in drie subfeeste, nl. "Die Pasga"; "Die Fees van die Ongesuurde Brode" en "Die Fees van Eerstelinge".  Die laaste twee sal ons D.V. volgende Sondag behandel.

2.    SKRIFLESING:
Eks.12:1-14, 43-48 ~ In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. 3Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand ’n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. 4As ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, kan ’n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5Dit moet ’n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, ’n skaap of ’n bok. 6Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. 7Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. 8Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die Paasfees van die Here. 12“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie. 14“Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n vaste instelling wees wat hulle moet vier.  Ook vv.43-48 ~ Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die Paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; 44’n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is; 45geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie. 46Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die Paaslam mag gebreek word nie. 47Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. 48Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die Paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos ’n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie.

3.    DIE PASGA:
In hierdie gedeelte lees ons van die instelling van die Pasga en hierdie gebeurtenis in Egipte, is vir my persoonlik sekerlik dié belangrikste gebeurtenis in die ganse Ou Testament, omdat dit die verlossing van die gelowige, so pragtig uitbeeld.

Elke man moes op die tiende dag van die maand Nissan (Maart-April) ’n lam sonder gebrek vir sy huisgesin neem (vv.3-5).  Hierna moes die lam vir vyf dae bewaar word, waartydens daar baie seker gemaak word, dat hy sonder gebrek was (v.6).

Op die veertiende Nissan moes hierdie lam by die huis se deurpos geslag word – verkieslik om 3 uur in die middag, sodat dit teen 18:00 (die aanvang van die 15de dag) geëet kon word (v.6).  Die bloed moes opgevang word en aan die bo-kant en aan beide kante van die deur se kosyn, aangebring word – die hele deurkosyn was dus bedek met bloed (v.7).

Die huisgesin moes nou binne-in die huis gewees het ten einde beskerming te geniet teen die Doodsengel wat deur die land sou trek en al die eersgeborenes sou tref met die dood.   Die Doodsengel sou dus by elke huis verbygaan waar daar bloed aan die deurkosyne was – vandaar die Engelse benaming, "pass-over" (v.13).

Terwyl die man van die huis, die lam voorberei het, mag hy geen been van die lam gebreek het nie (v.46) en ten einde die lam te braai volgens die voorskrifte, moes die lam op ’n spit geplaas word, sodat die lam oopgevlek (oopgesprei) kon wees.  Of ’n mens, soos so baie ander, regtig hieraan enige waarde moet heg, betwyfel ek ten sterkste, maar dit is tog interessant om te weet dat die spit in die vorm van ’n kruis was, ten einde die lam oop te spalk en te braai.  Nadat die lam klaar gebraai was, moes die hele lam deur die familie opgeëet word – hulle mag niks gebêre het vir die volgende dag nie (vv.8-10).

’n Laaste voorwaarde rondom die Pasga, was dat geen mens wat nie besny was, aan die Pasga kon deelneem nie (v.48).  Besnydenis was die uiterlike teken dat die persoon in God se verbond ingesluit is – daar was dus ’n bloedverbond gesluit.  Indien hy dus besny was, was hy geregtig op die voordele van die verbond.

Baie jare later, nadat die tempel in Jerusalem gebou was, het die mans die lammers na die tempel gebring en daar geslag, i.p.v. by hulle eie deurposte.  Nog later het die Leviete, lammers geteel in Jerusalem en hulle dan tydens die Pasga verkoop aan diegene wat na Jerusalem gekom het vir die fees.

Die Pasga was ’n tyd van groot vreugde, aanbidding en lof aan God.  Die Leviete het die feesgangers gelei in die sing van o.a. die psalms van Dawid (bv. Ps.113 en -118).  Hierdie singery is begelei deur talle musiekinstrumente, soos trompette, harpe, fluite, tamboeryne, simbale, ens.

4.    CHRISTUS SE VERVULLING VAN DIE PASGA:
Die heel wonderlikste aspek egter van die Pasga, was hoe dat Jesus Christus vir ons hierdie fees vervul het.  In Joh.12:1 sien ons dat Jesus na Betanië gegaan het en ons lees in Joh.12:12-13 ~ Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom!  Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en:  “Die Koning van Israel!” Jesus se intog in Jerusalem vind op die tiende dag van Nissan plaas (die Pasgalam is ook op die 10de dag van Nissan uitgesoek om 5 dae later geslag te word).

