Sunday, March 10, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 05 ("Jona se Boodskap")

 

1.    INLEIDING:
       Ons het die vorige keer gekyk na die eerste twee verse van Jona 3 en daarin het ons onder meer gesien dat die oomblik toe Jona weer op droë grond staan, hy weer dieselfde opdrag van God ontvang, as wat hy in 1:2 ontvang het, nl. ~ Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is. Met hierdie tweede opdrag, gee God egter aan hom (Jona) die versekering dat Hy aan Jona die boodskap sal gee wat hy moet bring.

       Ons het ook uit hierdie eerste twee verse van hoofstuk 3 gesien dat, al het Jona lynreg opgetree teen God se opdrag, God nie wrokke teen Jona gedra het nie. Ons het ook gesien dat die Here nie "kop gee" wanneer Hy ’n opdrag aan ons gee, of ’n roeping op ons lewe lê nie. Ook het dit duidelik geblyk dat God meer belangstel in die werker as wat Hy belangstel in die werker se werk.

N​a J​ona se ervaring op die skip en in die maag van die vis,​ is ​hy​ ’n nuwe mens, met ’n nuwe visie en nuwe durf en nuwe hoop en sal hy en behoort hy ’n nuwe impak op die Nineviete te hê, net soos wat elke gelowige ’n besondere impak op die wêreld rondom hom moet hê - daarom moet ons ook uit hierdie verhaal leer dat ons redding nie ’n privaatsaak mag wees nie, maar ’n saak wat die wêreld om ons moet raak.
      Elkeen van ons het 'n roeping om te vervul in hierdie wêreld en die vraag is of ons gaan maak soos die "vóór-die-storm-Jona", of soos die "ná-die-storm-Jona"?


2.    SKRIFLESING:
Jona 3:1-10 ~ Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” 3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” 5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. 6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.” 10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

3.    DIE STAD NINEVE (3:3):
       Jona ontvang opdrag van God om na Nineve te gaan; hy vlug weg van God se aangesig; ’n storm tref die skip waarop Jona was; Jona word oorboord gegooi; die heidense matrose kom tot bekering; ’n vis sluk Jona in; Jona kom tot sy sinne; die vis spoeg hom uit; Jona staan op droë grond; Jona ontvang weer God se roeping en in v.3 sien ons dat Jona homself gereed maak om na Nineve te gaan – ’n staptog van nagenoeg 1 500 km. deur woestynlandskap en oor landsgrense heen – vreemde, vyandiggesinde en heidense lande.

       Ten spyte van wat Jona op die skip en in die vis se maag deurgemaak het, moes hierdie lang staptog vir hom baie tyd gegee het om te dink en was dit waarskynlik nie vir hom maklik gewees nie en dit is nie so vergesog en noodwendig verkeerd nie – ons sien dieselfde het met Petrus in Hand.10 en 11 gebeur toe hy geroep was om na Cornelius te gaan. Die punt is egter – Jona het nou met vertroue en ’n vaste geloof in sy Skepper voort gebeur na sy eindbestemming – Nineve, waar hy God se boodskap moes gaan lewer. Die Here mag ons ook deur woestynland en oor "vreemde grense" (fisies en/of geestelik) in ons lewe heen neem, sodat ons uiteindelik ook kan leer wat vertroue en geloof in Hom behels. Ons kan ook weet dat God aan die anderkant – daar by ons uiteindelike bestemming op ons wag, maar dat Hy ook elke oomblik by ons is, wanneer ons deur die "woestyntydperke" in ons ewe gaan.

        Wat egter ook in v.3 vermeld word, is die feit dat die stad waarna Jona op pad was, ’n baie groot stad was. Ons kan reeds in Gen.10 lees van hierdie besondere stad. Nineve is gebou deur Nimrod wat die agterkleinkind van Noag en die kleinkind van Gam was. Nimrod was in die woorde van Gen.10:9 ~ ’n Dapper jagter in die oë van die Here.

