Sunday, June 17, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 02 (Christus die Middelpunt)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.    INLEIDING:
       Die Hebreërskrywer rig hierdie skrywe van hom aan ’n groep gelowiges wie se geloof besig is om te kwyn. Hulle kry swaar en gaan gebuk onder Nero se vervolging en die vraag het heelwaarskynlik by baie van hulle opgekom: Tot watter mate is God nog betrokke by ons en die wêreld om ons? Is God nog regtig betrokke? Is dit nie maar dieselfde vraag wat baie dikwels in gelowiges in ons dag se gemoed opkom nie – dalk in jou gemoed? Is God nog regtig betrokke by ons? Kyk net hoeveel mense word verkrag en beroof en vermoor! Aborsie is aan die orde van die dag. Honderde mense word vandag in Sirië afgemaai. Daar heers grootskaalse korrupsie in die regering. Kyk maar hoe gaan dit in die kerk in ons dag, ens. Is daar hoop vir ons land; vir die wêreld; vir my?


2.    SKRIFLESING:
       Hebr.1:1-4 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

3.    CHRISTUS DIE MIDDELPUNT:
       As ons wonder of God nog regtig betrokke is by ons en die wêreld rondom ons, dan wil die Hebreërskrywer vir ons die versekering gee, dat Hy wél ten nouste betrokke is by ons. Hy verskaf hierdie sekuriteit aan ons, deur vir ons daarop te wys dat Jesus Christus, nie alleen die Skepper van die ganse heelal is nie, maar ook die Instandhouer, of Onderhouer van alles is. Meer nog, ons teksvers sê ook dat Hy jou Verlosser is! Jesus, die Opgestane Christus is derhalwe die fokuspunt – die middelpunt, in ons teksvers – soos wat Hy ook die fokuspunt van die ganse Woord van God is!

       Ons het verlede week gesien dat Christus, God se finale openbaring is en dat Hy op geen ander manier meer met die mens kommunikeer, as deur Sy Seun Jesus Christus nie en ons het ook gesien dat alles wat ons nodig het om te weet, in die Woord van God vervat is.

       Die Hebreërskrywer wil egter aan sy lesers dan ook verduidelik wie hierdie Christus is deur wie God met ons praat en daarom beskryf hy eers vir ons wie Christus werklik is. Hy doen dit dan ook op hierdie wyse om aan ons te toon dat God se openbaring (spreke) deur Sy Seun, waarlik verhewe is bo enige iets of iemand of ervaring wat ons ooit in die verlede mag gehad het – daar is niemand soos Hy nie en omdat daar niks of niemand soos Hy is nie, moet ons luister en kan ons rus in die wete dat Hy betrokke is in my lewe en die wêreld rondom ons.  

       Ons sien dan in ons teksvers, ses waarhede t.o.v. Christus en ek wil hê dat ons daarna sal kyk vanoggend:
·           Christus die Erfgenaam (v.2).
·           Christus die Skepper (v.2).
·           Christus die Onderhouer (v.3).
·           Christus die Glansryke (v.3).
·           Christus die Verlosser (v.3).
·           Christus die Heerser (v.3-4).

4.    CHRISTUS DIE ERFGENAAM:
       Ons lees in v.2b, dat Christus die Seun van God is en omdat Hy die Seun van God is, is Hy ook die enigste Erfgenaam van alle dinge. Ons sien in selfs die Psalms dat Christus die enigste erfgenaam van God is – Ps.2:8-9 ~ Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg. 7Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader. Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting. 9Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot.   

       Ons sal ook nou hierna sien, dat God deur Jesus geskep het, maar wat van belang is, is dat God dit alles geskep het, vir Christus Sy Seun (Kol.1:16). En Rom.11:36 leer ~ Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. Die Woord van God is dus baie duidelik daaroor, dat alles in die ganse fisiese heelal aan Christus behoort. Daar is egter iets wat nog meer verstommend is en dit is dat baie mense deel uitmaak van Christus se erfporsie – diegene wat mede-erfgename geword het op grond van Sy soendood aan die kruis. Ons wat in Christus glo en in Hom uitverkies is, is derhalwe deel van Sy erfenis (Ef.1:18) – ons sien dat Paulus hierdie feit bekragtig deur in Rom.8:17 die volgende te sê ~ En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus.... Ons is saam met Christus, erfgename – mede-erfgename en in 1Kor.3:21-23 sê Paulus dat ...alles (aan ons) behoort en dat ons aan Christus behoort en omdat Christus aan God behoort en ons as mede-erfgename aan Christus behoort, behoort ons ook aan God! Wat is die implikasie van Christus se erfporsie? Wat erf Hy? Hy erf, en dit sal ons netnou ook sien, die heerskappy van die ganse heelal en al die seën wat gepaard gaan met die Koninkryk van God, maar ons erf ook die verheerliking wat Christus geërf het en dit beteken dat elkeen wat in Christus is, met Christus se wederkoms, verheerlikte liggame gaan ontvang ~ Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Fil.3:21). Ons kan die dood met vrymoedigheid en vreesloos tegemoet gaan, want die oomblik dat ons sterf, gaan ons in die teenwoordigheid van God wees en gaan ons God se oordele vryspring. Ons lees hiervan in Rom.8:33-34 ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

