1. INLEIDING:
Die Nineviete het tot bekering gekom en
’n mens kon maklik gedink het dat God Sy doel bereik het en dat die verhaal aan
die einde van hoofstuk 3 kon geëindig het, maar dit is alles behalwe die geval
– onthou ons het vantevore gesê dat God meer belangstel in die werker as die
werker se werk en daarom gaan ons sien dat hierdie verhaal nie aan die einde
van hoofstuk drie kon eindig nie, omdat God nog nie klaar was met die werker
Jona nie.
2. SKRIFLESING:
Jona 3:10-4:11 ~ 10Toe God sien wat hulle doen,
en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die
ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.
1Hieroor was Jona baie
ontevrede en hy het baie kwaad geword. 2Hy het tot die Here gebid
en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek
reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en
barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U
aangekondig het. 3“Laat ek nou maar sterf, Here,
want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”
4Toe vra die
Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?”
5Jona is toe
uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ’n skerm gebou.
Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. 6Toe laat die Here God ’n komkommerplant opkom, en dit het
bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te
bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.
7Die volgende
môre met dagbreek laat God toe ’n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant
gevreet, sodat dit verdroog het. 8Toe die son opkom, het God ’n
skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop
gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het
gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”
9Toe vra God
vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona
antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” 10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die
komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie.
Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie
besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd
en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog
baie diere?”
3. ’N
GENADIGE GOD:
Uiteindelik
hoor ons die waarheid uit Jona se mond – hy verskaf aan ons die rede waarom hy
in die eerste plek van God se aangesig af gevlug het. Dit was nie omdat hy bang
was dat hy nie God se opdrag suksesvol sou kon uitvoer nie – nee, sy groot
vrees was daarin geleë, dat God se opdrag aan hom, in vervulling sou kom – dat Nineve
haar sou bekeer en hy het ten diepste
geweet dat dit presies is wat sou gebeur as hy gehoorsaam was!
Jona
moes vooraf geweet het dat God ’n plan met Nineve gehad het en hy het God ook
goed genoeg geken om te weet dat God ’n genadige God is, trouens hy sê dit self
in v.2 ~ Ek het geweet U is ’n
genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde (geen ander
mensgemaakte godsdiens op aarde leer dit vir hulle dissipels nie!).
Toe
Jona sien wat in Nineve aan die gang was (hul grootskaalse
bekering), moes hy vir
homself gesê het: Ek het dit geweet; ek
geweet dit is wat God in die mou voer! In v.1 sien ons dat Jona baie ontevrede was – hier het ons weer die Hebreeuse woord waarna ons
die vorige keer na gekyk het, nl. "gadol" iets wat in die
oortreffende trap beskryf word – Jona was dus "gadol" ontevrede – hy
was geweldig ontevrede; hy was buite homself ontevrede – hy was woedend om die
minste daarvan te sê!
Dit
is so ironies, dat hy net in die volgende vers getuig van God se goedheid en
lankmoedigheid, ens., maar hy self is in alle opsigte net mooi die
teenoorgestelde. Hierdie was nie ’n nuwe karaktertrek wat God van Homself nou
vir die eerste keer aan Jona geopenbaar het nie – hierdie is ’n karaktereienskappe
van God wat so ver terug strek as Eks.33, waar God aan Moses gesê het ~ Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat
verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade
aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm (v.19). Hierdie woorde van God aan Moses,
moes bekende woorde vir die profeet Jona gewees het, maar nogtans
"stamp" Jona homself teen hierdie wonderlike God van hom.
Hierdie
gesindheid van Jona spruit uit ’n uiters selfgesentreerde gesindheid, omdat hy
die Assiriërs (Nineve) steeds beskou as ’n geweldige dreigement vir sy geliefde
land Israel en hy het nie ’n saak met dít wat op God se hart vir hierdie bose
land en stad is nie – God moet hulle straf en uitwis! In plaas daarvan dat Jona
God aanvaar soos Hy is en Wie Hy is, wil Jona, God in ’n "boksie"
indruk wat hý ontwerp het. Skielik besef ons waarom ons tot nou toe geen woord
van sondebelydenis uit Jona se mond hoor kom het nie, want dit gaan oor Jona en
sy volkie en nie oor God en God se wil en planne nie.
