Sunday, October 5, 2014

Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 02 (Sy Versoeking in die Wildernis - 01)

Vir Klankopname - Gaan na:
https://soundcloud.com/kobus-van-der-walt/jesus-se-versoeking-in-die-wildernis-1

1.  INLEIDING:
Ons het ʼn paar weke gelede gekyk na Jesus se doop deur Johannes die Doper. Vanoggend gaan ons begin kyk na Jesus se versoeking in die wildernis. Matteus sê vir ons dat Jesus onmiddellik na sy doop weggevoer is na die woestyn, of te wel die wildernis, waar Hy blootgestel was aan aanvalle deur die Satan. Sy doop het derhalwe onmiddellik gelei tot ’n tydperk van intense versoeking. Die Skrif beklemtoon ook die feit dat, al was dit nie wat die Here Jesus vir Homself sou kies nie, dit nogtans die Vader se wil was vir Sy Seun, daarom dat Matteus ook in ons Skrifgedeelte vir vandag skryf, dat Jesus deur die krag van die Heilige Gees in die wildernis ingedryf was.

Wanneer ons na Jesus se versoeking in die wildernis kyk, wil ek hê dat ons eers na die agtergrond kyk waarteen hierdie versoeking van Jesus afgespeel het en dan gaan ons na vier fasette van Jesus se versoeking kyk (een vandag en drie D.V. volgende Sondag):
·      Die Plek;
·      Die Versoeker;
·      Die Versoekings en
·      Die Oorwinning

Blaai asb. saam met my na Matt.4:1-11.

2.  SKRIFLESING:
Matt.4:1-11 ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn [die Grieks hier is ἔρημος (eremos), wat dalk eerder vertaal moet word met woesteny of wildernis] in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” 4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste  punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” 7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” 8 Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” 11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

3.                     JESUS SE VERSOEKING:
·                                                 Die Agtergrond:
                   Waar begin die verhaal van die Bybel? Dit begin met die Tuin (die Tuin van Eden). Adam was in ’n tuin geplaas en daar het God alles denkbaar aan Adam gegee wat hom genoegdoening kon verskaf – daar was vrugtebome met wonderlike vrugte aan; daar was die diere wat Adam se vriende was; Eva was daar wat sy helper was; Adam het Eva volmaak lief gehad en sy het hom volmaak lief gehad. Die beste van alles – God het afgekom en saam met Adam in die aandwindjie gewandel. In hierdie Tuin het daar geen pyn of hartseer bestaan nie; daar was geen vrees nie; geen gevaar nie; geen honger en dors nie; geen eensaamheid nie; geen siekte of dood nie – alles was volmaak!

                   Alles rondom Adam het getuig van God se liefde en volmaaktheid; van Sy genade en barmhartigheid; van Sy almag, maar ook van Sy heiligheid. Adam het dus al die rede in die wêreld gehad om God lief te hê en om Hom te vertrou en om Hom te gehoorsaam, maar toe het die “Groot Versoeker” die Tuin binnegekom en hy (Satan – julle ken die verhaal) het met Eva gepraat – en wat sê hy vir haar? Hy sê, God gee nie om nie. God is besig om jou te mislei. God sal jou nie toelaat om van die vrugte van die Boom van Kennis te eet nie, want Hy wil nie hê dat jy wys sal word nie. God is nie eerlik nie, want Hy hou allerlei goeie goed weg van jou. Al gee Hy voor dat Hy jou vriend is, is Hy eintlik teen jou. Ons moet in gedagte hou dat Adam die heeltyd daar was, terwyl die slang met Eva praat. Wat gebeur nadat die slang met Eva gepraat het? Sy pluk die vrug – sy bied ook die vrug aan Adam om daarvan te eet en in plaas daarvan dat Adam haar teregwys en in plaas daarvan dat hy weier om daarvan te eet, neem hy die verbode vrug van haar en eet ook hy daarvan.

Adam het geen verskoning gehad nie – God het hom in ’n Tuin met volmaakte omstandighede geplaas, met tekens van God se volmaaktheid en God se goedheid rondom hom – en tog sondig Adam! Hy verander opeens van onskuldig tot skuldig en hy trek God in twyfel, terwyl daar geen rede was om te twyfel in God nie, want al die getuienis van wie en wat God is, was oral rondom hom. En die straf op sy sonde? Hy sou sterf – inteendeel, van die oomblik dat hy die verbode vrug geëet het, was hy reeds in die oë van God morsdood en hierdie wêreld het ’n vervloekte plek geword – God sê aan Adam in Gen.3:17 ~ ...die aarde (is) deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit.  Adam is ’n vervloekte en voortaan sal hy en sy nageslag op ’n vervloekte aarde leef! Hulle sal uit die Tuin gedryf word in ’n wêreld in, wat ’n wildernis sal wees.

