Sunday, August 24, 2014

Psalm 62 (“Rus in God Alleen”)

1.     INLEIDING:
       Iemand het nou onlangs in die pers gesê dat witmense in Suid-Afrika, ʼn bedreigde spesie is en dan wil ek daarby voeg – praat nie eens van mense wat Gereformeerd in hul teologiese oortuigings is nie en dan kan ons nóg verder gaan en dalk ook sê, dat Gereformeerde Baptiste onder spesifiek die Afrikaner ʼn bykans uitgestorwe spesie is.
Ek dink nie ek oordryf as ek sê dat die meeste indien nie almal van ons nie, deesdae baie gereeld bedreig voel, veral ook as ons sien hoe haat en wantroue tussen rasse, dikwels oorkook en veral toeneem. In ʼn wetenskaplike studie wat nou onlangs deur die “Gauteng City-Region Observatory (GCRO)” in samewerking met die Universiteit van die Witwatersrand uitgevoer is, is bevind dat die hoeveelheid swartmense wat sê dat hulle witmense nooit sal vertrou nie, toegeneem het van 68% in 2009 tot 73% in 2013; witmense wat swartmense nie vertrou nie het in die ooreenstemmende tyd van 40% tot 44% toegeneem. Kleurlinge en Indiërs stem saam – die persentasie onder hulle is onderskeidelik 55% en 61% (http://citizen.co.za/228709/blacks-whites-dont-trust-survey/).
Met sulke statistiek, kan ʼn mens baie maklik sê, “wat se kans het ons op versoening en vrede? Wat se kans het ons dat geweld op wittes sal afneem, ens? Kan die politici, of die weermag of polisie aan ons enige sekuriteit, of uitkoms bied?”
As ons as gelowiges egter so redeneer, is dit die verkeerde reaksie – As ons dit vra, is dit die verkeerde vrae wat ons vra, want ongeag wat die situasie ook al mag wees; ongeag wat wetenskaplike navorsing en statistiek ook al mag sê, ons moet op ʼn ander plek wees en ons moet op ʼn ander plek soek vir oplossings en gemoedsrus. Dawid het ʼn bietjie meer as 3000 jaar gelede, ʼn soortgelyke situasie ervaar en hy verskaf aan ons die oplossing en antwoord.

2.     SKRIFLESING:
Ps.62:1-12 ~ Vir die koorleier. ’n Belydenis. ’n Psalm van Dawid.
2Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. 3Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan. 4Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak, ’n man wat reeds is soos ’n muur wat wil omval, ’n klipmuur wat omgestoot word? 5Hulle probeer my uitwerk; hulle skep behae in leuens; met die mond seën hulle, in die hart vervloek hulle.  Sela
6Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. 7Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. 8God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. 9Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit!
God is vir ons ’n toevlug.      
Sela
10Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks. 11Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie. As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie. 12Een ding het ek God hoor sê, nee, twee: dat net God mag het 13en ’n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

3.     SAMESTELLING EN KONTEKS:
       In die meeste ander vertalings van die Bybel lees ons die opskrif van hierdie Psalm soos volg, “VIR die musiekleier; op die wysie van: Jedútun. ’n Psalm van Dawid.” Hierdie Psalm van Dawid is waarskynlik deur ʼn baie bekende koormeester in Dawid se tyd, getoonset – ʼn man van Jerusalem met die naam Jedútun.

       Die Psalm is in drie dele, of stansas van vier verse elk verdeel, nl. vv.2-5; 6-9 en 10-13.

       Dit is baie moeilik om ʼn datum aan hierdie Psalm te koppel en baie kommentators waag dit nie eens om daaroor te spekuleer nie.

4.     1ste STANSA – DAWID SE VERTROUE (vv.2-5):
In die eerste stansa van die Psalm spreek Dawid ʼn weeklaag (“lament”) uit, maar sy vertroue oorskadu egter sy weeklaag en hy spreek selfs verbasing uit oor die situasie.