Die
wonder van God in hierdie spesifieke oomblik van Jona se woede en
onvergenoegdheid, is dat God na Jona luister, selfs terwyl Jona uiters
selfgesentreerd is en baie, baie ernstig is met wat hy vir die Here te sê het.
Luister net na sy gebed in v.2a ~ Ag,
Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom
het ek reg in die begin na
Tarsis toe gevlug as om te lewe.”
Alles gaan oor Jona – net oor homself, maar God luister steeds na hom.
Soos
altyd, ignoreer God egter nie hierdie geweldige gebed van Jona, waarin hy vra
dat hy maar moet sterf nie – God antwoord hom, maar Hy antwoord hom op ’n
subtiele wyse, deur in v.4 aan Jona ’n vraag te vra ~ Het jy rede om kwaad te word? Dit is so asof die Here vir hom sê: Jona, Jona, my liewe kind, wat doen jy aan
jouself? Is dit reg dat jy kwaad is? Is jy seker jou beoordeling van die
situasie is reg? Trek jy dalk My oordeel in twyfel? God was nie besig om Jona
te berispe nie en ook nie om vir hom te vra wie hom die reg gee om so met God
te praat nie. Nee, die Here het eerder aan Jona gesuggereer dat Jona se oordeel
dalk nie heeltemal in die kol is nie en dat hy weer daaroor moet nadink –
weereens sien ons ’n genadige en liefdevolle Vader, wat sagkens met Sy
"dwars-kind" werk.
Na
Jona se redding uit die see en die vis, het dit so gelyk asof ons te doen het
met ’n nuwe Jona – ja ons het tog, want Jona druk deur met sy opdrag om na
Nineve te gaan om hulle in die Naam van die Here aan te spreek oor hul sonde.
Maar tog, aan die anderkant blyk dit nou dat daar steeds iets ernstigs skort –
so asof hy al klaar weer vergeet het van sy verlossing ’n maand of drie
vantevore – miskien het al sy dinkery op sy 1 500 km. lange staptog deur
woestynlandskap en oor landsgrense heen, hom laat vergeet van God se genade in
sy lewe.
Die
probleem met Jona, is dat God, deur Sy optrede, totaal buite Jona se
"boksie-god" is – hoe hý God sien, teenoor wie God werklik is en Jona
kan dit nie hanteer nie. Jona kan die woorde in v.2b, wat gebaseer is op Eks.34:6
en Ps.86:15, hardop bid ~ U is ’n genadige en barmhartige God,
lankmoedig en vol liefde,
maar in sy hart van harte, glo Jona dit nie regtig nie en kan hy hierdie
wonderlike waarheid wat hy met sy kop bid, nie in die praktyk van sy lewe
uitleef nie.
4. REDDING
EN VERGIFNIS:
As
’n mens weer mooi na Jona se gebed in die vis se maag gaan kyk, dan besef jy
dat Jona nog steeds nie verstaan het nie. Ja, hy het weliswaar verklaar dat hy
’n loflied tot die Here sing en dat hy ’n offer aan die Here wil bring en dat
al die hulp net van die Here kom (2:9) en ja, die Here het hom gered, maar
Jona het steeds nood aan die Evangelie – hy het nood aan vergifnis; hy het nood
aan verlossing van sy sonde, want hy het nog steeds nie sy sonde bely nie.
Die
woord wat in die Grieks gebruik word vir verlossing, beteken letterlik om gered
te word ("to be rescued"). Wanneer die Woord daarvan praat dat
die mens gered moet word van sonde, gebruik die Woord dit op
verskillende wyses. Dit kan beteken:
·
Jou
eenmalige redding van die sonde se ewige straf – dit is m.a.w. verlossing en
redding van die erfsonde – daardie sonde wat Adam oor homself en sy nageslag,
wat ons insluit, gebring het (Gen.3).
·
Jou
voortdurende bevryding en verlossing van die sondemag wat jou voortdurend deur hierdie
lewe teister – die sondesmet.