Terwyl Jesus in Jerusalem was, het die godsdienstige leiers van die Jode, Jesus ondervra ten einde die skare se uitroepe en aansprake dat Jesus die koning van die Jode is, te ondersoek.  Uiteindelik het hulle Jesus aan Pontius Pilatus oorhandig vir uitspraak, waarop Pilatus in Joh.19:4 gesê het ~ Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.  Jesus was onskuldig – Hy was sonder gebrek (nes die Paaslam).  Maar tog word Jesus op die 14de Nissan (na 5 dae se deeglike ondersoek) gekruisig – net soos die Pasgalam word ook Jesus om 09:00 gekruisig en sterf Hy om 3 uur in die middag!

Die bloed van die lam wat gevloei het en aan die deurposte aangebring was, kon slegs die volk se sonde bedek en hulle teen ’n fisiese dood beskerm.  Die Paaslam van God, Jesus Christus daarenteen, neem die sonde heeltemal weg en red die betrokkenes van ’n geestelike dood. 

Ons lees in 1Pet.1:18-21 die volgende ~ Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

Jesus het Homself dus oorgegee om gedood te word t.w.v. van ons sonde.

Ons het gesien dat die Paaslam se bene nie gebreek mag word nie.  Wanneer ons na Jesus se kruisiging en die gebeure rondom ’n misdadiger se kruisiging in daardie dae kyk, sal ons sien dat ’n gekruisigde se bene altyd, net onder die knieë gebreek is deur dit met ’n ysterstaaf af te slaan.  Dit is gedoen om die sterwensproses te verhaas, ten einde seker te maak dat die misdadiger voor 18:00 sou sterf, want die Jode het geglo dat daar ’n vloek oor die land sou kom as ’n gekruisigde na 18:00 nog sou lewe.

Die wonder met Jesus se kruisiging was egter dat nie een van Sy bene gebreek is nie – Joh.19:31-33 ~ Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die Sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie Sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie.

Jesus het Sy doen en late so gereël dat Hy gedurende die Fees van die Pasga in Jerusalem sou wees – dit sou ooreenstem met die uitkies, die voorbereiding en die slag van die Paaslam.  Hy het dit spesifiek so gedoen, sodat die Jode daartoe in staat sou wees om te kon sien en verstaan Wie Jesus werklik was, nl. hulle Paaslam – hulle Messias!  Jesus was dus bestem om gekruisig te word op die presiese dag en uur waarop die Jode hulle Paaslammers vir nagenoeg 1 500 jaar lank al, geslag en voorberei het. 

Jesus se kruisiging op dieselfde dag en uur as die Paaslammers is reeds deur Jesaja in Jes.53 voorspel en tog het die meeste Jode die vervulling van hierdie Messiaanse profesie nie raakgesien nie.

5.    TOEPASSING:                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                            
Net soos met die Hebreërs in Egipte, kom klop die doodsengel ook aan ons deure en as "die bloed van die Paaslam nie aan ons deurkosyne geverf is nie", sal ons sekerlik sterf, soos wat elkeen in Egipte wat nie deur die Paaslam se bloed beskerm was nie, gesterf het.

Omdat ons, soos wat Paulus in Rom.3:23 en 6:23 gesê het, ...almal gesondig (het), en (daarom) nie deel (het) aan die heerlikheid van God nie (3:23), moet ons weet dat die  ...loon wat die sonde gee, die dood (is) (6:23a).  Wat Paulus dus hier sê, is dat ons almal in sonde ontvang en gebore word en daarom is ons in die spreekwoordelike "huise sonder bloed aan die kosyne" – ons almal was dus geestelik dood.  Ons het dus almal die bloed van die Paaslam nodig om die geestelike dood vry te spring.  Paulus sê egter verder in Rom.6:23b dat die Paaslam se bloed ook vir ons beskikbaar was om teen ons deurkosyne te verf, toe hy gesê het ~ ...die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.  God die Vader het vir ons ’n uitweg gegee – 1Joh.1:7 ~ Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.  Jesus Christus, ons Paaslam se bloed het vir ons gevloei en is ons gereinig van al ons sonde.  Ons hoef die dood nie meer te vrees nie, want ons Paaslam het die mag van die dood verbreek, toe Hy uit die dood opgestaan het.

