Sunday, August 3, 2014

Habakuk, ʼn Profeet met ʼn boodskap vir ons – 02 (“Sy tweede Beswaarskrif aan God”)

1.     INLEIDING:
       In die eerste elf verse van Habakuk het ons gesien dat hy teenoor God gekla het en dat die Here oënskynlik nie na hom luister nie en ook niks omtrent die Judeërs se sonde doen nie, waarop die Here hom geantwoord het en wel op ʼn manier wat Habakuk dit waarskynlik nie verwag het nie, deurdat God vir hom gesê het dat die volk deur die Galdeërs verslaan en weggevoer sou word in ballingskap. In ons Skriflesing vandag kom Habakuk ʼn tweede keer na God met nog ʼn beswaarskrif.

2.     SKRIFLESING:
     Hab.1:12-2:1 ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf. 13U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? 14Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is? 15Die Galdeërs vang mense met hoeke, trek hulle vas in nette, maak hulle bymekaar in treknette, en juig en jubel oor die vangs! 16Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette, brand wierook vir hulle treknette, want deur die nette leef hulle in weelde en het hulle volop kos! 17Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud, om nasies meedoënloos om die lewe te bring? 2 1Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.

       Hierdie tweede klagstaat wat Habakuk inbring teen God kan in drie dele verdeel word, nl. ʼn Geloofsverklaring (vv.12-13a); Habakuk bevraagteken weereens God se wyse van oordeel t.o.v. die volk se sonde en afvalligheid (vv.13b-17) en laastens wag hy weer op God se antwoord (2:1).

3.     HABAKUK EN SY TEOLOGIE (vv.12-13a):
       As ʼn mens na Habakuk luister in sy aanvanklike reaksie voor sy tweede klagte teenoor God, dan is dit duidelik dat hy verward is nadat die Here hom op sy eerste klagte geantwoord het. Dit is onbetwisbaar duidelik dat die Judeërs gestraf moet word vir hul afvalligheid en rebellie teen God, maar wat Habakuk nie kan verstaan nie, is dat ʼn goddelose volk gebruik gaan word om God se Verbondsvolk mee te straf en wat nog meer verwarrend vir hom is, is dat hierdie antwoord van die Here net nie strook met sy teologiese oortuiging nie.

       In vv.12-13 kan gesien word as ʼn samevatting van die profeet se teologiese oortuiging. Hy begin deur God in Sy verbondsnaam aan te spreek, nl. יְהוִה [Yâhovah /yeh·ho·vaw/]. Hierdeur verklaar hy dat God ʼn soewereine God is, die ewige en onveranderlike God wie se Naam bo alle name is.

       Hy spreek hierdie teologiese oortuigings van hom uit d.m.v. retoriese vrae en dít terwyl hy die antwoorde op sy vrae ken – wat meer is, hy weet ook dat God die antwoorde ken op sy vrae. Hy herinner homself en God eintlik maar net weer aan al God se attribute (karaktereienskappe). So vra hy bv. of God dan nie ʼn heilige God is nie; of Hy nie getrou is nie; soewerein en regverdig is nie, maar hy verklaar ook dat God rein is en dan verwys hy spesifiek na God se integriteit wanneer hy sê ~ U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word (v.13a).

       Ons vind ook ʼn ander baie interessante opmerking wat Habakuk maak en wel in v.12, wanneer hy sê ~ ...ons sal nie sterwe nie. As hy praat van “ons” dan verwys hy nie net na die uitverkorenes onder die Judeërs nie, maar hy verwys na die ganse volk – ook hulle wat God verloën het en hy sê dat “ons as ʼn volk” nie aan die hand van die Galdeërs (Babiloniërs) sal sterf nie, want God is ʼn verbondsgod wat nie Sy verbond verbreek nie.
4.     HABAKUK BEVRAAGTEKEN GOD WEER (vv.13b-2:1):
       Dit is duidelik dat Habakuk sukkel om sy teologie t.o.v. God se attribute te versoen met God se beloftes van oordeel oor die volk, want aan die eenkant is Sy God in wie hy onvoorwaardelik glo en wie Hy persoonlik ken, ʼn volmaak heilige en ewige verbondsgod, maar aan die anderkant is Hy ʼn wrede, onvergewensgesinde en onregverdige God wat ʼn nóg goddeloser nasie stuur om sy volk te kom straf – dit maak net nie sin nie en wat meer is, Hy is nie net onregverdig en ongenaakbaar nie, Hy hoor Habakuk se uitroepe ook nie ~ Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? (v.13b).

       Dit is so ironies dat Habakuk hier vir die Here vra waarom Hy nie iets aan die trouelose mense doen nie (v.13b) – dit is duidelik dat hy hier aan die Galdeërs dink, maar hy vergeet dat sy eie volk wat op die drumpel van vernietiging en ballingskap staan, net so troueloos is, want is hulle nie minder sondig en minder afvallig van God as die Galdeërs nie? Nee, hulle is op presies dieselfde plek as die Galdeërs – weg van God!

