Sunday, April 14, 2013

Die Openbaring aan Johannes – B02 (“Christus die Vegter”)


1.     INLEIDING:
       Soos so dikwels in die Openbaringbrief, moet ons besef dat nie alle gebeure altyd streng volgens tyd- of chronologiese volgorde weergegee word nie. Ook is dit die geval met Openb.12:7-12 waarna ons vandag gaan kyk. Die eerste 6 verse waarna ons die vorige keer gekyk het, het vir ons ’n kykie gegee in die konflik waarin die kerk haarself bevind en steeds sal bevind, tot en met Christus weer kom en hierdie heilige oorlog word in drie gedeeltes in Openbaring 12 uiteengesit:
-       Die vrou (12:1-6);
-       Die vegter (12:7-12);
-       Die oorlog (12:13-17).

       Ons gaan dan vanoggend kyk na die tweede gedeelte van die konflik waarin die Kerk haarself bevind, nl. die vegter. Die verse tussen die vrou en die oorlog (12:7-12), verduidelik aan ons waarom daar soveel teenkanting en haat in vv.1-6 en 13-17 is. Dit is asof Johannes sê:  Laat my net eers gou toe om ’n bietjie meer agtergrond te gee ten einde 12:1-6 en 13-17, beter te verstaan...

2.     SKRIFLESING:
       Openb.12:7-12 ~ Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8 maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9 want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom. 10 Toe het ek ’n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. 11 Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. 12 Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.” .

3.    DIE VEGTER:
       Hierdie gedeelte weerspieël ’n geveg tussen twee weermagte. Die goeie weermag word aangevoer deur Migael en sy engele, terwyl die bose weermag aangevoer word deur die draak en sy engele. Dit is belangrik om daarop te let dat Migael se weermag, die aggressors in hierdie geval is en hulle beskerm nie net bloot hul grondgebied nie – nee, hulle trek op teen die draak en sy engele. Migael en die draak is die twee onderskeie generaals, terwyl die engele die soldate aan beide kante is.

       In v.9 word die draak onteenseglik geïdentifiseer as die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word. Dit is egter nodig om in meer detail na te vors wie Migael werklik is, omdat dit nie so voor die handliggend in bg. verse uitgespel word nie.

       Daar word in drie boeke van die Bybel gepraat van Migael, nl.: Daniël, Judas en Openbaring. Ons kom die eerste keer in aanraking met Migael in Dan.10. Ons lees in die eerste vers van Dan.10 dat iets wat moeilik was om te verstaan, aan Daniël geopenbaar was. Daar word nie presies vertel wat hierdie verskriklike ding was wat aan Daniël geopenbaar is nie, maar wel dat dit in die verre toekoms sou plaasvind. Daniël het egter geweet wat hierdie ding was en dit het hom daartoe gedryf om te vas en te treur (Dan.10:2-3). Terwyl hy gevas en getreur het, het hy ’n ander visioen ontvang. In vv.4-6 beskryf hy hoe hy, terwyl hy by die Tigrisrivier was, ’n manjifieke Wese gesien het.  Al was Migael nie alleen nie, het nét hy die visioen gesien. 

       Met hierdie agtergrond bring dit ons by ’n baie belangrike Skrifgedeelte wat meer lig sal werp oor die geveg waarin Migael en die draak betrokke was, nl. Dan.10:10-21 ~ Daarna het ’n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. 11 Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. 12 Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. 13 Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. 14 Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.” 15 Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. 16 Toe het iemand wat soos ’n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. 17 Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.” 18 Toe het hy wat soos ’n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. 19 Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.” 20 Hy het toe vir my gesê: “Nou weet jy waarom ek na jou toe gekom het. En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom. 21 Maar eers sal ek jou vertel wat in die Boek van die Waarheid opgeteken is. Daar is niemand wat my teen hulle bystaan nie behalwe julle engel Migael.

       Die indruk wat ’n mens hier kry, is dat die heerlike wese nou verdwyn en dat ’n hand Daniël nou vir drie weke aanraak. Hierdie hand moes onteenseglik, die hand van ’n engel gewees het en heel waarskynlik was dit die hand van Gabriël, want dit was gewoonlik hy wat met Daniël gepraat het, wanneer Daniël gebid het – Bv.: Dan.9:21 ~ ...terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom (sien ook 8:15-16).