Wat ’n wonderlike en bemoedigende Woord is hierdie nie!  As ons Jesus Christus as ons Paaslam aanneem, ontvang ons vrywaring van God se oordeel en gaan die "doodsengel by ons huis verby", want ...    God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word (Rom.5:8-9).

Ons het in Eks.12:48 ook gesien dat geen persoon aan die Pasga kon deelneem, as hy nie besny was nie. Wanneer ons na Deut.10:16 kyk, sien ons dat God eintlik in iets veel meer as die fisiese besnydenis belangstel en dit is die besnydenis van die hart ~ Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie (O.A.V.).  In Joh.3:1-7 noem Jesus hierdie besnydenis van die hart, die wedergeboorte ~ Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” 3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” 4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” 5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.              

In die geval van die Hebreërs (of die Jode), was die besnydenis dus eintlik net ’n simbool van die ware geestelike besnydenis.  Wanneer ons weergebore is en derhalwe die Gees van God ontvang het, het ons volgens Paulus in Fil. 3:3, die ware besnydenis ontvang.  Dit is dus van kardinale belang dat jy vir jouself die vraag sal afvra, of jy waarlik van hart besny is; of jy weergebore is; of jy vrede met God het? 

Indien jy wel weergebore is en jou hart besny is, is dit ook nodig dat jy hierdie heuglike waarheid sal gedenk deur die Nagmaal gereeld te gebruik, want die Nagmaal is ’n herinneringsmaal – ’n maal waartydens ons herinner word aan die ware Paaslam wat vir ons geslag en geoffer is.

Wanneer ons die Nagmaal gebruik en ons eet die brood, moet ons in gedagte hou, dat die brood ’n teken daarvan is, dat Jesus se liggaam waaragtig aan die kruis geoffer is vir ons.  Met die eet van die brood, word ons daaraan herinner, dat net soos wat ons lewe put uit die eet van die brood, daar ook ewige lewe aan ons verskaf is deur Christus wat Sy liggaam vir ons "geoffer" het. 

Net so is die wyn/druiwesap ook teken van Jesus se bloed wat gestort is aan die kruis en ons daardeur volkome vrygekoop het van die ewige dood in die hel. 

Daar is egter ook ’n derde aspek verbonde aan die Nagmaal:  Net soos wat die Hebreërs as gesin en as volk, saam die Paasmaal geniet het, net so geniet ons as gesin (as kerkfamilie) ook die Nagmaal saam, ten einde ons onderlinge verbondenheid aan mekaar te betoon.  Daarom moet ons as gelowiges wat wederbaar is deur die volmaakte soendood van die volmaakte Paaslam, Jesus Christus, ook die brood eet en die wyn drink uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het aan die kruis.  Wanneer ons dan die Nagmaal saam geniet – moet ons dit saam doen in opgewondenheid en uit dankbaarheid en in herinnering aan Jesus Christus ons Paaslam.


[1] Bybelstudie oor die Evangelie van Johannes (Meyerton Mannegroep)  deur Kobus van der Walt – Dinsdagaand 10 Julie 2012

Sunday, July 8, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 04 (Christus, die Glansryke-, Soewereine Heerser!)


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.



1.    SKRIFLESING:
       Hebr.1:1-14 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam. 5Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees”? 6En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “Al die engele van God moet Hom aanbid.” 7Van die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.” 8Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” 10En verder: “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. 11Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ’n kledingstuk sal alles verslyt; 12soos klere sal U dit oprol; ja, soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” 13Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”? 14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

2.    INLEIDING:
       Ons het verlede week gesien hoe dat die Hebreërskrywer sy argument, dat die engele ondergeskik is aan Jesus, grond op verskeie gedeeltes vanuit die Ou Testament en hy benader dit juis vanuit die Ou Testament, omdat sy lesers terug geneig het na die Judaïsme (en veral die sektegroep – die Esseners) wat op daardie stadium baie waarde geheg het aan die engele.

       Hy gaan nou voort in vv.7-14, om presies dieselfde te doen.

Sunday, July 1, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 03 (Christus het geen Gelyke nie)



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDING:
       Ons het in die eerste 3 verse van die Hebreërboek gesien dat God deur Christus geskep het, maar ook dat Jesus ver verhewe is bo die profete en dat God Sy finale openbaring deur Jesus Christus gebring het – m.a.w. ons sien God deur Jesus en ons sien Hom in en deur die Woord – God het klaar gepraat; Hy het deur Jesus gepraat en Jesus se spreke is vir ons in die Woord van God (die Bybel) vervat – ons het dus niks meer nodig nie – geen buite-bybelse openbaringe en -spreke nie!

