Sunday, July 29, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 07 (Christus ons Oudste Broer)


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDING:
       Kom ons vat net weer kortliks saam wat ons verlede week in vv.5-9 van Hebr.2 gesê het:
·           Ons het gesien dat God die mens met heerlikheid en eer en gesag beklee het, maar dat die mens dit tydens die sondeval verloor het.
·           Ons het na die uitdrukking, die "toekomstige wêreld" gekyk en gesien dat dit na die era van die Kerk verwys, m.a.w. die tyd van Christus se menswording, tot en met Sy wederkoms en dat ons tans midde in die "toekomstige wêreld" leef.
·           Ons het egter ook gesien dat Christus uiteindelik tot die mens se redding gekom het en dat die vloek wat op ons gerus het, verwyder is, deurdat Jesus as Verlosser aan die kruis gesterf het.
·           Die implikasie van Jesus se soendood, is dat ons as gelowiges weer ons heerserskrone sal ontvang en saam met Christus oor die ganse heelal sal regeer en heers. 


2.    SKRIFLESING:
       Hebr.2:10-18 ~ God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.” 13Ook sê Hy: “Ek sal altyd op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.” 14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 16Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. 17Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

3.    DIE TOEKOMSTIGE WÊRELD:
       Die boodskap wat die Hebreëskrywer deur die volgende klompie verse vir sy lesers wil gee, is geweldig vertroostend en opbouend – ook vir ons. Ons onthou nog dat sy lesers ’n handjievol gelowiges was wat swaar gekry het en wat waarskynlik a.g.v. die vervolging deur die Romeinse owerhede en die spot en hoon wat hulle van die ongelowige Jode moes verduur, moedeloos geraak het en wou teruggryp na die Judaïsme. Die apostel kom egter nou en hy wil hulle bemoedig deur vir hulle te sê dat Christus wat ver meer as die engele is, trouens wat God self is, vir hulle gely het, sodat Hy volmaakte empatie met hulle kan hê en hy doen dit deur op sistematies wyse vir hulle te verduidelik wat Christus se lyde eintlik vir hulle inhou – ek wil dit ook graag vanoggend aan die hand van 'n klompie opskrifte en subopskrifte met julle deel:
·         Christus se lyding (v.10)
·         Jesus se broers (v.11)
o   Dieselfde Vader (v.11)
o   Selfopenbaring (v.12)
o   Vertroue (v.13)
o   Niks te vrees (v.14)
o   Bevryding (v.15)
o   Hoë Priester (v.16-17)
-     Versoening (vv.17b-18)
-     Barmhartig (v.17)
-     Getrou (v.17).

4.    CHRISTUS SE LYDING (v.10):
            Die O.A.V. (soos die meeste Engelse vertalings) begin met die woorde ~ Want dit het Hom betaam... (N.K.J.V. ~ For it was fitting for Him...). Hierdie paar woordjies is ongelukkig weggelaat uit die N.A.V. en ek sê dit is ongelukkig, omdat dit soveel vir ons sê van God se genade en liefde vir ons as sondaars – Hy wat alle dinge geskape het en deur Wie alles is – Hy kom en Hy besluit dat ons (Sy uitverkore kinders) Sy heerlike verlossing uit genade moes ervaar, maar daarvoor moes Christus aan die kruis op Golgota kom ly. Dit was egter ook vanpas vir Hom om dit te doen, omdat dit in ooreenstemming met Sy karakter was.
·                    Eerstens het Hy Sy onbeskryflike wysheid gedemonstreer, want die mens was in die moeilikheid – hy het Sy ewige heerskappy verloor a.g.v. die sondeval, maar God kom in Sy alwysheid en Hy het ’n fenomenale plan in plek daarvoor – Hy gee aan die mens ’n Verlosser (Jesus) wat sou kom ly vir ons sonde, sodat ons die ewige saligheid kan beërwe en weer die Heerserskroon saam met Jesus Christus kan dra.
·                    Dit het God egter ook in die tweede plek betaam om verlossing deur lyding te skenk aan ons, omdat Hy daardeur Sy heiligheid gedemonstreer het. Omdat God heilig is, haat Hy die sonde, maar soos ons pas gesien het, gee Hy Sy Seun om aan die kruis op Golgota te ly en word Jesus sodoende die Een wat in ons plek, God se toorn op die sonde verduur.
·                    Derdens het God Sy almag deur Christus se lyde ten toon gestel, want vir ’n kort rukkie het Hy aan die kruis kom ervaar wat mense wat weier om hulle te bekeer en Christus as Saligmaker na te volg, vir die res van die ewigheid sal ervaar – maar dit was net vir ’n kort tydjie, want God het Hom weer opgewek uit die dood.
·                    Nog een van God se karaktereienskappe wat Hy deur Jesus se lyde geopenbaar het, was Sy oneindige liefde ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh.3:16) – Hy (Jesus) sterf in ons plek!
·                    Jesus moes egter ook kom ly, om daardeur God se oneindige genade aan ons te betoon, want deur Sy genade het Hy aan elkeen wat in Hom glo, volkome vergifnis aangebied – daarom dat Paulus sê ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Rom.8:1).