       Die erfenis wat ons in Christus deelagtig gaan word, sluit o.a. ook in dat ons eendag oor volle kennis sal beskik – 1Kor.13:12 ~ Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.  

       As ons kyk na Openb.21:1-5, sien ons dat ons net soos die res van die skepping, nuut gemaak gaan word!

       In hierdie seën gaan elkeen van God se kinders eendag deel hê – saam met Christus! Wat ’n vooruitsig!

5.    CHRISTUS DIE SKEPPER:
       As inleiding het die Hebreërskrywer vir ons, Christus as Erfgenaam geskets. Nou kom hy in die tweede plek en sê hy vir ons dat Christus ook Skepper is. Christus was nie bloot maar net ’n passiewe instrument tydens die skepping nie – Hy was medewerkende instrument – medewerkend, omdat Hy niks sonder God kan doen nie, of anders gestel, Hy doen niks wat Hy nie die Vader sien doen nie (Joh.5:19).

       Kol.1:16 gee vir ons meer leiding hier ~ God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Hier sien ons dat alles deur Christus geskape is en daarom is Christus ook die begin van alles. Die woord wat gewoonlik in die Grieks gebruik word vir die hemel en die aarde, is kosmos, maar die woord wat hier gebruik word is αἰώνιος (aiōnios) en dit dui op tydperke of jare, sonder begin en sonder einde. Jesus Christus is dus nie alleen verantwoordelik vir die skepping van die materiële aarde en hemel nie, maar ook van tyd en energie – Hy het dus alles in die ganse heelal geskep, maar ook alles om dit in stand te hou en te laat "tiek" en Hy het dit goed gedoen – Hy het dit volmaak gedoen!  Net om vir jou ’n idee te gee van die grootsheid van die heelal – die verste objek wat al waargeneem is in die heelal, het die naam van GRB 090423 en is 142000000000000000000000 kilometer van die aarde af (ek weet nie eens hoe om dit uit te spreek nie), maar wat meer is – Christus het dit geskep! Ons hoef nie te wonder oor waar dit vandaan kom nie – God se Woord sê vir ons – Christus is die Skepper daarvan!

6.    CHRISTUS DIE ONDERHOUER:
       Wat nog wonderliker is, is dat v.3 van ons Skriflesing vir ons sê dat Christus dit alles deur Sy magswoord in stand hou!  Hy is dus die Onderhouer van hierdie heelal. Kol.1:17 stel dit vir ons pragtig ~ Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Dit is baie duidelik dat Hy kan doen wat ons nie een kan dink om te doen nie – materieel sowel as geestelik – Ps. 51:10 bevestig dit wanneer dit sê ~ Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Benewens die feit dat Hy die kleinste stofdeeltjie en die verste hemelliggaam kan skep, kan Hy ook in jou en my, rein harte skep; Hy kan ons gees vernuwe en ons standvastig maak en soos Joh.10:28 sê ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Daar is dus niks in jou ganse wese of siel wat Hy nie kan herskep nie. Waarom is dit so dat baie mense altyd sê: Ag ek kan tog nie verander nie! Ja, dit is waar dat jy uit jouself dit nie kan doen nie, maar Christus kan – as Hy die ganse heelal kon skep, waarom kan Hy jou, "klein stoffie", nie ook herskep nie? Jy is geen uitsondering as dit kom by Sy skeppingsmag nie. Ons hoef ook nooit daaraan te twyfel of ons die eindstreep gaan haal of nie – Hy is ook die onderhouer van ons siele soos wat ons nou net in Joh.10:28 gesien het.

7.    CHRISTUS DIE GLANSRYKE:
       Ons lees ook in v.3a van ons Skrifgedeelte ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Christus is dus die Glansryke wat God se heerlikheid weerspieël.

