Sunday, May 5, 2013

Bewaar Jou Hart - 02 (“God se Soeklig op die Sonde")



1.     INLEIDING:
Ons het verlede week gekyk na Jonathan Edwards se 24ste Vaste Voorneme vir ’n Heilige Lewe, nl.: Ek het die vaste voorneme om elke keer wanneer ek enige ooglopende sonde begaan, die oorsprong daarvan op te spoor en dit dan doelbewus nié meer te doen nie en ook om daadwerklik en met al my mag, teen die oorsprong daarvan te veg en te bid.

Ons het terselfdertyd gekyk na ses sleutelaspekte wat Steven Rees aangespreek het t.o.v. hoe ons hierdie 24ste voorneme van Edwards in ons eie lewe kan toepas – ons het gesien dat Rees sê dat ons...:
·           Die bestaan van sonde moet erken;
·           Dat jy moet saamstem met God oor hoe Hy oor jou sonde voel en wat Hy van jou sonde sê – m.a.w. jy moet posisie saam met God inneem teen jou sonde; dit erken en dit dan ook bely;
·           Nie alleen moet jy sonde erken en bely nie, maar jy moet dit ook naspoor tot in sy wortel – tot by sy oorsprong.
·           Sonde moet altyd tot opregte belydenis en bekering lei.
·           Die vyfde sleutelaspek is dat jy doelbewus en met al jou mag teen sonde sal veg.
·           Die laaste sleutelaspek is om teen sonde te bid.
2.    SKRIFLESING:
Steven Rees gaan voort in sy preek en hy behandel nou ’n preek wat Jonathan Edwards in Maart 1752 gepreek het, met die titel "Confessing and Forsaking Sin" en sy preek is gebaseer op Spr.28:13. Steven Rees noem hierdie vers "the most blockbustered verse in all of the Word of God!" Luister na hierdie vers – beter nog, blaai daarheen en merk hierdie vers; onderstreep dit; "highlight" dit; trek ’n blok om hierdie vers; teken ’n vet uitroepteken langs hierdie vers; trek pyle van hierdie omringde vers en teken asterisktekens by die punte van elkeen van hierdie pyle; skryf hierdie teksverwysing voor in jou Bybel en ook op die agterste binneblad! Waarom al hierdie dinge doen met hierdie vers? Omdat hierdie vers ’n krities belangrike vers in elke gelowige se lewe behoort te wees. Hierdie teksvers was Edwards se vers wat hy baie na aan sy hart gebêre het.

       Kom ons lees hierdie vers en onthou, dit is God wat hier praat en hierdie vers is in die Spreukeboek geplaas vir alle gelowiges deur die eeue heen en daarom ook vir ons vandag – ek lees uit die OAV ~ Hy wat sy oortredinge bedek (om dit goed te praat, asof dit nooit gebeur het nie; om te rasionaliseer daaroor; om dit iets anders te noem as sonde; om dit te ontken; om dit ’n swakheid te noem; om dit ’n siekte of ’n afwyking te noem; om dit ’n geneigdheid te noem) – Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie (God se seën sal m.a.w. nie daarop rus nie); maar (en soos Martin Lloyd Jones eenkeer gesê het: "Prys die Here vir die 'MAAR's" in die Bybel"), maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (OAV). Die NAV lees soos volg ~ Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang. As jy jou sonde wegsteek, sal jy nie voorspoedig wees nie en sal jy vind dat God teen jou is, maar as jy jou sonde bely en jou daarvan bekeer en daarvan afsien, sál jy God se genade en ontferming en liefde ervaar!

"Versteek jou sonde en God sal dit aan die lig bring.
Bring jou sonde in die Lig en God sal dit wegsteek."

