Sunday, October 19, 2014

Psalm 103 (“Waardig, Waardig is U o Here”)

Vir Oudio-opname van Preek - sien regs bo op Spyskaart en volg verlangde skakel
1.     INLEIDING:
       Robert Kennedy was ʼn Amerikaanse sendeling wat op ʼn keer die Amasone-gebied in Brasilië besoek het en daar het hy op ʼn dag, deur ʼn tolk, vir ʼn jong bekeerling gevra waarvan hy die meeste hou om te doen. Die jong man het sonder aarseling vir hom gesê dat hy nie genoeg daarvan kan kry om met God besig te wees nie. Kennedy kon sy ore nie glo nie, omdat hy gedink het dat die jongman sou sê dat hy dit die meeste geniet om te jag, of om op die magtige Amasonerivier te roei. Hy vra toe weer dieselfde vraag deur die tolk aan die jong man en weer het Kennedy dieselfde antwoord gekry. Dit wat hierdie jongman se lewe die meeste in beslag geneem het, was Sy Skepper en Verlosser!

       Hierdie ware verhaal gee aan ons ʼn uitstekende definisie van outentieke, of opregte aanbidding. Dit spreek van ʼn verloste siel wie se totale lewe in beslag geneem word met die grootse en genadige God. Hy is die toonbeeld van ʼn gelowige wat elke moontlike oomblik van sy dag – van sy lewe, opgewonde is oor God en wat Hom ken in alles en Hom verheerlik oor alles. Aanbidding en verheerliking is nie ʼn uiterlike fasade wat ons voorhou nie en dit is ook nie die onderhouding van allerlei rituele en reëls en regulasies nie – dit is nie vormgodsdiens nie. Nee, dit gaan oor ʼn innerlike realiteit van ʼn lewende verhouding met God die Vader deur Sy Seun Jesus Christus. Aanbidding is die gelowige se siel wat gekonfronteer word met die goddelike majesteit van God en die opgestane Jesus Christus. Aanbidding is dus die belewing van God in die diepste binneste van die gelowige.

       Hierdie feit is die hartklop van Psalm 103 en dit is oor hierdie Psalm van Dawid wat ek graag vandag met julle wil deel. Dit is ʼn gesang van lofprysing wat ontspring in die hart van ʼn man wat onverdeeld toegewyd is aan Sy Skepper.

2.     SKRIFLESING:
Psalm 103:1-22 ~ Van Dawid. Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. 3Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, 4wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, 5wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. 6Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word. 7Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak, aan Israel wat Hy van plan was om te doen. 8Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. 9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. 10Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 11want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. 12So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. 13Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. 14Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. 15Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ’n veldblom wat oopgaan: 16as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. 17Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte, 18vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom. 19Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal. 20Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. 21Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! 22Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers! Ek wil die Here loof!

In hierdie Psalm rig Dawid ʼn oproep tot homself om die Here te seën en as ons dalk wonder wat die rede hiervoor mag wees, kan ons maar net na vv.1-2 kyk om te sien waarom hy dit tot homself rig – hy doen dit om homself te herinner aan God se seën (weldade) wat hy so onverdiend ontvang.

Ons sien in vv.1-5 dat Dawid die Here loof en prys met sy hele wese. Die Hebreeuse woord waaruit die uitdrukking, “loof” vertaal is, beteken eintlik seën, want die Hebreeuse woord is בָּרַךְ, בָּרַךְ [barak /baw·rak/] en daarom is die meeste goeie Engelse vertalings hier korrek vertaal, wanneer dit sê ~ Bless the Lord, O my soul Hierdie woord is gewoonlik in Ou Testamentiese tye gebruik om dankbaarheid teenoor God uit te druk, met spesifieke verwysing na Sy liefdevolle en getroue karakter. Die Psalmis se pleidooi tot homself is dat sy hele wese moet uitbreek in lofprysing tot die Here God, vir Sy liefde en getrouheid en dit is in ooreenstemming met Ps.5:12 ~ ...laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm dié wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U.

       Dawid stel vir ons in hierdie Psalm die voorbeeld van hoe en waarom ons as gelowiges ook die Here moet loof en prys en seën. Deur hierdie Psalm toon Dawid egter vir ons twee baie belangrike feite aan wat ons nooit mag vergeet nie, nl.:
·           Wie en wat God is (Ps103:1-13, 17-19) en daar teenoor,
·           Wie en wat ons is (Ps.103.14-16).

