Sunday, July 8, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 04 (Christus, die Glansryke-, Soewereine Heerser!)


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.



1.    SKRIFLESING:
       Hebr.1:1-14 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam. 5Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” en ook: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees”? 6En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: “Al die engele van God moet Hom aanbid.” 7Van die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.” 8Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.” 10En verder: “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. 11Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ’n kledingstuk sal alles verslyt; 12soos klere sal U dit oprol; ja, soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” 13Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”? 14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

2.    INLEIDING:
       Ons het verlede week gesien hoe dat die Hebreërskrywer sy argument, dat die engele ondergeskik is aan Jesus, grond op verskeie gedeeltes vanuit die Ou Testament en hy benader dit juis vanuit die Ou Testament, omdat sy lesers terug geneig het na die Judaïsme (en veral die sektegroep – die Esseners) wat op daardie stadium baie waarde geheg het aan die engele.

       Hy gaan nou voort in vv.7-14, om presies dieselfde te doen.


3.    SUPERIEURE STATUS VAN CHRISTUS:
       Die skrywer kontrasteer die status van die engele met dié van Christus, deur te wys op die engele se ondergeskikte rol en status, teenoor dié van Jesus – die engele is diensknegte, terwyl die Seun van God, soewerein is en om dit aan te toon, haal die Hebreërskrywer die keer aan vanuit Ps.104:4 waar daar staan ~ U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars. Die engele is magtige wesens. Hulle is soos die kragte van die natuur en God gebruik hulle soos wat Hy die winde of weerligstrale sal gebruik, máár net soos die winde en donderweer, beskik engele ook oor geen gesag om op hul eie besluite te neem en op te tree nie. Hulle staan in God se diens – hulle is God se diensknegte en hulle is deur God geskep. Christus daarenteen is God self en is onmeetbaar ver verhewe bo die engele, deurdat Hy ewig en soewerein is.

       Dit is dan juis in vv.8-9 waar die skrywer Christus kontrasteer met die engele – ons vind dan ook hier in v.8a waarskynlik een van die wonderlikste en belangrikste gedeeltes in die ganse Bybel t.o.v. Christus, nl. dat Hy ewige God is! Diegene wat beweer het en nog steeds beweer dat Christus maar bloot net mens was; of maar net soos die engele was; of een van God se profete was; of iets van ’n "subgod", kry hier ’n "bloedneus" uitspraak van die Hebreërskrywer, omdat hy ondubbelsinnig sê dat Christus niks minder is as God self nie en wanneer hy dit sê, haal hy weer uit die Ou Testament aan en die keer uit die Messiaanse Psalm, Ps.45:6-7 ~ U skerp pyle laat volke voor u voete val; hulle deurboor die hart van die koning se vyande. 7U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas, met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied. Die opskrif van hierdie Psalm is "Gedig vir ’n Koning" (N.A.V.). Hierdie is dan ’n Messiaanse Psalm en dit gaan oor die "grote koning Dawid" se nageslag – die Messias-Koning wat hier besing word as ewige Koning wat as oorwinnaar op Sy perd ry. Die eienskappe van die Messias, Koning Jesus Christus is een van regverdigheid en geregtigheid, maar ook een van weersin en haat vir alle ongeregtigheid en boosheid. Hierdie Koning word Messias genoem omdat Hy die Gesalfde is (Messias beteken Gesalfde) en dit impliseer dus dat Hy nie as Koning aangestel is nie, maar gesalf is as Koning, daarom dat v.9 sê ~ U... God, (het) U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote. Kan daar ’n duideliker verwysing na Christus se Goddelikheid wees as juis die feit dat Hy deur God gesalf is tot Koning en hoe kan enige engel hoër en groter geag word as die gesalfde Messias Koning?  H HyHy

