Sunday, April 28, 2013

Bewaar Jou Hart - 01 (“Roei sonde met wortel en tak uit")



1.     VOORAF:
Met die boodskap wat ek vanoggend gaan bring, wil ek heel eerste sê, dat bitter min van die inhoud, my eie werk is. Ek en Jeanne het nou onlangs, gedurende ons tydjie in die Wildtuin, na ’n preek van Dr. Steven Lawson (Senior pastor of Christ Fellowship Baptist Church in Mobile, Alabama, USA) geluister wat hy gegrond het op Jonathan Edwards se "70 Resolutions", of te wel sy "70 Vaste Voornemens vir ’n heilige lewe". Hierdie boodskap het my so aangespreek en aangegryp dat ek net gevoel het dat ek dit met julle móét deel en daarom gee ek ten volle erkenning aan Steve Lawson vir die inhoud van vanoggend se boodskap. Uiteraard moet ’n mens ook erkenning gee aan die bekende ou Puriteinse teoloog, Jonathan Edwards (1703-1758), wat veral bekendheid verwerf het vir o.a. twee van sy boeke nl.: "Sinners in the Hands of an Angry God" en "Freedom of the Will".

2.     INLEIDING:
As daar een ding is wat sal verhoed dat God se heerlikheid in en deur ons lewens sal manifesteer, is dit die teenwoordigheid van sonde in ons lewe. Anders gestel, dit is sonde wat God ontneem van heerlikheid in en deur ons lewens. As gelowiges is dit tog ook so dat ons nie een oomblik ons Hemelse Vader wil bedroef nie, maar dit is juis sonde in ons lewe wat God bedroef.

Ons diepste begeerte as gelowiges is en moet tog altyd wees om God te verheerlik in en deur ons lewe – ons wil nie meer, en ons behoort nie meer, ons lewe te lei soos óns wil nie, trouens as dít nié ons diepste begeerte is nie, kan ons wedergeboorte baie sterk in twyfel getrek word.

Ten einde ons te help met hierdie worsteling in elkeen
se lewe, gaan ons kyk na hoe Jonathan Edwards hierdie saak aangepak het. Edwards het vir homself 70 voornemens neergeskryf waarvolgens hy sy lewe ingerig het, en ons gaan vanoggend na een van hierdie "voornemens" kyk, ten einde ons te help om sonde in ons lewe te beveg.

Ons gaan dan vanoggend praat oor jou en my hart, want ons hart is die setel van alles wat goed of sleg is – ons hart is die episentrum van ons ganse lewe. Alles wat jy dink en sê en doen vloei voort vanuit jou hart. Die ware jy is wat jou hart in werklikheid is. Ons kan baie maklik iets voorgee wat ons nié in werklikheid in ons hart is nie. Die Fariseërs was baie goed hiermee – hulle het baie vroom voorgekom, maar in hulle hart van harte, was hulle korrup. Soos Steve Lawson dit pragtig stel: Hulle was baie goed daarmee om die buitekant van die glas baie mooi skoon en blink te hou, maar hulle het nooit die binnekant van die glas skoon gemaak nie.

Dit help dus niks om aan die buitekant baie vroom en godsdienstig voor te kom, maar aan die binnekant (in ons hart van harte) is ons korrup nie. As jy en ek dus God in waarheid en oorgawe wil dien, moet ons hart in harmonie wees met God se hart en dít is waarin God belangstel – nie ons uiterlike optrede nie, maar ons hart – ons siel. Die wortel van ’n boom, bepaal uiteindelik die vrug wat so ’n boom dra. Om die bron van jou optrede na buite te bepaal, moet jy derhalwe na jou hart gaan kyk. Nét wanneer die fontein van jou siel suiwer is, sal daar ’n suiwer en heilige stroom van lewenswater voortspruit (Joh.7:38). Daarom, ten einde ’n godvrugtige en heilige lewe te leef wat tot eer van God is, moet ons toesien dat ons harte rein is.

Toe God ons uit genade wederbaar het, het Hy aan elkeen van ons ’n nuwe hart gegee – Hy het in onverklaarbare genade, die ou hart van klip wat in rebellie teen God was, vervang met ’n nuwe hart van vlees – ’n hart wat verlang na God en wat God lief het (Eseg.11:19; 36:26).

