1.
INLEIDING:
Die Openbaring is
in twee gedeeltes verdeel en ons gaan vanoggend begin kyk na die tweede
gedeelte van hierdie wonderlike boek.
Die eerste elf
hoofstukke van Openbaring het vir ons die oorwinning van Jesus Christus
aangetoon deur Sy oordeel oor Jerusalem in 70 n.C. Dit was die einde van die
“Joodse-era” of te wel die ou verbond.
70 n.C. kondig vir ons die volle instelling, of “lansering” van die nuwe
verbond aan. Vanaf die dertiende hoofstuk
en verder aan, sien ons die oorwinning van die kerk van Christus (wat natuurlik die direkte
gevolg is van Christus se oorwinning aan die kruis en Sy opstanding). Die
eerste gedeelte handel oor die verwoesting van die tempel en Jerusalem; die
tweede gedeelte handel oor die totstandkoming van die nuwe Jerusalem – die kerk
van die Here Jesus Christus. Dit is egter belangrik om daarop te let, dat beide
gedeeltes handel oor God se getrouheid aan Sy verbond.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat
die ou verbond nie gekanselleer is en toe is ’n nuwe verbond daargestel nie. Wat
gebeur het, is dat Israel die verbond verbreek het. God se verbond was ’n
tweeledige verbond:
·
Indien Israel God gehoorsaam, sou God hulle
seën.
·
Indien hulle die verbond minag, sou hulle deur
God vervloek wees (Lev.26,
28).
God
het dus nooit Sy verbond met Israel verbreek nie – húlle het die verbond self
verbreek, terwyl hulle geweet het wat die gevolge daarvan sou wees. God is
altyd getrou aan Sy verbond en dit is die hooftema van Openbaring.
In
“ge-toebroodjie” tussen hierdie gedeeltes (1-11) en die res van Openbaring (13-22), vind ons
Openb.12 – dit dien as ’n oorgang tussen die twee gedeeltes:
·
Hierdie hoofstuk verskaf aan ons die agtergrond
vir die hele profesie.
·
Hierdie hoofstuk toon ook aan ons hoe dat God Sy
nuwe verbond deur Christus tot stand bring, ten spyte van die feit dat die
satan sy uiterste bes doen om God se plan in die wiele te ry.
·
Dit gee voorts vir ons ’n kykie in die konflik
waarin die kerk haarself bevind en steeds sal bevind, tot en met Christus weer
kom en hierdie heilige oorlog word in drie gedeeltes in Openbaring 12
uiteengesit (ons gaan
vanoggend net na die eerste gedeelte kyk):
-
Die vrou
(12:1-6);
-
Die vegter
(12:7-12);
-
Die oorlog
(12:13-17).
Deurgaans
deur hierdie heilige oorlog sien ons die pragtige en bemoedigende waarheid dat
Christus en Sy kerk die uiteindelike oorwinning oor die saad van die slang van
hierdie wêreld behaal.
2. SKRIFLESING:
Openb.12:1-6 ~ Toe het daar ’n groot teken in
die hemel verskyn: daar was ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan
onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre. 2Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die
geboortepyne was daar. 3Daar het ook ’n ander teken in die hemel
verskyn: daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op
sy koppe was daar sewe heerserskrone. 4Sy stert het ’n derde van
die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het
voor die vrou gestaan wat op die punt was om ’n kind te kry. Hy wou haar kind
verslind sodra sy hom in die wêreld bring. 5Sy het ’n kind in die
wêreld gebring, ’n seun, bestem om al die nasies met ’n ystersepter te regeer.
Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe, 6en die vrou
het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar ’n plek gereed gemaak het,
sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.
3. DIE VROU:
Die eerste ding
wat Johannes sien met die opening van hierdie hoofstuk, is ’n vrou wat deur ’n
groot draak gejag word. Hierdie verse dek die geskiedenis van die heilige
oorlog met spesifieke verwysing na Israel, trouens die ware Israel van God –
die kerk van Christus. Hierdie gesig het
twee hoofkarakters, nl. die vrou en die draak.
Johannes vertel
ook vir ons wat hierdie ...groot teken (v.1) was, nl. ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan
onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre. Hierdie is die eerste gesig of visioen van ’n
vroulike karakter in hierdie profesie. Maar wie is hierdie vrou presies? Ten einde ’n antwoord hierop te vind, moet ons
na die Ou Testament blaai ~ Hy het ook nog ’n ander droom gehad en hy het dit vir
sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf
sterre het voor my kom buig.” 10 Toe hy dit vir sy pa en sy
broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir ’n soort droom
is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor
jou kom buig?” 11 Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die
droom bly dink (Gen.37:9-11).