       In die tweede, derde en vierde verse het ons Jesus gesien as Erfgenaam (v.2); as die Skepper (v.2); as die Onderhouer (v.3); as die Glansryke (v.3); as die Verlosser (v.3) en as Heerser (v.3). Vanoggend gaan ons na verse 4-7 kyk.


Sunday, June 24, 2012

Christ our Offering Lamb

1.    INTRODUCTION:
Paul says in verses like Rom.3:20 ~ For by works of the law no human being will be justified in his sight, since through the law comes knowledge of sin and Gal.3:24 ~ So then, the law was our guardian until Christ came, in order that we might be justified by faith.  When we look at these verses, it is crystal clear that no one can be saved and inherits eternal life through good works – the only way to be saved, is through Christ Jesus.

Paul also says a very interesting thing here in Rom.3 – he says that the law was given to man in order to reveal sin in part to man, but also to reveal God's gracious gift of cleansing man from sin.  Leviticus 5 does exactly the same:
·           It starts off with the things that have been left undone and are sin and then instructing the guilty in the way of purification.
·           When we look at the sins, mentioned here in Lev.5, it helps us in the second place, to understand the nature of "sins of omission" that much better,
·           But it also helps man in the third place, to appreciate God's high standard for holiness that much better.
·           A fourth thing is that this chapter also displays God's grace in providing for sinners – not simply in allowing them to find purification through sacrificial atonement, but in making it possible for everyone, even the very poor, to have access to Him.
·           Lastly, this chapter also introduces the requirement of confession for sin.  This part of the ritual was of crucial importance, because without confession, the offering was empty and no forgiveness could be obtained.

Sunday, June 17, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 02 (Christus die Middelpunt)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.    INLEIDING:
       Die Hebreërskrywer rig hierdie skrywe van hom aan ’n groep gelowiges wie se geloof besig is om te kwyn. Hulle kry swaar en gaan gebuk onder Nero se vervolging en die vraag het heelwaarskynlik by baie van hulle opgekom: Tot watter mate is God nog betrokke by ons en die wêreld om ons? Is God nog regtig betrokke? Is dit nie maar dieselfde vraag wat baie dikwels in gelowiges in ons dag se gemoed opkom nie – dalk in jou gemoed? Is God nog regtig betrokke by ons? Kyk net hoeveel mense word verkrag en beroof en vermoor! Aborsie is aan die orde van die dag. Honderde mense word vandag in Sirië afgemaai. Daar heers grootskaalse korrupsie in die regering. Kyk maar hoe gaan dit in die kerk in ons dag, ens. Is daar hoop vir ons land; vir die wêreld; vir my?


Sunday, June 10, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 01 (God se Selfopenbaring)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDING:
       Stuart Olyott sê in sy boekie, I Wish Someone Would Explain Hebrews To Me!: Every Christian needs to understand Hebrews. If they do not, they will misunderstand the Old Testament and willl also fail to fully appreciate what our Lord Jesus Christ has done, what he is doing now, and what He is going to do in the future. As a result they will remain spiritually stunted (ingeperk, geestelik "agterlik").

       Ene Dr. Charles Feinberg het gereeld vir sy studente gesê dat hulle Hebreërs nie sal verstaan as hulle nie die boek Levitikus verstaan nie, omdat Hebreërs gebaseer is op die beginsels soos vervat in Levitikus. Hy het egter ook sy studente bemoedig deur vir hulle te sê, dat hulle nie bekommerd moet wees nie, want teen die tyd dat hulle deur Hebreërs gewerk het, sal hulle Levitikus ook verstaan. Dit sal dus goed wees as julle tuis en op julle eie tyd, self deur Levitikus sal lees en werk, omdat Levitikus o.a. talle seremoniële simbole bevat wat aangespreek word in Hebreërs.