Ons moet egter daagliks omsien na hierdie nuwe hart van ons, want a.g.v. ons sondige natuur wil ons hart van vlees gedurig terug neig na die hart van klip wat ons vantevore gehad het en daarom waarsku Salomo ons in Spr.4:23 ~ Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Na aanleiding hiervan gaan ons dan na twee dinge kyk:
·           Eerstens gaan ons vandag kyk na Edwards se 24ste voorneme en dit gaan wees asof ons aan sy voete sit en luister na hoe hy ons bemoedig en aanmoedig om ons lewens in die regte rigting te stuur.
·           Tweedens gaan ons D.V. volgende week, na een van Jonathan Edwards se preke kyk en ervaar hoe hy ons vanuit die Woord van God voed en leer ten einde hierdie geveg teen sonde te veg en te wen.

3.    EDWARDS SE 24 ste VOORNEME:
Edwards het, soos vroeër vermeld, sewentig voornemens vir homself neergeskryf ten einde sy eie geestelike lewe te moniteer en hom op die regte pad te hou. Hy het dit gedoen, nadat hy die Woord bestudeer het en hy ernstig oor hierdie voornemens besin en gebid het én waarna hy ’n opregte toewyding ("commitment") teenoor God hieroor gemaak het.

Sy 24ste voorneme waarna na ons vanoggend gaan kyk, lui soos volg: Ek het die vaste voorneme om elke keer wanneer ek enige ooglopende sonde begaan, die oorsprong daarvan op te spoor en dit dan doelbewus nié meer te doen nie en ook om daadwerklik en met al my mag, teen die oorsprong daarvan te veg en te bid. Let op wat hy gesê het, "...om die oorsprong daarvan op te spoor".

     Wanneer ’n mens ’n nuwe bedding in jou tuin maak, help dit nie om die vuilgoed net bokant die grond af te steek met ’n graaf nie – dit gaan net weer groei, trouens dit gaan net nóg beter en geiler en sterker daarna groei – nee, elke stukkie vuilgoed moet met wortel en tak uitgeroei word, as jy ontslae wil raak van die vuilgoed.

Dit is presies wat Jonathan Edwards in hierdie 24ste voorneme van hom sê – hy wil m.a.w. nie net die uiterlike en sienlike deel van die sonde afsny, sonder om die oorsprong van die sonde, wat onder die oppervlak en onsigbaar is, aan te spreek en uit die weg te ruim nie – daardie wortel wat sy oorsprong in sy hart het. Om dit suksesvol te doen, verg sorg en onderskeid, asook ernstige en opregte sondebelydenis én opregte bekering. Dít is wat God ook in jou en my lewe wil doen – Hy wil reg daar in jou hart kom werk ten einde jou sonde met wortel en tak uit te roei en nie net die uiterlike manifestasie daarvan nie.

Wanneer ons kyk na Edwards se voorneme, plaas Steve Lawson vir ons die fokus op ses sleutelaspekte van hierdie voorneme van Edwards, nl. om sonde in jou lewe te identifiseer en dit met wortel en tak uit te roei – onthou, die primêre redes waarom ons hieroor praat en waarom Edwards so ’n ernstige voorneme hieroor geneem het, is omdat sonde God beroof van Sy heerlikheid in en deur ons lewe en daarom moet ons ook uiters toegewyd en ernstig aandag aan hierdie saak skenk.

·           Die eerste sleutelaspek vir Edwards en daarom vir ons ook, is om die bestaan van sonde te erken – sonde in die algemeen, maar spesifiek dan ook sonde in ons eie lewe. Ons kan nie die bestaan van sonde ontken nie. 1 Joh.1:8 sê ~ As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Ons almal het sonde in ons lewe en dit is die Woord van God en die Heilige Gees wat met ons bewussyn werk om sonde in ons lewe te identifiseer – beide aan die buite- sowel as in die binnekant. Edwards het dan ook gesê dat dit nie genoeg is om net die uiterlike sonde aan te spreek nie, maar dat hy ook die oorsprong van sonde wil identifiseer en dit hanteer. Kom ek gee ’n voorbeeld hiervan. In Ps.51:5 sê Dawid ~ Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my (OAV). Om op hierdie plek te wees waar Dawid was, is ’n baie gesonde plek in jou geestelike lewe, waar jou sonde voorop staan en jy dit herken en erken.

