Sunday, October 12, 2014

Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 04 (Sy Derde Versoeking en Oorwinning)

U kan na 'n Klankopname van hierdie preek luister by: https://soundcloud.com/kobus-van-der-walt/jesus-se-versoeking-in-die-wildernis-3

1.     SKRIFLESING:
Matt.4:1-11 ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” 4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” 7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” 8 Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” 11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

2.     INLEIDING:
Verlede week het ons gekyk na Jesus se eerste twee versoekings in die wildernis en wie die versoeker was. Ons het gesien dat Satan hom nie self aankondig wanneer hy met ons praat ten einde ons te versoek nie. Ons het gesien dat Satan die Waarheid en selfs die Woord van God verdraai – selfs soms net effens verdraai, ten einde ons te versoek. Ons het gesien dat ons uiters versigtig moet wees wanneer ons in ons eie wildernis verval, omdat ons dan op ons vatbaarste is vir die vyand se subtiele versoekings.

Ons het egter ook gekyk na Jesus se eerste versoeking, toe Hy honger en dors geraak het en dat (net soos, so dikwels die geval met ons) Sy begeertes sober en aanvaarbaar was, maar dat die Satan daardie goeie begeertes uitbuit en ons probeer oorhaal om dit op die verkeerde wyse te bevredig.  Jesus het vir ons die voorbeeld gestel, deurdat Hy Sy goeie begeertes – o.a. ’n begeerte na brood en water, onderdruk het en die satan daarop gewys het, dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat Hy van God se Woord leef en dat Hy op God wag.

Ons het ook gesien dat Satan, Jesus uitgedaag het om ’n teken van God te vra – ’n teken dat God omgee vir Sy Seun. Weer het Jesus hom geantwoord en spesifiek uit Ps.91 en is die boodskap aan ons, dat ons op God moet vertrou, ongeag ons omstandighede en wat ook al in die toekoms mag gebeur.

Vandag gaan ons dan kyk na Jesus se derde versoeking en Sy oorwinning oor die satan.

Toe Jesus gedoop is, het ’n stem die woorde van Ps.2:7 herhaal, deur te sê, ...dit is my geliefde Seun.  Hierdie uitspraak van die Vader, was gevolg deur ’n belofte in v.8, nl.: ...Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.  Jesus het m.a.w. geweet dat dit die Vader se plan, of wil vir Sy lewe was, dat Hy die aarde as besitting sou kry. Hy het beplan dat al die koninkryke van die aarde aan Jesus sou behoort. Ons weet egter ook dat Jesus eers moes ly en sterf voor hierdie belofte tot vervulling kon kom, m.a.w. voor die Vader die volke as besitting aan Jesus sou gee – eers moes Hy gehaat en vervolg word deur die heersers van hierdie wêreld.

Intussen bevind Jesus Homself in die wildernis – en Hy is moeg en swak en honger!  Jesus weet vanuit Ps.2 en al die ander profetiese uitsprake in die Ou Testament, dat Sy lyding hier in die wildernis maar slegs die begin van Sy lyding is.  Jesus kry swaar en Hy voel van God verlate, maar Hy weet ook dat Hy nog baie sal moet ly – Hy weet dat Hy nog aan ’n kruis sal moet hang waar Hy uiteindelik sal sterf. Dit is op hierdie oomblik dat Satan weer na Jesus kom om Hom ’n derde keer te versoek.

3.     JESUS SE DERDE VERSOEKING:
Weer vloei daar allerlei desperate gedagtes en gevoelens deur Jesus se gedagtes en skielik is dit
weer asof Jesus op ’n hoë berg staan – ver bokant die swaarkry van die wildernis. Van hierdie berg af, kan Hy al die koninkryke van die wêreld sien – al die Koninkryke wat God Hom belowe het. Hy kan al die plesier en eer sien wat die koninkryke Hom kan bied en skielik besef Jesus hoe maklik Hy al daardie koninkryke voor Sy bestemde tyd, vir Homself kan opeis – Ps.2 sê dit tog immers van Hom – Hy hoef nie swaar te kry nie. Hy is die grootste Leier wat die wêreld ooit geken het, of ooit sal ken – en dit lê alles aan Sy voete – dit kan Syne wees. Hy beskik oor wonderwerkende mag – Hy kan maar net ’n arm lig en ’n wêreldwye revolusie kan van stapel gestuur word en Hy kan as die Oorwinnaar daaruit tree, trouens Ps. 2:8 sê dat dit God se wil is ~ ...Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.