       Hierdie groot stad was God se fokus in Jona se "sendingopdrag". Presies waarom juis Nineve sal ons nie regtig weet nie en kan ons maar net bespiegel. Dalk wou God deur die uiteindelike bekering van Nineve se inwoners, ’n duidelike boodskap aan Jerusalem gee dat God ook ’n God vir die heidene is (Hand.11:18b ~ God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee); of as ’n heidense stad hulle kan bekeer, hoeveel te meer nie Jerusalem en haar inwoners nie! Wat ons egter wel weet, is dat hierdie groot stad op God "se hart gelê het" – ons sien dit in 4:11, toe God vir Jona gevra het... ~ Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?

       Waarom Jona deur die stad geloop het, weet ons ook nie – dalk was hy op soek na ’n groot plein of plek waar die meeste mense op een oomblik byeen was sodat die maksimum mense moontlik, sy boodskap kon hoor en dit op daardie manier die vinnigste deur die stad kon versprei – ons het egter ook nie hierop ’n antwoord nie? Wat ons nou by nabaat ook weet, is dat die stad se dae getel was, want Nineve is uiteindelik verwoes en dit is asof God hierdie heidense nasie, net nog vir oulaas, ’n geleentheid gee om hulself tot God te bekeer.

4.    JONA SE BOODSKAP (3:4):
       Nadat Jona vir ’n dag lank rond geloop het in die stad, kom hy by ’n plek waar hy sy boodskap bring wat God aan hom gegee het. Dit blyk ’n kort en kragtige boodskap te wees, maar dit word algemeen aanvaar dat hierdie woorde wat opgeteken is, slegs ’n samevatting is van ’n langer boodskap ~ Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! (v.4b). Hierdie boodskap kon egter ook net uit hierdie agt woorde bestaan het, want enersyds is die Evangelie van Jesus Christus ’n baie eenvoudige boodskap, alhoewel menige mens hulle juis teen die eenvoud van die Evangelie "stamp" en andersyds kon hierdie boodskap uit slegs hierdie woorde bestaan het, omdat dit ’n Geesvervulde en swaar gelaaide – kan ek sê, ’n "Godgelaaide-boodskap" was. So ’n kragtige boodskap in sy eenvoud en al, dat dit ingrypende- en verstommende gevolge sou hê!
      
       Die woord wat Jona hier gebruik om te verwys na wat met Nineve sou gebeur as die inwoners hulle nie bekeer nie, is hāpak, wat ’n direkte verwysing is na die verwoesting van Sodom en Gomorra (Gen.19:21, 25, 29). Deur hierdie woord te gebruik, wil Jona sy luisteraars herinner aan ’n vroeëre rampspoedige gebeurtenis wat aan hulle bekend was. Hierdie woord kan egter ook ’n positiewe betekenis hê, bv. Deut.23:5 ~ Die Here jou God wou egter nie na Bileam luister nie en die Here jou God het Bileam se vervloeking in ’n seën verander, want die Here jou God het jou lief. Hierdie swaar gelaaide woord in Jona se boodskap, moes die Nineviete aangespreek het, want wat hy inderwaarheid vir hulle sê, is: Bekeer julle anders gaan julle verwoes word en in swael en vlamme opgaan soos die destydse inwoners van Sodom en Gomorra, maar as julle, julle bekeer, sal julle die seën van die Here ervaar.
      
       Die feit dat die getal veertig in Jona se boodskap gebruik word, is ook veelseggend, want hierdie getal is ’n getal wat op baie plekke in die Ou Testament voorkom en wat gewoonlik negatief van aard was – tydens die sondvloed het stortreën bv. vir veertig dae  en –nagte geval ten einde die aarde te bedek (Gen.7:12). Die Israeliete het vir veertig jaar in die wildernis rond geswerf na hul rebellie teen God (Num14:32-35). In Deut.25:1-3 sien ons ook die getal veertig ~ Wanneer die skuldige dan lyfstraf opgelê is, moet ’n regter hom op die grond laat lê, en hy moet in die teenwoordigheid van die regter soveel houe kry as hy verdien. 3Hy mag nie meer as veertig houe kry nie, want as hy meer as dit kry, word jou volksgenoot voor jou oë verkleineer.