       Hoeveel beter is dit nie vir ons, as ons, ons sonde voor ’n heilige God bring (’n God wat ons in en deur Christus Jesus lief het) en ons bring hierdie sonde voor Hom en bely dit en laat staan dit, sodat God daardie sonde kan bedek, eerder as om dit weg te steek en dit in ’n ander pakkie te pak en dit voor te stel as iets anders, wat dit natuurlik nie is nie; of om in ontkenning oor daardie sonde te wees; of om te dink dit sal op een of ander stadium net verdwyn en dan sal God dit nie sien nie – net mooi die teenoorgestelde gaan gebeur – steek dit weg en dan gaan God dit juis aan die lig bring; Hy gaan dit juis uitbasuin – steek dit weg en verpak dit in ’n ander mooi versierde pakkie en dan gaan God dit juis oopvlek, sodat almal dit kan sien.

3.    SEWE SLEUTELS:
       Steven Rees sê: "Secret sin on earth, is open scandal in heaven!"   Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind. Soos wat Edwards in die inleiding van sy preek oor hierdie teksvers gesê het, moet ons ook weer vandag hoor: Hy sê: "Blote woorde, is nie sondebelydenis nie." Hy sê dat woorde net soos die wind is – dit is leeg; dit het geen effek nie – dit is nie sondebelydenis nie. Nee, sonde moet uitgespel word en daarom vind Edwards dit nodig om oor die aard van sondebelydenis te praat en hy doen dit deur sewe sleutels vir ware sondebelydenis te bespreek.
·           As sondebelydenis nie net bloot leë woorde is nie; waar daar maklik oor gepraat word en spoedig weer van vergeet word, maar as dit opreg bely word, is daar ’n oortuiging van sonde teenwoordig. ’n Oortuiging van sonde, waar God ons van die sonde oortuig het en waar God en God alleen met Sy vinger op die senuweepunt van daardie sonde gedruk het – net soos wanneer ’n tandarts in ’n tand boor wat nog nie behoorlik dood is nie. God moet dit aan ons openbaar en Hy doen dit altyd op ’n genadige, liefdevolle en sensitiewe wyse.

       Daar moet dus ’n opregte oortuiging in jou hart wees, dat dit sonde is. Jy sê dit dus nie net om iemand se guns te wen nie; jy sê dit dus nie net om God gou tevrede te stel, sodat jy kan aanbeweeg nie. Nee, dit is meer as net om dit te sê – dit is om in jou hart van harte te glo dat dit waarlik sonde is. Jy moet dus nie alleen sê dat dit sonde is nie – daar moet ’n diep bewustheid daarvan wees dat dit werklik sonde is – ’n gevoel aan die binnekant dat dit sonde is en ’n uiterlike oortuiging daarvan. Jy moet die sonde sien en besef dat dit jy is wat dit begaan het.

       Jy moet dus ’n ware en opregte oortuiging van sonde hê, wanneer jy sonde wil laat staan – maar dit is net die begin.
·           Tweedens sal daar ’n opregte bewustheid van die boosheid van sonde bestaan – m.a.w. om te besef dat alle sonde boos is. Geen sonde is aanvaarbaar nie; geen sonde is maar net sommer iets wat so in die verbygaan van die tafel afgevee kan word nie; geen sonde kan maar net vinnig na gekyk word en dit verder ignoreer nie – geen sonde nie! Alle sonde is wegwerplik. Alle sonde is veragtelik. Alle sonde is boos. Wanneer sonde opreg erken en bely word, is daar ’n besef teenwoordig, dat die wortel van daardie sonde, afskuwelik en veragtelik is en dat dit boos is, maar ook dwaas.  Dit is dwaas, omdat die sondaar in die proses lynreg optree teen die heerlikheid van God – dit is dus dwase optrede om te sondig en daarom moet sonde gehaat word. Anders gestel, om oortuig daarvan te wees dat sonde dwaas, boos en veragtelik is, maar dit nogtans doen, is niks anders as om ’n bespotting van die heilige God te maak nie.

       Wanneer jy jou sonde bely, moet jy die haatlikheid van daardie sonde besef en uitspreek – jy kan nie God en sonde tegelykertyd lief hê nie – die een verplaas altyd die ander. Dit is slegs ’n groei in jou liefde vir God, wat jou haat vir sonde sal laat groei.