5.    JESUS SE BROERS (vv.11-18):
Ons vind in v.11a van ons Skriflesing nog ’n rede waarom Jesus moes kom ly, nl. dat Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, almal uit een Vader (is) (v.11a). Dit beteken m.a.w. dat elkeen van ons wat in Christus Jesus gered is en wat deur Hom geheilig is – vir wie daar geen veroordeling meer is nie, het een geword met die Vader. Wat is die gevolg hiervan? V.11b ~ Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. Ons is m.a.w. Jesus se broers! Hierdie feit is ’n ontsagwekkende gedagte, veral as ons in gedagte hou wat die Hebreërskrywer in Hebr.1:3 van Jesus gesê het ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Hy uit Wie die heerlikheid van God straal; Hy wat die ewebeeld van God is; Hy wat alles met Sy magswoord in stand kan hou; Hy wat aan die regterhand van God sit – Hy noem ons Sy broers! En wanneer Hy ons Sy broers noem, sê Hy dit in alle opregtheid; met oorgawe en in volmaakte liefde.

As Hy dan sê dat ons Sy broers is, het dit tog sekerlik bepaalde implikasies vir ons:
o    Paulus sê in Rom.8:17 vir ons ~ En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. As ons dus erfgename saam met Christus is, beteken dit dat ons dieselfde Vader het.
      
       John MacArthur stel dit baie mooi wanneer hy sê: "The Sanctifier and the sanctified now have one Father, and the Sanctifier is not ashamed to call the sanctified His brothers". Ons oudste Broer en ons het een en dieselfde Vader en Christus se heiligheid is nou ons heiligheid! Ja, ons praktiese lewe is nog deurspek met sonde, maar posisioneel, of te wel, wat ons status voor God aan betref,  is ons heilig in God se oë ~ Kol.2:10a ~ ...en julle het die volheid in Hom (NASB ~ …and in Him you have been made complete). Omdat ons reeds volkome (volmaak) is in Hom, moet die oorheersende doel in en met ons lewe wees, om te word wat ons nou reeds posisioneel in Christus is, daarom dat Paulus se pleitgebed in Ef.3:19 soos volg lui ~ Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Nou dat ons Christus se broers en God se kinders is, moet ons dienooreenkomstig begin lewe.

o    Soos ons nou alreeds ’n paar keer gesien het, nl. dat die Hebreërskrywer se lesers die Ou Testament baie goed ken, haal hy ook in v.12 uit die Ou Testament aan – hy haal Ps.22:22 vir hulle aan en wys hulle hoe dat Christus Homself aan hulle/ons openbaar. Ps.22 is ’n Psalm waar Christus self aan die woord is en die hele Psalm is ’n profetiese getuienis van Sy komende kruisiging. So vind ons bv. in Ps.22:2a, waarskynlik die mees bekende kruiswoorde van Jesus, nl. My God, my God, waarom het U my verlaat (Matt.27:46; Mark.5:34). In vv.6-8 van Ps.22 praat Jesus oor Sy vernedering op Golgota (Matt.27:39-44) en vv.14-15 beskryf Hy Sy laaste oomblikke aan die kruis. In vv.16-18 is Hy baie spesifiek oor die detail van Sy kruisiging (Joh.19:23-36).  

       Jesus sê baie duidelik dat Hy Sy vader se Naam aan Sy broers (ons) in die gemeente bekend sal maak – ons sal God die Vader leer ken en beter leer ken deur die gemeente – is dit nie genoeg rede om Hebr.10:25 ter harte te neem nie ~ ...en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom?

o    In v.13 van Hebr.2 wil die skrywer vir ons en sy lesers wys op die vertroue wat spruit uit die feit dat Jesus Homself as ons ouer Broer beskou. Die woorde van v.13 is ontleen aan Jes.8:18. In Jes.8:18 en verder verwys Jesaja na sy eie twee seuns wanneer hy sê ~ Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het. Jesaja gaan voort en hy sê ~ ...Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op Sionsberg woon. Beide hierdie seuns het profetiese name gehad – die een was Maher-Shalal-Hash-Baz genoem en die betekenis van sy naam het gedui op die spoedige verwydering van die onderdrukking wat Juda ervaar het onder Sirië en Israel. Die ander seun was Shear-Jashub wat weer ’n verwysing is van die profetiese woord in Jes.7:3 en wat dui op die feit dat ’n oorblyfsel van Juda sal terugkeer. As ons verder in gedagte hou dat Jesaja se naam, "Jahweh is my redding" beteken, het ons hier ’n toonbeeld van vertroue in Jahweh – die Almagtige God en Vader wat Jesaja se volk se onderdrukking gaan beëindig – Jesaja en sy seuns het ’n toekoms in die Here God.

