1. INLEIDING:
Tot
nou het ons gesien dat Habakuk twee keer sy hart teenoor die Here oopgemaak het
– die eerste keer het hy gevra waarom die Here so traag was om hom te antwoord.
Toe God wel antwoord sê Hy vir Habakuk dat Hy die Babiloniërs gaan stuur om Sy
volk te straf. Hierdie was nie die antwoord wat Habakuk graag wou hoor nie,
waarop Habakuk vir die Here gevra het hoe Hy so iets kon doen – ʼn goddeloser
volk as sy eie wat gebruik word deur die heilige God om sý volk te straf! Dit
was onverstaanbaar vir Habakuk.
In hoofstuk 2 antwoord God hom weer en
die sentrale boodskap van Sy antwoord is ook die sentrale boodskap van die boek
en ook een van die sentrale temas van die ganse Bybel, nl. Hab.2:4 ~ ...die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe (OAV). Dan eindig God se antwoord met die woorde van 2:20 ~ Die Here is in
sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!
Uiteindelik verstaan Habakuk – hy
verstaan dat God heilig is en dat Hy soewerein is en Habakuk vind berusting,
waarop hy “uitbars” in lofprysing en aanbidding voor die Here!
2.
SKRIFLESING:
Hab.3:1-19 ~ ’n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van
’n klaaglied. 2Here, ek het gehoor wat van U vertel
is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons
tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn 3God
kom van Teman af, die Heilige kom van Paranberg af. Sela. Die hemelruim is vol
van sy majesteit, die aarde vol van sy roem. 4Hy kom met die glans
van die lig, weerligte blits uit sy hand, sy hand so vol mag. 5Voor
Hom uit gaan die pes, in sy voetstappe volg die dood. 6Wanneer Hy
staan, skud die aarde; wanneer Hy kyk, bewe die nasies. Die eeue-oue berge
verkrummel, die ou-ou heuwels val inmekaar, die berge waaroor Hy van ouds af
gewandel het! 7Ek het gesien hoe onheil die tente van Kusan tref,
hoe die tentdoeke van Midian bewe. 8Was U kwaad vir die riviere,
Here? Het u toorn teen die strome ontvlam? Het die see U woedend gemaak dat U
op u perde gery het, op die strydwaens waarmee U oorwin? 9U het u
boog uitgehaal en met ’n eed die opdrag aan die pyle bevestig. Sela. U het die
aarde oopgebreek en riviere laat stroom. 10Toe die berge U sien, het
hulle gebewe, stormwaters het verbygespoel, die diep water het gedreun en sy
golwe hoog laat opslaan. 11Toe u vlieënde pyle blits en u blink
spies flikker, het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek. 12In
u gramskap stap U oor die aarde, in u toorn vertrap U die nasies. 13U
het uitgegaan om u volk te red, om u gesalfde koning te red. U verpletter die
aanvoerder van die goddeloses, U stroop hulle kaal van kop tot tone. Sela. 14Met
sy eie pyle deurboor U die aanvoerder wanneer sy manskappe uitstorm om ons te
verstrooi terwyl hulle jubel soos dié wat die ellendiges in hulle skuilplekke
verslind.15U trek deur die see met u perde sodat die magtige waters
bruis. 16Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het
gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal
ek geduldig wag dat die dag van die oordeel moet kom oor die volk deur wie ons
aangeval is. 4
Vir die koorleier. Met snarespel.
3.