       In v.14 sê Habakuk dat God agter alles in die ganse heelal sit en dat Hy die Regeerder van alle nasies is en daarom laat Hy toe dat die mensdom mishandel en verwoes word, want oorspronklik het God die mens geskep om o.a. oor die visse van die see te heers, maar nou is die mens (sy mense) nes die visse – daar word oor hulle geheers en hulle is soos die visse van die see ook nog leierloos, want dit wil voorkom asof God hulle ook nou verwerp en aan hulle vyande oorgegee het!

       In vv.15-17 beskryf Habakuk die wegvoer van die Judeërs in ballingskap deur die Babiloniërs en hy praat van visse met hoeke in die bek en treknette vol visse. Dit is baie interessant om na illustrasies deur die Babiloniërs te kyk wat vandag nog in die Pergamon Museum in Berlyn bewaar word – in daardie illustrasies word die weerlose mense wat deur die Babiloniërs weggevoer is, geteken as ʼn klomp mense wat aan mekaar gehaak was met hoeke in die onderlip. Geen simpatie was betoon deur die wrede Babiloniërs nie.

       In v.17 vra Habakuk die Here, wanneer die Galdeërs dan nou gaan ophou om hulle so te mishandel en weg te voer en dood te maak?

5.     HABAKUK SE EERLIKHEID:
       Habakuk is deursigtig en eerlik wanneer hy hierdie dinge vir die Here sê. Hy worstel daarmee om God se soewereiniteit aan die eenkant en die toenemende boosheid in die wêreld aan die anderkant, met mekaar te versoen. Ons behoort ook ernstig en eerlik oor hierdie feite met onsself en met die Here te redeneer soos wat Habakuk gedoen het, maar uiteindelik sal ons sien, net soos wat Habakuk sal sien, dat God voorwaar in beheer is en dat Hy inderdaad soewerein is en hy begin waarskynlik stadig maar seker sien en verstaan wat J.C. Ryle so goed opgesom het, toe hy gesê het, Die mees bose vyande van God, is bloot maar net byle, sae en hammers in God se hand en hulle is onbewus daarvan dat hulle maar net instrumente in Sy hand is, ten einde Sy werk in die wêreld te doen.

       Wat doen Habakuk nou nadat hy sy hart teenoor die Here uitgestort het en hy steeds nie antwoorde het nie? Hy gee die saak oor aan die Here en hy wag in afwagting en in geloof om weer van die Here te hoor en juis hierin lê die les vir ons opgesluit.

       Vir ons lê die oplossing vir ons probleme meestal op die vlak van ʼn onmiddellike verwydering van die probleem – bv., Malema pla ons en bedreig ons vrede, en in ons sondige gedagtes gebeur dit dalk vir ʼn vlietende oomblik dat ons wens iemand wil hom “uithaal”. Wanneer ons siek word wil ons onmiddellike genesing hê, of ons sal bid, Here gee tog dat hierdie knop nie kwaadaardig sal wees nie en jy vertel vir jou vriende en broers en susters daarvan en hulle reaksie is dalk ook dié van Habakuk s’n in v.12  ~ U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. Hiskia het ʼn soortgelyke gebed gebid in 2 Kon.20:3 toe hy verneem het dat hy terminaal siek is ~ Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil.

       So ʼn reaksie is ʼn tipiese reaksie van menige mens, maar dit is ook ʼn goeie reaksie en dit is ook preses wat Habakuk doen, want te spyte en te midde van sy vrae en worsteling, is hy steeds besig om God te aanbid en bevestig hy net weer al die waarhede t.o.v. Sy Vader, nl. wie en wat sy heilige God waarlik is.

       Hy spreek egter ook terselfdertyd sy verwarring uit, want tog maak alles nie vir hom sin nie – verstaan hy nie God se optrede teen sy volk nie, want (soos voorheen reeds gesê), kan hy nie verstaan waarom God ʼn nóg boser nasie gebruik om sy volk te straf nie – dit is asof ons vir die Here wil vra, maar Here, ons as gelowiges is dan bevry van die erfsonde deurdat Christus Jesus vir ons op Golgota gesterf het, waarom moet ons nog ly? Waarom moet ons ook kanker kry; waarom word van ons medegelowiges vermoor; waarom, waarom...?

       Habakuk sien ons, in ons Skriflesing, stort sy hart teenoor God uit en hy praat reguit met God – hy sê presies hoe hy voel en hy vra reguit vrae.

       God verbied ons nie om Hom te bevraagteken wanneer ons verward is, of twyfel, of bang is nie. Habakuk het presies dít gedoen en ons lees nêrens dat God hom met ʼn weerligstraal dood geslaan het nie. Abraham het dit ook gedoen toe hy by God gepleit het dat Hy Sodom moes vernietig. God het Abraham in groot liefde geantwoord, omdat God Abraham se hart geken het – Hy het geweet dat Abraham se motief nie rebellie was nie, maar juis geloof en liefde en vertroue in Hom, die soewereine God. Dit was dus eerder ʼn geval van gebrekkige kennis en insig en beide Abraham en Habakuk wou maar net antwoorde op hul verwarde gedagtes gehad het.