Om op te som: Adam was versoek in ’n Tuin – ʼn volmaakte plek en ten spyte van die feit dat God alles aan hom in die Tuin gegee het om hom gelukkig te maak, faal hy nogtans en is hy ongehoorsaam aan God en daarom ontvang hy die doodsvonnis en word hierdie wêreld ’n wildernis.

Dan, honderde jare later het God die mensdom weer getoets, maar hierdie keer was dit nié in die Tuin nie – nie in ʼn volmaakte omgewing nie – hierdie keer was dit in die woestyn – in die wildernis.

God kies vir Hom een nasie – die nasie van Israel en God lei hulle uit Egipte na die wildernis en daar het Hy hulle getoets vir veertig jaar lank, ten einde vas te stel of hulle aan Hom gehoorsaam sou wees. Dit was ’n moeilike plek om te oorleef – daar groei niks nie, net dorings en distels, maar nogtans gee God aan hulle wonderlike dinge – Hy betoon Sy liefde en genade aan hulle daar in die wildernis – Hy het manna en kwartels vanuit die hemel vir hulle gegee en water uit die rots, sodat hulle nooit honger of dors geraak het nie. Daar was ’n wolkkolom oor die kamp in die dag en ’n vuurkolom in die nag. Hy het belowe dat hul klere nie gedaan sou raak nie – vir veertig jaar!

God toets hulle egter daar in die wildernis. Hy het hulle getoets deur pynlike gebeurtenisse, maar Hy het hulle ook getoets deur die betoning van Sy goedheid. Waarom het Hy dit gedoen? Om te sien of hulle Hom sou vertrou en of hulle deur dik en dun aan Hom gehoorsaam sou wees – onder alle omstandighede; ten alle tye.

Hy wou egter ook aan hulle toon dat Hy ’n God is waarop hulle kon steun en Wie hulle kon vertrou – en wat het gebeur? Die Israeliete het die toets daar in die wildernis geheel en al gefaal. Daar was tye dat hulle kwaad geword het vir God en Hom kwalik geneem het vir hul omstandighede. Daar was tye dat hulle wou teruggaan na Egipte – die land waaruit hulle verlos is; hulle het ’n goue kalf aanbid; hulle het gedreig om Moses te stenig; hulle het geweier om die Beloofde Land binne te gaan en so kan ons aangaan. Die ganse volk van Israel het die “toets gedruip”! Daarom dat bykans almal van hulle daar in die wildernis onder die oordeel van God gesterf het.

Sien julle wat daar gebeur het? God toets die volk Israel daar in die wildernis, maar Hy toets ook die ganse menseras, want indien die Israeliete die toets sou druip, sou alle mense die toets druip, want ons is nie anders as hulle nie. Wanneer ons deur Eksodus en Numeri lees, lees ons, ons eie verhaal. Ons lees van die kere wat óns God blameer het; van die kere wat óns ongehoorsaam was aan God; wat óns geweier het om God te vertrou; van die kere wat óns afgode aanbid het. Ons weet wat gebeur het – ons het keer op keer op keer gesondig.

Ons praat derhalwe van twee geleenthede waartydens die mens getoets is – Adam was in ’n volmaakte omgewing geplaas en getoets, maar hy het gefaal en gesondig. Israel was getoets in ’n wildernis – ’n wildernis waar Israel versorg en beskermd was, maar nogtans het hulle gefaal. Adam het gefaal en elke mens daarna het deur hom gefaal. Israel was getoets en hulle het gefaal en daardeur het elke volk deur hulle gefaal.

Dit wat die agtergrond betref.

·      Die Plek van Jesus se Versoeking:
Kom ons kyk dan eerstens na die plek van Jesus se versoeking en dan sal ons D.V. volgende week na die res kyk.

Kan julle onthou wat die Stem tydens Jesus se doop gesê het? Dit is my geliefde Seun (Matt.3:17). Adam was God se seun deur die skepping (Luk.3:38) en Israel was God se seun deur die verbond – in Hos.11:1 sê God ~ Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep. Jesus was God se Seun van nature – Hy was die ewige Seun van God wat mens geword het, maar nou dryf die Gees van God, die Seun van God die wildernis in – na die plek van vervloeking. Jesus gaan getoets word deur God en Hy gaan versoek word deur Satan. Jesus gaan egter nié op dieselfde wyse versoek word as Adam, waar alles rondom Hom perfek was nie. Nee, Hy gaan in die wildernis versoek word. Adam het ’n Helper aan sy, sy gehad – Jesus gaan stok siel alleen wees. Adam was voorsien van alles wat hy nodig gehad het en nog meer, terwyl Jesus ontneem gaan wees van alles. Selfs die diere was Adam se vriende, terwyl Markus vir ons vertel dat Jesus saam met die wilde diere in die wildernis was ~ Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg (Mark.1:12-13).