3.     WIE EN WAT IS GOD (vv.1-13, 17-19):
·           God se Karaktereienskappe (vv.6-8, 17-18, 19):
       Kom ons kyk na die eerste baie belangrike feit waarom óns ook God moet loof en prys. In vv.6-8 en vv.17-19 verskuif Dawid sy aandag weg van homself en sy eie ervaring en begin hy kyk na van God se karaktereienskappe (attribute) en in vv.6-7 sien ons dat hy sê dat God geregtigheid en reg laat geskied aan almal wat verdruk word. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir “verdruk” word dikwels in die Ou Testament gebruik om te verwys na afpersing, uitbuiting en misbruik en dan spesifiek t.o.v. die weduwee en wese; die armes en vreemdelinge en dan sê Dawid dat God hom ontferm oor diesulkes en dat Hy optree as Verdediger vir hierdie verdruktes.

-        Hy is ʼn genadige en liefdevolle God (v.7-8):
       Dawid bring hierdie feit van God se ontferming in verband met die Israeliete toe hulle in die wildernis, op pad was na die Beloofde Land en Moses met God in gesprek was en Moses in Eks.33:12-13 vir die Here vra na Sy wil en dan sien ons in Eks.34:6-7, dat die Here Sy wil aan Moses en Israel bekend gemaak het, deur te sê ~ Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.

       Ons sien dus dat die Here Sy verbondliefde handhaaf teenoor Sy volk – Sy kinders, maar Hy laat in die selfde asem ook nie die boosaards wat Sy kinders onderdruk, skotvry daarvan afkom nie, maar terselfdertyd moet ons ook verstaan dat God genade bewys, maar ons ook verantwoordelik hou vir ons oortredinge. Ons het die afgelope week of twee vir mekaar uitgespel dat God die Israeliete genadig was, maar nogtans gestraf het vir hulle rebelsheid, maar ten spyte daarvan is en bly die Here ʼn genadige en liefdevolle God – Hy strek Sy hande nogtans uit na hulle en skenk Hy onuitspreeklike genade aan hulle – onverdiende genade – Hy is Regter ja, maar terselfdertyd is Hy ook Redder.

       Presies hierdie selfde beginsel geld alle sondaars wat hulle na God keer. Die Evangelie verklaar dat God, wie ryk is aan genade, ons lewend gemaak het in Christus Jesus, ten spyte van die feit dat ons dood was in ons oortredings ~ Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! (Ef.2:4-5). God tree dus in beide Testamente presies dieselfde op – van die “eerste Tuin van Eden” tot die koms van die “Nuwe Eden” is en sal Hy dieselfde bly – en tot in ewigheid.

       In die lig van v.6 en ook wat ek gesê het t.o.v. vv.7-8 kan gelowiges wat aanslae van die wêreld ervaar van die vyande van God en derhalwe verdruk word soos v.6 dit stel, die sekuriteit en wete kan hê dat die Here ʼn ...barmhartig en genadig (God) is, (wat) lankmoedig en vol liefde jeens Sy kinders is. Dawid herhaal hierdie feit in vv.17-18, waar hy noem dat God se liefde en genade, spesifiek toegespits is op God se kinders wie getrou bly aan God se verbond en Sy voorskrifte nakom en hierdie liefde en genade is onveranderlik en duur van geslag tot geslag en waarom doen Hy dit? Rom.8:28 ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.

       Net t.w.v. duidelikheid, wat beteken dit as die Woord sê God is barmhartig en genadig (“righteous/just”)? Natuurlik is daar baie dik boeke oor hierdie twee begrippe geskryf, maar as ek dit kan waag om ʼn kort definisie hiervoor te gee, sou ek dit aan die hand van twee Skrifverwysings wil doen:
Deut.32:4 ~ Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.
Ps.18:31 ~ Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.

       God se geregtigheid word geopenbaar in Sy morele wet wat ʼn uitdrukking is van Sy morele aard en karakter wanneer dit kom by Sy oordeel oor alle mense en elkeen ontvang presies dit wat hy verdien. Sy oordeel is nooit willekeurig of wispelturig nie, maar gegrond op vaste beginsels en sonder aansiens des persoons, m.a.w. sonder om onderskeid te maak op grond van mense se stand, besittings, vermoëns of wat ook al. God se morele wet word o.a. saamgevat in die Tien Gebooie en Sy morele wet sluit ook straf in op die nalating van God se opdragte. Wat ek egter ook dadelik moet byvoeg, is dat God se morele wet nié mense na Christus Jesus rig nie, dit plaas bloot net die soeklig op die mens se gevalle toestand. Gelowiges is egter nie meer blootgestel aan die vereistes van die morele wet nie, omdat Christus die morele wet vervul het (Matt.5:17 ~ Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry) en daarom verkeer ons as uitverkorenes nou onder die Wet van Christus, wat saamgevat kan word in die woorde van Matt.22:36-40, nl. dat ons die Here onse God moet liefhê met ons hele hart en siel en ons naaste soos onsself.

