Sunday, August 10, 2014

Habakuk, ʼn Profeet met ʼn boodskap vir ons – 03 (“God antwoord Habakuk ʼn tweede keer”)

1.     INLEIDING:
       Ons het verlede week gesien dat Habakuk sy verwarring oor sy volk se situasie vir ʼn tweede keer teenoor God uitgespreek het – hy het sy hart teenoor God uitgestort en hy praat reguit met God – hy sê presies hoe hy voel en hy vra reguit vrae.

       Ons het ook gesien dat God ons nie verbied om Hom te bevraagteken wanneer ons verward is, of twyfel, of bang is nie, want wanneer ons, soos Habakuk en Abraham en Job en selfs Jesus, aan God vrae vra en vir Hom sê hoe ons voel, is ons in ʼn persoonlike gesprek betrokke met ons Vader – ʼn liefdevolle, genadige Verlosser-Vader, Wie Sy kinders wat swaarkry, dra en beskerm – al is dit ook déúr die dood, maar op Sy perfekte en soewereine vooraf verordineerde tyd sál Hy oorwinning gee en sal Hy antwoorde en uitkoms gee; vrede gee; oorwinning gee; herstel gee, al is dit ook eers eendag wanneer hierdie wêreld herskep gaan word en ons wie Sy kinders is, die ewige lewe met Hom binnegaan. Diegene van ons wie in volmaakte verhouding met Hom staan – versoen deur Jesus Christus en wie verlang na die Koninkryk van God met sy vrede, liefde en volmaaktheid, kan hoop put uit hierdie wete.

       Habakuk het steeds hoop in die skadu van oordeel en swaarkry – waarom? Habakuk het in ʼn verhouding met God gestaan; hy het sy Maker vertrou en hy het Hom geken. Hy het geweet dat God, Jahweh is – my God, wat ewig is en wat nie stilbly nie (v.12). Sy verhouding met die Skepper van die heelal en die Outeur van sy en sy volk se geskiedenis is intiem en persoonlik en daarom onspan hy en wag met afwagting op God se antwoord.

2.     SKRIFLESING:
     Hab.2:1-20 ~ Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt. 2Die Here het toe vir my gesê: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. 3Die openbaring geld vir ’n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie. 4Dit is die boodskap: Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly. 5’n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood, al versamel hy al die nasies rondom hom, al maak hy gevangenes van al die volke. 6Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing en met minagting na hom verwys. Hulle sal sê: Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie, wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur? 7Die tyd kom vinnig nader dat jy self in die skuld sal wees, dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan en jou sal kaalstroop. 8Jy het baie nasies geplunder, maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder, want jy het baie bloed vergiet, geweld gepleeg in baie lande, teen stede en teen hulle inwoners. 9Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur ’n ramp oor sy familie gebring het, hy wat vir hom ’n hoë nes wou bou juis om ’n ramp vry te spring. 10Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk; jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy ’n einde aan jou eie lewe gemaak. 11Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het, en die balke skreeu saam. 12Ellende wag vir hom wat ’n stad bou met moord, wat ’n dorp aanlê met onreg. 13Dit is die Here die Almagtige wat dit beskik het dat dít waarvoor volke gewerk het in vlamme opgegaan het, dat volke hulle tevergeefs afgesloof het. 14Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word. 15Ellende wag vir hom wat, toe hy vir ’n ander drank gegee het, dit met gif gemeng het en hom dronk gemaak het om na sy kaal geslagsdele te kan kyk. 16Jy sal self met skande in plaas van met eer oorlaai word, jy sal self dronk word en jou ontbloot! Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink, en jou eer sal in skande verander word. 17Jou geweld teen die Libanon sal jouself tref, jou mishandeling van die diere op die Libanon sal jouself vernietig. Jy het baie bloed vergiet, jy het geweld gepleeg teen baie lande, teen stede met hulle inwoners. 18Wat is die nut van ’n afgod? Dit is maar net iets wat deur ’n mens gemaak is, ’n beeld waarvan net bedrog te wagte kan wees. Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou as hy ’n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie? 19Ellende wag vir hom wat vir ’n stuk hout sê: “Word wakker!” of vir ’n dooie stuk klip: “Staan op!” Kan ’n afgod jou iets leer? Al is hy met goud of silwer oorgetrek, is daar geen lewe in hom nie. 20Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!