       Hierdie veertig dae grasie wat Nineve ontvang het, impliseer dat God ernstig was met Sy waarskuwing.

5.    NINEVE SE SONDEBELYDENIS (3:5-9):
       Ek sou graag wou weet wat deur Jona se kop gegaan het, terwyl hy die boodskap uitgebulder het op die stadsplein, of waar hy ook al was. Dalk het hy gedink, ek bring hierdie boodskap wat ek van God ontvang het, maar daar is tog sekerlik nie die vaagste moontlikheid dat hierdie spul heidene hulle sal bekeer nie en ek beter vinnig padgee, voor hulle my dood maak – of voor ek oor veertig dae dalk saam met hulle in ’n swaelvuur omkom.

       Waarskynlik een van die mees indrukwekkende gebeurtenisse in die geskiedenis van die aarde, vind egter bykans onmiddellik na Jona se boodskap plaas – van die hoogste tot die laagste inwoner kom tot bekering – van die koning tot die eenvoudigste burger! Die Heilige Gees het elke heiden se hart in daardie stad, ontvanklik gemaak vir die Evangelieboodskap wat Jona gebring het. Hulle roep ’n vasdag uit en trek rouklere aan – rouklere om hulle berou oor hul sonde te betoon.

       Net soos wat dit die geval moet wees met alle gelowiges, glo die inwoners van Nineve in God en nie in Jona die prediker nie – God word verheerlik; nie Jona nie; die volk bekeer hulle tot God en nie tot Jona nie. As heidense volk met baie afgode wat aanbid was, kon hulle baie maklik Jona verhef het tot ’n god en hom begin aanbid het, maar hulle draai na die Skepper van hemel en aarde – na Hand.17:23 se "Onbekende God".

       Ons het egter ook te doen met ’n negatiewe kant aan hierdie wonderlike gebeure wat in Nineve plaasvind en dit blyk duidelik uit Jona se boodskap en dit is dat Jona self nog nie ’n hartsverandering ondergaan het nie – ja, hy is uiteindelik gehoorsaam aan die opdrag wat God aan hom gegee het, maar daar moet nog iets diep binne in Jona se hart gebeur. Waarom sê ek dit? Jona bied geen moontlike oplossing aan die Nineviete om uit hul benarde situasie te kom nie – hy dui geen weg tot vergifnis aan nie, want hy wil nie sien dat die heidene hulle tot SY God wend nie. Hy preek net duisternis en oordeel. Hy verkies dat die Nineviete eerder moet sterf. Hy wil nie hê dat hulle dieselfde vergifnis moet ervaar wat hy ’n paar weke vantevore ervaar het, toe hy in die see gegooi is en later op die strand uitgespoeg is nie. Hierdie is nie die eerste en laaste keer dat Jona so voel oor God se genade oor die Nineviete nie – ons sal dit later weer sien, o.a. in 4:1 toe hy sien hoe die volk hulle beker en hy kwaad geraak daaroor, waarop God vir hom gevra het (v.4) ~ Het jy rede om kwaad te word?

       Nog ’n rede waarom ek sê dat Jona geen oplossing bied nie, blyk duidelik uit die feit dat die inwoners van hierdie groot stad so onkundig is (geen lering dus van die profeet se kant nie), dat hulle selfs hul diere laat vas (v.7-8). 

       Die wonder van hierdie verhaal, ten spyte van die profeet se selfgerigte opstand, is dat God steeds voortgaan om die Nineviete te vergewe en Sy oordeel terug te trek, maar ook dat God Jona steeds nie aan sy eie lot oorlaat nie – God stel steeds in Jona as mens belang. Ten spyte van die feit dat Jona oënskynlik nog steeds nie vergifnis vir sy eie sonde gevra het nie en sy woede oor die Nineviete se bekering, stort God steeds Sy genade oor die volk uit en versorg Hy steeds vir Jona en praat Hy steeds met Jona. God se gewilligheid om te vergewe is infinitief groter as ons eie gewilligheid om te sondig! Die God wat storms ontketen en groot visse se weë bepaal, doen iets nog "groter en moeiliker" – Hý verander mense se harte.

