1.
INLEIDING:
In Joh.12:31 het Jesus die volgende aan Sy
dissipels oor Sy komende kruisiging gesê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die
owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. In Johannes Calvyn
se kommentaar oor hierdie gedeelte sê hy die volgende (ek haal aan in Engels): As if
He had already finished the fight, the Lord now rejoices as the Victor, not
only over fear but also over death... And although Christ had already begun to
set up the kingdom of God, it was His death that was the true beginning of a
properly-ordered state and the complete restoration of the world. Calvyn het onwrikbaar geglo dat die
kruisgebeure, die aanvang van die hervorming en herstel van die wêreld
was. Hy het dus geglo dat die kruis die
beginpunt was van die herstel van die verhouding tussen die mens en God. Hierdie is dan ook deurgaans die
onderliggende tema van Openbaring. Hierdie brief van Johannes is dus nie een of
ander mistiese geskrif wat ons allerlei leidrade gee sodat ons die toekoms kan
ontrafel nie. Nee, hierdie profesie is
primêr vir ons gegee, sodat ons die Persoon van Jesus Christus beter kan leer
ken en kan sien hoe dat Hy Sy koninkryk deur die kerk, vestig in hierdie wêreld.
Openbaring 12 is een van die duidelikste
gedeeltes in die Woord om hierdie waarheid aan ons te openbaar. Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die
heilige oorlog en hoe dit by Israel begin het (God se Ou Verbondsvolk) en hoe hulle deur
die groot draak, satan geteister is.
Satan het dan ook die volk vervolg omdat die ware Israel in die midde
van die Ou Verbondsvolk bestaan het – hulle wat vooruit geglo het in die
Saligmaker, Jesus Christus.
Satan het egter die Joodse volk om nog ’n
rede vervolg en dit was omdat hy geweet het dat die Messias vanuit die volk van
Israel gebore sou word en daarom wou hy die volk verwoes, sodat Jesus Wie
belowe is dat Hy die satan se kop sou kom vermorsel (Gen.3:15), nie gebore sou word nie –
Satan het dus in voortdurende vrees geleef! Jesus is egter gebore en Hy het uiteindelik
opgevaar na die hemel en die satan het derhalwe sy fokus verskuif en gefokus op
die kerk – die ware Israel van God – dit alles het ons reeds in 12:1-6 gesien.
Jesus se kruisiging, opstanding en
hemelvaart, het ’n hemelse viering en feestelikheid tot gevolg gehad en ons
behoort saam te jubel met almal in die hemel oor hierdie gebeure rondom Jesus.
Nadat Johannes die groot rooi draak en sy
magte gesien het, het hy ’n harde stem in die hemel gehoor. Dit was ’n stem wat feesvieringe
verteenwoordig het en hoor net wat sê die stem in v.10 ~ Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag
en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Wat het hier gebeur (vanuit “hemelse perspektief”)? Christus het na die hemel terug gekeer, Satan
is neergewerp op die aarde en Christus se koninkryk het gekom. Toe Adam gesondig het, het Satan die
heerskappy wat aan Adam gegee was, onwettig vir homself opgeëis. Die Laaste Adam het die satan egter nou
verslaan en die heerskappy en gesag terug geneem. Satan het geen gesag meer in hierdie wêreld
nie en alle gesag op aarde en in die hemel behoort nou aan Christus.
Omdat Christus die oorwinning behaal het, het
ons ook die oorwinning oor die satan behaal, omdat ons in Christus Jesus
ingeplant is ~ Hulle
het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die
boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad
dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie (Openb.12:11). Die woord “oorwin” is in die Grieks ’n juridiese woord, wat letterlik beteken om ’n
gunstige uitspraak te ontvang. Die satan
het die Ou Testamentiese gelowiges aangekla, maar in Christus het hulle ’n "gunstige
uitspraak" ontvang en is hulle vrygespreek op alle aanklagte. Hierdie oorwinning is natuurlik aan die kruis
behaal.