       Ons weet dat Christus, God is, maar die vraag wat egter oor vv.8-9 gevra kan word, is hoe kan Christus aangespreek word as God, terwyl Hy self ’n God het (Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. 9U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote)? Dit is juis hier waar die misterie van die Drie-Eenheid van God ter sprake kom en is dit iets waaroor ons maar net verstom kan staan en dit in die geloof aanvaar, want daar is maar net een God en tog is God terselfdertyd drie, maar let op – daar is nie drie verskillende gode nie. Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God en nie een is ondersgeskik aan die ander nie, want elkeen is terselfdertyd een en dieselfde God. Wat meer is, die Seun het volmaakte mens geword, sonder om op te hou om God te wees. Jesus sê self in Joh.10:30 ~ Ek en die Vader is een. Ook Paulus het hierdie feit beklemtoon, nl. dat Jesus en God een is, toe hy in Rom.9:5 gesê het ~ ...hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore—Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen. Ook Johannes sê in 1Joh.5:20 ~ En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. Regdeur die Woord sien ons dat Christus terselfdertyd God is en al is hierdie feit te groot vir ons menslike verstandjies om te begryp, is dit presies wat die Woord van God ons leer en daarom aanvaar ons dit met en in kinderlike geloof. Dit is dan presies ook oor hierdie feit dat Christus terselfdertyd God is, wat die Hebreërskrywer vir die ontvangers van hierdie brief wil sê: Hoe kan julle Christus, wat God is, gelykstel of selfs ondergeskik stel aan engele! Wat meer is, v.9 is ook duidelik daaroor dat die Messias Koning, Jesus Christus se troon vir ewig onwankelbaar is. Hy is ewige Koning wat regeer oor die ganse heelal – ook oor die "amper-Higgs-boson" of die sogenaamde "God-partikel" wat kwansuis die afgelope week ontdek is – Hy regeer ook oor alle skepsele – skepsele wat die engele insluit, want soos ons reeds gesien het, is hulle niks meer as skepsele nie.

4.    CHRISTUS HET GEREGTIGHEID LIEF:
       In v.9 lees ons en ek haal aan uit die O.A.V. ~ U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. Hoor u wat sê die apostel vir ons hier? God is nie net ’n God van liefde nie. Nee, Hy is ook ’n God wat geregtigheid lief het en wat is die implikasie daarvan? Die implikasie daarvan is nie net voor die handliggend nie, die Apostel sê ook vir ons wat die implikasie is, nl. dat God die ongeregtigheid haat! Hoor u – God HAAT ongeregtigheid. Hy is dus nie net ’n God van liefde soos wat al wat "nuwe hervormer" wil hê nie.

       Omdat Christus geregtigheid, of dit wat reg is, lief het, haat Hy dus wetloosheid, of alles wat verkeerd is (sonde) en daarom behoort ons ook dit wat verkeerd is te haat. Om dit wat reg is lief te hê en dit wat verkeerd is te haat, is onafskeidbaar van mekaar – die een kan nie sonder die ander bestaan nie. ’n Mens sien hierdie beginsel baie mooi gedemonstreer deur Jesus, toe Hy die Tempel gereinig het en Hy die geldwisselaars se geld op die grond uitgegooi het en die tafels omgekeer het – ons sien egter die toppunt van hierdie feit geïllustreer in Jesus aan die kruis – God se haat vir Sy uitverkorenes se ongeregtigheid, wat "in-brandglas" op Jesus, maar terselfdertyd ook God se intense liefde vir Sy uitverkorenes, ten einde hulle deur Jesus se kruisdood, regverdig te verklaar! Alles wat God doen is reg en regverdig – Hy kan nie en sal nooit, enige kompromie maak nie en Hy kan en sal nooit om verskoning vra vir enige iets wat Hy ooit gedoen het nie. Dit is juis daarom ook dat God vir Jesus salf met "vreugde-olie" (O.A.V. – waarom moes die N.A.V. hierdie pragtige uitdrukking vervang het met "olie" en nie gebly het by "VREUGDE-olie" nie?), want hierdie olie verwys na die Heilige Gees wat oor Jesus uitgegiet is in reaksie op Sy gehoorsaamheid – Sy gehoorsaamheid tot die dood toe.