       Om verder op te som: God is ʼn regverdige God en oordeel alle mense op gelyke grondslag wanneer dit kom by Sy morele wet, soos vervul in Christus Jesus en die mens kan slegs God se regverdige oordeel, wat gegrond is op Sy heilige karakter, vryspring as Hy in Christus Jesus gereinig is.

       Dawid sê God is ʼn regverdige God en daarom is alle mense (voor die voet) reeds in Adam ter dood veroordeel en gevonnis tot ʼn ewigheid in die hel (die erfsonde). Die enigste manier om hierdie regverdige vonnis vry te spring, is om in Christus Jesus ingeplant te wees en hoe gebeur dit? God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh.3:16) en Rom.1:17 ~ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.

       Terug egter na Dawid en Ps.103. Dawid lig vir ons nog ʼn karaktereienskap van God uit in v.19.

-        Hy is ʼn soewereine God (v.19):
       V.19 vorm deel van die laaste strofe van hierdie Psalm en hierdie vers gaan voort met die tema van Psalms 93-100, waar die tema van hierdie Psalms hoofsaaklik gaan oor die feit dat God, Heerser is oor alles en Dawid gaan nou voort en hy besing hierdie fenomenale karaktereienskap van God, nl., dat Hy soewerein is – dat Hy oor alles heers.

       Wat presies word bedoel met die uitdrukking God se soewereiniteit, of God is soewerein? Kom ons kyk na ʼn paar teksverse:
-        Dan.4:17 ~ Hierdie aankondiging berus op ’n besluit van dié wat wag hou, die engele, en hulle maak hierdie beslissings bekend. So sal alle mense weet dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dat Hy dit gee aan wie Hy wil; Hy stel selfs die onbelangrikste mens daaroor aan.
-        Dan.4:34 ~ Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen.
-        Openb.19:16 ~ Op sy klere, by sy heupe, was daar ’n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”.
-        Wat sê Dawid in v.19? Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal.

       Verskeie name vir God druk ook Sy soewereine karaktereienskap baie mooi uit – so word Hy o.a. die Allerhoogste genoem [עֶלְיׄון, עֶלְיׄון (ʾelyown /el·yone) (Gen.14:18)]; God die Almagtige – [אֵל, אֵל שַׁדַּי (ʾel Shadday / ale/shad·dah·ee/) (Gen.17:1)]; die Soewereine God [אֲדֹנָי (ʾAdonay /ad·o·noy/) (Gen.15:2)]; die Here God Almagtige (Openb.1:8), ens.

       God se soewereiniteit word uitgedruk in God se omvattende plan of verordening (dekreet) met die wêreld se geskiedenis ~ ...Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit (Ef.1:11) – alles in hierdie wêreld, deur die eeue heen, geskied volgens God se soewereine wil. Ons sien God se soewereiniteit verder uitgedruk in die skepping; in Sy voorsienigheid en verlossing. ʼn Gedeelte wat hierdie feit pragtig illustreer is Jer.32:17-23 ~ Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie. 18U bewys u troue liefde aan duisende geslagte, maar U straf kinders vir die sondes van hulle ouers. Groot en magtige God, u Naam is Here die Almagtige. 19U besluite is magtig, u dade groot. U sien alles wat die mense doen. U gee aan elkeen wat hom toekom, U beloon elkeen volgens sy dade. 20Die tekens en wonders wat U in Egipte gedoen het, doen U nou nog in Israel en onder die mense. So maak U vir U ’n Naam tot vandag toe. 21“U het u volk Israel uit Egipte laat wegtrek met tekens en met wonders, met magtige dade en met wonderlike groot dade waarvoor mense vreesbevange was. 22U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. 23U volk het gekom en dit in besit geneem, maar hulle was ongehoorsaam. Hulle het nie u wet onderhou nie, hulle het nie gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie. Daarom het U al hierdie rampe oor hulle laat kom.