·           Edwards delf nog dieper. Nie alleen is ’n oortuiging en ’n bewustheid van die boosheid van sonde nodig nie, maar daar moet ook ’n erkenning wees dat jy ’n rebel is – ’n rebel teen God. Elke sonde, is rebellie teen God – selfs wanneer jy ’n broer of suster aanstoot gegee het en na ’n tyd na hom of haar gaan en sê dat jy gesondig het en aanstoot gegee het en jy selfs om vergifnis vir die broer of suster gevra het, moet jy besef dat jy nog steeds teen God ook gesondig het en dat jy ook vir Hóm om vergifnis moet vra.

       Wanneer ons dus sondig, gee ons aanstoot aan God; wanneer ons teenoor iemand anders sondig, tas ons God se waardigheid en heiligheid aan en daarom moet daar in die heel eerste plek sonde teenoor God bely word, want sonde is die teenoorgestelde van God se waardigheid; dit is kontra Sy heiligheid – sonde is lynreg teen Sy wil gerig. In 2 Sam.12:13 sê Dawid vir Natan, dat hy teen die Here gesondig het. Van ’n menslike perspektief het Dawid owerspel gepleeg met Batseba; van ’n menslike oogpunt het hy Batseba se man vermoor, maar vanuit ’n geestelike- en ewigheidsperspektief – toe God die soeklig op Dawid se sonde aangeskakel het, het Dawid sy sonde gesien vir wat dit werklik is ~ Ek het gesondig teen die Here. So moet ek en jy ook elke keer sê wanneer ons sondig ~ Ek het gesondig teen die Here. Neh.1:6 ~ ... ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ps.51:6a ~ Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë.
      
       Dink ons elke keer daaraan, wanneer ons sondig teen iemand – ’n werkgewer; ’n vriend; ’n vreemdeling, die owerhede – dat ons eintlik direk teen God en God alleen sondig? Wanneer ons, ons sonde opreg bely en om vergifnis vra, moet hierdie erkenning teenoor God daar wees, nl. dat ons teen Hom gesondig het.

·           Vierdens praat Edwards van ’n provokasie van God, of dat ons God uitdaag; Hom affronteer; Hom beledig en Hom kwaad maak. Ons sonde het God se mishae en misnoeë tot gevolg.

       As ons diepste begeerte as gelowiges is, om God te verheerlik in en deur ons lewe, sal ons en behoort ons God nie te beledig nie – nie waar nie? Edwards sê dat ons sonde, nie alleen God se heiligheid affronteer en beledig nie, maar dat dit God persoonlik uitdaag – so asof ons ons, met groot piëteit gesê, ons vinger onder Sy neus rondswaai en dit maak God kwaad – baie kwaad teenoor daardie sonde. Ons moet besef dat ons te doen het met ’n heilige God en dat God sonde haat. God staan nie apaties of neutraal teenoor ons en ons sonde wanneer ons sondig nie, want ons en ons sonde is ’n persoonlike belediging van Sy heiligheid en God is nie tevrede met sulke optrede van ons kant nie, trouens dit ontketen Sy woede teenoor daardie sonde.

       Ons moet terselfdertyd verstaan en besef dat, toe Jesus aan die kruis gehang het, Hy al ons sonde op Hom geneem het – anders gestel, toe Jesus gekruisig is, is al ons sonde van ons af weggeneem en alles – elke een daarvan, is op Jesus geplaas en het Hy, i.p.v. ons, die vervloekte Een onder die Wet geword op wie God in Sy heiligeheid, die totaliteit van al Sy toorn en woede en straf en geseling uitgestort het – in ons plek; vir ons!

       Die Woord sê, dat God nou tevrede is en dat Sy toorn bevredig is – daar is nou versoening tussen ons en God bewerkstellig, want Christus het onder die Wet gely, deur ’n vloek vir ons te word – daarom dat Paulus in Rom.8:1 sê ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Daar is geen wraak meer in God oor om uitgestort te word op God se uitverkorenes nie, omdat hulle d.m.v. die geheimenis van die wedergeboorte in Christus Jesus ingeplant en toebedeel is met volmaakte geregtigheid in Jesus Christus. Jesus het Sý bloed en Sý lewe namens ons aan God aangebied as versoening en God het dit volkome aanvaar – en soos ons op Engels sal sê: "Case closed!", want die Vader is tevrede gestel.