       Dit is hierdie selfde vertroue wat Jesaja in Sy hemelse Vader gehad het wat die Hebreërskrywer wil sê, ons ook kan hê, want die Vader van Jesus, is ook ons Vader en daarom het ons ook ’n toekoms.

o    V.14 van ons Skriflesing begin met die woorde ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is.... Hierdie kinders waarvan die Hebreërskrywer praat verwys natuurlik nog steeds na Jesaja se twee seuns en hy wil vir ons sê, dat hierdie seuns, tesame met hul pa, mense van vlees en bloed was en daarmee saam sê hy dat Jesus net so mens geword het – dit sien ons in die volgende gedeelte van v.14. Waarom moes Jesus mens word? V.14b verskaf aan ons die antwoord ~ ... Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig – die satan is  vernietig! Ons het niks meer te vrees nie!

       Die satan se kragtigste wapen in sy arsenaal teen die mens, is die dood (fisiese dood; geestelike dood en die ewige dood) en hy het geweet dat God se straf op ons sonde, die dood was – hy het dus geweet dat indien ons in ons sondige toestand sou bly, ons sou sterf en nooit in God se teenwoordigheid kon kom nie. God moes dus die satan se belangrikste wapen (die dood), skadeloos stel en juis om daardie rede het Jesus mens geword en in ons plek gesterf! Eers na Jesus se dood kon Hy sê ~ Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe (Joh.14:19).Om hierdie rede het Paulus dit uitgejubel ~ Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? (1 Kor.15:55).

       Jesus het mens geword, sodat hy die onafwendbare (unavoidable) dood vir Sy kinders aan die kruis kon oorwin, maar ook om die mag van die satan finaal te vernietig. Jesus wat Homself ons Broer noem, het aan die kruis gesterf, sodat ons ’n geweldige stuk sekuriteit mag beleef – ons hoef die houvas van die satan oor ons nie meer te vrees nie en ons hoef nie meer God se ewige straf op ons sonde te vrees nie. Ons beskik nou oor hierdie wonderlike stuk sekuriteit, nl. dat ons opgewek gaan word uit die dood en dat ’n ewige lewe op ons wag!

o    Die Hebreërskrywer gaan in v.15 voort met die tema oor die dood en hy sê ~ ... om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Die vrees vir die dood is ’n werklikheid en daarom is daar min mense wat die dood nie vrees nie. Waaroor gaan hierdie vrees en wie is die mense wat die dood vrees? Natuurlik is daar min gelowiges wat nie die dood vrees nie en dit is nié omdat hulle onseker is van hul ewige bestemming nie, maar dit gaan bloot net oor die onsekerheid van die proses van die dood self en in baie gelowiges se lewe is dit ’n geval dat hulle nie graag afskeid wil neem van hul geliefdes nie – dit gaan egter in hierdie vers oor mense wat ongered is en daarom die dood vrees, omdat hulle die onbekende vrees, of omdat hulle die wete  van ’n geen-bestaan na die dood, soos wat hulle dit sien,  nie wil aanvaar nie, maar ten diepste, glo ek, is dit omdat baie van hulle weet dat hulle ongered is en daarom die ewige verdoemenis tegemoet gaan. Om in hierdie vrees te leef – ’n vrees vir die dood, is niks anders as om soos ’n slaaf in kettings geslaan te wees nie.

       Vir Jesus se "broers" is daar egter geen kettings meer nie; geen slawerny nie, want ons is bevry en daarom kan gelowiges uitroep ~ ...want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins (Fil.1:21). Die dood hou geen bedreiging vir gelowiges meer in nie en daarom hoef gelowiges die dood nie meer te vrees nie, want 2 Kor.5:21 stel dit vir ons baie mooi ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. As ons dan vrygespreek is, het  ons niks te vrees nie en kan ons die dood en daarom ons ontmoeting met God met vrymoedigheid en sonder vrees tegemoet gaan – die graf word dus vir elkeen wat in Christus Jesus is, net ’n deurgang na ’n wonderlike plek waar ons in die ewige teenwoordigheid van God sal wees.

o    As ons alles in ag neem wat ons tot nou vir mekaar gesê het, is dit baie duidelik dat dit wat die skrywer in Hebr.2:16 sê, absoluut in die kol is, nl. ~ Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Dit gaan dus vir Christus oor die nageslag van Abraham – dit is m.a.w. elke gelowige wat in Christus Jesus ingeplant is.

