Friday, March 1, 2013

LIEWE LULU - Wat weet jy van Calvinisme?

(Outeur: Ds. Johannes de Koning, N.G. predikant, Tsumeb)

Dit lyk my as jy iemand wil slegsê en jy het nie feite nie, dan beskuldig jy hom van rassisme of Calvinisme. So het minister Lulu Xingwana*. van Suid-Afrika onlangs in ‘n onderhoud gesê: "Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit 'n vrou, hulle besit 'n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit." ‘n Groter vertoon van sotlikheid en dwaasheid is moeilik denkbaar. Miskien moet mens Lulu tog nie te hard oordeel nie, want geestelike insig kan seker nie verwag word uit die geledere van die goddelose ANC met sy heidens sekulêre agenda nie. Die absolute onkunde oor wat Calvinisme is, is egter nie net beperk tot die ANC nie, maar floreer ook onder mense wat veronderstel is om die Bybel en die kerkgeskiedenis te ken. So iemand is Prof. Johan Malan (‘n mede evangeliese gelowige) wat op sy webwerf beweer : “Calvinisme is ‘n misleidende leerstelling waardeur ‘n valse geestelike fondament aan ongeredde mense gebied word.” Watter totale onkunde! Het Prof. Malan nog nie gehoor van die duisende mense wat onder die Calvinistiese prediking van ‘n George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’Cheyne, Martyn Lloyd-Jones... en ons eie Dr. Willie Marais om maar net enkele voorbeelde te noem, tot bekering gekom het nie? (Prof. Malan maak wel melding van Spurgeon en beweer dat hy nie regtig ‘n Calvinis was nie. Wil hy die man nou in sy graf laat omdraai?) Weet hy van Calviniste soos Howel Harris, Daniel Rowland en Jonathan Edwards se rol in die groot herlewings van die 18de eeu? Dra hy kennis van die pionier sendingwerk van William Carey, David Brainard, William Burns...? En wat van die Calvinistiese sendelinge van die NG Kerk wat die lig tot diep in donker Afrika ingedra het? Is Prof. Malan bewus van die kosbare nalatenskap van geestelike reuse soos Tyndale, Latimer, Knox, Wishart, Perkins, Rutherford, Bunyan (Pelgrim’s Progress), Owen, Goodwin, Watts, Newton (Amazing Grace)... ? Het Prof. Malan moeite gedoen om uit te vind wat Calvinisme is of baseer hy sy insigte op iemand soos Dave Hunt se bewerings?

WAT IS CALVINISME?

Om mee te begin is dit belangrik om te weet dat Johannes Calvyn self nooit so ‘n beskrywing van sy leerstellings sou goedgekeur het nie. Hy het geglo dat wat hy geleer het, bloot die waarhede van die Ou en Nuwe Testament was. Tog het hierdie briljante teoloog se uitleg van die Skrif inderdaad ‘n groot invloed gehad op wat later as Calvinisme bekend sou staan.

Die term, Calvinisme kom hoofsaaklik uit die 17 de eeu vanuit opposisie teen die dwalinge van Arminius, wat uiteindelik by die Sinode van Dordt in 1618 veroordeel is. Hierdie kosbare waarhede vind neerslag in die Dordtse Leerreëls.

Die kernbeginsel van die Calvinisme is die eer van die soewereine God. Soli Deo Gloria. Skepping en selfs verlossing is nie primêr gerig op die mens se vervulling en plesier nie, maar gebeur alles ter wille van God. Alles is uit God, deur God en tot God, soos Paulus in Romeine 11:36 sê. Die bron van Calvinistiese leerstellings is die Bybel. Die Bybel is die enigste bron van kennis oor God en sy wil, want vanweë ons sonde is ons blind vir God se heerlikheid wat uit sy werke uitstraal. God openbaar Homself aan die mens deur sy Woord en die werk van die Heilige Gees.