GEBEDSANG (3:1,
19b):
Ons sien in vv.1 en 19b dat hierdie gebed gesing
was ~ ... Op die wysie van ’n klaaglied en in v.19b, waar die gebed afgesluit word met die
woorde ~ Vir die koorleier. Met snarespel. Ons
sien dit ook in die “drie selas” wat in vv.3, 9 en 13 gebruik word. Daar
bestaan ʼn verskeidenheid van verklarings vir hierdie woord, maar die mees
waarskynlike is dat dit ʼn aanduiding was aan
die sangers of
koor wat die lied gesing het, dat hulle aan die einde van daardie betrokke
versreël vir ʼn wyle moes stilbly en nie sing nie, sodat beide die sangers en die
luisteraars, die woord wat pas gesing was kon oordink. Hierdie “selas” in
Habakuk se loflied staan ook geskryf aan die einde van die drie hoofopskrifte
of verse (stansas) van sy lied. In
vv.2-3 hoor ons van sy ontsag vir God. In vv.4-12 getuig hy van God se almag en
in vv.13-15 gaan dit oor God se getrouheid en dan sluit hy sy lied af met waarskynlik
een van die beste en roerendste geloofsverklarings, van alle tye (vv.16-19), hoewel lg. nie gepaard gaan met ʼn “sela” nie
Hierdie gebed van Habakuk het so ʼn
geweldige impak op die Judeërs gemaak, dat dit deel geword het van die Jode se
liturgiese aanbidding. Hierdie gebed is dan ook later deur die Judeërs gebruik
as gebed wanneer die volk ʼn nasionale ramp verwag of ervaar het.
Wanneer ʼn mens na hierdie gebed kyk, is
dit duidelik dat Habakuk berusting gevind het en dat hy geen verdere klagstaat
teen die Here kan of wil inbring nie, trouens hy gebruik nou ook hierdie gebed
om sy volk te lei in aanvaarding en onderwerping aan God se regverdige, maar
ook genadige verordeninge wat die Here aan hom geopenbaar het.
4.
GOD
WORD VERHEERLIK (vv.2-15):
Op
grond van wat Habakuk weet en gehoor het, van wat God in die verlede gedoen
het, reageer hy op drie maniere.
·
Habakuk
se ontsag vir God (vv.2-3):
Hy is vervul met ontsag en dit toon sy persoonlike
reaksie op God se krag en soewereiniteit. Ons het in 1:5 gesien dat God aan hom
gesê het dat hy sy oë moet oopmaak en kyk wat die Here onder die nasies van die
wêreld doen en nou verstaan Habakuk dit en besef hy opnuut weer dat hy met die
Lewende God te doen het en waarskynlik het hy hier terug gedink aan die pad wat
die Here met die Judeërs deur die eeue geloop het en die talle kere wat Hy
hulle gered het uit allerlei verknorsings en beproewing, maar ook staan hy
opnuut in verwondering oor die Here se bekendmaking van Sy oordele wat teen
Israel sowel as die Babiloniërs, aan die kom is.
Wat die profeet dus van die Here gehoor
en besef het, laat hom nie in vrees soos ʼn ongelowige nie, maar in verwondering
en aanbidding oor die grootsheid en almag en genade en soewereiniteit van God.
Hier het Habakuk waarskynlik gedink aan die woorde van die Psalmdigter wat gesê
het ~ O God
wat aan my reg verskaf, antwoord my as ek roep. Toe ek in die nood was, het U
my bevry. Wees my ook nou genadig en hoor my gebed! (Ps.44:2). Hy herinner hom dus self aan al die kere dat God hom en hulle as volk
gered en gedra en versorg het en dit versterk sy geloof en hy besef dat God dit
weer sal doen.
In v.3a getuig die profeet van God wat
van Teman en van Paranberg af gekom het. Nou waar is Teman en Paran? Teman is
in die suidelike deel van Palestina geleë en die Paranberge nog verder suid en
wel op die oostelike grens van die Sinai Skiereiland – die plek waar die volk
Israel skuiling gevind het van die Egiptiese weermag wat hulle agtervolg het,
maar dit is ook die plek waar die Berg Sinai geleë is – die berg waar God Sy
wette aan die volk gegee het – dit is ook die plek waar God begin het om Sy
volk te lei, te beskerm en te veroordeel en as volk te vorm. Dit is daar in die
suide dat God se magtige teenwoordigheid ervaar en gesien is.