       Voor ons op ’n reis deur Hebreërs gaan, is dit noodsaaklik dat ons eers kyk na belangrike agtergrond aspekte en waarteen ons Hebreërs moet lees, preek en verstaan. Dit is ook belangrik dat ons hierdie dinge voortdurend in gedagte sal hou, wanneer ons Hebreërs bestudeer en daarom moet julle nie nou net luister na wat ek gaan sê nie, maar julle moet ook hoor wat ek sê.

       Hebreërs is by verre die beste kommentaar oor die Ou Testament. Dit verklaar vir ons die Ou Testamentiese geskiedenis. Dit verklaar vir ons die vervullings van die Ou Testamentiese profesieë. Dit verklaar vir ons die Ou Testamentiese seremonies en – offers wat almal heenwys na Christus, die groot en volmaakte offer wat vir ons sonde gebring is – wat heenwys na die ware Priester en Tussenganger tussen ons en God.


Thursday, June 7, 2012

Jakobus versus Paulus

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.     SKRIFLESING: 
Jak.2:14-26 ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 18Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

2.    INLEIDING:
Baie gelowiges voel baie ongemaklik met die brief van Jakobus, omdat hulle sê dat dit lynreg teen Paulus se lering staan.  Ekself het baie jare gesukkel om werklik te verstaan waarom Jakobus se lering en Paulus se lering oënskynlik teenstrydig is.  

Jakobus beklemtoon die feit dat geloof dood is sonder werke, daarom dat hy in v.17 sê ~ So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.  In v.20 herhaal hy dieselfde boodskap, deur te sê ~ So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Paulus daarenteen sê in Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.  9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  Paulus beklemtoon dus die feit dat ons op grond van geloof en net geloof alleen, gered word.  Ons regverdiging en die ontvangs van die Heilige Gees het dus niks te doen met ons eie werke of gehoorsaamheid aan die Wet nie.

Die kern van Paulus se prediking in veral Galasiërs en  Romeine, maar ook in sy ander briewe, is die feit dat ons uit genade gered word, deur geloof en hierdie redding kom nie uit onsself nie, want dit is ’n gawe van God.  Paulus het terselfdertyd enige persoon wat geleer het dat jy geregverdig word deur werke, met al sy krag en mag geopponeer.

Wie is dan nou eintlik reg en wie is verkeerd en hoe is dit moontlik dat een verkeerd kan wees en nogtans word hy aangehaal in die Woord en word sy skrywes gesien as outentiek en deel van die kanon van die Bybel?  Het ons hier  dalk te doen met twee strome in die teologie wat in konflik staan teenoor mekaar?

3.    JAKOBUS VS. PAULUS:
Ons moet eerstens verstaan dat nie een van die briewe in die Nuwe Testament aan óf dieselfde mense geskryf is; óf op dieselfde tyd geskryf is; óf onder dieselfde omstandighede; óf met dieselfde motief geskryf is nie.

As ons dit in gedagte hou begin ons ’n klein bietjie beter verstaan dat hier tog dalk nie konflik in opinie bestaan nie.

’n Verdere feit wat ons in gedagte moet hou, is dat Paulus en Jakobus onder woorde "geloof" en "werke: nie dieselfde ding
verstaan nie.

Wat geloof aan betref, stel Paulus primêr belang in geloof wat die grondslag vorm vir die Christelike lewe.  Dit is waarskynlik hierdie selfde "geloof" waarna Jakobus verwys in Jak.2:19 wanneer hy sê ~ Glo jy dat daar net een God is?  Dit is reg.  Jakobus verklaar dus dat dit goed is wanneer jy glo in God.  Daar bestaan dus geen behoefte by hom om geloof "af te maak" as minder belangrik , of selfs onbelangrik is nie.  Trouens in Jak.2:5 sê hy juis dat diegene wat ryk is in die geloof, die Koninkryk van God sal beërwe.

Jakobus ontken dus nêrens die noodsaak aan geloof vir redding nie.  Jakobus laat val sy "soeklig" op die kwaliteit van geloof by "volwasse gelowiges" en die ontwikkeling of groei van "jong gelowiges".

Wanneer Paulus van "werke" praat, praat hy van "werke van die Wet", terwyl Jakobus dit nooit in daardie sin gebruik nie, maar eerder in die sin van barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens.

Die tipe werke waarvan Jakobus dan praat, is presies dieselfde as dié wat Paulus aanprys, wanneer hy praat van "geloof wat tot uiting kom in liefde."