Dit is opmerklik
dat Josef hier droom van dieselfde hemelliggame wat Johannes in Openb.12 sien: die
son, die maan en die sterre. Josef het geen behoefte gehad om hierdie droom aan
sy Pa uit te lê nie, want sy pa het die verklaring daarvan onmiddellik gesien. Jakob
het verstaan dat die son ’n simbool was van hom; die maan het Rebekka gesimboliseer
en die sterre was verteenwoordigend van Jakob se seuns. Waarom is daar net elf
sterre? Dit is omdat Josef die twaalfde ster is – die ander 11 sterre in sy
droom, het voor hom, die twaalfde ster, kom buig. Aangesien Jakob se twaalf seuns die leiers van
die twaalf stamme van Israel sou word, is Josef se droom baie duidelik daaroor
dat sy droom na Israel verwys. Net so sien Johannes ook dieselfde hemelliggame
en verwys dit ook na Israel, maar aangesien ~ ...nie
almal wat nakomelinge van Abraham is, werklik kinders van Abraham (is) nie (Rom.9:7), ontstaan die vraag dus, na watter Israel verwys
Johannes se visioen? Die antwoord word
duideliker wanneer ons na die volgende vers kyk ~ Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die
geboortepyne was daar (12:2). Weereens word hier na Israel verwys as daar van die vrou
gepraat word, aangesien daar kort-kort na Israel verwys word in die Ou
Testament as ’n vrou in kraam (Jes.66:5-10; Jes.26:17-18; Miga 5:1-3). Die volk word uitgebeeld as ’n swanger vrou,
omdat Israel uiteindelik die Messias gaan voortbring. Ek moet egter dadelik
byvoeg dat wanneer hier van Israel gepraat word, daar nie na die etniese Israel
verwys word nie, maar na die ware Israel onder die ou verbond (wat natuurlik hoofsaaklik
uit etniese Jode bestaan het, maar wie hul geloof in die komende Messias, Jesus
Christus geplaas het).
Daar is baie
mense wat glo dat al die Jode iewers in die toekoms, na Israel gaan terugkeer. Dit
is wel so dat die Woord leer dat ’n groot aantal etniese Jode iewers in die toekoms
hul oë op Christus gaan vestig en in Hom alleen gaan glo, maar daar is niks in
die Woord wat daarop dui dat daar ’n massa terugkeer van Jode na Israel gaan
wees nie.
’n Tweede
hoofkarakter verskyn in v.3 op die toneel, nl. ’n groot vuurrooi
draak. Alhoewel hierdie draak ’n mistiese figuur is, laat dit
ons in geen twyfel wat die identiteit van hierdie draak is nie. Hy word later
in Openb.12:9 as die
slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word, geïdentifiseer.
Hierdie draak is iets verskrikliks en hy word voorgestel met... ~ sewe koppe en tien horings, en
op sy koppe was daar sewe heerserskrone. Hy het verder ’n
buitengewoon kragtige stert gehad, wat... ~ ’n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en
hulle op die aarde gegooi het.
Dit is dus baie duidelik dat die duiwel nie lyk soos wat Hollywood hom
uitbeeld, nl. ’n klein rooi mannetjie met ’n lang vurk in die hand nie. Hollywood
het van die satan, ’n karikatuur gemaak, terwyl die satan geen grap is nie. Hy is slu; veragtelik; gemeen; ’n moordenaar
en ’n leuenaar.
Die rooi kleur
van die draak verwys waarskynlik na al die bloed wat hy deur die eeue heen
vergiet het, want hy was van die begin af, ’n moordenaar ~ ...Hy (die
duiwel) was van die begin af ’n
moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen
waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard,
want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen (Joh.8:44).