·         God is sy sterkte (vv.2-3):
Dawid en die volk word bedreig deur ʼn vyand – dalk die Babiloniërs, wat hulle wil vernietig en wegvoer in ballingskap, of mense in sy binnekring, wat ek dink die waarskynlike vyand hier ter sprake is – ons sal netnou sien wie dit hoogs waarskynlik was (v.5).

Dawid wag egter in stilte en vertroue op die Here en dit is nie soseer op grond van sý “groot” geloof nie, maar eerder op grond van wie en wat God is, want Dawid vermeld voortdurend in hierdie kort Psalm, bepaalde attribute (karaktereienskappe) van God en omdat sy God is wie Hy is, plaas hy sy vertroue in niemand anders nie.

In v.2 sê Dawid dat hy net by God rus vind. Die OAV sê dat Dawid “stil” is ~ Ja, my siel is stil tot God. Die ESV sê ~ For God alone my soul waits. Hoe moet ons hierdie woord “rus” of “stil”, of “wag” verstaan? Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, is דּוּמִיָּה [duwmiyah /doo·me·yaw/] en kom van die woord דָּמָה [damah /daw·mam/]. Dit kan dus beteken dat Dawid bloot net kalm is, maar dit kan ook beteken dat hy in stilte wag op ʼn antwoord of reaksie van God. Hoe dit ook al sy, Dawid wil vir ons hier sê dat hy in stilte (van stem) en kalmte (van hart), in vertroue wag op die Here. Dawid is dus vas oortuig dat God hom sal bevry van sy vyand en dit is die punt van hierdie tweede vers – “my redding kom van God alleen”.

Vers 3 is gelaai met beskrywings van God se attribute en dit vorm die basis vir sy vaste vertroue en geloof in God. Ook hierdie vers begin soos die vorige een met, net Hy....

       Daar is drie eienskappe van die Here wat Dawid hier besing. Eerstens sê hy dat die Here, sy rots is en dit impliseer dat God die Voorsiener is van Dawid se sterkte en sy geloof, so asof hy sê dat hy sy lewe bou op ʼn vaste rots. Dit herinner aan Jesus se woorde in Matt.7:24 ~ Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Ook Jesus se woorde in Matt.16:18 ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

       Die tweede uitdrukking wat hy gebruik is, ...my redding. Hy het hierdie uitdrukking ook in v.2 gebruik, maar daar het hy sy eie redding uit die vyand se hande beskryf – hier verwys hy egter nou na God se reddende genade – God is verteenwoordigend van alles wat redding impliseer – alle redding kom dus van God en nét van Hom alleen. God is dus Dawid se Rots van redding.

       Die derde uitdrukking is ...my veilige vesting. Die meeste Engelse vertalings praat hier van “my fortress”, of “my high tower”. Dit alles dui maar net ʼn plek aan waar jy veilig is en beskerming ervaar. Dawid wil dus hierdeur sê dat God sy Beskermer is en dat hy in Hom veilig is en daarom kan hy met sekerheid sê dat hy vas en stewig staan; dat hy nie sal wankel soos die OAV sê nie. Die meeste Engelse vertalings sê, “I shall not be greatly shaken” en die nuwe ADV (Afrikaanse Direkte Vertaling) vertaal dit met, ...ek sal nie maklik wankel nie. Dawid sê dus in v.3 dat hy nie sal wankel nie, omdat sy beskerming en redding geleë is in die stewige Rots, God Almagtig.

·         Sy krisis (vv.4-5):
       In vv.4-5 verwys Dawid na die krisis wat hy in die gesig staar. Hy begin deur ʼn retoriese vraag te vra ~ Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak... Dawid wys derhalwe daarop dat hy die vyand se primêre teiken is – hulle wil hom onttroon en dood hê, trouens die Hebreeus hier is baie kru en sê eintlik dat sy vyande hom wil slag.