3.     GOD ANTWOORD HABAKUK (2:2-20):
       Hoe lank Habakuk moes wag op God se antwoord weet ons nie, maar God antwoord en sê vir hom ~ Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees (2:2). Waarom moes hy dit neerskryf? Enersyds sodat die boodskap bewaar kon bly vir die geslagte wat sou volg – net soos wat die geval was met die ander Ou Testamentiese profete, dink bv. aan Jesaja ~ Die Here het vir my gesê: Vat ’n stuk leer en skryf daarop met ’n pen... (Jes.8:1), of Jeremia ~ So sê die Here die God van Israel: Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ’n boek... (Jer.30:2). Andersyds gee die Here egter ook hierdie opdrag aan Habakuk om die antwoord neer te skryf, sodat die mense dit kan lees en dadelik verder te kan versprei onder die res van hulle volksgenote, want hierdie dinge gaan binnekort gebeur. Daarom moet hulle gewaarsku word en voorbereid wees (hier sien ons weer God se genade – Hy móét die volk straf, maar nogtans waarsku Hy hulle vooraf).

       Gedurende die tyd van die Profete het hulle, nadat hulle ʼn profesie van God ontvang het, dit neergeskryf en op die deure van die Tempel geplaas, sodat almal wat daarheen gekom het, of daar verby geloop het, dit kon lees en dan weer aan andere kon oorvertel. Nadat die priesters gevoel het dat die profesie goed genoeg versprei is onder die volk, is hierdie neergeskryfde profesie dan van die deur verwyder en veilig in die Tempel bewaar. Op hierdie wyse is al die verskillende profesieë dan ook bewaar van vervalsing en kon dit deur die nageslag gelees word – net soos ons dit vandag gedoen het.

       Waarom was dit so belangrik om eerstens kennis te neem van hierdie boodskap en tweedens, waarom moes die lesers die boodskap wyd en syd uitgedra het? Ons vind die antwoord in v.4 en hierdie is ook die sentrale tema van die hele Habakuk ~ Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly. Ons moet besef dat hierdie ʼn lewensreddende boodskap vir die Judeërs was, maar steeds ook vir ons – eintlik is dit ʼn “ewige-lewe-lewensreddende-boodskap” en daarom moet ons ook hierdie “kleitablet op die Tempel se deur”, lees en die boodskap wyd en syd verkondig! Die boodskap is in kort: “...die regverdige sal uit die geloof lewe”. As ons dit verstaan, sê Montgomery Boice, verstaan ons die Evangelie en wat die Christelike lewe behels. Hierdie is so ʼn belangrike boodskap dat dit drie maal in die Nuwe Testament herhaal word ~ In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe” (Rom.1:17); Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie (OAV – Hebr.10:38 – sien ook: Gal.3:11).

       Die Amplified Bible vertaal v.38a as volg ~ But the just shall live by faith.... Hierdie hele gedagte om uit die geloof te lewe is geweldig belangrik vir ons as gelowiges en daarom gaan die Hebreërskrywer ook voort en verduidelik hy in Hebr.11:1 wat dit beteken om uit die geloof te lewe ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

       Die Here het in v.4 vir Habakuk gesê dat hy en die volk wat “uit geloof lewe” en getrou bly, sal lewe en die Hebreërskrywer sê dieselfde vir ons. Wanneer gelowiges (ons) onder druk verkeer moet ons “uit die geloof lewe” – wat beteken dit n.a.v. Hebr.11:1?

       Uit die staanspoor moet ons dit baie duidelik verstaan en ek wil dit baie sterk beklemtoon, nl. dat geloof nie bepaalde dinge kan voortbring nie – bv. glo net en jy sal ryk word; glo net en jy sal gesond word; glo net en.... Geloof kan nié dinge tot stand bring nie – geloof is ʼn bewys en vaste oortuiging van die realiteit van dinge wat nie gesien kan word nie en daarom is dit ʼn absolute vaste vertroue, oortuiging en onderskrywing van alles wat God geopenbaar, gedoen en gesê het en dat ʼn gelowige dit as heilig, regverdig en goed aanvaar en beskou. Dít sluit dan o.a. die dinge in wat ons nie sien nie, nl. o.a. die ewige lewe in die hiernamaals – Hebr.13:4 ~ ...want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. Dit is ook ʼn vaste vertroue en oortuiging en aanvaarding van Christus Jesus se soendood aan die kruis; Sy opstanding en hemelvaart en ook die tweede koms van Christus ~ En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is (Joh.14:3).

