Sunday, July 22, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 06 (Maar Jesus!)


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.



1.    INLEIDING:
       Ons gaan vanoggend na vv.5-9 van Hebreërs 2 kyk, maar t.w.v. die konteks en volledigheid, asook om ons voor te berei op die volgende paar boodskappe wat gaan volg uit hoofstuk 2, gaan ons vanoggend die volledige hoofstuk 2 lees.

       Soos wat die geval met hoofstuk 1 was, maak die Hebreërskrywer weer in hierdie gedeelte gebruik van aanhalings vanuit die Ou Testament – so haal hy bv. in 2:6-7 aan uit Ps.8:5-7. Ps.22:23 word in 2:12 vermeld, en in 2:13 gebruik hy die woorde van Jes.8:17-18.

       Elke keer as die skrywer sulke aanhalings gebruik, vertel hy ’n deel van Jesus se verhaal. Hy lei Jesus se verhaal as't ware af vanuit die Ou Testament, want baie van die tekste in die Ou Testament wys juis heen na Jesus Christus en daarom moet ons ook, wanneer ons die Ou Testament lees, dit in die lig van Jesus Christus lees, want Jesus se verhaal plaas Ou Testamentiese verhale in perspektief en maak ook ’n verskil aan mense in die Ou Testament se individuele verhale.  



2.    SKRIFLESING:
       Hebr.2:5-18 ~ Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê: “Wat is ’n mens dat U aan hom dink, ’n mensekind dat U na hom omsien? 7U het hom ’n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon; 8U het alles aan hom onderwerp.” By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ’n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe. 10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.” 13Ook sê Hy: “Ek sal altyd op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.” 14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 16Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. 17Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

3.    DIE TOEKOMSTIGE WÊRELD:
       Nadat die skrywer ’n ernstige beroep op sy lesers gedoen het om nie hul redding te verwaarloos nie, kom hy vlugtig terug na sy bespreking oor die engele soos ons reeds in hoofstuk 1 gesien het en wel as inleiding tot sy lering wat hy binnekort gaan gee oor die mens se ewige bestemming.

       Ons kry met ’n interessante uitdrukking te doen in v.5, nl. ...die toekomstige wêreld. Waarvan praat die skrywer hier? Ons moet steeds die doel met die skrywe van die brief hier in gedagte hou, nl. dat die lesers van hierdie brief terug neig na die "moderne" Judaïsme (modern = tydens die skrywe van die brief) en dan spesifiek na die oortuiging van die Esseners wat beide ’n baie prominente plek aan engele gegee het. Ook moet ons die benadering van die skrywer in gedagte hou, nl. dat hy sy onderwerp vanuit die Ou Testament benader – ons moet onthou dat die Jode en dan natuurlik ook die gelowiges vanuit die Judaïsme, die Ou Testament baie goed geken het. Wanneer hy dan praat van "die toekomstige wêreld", verwys hy nié, soos die aanhangers van die dispensasieleer ("Dispensasionaliste"), na ’n nuwe aarde tydens ’n sg. duisendjarige vrederyk waar mens en dier en natuur nuutgeskep sal wees en alles en almal vir ’n duisend jaar in vrede saam sal woon nie. Nee, hy verwys na die era van die kerk – onthou net weer, hy skryf vanuit die Ou Testamentiese profesieë en benader sy lesers vanuit hierdie profesieë en lei hulle na die era waarin hulle hulself  nou op daardie stadium bevind – in die Nuwe Testamentiese era van die kerk – vanuit die profete se oogpunt lê die "wêreld" dus nog in die toekoms – daarom dat hy praat van die "toekomstige wêreld".

       Vir die lesers van hierdie brief was die "toekomstige wêreld" dus nie meer toekoms nie, want hulle was midde in die era van die kerk, maar die uiteindelike vervulling van die era van die kerk het tog ook nog in die toekoms gelê, wanneer Christus Sy bruid gaan kom haal ("die reeds en die nog nie") – dit is waarom die apostel dan ook in Hebr.13:14 sê ~ Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige (O.A.V.). Anders gestel, dit is asof die skrywer vir sy lesers sê: "Die ou profete het gesê dat daar eendag in die toekoms, ’n nuwe wêreld gaan wees en my liewe lesers, daardie tyd het nou die dag aangebreek toe Jesus hier op aarde was en julle, my vriende is nou deel van daardie wêreld waarvan die profete gepraat het."  

       Die apostel sê dan nou hier in v.5 vir sy lesers dat Christus in beheer is van hierdie nuwe wêreld en nié die engele nie.