Dit is hierdie gedagtes wat Satan by Hom laat opkom en dit is die derde versoeking waarmee Jesus in die wildernis gekonfronteer is – dit was God se wil dat dit alles moes gebeur. Satan is dus besig om vir Jesus te wys hoe Hy God se wil kan laat geskied – máár, Satan se manier is nie God se manier nie, want indien Jesus na Satan luister, sou dit alles gebeur het sonder dat Jesus die prys betaal het; sonder dat Hy gekasty sou word; sonder dat Hy na Golgota gegaan het; sonder dat Hy gesterf het.

Al wat Jesus dus moes doen was om kompromie te maak met die satan. Dit is wat v.9 beteken ~ ...as U neerval en my aanbid.  Satan het nie van Jesus verwag om letterlik op Sy knieë te val en Satan te aanbid nie. Nee, Jesus moes net God se wil op ’n ander manier – op Satan se manier, uitvoer. Jesus was dus versoek om God se wil uit te voer op ’n manier waar Satan die eer sou kry.

As Jesus na Satan geluister het, sou Hy steeds God se uiteindelike wil volvoer het, maar Hy sou dit nié op God se manier gedoen het nie, want Hy moes eers ’n prys betaal. Die gedagte word egter in Jesus se kop geplaas, dat Hy Satan se werkswyse moes toepas. Dit is asof die satan vir Jesus sê: Jy sal nooit iets bereik as jy nie bereid is om kompromie te maak nie. Nee, jy sal net seerkry en weer seerkry en nogmaals seerkry.

So word ons ook versoek. Ek hou dalk nie as werkgewer van iemand nie en daar is bepaalde wette wat verhoed dat ek hom summier kan afdank, maar dan maak ek misbruik van my posisie en maak die lewe só onaangenaam vir hom dat hy uiteindelik uit eie keuse bedank. Tree ek egter dan volgens God se wil op?  Sulke optrede word vir ons in v.9 beskryf:  ...as U neerval en my aanbid

So dikwels word die kerk en voorgangers van gemeentes ook versoek om wêreldse middele te gebruik om die Evangelie uit te brei, deur bv. vleitaal te gebruik; deur vir sondaars te vertel wat hulle graag wil hoor – laat die waarheid en konfronterende gedeeltes van die Evangelie wat moontlik aanstoot kan gee, net weg. Of mense word op allerlei maniere vermaak, in plaas daarvan dat hulle moet hoor van God se oordele wat op hande is. Gelowiges en kerke kan so maklik wêreldse metodes aanlê wanneer die Evangelie verkondig word.

Wie is die Prins van hierdie wêreld? Dit is die satan. Wanneer ons sy metodes toepas, gee ons onsself oor aan sy heerskappy – dan val ons voor hom neer en aanbid hom!

Jesus was versoek om presies dít te doen en soos met die eerste en die tweede versoeking, moes Jesus ook hierdie versoeking uit Sy gedagtes verdryf ~ Gaan weg Satan (v.10).  Hierdie was waarskynlik ’n desperate uitroep van Jesus, omdat die versoeking so geweldig intens was – Ek kan dit nie meer vat nie – gaan weg van My af Satan!

4.     JESUS SE OORWINNING:
Dit was Jesus se versoekings, maar nou kom ons by Sy oorwinning.

Jesus het elke versoeking oorwin, ja Hy was waarlik en intens versoek en Hy moes hard baklei om hierdie gedagtes wat die satan in sy gedagtes geplant het, te onderdruk, maar, Jesus was gedetermineerd om te doen waartoe Hy geroep was en gehoorsaam te wees aan Sy Vader.  Hy het nie een oomblik ingegee nie en Hy het triomfantlik deur hierdie geveg met die satan gekom.

Hierdie aangrypende gebeurtenis wat Jesus in die woestyn beleef het, laat ons met drie vrae:
·           Hoe het Hy hierdie geveg gewen? Die antwoord:  Deur eenvoudig en gewoon op te tree. Jesus was gedetermineerd om een eenvoudige ding te doen – Hy was gedetermineerd om gehoorsaam te wees aan Sy Vader se wil, ongeag van hoe moeilik dit ook al sou wees.

Waar het Hy Sy Vader se wil gevind? In die bladsye van Sy Vader se Woord. Satan wou Jesus se gedagtes gevul het met allerlei ingewikkelde redenasies; met verwarrende gedagtes. Satan wou sy idees met Jesus bespreek en daaroor geredeneer het. Jesus het egter nie nodig gehad om al Satan se gedagtes en voorstelle te bespreek nie – Hy moes Homself maar net herinner aan God se duidelike en eenvoudige opdragte en Hy was vas van voorneme om dit te gehoorsaam en daarom het Hy elkeen van die versoekings daar in die woestyn wat Satan oor Sy pad gebring het, oorwin en verwerp met die eenvoud van die Skrif. 

