Sunday, October 5, 2014

Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 03 (Sy Versoeking in die Wildernis - 02)

Vir Klankopname - Gaan na: https://soundcloud.com/kobus-van-der-walt/jesus-se-versoeking-in-die-wildernis-2

1.      INLEIDING:
Ons het verlede week begin kyk na Jesus se versoeking en ons het o.a. gesien dat Jesus die wildernis ingelei is deur die Heilige Gees – ’n wildernis waar Hy geweldige eensaamheid ervaar het en van God verlate gevoel het – erger as wat Adam, of die Israeliete of ons ooit sou kon ervaar – daarom, het ons gesien dat Jesus met elkeen van ons kan identifiseer in ons “wildernis-ervarings”.  Blaai nou saam met my na Matt.4:1-11.

2.      SKRIFLESING:
Matt.4:1-11 ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn [die Grieks hier is ἔρημος (eremos), wat eerder vertaal moet word met woesteny of wildernis] in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” 4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” 7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” 8 Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” 11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

3.      DIE VERSOEKER:
Jesus was die wildernis ingelei deur die Gees om deur die duiwel versoek te word. Eerstens moet ons vir mekaar vra, hoe Matteus geweet het wat daar in die wildernis gebeur het? Hy was tog nie daar nie. Niemand was daar nie, behalwe Jesus self en die duiwel. Daar kan dus net een moontlike Bron vir hierdie gebeure wees – ek glo nie Matteus het dit by die duiwel gehoor nie. Jesus moes Sy dissipels dus hiervan vertel het. Hierdie is ’n belangrike punt, want hierdie is nie ’n waarnemer se weergawe nie, maar Jesus wat self vertel wat Hy daar in die wildernis ervaar het. Hy wou dat Sy dissipels eerstehands hoor en ervaar wat Hy daar deurgemaak het en dat die duiwel Hom daar direk versoek het.

Nie een van ons hoor die Satan ooit direk met ons praat wanneer hy ons versoek nie, want as dit die geval was sou dit veel makliker gewees het om hom te weerstaan – bv. as hy hier voor my kom staan, met sy naam oor sy voorkop geskryf en hy vir my sê, “ek is jou vyand en ek kom jou nou versoek – ek is hier om jou te vernietig!”  Nee, dit is nie hoe hy dit doen nie, want dan sal ons hom bykans elke keer suksesvol kan weerstaan.  Wanneer ek versoek word, is dit elke keer iets wat vanuit my eie binneste kom – dit is my eie gedagtes.  Die kere wat ek versoek is, het ek nie eers daaraan gedink dat die duiwel aan die werk was nie.  In tye van bv. pyn, of hartseer, of eensaamhid, is dit werklikhede wat die satan kan misbruik om my te laat toegee aan negatiewe gedagtes en my eie vlees, soos bv. selfbejammering. Die ironie is dat baie van die dinge waaraan ons toegee nie eens boos lyk nie. Hy sê nie vir ons wanneer hy bose gedagtes in ons plant nie – dit is hoe hy werk, want hy is ’n leuenaar – trouens, hy ís die vader van die leuen (Joh.8:44); hy ís ’n misleier (2Joh.7)

Ons lees hier in Matteus, dat die Satan met Jesus gepraat het, maar ons moet nie sommer net aanvaar dat Jesus op daardie stadium besef het dat dit Satan is nie, want ons moet onthou dat Jesus volkome mens was – natuurlik sonder sonde, maar ons kan heel waarskynlik aanvaar dat Hy nie besef het dat dit die satan was wat hom versoek het nie – later ja, toe Hy met Sy dissipels daaroor gepraat het, het Hy geweet dat dit Satan was en kon Hy vir hulle sê dat dit die Satan was wat Sy gedagtes gevul het met bose versoekings – en ja, reg aan die einde van die veertig dae tydperk het Jesus geweet dat dit Satan was, daarom dat Hy in v.10 gesê het ~ Gaan weg, Satan...  Nadat Jesus dit gesê het, het Satan geweet dat hy die geveg verloor het, maar tot en met daardie punt het Satan gehoop dat hy Jesus kon versoek.