       Daniël het gevas en gebid ten einde hierdie visioen te verstaan, maar steeds het hy geen duidelikheid daaroor gekry nie. Die antwoord was reeds op die eerste dag beskikbaar, maar die engel van Persië (dink aan die Rekenaarspeletjie waarop kinders versot is – “The Prince of Persia”!) het Gabriël vir 21 dae teengestaan en verhoed dat hy die antwoord aan Daniël gee. Hierdie engel van Persië was vanselfsprekend ’n demoniese wese en dalk Satan self – ons kan nie met sekerheid sê nie, want hy was kragtig genoeg om die engel Gabriël te kon weerstaan. Ons sien egter in v.13 dat Migael, een van die hoof engele, of te wel, een van die vernaamste prinse, tot die hulp van Gabriël gekom het en kon hy die antwoord aan Daniël verskaf. Presies wie Migael is, is nie vir ons duidelik nie, behalwe dat die Woord hom een van die vernaamste prinse noem en dit is ook duidelik dat hy ’n kragtiger wese as Gabriël is. Verder is dit ook duidelik dat Gabriël en Migael bondgenote is en volgens v.21 word Migael ook geïdentifiseer as die volk van God, se “prins”.  Net twee hoofstukke verder (12:1) word Migael die groot engel of die prins van die volk genoem en daar sien ons dat hy die wag oor die volk hou.

       Ons lees dan in Dan.21:1 die volgende ~ In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.  Waarna word hier verwys?  Nooit in die geskiedenis van die volk was daar ooit so ’n verskriklike tyd soos wat hier van gepraat word nie.  Waarna word hier dan verwys?  Dit kan nie anders wees, as die val van Jerusalem in 70 n.C. nie, want daar was geen erger lot wat die volk van Israel ooit oorgekom het as daardie gebeure in die jaar 70 n.C. nie. En wie was deur die engel Migael bewaar in daardie tyd? Hulle wie se name in die boek opgeskryf is. En wie was hulle? Die gelowiges wat betyds uitgelei is uit Jerusalem na Pella en sodoende die val en verwoesting van Jerusalem vrygespring het!

       Na hierdie voorval in Daniël kry ons eers weer laat in die Nuwe Testament te doen met Migael en wel in Judas vers 9 ~ Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.” 

       Eerstens is dit interessant om hier te sien, dat die engel (Migael) hom nie veroorloof het om die satan te beledig, of te veroordeel nie. Hy het egter wel ’n geldige beskuldiging teen die satan gerig. Waarom doen hy dit? Omdat die wraak en veroordeling net God toekom (Rom.12:19). Dit laat ’n mens dink oor mense wat hulleself uitgee as “duiwel uitdrywers” en wat betrokke is by sg. “bevrydingsbedieninge” en die wyse waarop diesulkes te kere gaan wanneer hulle die duiwel begin bestraf! Hulle vergeet heeltemal van Rom.12 en hulle matig hulleself meer mag aan as waaroor Migael bv. beskik!

       Tweedens word hier na Migael as ’n aartsengel verwys.  Daar word op geen ander plek in die Woord verwys na (’n) ander aartsengel(e) nie. Migael is dus die enigste aartsengel. Daar word dikwels deur mense na Gabriël as die/’n aartsengel verwys, maar daar is geen Skrifbewyse daarvoor nie. Migael is die aartsengel en die woord aartsengel beteken “die hoof van die engele”.

       Ons moet egter ook na enkele ander teksverse gaan kyk waar daar sprake van “die hoof van die engele” is.

       Jos.5:13 is baie interessant en ons moet daarna kyk ~ Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar ’n man voor hom met ’n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s’n?” 14 “Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.” Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?” 15 Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is ’n gewyde plek.” Josua het dit gedoen. Hier het Josua te doen met die aanvoerder van die leër van die Here. Min kommentators sal stry daaroor dat ons hier te doen het met die Here Jesus Christus self, want Josua word aangesê om sy skoene uit te trek omdat hy op heilige grond staan. Waarom was die grond heilig? Omdat Josua in die teenwoordigheid van die heilige God self was (Eks.3:1-6)!