Hy besef egter ook terselfdertyd dat God
ʼn heilige God is en daarom ook ʼn regverdige God – ʼn regverdige God wat sonde
móét straf, want omdat Hy heilig is, kan Hy nie duisternis verdra nie en daarom
moet diegene wie Hom verwerp, gestraf word en dit sluit die Judeërs in, maar
ten spyte van die feit dat God sy volk gaan straf, getuig hy van Sy Maker se
majesteit en roem in v.3b ~ Die hemelruim is vol van sy majesteit, die aarde
vol van sy roem. Met hierdie gedagte vind ons die eerste “sela” in hierdie lied – so
asof hy wil sê, wees stil en oordink hierdie feit en wat dit vir jou inhou
– God is ʼn ontsagwekkende God!
·
God
se almag (vv.4-12):
Die profeet kom in vv.4-12 by sy tweede
stansa of vers van sy loflied, wanneer hy weer “sela” sê (v.9) en wys
hy sy lesers op God se almag en sê hy daardeur dat hulle bietjie hierdie
karaktereienskappe van God moet oordink – Hy wat hulle vyande vernietig; Hy wat
geskep het; Hy wat wonderwerke doen en beskerm – Hy wat oordeel – bedink dit –
bedink Hóm en stel jou vertroue in Hóm en aanbid en verheerlik Hóm.
In vv.4-5 sê Habakuk
dat wanneer God kom, kom Hy o.a. om te oordeel en dit gaan gepaard gaan met weerligstrale
en pes, dood en allerlei ander strawwe – dink aan die tien plae in Egipte (Eks.7:1-12:32), maar die Israeliete het dit self ook ervaar wanneer hulle afvallig
geraak het – dink aan Eks.16:20 waar daar miet in die manna gekom het, omdat
die volk nie die manna hanteer het soos beveel was nie; dink aan Num.21:6 waar
baie Israeliete gesterf het nadat slange hulle gepik het, omdat hulle in
opstand gekom het oor hulle ongelukkigheid dat God en Moses hulle uit Egipte
gelei het. Dink aan die vele veldslae teen die vyand wat hulle verloor het (bv. Num.21).
Vv.6-15 is baie moeilik om te verklaar,
omdat dit in poëtiese taal geskryf is en tog is dit duidelik genoeg omdat dit
handel oor God se verdediging van Sy volk toe Hy hulle uit Egipte gelei het en
ook terwyl hulle in die wildernis rondgeswerf het en deurentyd word na God se
almag verwys – kom ons kyk daarna:
In v.5 verwys hy na die pes wat die
Egiptenare getref het toe die Farao geweier het om die volk te laat trek. In
v.6 herinner hy homself en die volk aan die gebeure by die Sinaiberg toe God
opdragte aan Moses gegee het (hou in gedagte dat die volk elke woord
gehoor het wat God vir Moses gesê het- Eks.19:9) en dan lees ons
in Eks.19:16-19 ~ Met dagbreek die
derde dag was daar donderslae, weerligte en ’n donker wolk op die berg. Daar
was ook die sterk, helder klank van ’n ramshoring. Die hele volk in die kamp
het gebewe. 17Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor
God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18Die
hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het
opgetrek soos die rook van ’n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, 19en
die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het
gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.
Habakuk sien in v.7 twee Bedoeïene vyande
(die
tente van Kusan), nl. die
Kussiete en die Mideaniete wat gedurig ʼn doring in Israel se vlees was en hoe
die volk hulle gevrees het, maar Kusan was uiteindelik deur Otniël verower (Rigters 3:10) en die Mideaniete deur Gideon (Rigters
6-8).
In v.8 vra Habakuk weer ʼn retoriese vraag
en dit was waarskynlik n.a.v. die feit dat die heidenvolke daarop geroem het
dat die natuur oor goddelike magte en attribute beskik het wat tot hul
beskikking was en wat hulle aanbid het, maar Habakuk weet, net soos wat die
Joodse geskrifte ook verklaar het, dat net een lewende God die natuur beheer –
dit is waarom dit in Christelike kringe bv. onaanvaarbaar is om van “Moeder
Natuur” te praat en besef ʼn mens maar net meer en meer waarom die
“hiper-Groenes” tot ʼn groot mate, almal ʼn klomp “New Agers” is.