Adam en Eva het ook nie besef dat dit die Satan was wat hulle versoek het nie – totdat dit te laat was. Paulus waarsku ons dat die Satan homself voordoen as ’n engel van die lig (2Kor.11:14) – hy doen hom nie self voor as ’n engel uit die hel nie – hy mislei ons. Dit is waarom dit so ontsettend belangrik is dat ons sal leer om te onderskei – om te weet wanneer dit die satan is en wanneer nie, want hy is so subtiel; hy is so agterbaks en skelm en hy weet presies wanneer dit die “verkeerde tyd” is om ons aan te val. Hy weet wanneer ons in die “wildernis” is. Hy weet wanneer ons op ons swakste is. Hy weet wanneer ons die mees kwesbaarste is. Dit is dán dat hy sy aanslae op ons loods, want dít is die tyd dat ons die mees vatbaarste is –  wanneer ons nie die wil en krag en energie het om terug te veg nie. 

4.      DIE VERSOEKINGS:
       Kom ons kyk nou na die versoekings waardeur Jesus gegaan het. Ons het gepraat oor die plek waar Jesus versoek is – die wildernis en ons het gekyk na die versoeker, nl. die satan.

       Jesus het drie versoekings in die wildernis beleef:
·           Eerstens het die satan, Jesus deur fisiese begeerte versoek. Die Gees van God dryf Jesus in ’n plek in waar daar geen kos was nie – en Jesus het honger geword. Jesus het al swakker geword en na veertig dae is daar steeds geen kos nie en as daar nie spoedig kos kom nie, sal Jesus sterf. Dan skielik skiet ’n gedagte Hom te binne – die klippe!

       Hy kan nog die stem hoor wat Hy by die Jordaan gehoor het, toe Hy gedoop is ~ ...Jy is my geliefde Seun (Matt.3:17) en dadelik is die vraag in Sy gemoed: Indien Ek die Seun van God is, waarom kry Ek so swaar? As Ek die Seun van God is, kan Ek tog sekerlik vir daardie klippe sê om brood te word en dan kan Ek eet en My hongerpyne stil en weer My kragte herwin! Die oomblik toe daardie gedagtes Hom te binne skiet, kon Hy aan niks anders dink nie, want dit klink tog na so ’n redelike en logiese ding om te doen. Hierdie gedagte moes in Sy kop gemaal het, want as die Seun van die Almagtige God, het Sy Vader tog vir Hom die krag gegee om wonderwerke te kan doen en God sal tog nie wil hê dat Hy moet sterf nie! Trouens, Jesus kon ewe maklik gedink het: Dit is tog my verantwoordelikheid om hier in die woestyn aan die lewe te bly, want Ek het nog ’n groter roeping wat op My wag en as Ek hier sterf, sal ek nie My Groot Opdrag kan uitvoer nie! En natuurlik wou Jesus Sy roeping vervul, maar Hy is honger! 

       Dit is baie belangrik om daarop te let dat Jesus se begeerte hier inherent goed was – daar is tog niks verkeerd met brood nie! Daar is niks fout te vind met iemand wat sy hongerpyne wil stil nie. Omdat Jesus volmaakte mens sonder sonde was, kon Hy dus nie versoek word deur iets wat op sigself boos was nie. Indien die duiwel sou kom met iets wat op sigself boos was, sou daar geen versoeking gewees het nie. Jesus kon egter versoek word deur iets wat goed is. Ons sal dit met elkeen van die versoekings sien.

Jesus is honger en Hy kry die idee om Sy hongerpyne te stil, maar dit was nie God se manier nie. Onthou, Jesus het gekies om gedoop te word. Hy het gekies om saam met sondaars daar in die doopwater te staan en te deel en te identifiseer met die vloek wat op ons rus. Wat was die vloek? Gen.3:17-19 ~ ..die aarde (is) deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word. Dit is waarom die Gees, Jesus na die wildernis gelei het – na die plek van dorings en distels. Jesus moes ook ervaar wat ander mense wat onder die vloek leef, ervaar. Hy moes ook behoeftes en honger beleef, want Hy het Homself met ons vereenselwig – ons wat met sweet in ons aangesig, ons brood moet verdien. Wat sou dit beteken het, as Jesus die klippe in brood verander het? Dit sou impliseer dat Hy nie meer verder gewillig sou wees om te deel in ons vloek nie – in ons swaarkry nie. Die mens moet werk vir sy brood, maar Jesus kry Sy brood deur Sy Goddelike krag – Hy sou dus die vloek m.b.v. ʼn wonderwerk gesystap het.