·
Jou
finale en uiteindelike verlossing van die sonde se teenwoordigheid in en om
jou, wanneer Christus jou kom haal.
Wanneer iemand nie in Christus Jesus is nie, het hy nood aan verlossing
van al drie bogemelde. Wanneer iemand egter wederbaar is, het hy steeds
behoefte aan die laaste twee. Paulus noem dit in Rom.1:16 ~ ...want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo... Wanneer Paulus dit so stel, bedoel
hy nié dat redding ’n krag is wat tot eenmalige verlossing lei nie – nee, hy sê
dat ons nood het aan God se daaglikse redding – redding van sonde; redding uit
die kloue en vangnette van die sonde – ons het dit daagliks nodig, tot op die
dag dat ons verheerlik sal word. Calvyn het gesê dat ons as gelowiges, "gedeeltelik ongelowiges is, totdat ons
sterf".
Hierdie is dan ’n presiese beskrywing van wie Jona op hierdie
stadium van sy lewe is. Laat my ook net dadelik sê, dat ons nie nou skielik
moet neersien op hierdie sondige profeet van God nie, want dit is maar presies
net waar ons ook is. Jona het steeds behoefte – nee, nood daaraan dat God hom
sal red en ons sien God se sagte hand op Jona in hierdie proses ~ Jona, ... het jy rede om kwaad te word?
As ons met ons hele hart glo dat verlossing alleen van God
kom, dan sal ons, ons vertroue volkome in Hom plaas (en
nie in ons eie pogings nie) om
ons aanvanklike redding; ons daaglikse redding en ook ons uiteindelike redding,
te bewerkstellig. Om redding in enige iets anders as God self te soek, lei net
tot selfvernietiging en slawerny aan die bose (afgodedienaars), want ons is uitsluitlik geskape vir
God en niks en niemand anders nie! Die ou kerkvader, Augustinus het gesê: "You made us for Yourself, and our
hearts are restless until they rest in You".
Wat Jona nie besef het nie, is dat hy ook afgode aanbid het en
in die proses enige aanspraak op God se genade in die wind geslaan het – en
tog, tog is God hom steeds genadig. Die afgode wat Jona aanbid het, het dalk
anders gelyk as die wat die matrose op die gedoemde skip aanbid het, of die
inwoners van Nineve, maar in wese was dit presies dieselfde, want alle afgode
is God se vyande. Wat was Jona se afgode? Die Hebreeuse Judaïsme was een ("MY
kerk"), toe hy reg
aan die begin van sy verhaal gesê het ~ Ek is ’n Hebreër (Jona
1:9). Nog een was sy
godsdienstige snobisme – sy godsdiens (die Judaïsme) was uitsluitlik bedoel vir die Jode en
niemand anders nie en ons sien dit baie duidelik in sy woede oor die bekering
van die Nineviete (v.1).
Jona het weliswaar die regte dinge gedoen, maar hy het dit met die verkeerde
gesindheid gedoen en dit is bewys dat hy God se hart nie op daardie stadium geken
het nie.
Ek sê weer, ons moet versigtig wees om nie vir Jona te gou te
oordeel nie, want is dit nie maar presies waar ons, onsself ook so dikwels
bevind nie? Ons is maar almal afgodedienaars – van iets! Alle mense is geskape
om te aanbid – dit was tog die uitsluitlike rede waarom God die mens geskape
het – die probleem is net dat ons aanbiddingsfokus, so dikwels uit fokus raak
en selfs verduister raak en dat ons harte en toewyding en uiteindelik ons
aanbidding op hierdie dinge gefikseer raak en dat ons God nie meer aanbid soos
ons hierdie afgode aanbid nie.
Ons raak so dikwels, vasgevang en verknog aan dinge wat so
belangrik en allesoorheersend in ons lewe raak – ons ontspanning; ons sport;
ons stokperdjies; ons werk; ons gesinslewe; ons eie probleme of frustrasies; of
iemand sonder wie ons nie kan leef nie; ens. Uiteindelik bepaal ons aanbidding
wie ons werklik is. Ons aanbid derhalwe almal iets of iemand – die vraag is net
wie of wat? Dit, of die persoon of Persoon wat ons aanbid, bepaal of ons lewe
betekenisvol en met sekuriteit gevul sal wees – of ons net godsdienstig is, of
geestelik en of ons ware gelowiges is!