Wanneer Habakuk homself op hierdie
retoriese vraag in vv.8-9a antwoord, verwys hy waarskynlik na die skeiding van
die Rietsee (Skelfsee – OAV) toe die
Israeliete droogvoets daar deurgetrek het en die Egiptiese weermag omgekom het
toe die water hulle verswelg het (Eks.13-14). Hoe dit ook al
sy – hy besing steeds God se almag en in v.9 gaan hy voort deur na God as die
magtige krygsman te verwys en die gebruik van die uitdrukkings, boog en pyl is
algemene gebruiksvorme in die Joodse literatuur wanneer daar verwys is na God
se oordele.
In vv.9b-10 gaan hy voort en getuig hy steeds
van God se almag deur te verwys na die skepping, toe see en land van mekaar
geskei is – dink aan Asaf se woorde in Ps.74:15 ~ Ú het fontein en stroom oopgeslaan; Ú het standhoudende riviere laat opdroog. V.11 weer,
verwys na die keer toe die son stil gestaan het tydens die slag van Gibeon waarvan
ons in Jos.10 lees (sien spesifiek
v.13) en
laastens wat God se almag aan betref, getuig Habakuk in v.12 hoe nie net die
Judeërs nie, maar ook die res van die volke van die aarde, God se gramskap of
woede oor hul sonde sal ervaar en hy doen dit nog steeds aan die hand van
militêre beeldspraak wanneer hy God beskryf as Een wat deur die aarde marsjeer
en Sy vyande vertrap soos koring op ʼn dorsvloer uitgetrap word, of soos wat
Amos in Amos 1:3 beskryf hoe Gilead vertrap is ~ So sê die Here: Oor drie
oortredinge van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle
Gílead met ysterdorssleë gedors het, of soos wat Jesaja in Jes.25:10 beskryf wat met die Moabiete gaan
gebeur ~ Want die hand van die Here sal rus op hierdie berg; maar Moab
sal vertrap word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van ’n
miskuil.
Niks of niemand kan staan teen die almag
van God nie – nie die natuur nie en geen afgod of nasie op aarde nie – Hy is
voorwaar die Almagtige!
·
God
se getrouheid (v.13-15):
Weer kondig Habakuk die derde vers van
hierdie lied aan deur na God se getrouheid en genade te verwys en dit te
besing, daarom dat hy aan die einde van v.13 weer “sela” sê. Hy die Verbondsgod
wat nie net straf nie, maar ook vergewe en red – oordink dit ʼn bietjie –
“sela”!
Die uitdrukking “u
gesalfde koning” in v.13 verwys na een of meer van die konings van Israel en hul
dikwels hulpeloosheid teen die vyand, maar dan gaan hy verder in vv.13 en 14 en
verwys hy na Jahweh (die
Verbondsgod) se
getrouheid, deur die stryd namens die volk teen die vyand te wen. Hier het hy
waarskynlik die oorwinning van Dawid oor Goliat in gedagte gehad (1 Sam.17), asook die oorwinning wat behaal is oor die Babiloniërs wat God belowe
gaan kom (en wat ons vandag weet wat wel gebeur
het); die
oorwinning oor die Egiptenaars en soos reeds gesê is, die Kussiete, die
Mideaniete en vele ander van die vyande van die Israeliete.
Hierdie derde stansa (vers) van
Habakuk sluit hy in v.15 af, deur weer na God se almag te verwys en hy sê daardeur,
dat net soos wat God die Israeliete destyds gered het, net so sal Hy dit weer
doen wanneer sy volksgenote deur die Babiloniërs weggevoer word, sal Hy hulle
red en weer terug bring na die Beloofde Land!