Die Vader se plan was dat Jesus die gevolge van die vloek, ten volle moes ervaar en Hy sou die vloek nie deur wonderwerkende krag vryspring nie, maar deur volkome swak te word en natuurlik, deur uiteindelik te ly en te sterf op Golgota en drie dae later op te staan en sodoende die vloek te oorwin – nie om dit te ontvlug nie. Dit was dus nie die Vader se wil dat Hy klippe in brode moes verander nie.

Wie het hierdie vrae en begeertes in Jesus se gemoed opgeklits? Matteus sê vir ons dat dit die duiwel was. Satan het Jesus se desperate hongerpyne misbruik om Hom te versoek en weg te lei van God se wil vir Sy lewe.

Pastoraal is hier iets enorm belangrik: Satan kondig nie sy teenwoordigheid aan nie en hy versoek normaalweg nie met dinge wat boos is nie. Hy dring by gelowiges daarop aan om goeie dinge, op tye en op plekke en op maniere te begeer, wanneer dit nie binne God se wil is nie.

Kom ek gee vir u ’n voorbeeld: Daar is ’n meisie wat in haar vroeg dertigs is, maar sy is nog ongetroud. Al haar vriende van haar ouderdom is al getroud en sy voel verwerp en eensaam en sy begeer om ook te trou – dit is tog immers die manier waarop sy as ’n vrou geskape is. Sy is desperaat om te trou; sy is desperaat om kinders te hê. Sy is “honger”, want sy het pynlike en dringende, fisiese en emosionele behoeftes – behoeftes wat nie bevredig word nie – sy lei honger. Dit is vir haar moeilik om aan enige iets anders te dink, behalwe hierdie een enorme groot en brandende begeerte.  Sy gaan gereeld kerk toe, maar sy kan nie na die preek luister nie, want haar gedagtes word voortdurend afgelei deur hierdie een gebed in haar binneste, waarin sy smeek om ’n man te kry. Dit is die wildernis waarin God haar geplaas het. Hierdie jong vrou het altyd gesê dat sy net met ’n gelowige sal trou, omdat God se Woord ons daarteen waarsku om nie in die selfde juk te trek as die ongelowige nie (2 Kor.6:14). Sy het keer op keer gebid dat die Here vir haar ’n gelowige man sal stuur, maar God het nie haar gebede beantwoord nie en sy raak al meer en meer “honger”. Nou ontmoet hierdie meisie ’n man wat saam met haar werk – hy is ’n goeie man en ’n ordentlike man en hy hou van haar – en sy hou van hom en daar is “elektrisiteit” tussen hulle. Maar, hy is nie ’n gelowige nie. Eendag vra hy haar om saam met hom uit te gaan en meteens lyk dit vir haar soos ’n geleentheid om te ontsnap van haar “honger” – van haar diep, intense begeerte na ’n man. Uiteindelik! Hier is die geleentheid waarop sy al soveel jare wag! Skielik is haar gedagtes vol vrae: Sal dit regtig verkeerd wees om met hom uit te gaan? God wil tog sekerlik hê dat ek geluk moet vind! As Hy my Vader is wil Hy tog net die beste vir my hê – Hy wil my nie eensaam en ongelukkig sien nie! Dit is tog my Vader wat hierdie man oor my pad gebring het. Ek is ’n gelowige en ek glo dat hierdie Sy soewereine wil vir my lewe is! Hierdie gevoelens en begeertes wat ek koester is tog goeie en rein begeertes – dit is natuurlike gevoelens. Ek is oortuig daarvan dat hy Jesus deur my gaan ontmoet – dit is tog sekerlik waarom hy oor my pad gekom het. Sy wil so graag “ja” sê vir hom, want sy is so “honger”. Juis dit is die punt: Sy honger na iets wat op sigself goed is. Dit ís nie goed dat sy alleen is nie. Kameraadskap; die huwelik; ’n gesin, dit is tog alles goeie dinge en dinge wat binne God se wil vir ons lewe val. Haar begeerte is na iets goeds – nie na iets boos nie.  Wanneer ek as haar herder en leraar met haar praat, kan ek haar tog nie berispe oor haar mooi en goeie begeertes nie. Maar tog, sal ek vir haar moet sê: Dit wat jy in beginsel begeer, is goed – jou begeerte na ’n man is goed en reg, maar hierdie man is buite perke vir jou – hy is nié ’n gelowige man nie en die Woord is duidelik daaroor. Ek sal vir haar moet sê dat Satan besig is om haar goeie begeerte te misbruik, ten einde haar te verwoes – dit is Satan wat haar natuurlike, menslike begeertes uitbuit – hy versoek haar om haar probleem op ’n wyse op te los wat nie God se wil is nie. Satan sê vir haar: Jy kan nie langer vir God wag om jou begeertes te vervul nie – jy moet jou eie oplossing vind. Satan misbruik haar honger en begeerte om haar weg te trek van God af.