Hy was versoek om klippe in brood te verander ten einde Sy hongerpyne te stil en wel op ’n manier wat God nie goedgekeur het nie, maar Jesus wag op Sy Vader om op Sy tyd en volgens Sy wil te voorsien. Hoe weerstaan Hy die satan? Deur te sê ~ Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom (v.4). Weet u waar daardie woorde vandaan kom?  Deut.8. Dit is ’n aanhaling uit Moses se laaste preek aan die volk, terwyl hulle blootgestel was aan hulle versoekings in die wildernis ~ Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met ’n eed aan jou voorvaders beloof het. 2 “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. 3 Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom (vv.1-3).

Dit was die les wat die Israeliete geweier het om te leer tydens hulle wildernis-ervaring, nl. dat hulle op God moes wag om te praat voor hulle optree – hulle moes wag vir God om te sê: Nou is dit die regte tyd!  Wanneer hulle honger was in die wildernis, was dit nie vir hulle om te besluit om te ontvlug uit die wildernis nie, nee hulle moes vir God wag om te sê:  Manna val!  As ’n mens wil lewe moet hy op God wag om te spreek – hy moet wag op God om dit wat nodig is vir lewe, te voorsien. Jesus het geweet dat Hy moes wag, want die Woord van God sê dit.

Die tweede versoeking wat Jesus beleef het, was om van die hoogste punt in Jerusalem te spring, ten einde God te dwing om Engele te stuur om Hom veilig na die grond te dra. Hoe het Jesus daardie versoeking weerstaan?  Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. Ook hierdie woorde kom uit Moses se preek – Deut.6:16 ~ Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel soos julle by Massa gedoen het nie. Ons het verlede week gesien wat by Massa gebeur het – die Israeliete het gesondig deur God te beproef en van God te eis dat Hy Homself sal bewys. Satan wil hê dat Jesus dieselfde moet doen, maar Hy sê vir die satan dat dit nie mag gebeur nie.

Hoe graag ons ook al ’n teken van God wil ontvang om Sy teenwoordigheid te bewys; of om aan ons te toon dat Hy ons lief het, word ons verbied om dit te doen, want die Woord sê dat ons dit nie mag doen nie.

Derdens was Jesus versoek om die koninkryke van die wêreld vir Homself op te eis, maar deur dit volgens Satan se metodes te doen en deur neer te buig voor Satan. Hoe het Jesus hierop gereageer?  ...daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien (v.10).  Weer is hierdie aanhaling uit Moses se preek geneem – Deut.6:13 ~ Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam ’n eed aflê. 14 “Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie, 15 want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee. Weer het die Israeliete gefaal, maar Jesus sê ~ ... Gaan weg, Satan... (v.10) Dit is asof Jesus sê: ...daar is net Een wie Ek gaan aanbid; daar is net Een wie se wil Ek gaan navolg ten einde Sy plan vir die nasies te volvoer.  Ek gaan nie jou plan en strategie navolg nie. Ek glo dat my Vader, dié enigste lewende God is en dit beteken dat Hy die koninkryke van die aarde aan My sal gee op Sy tyd en volgens Sy wil. Satan kon baie redes aangevoer het waarom Jesus kompromie moes maak, maar Jesus het net een rede nagevolg - ...daar staan geskrywe...!  Jesus het geen spesiale leiding of openbarings nodig gehad om te weet wat Hom te doen gestaan het in die wildernis nie. Hy
het nie ’n spesiale woord van die Vader nodig gehad nie, want Hy hét die Woord gehad – dit is neergeskryf in die Woord van God! Hy het dít wat in die Woord geskryf staan, nagevolg en  gehoorsaam!

Ek hoor die afgelope week dat daar oënskynlik ʼn nuwe profetiese bediening in Amerika ontstaan het – ʼn sg. profetiese dans (en dit is al klaar aan die oorwaai na Suid-Afrika). Wat het geword van, ...daar staan geskrywe... onder Christene?