       Ons vind nog ’n verwysing na hierdie Soewereine Engel en wel in Eks.23:20-23 ~ “Ek, die Here, stuur ’n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. 21 Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie. Hy sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie, want Ek het aan hom my volmag gegee. 22 As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders. 23 “My engel sal voor jou uitgaan en jou bring by die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete, en dan sal Ek hulle uitwis.  Hier gee die Here aan Moses en die Israeliete die versekering dat die Engel hulle na die Beloofde Land sou lei. Weereens is daar breë eenstemmigheid daaroor dat hierdie “engel” weereens ’n verwysing na Jesus Christus is.

       Die gevolgtrekking waartoe ons dus moet kom (dit kan nie anders nie), is dat die aartsengel niemand anders kan wees as Christus self nie. Hierdie feit blyk ook duidelik uit 1Tes.4:13-18, waar ons vertel word dat Jesus met die stem van die aartsengel sal terugkeer na die aarde met Sy tweede koms. Die woord aartsengel kom net twee keer voor in die Woord: Eenkeer in Judas vers 9 waar daar verwys word na Migael en eenkeer in 1Tes.4:16 waar daar na Christus verwys word. Dit blyk dus duidelik dat Migael en Christus een en dieselfde Persoon is. Christus gaan met die stem van ’n aartsengel terugkeer na die aarde, omdat Hy voorwaar self die Aartsengel is!

       In Dan.12:1 word daar gesê dat Migael diegene wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is, sal beskerm – is dit nie slegs Christus Jesus wat kan veroordeel of regverdig verklaar nie? Is dit nie op grond van Christus se soendood alleen dat ons name in die hemel opgeskryf word nie? Migael is kragtiger as Gabriël. En Migael (Jesus) en Gabriël is bondgenote. Migael se naam beteken juis ook “wie soos God is”. En wie anders as Christus Jesus is soos God?

       In Judas het ons gesien dat Migael en die vyand gestry het oor Moses se liggaam en Migael het gedurende hierdie situasie geen grondige beskuldiging teen die satan ingebring nie, want die Here God het die satan gestraf. Dit wil dus voorkom asof Judas met hierdie skrywe van hom in Judas vers 9, die woorde in Sag.3:1-5 in gedagte gehad het ~ Die Here het my ’n gesig laat sien. Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla. 2 Die Here het vir die Satan gesê: Ek sal jou straf, Satan, Ek wat Jerusalem my woonplek gemaak het, sal jou straf. Hierdie man is soos ’n stuk hout wat uit die vuur gered is. 3 Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was. Hy het daar voor die engel gestaan, 4 en die engel het vir sy helpers gesê: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.” Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.” 5 Toe sê ek: “Hulle moet ’n skoon tulband op sy kop sit!” Hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar by staan. Jesua staan hier voor die engel van die Here (Jesus Christus). Satan staan ook daar en hy bring beskuldiging in teen Jesua. Ook hier bestraf die engel van die Here nie die satan nie – God doen dit self. Volgens Sag.3 handel hierdie dispuut oor Jerusalem wat die Ou Testamentiese kerk verteenwoordig. 

       Net soos wat die Nuwe Testamentiese kerk, die Liggaam van Christus is, is die Ou Testamentiese kerk liggaam van Moses. Dit gaan dus nie hier in Sag.3 oor die fisiese liggaam van Moses nie, maar oor die geestelike Liggaam van Moses, nl. die Ou Testamentiese kerk, wat hier verteenwoordig word deur die hoëpriester, Jesua en Jerusalem. Migael die aartsengel in die woorde van Judas, is dieselfde as die engel van die Here en beide verwys ondubbelsinnig na Jesus Christus. 

       Dit blyk dus baie duidelik uit hierdie redenasie en die Skrifverwysings, dat Migael, Christus self is.

       Die Jehova se Getuies glo natuurlik ook dat Migael en Jesus een en dieselfde Persoon is. Die vraag is nou of ek dieselfde glo as die “Jehova se Getuies”? Die antwoord hierop is ’n baie duidelike “NEE!” Ek glo dat Jesus Christus, God is – en die “Jehova se Getuies” glo dit nie. Dit beteken dus dat ek glo dat Migael God is en die “Jehova se Getuies” glo dit nie. Ons moet versigtig wees dat ons nie iemand veroordeel wanneer dit wil lyk asof hy saamstem met bepaalde uitsprake van sektes of kultusse, ens. nie. Die Rooms Katolieke glo ook in die maagdelike geboorte van Jesus, Sy kruisdood en Sy opstanding uit die dood, maar dit maak nie van my ’n Katoliek nie, want die Roomse glo ook aan allerlei ander onbybelse dinge en daarom maak een ooreenkoms nie van my ’n Katoliek nie!