Gelowiges kan deur allerlei natuurlike, emosionele, intellektuele en fisiese begeertes versoek word – bv. ’n begeerte na rus; ’n begeerte na vriendskap; ’n begeerte na meer kennis van die Woord; ’n begeerte na vreedsame familie verhoudinge; ’n begeerte na seksuele vervulling binne die huwelik; die begeerte na troos as dit swaar gaan – al hierdie begeertes is goeie begeertes, maar daar is tye dat God ons in situasies plaas, waar ons begeerte na hierdie dinge geblokkeer word en dan voel ons honger en dors en eensaam. Dit is op hierdie punt wanneer Satan gewoonlik kom en ons versoek ten einde daardie “goeie dinge” wat nie nou vir ons beskore is nie, na te jaag en wel op wyses wat nie binne God se wil is nie.

Miskien is hier van julle wat worstel met “goeie begeertes”. Jou huwelik is dalk ver van hoe jy dit graag wil hê, of ver van wat die Woord van ’n huwelik verwag. Jou intieme verhouding is dalk nie soos wat jy dit dalk graag wil hê nie. Jou kinders is dalk rebels en jy begeer dat hulle die Here sal dien.

Toe Jesus in die wildernis was, moes Hy geduldig gewees het – Jesus moes vir God gewag het, want Sy tyd was nie God se tyd nie. Net so moet ons – al voel ons desperaat honger – of dit nou fisiese of emosionele honger is – ons moet leer om te wag. Ons moet vir God wag om ons gebede te verhoor. Ons moet vir God wag om ons behoeftes te bevredig op die wyse en tyd waarop Hy dit wil doen. Soms voel Sy manier baie hard en ongenaakbaar. Soms voel ons dat Hy liefdeloos is. Soms voel dit vir ons dat indien ons nog ’n dag langer moet wag, ons sal sterf, maar geliefdes, dit is die beste weg om te volg – om geduldig op God te wag. Jesus het God se weg gevolg.

·           Jesus is egter ook op ’n tweede wyse versoek. Dit het gekom deur Jesus se verlange na ’n een of ander teken van God die Vader. Ons as mense hou daarvan om bewyse te hê dat God met ons is – dat God ons lief het; dat God ons help. Weereens is dit ’n aanvaarbare en goeie begeerte om te koester. Jesus het hierdie begeertes gekoester, maar daar in die wildernis het Jesus geen tekens gehad nie. God het Jesus deur die Heilige Gees in hierdie verskriklike en verlate plek ingedryf en die Vader het Hom net daar gelos – so het dit ten minste gelyk. Sekerlik het Jesus gebid: Gee My vandag My daaglikse brood, maar daar was geen brood nie.