Ene Douglas Moo beskryf dit as volg:  Die verskil tussen Jakobus en Paulus bestaan in die opeenvolging van werke en bekering:  Paulus ontken die invloed van "VOOR-bekerings" werke, terwyl Jakobus pleit vir die absolute noodsaaklikheid van "NA-bekeringswerke."

Vir baie jare in die teologie, moes "arme Jakobus" homself altyd teen Paulus "verdedig".  Een van die redes was dat baie mense Paulus altyd gesien het as meer geestelik volwasse, of verder gevorder op die teologiese leer.  Dit alles was uiters onregverdig teenoor Jakobus, omdat Paulus en Jakobus se teologie, of standpunte teen die agtergrond van hul eie konteks gelees moet word en nie teen ’n agtergrond van sg. "geestelikheid" nie.

Ene Richard Bauckman sê dat, indien Jakobus, Paulus se standpunt oor geloof probeer ondermyn, hy nié baie suksesvol in sy poging is nie.  Die hoofsaak waaroor dit vir Paulus gaan, soos bv. die besnydenis; die saam eet met heidene en ander voedselwette, word nie eens aangespreek deur Jakobus nie.

Indien Jakobus dan besig is om te verskil van Paulus, dan sou hy tog sekerlik hierdie aspekte aangesny het.  Trouens, wanneer ons Jakobus se brief teen die agtergrond van verskeie ander Joodse geskrifte lees wat oor dieselfde sake handel, dan maak Jakobus se brief baie meer sin.  Ons het dus nie nodig om ’n debat te voer oor wie nou eintlik reg en wie verkeerd is nie.  Nee, Jakobus en Paulus se fokuspunte lê net op verskillende sfere in die teologie.

Die oënskynlike verskille wat daar moontlik tussen Jakobus en Paulus mag bestaan, word ongelukkig dikwels uitgelig, in plaas daarvan dat daar eerder gekyk word na die dosyne ooreenstemmings tussen twee Bybelskrywers wat beide onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het.  Wanneer ’n mens so daarna kyk, kom jy agter dat die twee mekaar eintlik pragtig aanvul.

Ons het gesien dat Jakobus sy soeklig laat val op die kwaliteit van geloof onder gelowiges, terwyl Paulus weer na werke van die Wet verwys.  Paulus se "werke-uitdrukking" kom dus vóór wedergeboorte, m.a.w. dat géén mens gered kan word deur werke nie.  Terwyl Jakobus weer die noodsaak van werke ná wedergeboorte beklemtoon en wel in terme van o.a. barmhartigheidsdiens, of te wel liefdesdiens, ens.

4.    DIE AARD VAN OPREGTE GELOOF:
Kom ons kyk nou die aard van ware geloof.  In v.14 van Jak.2 vra Jakobus die vraag ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red?  Eintlik het Jakobus hierdie vraag alreeds in die vorige gedeeltes van sy brief beantwoord, deurdat hy dit aanmekaar beklemtoon dat ware en opregte geloof tot uitdrukking kom in aktiewe, God-verheerlikende werke.

In die lig van wat Jakobus tot nou toe geskryf het, is die logiese antwoord op sy vraag, of iemand gered kan word sonder werke, ’n baie besliste NEE.

Belangrik om daarop te let, is die feit dat Jakobus in sy redenasie nié die klem laat val op geloof wat aanvanklik nodig is vir redding en/of die volgehoue geloof wat nodig is om die "wedloop te voltooi nie".  Nee, aan die een kant laat val hy die klem op die kontras tussen vergeefse-, of vrugtelose geloof en aan die anderkant, effektiewe-, of doeltreffende geloof.

Die werke of dade wat Jakobus in gedagte het, is soos reeds gesê, dade wat verband hou met dade van o.a. welwillendheid en vrygewigheid, liefdesgawes; gasvryheid; bemoediging; ens., maar die feit dat hy na Abraham en Ragab verwys, dui tog ook aan dat hy iets meer in gedagte het as bloot net vrygewigheid, ens.

Jakobus sê dus vir ons dat geloof wat bloot net ’n openbare en mondelingse getuienis is, of ’n verstandelike- en teologiese toe-eiening van ’n "suiwere" leer, onvoldoende is vir opregte en ware geloof.  Indien daar nie getuienis is van ’n geloofslewe wat gepaard gaan met opregte dade nie, is dit ’n futiele geloof wat nié kan uitloop op redding nie.