Die mistiese
gedeelte van hierdie draak, is die sewe koppe en tien horings. Wat moet ons
met hierdie mistiese beeld maak, hoe moet ons dit verstaan? Baie pogings word
deur verskillende groepe en oortuigings gemaak om dit te verklaar, maar dan
neem nie een van hulle regtig die res van die Skrif in ag wanneer hulle dit
probeer verklaar nie. Kom ons kyk na Dan.7:1-8 ten einde ons te help om hierdie
beeld te verklaar ~ In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van
Babel het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die
droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2 Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind
uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3 Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en
elkeen was anders as die ander. 4 Die eerste het soos ’n leeu
gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is
hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en ’n mens se
verstand is aan hom gegee. 5 Die tweede dier het soos ’n
beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek
gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ 6 En toe ek weer sien, was daar nog ’n dier, een soos
’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van ’n voël. Hy het
vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7 My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer
sien, was daar ’n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy
het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat
oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien
horings gehad. 8 Terwyl ek stip na die horings
kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is
uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ’n mond
wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.
Daniël se visioen fokus
hier op vier groot diere. Die eerste dier met die vlerke verteenwoordig
Babilon. Die feit dat hierdie dier opgelig en ’n mensehart gegee is, mag dui op
wat God met Babilon se groot koning, Nebukadneser, gedoen het ~ Nebukadneser ...is uit die menslike samelewing uitgestoot en moes
gras eet soos beeste. Hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak, en sy
hare het so lank geword soos die vere van ’n arend en sy naels soos dié van ’n
voël (Dan.4:33b).
Die tweede dier, met
die drie ribbebene in sy bek, verteenwoordig waarskynlik die Mede-Persiese
koninkryk. Die feit dat die beer homself opgelig en op sy agterpote gaan staan
het, dui daarop dat die magsbalans in hierdie alliansie nie gelyk verdeel was
nie, want die Perse was sterker as die Mediërs en het uiteindelik die
oorheersende mag in die wêreld geword.
Die drie ribbes in die beer se mond verteenwoordig die drie sterkste
magte wat deur die Mede en Perse verower is, nl. Lydia, Egipte en Babilon (Lydia was ’n Ystertydperk-koninkryk wat in die moderne
Turkse provinsies Manisa en Izmir geleë was.
Babilon was ’n Stadstaat van antieke Mesopotamië en was in die huidige
Al Hillah in die Babil provinsie van Irak geleë).
Die derde dier, was
soos ’n luiperd met vier vlerke en dit het die Griekse koninkryke
verteenwoordig. Toe Alexander gesterf het, is sy koninkryk verdeel tussen sy
vier generaals: Ptolmey I, (wat Egipte en Palestina beheer het), Seleucus I (wat Sirië beheer het), Lysimahus (beheer Tragië en Klein-Asië) en Antipater en Cassander
(wat gesamentlike heersers oor Masedonië en
Griekeland was). Hierdie kwartet van regeerders word uitgebeeld as die vier koppe (en waarskynlik die vier vlerke) van die luiperd.
Die
vierde dier word beskryf as skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk, met groot ystertande. Hierdie dier het die
Romeinse Ryk verteenwoordig. Daniël kon
nie hierdie dier ten volle beskryf nie, want die gesig was te verskriklik,
daarom dat hy sê, dat ... Hy anders (was) as die vorige diere en het tien
horings gehad (ons sal later na die
betekenis van hierdie tien horings kyk – Openb.13).
Elkeen van hierdie
heidense nasies het Israel op een of ander stadium regeer. Indien ’n mens die
koppe in Dan.7 sou neem, vind ons dat daar 7 koppe was (1+1+4+1=7), wat presies dieselfde hoeveelheid koppe is, as
waaroor die “groot rooi draak” van Openb.12:3 beskik het. Elke kop het ’n kroon
opgehad, wat dui op lande (Ryke) wat op een of ander
stadium, heerskappy uitgeoefen het oor Israel, maar volgens 12:3 sien ons dat
die “groot rooi draak” elke keer agter elke heidense oorheersing oor Israel
gesit het, behalwe dat Nebukadneser van Babilon uiteindelik gered is en die
hart van ’n mens ontvang het. God se volk in die Ou Testament was voortdurend
onder die beheer van heidense nasies, maar soos reeds gesê, was dit die “groot
rooi draak” wat agter dit alles gesit het. Johannes se gesig is dus die "geestelike-agter-die-skerms-kykie"
van die ware geskiedenis van God se ou verbondsvolk. Die motief van die sataniese aanslag teen God se volk was natuurlik
primêr geloods om te verhoed dat die Messias uit die volk van God gebore sou
word – daarom dat die volk uitgewis moes word.