As die Woord sê, jy moet... – dan moet jy. As die Woord sê, jy moet nie... – dan moet jy nie!  Dit is so eenvoudig soos dit – ons het niks meer en niks minder as dit nodig nie – ons het nie verdere openbarings of drome of ander leiding nodig nie (of danse nie) – ...daar staan geskrywe!  Jesus het niks meer nodig gehad daar in die wildernis nie, want Hy het Sy Vader se Woord gehad en Hy moes net die Woord gehoorsaam. Ja, Jesus ís die sentrale Figuur in die Skrif, maar Hy staan terselfdertyd onder die gesag van die Woord.

Ons verkeer dikwels in situasies wat baie moeilik is en ons kan baie redes vind ten einde oplossings te kry vir die situasie, of ons kan selfs verward raak oor wat ons te doen staan en ons emosies kan selfs verwoesting saai in ons binneste, omdat ons nie weet watter uitweg die beste is nie. Ons moet dit egter eenvoudig hou wanneer ons in sulke situasies verkeer, want wanneer die Woord duidelik is oor ’n saak, het ons nie nodig om dit eers te bespreek of daaroor te tob nie. Ons hoef nie te wag totdat ons gevoelens oor die saak verander het nie – ons moet dit net doen!

Dit is die eerste vraag – Hoe het Hy die geveg oorwin? Deur eenvoudig op te tree en net gehoorsaam te wees aan die Woord.

·           Die tweede vraag: Vir wie het Hy die geveg gewen?  Wel, natuurlik vir Homself, maar ook nie nét vir Homself nie – dit was ook vir ons! Onthou: Indien Jesus toegegee het aan enige versoeking of sonde, kon Hy nie ons Redder en Saligmaker gewees het nie. Hy het egter oorwin, want Hy het elke toets – elke versoeking, met vlieënde vaandels geslaag – Jesus was die ware Adam; Hy was die ware Israel.

Waar Adam misluk het en sy ganse nageslag in die duisternis gedompel is, het Jesus getriomfeer en almal wat in Hom uitverkies is, uitgelig om verheerlik te word.

Israel het as volk gefaal en daardeur die mens se volkome onvermoë om homself te red, gedemonstreer. Jesus daarenteen, het getriomfeer en Sy kinders gered, omdat Hy volkome gehoorsaam was aan die Vader en geen sonde gedoen het nie. Hy het die ware Israeliet geword en hierdie gehoorsaamheid en sondeloosheid van Jesus word ons nou, in Hom toegereken (“impute”), sodat ons nou die ware Israel is.

Waarom kan God vandag gelukkig wees met my en jou? Waarom kan Hy ons vandag koester en versorg en beskerm? Omdat Hy “blind” is vir elke sonde en tekortkoming van diegene wie in Jesus Christus glo, want ons is ín Christus Jesus en al wat die Vader raaksien, is Jesus se volmaakte gehoorsaamheid – wanneer God die Vader na ons kyk, sien Hy nie meer ons sonde raak nie – al wat Hy sien is Jesus se bloed en wanneer ons eendag met ons sondesmet voor Sy Regterstoel gaan verskyn, is dit ook al wat Hy sal sien – Jesus se bloed!

·           Ons derde vraag: Wat sal die uiteindelike gevolg van Jesus se oorwinning wees? Die antwoord: Die wildernis sal weer ’n tuin word. Jesus het na hierdie wildernis-wêreld – hierdie vervloekte wêreld gekom; hierdie wêreld van honger en dors en eensaamheid en pyn, om hier in hierdie wildernis-wêreld versoek te word en gepynig te word, maar in volkome gehoorsaamheid sonder sonde te leef.

Hy het na hierdie wildernis-wêreld gekom om ’n verskriklike, maar oorwinnende dood te sterf, sodat die vloek wat hierdie wildernis-wêreld op elkeen van ons geplaas het, verwyder kan word en hierdie woestyn weer ’n tuin kan word – ’n nuwe Eden. Dit gaan ’n wêreld wees waar daar geen honger en pyn en eensaamheid en hartseer sal wees nie – ’n wêreld waar God nooit, ooit weer Sy gesig vir ons gaan verberg nie. Dit gaan ’n Paradys wees waar Christus en ons, ons erfenis gaan geniet. Al die koninkryke van die aarde met al hul prag gaan ons s’n wees.

Jesus het honger geword in die wildernis, sodat ons uiteindelik die vrugte kan eet van die Boom van die Lewe. Daar in die Tuin van God, sal Hy ons van een heerlikheid na ’n volgende lei en dit sal vir die res van die ewigheid net ryker en ryker word; net meer en meer oorvloedig en mooier en mooier word – Prys Sy Naam!




[1]Met erkenning aan en toestemming van Stephen Rees (Manchester, Engeland) – Boodskap gebring  deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 12 Oktober 2014