       Die ergste van alles is dat Dawid in homself ook aan sy einde voel – dalk was hy depressief oor iets, of dalk sieklik, want hy beskryf homself as ~ ...’n man wat reeds is soos ’n muur wat wil omval, ’n klipmuur wat omgestoot word? Hierdie uitdrukking van Dawid staan in skrille kontras met wat die Here in Jer.15:20 deur Jeremia t.o.v. die koningshuis belowe het ~ Ek maak jou vir hierdie volk ’n bronsmuur waardeur hulle nie kan dring nie; hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou help en jou red

       Dawid gaan egter voort en nou praat hy nie meer met die vyand nie, maar ván die vyand en hy sê dat hulle ʼn behae daarin skep om hom van sy koningskap te stroop (ESV ~ They have counseled only to thrust him down from his high position). Hy sê dat hulle leuens oor hom vertel ten einde hom in onguns te bring. Dit wil dus lyk asof sy vyand tog dalk mense in sy binnekring is, want indien die Babiloniërs leuens oor hom sou versprei, sou Dawid se eie mense dit tog nie geglo het nie. Koning Dawid sê dat hierdie mense dubbelhartig is – hulle is vals en huigelagtig, want voor hom seën hulle hom (ʼn buitelandse mag sou dit tog ook nie gedoen het nie), maar agteraf vervloek hulle hom – die Hebreeuse woord vir vervloek sê so lekker – קָלַל [qalal /kaw·lal/].

Sela – wees stil en oordink dit.

5.     2de STANSA – DAWID SE VERMANING (vv.6-9):
       Ons sien dat hierdie tweede stansa ʼn basiese herhaling van die eerste stansa is – in die eerste word die fokus gevestig op Dawid se vyande en die feit dat hy stil geword het en rus in die Here gevind het. Hierdie tweede stansa wys egter dat stilte nie onaktief is nie, want behalwe dat dit onrealisties is om bloot net agteroor te sit en alles net oor te laat aan God (“let go and let God”), het ons ook ʼn verantwoordelikheid – innerlike vrede en kalmte is noodsaaklik ja en dit moet deurgaans deur jou beproewing in stand gehou word en hier kom ons aandeel ter sprake – ons moet ons “rus in die Here”, in stand hou en dit doen ons o.a. om met God daaroor te praat en “saam met Hom te werk” daaraan.

       Dawid begin v.6 met dieselfde woorde as v.2 ~ Net by God vind ek rus. Waarskynlik vermaan hy homself en herinner hy hom weer daaraan dat hy op God moet vertrou, want sy vertroue het dalk vir ʼn oomblik die wyk geneem en het die donkerwolke van beproewing dalk sy vertroue in God ondermyn. Hierin lê ʼn geweldige les vir ons en dit herinner so sterk aan die boodskap van Habakuk ook – wanneer dinge té erg raak – herinner jouself aan wie God is en wat Hy vir jou gedoen het – vestig opnuut weer jou vertroue in die Rots, want net Hy kan jou red en net Hy kan ʼn veilige vesting verskaf waar jy stewig kan staan teen die aanslae.

       Hierdie oortuiging van Dawid word herhaal in v.8, waardeur hy homself opnuut weer herinner daaraan dat sy heil by God geleë is.

       Dawid eindig hierdie tweede stansa, deur sy volksgenote te vermaan om ook op die Here te wag en Hom ten alle tye, met alles te vertrou. Wat meer is, hy moedig hulle aan om hul harte voor God uit te stort, omdat Hy hulle Vader is en daarom kan hulle na Hom gaan – hulle moet dus net soos hy, glo en vertrou, maar ook bid en hul omstandighede met God deel.

Sela – wees stil en oordink dit.

6.     3de STANSA – DAWID SE WAARSKUWING (vv.10-13):  
       In die derde en laaste stansa waarsku Dawid dat mense nie hul vertroue in materiële besittinge en dan spesifiek geld moet plaas nie, maar in die almagtige en liefdevolle God en Vader.