Wat tog interessant is om te meld is die
letterlike vervulling van die woorde van v.15 ~ U trek deur die see met u perde sodat
die magtige waters bruis. Toe Babilon aan
die hand van die Mede en Perse geval het (Dan.5;
Jes.46:1-2), het
dit gebeur op ʼn tydstip dat die Eufraatrivier opgedroog het – toeval? Nee, God
se “perde het vooruit gegaan en die waters van die Eufraat so laat bruis dat
dit opgedroog het”!
5.
GELOOFSVERKLARING
(vv.16-19):
Habakuk kom nou aan die einde van sy
gesprek met God en God het hom op al sy vrae geantwoord en wel tot so ʼn mate
dat hy een van die kragtigste geloofsbelydenisse in die ganse Bybel uitspreek.
Hierdie geloofsverklaring word deur baie mense beskou as die mees roerende
woorde in die Bybel (ek sou eerder
sê – van die mees roerende... – dink maar net aan Jesus se woorde aan die kruis
en spesifiek toe Hy gesê het, “Tetelestai, dit is volbring!”).
Habakuk se gesprek eindig met ʼn
verklaring t.o.v. waar hy in sy verhouding met God staan. Hierdie gedeelte van
die lied word in musikale terme ʼn musikale brug genoem wat ʼn nuwe musikale tema
inlei en wat dikwels gepaard gaan met ʼn verandering in sleutel. In die eerste
gedeelte van die lied (3:2-15) het hy gesing
van God se almag en getrouheid, maar nou hier in 3:16-19 sing hy van sy
nuutgevonde vreugde en geloof in die Almagtige en soewereine God – selfs al is
daar nie kos op die tafel nie.
Hierdie musikale brug begin in v.16a met
ʼn verbinding met die refrein in 3:2 ~ Here, ek het gehoor. Habakuk erken hierdeur dat hy God gehoor het – hy verstaan wat die
Here vir hom t.o.v. sy volk se ballingskap gesê het, maar ook wat die
uiteindelike verwoesting van Babilon betref – hy onderwerp hom volkome aan die
soewereiniteit van die Almagtige, maar hy sidder en bewe by die besef hiervan,
want hy weet ook dat die straf en uiteinde wat op die Judeërs wag, verskriklik
gaan wees indien God nie op ʼn stadium gaan ingryp nie, maar hy vertrou Jahweh
en hy glo wat Hy aan hom belowe het en daarom verklaar hy dat hy geduldig sal
wag, ongeag wat ook al. Hy plaas dus nie eerstens sy vertroue in sy eie siening
en vermoëns nie, maar in die almagtige en soewereine vermoë van Jahweh – hy
spreek sy onderwerping aan die soewereine wil van sy Skepper uit, deur te sê dat
hy geduldig sal wag op die voltrekking van God se beloftes aan hom. Wat meer
is, hy weet verseker dat God nie gaan wag tot die oordeelsdag voor Hy die
Babiloniërs gaan straf nie, maar dit gaan nog in sy lewe gebeur, want hy hou
vas aan die belofte wat hy in 2:3 van die Here ontvang het ~ Die openbaring
geld vir ’n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net
geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie
uitbly nie.
Die meeste Judeërs het hulle lewe gemaak
uit die produksie en verkoop van vye, druiwe, olywe en ander landbouprodukte,
asook skape, bokke en beeste. Al sou die Judeërs dan ook misoeste hê en die vee
té maer is om te slag, spreek Habakuk in vv.17-19 steeds sy vertroue uit dat hy
en sy volksgenote tydens storms en swaarkry kan weet dat hul Vader naby is,
maar hy weet ook dat God net so naby is en hulle net so goed versorg in tye van
voorspoed, want Hy is die Verbondsgod wat Sy beloftes gestand doen en in tye
van swaarkry is Hy steeds hul Redder en daarmee onderskryf hy ook die woorde
van die lied wat Dawid geskryf het en wat Samuel in 2 Sam.22:3 herhaal het ~ Die Here is my
rots, my skuilplek en my redder, 3my God, my rots, by wie ek my God,
my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my
toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos.