       Die Hebreërskrywer sê egter nou in v.17 ~ Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word. Waarom moes Hy aan ons gelyk word? Waarom moes Hy vir ~ ...’n kort tydjie minder gemaak (word) as die engele (Hebr.2:9)? Ja, dit was sodat Hy vir ons almal kon sterf, maar dit was ook soos v.17b verder sê ~ ... sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees....

       Wat of wie is ’n Hoë Priester? In die Ou-Testamentiese bedeling het die priesters ʼn belangrike plek as tussenganger tussen God en die gelowiges ingeneem. Die taak van die Hoë priester word vir ons in detail deurgegee in die opdrag wat die Here vir sy volk van die berg Sinaï af gegee het.  Ons onthou dat die Here daar sy verbond met sy volk gesluit het. 'n Belangrike deel van daardie genadeverbond was God se begeerte om by sy mense te woon. Dit is die rede waarom Hy opdrag gegee het dat hulle ’n tabernakel moes bou. Die tabernakel moes op so 'n manier saamgestel wees dat God se teenwoordigheid by sy volk steeds op 'n afstand en ontoeganklik was. God se teenwoordigheid was in die allerheiligste in die diepste punt van die tabernakel en met 'n swaar voorhangsel afgesonder. Die volk was nie eers toegelaat om nader as die ingang van die heiligdom te kom nie. Hierdie uitleg van die tabernakel moes die mense herinner aan wat gebeur het toe die mens in sonde geval het. In die tabernakel, het dit God behaag om die reukofferaltaar in die heiligdom voor by die voorhangsel tussen die heiligdom en die allerheiligste te laat plaas. Offers moes deur die Hoë Priester op die altaar gebring word wat uitspel hoedat dit vir sondige mense moontlik is om met die heilige God versoen te raak. So moes die priester dus die bediening van die versoening behartig. Hy staan tussen die sondaar en God, hy nader tot God in die belang van die sondaar en tree in en doen voorbidding vir die sondaar. Hy pleit by God om op grond van die bloed van die offer wat gevloei het, weer die sondaar in guns aan te neem.

       Jesus het as Hoë Priester presies dit kom doen en wat is die implikasies van Sy Hoë Priesterskap vir ons?
-        Hy het eerstens, ’n volmaakte en ewige versoening tussen God en ons as sondaars kom bewerkstellig, daarom dat v.17b-18 sê ~ sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
-        Tweedens sê die apostel vir ons dat Hy ’n barmhartige Hoëpriester is. Die woord "barmhartig" is in die Grieks, ἐλεήμων (eleēmōn) en beteken "genadig" of "ontfermend", m.a.w., iemand is barmhartig wanneer hy die hulpgeroep van iemand in nood hoor en daardie persoon, onvoorwaardelik en met ’n simpatieke oor te hulp snel – barmhartigheid beskryf derhalwe iemand se optrede, gesindheid en emosies t.o.v. iemand anders wat in nood verkeer. Hierdie is dan ook ’n woord wat hoofsaaklik vir God gebruik word – dit is dus een van Sy karaktereienskappe.

       Christus, ons Oudste Broer word dan hier in v.17 beskryf as ’n Hoë Priester wat ten alle tye ons hulpkrete hoor en ons simpatiek te hulp snel.

-        Ons sien egter ook dat Christus, ’n getroue Hoë Priester is. Die Ou Puritein, John Brown sê in sy kommentaar oor Hebreërs, dat Jesus ’n getroue Hoë Priester is, wat op ’n betroubare; noukeurige; presiese; standvastige en versigtige wyse, aandag skenk aan Sy kinders te midde van hulle versoekings en swaarkry.

       Geliefdes, dit is net Jesus Christus wat so ’n volmaakte, liefdevolle Hoë Priester kan wees en Hy is jou volmaakte, barmhartige en getroue Hoë Priester, omdat Hy jou oudste Broer is! Neem jou sorge; jou hartseer; jou frustrasies; jou depressie; jou vrae; jou probleme; jou versoekings, na jou Oudste Broer, want soos Paulus in 2 Tes.3:3 sê ~ Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die bose bewaar en in 2 Tim.2:13 sê Paulus verder ~ ...as ons ontrou is—Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie. Laastens sê die Hebreërskrywer in Hebr.10:23 ~ Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 29 Julie 2012