       Dit is ’n feit dat hoe meer jy groei as gelowige in genade en kennis van die Here Jesus Christus, hoe meer sal jy bewus wees van sonde in jou lewe. Daar behoort dus minder sonde in jou lewe te wees na mate jy ouer word en geestelik groei, asook ’n groter bewustheid daarvan dat sonde uit jou lewe geweer moet word! Hoe nader jy aan die Lig lewe en hoe nader jy getrek word aan die Lig van die heiligheid van God, hoe meer word jou sonde en onvolmaaktheid verlig – 1 Joh.1:5b ~ ... God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

       Hierdie is die beginpunt waar elkeen van ons móét wees – ’n erkenning van sonde en onvolmaaktheid; ’n punt waar jy eienaarskap aanvaar vir jou sonde. Dit begin dus by ’n punt waar jy sê: Dit is ek; dit is EK; dit ÍS ek! Dit begin by ’n punt waar jy ophou om die vinger na andere, of jou omstandighede te wys en die blaam op hulle of dit te plaas, maar waar jy jou vinger na jou eie lewe en jou eie hart wys en jy erken dat jý die oortreder en sondaar is!

       Dit is die plek waar jy moet wees – om jou sonde te herken en te erken, want jy kan nie begin om jou sonde te hanteer, as jy dit nie sien en erken nie.

·           Tweedens: Dit is nie net genoeg om jou sonde te erken nie, maar jy moet ook saamstem met wat God oor en van jou sonde sê; om posisie saam met God in te neem teen jou sonde; dit te erken en dit dan ook te bely. Jesus het vir ons tydens Sy Bergpredikasie geleer hoe om te bid en daarom moet dit ’n integrale deel van ons lewe wees ~ ...en vergeef ons ons sondes (Luk.11:4a). Ons moet dus berouvolle "belyers" van sonde wees.

·           Nie alleen moet jy sonde erken en bely nie, maar jy moet dit ook naspoor tot in sy wortel – tot sy oorsprong. Wanneer Edwards dit sê, verwys hy na sy eie hart, omdat alle sonde hul oorsprong in die hart het. Edwards het op ’n keer gesê: "When I look into my heart and take a view of my wickedness it looks like an abyss (afgrond) infinitely deeper than hell."

       Ons het meesters geword om sonde in ander mense raak te sien en die skuld op alles en almal buite onsself te plaas, terwyl ons meesters moet word om sonde in ons eie harte te identifiseer en wel tot by die diepste, diepste oorsprong daarvan – kom ons kyk na ’n paar Skrifgedeeltes:
-        Saam met Dawid moet ons uitroep ~ Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur (Ps.26:2) – hier is Dawid besig om sy sonde na te speur tot by die oorsprong – die OAV stel dit nog mooier ~ Toets my, Here, en beproef my, keur my niere en my hart. Dawid vra dat God sy hart sal ondersoek en toets en te ontbloot – nie vir God om sy sonde te sien nie, want God sien dit in elk geval, maar dat hý wat Dawid is, sy sonde kan sien – "Laat my toe om myself – my eie hart, te sien soos wat U my sien Here!" Alleenlik wanneer ons by hierdie punt is, kan ons stappe neem om God te verheerlik.

       Ons sê gereeld vir mekaar dat ons geskape is om God deur ons lewe te verheerlik, maar om dit te doen, begin nie by mooi en lofwaardige dade nie – nee, ons moet by die regstel van ons sonde – by ons harte begin – dít is waar ons begin om God te verheerlik!