Om hierdie feit te illustreer, kom Jakobus soos ’n ware en goeie leraar en hy illustreer dit wat hy sê aan die hand van die voorbeeld in vv.15-16 ~ Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?  Jakobus sê dus dat sulke geloof soos wat hierdie hardvogtige mense in vv.15-16 openbaar, niks anders as dood is nie.

Dit laat my dink aan die verhaal van ’n man wie se perd gevrek het en terwyl daar ’n klomp mense rondom hom en die perd staan en simpatiseer met hom, kom daar ’n predikant aan – hy het sy hoed van sy kop gehaal en na die man wat die hardste en meeste gesimpatiseer het, uitgehou en vir hom gesê:  Ek is ’n "R100 jammer", hoeveel is jy jammer?  Daarna het hy sy hoed in die rondte gestuur.  ’n Belydenis vereis optrede, anders is die nie opreg nie.

Wanneer ons geneig is om te praat oor ons geloof in Christus en die waarheid van Sy Woord, maar ons doen nie veel nie, is ons "geestelik in die moeilikheid."   Wanneer ons nie veel oor het vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons geld, of ons tyd met andere te deel nie; wanneer ons nie simpatie met andere het nie; wanneer ons nie tyd maak vir andere nie; wanneer ons nie gasvry is nie, ens., moet ons voorraadopname maak van ons geestelike lewe – moet ons kyk wat in ons siele aan die gang is.  Jakobus sê ~ as (geloof) nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (v.17).

Dit is so ironies as Jakobus in v.18b sê ~ ...wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.  Luister mooi wat hy sê.  As ons twee mense hier langs mekaar sit en die een praat net die heeltyd oor sy geloof, terwyl die ander een doen wat hy glo – wie sal jy glo is die ware gelowige?

Dit is verder interessant om te sien dat Jakobus se broer die Here Jesus self, saam met Jakobus stem wanneer Hy Sy gelykenis van die saaier in Matt.13 vertel.  Die eerste drie tipes grond het geen vrug opgelewer nie, maar hoor wat sê Jesus in Matt.13:23 ~ Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.  Ware en opregte geloof bring vrug voort en hierdie vrug is optrede – dit het aksie tot gevolg!  Aan die einde van die Bergpredikasie waarsku Jesus ons as Hy sê ~ Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? 17Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. 18’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.”  21“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matt.7:16-21).

U sal met my saamstem dat geen voël kan vlieg met net een vlerk nie.  Geloof en werke is soos die vlerke van ’n voël.  Daar kan geen lewe wees as daar net en van die twee teenwoordig is nie.

Jakobus sluit sy betoog af met amper ’n absurde vergelyking – hy sê in v.19 ~ Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs.

Daar is nie ’n enkele demoon in die ganse heelal wat nie glo dat God die enigste ware, lewende en heilige God is nie.  Daar is nie ’n enkele demoon wat nie glo en weet dat God Drie-Enig, God is nie – hulle glo aan God die Vader, God die Seun Jesus Christus en God die Heilige Gees.  Daar is waarskynlik talle demone, indien nie almal nie, wat jou en my persoonlik ken.  Ja daar is waarskynlik selfs demone wat die 1689 Baptiste Belydenis uit hul koppe ken.  Sommige demone is briljante teoloë.  Trouens, sommige demone beskik oor beter teologie as waaroor ons saam mag beskik, MAAR Jakobus sê ~ Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs (Jak.2:19b).

Hoor ’n bietjie wat sê Lukas in Hand.8:13 ~ Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.  ’n Entjie verder lees ons in vv.18-23 ~ Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”  20Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.” 

Simon se geloof het vir hom net so min beteken as wat die demone se geloof vir hulle beteken het, trouens dit beteken dalk selfs nog minder as wat dit vir die demone beteken, want ten minste sidder die demone van angs.

5.    AFSLUITING:
Geliefdes, het julle "twee vlerke"? Waarom "twee vlerke"? Besef jy waaruit jy en ek gered is? Besef jy hoe groot God se genade is om ons te kon red? Beskik jy oor ’n ewigheidsperspektief? Dan sal jy uit dankbaarheid, goed wil doen ten einde lof aan jou Koning te bring en Hom te behaag deur jou optrede en te getuig van Wie jy aanbid.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptiste Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 18 September 2011