       God se soewereiniteit impliseer dus dat Hy Heerser oor hemel en aarde is; dat Hy wêreldkoninkryke asook heersers, daarstel en wegneem. Hy bepaal die verloop van die wêreldgeskiedenis en die geskiedenis van elke mens; Hy is in beheer van ons lewens en Hy besluit deur Sy uitverkiesende genade wie gered word en wie nie; wie gestraf en veroordeel word en wie nie. Hy is die Alsiende, Alwyse en Almagtige God.

       Dit is hierdie onbeskryflike, heilige en soewereine God wat Dawid besing en aanbid en hy dank Hom vir al Sy genade en seën wat so ryklik uitgestort word oor hom as sondige wese – en sondig was Dawid inderdaad (vleeslike begeerte; owerspel; moord – en nogtans sê God van hom ~ ...Ek het in Dawid seun van Isai ’n man na my hart gevind! – Hand.13:22).

       In die lig van wat Dawid in hierdie Psalm meld t.o.v. wie God is en Hy bepaalde karaktereienskappe van God uitlig, gaan hy voort en vermeld hy spesifieke optredes of dade van God.

·           God se Optrede (vv.3-5, 8-13):
       Wanneer die Psalmis God se seën besing, beskryf hy o.a. vyf dinge wat God doen, nl. dat Hy sonde vergewe; Hy genees ons van siektes; Hy red ons van die graf, of soos die OAV dit stel, wat verlos van die verderf; Hy kroon ons met goedertierenheid en barmhartigheid (OAV) en laastens versadig Hy ons siele met die goeie (ook OAV).

       Dawid het God se vergifnis eerstehands in sy lewe ervaar en hy kan sy Verlosser nie genoeg dank daarvoor nie, want dit impliseer dat hy “gered gaan word van die graf”, m.a.w. hy hoef nie die graf, of anders gestel, die dood te vrees nie, want hy gaan nie ʼn ewigheid in die verderf deurbring nie, trouens hy gaan gekroon word met goedertierenheid en barmhartigheid en dit beteken dat hy tot in ewigheid God se liefde en genade sal ervaar.

       Dawid noem egter nog iets, nl. dat hy sê dat hy van al sy siektes genees sal word. Beteken dit dat alle gelowiges blakend gesond behoort te wees? Indien dit nie die geval is nie, is dit dan omdat daar iewers iets verkeerds is met jou verhouding met die Here, of is dit omdat daar onafgehandelde sonde in jou lewe is (soos in baie “kerklike” kringe beweer word)? Om dit te antwoord moet ons kyk na wat Dawid met hierdie uitspraak bedoel.

       Verwys hierdie genesing na genesing van sonde, of fisiese genesing? Wanneer ʼn mens kyk na teksverse wat algemeen aangehaal word om aan te toon dat genesing van fisiese siekte ʼn gegewe is, lyk dit op die oog af asof dit ʼn ondubbelsinnige belofte van God is, bv. Jak.5:14-15 ~ Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. 15En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Hoor u wat hier geskryf staan? ...Die Here sal hom oprig. ʼn Vaste belofte dus! As ons na Dawid se woorde in v.3 luister, klink dit asof elke gebed van die ouderlinge verhoor sal word en alle siektes genees sal word indien die ouderlinge ingeroep word om te bid vir die sieke, wat meer is, ons weet dat God elke oortreding vergewe en daarom moet hierdie belofte tog ook waar wees, veral as dit saam met die belofte van vergifnis van oortredinge gebruik word (konteks – Woord-met-Woord vergelyk, ens.?).

       Ons weet egter uit ervaring dat nie elke gelowige elke keer Goddelike genesing ervaar nie – selfs al sê Ps.103:3 dit oënskynlik. Belowe hierdie gedeelte en daarmee saam Jak.5:14-15 dat God elke gelowige elke keer sál genees? Hoe moet ons hierdie gedeeltes verstaan?

       Ons moet eerstens onthou dat hierdie verse tussen die res van die Woord se verse lê en word deur die res van die Woord verklaar – dit is tog immers verantwoordelike eksegese, m.a.w. elke vers in die Bybel moet in konteks met die res van die Woord gelees word – nooit in isolasie nie.

       Die woorde in Jak.5:15, genesing bring, is nie ʼn goeie vertaling nie. Die Griekse woord hier is baie breër as wat die NAV dit hier vertaal. Die OAV is weereens nader aan korrek, wanneer dit sê dat, die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “red”, kom net op ʼn paar plekke in die Nuwe Testament voor en is nie dieselfde woord as bv. die woord vir fisiese genesing wat ons in Mark.6:56 kry nie ~ En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword. Hierdie woord wat ons in Jak.5 aantref word derhalwe meestal gebruik om geestelike redding aan te dui.