        Terwyl ons as gelowiges dan nou in hierdie lewe leef, staan ons nie meer voor die Morele Regter van hemel en aarde nie – Hy is nie meer ons wraakgierige Regter nie, maar ons liefdevolle Vader en is ons Sy geliefde kinders en het ons mede-erfgename saam met Sy Seun Jesus Christus geword ~ Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God (Gal.3:26).

       Dit beteken egter nie dat God se genade en liefde jeens my, impliseer dat ek kan leef soos ek wil nie, want as ons nou, as gelowiges, volhard in sonde, is ons besig is om die Heilige Gees van God wat in ons is,  intens te bedroef en daarom kan en sal ons steeds God se heilige woede, nie Sy toorn nie, maar Sy woede teenoor ons sonde in ons lewe ervaar. ’n Verdere implikasie van ’n volharding in sonde vir ons as gelowiges, is dat ons nie in oorwinning kan lewe nie en dat ons derhalwe nie God se barmhartigheid – Sy genade, ontvang nie.

       Indien ek my sonde behoorlik wil bely, moet daar ’n erkenning en bewustheid in my teenwoordig wees, dat ek my Hemelse Vader diep bedroef het.

       Genade wat ons as gelowiges ontvang by wedergeboorte, is die beginpunt daarvan dat ons God voortdurend wil verheerlik in en deur ons lewens – deur alles wat ons is en doen en dink en sê en ons grootste teleurstelling in hierdie lewe moet wees, wanneer ek God bedroef en teleurstel deur my sonde. Elke sonde het teleurstelling en hartseer by God tot gevolg!

       Uit ’n regsoogpunt, of as jy wil vanuit ’n rekeningkundige oogpunt, is al my sonde bedek deur Christus se kruisdood, maar vanuit ’n Vader se oogpunt, bedroef my sonde Hom nog steeds.
  
·           In die vyfde plek praat Edwards van die regverdiging vir God om woedend en toornig te wees oor sonde en juis omdat Hy ’n heilige God is – ’n heilige God kan nie anders as om sonde te haat en te straf nie – dit sal geheel en al kontra God se karakter wees as Hy sonde nie haat en straf nie – dan is Hy nie God nie. ’n Gelowige erken dus dat God sonde haat en nie ongestraf kan laat nie en dat hulle God se ontevredenheid, straf en gramskap verdien oor sonde in hul lewe. Hebr.12:5-11 praat juis van ’n liefdevolle Vader wat ons dissiplineer wanneer ons sondig – daarom moet daar ’n gesonde en heilige vrees vir God by ons bestaan, sodat wanneer ons sondig ons ’n besef sal hê met Wie ons te doen het en waarmee ons besig is.

·           Wat Edwards in die sesde plek wil hê ons moet verstaan, is dat sondebelydenis nie net ’n geval is waar ons voor die genadetroon kom staan en ons hoed afhaal en ’n klomp woorde uitbrabbel nie, maar dat ons verootmoedigende harte en -gesindhede sal hê; dat ons onsself sal verneder en nie voorbarig en vol bravade, aanspraak sal maak op Sy genade, of dit as vanselfsprekend sal aanvaar dat Hy ons vergewe nie – inteendeel, hoe meer ons leer van God se genade, hoe meer sal ons, onsself verneder voor God en ons onderwerp aan Sy almagtige hand. Edwards sê dan ook dat iemand wat min of nie na behore vergifnis van sy sonde vra nie, dit nie in nederigheid doen nie – dat so ’n persoon nie besef dat God sonde haat en Sy straf en toorn verdien nie. Nee, opregte belydenis en sondebesef het tot gevolg dat jy in opregtheid en gebrokenheid van hart, op jou aangesig in die stof voor God se genadetroon sal lê. Matt.5:4 ~ Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Hierdie gesindheid bestaan nie nét wanneer ons die Koninkryk as verlostes binnetree nie, maar dit is die gesindheid waarmee ons steeds volhou op ons pad in die Koninkryk – daar moet ’n heilige geweeklaag oor ons sonde bestaan, waar God hoog verhewe op sy hemelse troon is en ons in die stof op ons aangesig voor Hom. Dit is wat Job sê in Job 42:6 ~ ...en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as. In Esra 9:6 identifiseer Esra hom met die sonde van die volk en dan bid hy ~ My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog.