       Hy sê dat die mens verganklik is en dat hy in vergelyking met God, niks is nie – soveel te meer materiële dinge en daarom baat dit niks om op jou rykdom te steun in tyd van nood nie (of jou geleerdheid; of wat ook al), want dit beteken absoluut niks nie en as God dan almagtig is, is Hy tog ver, ver verhewe bo die mens en materiële dinge, waarom dan nie liewer jou vertroue in Hom plaas nie? Die mens het God nodig, want net Hy is betroubaar en almagtig en liefdevol! God sal ongetwyfeld elkeen beloon wie sy vertroue in Hom plaas en daarom moet ons nie allerlei planne beraam om ons eie verlossing uit onaangename situasies te probeer bewerkstellig nie – ons moet geduldig wag op Hom vir redding.

7.     TOEPASSING:
Hierdie Psalm is ʼn pragtige getuienis van iemand wat sy vertroue in die Here plaas. Die Psalmis het homself hier in ʼn lewensbedreigende situasie bevind, maar hy is nie gevul met angs en vrees nie. I.p.v. ʼn vreesagtige optrede, plaas hy sy vertroue in die Here om uitkoms te gee. Hy weet dat die Here die nodige krag en sekuriteit kan verskaf om deur te druk, want hy weet dat net God alleen dit kan doen, maar hy weet dit omdat hy sy Maker ken, maar meer nog as dit, hy weet dat die Here sy volk se Verlosser is, want reeds in 2 Samuel het hy verskeie beloftes van God ontvang.

Eerstens het God Sy belofte van ʼn land vir Sy volk wat Hy tydens die eerste twee verbonde gemaak het, herbevestig aan Dawid – 2 Sam.7:10 ~ Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie. Die Here gaan egter in vv.12-13 voort en hy belowe aan Dawid dat sy seun Salomo hom sal opvolg en hy sal die verwoeste Tempel weer herbou – ʼn huis vir God se Naam.

Die belofte gaan egter voort en die Here sê vir Dawid in v.13 en 16 van 2 Sam.7, dat Hy die troon van Sy Koninkryk vir ewig sal bevestig en dat dit vir altyd sal vasstaan. Hierdie is natuurlik ʼn verwysig na die Messias, Jesus Christus wat die Seun van Dawid genoem word (Mat.21:9). Hierdie feit is heelwat later deur die Engel bevestig wat Maria besoek het ~ Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie” (Luk.1:32-33). Lukas skryf ook in Hand.13:34
die volgende ~ God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het.

       Die punt van Psalm 62 kan as volg saamgevat word: God alleen is in staat om die getroues te red van hul destruktiewe en boosaardige vyande en net Hy kan Sy kinders veilig bewaar en red, want Hy en net Hy alleen is beide Verlosser en Regter. Hy is dus die Een wat red, maar Hy is ook die Een wat Sy kinders uiteindelik sal vergoed vir hul getrouheid.

       Paulus sê in sy brief aan die Filippense die volgende ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Fil.4:4-7).

       Wanneer vrees en onsekerheid; twyfel en swaarkry in ons harte wortel skiet, moet ons, onsself herinner daaraan dat God almagtig is en dat die onmoontlike vir Hom niks is nie. Hy is die soewereine Een wie die lotgevalle van die mensdom bepaal – ook ons sʼn. Hy het ons lewens in Sy hand en Hy belowe in  Joh.10:28 ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Niks is vir God onmoontlik nie; Hy is die liefdevolle en genadige Koning wat ons, in ons donkerste ure sál ondersteun en dra – ons moet uitroep om hulp en glo en weet dat Hy ons lief het en ons nié sal verlaat nie.

Om op te som dan: Wanneer ons beproef word sê Dawid vir ons, dat ons basies twee dinge moet doen:
·           Erken jou afhanklikheid van God en roep v.7 in herinnering ~ God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.

·           Stort jou hart voor God uit. Dit impliseer openheid en eerlikheid voor Hom en daarvoor is v.8 vir ons ʼn riglyn ~ Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ’n toevlug. Sela.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 24 Augustus 2014