Ek het gesê dat ons almal aanbidders is, maar God is die
enigste betroubare "Objek" van aanbidding, omdat niks en niemand
behalwe God self, waardig is om aanbid te word nie. Volgens die Woord is enige
iets wat ons aanbid, anders as God self, afgodery. As ons derhalwe baie eerlik
met onsself is, sal ons besef dat afgodery nie net iets is wat deur heidene
begaan word nie, maar gelowiges is ook dikwels daaraan skuldig – Is jy dalk
daaraan skuldig? Jona was.
Om God se reddingsplan in ons lewens te ervaar, moet ons die
afgode in ons lewens begin identifiseer – die Here sal ons daarmee help – Hy
het Jona daarmee begin help ~ ...
het jy rede om kwaad te word Jona?
5. JONA SE ONVERGENOEGDHEID:
In plaas daarvan dat Jona hoor wat die Here vir hom sê, nl.
dat hy steeds met verkeerde motiewe in sy hart sit en dat hy hom moet bekeer,
sien ons in v.5 dat hy ~ ...toe
uit die stad uit (is). Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ’n skerm
gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad
gebeur. Hy sonder homself af
en sit in afwagting om te sien wat met die stad gaan gebeur en terwyl hy daar
sit, wil hy gemaklik wees en homself beskerm teen die woestynson en daarom bou
hy vir homself ’n skuiling.
God laat Jona egter steeds nie aan sy eie lot oor nie en Hy
help hom, deur ~ ...’n
komkommerplant (te laat) opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te
gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die
komkommerplan (v.6). God se genade stroom steeds onverdiend
oor Jona! Ure vantevore was Jona kwaad (v.4) – nou is Jona baie bly! Hy is bevry
van sy misnoeë (v.5) –
misnoeë beteken natuurlik ook onvergenoegdheid en hierdie is presies dieselfde
woord wat in v.1 gebruik was en wat in die Afrikaans vertaal is met "ontevredenheid"
en met "kwaad". Die Here kom en verlig hierdie swaarmoedige
ontevredeheid en woede van Jona, deur ’n komkommerplant oor sy skuiling te laat
groei en Jona is bly!
Jona word egter spoedig weer beproef en getoets – v.7 ~ Die volgende môre met dagbreek laat God toe
’n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. Die Here is die Een wat gee, maar die
Here is ook die Een wat neem. Toe
die son opkom, het God ’n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die
son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword... (v.8).
Hierdie komkommerplant was bewys van God se liefde, maar so
was ook die wurm en die skroeiende wind, want ~ ...die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind
aanneem (Hebr.12:6).
Jona sien hierdie belangrike faset van die gelowige se geestelike groei glad nie
raak nie (soos ons ook maar so dikwels, nie waar nie?).
Jona wens egter weer dat hy maar liewer moet sterf (v.8b). Weer vra die Here vir Jona in v.9 ~ Het jy rede om kwaad te word oor die
komkommerplant? Dit herinner
sterk aan die profeet Elia wat ’n honderd jaar of wat vantevore, ’n soortgelyke
ervaring gehad het, nadat hy die vals profete gekonfronteer het en gevlug het
vir sy lewe ~ Hy self het egter
’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en
gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want
ek is niks beter as my voorvaders nie” (1 Kon.19:4).
Weer is dit woede wat Jona onvergenoegd laat – weer is dit sy
afgod self en sy eie gemak, wat op die voorgrond tree. Hierdie situasie is
egter maar net ’n duidelike bewys van die sinneloosheid daarvan om afgode in
jou lewe te hê, want dit is niks meer as net "’n sonverdroogde- en wurm-opgevrete-komkommerplant" nie! Met
hierdie realiteit rondom (of sal ek sê, bokant) Jona, is dit asof die Here weereens
vir hom vra, "Jona is dit regtig wys
en verstandig van jou om só op jou omstandighede te reageer? Jona, Jona, hou
asseblief op daarmee – ter wille van jouself; moenie langer teen die prikkels
skop nie – jy het nie rede om so te reageer nie!" Steeds kan ’n mens
die liefde en genade in God se stem hoor, maar wat is Jona se reaksie? Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf (v.9).