       Ons moet egter aan die anderkant ruimte daarvoor hê, dat Jona se boodskap wat vir ons in v.4 neergepen is, dalk net ’n opsomming is van ’n moontlike langer en meer gedetailleerde boodskap, maar die feit bly steeds staan, dit is God wat mense se harte verander en dat Jona steeds duisternis in sy hart ronddra oor wat aan die gang is in Nineve – ja, hy is gehoorsaam en hy bring die boodskap wat God aan hom gegee het, maar daar is steeds opstand in sy hart oor die gebeure rondom hom, want wat hy verwag het, is dat die Nineviete hulle sou verset teen God en dat God hulle dan sou vernietig, maar net die teenoorgestelde gebeur.

       Nog iets wat vermelding verdien, is die feit dat die koning nie rasionaliseer oor Jona se
waarskuwing nie – hy voer nie allerlei verskonings aan nie, ook ignoreer hy nie die boodskap nie, trouens hy gee opdrag dat die mense meer moet doen as net bid – hy gee opdrag dat mens en dier moet vas en rouklere aantrek – hy stel die voorbeeld en trek sy koninklike kleed uit en simboliseer daardeur dat hy hom onderwerp aan die Koning van alle Konings!

       Die koning gee verder opdrag dat sy volksgenote ernstig tot God moet bid en berou moet hê oor hulle sonde en hulle daarvan moet bekeer – die koning besef dat net ’n ware en opregte hartsverandering hul lot sal kan verander – niks anders nie. As ons na die Israeliete kyk, sien ons dat selfs die heidense Nineviete in ’n sekere sin, hulle geestelik ver voor was, want in Jes.58:3-9 sien ons dat die Israeliete wel gevas het, maar dit was met bymotiewe en hoegenaamd nie in opregtheid nie en daarom het God nie ag geslaan op hulle gebede en gevas nie.

       Net soos die heidense kaptein (1:6) en matrose (1:14) op die skip waarmee Jona aanvanklik weggevlug het, erken die koning en sy onderdane dat God oor die vryheid beskik om te doen soos wat Hy goed dink. Hulle besef dat vals gebede en vals verootmoediging niks sal help ten einde vergifnis en genade te ontvang nie (Joël 2:13-14) ~ Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. 14Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God!

       Die koning en die Nineviete bekeer hulle opreg en hulle bewys dit met dade wat by die bekering pas (Hand.26:20).   

6.    GOD SE GENADE (3:10):
       Dit is interessant om te sien hoe die woord "groot" (bv. "groot storm" in 1:4 en "groot vis" in 1:17 en "groot stad" in 3:2, ens.) amper iets van ’n sleutelwoord in hierdie boek is – die Hebreeuse woord is "gadol" en dui o.a. op grootsheid, of in die oortreffende trap en dit is presies wat gedurig in die boek Jona gebeur – niks in hierdie verhaal is gering of betekenisloos nie, want net soos wat die groot stad se inwoners tot bekering kom, net so groot is God se genade vir hierdie volk se verootmoediging.

       Dit is so tragies dat Jona in 2 Kon.14:25 juis geprofeteer het dat Israel se grense uitgebrei gaan word, maar toe dit gebeur en juis hy die instrument in God se hand is, is hy onwillig om in oorgawe en met blydskap in sy hart saam met God te werk.

       Wat andersyds egter wonderlik is, is dat God ’n man gebruik wat steeds onvergenoegd is; ’n man wat in ’n sekere sin ’n mislukking is – hy word gebruik om hierdie grootse werk te doen; deur wie hierdie groot genade van God manifesteer. God gebruik die "onvolmaakte Jona", omdat God enersyds nie afhanklik is van volmaakte "instrumente" om Sy doel te bereik nie, trouens Hy gebruik juis "krom stokke om reguit houe mee te slaan". Andersyds is God ook nog nie klaar met Jona nie – daarom gebruik die Here hierdie "kromstok-Jona".