       Dieselfde geld vir die woorde, gesond maak in v.15 (weereens die OAV ~ ...en die Here sal hom oprig). Die meerderheid betekenis is om iemand wat uit ʼn geestelike dood opgewek word, aan te dui.
 
       Ons kan dus reeds sien dat die vertaling van Dawid se v.3 moontlik iets soos volg kan klink (ek parafraseer): ”Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat my uit ʼn geestelike dood opwek en my siel red.”

       Sonder om verder in te veel detail in te gaan, God het wel belowe dat Hy ons sal genees, maar daarvoor het Hy bepaalde voorwaardes daargestel: Eerstens, dié van geloof in en onderwerping aan Hom en tweedens (baie belangrik) is enige gebedsverhoring onderworpe aan God se wil.

As Dawid dan praat van fisiese genesing, vereis dit weliswaar geloof van sy kant, maar is sy genesing steeds afhanklik van God se wil. As ons egter, met dit alles wat ek tot nou gesê het, weer na v.3 kyk, maar ook v.4, omdat dit deel uitmaak van v.3 se sinskonstruksie en hierdie uitdrukkings derhalwe in dieselfde sin gebruik word, dan sien ons dat die uitdrukkings, my siekte genees (v3b) tussen die uitdrukkings, my sonde vergewe (v.3a) en wat my red van die graf (4a) in “getoebroodjie” is en daarom is dit baie duidelik dat Dawid hier praat van geestelike genesing.

4.     WIE EN WAT IS ONS (vv.14-16):
       Teen die agtergrond van Dawid se verklaring en lofprysing oor ons grote God wat soewerein is en wat ons dooie siele weer tot lewe bring en die ewige lewe aan ons as gelowiges skenk en hy dit verder benadruk dat ons fokus op God gerig moet wees en al ons lofprysing en aanbidding en werke tot Hom gerig sal wees, kontrasteer hy ons posisie teenoor hierdie grootse Skepper en Here, deur in vv.14-16 te sê wie en wat ons is.

 

Hy sê in vv.14-15 dat ons niks meer as stof is nie en dat ons lewe van net so ʼn korte duur sal wees, soos dié van gras, of ʼn veldblom, en sal ons derhalwe binnekort weer terugkeer na die stof ~ Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer (Gen.3:19b). Maar dan sluit Dawid hierdie Psalm af met die wonderlike woord “maar” (Engels – “but”), God se liefde is ewig; dit is onverganklik; dit sal vir ewig aanhou, vir diegene wat God dien! Ons is stof ja, maar...! 


5.     AFSLUITING:
       Henry Ward Beecher was gedurende die 1800’s ʼn baie bekende predikant, Calvinis en uiteindelik Amerikaanse Kongreslid, wat hom beywer het vir die afskaffing van slawerny in die VSA en sy motivering was gegrond op God se liefde. Op ʼn keer was hy gevra om iewers in die VSA te preek, maar kon dit op die ou einde nie maak nie en is sy minder bekende broer en ook prediker, Thomas K. Beecher gevra om vir hom in te staan. Toe Thomas op die preekstoel verskyn, het van die toehoorders opgestaan en na buite begin beweeg, omdat hulle na Henry wou luister. Thomas se reaksie hierop was die volgende: Almal wat vanoggend gekom het om Henry Ward Beecher te aanbid, is welkom om nou op te staan en uit te loop, maar almal wat gekom het om die Here God te aanbid mag agterbly.

       Om God te aanbid vereis dat ons, ons fokus op hom, sal vestig en nooit op ʼn mens nie. God en God alleen is waardig om aanbid te word en ons moet dit nooit vergeet nie – laat ons daarom saam met Dawid die Here verheerlik vir Wie en Wat Hy is.


       Raak jy ooit so moedeloos, of ontmoedig, of teleurgesteld, voel jy soms dat jy jou vreugde en vrede verloor? Voel jy soms so moedeloos en plat getrap dat jy nie eens kerk toe wil gaan nie? Dit is dalk juis die plek waar jy moet wees – in die Kerk en in Sy Woord, want dit is waar jy meer en meer van God leer en des te meer jy van Hom leer, des te meer sal jy Hom begin verheerlik en sal jy geestelik begin groei en sal jy uit jou moedeloosheid; uit jou pyn; depressie; ens., verlos word en dan sal jy voorwaar saam met Dawid in sy woorde in Ps.19:2 (Engels – v.1) kan uitjubel ~ Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.