       Hierdie geloof, is wat God aan Habakuk sê, hulle in moet glo en dan sal hulle lewe – niks wat ook al gaan gebeur en besig is om te gebeur moet hierdie geloof ondermyn nie. Ons moet derhalwe daarop let en vashou aan hierdie belofte van God te midde van allerlei dreigemente rondom ons – in ons land; in die wêreld; in ons werksituasie – wat ook al – ons moet vashou aan die belofte in Ef.1:11, nl. dat God alles, ongeag wat, laat gebeur volgens Sy raadsbesluit. Ons moet ons hieraan onderwerp en ons vertroue in Hom plaas en aan Hom getrou bly en volhard tot die einde toe, want dan sal ons lewe, soos wat die Here ook aan Habakuk belowe het!

       Nadat die Here vir Habakuk gesê het dat almal wat glo sal bly lewe, gaan Hy voort en spreek Hy ses vervloekings oor die Galdeërs en veral hul koning uit:
·        Hoogmoed  (v.5):  V.5 begin met die woorde (let op dat ek uit die OAV lees, want ek kan glad nie verstaan hoe die vertalers van die NAV by hul vertaling uitgekom het nie, want wat hulle daar skryf is hoegenaamd nié wat die oorspronklike teks sê nie) ~ En bowendien, die wyn is ’n bedrieër... en dan gaan die Here voort en Hy praat van die Galdeërs se hoogmoed en arrogansie.

Dit wil op die oog af lyk asof alkohol en arrogansie wat hier in dieselfde asem gebruik word, nie sin maak nie (daarom dat die vertalers van die NAV die oorspronklike teks dalk verdraai het?), daar is egter baie sterk historiese getuienis dat die Babiloniërs as nasie en Nebukadneser en sy opvolger Belsasar in persoon hulself gereeld oorgegee het aan sterk drank ~ Babel was ’n goue beker in die hand van die Here, ’n beker wat die hele wêreld dronk laat word het: die nasies het van sy wyn gedrink en daarvan mal geword (Jer.51:7). Belsasar was juis besig met ʼn gefuif toe Babilon ingeneem en oorwin is en hy uiteindelik gedood is (Dan.5).

Die verband tussen die gedrinkery en hoogmoed en arrogansie, is die Babiloniërs se sug na mag en die inname en oorname van volke en lande. Elke oorwinning het gepaard gegaan met ʼn gedrink en elke partytjie het weer gelei tot ʼn volgende veldtog – hulle kon nie genoeg kry nie, daarom dat daar in v.5 staan ~ ...so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood. In hierdie opmerking teenoor Habakuk wil die Here vir hom sê, dat dronkaards alle redelikheid vergeet en dat hulle, hulself uiteindelik sal vernietig. Dit herinner aan die woorde van Spr. 23:29-35 waar daar o.a. staan dat dronkaards, rusie maak en kla en onnodig seerkry, want agterna pik hy soos ʼn slang – dit word uiteindelik maar net ʼn bose kringloop wat uitloop op selfvernietiging.

Habakuk hoor derhalwe dat hierdie verwoesting nie onbepaald sal voortduur nie en dat God Hom uiteindelik sal wreek op hierdie nasie wat die Judeërs nou verwoes en wegvoer in ballingskap – hulle dag sal kom, maar nou gebruik God hulle eers om die volk te straf vir hul afvalligheid.

·        Plundering (vv.6-8): Babilon het gesteel, geplunder, verower, gedood en verwoes, alles net om hulself te verryk met, wat nie aan hulle behoort het nie – hulle het die Judeërs besteel en hul land van hulle af weggeneem, maar nie net dit nie, hulle is ook gestroop van hul menswaardigheid en geluk en sekuriteit, maar sê God in v.7, hul dag sal kom – dit sal skielik en onverwags kom. Die verwoesting en bandeloosheid sal oënskynlik onophoudelik voortgaan, maar soos Spr.22:8 sê ~ ’n Koning wat onreg saai, sal teenspoed oes; daar sal ’n end kom aan sy hardvogtige heerskappy. Dit is baie duidelik dat God se uiteindelike oordeel gevel sal word en wat ons aan betref – daar sal ʼn dag kom wanneer ongeregtigheid in hierdie lewe gestraf sal word en ʼn einde aan gemaak sal word, al is dit ook eers wanneer God Sy uiteindelike en finale oordeel sal uitspreek oor diegene wat nie in Jesus Christus was nie.