       Daar word ook in vv.8-9 melding gemaak van Christus se troon, Sy septer en Sy salwing, wat alles ’n weerspieëling is van Sy glansryke soewereiniteit en heerskappy. Sy troon – Sy heerskappy sal nooit tot ’n einde kom nie. Sy salwing met die olie van vreugde verwys dan ook na die hemelse vreugde wat Hom deelagtig sou word na Sy hemelvaart (Hebr.12:2). Sy septer, simbool van Sy ewige gesag, sal in geregtigheid, billikheid en in liefde uitgeoefen word.

       Die aller belangrikste vraag wat elkeen van ons, vir onsself moet afvra is of jy deel uitmaak van hierdie geregtigheid van God wat Hy oor Sy uitverkorenes uitgestort het en indien nie, is daar op hierdie stadium nog geen plek vir jou in die Koninkryk nie, maar indien jy wel deel het aan hierdie geregtigheid, moet jy ook die geregtigheid lief hê en die onreg haat, of anders gestel, moet jy ’n heilige lewe lei! Indien ons dit nie doen nie, ontken ons Christus Jesus se Koningskap oor ons!

        Engele, wat Christus se diensknegte is, kan op Sy opdrag, wonderlike vorme aanneem – ’n engel kan ’n seraf word wat in die woorde van Jes.6:1-8, o.a. ses vlerke het waarmee hy kan vlieg. Hy roep ander serafs met so ’n harde stem, dat die deure in hul kosyne rammel en die tempel vol rook raak, maar steeds toon die serafs hul ondergeskiktheid aan Christus, deur uit te roep ~ Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (Jes.6:3). Hulle is en bly steeds diensknegte van Christus en Hy is steeds die Gesalfde wat ewig op Sy troon sit, met Sy septer in die hand.

5.    DIE ONVERANDERLIKE SKEPPER:
       Verse 10 tot 12 is ’n verdere aanhaling uit die Ou Testament en wel uit Ps.102:25-27 ~ Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie! U is daar deur die geslagte heen. 26In die voortyd al het U die aarde gevestig en die hemele met u eie hande gemaak. 27Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ’n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Hier besing die Psalmis die Here as Skepper en Een wat onveranderlik is te midde van aardse veranderings en verganklikheid, trouens die Psalmis beklemtoon die ewige aard van die Skepper God en daarom natuurlik dié van Christus – nie net omdat Christus een is met die Vader nie, maar ook omdat Christus o.a. in Kol.1:16 (sien o.a. ook Joh.1:3; Hebr.1:2) vermeld word as Skepper. Kan enige engel in dieselfde asem genoem word?

       Vers 27 wat praat van alles wat sal verslyt soos ’n kledingstuk en dit laat ’n mens maar net besef dat niks op hierdie aarde permanent van aard is nie – selfs nie ons as mense soos wat ons nou daar uitsien nie – trouens selfs ongelowige wetenskapliks erken dat die heelal nie vir ewig kan voortbestaan nie (ons as gelowiges kan genadiglik byvoeg: "Ten minste nie soos ons die heelal nou ken nie!"). Wat is die uiteinde dan van hierdie heelal? Ons as gelowiges rus in die wete dat God nie alleen in beheer is nie, maar dat Hy ook, net soos wat Hy die huidige heelal geskape het, ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel gaan skep. Die profeet Jesaja het dit in Jes.65:17-18 geprofeteer toe hy gesê het ~ Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie. 18Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê, Jesus het dit egter self ook aan Johannes in Opeb.21:1-2 gewys ~ Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Met alles op en bo die aarde wat gaan vergaan sê Hebr.1:12 egter vir ons van Christus ~ ...U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie. Die Koninkryk van die hemele is vir ewig en hierdie hemelse Koninkryk se Koning heers vir ewig! En ons – wat van ons? Ps.102:28 wat aangehaal word deur die Hebreërskrywer hier in vv.10-12, sluit af met hierdie wonderlike en vertroostende woorde ~ Ons nageslag sal die land bly bewoon, ons nakomelinge sal veilig voor U woon. Christus is in beheer van alles en enige mens wat na permanensie soek in enige iets, sal en kan dit slegs in Jesus die Christus vind!