4.    DIE MENS VERLOOR HEERSKAPPY:
       In v.7-8a van ons Skriflesing kry ons nog ’n baie interessante, dog moeilike frase. Daar staan ~ ... U het hom ’n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon; 8U het alles aan hom onderwerp. Van wie word hier gepraat? Word hier van die mens gepraat, of word hier van die Seun van die Mens, Christus Jesus gepraat? As ons eerstens kyk na die feit dat die verwysing hier na die een aan wie alles onderwerp is, met ’n klein letter "h" geskryf word, behoort dit alreeds aan ons ’n aanduiding te gee dat hier van die mens gepraat word. Ook as ons na die konteks kyk, kan dit nie anders as dat hier van die mens gepraat word nie, want in die voorafgaande vers, nl. v.6 word daar verwys na die mensekind aan wie God dink, ens.

       Die vraag is egter nou: Hoe is dit moontlik dat die skrywer kan sê dat alles aan die mens onderwerp word? Hier word ons weer soos in die voorafgaande gedeeltes in Hebreërs, terug geneem na die Ou Testament en wel na die skeppingsverhaal in Genesis en daar sien ons dat die mens oor drie besondere eienskappe beskik het:
·           Verstommende posisie ~ ... U het hom ’n kort tydjie minder as die engele gemaak. Die mens is in ’n sekere sin geringer as die engele, maar slegs wat sy liggaamlike krag aan betref. Die mens is egter nie geestelik, of in belangrikheid, geringer as die engele nie – wat ’n wonderlike posisie vir die nietige mens om in te verkeer!
·           Verstommende eer ~ ...U het hom met heerlikheid en eer gekroon. Adam en Eva was die kroon van die oorspronklike skepping – God het hulle in volmaakte omstandighede geplaas en saam met hulle in die aandwindjie gewandel (Gen.3).
·           Verstommende gesag ~ ...U het alles aan hom onderwerp. Hierdie gesag is in Gen.1:28 aan die mens gegee – hulle moes die aarde namens God regeer.

       God se aanvanklike doel met die mens was verstommend, maar ongelukkig en tragies het die mens geval voor die satan se versoeking en het die mens hierdie verstommende posisie, eer en gesag verloor. Die eerste Adam, as kroon van God se skepping, het hierdie waardigheid en ongeskondenheid  ("wholeness") verloor. Ons sien dus dat die mens aanvanklik die kroon van God se skepping was, maar hy verloor hierdie posisie deur die sondeval.

       Vers 8a-b sê ondubbelsinnig dat alle dinge aan die mens onderwerp is, maar die skrywer sê egter in v.8c die volgende ~ ... Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. Die Hebreërskrywer gaan hier voort deur te sê, dat waar die mens oor die aanvanklike heerskappy beskik het, hy dit tydens die sondeval prys gegee het en is dit steeds in hierdie era nog nie aan hom terug gegee nie en dit is nie moeilik om dit te sien nie, want ons kan maar net rondom ons kyk, dan sien ons wat die mens doen met die natuur; met morele standaarde; opvoeding; dissipline; die ekologie; vernietiging van sy medemens; die ontkenning van God se heerskappy en so kan ons aangaan. Selfs in hierdie "toekomstige wêreld" waarin ons leef, beskik ons dus nie oor die gesag en beheer oor hierdie wêreld nie.

       Die mens is nou onderworpe aan die aarde – hy plant, maar hy is nie seker of hy ’n oes gaan kry nie. Hy bou huise, maar dit kan oornag verwoes word deur ’n tornado – die een oomblik is jy gesond en die volgende oomblik het jy terminale kanker, of sterf jy in ’n ongeluk. Daar kom egter ’n dag dat alles weer reggestel gaan word en God se kinders weer alle heerskappy van God sal terug ontvang, daarom dat Jes.2:4 sê ~ Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Daar kom dus ’n dag dat God se kinders nooit weer onderwerp sal wees aan seerkry, swaarkry of die dood nie! Ons sal wees soos die engele ~ Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het (Luk.20:36).

5.    CHRISTUS KOM TOT DIE MENS SE REDDING:
       Die Joodse gelowiges wat hierdie skrywe van die apostel ontvang het, het sekerlik die spot en hoon ervaar van hulle mede-Jode wat nie volgelinge van Christus was nie, want in die oë van die ongelowiges was hierdie handjievol gelowiges ’n bejammerenswaardige groepie mense, want hulle volg ’n mislukte Messias na – ’n koning wat nie die juk van die Romeinse onderdrukking kon afskud nie; ’n Redder wat aan ’n misdadigerskruis gesterf het – ’n verwerplike misdadiger wat die naam Jood nie eens werd was nie. Dit is geen wonder dat hierdie handjievol gelowiges waarskynlik moedeloos geraak het en begin wonder het, of hulle nie tog dalk maar ’n fout begaan het nie en of hulle nie maar moet terugkeer na die Joodse geloof nie.   

       Vers 9 begin egter met een van die wonderlikste woorde in die ganse Bybel – die woordjie "maar". Die mens het sy heerskappy ná die sondeval verloor; die mens gaan steeds in hierdie "toekomstige wêreld" waarin ons leef, gebuk onder swaarkry, siekte en dood, maar dan kom v.9 en dit begin met "maar". Maar wat? Die mens se aanvanklik geopenbaarde bestemming – ’n bestemming van heerskappy; van heerlikheid; van ’n ewige en verheerlikte lewe, is deur die sondeval vernietig, want die mens se bestemming het nou skielik die ewige dood geword – die woorde van Gen.2:17 het skielik ’n vernietigende realiteit geword ~ ...maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.  