-        Ps.139:23-24 ~ Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! Die Psalmis pleit hier dat God sy eie hart aan hom sal ontbloot, want hy weet dat God alles weet, trouens hy bely dit alreeds in v.1 van Ps.139 ~ Here U sien dwarsdeur my, U ken my (...gedagtes – OAV). Waarom vra hy dit vir die Here – waarom moet jy en ek dit vir die Here vra? Omdat ons in ontkenning oor ons eie sonde leef – ons mislei onsself dus gedurig wat ons eie sonde betref; ons bedek dit en ons bedek dit so goed, dat ons dit self nie eers meer raaksien nie ~ Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my... Wanneer laas het jy hierdie gebed van Dawid gebid? Het jy al ooit hierdie gebed van Dawid gebid? Wanneer jy hierdie gebed bid, is dit die begin van ’n proses om God deur jou lewe te verheerlik. Waarom is dit nodig? Jer.17:9 ~ Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Die antwoord hierop? Niemand; niemand, net God kan en daarom moet Hy ons harte aan ons ontbloot.
-        Jesus sê in Matt.12:35b ~ ...die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.
-        Mark.7:21-22 ~ Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord... M.a.w., nog lank voor die sondedaad begaan word, was dit alreeds teenwoordig in die hart, ... 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak n mens onrein. Hierdie is die kern van die leerstuk van radikale verdorwenheid ("total depravity" = die "T" in TULIP). Edwards het gesê dat hy God met alles in Hom wil verheerlik, maar hy besef ook dat die stok in die speek om dit te laat realiseer, die teenwoordigheid van sonde is en daarom moet en sal hy sy sonde erken; die oorsprong daarvan bepaal en dit derdens laat staan – opregte bekering moet derhalwe plaasvind.
·           Sonde moet altyd tot belydenis en bekering lei, anders is dit nie opreg nie. Martin Luther het gesê: "To do so no more, is the truest repentance". Lawson sê hierop, dat dit nie net "krokodiltrane" is nie, maar om dit nié meer te doen nie – dít is opregte belydenis en bekering.
-        Jesaja sê in Jes.55:7 ~ Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer...
-        Jes.1:1:16 sê ~ …remove the evil of your deeds from before my eyes; cease to do evil (ESV).
-        Hoor wat sê Jesus in Matt.5:27 t.o.v. die bekering en neerlê van jou sonde – die ontworteling van sonde uit jou hart ~ Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. En dan gaan Jesus voort deur in v.29 te sê ~ As jou regteroog jou laat struikel (m.a.w. deur jou oog kom die wellus – sê Hy...), haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Wat Jesus hier sê, is dat jy en ek, radikaal met sonde moet omgaan – wat dit ook al neem om dit uit jou lewe verwyder te kry – kry dit net uit! Hanteer dit! Lê dit af! Draai weg van daardie sonde – moet dit nie langer in jou hart vertroetel nie, want jy kan God nie verheerlik indien jy volhard in sonde nie.
-        Kol.3:8 ~ Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie.
-        Ef.4:22 ~ Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Hier het ons weer die hele gedagte van "putting off" en "putting on" (iets wat ons al vantevore in die gemeente hanteer het) – lê af en neem op m.a.w. – die ESV sê ~ put off your old self.     

       Ons moet sonde met wortel en tak uit ons lewe weer. Watter sonde is daar teenwoordig in jou hart – dit is ’n baie persoonlike saak, maar dit is ’n ernstige saak – ’n lewensbelangrike saak – ’n "ewige-lewe-belangrike-saak". Watter sonde belig die Heilige Gees vandag in jou hart? Skenk ernstig en dringend aandag daaraan, sodat jy jou lewe maksimaal tot eer van God kan leef! Wanneer jy daardie sonde bely en laat staan, skyn die heerlikheid van God in en deur jou lewe en word God verheerlik.

·           Die vyfde sleutel: Edwards het homself nie alleen voorgeneem om sonde af te lê nie, maar hy sê verder dat hy doelbewus teen sonde veg. Sonde gee nie maklik bes nie; sonde en veral diep gewortelde sonde gaan nie sommer net verdwyn sonder dat ons ’n geveg opsit nie, daarom dat Edwards gesê het, dat hy met al sy mag daarteen sal veg. Hy het ook gesê, dat hierdie geveg sal voortduur tot die einde toe – so lank as wat jy en ek hier op aarde is sal hierdie geveg, deel wees van ons lewe – tot eer van die Here! ’n Geveg teen ons eie vlees – Islam en Zuma en die liberales en postmodernisme is nie ons grootste vyand nie – ons eie vlees is ons grootste vyand en ons besef dit nie eers altyd nie!