Ook vind ons in die Bybel alleen insig in die ware (verlore) toestand van die mens. Hiervan is die leerstuk van die TOTALE VERDORWENHEID van die mens ‘n baie realistiese verduideliking. Dis ‘n Bybelse waarheid soos duidelik gevind in Romeine 3:10-12 wat lees : “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” Dit beteken nie soos sommige probeer voorgee dat die mens nie ‘n wil het of bloot ‘n robot is nie, dit gaan daaroor dat die mens se wil ook deur die sondeval bedorwe is, tot so ‘n mate dat niemand vanself God wil ken of homself wil bekeer nie. Calvinisme maak erns met die verwoesting van die sondeval. Dit het die gevolg dat ons as mense volkome afhanklik is van God se genade! Sonder werklike genade sal niemand gered word nie, want selfs ons geregtighede is soos “vuil klere” voor God. (Jesaja 64:6)

Omdat ons so boos is dat niemand van ons eerste God sal kies nie, maar daar tog baie mense gered word, is dit vanselfsprekend dat God ons eerste kies deur sy genadige ONVOORWAARDELIKE UITVERKIESING. Die beginsel van onverdienstelikheid word alreeds gesien in God se verkiesing van Israel soos beskryf in Deuteronomium 7:7-8 “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos." Hierdie waarheid geld vir almal wat God se kinders is binne die Nuwe Verbond en word besonder helder in die Nuwe Testament gestel o.a. in Romeine 8:29,30 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” Die totale verlossing van die mens, tot by die eindpunt van finale verheerliking is in die eerste instansie 'n werk van God!

Die uitverkorenes is sondaars soos alle ander mense en onder die toorn van God. Jesus moes dus kom en spesifiek en genoegsaam hulle sondeskuld aan die kruis deur sy plaasvervangende sterwe kom dra en die straf daarvoor op Hom neem. Die PARTIKULIERE VERSOENING beteken dat Christus sy mense werklik effektief met God versoen het deur hulle spesifieke straf vir hulle sondes te vat. Ja, Hy het die “gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee” (Efesiërs 1:4) Hierdie toegespitse versoeningswerk ter wille van die uitverkorenes, beteken nie dat God suinig is met sy genade nie.** Christus het inderdaad ‘n versoening bewerk wat genoegsaam is vir die sondes van die hele wêreld, soos die Dordtse Leerreëls dit self stel.*** Dis egter net effektief ten opsigte van die uitverkorenes. Hy gee self onweerstaanbaar daaraan deel diegene wat deur sy Vader aan Hom gegee is (Johannes 17:2) en na Hom getrek word. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:44) Let op hoe die onvermoë van die sondegevalle mens weer hier deur Jesus self bevestig word.

Hierdie onvermoë beteken dat elkeen van ons afhanklik is van God se ONWEERSTAANBARE GENADE, anders sal niemand gered word nie. Dit word so pragtig bevestig in die bekering van Lidia in Handelinge 16. Dis die Here wat haar hart geopen het om ag te gee op Paulus se woorde. Niemand is outomaties gered nie. Sondaars moet ‘n defnitiewe wilskeuse vir Jesus Christus maak. Dis egter slegs God wat die verdorwe wil van die sondaar so kan aanraak dat hy tot ‘n besluit kan kom. Calviniste glo daarom, anders as wat hulle vyande dikwels beweer, nie dat mense willose robotte is nie. Die Dordtse Leerreëls is hieroor baie duidelik as dit verklaar dat God nie met ons werk asof ons “stokke en blokke” is nie. Calviniste glo daarom ook dat alle mense opgeroep moet word tot geloof en bekering. God se beloftes en uitnodigings kom inderdaad werklik en opreg tot alle mense. Net soos die apostels moet ons die evangelie aan almal verkondig, alhoewel slegs diegene wat bestem is vir die ewige lewe gehoor sal gee. “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Handelinge 13:48) Diegene wat gehoor gee aan die oproep tot bekering en vir Christus kies moet egter weet dat dat nie hulle eie goedheid is wat hulle daartoe gebring het nie, maar alleenlik die uitverkiesende en onweerstaanbare genade van God. Dat ons in Christus glo, dat ons van ons kant ook vir God kies, is nie die vrug van ons eie goedheid nie, maar is as sodanig reeds ‘n geskenk van sy genade. Die verlossing is van voor tot agter die vrug van Gods liefdevolle en genadige inisiatief. Alles, alles is genade, onverdiende vrye guns alleen!**** Diegene aan die anderkant, wat verlore gaan, kan nie God daarvoor blameer nie, want hulle het self die genade aanbod van die evangelie verwerp.