       Daar is egter hoop – alles is nie verlore nie, want die Hebreërskrywer sê: Maar..., maar Jesus...! Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ’n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe (v.9). John MacArthur stel dit so pragtig wanneer hy sê: "The cross conquered the curse!"  En Philip Hughes stel dit net so mooi wanneer hy sê: "First the Cross, then the Crown". Die Koninkryk sál uiteindelik herstel word en die mens sál weer sy kroon van heerskappy terug ontvang!

       Hoe gaan dit gebeur, want ons sit met ’n baie ernstige probleem? Rom.5:12 is baie duidelik daaroor ~ Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. As ons almal sondaars is en die vloek van hierdie realiteit, nl. dat ons almal gedoem is om te sterf, hoe kan ons, ons kroon van heerskappy dan terug ontvang? Die vraag is dus: Hoe kan ons sonder sonde raak; hoe kan ons bly lewe? Hoe kan ons hierdie vloek wat op ons rus, van ons afskud? Die enigste oplossing hiervoor, is dat die vloek wat op ons rus, verwyder moet word. Die enigste manier waarop hierdie vloek verwyder kan word, is dat ons of iets of iemand anders vir ons skuld moet betaal en ons is baie deeglik bewus daarvan dat óns dit nie kan doen nie. Ons het ook al gesien dat skape en bokke en duiwe wat geoffer was deur die Hoë Priester onder die Ou Verbond, nie volkome genoeg was nie, want daardie offers moes jaar na jaar gemaak word. Nie ons of iets anders kon dit dus doen nie – ons het Iemand nodig om hierdie ewige vloek van ons af te skud

       Paulus verduidelik vir ons in Rom.6:5-11 hoe hierdie vloek van ons verwyder kan word ~ Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Waar lê die antwoord? V.5 ~ Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood. Ons moet dus ons vertroue in Jesus Christus plaas en die oomblik as dit gebeur, word ons saam met Christus gekruisig (v.6). En wat is die gevolg hiervan? V.6b ~ ... sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.

       Omdat ons nou een is met Christus en ons dood is vir die sonde, sê Paulus verder in v.8, (sal) ons ook saam met Hom lewe.

       In Christus is ons heersers. Ons het weliswaar nog nie ons heerserskrone ontvang nie, maar ons sal verseker dit in die toekoms ontvang. Die Hebreërskrywer verduidelik dan ook vir ons in v.9 hoe dit moontlik gemaak is, nl. dat Jesus vir ~ ... ’n kort tydjie minder gemaak (is) as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe. Ons het hierdie selfde uitdrukking in v.7 gesien, waar daar van die mens gepraat word, nl. dat hy vir ’n klein rukkie laer as die engele gemaak is, máár die uiteinde van die mens is om eendag as verloste, verhoog te word in Christus, ja selfs hoër as die engele. Die engele is hemelwesens en terwyl ons hier op aarde is, is ons laer as hulle en toe Jesus na die aarde gekom het, was Hy ook vir ’n rukkie laer as die engele, omdat Hy hier op aarde ook mens was – ja weliswaar volmaakte mens sonder sonde, maar mens! Dit was egter nodig vir Jesus om "vir ’n rukkie laer as die engele te moes wees", sodat Hy vir ons kon kom sterf en ons uiteindelik in Hom verhef kan word om weer as heersers saam met Hom te kan heers.

6.    TEN SLOTTE:
       Net ’n laaste opmerking. Wanneer die Hebreërskrywer vir ons sê dat Jesus vir almal gesterf het, bedoel hy tog sekerlik nie dat Christus vir elke individuele siel op aarde gesterf het en dat daar versoening gedoen is vir elke mens nie, want dit sal tog sekerlik die boodskap van die Bybel weerspreek? Ons moet in gedagte hou dat die skrywer sy brief rig aan Joodse Christene en hy wil deur hierdie opmerking beklemtoon dat Christus nie net vir die Jode gesterf het nie, maar ook vir die heidene.

       Geliefdes, hierdie spanning tussen die reeds en die nog nie, wat so duidelik uiteengesit word in hierdie gedeelte van Hebreërs, moet bemoedigend wees vir ons, want daar is soveel om voor dankbaar te wees – Christus het immers vir ons gesterf en ons sodoende vrygekoop van die ewige toorn van God en ons het die vooruitsig om gekroon te word as heersers oor die skepping saam met Christus, maar aan die anderkant is ons reeds meer as oorwinnaars in Hom en het ons ’n wonderlike boodskap wat ons kan uitdra aan ’n verloregaande wêreld, nl. dat daar hoop is; dat daar verlossing en vergiffenis is vir diegene wat in Jesus Christus glo!


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 22 Julie 2012