Vir enige persoon wat lief is vir God, is dit ’n pynlike en baie dikwels ’n onverstaanbare ding, as jy bid en geen antwoord ontvang nie. Dit is pynlik om te bid en jy ’n duidelike “nee” op jou gebed ontvang, maar om te bid en geen antwoord te ontvang nie, is nog pynliker. Dit is pynlik vir ons en dit was pynlik vir die Here Jesus.

Weer word Jesus geteister deur gedagtes – duistere gedagtes. Gedagtes wat vra: Waar is jou Vader nou? As jy Sy Seun is, waarom luister Hy nie nou na jou nie? Het Hy jou vergeet? Hoe kan Hy van jou verwag om Hom te vertrou, as Hy geen teken aan jou gee dat Hy na jou luister nie? Skielik in Jesus se gedagtes is dit asof Hy nie meer daar in die wildernis is nie. Hy is skielik in Jerusalem en Hy is hoog bokant die stad. Dit is asof Hy vasklou aan die hoogste punt van die Tempel. Ons weet dat Hy nie fisies daar was nie.  Markus sê ondubbelsinnig dat Jesus vir die volle veertig dae in die wildernis gebly het. Satan beskik nie oor die mag om mense oral oor die wêreld heen te vervoer nie. Nee, die satan val mense se gedagtes aan (soos die kinders dit sal stel – hy “smokkel met ’n mens se kop”). Hy val mense se gevoelens en emosies aan. Waarskynlik het Jesus (en ek sê dit met uiterste versigtigheid en piëteit) aan hallusinasies gelei a.g.v. Sy honger, want vir veertig dae het Hy geen kos gehad nie en is Hy blootgestel aan die Midde-Oosterse son. Hy was geïsoleer van ander mense – Hy was eensaam. Satan het Jesus se toestand misbruik om Sy gedagtes te vul met vals gedagtes en verskriklike vrees en daarom het dit vir Jesus gevoel dat Hy daar op die hoogste punt van Jerusalem was en Hy ervaar hierdie begeerte om te spring.

Nou waarom was Jesus versoek om dit te doen? As Jesus dit gedoen het, sou Hy God gedwing het om iets te doen – om ’n wonderwerk te verrig t.w.v. Homself. As God leef en as God werklik omgee, sal Hy ’n Engel móét stuur om Jesus te vang voor Hy die grond tref. Die gedagte wat waarskynlik in Jesus se gemoed opkom is die woorde in Ps.91:11-12 ~ Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 12 Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie...

Waar kom hierdie gedagtes vandaan? Gedagtes om iets te doen ten einde God te dwing om iets te doen? Wel, dit kom van Satan. Hy is daartoe in staat om sulke duistere gedagtes in ons gedagtes te plant – selfs in die gedagtes van die vleesgeworde, maar sondelose Christus. Hy het selfs Bybelversies misbruik om Jesus te probeer oortuig dat dit die regte ding is om te doen.

Jesus was dus versoek deur die satan om God te toets – om te sien of God werklik sal doen wat Hy in Sy Woord belowe het – meer nog, om te eis dat God Homself moet bewys!

Die Israeliete was ook so versoek in die woestyn en hulle het “geval” vir Satan se versoeking by Refidim waar daar geen water was nie (Eks.17). Die volk het begin kla en murmureer, want hulle en hul vee het dors geraak. Hulle het kwaad begin raak en hulle het dreigemente begin rondslinger. Hulle het vir Moses gesê: Ons het jou vertou en jy het ons in hierdie wildernis laat intrek – en nou? Wat gaan nou van ons word? Jy, Moses, jy moet nou iets doen om ons te red, want God het ons nou in die steek gelaat – hoe kan jy van ons verwag om in Hom te glo as Hy nie vir ons wys hoeveel Hy omgee en vir ons water gee nie? Die volk was so opstandig, dat Moses bang was dat hulle hom sou stenig.