·        Selfverheffing (vv.9-11): Nebukadneser het roem en eer vir hom en sy nageslag nagejaag en hy dit gedoen deur volke en nasies te verwoes en te annekseer, maar ons sien in v.11 dat ~ ...Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het, en die balke skreeu saam. God se volgelinge sal eendag die Galdeërs beskuldig en getuies wees van hul sondige selfverheffing - dink aan Jesus se woorde in Luk.19:40 toe die Fariseërs Hom opdrag gegee het om Sy dissipels stil te maak ~ As hulle stilbly, sal die klippe uitroep. Die Galdeërs sal nie wegkom met hul ongeregtigheid nie – ook nie ons vyande nie!

·        Bloedvergieting (vv.12-14): Babilon se stadsmure en fondasies was gebou op die bloed van o.a. die Judeërs wat weggevoer is daarheen. Hoor wat staan in Gen.4:10-12 nadat Kain vir Abel doodgeslaan het ~ Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. 11Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. 12Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal ’n doellose swerwer op aarde word!” Bloed wat vergiet word, is ʼn vloek op die bloedvergieter – bloed het ʼn stem – ʼn stem wat tot God uitroep en teen die bloedvergieter getuig – ons het dit verlede week gesien toe ons Openb.6:20 aangehaal het. Jeremia het dan ook spesifiek hieroor geprofeteer in Jer.51:58 ~ So sê die Here die Almagtige: Die dik vestingmuur van Babel sal gesloop word, sy hoë poorte sal afgebrand word: mense het geswoeg vir niks, nasies het hulle afgesloof vir iets wat vir die vuur bestem is. Die onderdrukkers gaan val en vernietig word – die wraak kom God toe en uiteindelik gaan al die eer Hom toekom – v.14 ~ Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.

·        Vernedering (vv.15-17): In antieke tye het die wenners van oorloë baie dikwels hulle gevangenis kaal laat paradeer in die strate ten einde hulle te verneder en dit is dan ook wat die Babiloniërs met die ballinge uit Juda gedoen het en daarom gaan God hulle op Sy tyd, op dieselfde wyse verneder, trouens dit gaan op ʼn nog erger graad geskied.

·        Afgodery (vv.18-20): Babilon het nie net haar eie welsyn nagejaag deur ander nasies met geweld omver te werp en hulle te plunder nie, maar hulle het ook hul eie godsdiens geskep, met hul eie afgode. Hierdie afgode van die Babiloniërs is gereeld geraadpleeg ten einde leiding te kry oor hoe en waar hul volgende veldslag moet plaasvind. Hoor wat sê Jesaja van afgodery (onthou, afgodery is nie net wanneer jy die knie voor ʼn beeld buig nie, maar ook wanneer jy geen god aanbid nie, want dan word jy jou eie god en dit is ook afgodery) ~ Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks; die dierbare gode van hulle kan nie help nie. Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie, kan nie verstaan nie; dié wat sulke gode het, word teleurgestel (Jes.44:9).

       Wat wag op die Babiloniërs oor hul afgodery? V.19 ~ Ellende wag vir hom...

       Hierdie gedeelte word afgesluit met ʼn waarskuwing wat God rig tot, nie net die Babiloniërs nie, maar ook tot die Judeërs wat juis vir hul afvalligheid deur God aan die hand van die Babiloniërs gestraf is. Wat sê Hy? V.20 ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! Almal ontvang derhalwe opdrag om God in Sy heiligheid te aanbid en stil te wees. By implikasie sê Hy dus dat Hy op die punt staan om die nasies van die wêreld te veroordeel en Homself daardeur te openbaar as die enigste Heilige en Lewende God.

4.     AFSLUITING:
       Waarom het al hierdie dinge met die Judeërs gebeur? Waarom het dit met die Babiloniërs gebeur? Waarom gebeur soortgelyke situasies met en rondom ons?