As God dan self so ‘n bonatuurlike wonderwerk in iemand gedoen het, nie op grond van enige verdienste aan ons kant nie, maar weens sy ewige besluit, sal God hierdie werk einduit volvoer. In Filippense 1:16 stel Paulus dit duidelik dat God die werk wat Hy in mens begin het, sal voltooi. Dis die waarheid van die VOLHARDING VAN DIE HEILIGES. Natuurlik kan mense met valse mensgemaakte bekerings nie aanspraak op hierdie belofte maak nie. Natuurlik misbruik baie hierdie belofte terwyl hulle lustig voortgaan met sonde. Dis direk teen wat die Calvinisme leer. God se bewaring vind plaas via die weg van volhardende geloof, die voortdurende stryd teen sonde en die positiewe najaging van heiligmaking. Die troos is dat Hy in sy groot genade ons hiertoe instaatstel en dat Hy die mag het om ons vlekkeloos te bewaar tot die einde! (Judas vers 24)

Hierdie kosbare waarhede sal, as ons dit werklik glo ‘n verskil in die alledaagse lewe van die kind van God maak. Calvyn se uitverkiesingsleer gaan allermins oor metafisiese spekulasie. “Dit het ‘n praktiese doel, naamlik om die gelowige op te wek om alle eer aan God te gee, homself voor God te verootmoedig, en al sy troos en sekerheid in God se beloftes te soek.” (Jonker) Die erkenning van God se heerskappy oor sy hele skepping en alle fasette van menswees sal die gevolg wees in die lewe van alle mense wat voor hierdie Bybelse waarhede buig.

As Calviniste, maak ons in ons prediking erns met die volle Skrifopenbaring. Ons neem Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid beide ewe ernstig op. As die Skrif verklaar dat God mense uitkies, dan verkondig ons dit. (Romeine 9:11-13) En dis juis 'n heerlike waarheid, want God kies nie volgens status of verdienste nie! Dit gee juis hoop aan die slegste sondaars! Uitverkiesing het in die Bybel nie met 'n donker swartlys te make het nie, maar is 'n genadewoord wat in die konteks van lofprysing en dankbaarheid gebruik word. ( Efesiërs 1:3-14) Aan die anderkant, as die Skrif ons as mense uitdaag tot 'n keuse of uitnooi om na Christus te kom, dan pleit ons met vrymoedigheid en erns by alle mense om hierop te reageer! (Matteus 11:28-30)

Liewe Lulu, die probleme in die Suid-Afrikaanse gemeenskap is nie te wyte aan die Calvinisme nie, maar juis vanweë die hartseer feit dat baie hoofstroomkerke in ons dag hulle kosbare Calvinistiese erfenis verruil het vir postmodernisme (‘n lewe en teologie sonder waarheid en norme), teologiese liberalisme (verwerping van die Bybelse gesag) en ‘n eensydige horisontale sosiale evangelie (wat ontken dat die mens ‘n helverdiende sondaar is wat vergifnis by God nodig het om gered te word) en baie ander derglike goggas! Ongelukkig kry baie min Afrikaners (en ander volke) in ons land die geleentheid om die Calvinistiese (Bybelse) evangelie te hoor... die rugstreel en goedvoelboodskappies vanaf baie kansels lei nie juis tot bekering en lewensverandering nie.

Calvinisme is eintlik maar niks anders as die waarhede wat Paulus en die ander apostels, ja, Jesus self verkondig het nie. Die humanistiese selfgenoegsame mens van ons dag hou egter nie van ‘n God wat “Hom ontferm oor wie Hy wil, en verhard wie Hy wil” nie. (Romeine 9:18) Vir elkeen wie se hart wel uit genade deur die Gees sag en nederig gemaak is, is dit ‘n vreugde om in blydskap te buig voor die God wat waarlik God en soewereine heerser van die heelal is! Soli Deo Gloria!