       In die lig hiervan is dit dus nie verkeerd as ons vra en ja, selfs pleit by God dat Hy Sy “besluit” in heroorweging moet neem nie – dit is nie verkeerd om te vra, “waarom” nie. Ja, ons weet en glo dat God soewerein is, maar ons mag nog steeds ons binneste met Hom deel, Hy is tog immers ons Vader. Toe Jesus in die Tuin van Getsemane was, het Hy presies geweet wat vir Hom voorlê, nl. dat Hy gekruisig sou word; Hy het geweet dat dit ʼn soewereine besluit van God was en dat Sy kruisiging uitgevoer móés word, want dit was die begin van die afhandeling van Sy roeping na die aarde, maar Hy is hartseer en Hy kry swaar, so swaar dat Sy sweet soos bloeddruppels geword het en Hy bid tot Sy Vader en hoor wat sê Hy ~ My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil (Matt.26:39). Hy weet  Hy moet sterf en Hy weet waarom Hy moet sterf, maar nogtans vra HY...

       Wanneer ons, soos Habakuk en Abraham en Job en selfs Jesus, aan God vrae vra en vir Hom sê hoe ons voel, is ons in ʼn persoonlike gesprek betrokke met ons Vader – ʼn liefdevolle, genadige Verlosser-Vader, Wie Sy kinders wat swaarkry, dra en beskerm – al is dit ook déúr die dood, maar op Sy perfekte en soewereine tyd sál Hy oorwinning gee en sal Hy selfs antwoorde gee, al is dit ook eers eendag wanneer hierdie wêreld herskep gaan word en ons wie Sy kinders is, die ewige lewe met Hom binnegaan. Hy sal op Sy vooraf verordineerde tyd uitkoms gee; vrede gee; oorwinning gee; herstel gee, of wat dit ook al mag wees wat ons nodig het. Diegene van ons wie in volmaakte verhouding met Hom staan – versoen deur Jesus Christus en wie verlang na die Koninkryk van God met sy vrede, liefde en volmaaktheid, kan hoop put uit hierdie wete.

       Habakuk het steeds hoop in die skadu van oordeel en swaarkry – waarom? Habakuk het in ʼn verhouding met God gestaan; hy het sy Maker vertrou en hy het Hom geken. Hy het geweet dat God, Jahweh is – my God, wat ewig is en wat nie stilbly nie (v.12). Sy verhouding met die Skepper van die heelal en die Outeur van sy en sy volk se geskiedenis is intiem en persoonlik en daarom onspan hy en wag hy nou op God en hy wag met afwagting op God se antwoord, wanneer hy in 2:1 sê ~ Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.

       Al verstaan Habakuk nie waarom sy volk moet ly nie, weet hy uit persoonlike ervaring dat Jahweh goed is en daarom spreek hy Hom aan as ~ ...my heilige God en hy verwys ook na Hom as die Rots (v.12) – die standvastige en getroue God.

6.     DIE EVANGELIE IN HABAKUK:
       Ons het verlede week die Evangelie in Habakuk vanuit God se perspektief gesien – ʼn genadige God, wat regverdig optree en in wysheid voorsien – voorsien het in ʼn Verlosser, Jesus Christus – in Habakuk se geval, nog sou voorsien en in ons geval, reeds voorsien het.

       In vandag se Skrifgedeelte kan ons weer die Evangelie raak sien, maar die keer vanuit Habakuk se perspektief. Ons sien hoe Habakuk getuig van God se goedheid en Sy bevryding van die volk uit hul omswerwinge in die wildernis ná Egipte en hoe Hy hulle in die Beloofde Land gevestig het. Net so het elkeen van ons wat in Christus Jesus glo en in ʼn intieme verhouding met Hom staan, ook bevryding ervaar. Trouens ons bevryding – ons verlossing, was veel, veel groter en baie meer ingrypend as dié van die Israeliete – ons het en ervaar steeds, daardie verlossing waarna die Ou Testament voortdurend verwys het en waarna die volk van God so rykhalsend uitgesien het, nl. Jesus Christus se soendood aan die kruis en Sy opstanding uit die dood en Sy hemelvaart. Ons het reeds die belofte van sondevergifnis en ʼn tuiste in die ewige hiernamaals ontvang, want Jesus Christus het reeds die volmaakte en finale offer gebring om ons te verlos van die slawerny van sonde.


       Die waarheid of realiteit van die Evangelie wat Habakuk uiteindelik ontdek het en wat elke geslag na hom en na ons opnuut moet ontdek is in 2:4 (OAV) opgeteken en Habakuk herinner ons vandag weer aan hierdie Evangeliese waarheid ~ ...Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 03 Augustus 2014