·           Die sewende en laaste punt t.o.v. ’n opregte belydenis van sonde, is ’n verwagting om vergifnis te ontvang. Dit is, soos reeds gesê, nie ’n arrogante aanspraak wat gemaak word op vergifnis nie, maar ook is dit nie ’n gesindheid van hopeloosheid dat God jou in elk geval nie gaan vergewe en genade gaan betoon nie. Dit is ’n geval waar jy in nederigheid en opregtheid voor ’n liefdevolle en genadige Vader verskyn en verseker is van Sy onvoorwaardelike liefde en genade, omdat ons in Jesus Christus voor Hom verskyn en dat Hy ons verseker sal vergewe.

       Hierdie is dus nie 'n situasie waar ons in wanhoop weggedryf word van God se aangesig waar daar geen hoop op vergifnis is nie, maar juis ’n situasie waar ons in nederigheid na ’n liefdevolle en genadige God getrek word, met die sekuriteit van Sy onvoorwaardelike liefde en genade en vergifnis, waar Hy Sy liefdevolle hande oor ons geboë hoofde sal plaas en die sonde van ons verwyder – net soos wat ’n volmaakte en liefdevolle Vader met sy kind sal doen.

4.    LAAT STAAN DIE SONDE:
       Die feit dat God ’n liefdevolle en genadige Vader is en dat daar ’n vaste en sekere hoop vir ons is dat ons Sy genade en vergifnis sál ontvang, moet vir ons ’n geweldige bemoediging en aanmoediging wees om heilige te leef. Daar is oorvloedige genade en vergifnis by God die Vader te vinde vir die heel grootste sondaars.
      
       Geliefdes, dit is hoe ons sonde moet hanteer en dit bely voor God – jy weet wat se sonde daar in jou hart is; jy weet watter hardnekkige sonde jou bly teister – onthou ons teksvers aan die begin – Spr.28:13 ~ Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (OAV). Let op, daar is ’n "en" in die laaste sinnetjie van hierdie vers, ...en laat staan... en dan ...sal barmhartigheid ontvang word!  M.a.w. dit is nie net genoeg om jou sonde bloot te bely nie – ware en opregte belydenis gaan gepaard met die aflê; die laat staan, van daardie sonde – aflê, is intrinsiek deel van bely – die een kan nie sonder die ander nie.

       Die wegdraai van sonde af, is die voltooiing van die proses van belydenis en vergifnis wat Edwards vir ons in sy preek uiteengesit het – ons het bely en ons belydenis voldoen aan al sewe stappe, maar nou moet ons daardie sonde laat staan; ons moet dit aflê; ons moet dit nie meer begaan nie, anders kan ons nie God se genade ontvang nie en kan ons nie in oorwinning leef nie.