Die Ou Testamentiese gelowiges het Christus
en Christus alleen vertrou vir hulle geestelike oorwinning – en ons moet van
hulle leer. Daar word in ons dae baie
gepraat van geestelike oorlogvoering, maar wanneer ons geteister word deur die
vyand, oorwin ons hom en sy bose engele, nie in eie krag nie, maar deur die
kruis van Jesus en Sy Evangelie. Ons kyk
na Hom en Hom alleen in ons stryd teen die vyand.
Wanneer ons dit doen, het ons oneindig baie
rede om ons te verheug in Christus, want met die insig wat ons vandag deur die
Woord van God het, weet ons waar ons heil lê – kennis en insig wat die Ou
Testamentiese gelowiges nie oor beskik het nie, maar nogtans het hulle
“vooruit” in Christus Jesus geglo en in Sy Naam gejubel. Ons kan jubel en God verheerlik, want
Christus sit op Sy troon in die hemel en die vyand kan ons nie meer aankla nie.
Openb.12:12 stel ons bekend aan die materiaal
wat gaan volg in 12:13-17. Johannes
skryf ~ Daarom, hemel en dié wat
daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat
die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min
tyd het. Diegene wat in die
hemel “tabernakel” (woon), het baie rede tot feesvieringe, omdat die
satan nie met hulle, hul “woonplek” deel nie, maar daar heers ’n ander
gesindheid op aarde, want die duiwel is uitgestort op die aarde en daaroor is
hy baie kwaad – die ongeredde aardbewoners behoort opreg rede te hê om
bekommerd en vreesbevange te wees.
Die satan se primêre fokus het egter nou (ná Golgota en die opstanding)
verskuif na die kerk. Ons as gelowiges –
die kerk van die Here Jesus Christus, het egter niks om te vrees nie. Ja, ons word ook geteister deur die satan,
maar ons weet dat ons in en deur Christus reeds die oorwinning behaal het.
2. SKRIFLESING:
Openb.12:13-17 ~ Toe die draak sien dat hy op
die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld
gebring het. 14 Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee,
sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele
vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. 15 Die slang het toe ’n stroom
water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur
die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het
oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. 17 Die draak was woedend oor die
vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die
gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. 18 Die draak het toe op die
seestrand gaan staan.
3. DIE OORLOG:
In die eerste ses verse
van hierdie gedeelte, sien ons dat die groot rooi draak oorwin is en dat hy sy
stryd teen die “Kind” (die Messias) verloor het en nou
verskuif hy sy fokus na die “vrou” wat die “Kind” in die lewe gebring het, nl.
die Joodse kerk. Die kerk word egter
bewaar, deurdat God aan haar twee groot arendsvlerke gegee het. Hierdie is natuurlik Ou Testamentiese beeldspraak ~ Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en
hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5-6 As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou,
sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters
dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy
aan die Israeliete moet vertel (Eks.19:4-6). Ons lees ook in Deut.32:10-12 ~ Hy het sy volk in die woestyn
gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk
omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. 11 Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes
uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n
arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, 12 so het die Here, net Hy alleen,
sy volk gelei; daar was nie ’n ander god by Hom nie. In beide hierdie gedeeltes word Israel se
uittog uit Egipte beskryf in terme van arendsvlerke. Hier in Openb.12:14 word die ware Israel van
God weer gered van die “nuwe Egipte” (Jerusalem
– Openb.11:8), deur arendsvlerke. Hulle word
gered en weggelei na ’n veilige plek (en
hier moet ons weer na die O.A.V. kyk, omdat die N.A.V. hierdie gedeelte nie
korrek vertaal het nie) ~ ...sodat
sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang
onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe
tyd. Ons het hierdie tydsduur van ’n tyd en tye en
’n halwe tyd al vantevore gesien en toe ook vasgestel dat dit dui op ’n tydperk
van drie-en-’n-half jaar. Die gelowiges
word uit Jerusalem na Pella in die woestyn gelei vir die duur van die
verwoesting van Jerusalem.