Jesus gaan ook nie soos die Israeliete versoek word nie – hulle het voordurend die wolk- en vuurkolom by hulle gehad, maar Jesus gaan in ’n plek versoek en getoets word, waar daar geen teken van God se teenwoordigheid is nie. Daar in die wildernis gaan geen teken vir Jesus wees dat die Vader omgee vir Hom nie. Wanneer Hy in die nag gaan slaap, gaan daar geen vuurkolom wees om Hom op te pas nie – Jesus was met ander woorde op ’n manier versoek, waarop géén ander mens ooit versoek was of sal wees nie. Die Heilige Gees dryf Jesus in ’n plek in waar Hy gestroop was van alle vorme van gerief en sekuriteit en versorging en liefde. Hy het honger geword; Hy het koud gekry; Hy het voortdurend allerlei gevare getrotseer; Hy was eensaam en daar was geen teken dat Sy Hemelse Vader omgegee het nie. Jesus het daar in die woesteny desperaat geraak, want die mees desperate en negatiewe gedagtes het Hom geteister.

4.  AFSLUITING:
Ek ken nie regtig enige een van julle se “diepste binneste” nie en hier is van julle vandag wat dalk voel dat jy ook in die wildernis is – dalk voel jy al jare so en dalk voel jy dat God jou daarheen gedryf het – dat Hy jou in ’n baie pynlike en baie eensame en ’n ongenaakbare plek geplaas het en dat jy ook versoek is – jy ervaar dalk dat jy versoek is om wanhopig te raak; jy is dalk versoek om in God te begin twyfel; jy is dalk versoek om net op te gee en jy het gewonder of die Here regtig verstaan hoe swaar jy kry – hoe swaar daardie versoeking is; of Hy regtig verstaan hoe dit is om “in jou wildernis” te wees.

Onthou egter dat Jesus presies weet hoe dit voel en hoe dit is om in die wildernis te wees – inteendeel, onthou dat Hy die wildernis ervaar het soos geen mens dit nog ooit ervaar het nie – selfs ons ergste “wildernis ervarings” denkbaar is nie naastenby soos Sy “wildernis ervaring” nie. In die ergste denkbare situasies in die woestyn, het die Israeliete steeds God se teenwoordigheid ervaar en het hulle iets van God se vertroosting en versorging en beskerming geniet en God doen presies dieselfde vir ons ook – ons is nooit volkome alleen nie – maar nie Jesus nie – Hy was van God verlate.

Die meeste van ons het tog iewers familie en sommige van ons het tog iewers, ’n paar Christenvriende wat omgee vir jou en wat bid vir jou. Iewers was daar vir die Israeliete ’n oasis in die woestyn – iewers is daar ’n oasis in jou lewe. Jesus het egter geen oasis gehad nie. In Sy wildernis het Hy niemand gehad nie. In jou en my slegste oomblikke is daar tog iets wat ons kan doen om ons woesteny te verlig – al is dit ook net om ’n koppie tee vir jouself te gaan maak. Jesus het egter niks gehad om Hom te vertroos en te versterk nie – Hy was dieper in die wildernis en die duisternis as wat ek en jy ooit kan wees.

Jesus verstaan eensaamheid; Hy verstaan pyn; Hy verstaan hartseer; Hy verstaan verwerping; Hy verstaan vrees; Hy verstaan wanneer God geen teken gee dat Hy omgee nie. Hy verstaan hoe desperaat jou situasie is. Hy verstaan hoe verlore jy dalk is. Hy ken jou wroeginge en jou uitroepe, maar meer belangrik nog – Hy verstaan dit – My God, My God, waarom het U my verlaat (Mark.15:34).

Dit is die eerste punt wat ek wil maak – Waar was Jesus versoek? Hy was in die wildernis versoek. Jesus het in hierdie vervloekte wêreld ingekom; in hierdie wildernis-wêreld – ’n wêreld wat vervloek is deur Adam se sonde en Jesus moes Sy Vader in hierdie wildernis-wêreld gehoorsaam en Hy het ter wille van jou en my en veral ter  wille van die eer van God na die wildernis gegaan om daar versoek te word, sodat Hy met ons versoekings en beproewings kan identifiseer en daarom kan ons ten alle tye die vrymoedigheid neem om na Hom te gaan, omdat Hy reeds die “pad geloop” het en daarom verstaan Hy.

As die Here wil, sal ons volgende week verder kyk na Jesus se versoeking in die woestyn en dan spesifiek na die Versoeker; die Versoekings en Jesus se Oorwinning.



Boodskap gebring  deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondagoggend 28 Oktober 2014



[1]Met erkenning aan en toestemming van Stephen Rees (Manchester, Engeland).