Die draak se
oorlogvoering word vir ons verder in v.4 beskryf. Hier word aan ons verduidelik
hoe die draak, die vyand van God geword het. Die beskrywing is kort en bondig ~
Sy stert het ’n derde van die
sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Engele
word dikwels in die Bybel as sterre beskryf. In hierdie vers lees ons dan van
engele wat neergewerp is op die aarde. Dit blyk dus ’n verwysing te wees na
Satan se aanvanklike
val, waartydens hy een derde van die engele saam met hom geneem het. Hierdie is dus ’n verdere uitbreiding of
voortsetting van Jes.14:12-15 ~ Jy wat die helder môrester was, het uit jou hemel
geval. Jy wat ’n oorwinnaar van nasies was, is in die grond in verpletter. 13 En dit jy, jy wat gedink het: ek klim op hemel toe,
ek gaan my troon neersit bokant die hoogste sterre, ek gaan my plek inneem op
die berg waar die gode mekaar ontmoet, ver in die noorde; 14 ek klim op tot bokant die wolke, ek word soos die
Allerhoogste self. 15 Maar jy stort af in die
doderyk, af tot in sy diepste deel
(sien ook Eseg.28:11-18).
Die satan het regdeur
die geskiedenis maar net een doel voor oë gehad, nl. om die Messias te
vernietig. Waarom? Omdat, tot ’n
bepaalde en gekwalifiseerde mate, hy in die Woord van God glo! Hy het geweet en hy glo dat die Nageslag van
die vrou, sy kop uiteindelik sou vermorsel (Gen.3:15) en hy het elke
moontlike “truuk in die boek” uitgehaal om dit te voorkom, want as hy eerste
met die Messias kon afreken, sou die Messias nie met hom kon afreken nie.
Hierdie pogings van die
satan om die Messias te vernietig, begin reeds met Kain en Abel, want uit een
van hierdie twee sou die Messias voortkom en die waarskynlikheid was die
grootste dat Hy vanuit Abel sou kom, want Kain het volgens 1 Joh.3:12, ...aan die Bose behoort en sy broer vermoor. En dan vra Johannes die vraag: En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie
dade sleg was en sy broer s’n reg. In die lig hiervan, vermoor die satan dan vir
Abel aan die hand van Kain. Ongelukkig vir die satan het dit nie gewerk nie,
want God stuur hierna vir Set, deur wie se bloedlyn die Messias uiteindelik
gebore sou word.
Ons sien in Gen.6, dat
die satan reeds die aarde so “besoedel” het met sy boosheid, omdat hy gedink
het dat God die wêreld sou straf vir hul boosheid en hulle derhalwe sou uitwis
en dit sou dan tot gevolg hê dat die Messias nie gebore sou word nie. Weer het
hy nie geslaag nie, want ons sien in Gen.6:8, dat Noag genade gevind
(het) in die oë van die HERE. God het Noag en sy seuns bewaar en dan spesifiek vir
Sem, uit wie se nageslag die Verlosser (Christus
Jesus)
gebore sou word.
Jare later nadat Israel
onder die eersteministerskap van Josef in Egipte, sekuriteit ervaar het, het
Satan weereens ’n poging aangewend om die heilige lyn wat na die Verlosser sou
lei, te vernietig. Toe die Farao senuweeagtig begin raak oor die toename van
die Israeliete se getalle, het hy onder die invloed van die Rooi Draak, opdrag
gegee dat al die seuntjies onder die ouderdom van twee dood gemaak moes word (onthou: die Messias sou as ’n seuntjie in hierdie
wêreld gebore word). Weereens tree God in en word die seuntjie Moses bewaar – Moses die
groot leier wat die volk uit Egipte sou lei na die Beloofde Land. Satan se
pogings eindig egter ook nie hier nie, want terwyl die volk in die woestyn is,
lei hy hulle in afgodery in, sodat God se oordele weereens oor die volk
losbreek en spesifiek tydens die era van die Rigters. Hy poog om Dawid, die voorvader van Jesus,
aan die hand van Saul te vermoor.
By twee geleenthede
tydens die era van die verdeelde koninkryke, is die heilige lyn in Juda bykans
uitgewis, maar God het telkens ingegryp en sy volk bewaar. Buitelandse magte is
deur die satan misbruik om die koms van die Messias te verhoed: Assirië,
Babilon, die Mede en Perse, die Grieke en die Romeine. Gedurende die
Mede-Persiese regering, het die koning opdrag gegee dat die Joodse volk van die
aangesig van die aarde, uitgewis moes word, maar God het vir koninging Ester
gebruik om dit te verhoed.