4.    AFSLUITING:
       Terug na Openb.12:7-12 egter. Met die feit dat Migael, Jesus Christus is, is dit betekenisvol dat Migael die Een is wat die aanvaller, of die aggressor is in die oorlog soos beskryf in Openb.12. Christus word voorgestel as Migael en Hy en sy heilige engele voer oorlog teen die satan, wat die draak genoem word, en sy gevalle engele (demone) en ons sien dat die satan met sy gevalle engele, saam deur Christus en Sy engele uit die hemel op die aarde neergewerp word (v.4; Judas vers 6; 2Pet.2:4).

       Jesus het ook tydens Sy aardse bediening, as aggressor teen die satan en sy demone opgetree – dink bv. aan die kere wat Hy demone uit mense gedryf het (Matt.8:16; 29-34; 9:32-35; 12:22-28, ens.). Christus en engele word dikwels verbind aan mekaar: Die engele het Hom bv. versorg en gedien na Sy versoeking in die wildernis (Matt.4:11). Jesus kon meer as 12 legioene engele ingeroep het om Hom te beskerm teen Sy inhegtenisname (Matt.26:53). ’n Engel het Hom in Getsemane versterk (Luk.22:43).

       Die duiwels was ondergeskik aan die dissipels, omdat Satan soos weerlig uit die hemel geval het. Meer fenomenaal selfs as dit, was die redding wat bewerkstellig was deur die Persoon en Werk van Christus. Vroeër in Openb.12:5 het Johannes die vleeswording en die hemelvaart van Christus gesien, maar nou sien Hy die kruis. En dit is deur die kruis dat Migael en Sy engele die draak en sy demone oorwin. Dit was dan in hierdie konteks (met verwysing na Sy kruisiging) dat Jesus in Joh.12:31 sê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. En later brei Paulus uit op hierdie waarheid toe hy gesê het ~ Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15 Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.12:13-15). Dit is deur die kruis dat Jesus die vyand ontwapen het en die skrywer van die Hebreërboek stem hiermee saam ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry (Hebr.2:14-15).  Johannes sê in 1Joh.3:8 ~ ...wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. Dit was dus gedurende Jesus se aardse bediening dat Hy die satan en sy gevalle engele oorwin het.

       Voor hierdie gebeure op Golgota was die wêreld vasgevang in die kloue van Satan. Israel was die enigste volk met ’n monoteïstiese godsdiens (God is die enigste ware God), terwyl die res van die wêreld vasgevang was in die greep van die satan. Die satan het sedert die sondeval, onverpoosd voortgegaan met sy geveg teen die mensdom en voortdurend aanklagtes voor God ingebring (ook bekend as die aanklaer van ons broeders – Openb.12:10 – O.A.V.)  – dink hier aan Job byvoorbeeld. 

       MAAR, ná Golgota lyk die prentjie egter veel anders, want die Evangelie was nog nooit vantevore so wydverspreid en gevestig deur die wêreld soos vandag nie! Die satan en sy demone is verslaan deur Jesus Christus en hy en sy demone is neergewerp uit die hemel en daarom kan hy geen beskuldigings meer inbring teen die kinders van God nie (Rom.8:33) hy het geen toegang meer tot die troon van God nie! Christus sit nou op die hemelse troon en Hy tree vir ons in by God die Vader! Rede tot onuitspreeklike vreugde!

       Die oorlog is gewen! Ons moet egter onthou dat ons probleme nog nie verby is nie, want die satan is neergewerp op die aarde en hy loop soos ’n brullende leeu rond opsoek na iemand om te verslind (1Pet.5:8).

       Diegene van ons wat egter in Christus ingeplant is hoef nie die brullende leeu te vrees nie, want ’n ander Leeu, die Leeu uit die stam van Juda, se “brul is veel harder” en daarom sal die poorte van die hel nie die kerk van die Here Jesus Christus oorweldig nie (Matt.16:18)!


[1]  Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 14 April 2013