       Ons moet paraat wees om elke dag, tot die einde toe in ’n hand-tot-hand geveg betrokke te wees teen ’n dodelike vyand! Dit is hoe Paulus dit stel in 1 Kor.9:27 ~ Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer... Die werkwoord wat Paulus hier gebruik wat vertaal word met "oefen", is  ὑπωπιάζω (hypopiazō). Hierdie woord verwys na die boksers wat in Korinte aan die Isthmiaanse Spele deel geneem het (iets sg. aan vandag se Olimpiese Spele) en waar hierdie boksers handskoene met koper knobbels aangehad en letterlik tot die dood toe baklei het. Hierdie woord ὑπωπιάζω (hypopiazō) beteken dan ook letterlik om swart en blou te slaan (kneusplekke). Let op wat Paulus hier sê – hy sê, ek slaan en ek kneus my eie liggaam – hy hanteer m.a.w. sonde in sy lewe, op ’n radikale wyse en wel op so ’n wyse totdat sy liggaam "swart en blou" is – en dit doen hy deur die krag van die Heilige Gees.

·           Die laaste sleutelaspek vir Edwards, is om teen sonde te bid. Wanneer hy dit sê, bely hy dat hy nié op sy eie hierdie geveg teen die sonde en die mag van sy vlees kan veg nie, want die vlees kan tog nie die vlees weerstaan nie – dit kan net gedoen word deur die krag van God en net met die hulp van God kan hy sy sonde raaksien, dit bely en hom daarvan bekeer. Daarom dat hy sê dat hy met al sy mag tot God bid. God moet hom die genade skenk; God moet hom die krag gee; God moet hom die genade skenk om hierdie sonde te oorkom en om hom van hierdie sonde te bekeer ~ Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (Sag.4:6). Luister na 2 Tes.3:3 ~ Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die bose bewaar.

4.    AFSLUITING:
       Geliefdes, wat se sonde is daar waarin jy vasgevang sit – ’n sonde wat net weer en weer kop uitsteek; ’n sonde wat jy nie kan afskud nie? ’n Sonde wat jy male sonder tal bely het en weer bely het en waarvan jy in opregtheid wou wegdraai, maar dit bly homself net weer en weer herhaal? God se krag en genade om jou daarvan te bevry ís kragtig en beskikbaar – ons moet net bid en God vra om genade, ten einde daardie sonde uit ons lewe te weer en saam met Hom, daadwerklik daarteen te veg en dit te weerstaan en dit uiteindelik te oorwin!

       Dit is wat Jonathan Edwards vir homself en teenoor die Here onderneem het, nl. om sy lewe en sy hart te bewaar – nie net om sonde aan die buitekant te poleer nie, maar om dit na te speur tot in sy wortels – tot daar waar hierdie donker en bose fontein ontspring.

       Die vraag is of jy jou hart voortdurend ondersoek en of jy sonde tot in sy wortel volg en uitroei – of jy ernstig, baie ernstig is oor sonde? Die realiteit van wie en wat jy is, word bepaal deur die toestand van jou hart en die heel belangrikste ding in jou geestelike lewe, is dat jou hart suiwer en rein sal wees en dat jy ’n diep en opregte hartsverlange na God sal hê; dat jou hoogste prioriteit in hierdie lewe sal wees om God te verheerlik, deur jou hart te reinig en jou van sonde te bekeer; dat jy God meer lief sal hê as wat jy die wêreld en sonde lief het. Dit was Jonathan Edwards se vaste voorneme.

       Dit is so dat daar te veel gelowiges is wat maar net té neutraal t.o.v. sonde staan en óf nie betrokke raak in die geveg teen sonde nie, óf sommer gou tydens die geveg net bes gee en toegee aan die versoeking – of dit nou van buite kom en of dit in jou hart ontspring – die wil om teenstand te bied is net té dikwels nie daar nie.

       Ons móét, t.w.v. die eer van die Here, maar ook t.w.v. ons eie siele heil, ’n vaste voorneme maak om sonde terug te volg tot in die wortel en dit dan m.b.v. gebed en die krag van die Heilige Gees, met wortel en tak uit te roei en te beveg – tot die dood toe!

       Ons moet tyd maak en stil raak in die teenwoordigheid van God en gaan soek na diepgewortelde sonde in ons lewe en dit met die genade van die Here uitroei en beveg!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 28 April 2013