       Die Judeërs het hul rug op God gedraai en nie net hierdie keer nie, maar keer op keer, ons lees die eerste keer daarvan in Num.14 toe die volk in opstand gekom het en geweier het om die Beloofde Land binne te gaan en gedurig hierna sou die volk in sonde val en hul rug op God draai – uiteindelik straf Hy hulle aan die hand van die Babiloniërs – waarom straf Hy hulle/ons? V.14 verskaf aan ons die antwoord ~ Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word – sodat God uiteindelik geëer en verheerlik kan word.

       Wat moet ons reaksie wees wanneer ons in dieselfde posisie as Juda beland? Ek wil aan die hand van vier stappe wat Dr. Martyn Lloyd-Jones aan die hand gedoen het, met julle deel wat ons optrede moet wees, wanneer ons gekonfronteer word met probleme, of trauma, of vrees, ens.:
·        Eerstens – Hou op om te dink. Die meeste van ons het die geneigdheid om baie vinnig en heeltemal te veel, oor ons probleme te babbel en/of te top. Jakobus sê in Jak.1:19 ~ ...elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. Wanneer ons eers praat en later dink, dompel ons onsself net in ʼn warboel van negatiewe gedagtes, vreesagtigheid, ongeloof, ens. Wanneer ons stilbly en dink, begin ons dinge uit te sorteer en laat ons toe dat God se Lig op die situasie val.
·        Tweedens – Herhaal en bepeins weer basiese beginsels. Lloyd-Jones sê: Wanneer jy begin dink, moet jy nie by jou onmiddellike probleem begin nie, maar veel verder terug as dit. Oordink wie en wat God is; dink terug aan hoe Hy jou in die verlede gedra het. Oordink die beloftes in Sy Woord. In die proses sal jy dus besig wees om ʼn stewige fondasie vir jouself te lê, ten einde die spreekwoordelike “bul by die horings te pak”.
·        In die derde plek moet jy hierdie bekende beginsels toepas op jou huidige situasie. Punt is, dat alle probleme ʼn oplossing het wanneer dit in die regte perspektief geplaas word. Ons moet ons situasie of probleem dus in die regte konteks plaas – bv.: As jy ʼn krisis in jou gemoed sou ontwikkel oor hoe jy finansieel gaan oorleef as jy jou werk sou verloor, of in jou oudag – vra jouself af, of God jou al ooit in die verlede in die steek gelaat het – waarom sal Hy dit nou doen?
·        Laastens, indien jy nog steeds twyfel of angstig is, moet jy jou probleem in geloof met die Here deel en aan Hom oorlaat (ons kan Woensdagaand bietjie met praktiese voorbeeld “speel” en kyk hoe ons, ons persoonlike probleme kan hanteer).

       Habakuk het sy probleem en worsteling presies op hierdie selfde wyse hanteer. Habakuk het ook opgehou om te dink en hy het gaan sit en al die elemente van God se karakter begin neerskryf – Sy soewereiniteit; Sy almag; Sy alwysheid; Sy troue sorg, ens. (2:2).

       Nadat hy homself herinner het aan God se attribute, pas hy hierdie kennis toe deur bv. te sê ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie (1:12), ens. Hy sê dus vir homself wie en wat God is en hy herinner God aan Sy karakter en daardeur sê Hy dus eintlik o.a., ...maar omdat U ʼn ewige en heilige God is, sal U ons nie in die steek laat  nie, maak nie saak wat gebeur nie.

       Habakuk pas ook hierdie vierde stap toe, deur met God te praat – eerlik en reguit, uit sy hart uit – en die gevolg? God vertroos hom; God lei die volk uiteindelik weer terug na die Beloofde land toe en hulle wie hulle bekeer het (of hulle nou terug gekeer het na Juda of nie), het selfs terwyl hulle in ballingskap in Babilon was, God se versorgende genade en beskerming ervaar – dink maar net aan Daniël en sy vriende – uiteindelik het God Hom ook in Sy heiligheid, op die goddelose en weerbarstige Babiloniërs gewreek deur hulle te vernietig.


       Geliefdes, ons moet nooit Matt.16:18 (my geliefkoosde teksvers) uit gedagte verloor nie ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente, (Drie Riviere) – Sondag 10 Augustus 2014