Met die aanbreek van
die Nuwe Testamentiese tydperk, vind ons dat die satan steeds nie bes gee nie. Herodes word as instrument gebruik om die
opdrag wat die Farao lank terug gegee het, weer te herhaal, deurdat alle
seuntjies onder die ouderdom van twee, gedood moes word. God verhoed weereens
dat hierdie poging die koms van die Messias in die wiele ry, deurdat Hy aan
Josef opdrag gee om met Maria en die Jesus-kind na Egipte te vlug.
Toe dit duidelik blyk
dat Jesus gebore is, probeer die satan nog ’n keer om Jesus van Sy Goddelikheid
te ontneem, deur Hom in die wildernis te versoek, wat Christus natuurlik self
weerstaan het. Bo en behalwe sy poging in die wildernis, het Satan tydens Jesus
se tydperk op aarde, verskeie pogings aangewend om Jesus om die lewe te bring –
dink aan die godsdienstige leiers van Jesus se dag. God het Hom elke keer
beskerm – en dan die einde – Jesus sterf aan die kruis op Golgota. Satan moes gedink het dat hy uiteindelik die
oorwinning behaal het – Die Messias is dood en hy wat Satan is, se kop is nog
heel! Maar dan vind die opstanding en Christus se hemelvaart plaas! Aan Christus word alle gesag in hemel en op
aarde gegee (soos bewys o.a. in die val
van Jerusalem nagenoeg 40 jaar later). Satan se kop is inderdaad verbrysel! Satan het gefaal!
Satan se pogings is
absoluut futiel. Die goddelike nageslag
sal altyd oorwin, al moet sy dikwels beproewing in die proses ervaar. Hierdie
feit lê aan die hart van geestelike oorlogvoering. Dit is belangrik dat ons
onmiddellik daarop moet wys, dat geestelike oorlogvoering soos in hierdie
hoofstuk beskryf (en in die meeste gedeeltes
van die Nuwe Testament) korporatiewe (gesamentlik) oorlogvoering is,
m.a.w. die gelowige voer dit nooit op sy eie nie, trouens hy kan dit nie op sy
eie voer nie. Daar word deesdae baie
klem gelê op geestelike oorlogvoering, maar die klem word heeltemal te veel op
individuele oorlogvoering geplaas (of dit
ten minste gesuggereer), i.p.v. korporatiewe oorlogviering. Natuurlik moet elke individuele
gelowige uitvoering gee aan Ef.6:10 (Soek julle krag in die Here en in
sy groot mag), maar ons moet altyd
in gedagte hou dat die satan se primêre aanslag teen die kerk eerder as
individuele gelowiges is. Ons veg nooit alleen nie; ons veg in ’n “Christelike
weermag”. Die Kerk moet die geveg veg in die krag van Jesus Christus.
Ons het tot ’n mate al
gekyk na die draak se mislukking, maar Johannes spel dit vir ons in v.5 nog
duideliker uit. Die draak se pogings om die Kind te vernietig, het ons gesien,
het op niks uitgeloop nie, want uiteindelik word Hy opgewek uit die dood en
vaar Hy op na die hemel en begin Hy om oor al die nasies van die wêreld te
heers.
Die Kruisgebeure word
glad nie hier op die agtergrond geskuif nie, maar Johannes praat hier van twee bykomende
hoofmomente in Christus se bediening, nl. Sy geboorte (Sy het ’n kind in die wêreld gebring) en Sy hemelvaart (Haar kind is egter weggeruk na
God en na sy troon toe). God se plan was volbring – Hy het voorwaar die
nasies met Sy ystersepter begin regeer (v.5)! Hierdie uitdrukking word
verleen aan Ps.2:9. In Ps.2 vind ons beide Jood en heiden, wat saam in rebellie
teen God verkeer. Hulle het beide daarna
gesoek om alle vorme van gesag van hulle af te skud. God laat Hom egter nie
intimideer deur mense nie en Sy teenoptrede is om die koms van Sy Seun aan te
kondig, wanneer Hy sê ~ Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle
flenters slaan soos ’n kleipot (Ps.2:9). Hierop gee God ’n opdrag aan hulle ~ Wees dan nou verstandig,
konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! 11 Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en
bewing toejuig 12 en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en
julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal
wat by Hom skuiling soek (Ps.2:10-12).