Ten spyte van die dreigende gevaar is
Habakuk steeds op ʼn plek waar hy die Here, “my God” noem, want hy weet
ten spyte van wat ook al, hy nooit sy redding sal verloor nie. Paulus stel vir
ons hierdie selfde voorbeeld wanneer hy in Rom. 8:38-39 sê ~ Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of
engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of
hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van
God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
6.
AFSLUITING:
Daar is soveel vir ons om uit Habakuk se
lied te leer en toe te pas in ons lewe, want hy het onder al sy omstandighede,
steeds gesing ~ ...nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in
God, my Redder (v.18). Die vraag wat jy dalk nou mag vra is
hoe kon hy dit gesing het as alles rondom hom in duie gestort het? Hy verskaf
self die antwoord in v.19 ~ Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete
soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Habakuk se
geloof was nie gesetel in sy geloof nie, maar in sy getroue God en Vader.
Anthony Sevlaggio het eenkeer gesê, “The Bible teaches us that our ultimate
destiny is not based on our faithfulness, but rather on His”.
Wat moet ons doen wanneer ons beproewing
ervaar? Bo en behalwe dit wat ek verlede Sondag gedeel het, kan ons n.a.v.
vandag se Skrifgedeelte ook nog die volgende byvoeg:
·
Habakuk het na
sy gesprekke met die Here, sy omstandighede beter verstaan, maar wat veral
belangrik is, is dat hy dit aanvaar het, want hy het geweet en onwrikbaar geglo
dat sy omstandighede volledig binne die wil van sy soewereine Vader lê en ons
moet besef dat probleme en beproewing, alles deel uitmaak van God se doel met
ons lewens, maar, en dit is belangrik, daar is ʼn baie spesifieke eindpunt aan
hierdie probleme en situasies gekoppel.
Net ʼn belangrike opmerking hier: Wanneer
ons, ons situasie aanvaar impliseer dit nie dat ons gaan lê nie, maar dat ons
juis ons kop sal optel in die omstandighede en weet dat ons Vader in beheer is
– ook van daardie situasie en dat Hy my sal deurdra.
·
Ons moet leer om
geduldig te wag op God se “eindpunt”, maar dit vereis krag en stamina om te kan
wag, veral omdat ons as mense geneig is om haastig te wees en baie gou
resultate wil sien, maar ons tyd is nie altyd God se tyd nie en daarom moet ons
leer om stil te raak en geduldig te wees. As ons maar net dink aan hoe geduldig
die Here met ons is, is dit beslis ʼn karaktereienskap wat ons moet aanleer. Ons
moet leer om in Hom te rus en hierdie rus, is ʼn rus wat nie toegee aan
versoeking om nie meer jou vertroue in die Here te stel nie, geen wonder dat
Jesaja die volgende gesê het nie ~ So het die Here my God, die Heilige van
Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle
krag lê in stil wees en vertroue hê (Jes.30:15).
·
Habakuk het ook
geleer om hom te verbly in die Here (vv.17-19). Wanneer ons nie ʼn kalm gees en innerlike stilte
ervaar nie, kan ons, ons nie in opregtheid in die Here verbly nie. Ons het in
v.17 ook gesien dat Habakuk die feite van sy situasie, hoe onaangenaam en
onaanvaarbaar ook al, vierkantig in die gesig gestaar het en homself in die
Here verheug – nie in sy omstandighede nie, maar in die Here en dit is waar ons
fokus moet wees – altyd, wanneer dit goed of sleg gaan. Waarom? Omdat die Here,
Here is – Almagtige. Soewereine Skepper van die heelal – op Hóm moet ons fokus
gevestig wees.
William Cowper, die bekende Engelse
digter, maar ook baie sieklike man, het n.a.v. Habakuk se lied, ook sy
oortuiging van ʼn versorgende en beskermde God, as volg in een van sy gedigte
uitgedruk:
Though vine nor fig tree neither
Their wonted fruits should bear,
Though all the fields should wither,
Nor flocks nor herds be there;
Yet, God the same abiding,
His praise shall tune my voice;
For, while in him confiding,
I cannot but rejoice.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 Augustus 2014