       Joh.14:7 sê dat indien ons Jesus ken, ons ook die Vader sal ken en Hom kan sien, want soos v.3 sê, Jesus is die ewebeeld van die wese van God. Hier is egter ’n voorwaarde aan verbonde en dit is dat ons Jesus die Christus sal moet ken, want daarsonder kan ons die Vader nie ken of sien nie. As jy nie Christus ken en derhalwe nie God die Vader kan ken en sien nie, is daar steeds hoop vir jou, want Paulus sê vir ons in 2 Kor.4:6 ~ God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Christus wat kan skep en kan instandhou, kan ook in jou hart die lig laat skyn sodat jy die heerlikheid van God kan beleef – en wat is hierdie heerlikheid wat ons kan beleef en wat behels dit?
       Die Griekse woord wat hier vir "heerlikheid" gebruik word, is ἀπαύγασμα [apaugasma] en beteken letterlik "om helderheid uit te straal". In hierdie geval is dit dus Christus wat God se majesteit volkome uitstraal. Ons moet daarop let dat Christus, God se heerlikheid uitstraal  en nie net reflekteer of weerkaats nie. Daar is ’n groot verskil tussen die twee. Die maan weerkaats lig vanaf die son na die aarde – die maan is dus nie die bron van lig self nie. Die son daarenteen straal lig uit – dit is dus die bron van lig. Dit is presies wie Christus ook is – Hy is ook die Bron van God se heerlikheid en dit dui op Sy Goddelikheid – Hy is dus die Tweede Persoon van die Drie-enige God. 
       Wat straal Christus uit? Hy straal o.a. God se grootsheid uit; Sy almag; Sy heiligheid; ens. – al God se karaktereienskappe (attribute) word dus deur Christus uitgestraal – en nie net uitgestraal nie, maar ons kan dit ook ervaar en ken, omdat Jesus self gesê het, dat indien ons Hom ken en Hom sien, ons ook die Vader ken en sien (Joh.14:7; 2 Kor.4:6). Jesus Christus is dus die volmaakte voorbeeld van uitnemendheid soos vervat in God se karaktereienskappe en waarna die mens kan en moet streef. Trouens in 2 Kor.3:18a sê Paulus ~ Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here.... Daar rus dus ’n geweldige verantwoordelikheid op ons skouers om hierdie feit op ’n waardige wyse gestand te doen – leef ons asof ons die heerlikheid van God weerspieël?

       Jesus Christus kan hierdie heerlikheid van God aan ons oordra, sodat ons dit weer verder kan weerkaats na andere. Ons leef in ’n donker wêreld en ons beleef duistere tye (ook in die Kerk in die algemeen) – daar heers oorloë en misdaad, korrupsie en verkragtings, ens. rondom ons en mense het nood aan God se heerlikheid – mense het nood aan Christus, want sonder die Seun van God, is daar net duisternis.

       Die groot tragedie in ons dag, is dat die wêreld nie verligte oë wíl hê nie, want Paulus sê vir ons in 2 Kor.4:4 ~ Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. As hulle egter God se lig ontvang, sal hulle saam met Paulus kan sê ~ God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal (2 Kor.4:6). En wanneer hulle hierdie Lig ontvang, sal die lig vir hulle sin in die lewe gee; dit sal vir hulle geluk en vrede bring, ja alles wat nodig is vir die ewigheid!

8.    CHRISTUS DIE VERLOSSER:
       Die Hebreërskrywer wil sy lesers verder bemoedig enaanmoedig deur die volgende grondwaarheid weer met hulle te deel, nl. v.3c ~ ...Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het.... Hierdie Jesus Wie Erfgenaam van alles is; hierdie Jesus deur Wie God alles geskep het; hierdie Jesus wie Onderhouer van alles is; hierdie Glansryke Jesus, sê die Hebreërskrywer nou, is die Redder en Verlosser van gelowiges!

       Christus het egter meer as dit gedoen, Hy het nie alleen aan die kruis gesterf vir ons sonde nie, Hy het ook geregtigheid vir ons voor die Vader bewerkstellig. Om vergewe te wees impliseer dat ek skuldig is, maar dat my oortreding nie meer in ag geneem word nie – ek is dus verskoon. Om geregverdig te wees impliseer egter dat ek verhoor is én onskuldig bevind is – die Regter sê: "Onskuldig." Regverdigmaking maak my dus nie regverdig nie – dit verklaar my regverdig. Anders gestel, regverdigmaking is nie ’n proses nie, dit is ’n verklaring wat een keer en finaal uitgespreek word – dit kan nie hersien word nie.

       In God se "hofsaal" het ons egter nie by die wet gehou nie en daarom kan ons, ons nie beroep op regverdigmaking nie. Tog sê Rom.4:5 ~ Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. God sê dus dat Hy ons as sondaars regverdig verklaar indien ons as sondaar, ons vertroue in Christus plaas vir regverdigmaking.