Indirek was hierdie ultimatum wat aan Moses gestel was, eintlik aan God gestel, want Moses sê vir hulle in v.2 ~ Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef? (N.A.V.); ...waarom versoek julle die HERE? (O.A.V.)Julle mag dit nie doen nie! In hierdie geval het God egter gedoen wat die Israeliete wou gehad het – hulle wou hê dat Hy Homself moes bewys – en Hy hét, want Hy het water uit die rots laat vloei, maar hulle het terselfdertyd God se toorn oor hulle ontketen. Moses hernoem die plek Massa (dit beteken: “op die proef stel”) en Meriba (dit beteken: “rusie”) (v.7). By hierdie plek het die volk dus getwis en God versoek, deur te vra Hy moet bewys dat Hy by hulle is.

Doen ons nie ook maar dikwels presies dieselfde nie? Sukkel ons nie ook soms om God te vertrou omdat ons beleef dat Hy nie luister nie? Kom daar nie tye dat ons twyfel aan ons redding, omdat ons gebede nie volgens ons beantwoord word nie? Het ons nie soms ʼn verwagting dat God iets móét doen soos wat ons dit graag sou wou hê nie?

Hierdie selfde krag van versoeking wat die Israeliete verlei het en ons van tyd tot tyd verlei, het ook daar in die wildernis oor Jesus gekom. Dit was egter veel, veel intenser, omdat Hy Sy Vader so volmaak en intens lief gehad het en die feit dat Hy volmaakte gemeenskap met die Vader geniet het. Wanneer iemand, iemand anders baie lief het, is die seerkry soveel erger wanneer jy in die steek gelaat word deur daardie persoon.

Dit is nie verkeerd, of selfs sondig, om bepaalde dinge van die Here te vra nie, maar dit is sonde om in God te twyfel. Dit is sonde om dinge of antwoorde van God op te eis. Dit is sonde om God uit te daag om Homself te bewys.

Dink net weer vir ’n oomblik terug aan Ps.91 wat Satan gebruik het om Jesus te versoek. In die Psalm staan daar baie duidelik dat hierdie belofte vir dié een geld wat in die skadu’s van die Allerhoogste skuil. Daar ís geen skuilplek vir Jesus of ons by die Allerhoogste as ons aan God wil voorskryf nie.

Indien jy Ps.91 deeglik deurlees, sal jy besef dat hierdie Psalm presies die teenoorgestelde beteken as die verdraaide weergawe of vertolking van die satan. In hierdie Psalm word gesê dat hy (en in hierdie geval Jesus) wat by die Allerhoogste skuil, beskerm sal word teen o.a. dodelike siektes (v.3); teen aanvalle bedags of snags, maar wat hierdie Psalm nié sê nie, is dat God iemand sal beskerm as hy homself doelbewus in gevaar stel en God daardeur as’t ware uitdaag nie. Dit wat die Psalm belowe, is presies wat die Vader gedoen het met Jesus terwyl Hy in die wildernis was – Wie het Hom bewaar van die wildediere in die woestyn en die warm son bedags? Deurgaans deur die veertig dae wat Jesus in die wildernis was, het God se Engele Hom bewaar.

Ps.91 is dus nié ’n uitnodiging aan Jesus, óf aan ons, om onsself in gevaar te dompel nie. Nee, dit is ’n uitnodiging om God te alle tye te vertrou, ongeag ons omstandighede;  ongeag van wat ook al in die toekoms mag gebeur!  Hierdie Psalm sê dus nié vir ons dat ons allerlei tekens moet vra ten einde te glo en te weet dat die Vader met ons is nie. Nee, hierdie Psalm is ’n getuienis wat ons uitspreek dat die Vader altyd met ons is – ek voel dalk nie Sy teenwoordigheid nie; ek sien dalk nie wonderwerke nie; alles verloop dalk nie soos wat ek dit graag sou wou hê nie, maar Hy het my veilig bewaar, anders sou ek nie tot hier gekom het waar ek vandag staan nie.

Die ware betekenis van hierdie Psalm is dus die radikaal teenoorgestelde van wat Satan vir Jesus belowe. Satan sê: God het belowe om jou te bewaar – dus, dwing Hom om dit te bewys. Nee, die Vader doen dit in elk geval – al sien ons nie noodwendig altyd die bewyse daarvan nie.

Dit was die eerste en tweede versoekings. As die Here wil sal ons volgende week na die laaste versoeking kyk, asook Jesus se oorwinning.



Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 05 Oktober 2014