6.    ENGELE – DIENENDE GEESTE:  
       Die skrywer het ten slotte Ps.110 in gedagte wanneer hy vv.13-14 neerpen – Ps.110 is nog een van die Messiaanse Psalms. Wat interessant is, is dat Ps.110 o.a. ’n "troonpsalm" is wat gesing was wanneer ’n nuwe koning die troon bestyg het. Die Hebreërskrywer maak hierdie feit dan ook van toepassing op Jesus se Koningskap – Jesus die ewige Koning. Ps.109 sluit af met die gedagte dat Jesus staan en nou hier in Ps.110 nooi die Vader Hom om te kom sit. Om aan die Vader se regterhand te sit, beklemtoon Christus se teenwoordigheid saam met die Vader in die hemel, maar dit beklemtoon ook Sy Koningskap en gesag saam met die Vader. Hierdie feit staan so in kontras met wat die vleeslike en sondige mens doen – die mens verwerp Christus, maar die soewereine en ewige God van die heelal, verhoog Christus! Hier van God se regterhand af, heers Koning Jesus, maar tree Hy ook terselfdertyd in vir Sy uitverkorenes.

       Nog nooit is daar aan enige engel gesê om aan God se regterhand te sit nie, maar dit is die presiese plek waar Christus sit en wag vir Sy finale triomftog oor al Sy vyande. Die plek aan God se regterhand was nog nooit ingeneem deur enige engel nie, want dit is die plek van die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-Eenheid, trouens die engele se plek is een van onderwerping aan God, ten einde diensknegte in Sy diens te wees – Fil.2:10 bevestig dit wanneer Paulus sê ~ ...sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig.

       Die feit dat Christus sit (soos reeds vroeër aangetoon) dui ook op Sy afgehandelde werk as Verlosser – nou wag Hy net vir Sy finale triomftog, wanneer Hy Sy vyande vir goed sal verpletter en veroordeel, terwyl ons op daardie dag nie net vrygespreek gaan word van alle ongeregtigheid nie, maar ook verheerlik sal word – iets wat nie eers met die engele gaan gebeur nie, trouens 1 Kor.6:3 sê selfs dat óns op daardie dag, engele sal oordeel! Dit impliseer natuurlik hoegenaamd nie dat ons ooit, enigsins met Christus se heerlikheid vergelyk kan word nie.
                       
7.    TEN SLOTTE: 
As ons sou terugkyk na die sewe Ou Testamentiese Skrifgedeeltes waarna die Hebreërskrywer in hierdie eerste hoofstuk van hom verwys, is dit interessant om die progressie daarvan waar te neem. Dit handel oor Christus se ewige verhouding met Sy Vader; Sy koms na die wêreld; Sy salwing as Koning deur God, asook Sy heerskappy. Ons sien Hom ook as dié Een wat alles begin het (skepping), maar ook dié Een wie alles gaan beëindig, maar wat ook terselfdertyd aan die Vader se regterhand sit vanwaar Hy vir ewig gaan regeer en heers oor Sy vyande.

       Sewe is natuurlik ook simbool van volmaaktheid en dit is presies wat die Hebreërskrywer aan Sy lesers wil toon – Christus die volmaakte wat ver verhewe is bo die engele is dié Een wat aanbid moet word en nie engele nie. Ook nie Hy én engele nie – net Hy en Hy alleen!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondag, 08 Julie 2012