       Edwards noem drie dinge vir ons t.o.v. hierdie faset van belydenis, nl. om te laat staan:
·           As ons alle sonde wil neerlê, moet die hart saam stem om nie voort te gaan om te sondig nie – ons moet ’n diep en opregte hartsbegeerte hê om nie meer te wil sondig nie. Edwards sê dat indien jy sonde opreg wil laat staan, sál jy dit laat staan en sál jy ’n lewe verkies wat in ooreenstemming met God se hart is – jy sál ’n lewe van gehoorsaamheid aan God verkies en jy sál alle sonde met al sy wêreldse genot weerstaan en aflê en ’n heilige lewe kies, met al sy tydelike ongemaklikhede en probleme wat dikwels daarmee gepaard gaan. Dit gaan derhalwe daaroor, dat ons die tydelike wêreldse genot sal neerlê, ten einde God se vergifnis te ontvang.
·           Tweedens sê hy dat ons alle toegeneentheid, of voorliefde vir sonde moet neerlê en verwyder. Daar moet geen begeerte meer wees na die sonde wat ons voor God bely het nie. Edwards sê dat wanneer jy jou sonde waarlik neerlê, jou voorliefde en geneigdheid daarvoor ook neer gelê word.
·           Laastens, ’n ware en opregte neerlê van sonde, behels nie alleen ’n opregte hartsbegeerte om nie meer te sondig nie en ook nie alleen ’n neerlê van die voorliefde vir ons sonde nie, maar ook 'n staking van daardie sonde.
      
       Die enigste ware teken dat sonde in die hart neergelê is, is wanneer die sonde ook in die uitvoering daarvan gestaak word.

5.    AFSLUITING:
       Edwards sluit sy boodskap af met die volgende twee dinge – Hy sê dat sonde vergewe is en dat sonde vergete is.
·           Sonde is vergewe: Jonathan Edwards haal hierdie volgende teksverse aan:
-       Ps.32:5 ~ Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe. Die sonde is dus weggevee; daar is ’n volkome kansellasie van skuld – ons het ’n skoon lei met God!
-       1 Joh.1:9 ~ Maar as ons ons sondes belyHy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
-       Steven Lawson voeg hierdie verse by – Ps.103:12 ~ So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
-       Jes.1:18 ~ Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. Dít is die krag wat opgesluit lê in die Bloed van ons Here Jesus Christus!
-       Eseg.18:22 ~ Nie een van sy oortredings wat hy begaan het, sal teen hom gehou word nie. Hy sal bly lewe op grond van die reg wat hy doen.

·           Sonde is vergete:  
-        Jes.43:25 ~ En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie. God onthou nie meer ons oortredinge wat vergewe is nie – die duiwel onthou dit ja; jou vlees onthou dit, maar God kies om dit nooit weer te onthou nie!

       Al hierdie feite t.o.v. God se volkome vergifnis en die feit dat Hy ons sonde nooit meer in herinnering roep nie, is gebaseer op die triomf en oorwinning wat aan die kruis op Golgota plaasgevind het, toe God se Seun, Jesus Christus gekruisig is en vir ons sonde gesterf het.

       God die Vader het in die volheid van die tyd, Sy Seun gestuur om vanuit ’n maagd gebore te kon word – ’n maagd om te dui op Sy volmaakte reinheid en sondeloosheid – so anders as ek en jy, want ons is in sonde ontvang en gebore, maar Jesus is sonder sonde gebore en Hy het ’n sondelose en heilige lewe hier op aarde gelei – daar was m.a.w. nie ’n enkele sonde wat teen Hom gehou kon word nie – selfs die demone het gesê ~ ...U is die Heilige van God (Mark.1:24). Dit is Hy, die Heilige van God, wat ons sonde op Sy skouers geneem het en in Hom is ons volkome vergewe – vir eens en vir altyd en daarom het Hy, net voor Hy gesterf het, uitgeroep ~ Dit is volbring (Joh.19:30). Ons sonde is ten volle betaal – daar is geen enkele stukkie sondeskuld uitstaande nie!

       Jesus het egter nie net aan die kruis gesterf vir ons sonde nie – Hy het na drie dae opgestaan uit die dood en opgevaar na die hemel, waar Hy nou vir ewig aan die regterhand van God sit om in te tree vir elkeen van Sy kinders. Wanneer ons, ons geloof in Hom verklaar, pleit Hy om vergifnis by die Vader vir ons sonde, op grond van SY soendood en omdat Hy dit vra, word dit aan ons geskenk! Dit is die enigste wyse waarop sonde uit jou en my lewe geweer word, nl. deur die plaasvervangende dood van Jesus Christus, wat onder die toorn van God vir ons sonde aan die kruis gesterf het.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 05 Mai 2013