       Hoe is dit moontlik dat God skuldiges (ons) regverdig kan verklaar, terwyl hulle skuldig is en derhalwe veroordeel moet word? Dit is presies wat die Hebreërskrywer vir ons hier wil sê. Dit is moontlik omdat Christus in die eerste plek, Sy bloed gestort het ten einde ons skuld te kanselleer ~ Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word (Rom.5:9). Dit het egter net te doen met die verwydering van ons skuld. Dit verklaar ons nog nie regverdig voor God nie. Byvoorbeeld: Indien ’n Bank my oortrokke rekening sou afskryf, impliseer dit nog nie dat ek nou skielik ryk is nie. Dieselfde geld my sonde – om my sonde te kanselleer, verklaar my nog nie regverdig nie. Daar moet ’n volkome kansellering plaasvind.

       Regverdigmaking vind plaas wanneer Christus se geregtigheid aan ons toegereken word. Ons beskik nie oor enige geregtigheid wat ons kan aanbeveel by God nie. Ons kan maar net voor God staan en Paulus se woorde in Fil.3:9 uiter ~ ... nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo.

       Christus het egter aan alle eise voldoen om regverdig verklaar te wees en daardie geregtigheid is ons toegereken en daarom as God nou as Regter na ons kyk, sal Hy ons onskuldig verklaar, omdat ons nie meer skuldig is nie, want op grond van Christus se dood en Sy geregtigheid wat ons toegereken is, is ons self volkome geregtigheid.

       Wat gebeur in hierdie proses? In kort: Met Christus se kruisdood, is al ons skuld aan Christus toegereken en daarom het Hy wat volmaak sondeloos was, die skuld vir ons gedra wat deur God vergewe is, maar terselfdertyd is Christus se geregtigheid ook aan ons toegereken en is ons onskuldig verklaar deur God! Christus is voorwaar die Verlosser!

9.    CHRISTUS DIE HEERSER:
       In v.3b en v.4 sien ons dat Christus ~ ...aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (gaan sit het). 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam. Die werkwoord "aan die regterhand gaan sit" dui op waardigheid en gesag. Hy is voorwaar en ten volle God – Hy is Heerser, daar is niks of niemand soos Hy nie – selfs nie eers die engele nie, want hulle is slegs maar dienende geeste (Hebr.1:14).

       Christus het na Sy gehoorsaamheidspad en na Sy versoeningswerk hier op aarde, weer Sy regmatige plek in die hemel ingeneem en Hy sit – Hy sit omdat Hy Sy opdrag wat die Vader aan Hom gegee het, voltooi het en nou heers Hy verder oor Sy skepping – daardie skepping wat Hy so volmaak in stand hou. Hierdie is ook ’n vervulling van die profesie in Ps.110:1 ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.

       Christus sit nie ook maar net nie – Hy sit aan die regterhand van God – dit is die plek van hoogste eer en dit word bevestig in die woorde van Fil.2:9-10 ~ Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig. Dit is dan ook hier aan die regterhand van God dat Christus voortdurend vir ons volgens die wil van God intree by die Vader (Rom.8:27, 34) – Hy bid voortdurend vir my en jou – Hy, die volmaakte, heilige Christus, bid volmaakte gebede wat volgens die wil van die Vader is – vir my en jou!

10.  AFSLUITING:
       Ons het vanoggend gesien hoe dat God die Almagtige, Sy Seun Jesus Christus sien. Ons het Hom gesien as die Verhewe Christus en wat optree as Profeet, Priester, Koning, Skepper, Heerser, Voorspraak en Regeerder – dit is ons Here Jesus Christus. Enige persoon wat sê dat Jesus Christus minder is as dit is, is ’n dwaas en maak God tot leuenaar.  

       Wat beteken dit alles vir ons? Dit beteken alles! Om Hom te verwerp is om jouself uit te sluit van God se teenwoordigheid en jouself te verdoem tot ’n ewigheid in die hel! Om Christus egter te erken as Verlosser, Koning en Saligmaker, is om die ewigheid in besit te neem en ewig te lewe. Is daar enige ander keuse as om juis dit na te volg?

       As ons elke dag ons Verlosser op hierdie wyse voor oë hou, sal al die hartseer rondom ons skielik hanteerbaar raak, want ons het die Lig ontvang, maar dit laat ons ook met ’n verantwoordelikheid, nl. om daardie Lig met ’n verwarde en verwonde en verlore wêreld te deel.


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 17 Junie 2012