Vir ’n derde keer het Jona geen insig in God se genade jeens
hom nie – hy wil maar net opskop; boedel oorgee, eerder as om homself oor te
gee aan sy Skepper – en die Here? Hy volhard om Jona se versoek te ignoreer,
nl. om te sterf, trouens Hy hou vol om Jona te bedien met Sy genade en Sy liefde
en Hy doen dit deur vir Jona te sê ~ Jy
is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie
versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar
Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer
as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie,
en ook nog baie diere? (v.10).
Punt! Hiermee eindig die verhaal – dit eindig met ’n vraag wat
die Here vra. Wanneer ’n verhaal eindig met ’n vraag, impliseer dit dat die
leser baie stof tot nadenke moet hê – ons moet nou die punte bymekaar probeer
uitkry – wat het van Jona geword? Is hy werklik gered? Het God hom uiteindelik
gestraf vir sy rebellie? Het Jona uiteindelik insig in homself gekry en sy
sonde bely? In kort, hier is oënskynlik geen toepassing op die verhaal nie en
tog, wil die Here juis met die feit dat hierdie boek eindig met ’n vraag, ons
noop om selfondersoek te doen en te bepaal, of ons nie dalk ook presies is waar
Jona is nie – selfgesentreerd en besig met ons eie afgode? Is ons nie ook waar
Jona is nie – maak aanspraak op God se genade, maar gun geen ander mens genade
nie – nie van God se kant nie en ook geen of bitter min genade van ons kant af?
6. TOEPASSING:
Met die vrae wat die Here voortdurend vir Jona gevra het, wou
Hy vir Jona lei om insig in homself te kry en sy hart met die van God se hart
te vergelyk. Jona reageer op klein en onbenullige dingetjies – ’n plant; ’n
wurm – sy eie miserabele ou lewetjie, terwyl God se hart "warm klop"
vir die menigte – vir 120 000
mense wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere – God gee om vir mens en dier (Ps.36:6;
Matt.10:29). Jona wil
aanspraak maak op God se genade, maar hyself gun geen genade vir die Nineviete
nie!
God daarenteen, is steeds besig om Sy aanvanklike
skeppingsdoel ten uitvoer te bring, nl. dat die ganse skepping lof en eer aan
Hom sal bring en daarom is God besig om dit wat die sondeval bederf het, weer
om te draai en te vernuwe en dit sluit mens en dier in – daarom dat Hy in
Openb.21:5 sê ~ Kyk, Ek maak alles
nuut. Hy gaan alles hernu; verlos en opwek deur Jesus Christus en
daarom roep die engele dit in die hemel uit ~ Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en
Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openb.11:15).
Die Here wil dat Jona en ons besef, dat Hy soewerein is; dat
Hy kan besluit wie Hy veroordeel en wie Hy red.
Daar is egter nog iets wat ons uit hierdie verhaal van Jona
moet besef en dit is dat indien God belangstel in die 120 000 én die diere in
Nineve, dan is getalle beslis belangrik vir Hom en indien dit die geval is, is
twee en drie en daarom ook een vir Hom belangrik – daarom is Jona vir God net
so belangrik as al die Nineviete en daarom is jy ook net so belangrik vir die
Here God!
Net ’n laaste vraag (wat ek reeds
vroeër gevra het): Het
Jona sy les geleer? My antwoord hierop is, "ja, ek glo van harte hy
het". Ek glo dat Jona uiteindelik God se hart uiteindelik gehoor het. Ek
glo van harte dat Jona ook uiteindelik sy sonde bely en hom bekeer het – hy het
tog immers hierdie boek geskryf, nie waar nie? Jona hét insig gekry – hy hét uiteindelik
verstaan. Jona stel homself geweldig bloot deur hierdie boek te skryf en sy
verhaal te vertel en hy laat toe dat God die laaste woord sê – daarom glo ek,
Jona het insig gekry; Jona het gehoor; Jona het hom bekeer!
En jy en ek?
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt – Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 24 Maart 2013.