Hierdie gebeure het
egter nie die groot rooi draak se aanvalle gestop nie, want ons sien in
vv.15-16 die volgende ~ Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit
sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon
word, 16 maar die aarde het die vrou te
hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek
uitgespoeg het. In Egipte het die satan die
Farao gebruik in sy poging om die volk van God uit te wis. Die Farao het opdrag gegee dat al die
seuntjies onder die ouderdom van 2 in die Nylrivier gegooi moes word. God het egter Sy volk beskerm. By die Rietsee (Skelfsee – O.A.V.) het Satan gedink dat hy die volk in ’n val gelei het,
toe hulle te staan gekom het voor die see en die Egiptiese weermag wat in
aantog was van agter. Weer red God Sy
volk deur die water te kloof. Ons vind
hierdie selfde beeldspraak van water, weer hier in Openb.12 waar Satan poog om
die vrou te vernietig. God gryp egter
weer in ~ ...maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het
oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het (v.16). Soos in die verlede ook reeds aangetoon,
verteenwoordig die aarde, Jerusalem.
Satan se poging om die kerk te vernietig, was geabsorbeer deur Jerusalem
gedurende die Joodse oorlog. Alhoewel
die “vloedgety” van die Romeinse Ryk oor Jerusalem gespoel het, het God
weereens Sy kinders bewaar, want dit was die afvallige Jerusalem wat in die
slag gebly het en nie “die vrou” nie.
Die draak se wraak het tot gevolg gehad dat Jerusalem en die tempel
vernietig is – die vernietiging van Judaïsme en die dood van 1,1 miljoen Jode,
maar die gelowiges het ongeskonde daarvan afgekom – ons het voorwaar niks te
vrees nie! Onthou: Dit kon nie “maanskyn en rose” vir die
gelowiges in Pella gewees het nie – weggeruk van hulle besittings, werk,
ongeredde vriende en familie en vir 3½ jaar in die woestyn, maar God het hulle
te midde van die swaarkry bewaar! Satan
smee allerlei planne teen die Bruid van Christus, maar hy is ’n blote pion in
die hand van God en kan hy derhalwe niks aan God se kinders doen, sonder dat
God dit toelaat nie.
4. AFSLUITING:
Weereens moet ons besef
dat die satan nie nou sommer net handdoek sal ingooi nie en daarom is hy steeds
daarop uit gewees om oorlog te maak teen die oorblyfsel van die saad van “die
vrou”, wat God se gebooie onderhou – hulle wat die getuienis van Jesus Christus
in hulle dra – die nuwe verbondskinders van God – ONS!
Na die verwoesting van
Jerusalem het die satan sy aandag op die Nuwe Testamentiese kerk begin
vestig. Ons sien dit in die sewe
gemeentes in Klein-Asië (Openb.2-3). Maar steeds bewaar God Sy kerk al is daar vandag
omtrent geen steen meer sigbaar van die sewe gemeentes in Klein Asië nie
– ons is getuienis daarvan. Die kerk is
nie daar verwoes nie en het steeds van krag tot krag gegaan – ja daar was die
Rooms Katolieke era en vele ander tye en gebeurtenisse wat gelyk het asof die satan
weer die oorwinning kan behaal, maar telkens kom God en red Hy Sy kinders (dink bv. aan die
Hervorming).
Al
is ons getuies van God se beskerming van die kerk teen die vyand deur die eeue
heen, het die satan se aanslag teen die kerk nie opgehou nie – ons is egter steeds
verseker van ’n Hoërhand wat ons beskerm – die kerk sal nooit vernietig word
nie. ’n Pragtige bewys hiervan is die kerk in China wat ten spyte van erge
vervolging, van omtrent geen gelowiges tot bykans 50 miljoen gelowiges gegroei
het en daar word steeds daagliks groot getalle nuwe gelowiges bygevoeg.
Ja,
satan is ’n brullende leeu, maar hy is ’n reeds oorwonne brullende leeu. Laat
ons daarom in oorwinning wandel, deur Christus lief te hê en Hom voortdurend in
gehoorsaamheid na te volg en te dien, want deur Hom voortdurend in elke faset
van ons lewe te gehoorsaam en na te volg en te dien, trek ons die volle
wapenrusting aan (Ef.6) en sal ons paraat wees teen die vyand en sy aanslae en
sál God verheerlik word!
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 21 April 2013.