Die boek van Openbaring
het een hooftema, nl.: Christus ontvang die volkere as Sy erfenis.
A.g.v. die opstanding en hemelvaart, sal die Evangelie, alle nasies bereik en
oorwin. Satan haat die Groot Opdrag, maar ten spyte van sy aanvalle teen die
kerk, sal hy nooit die oorwinning behaal nie, want Hy kan nie meer wen nie,
omdat sy kop reeds verbreisel is – en dit is genoeg rede vir ons om in
lofprysing uit te bars!
Die fokus verskuif nou
in v.6, weg van die draak na die vrou.
Hier vind ons ’n beskrywing van die beskerming van die Joodse kerk na
die hemelvaart en dan met spesifieke verwysing na Luk.21:20-24 ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem
deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en
dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die
stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek
God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23 “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in
daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal
groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24 “Sommige sal deur die swaard val en ander as
krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die
heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is. Gedurende die finale
veldslag teen Jerusalem, het die gelowiges uit Jerusalem ontvlug na Pella waar
hulle vir 3½ jaar (42 maande, 1 260 dae – ’n
tyd, en tye en ’n halwe tyd) deur God beskerm is.
Deurgaans deur die
geskiedenis het Satan daarop gefokus om die Messias se koms te verhoed, of om
Hom uit die weg te ruim. Elke poging wat
geloods was, was teen God se kinders geloods, want vanuit hierdie heilige bloedlyn
sou Christus kom. Teen die tyd dat Christus opgevaar het na die hemel, was dit
baie duidelik (selfs vir die groot rooi
draak self ook) dat die satan misluk het. Hy kon
niks meer doen om die Messias se heerskappy te voorkom of te beëindig nie en
daarom, in sy woede, rig hy sy aandag nou op die vrou. As hy Christus nie uit
die weg kon ruim nie, kan hy ten minste probeer om die kerk te vernietig. Satan
se primêre fokus sal aanvanklik gerig wees op die kerk in Jerusalem. Met die
Romeinse oorheersing en aanval teen Jerusalem (<70 n.c.="" span="">het die duiwel waarskynlik gedink dat daar ’n kans bestaan om suksesvol
te wees in sy doelwit, maar ook daarin het hy misluk, want Christus het Sy
kinders beseël en afgemeet sodat hulle beskerm sou word (Openb.7:1-8; 11:1).70>
Hierdie beskerming word
vir ons verder in v.6 beskryf. God het
vir hulle ’n plek in die wildernis voorberei, by name Pella, waarheen Sy
kinders sou vlug ten einde die verwoesting van Jerusalem te ontkom. Daar was
weliswaar erge vervolging teen die kerk van die Here Jesus gedurende die Joodse
oorloë, maar God was getrou en het hulle deurentyd beskerm. God se wraak en
oordele sou eerder op die afvallige Israel val, eerder as op die kerk.
Daar in Pella, was die
kerk vir 1 260 dae gevoed en versorg – onthou dat hierdie tydperk van 1 260
dae, presies die tydperk was wat die Joodse oorlog geduur het. God het Sy kinders (die kerk) uit die oorlogsone in Jerusalem verwyder en hulle
derhalwe beskerm terwyl die afvallige Israel verwoes is.
4. AFSLUITING:
Hierdie Goddelike
versorging en voeding van die kerk, herinner ’n mens nogal aan Elia se ervaring
toe hy weggevlug het van koning Agab en koningin Isébel ~ Elia die Tisbiet was ’n
bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God
van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou
of reën val nie, behalwe as ek so sê.” 2 Die woord van die Here het tot
Elia gekom en gesê: 3 “Gaan hiervandaan af ooswaarts
en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4 Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die
kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” 5 Hy het gedoen soos die Here
aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan.
6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis
gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit
die spruit gedrink (1Kon.17:1-6).
Net soos wat God vir
Elia beskerm en versorg het, net so het Hy Sy kinders versorg en beskerm teen
die aanslag van die groot rooi draak. Wanneer dit wil voorkom asof die satan
die kerk en ons domineer, kan ons altyd die versekering hê dat God Sy
oorblyfsel sal beskerm. Daarom hoef ons
niks te vrees nie! God het altyd in die verlede en sal altyd in die toekoms, Sy
ware Israel – vir jou en my, beskerm!
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 07 April 2013