       Hierdie feit dat God "kromstokke gebruik om reguit houe mee te slaan", is uniek aan die Christelike godsdiens en verder is dit ’n geweldige verligting, want dan kan Hy my mos ook gebruik! Wanneer ons verstaan dat ons in Christus is, hoef ons nie te presteer nie en hoef ons nie volmaak te wees om kind van God te wees en instrument in Sy hand te wees nie.  

       Omdat God "kromstokke" gebruik, kan Hy dan ook deur Jona die Nineviete oproep tot bekering en nadat hulle, hulle in opregtheid verootmoedig het, skenk God genade en vergifnis en redding aan hulle!

7.    AFSLUITING:
       Ek wil ter afsluiting twee uiteenlopede sake kortliks aansny – die eerste is God se dreigement dat Hy Nineve gaan verwoes, maar "verander" oënskynlik Sy besluit en dit terwyl ’n Skrifgedeelte soos 1 Sam.15:29 sê ~ Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Hoe moet ons hierdie Skrifgedeelte versoen met die realiteit wat in Nineve gebeur het?

       Ons moet verstaan, dat God, God is en dat Hy kan doen wat Hy wil en Hy kan (en Hy doen dit inderdaad ook) genade betoon teenoor wie Hy wil ~ Een oomblik kondig Ek aan dat Ek ’n nasie, ’n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. 8Maar wanneer dié nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring (Jer.18:7-8). Die vraag is egter hoe ons dit moet verklaar as die Bybel op een plek sê dat God nie Sy gedagtes kan verander nie en die volgende oomblik sê die Woord dat Hy dit wel doen?

       Wanneer ons die twee teksverse waarna ons so pas gekyk het (1 Sam.15:29 en Jer.18:7-8) in gedagte hou, is daar ’n baie eenvoudige verklaring vir die vraag wat ek hierbo gevra het – Eerstens moet ons nie God se dreigement sien as ewige verordening of besluit nie, maar dit is eerder deel van Sy soewereine besluit en ’n genadige reaksie op Nineve se hartsverandering.

       Nog iets wat ons in gedagte moet hou, is dat God in Sy groot genade, dikwels Sy straf op die mens se sonde uitstel, maar die gevolge op daardie sonde en uiteindelike oordeel, indien daar nie permanente bekering is nie, sal uiteindelik geskied.

       ’n Tweede saak wat ek kortliks wil aanraak, is wat belydenis beteken en uiteindelik tot gevolg het.
·           Wat is belydenis? Daar bestaan twee soorte belydenis – die eerste kan ons "spyt" ("attrition") noem. Dit is wanneer iemand spyt is oor iets wat hy verkeerd gedoen het – dit is niks anders nie as ’n selfsugtig-gemotiveerde reaksie op potensiële straf wat gaan volg.

       Ons hoor baie dikwels dat ’n regter tydens ’n uitspraak sê dat hy geen berou by die beskuldige kon waarneem nie en in so ’n geval is die straf dikwels dan nog swaarder.

·           Die tweede soort belydenis word "berou" of wroeging ("contrition") genoem en dít is opregte en ware belydenis. Dit is ’n innige en opregte hartseer omdat God in die proses beledig en onteer is. Dit is selfopofferend. Dit is Godgesentreerd.

       Wat het ware en opregte belydenis tot gevolg?
·           Dit is ’n uiterlike verandering wat voortgebring word deur ’n innerlike verandering. Dit behels dus nie alleen ’n wegdraai van ongehoorsaamheid af nie, maar ’n radikale en doelbewuste draai na gehoorsaamheid

·           Die Nineviete leer ons ’n tweede aspek t.o.v. wat ware berou tot gevolg het. Hulle het hul sonde erken en hulle het restitusie gedoen by God en teenoor andere. Niemand het gesê dat dit iemand anders se skuld was nie – hulle het erken dat hulle gesondig het – hulle het dus nie die oeroue sonde begaan van, "dit is nie ek nie – dis die vrou/slang...".

·           ’n Derde faset van opregte en ware belydenis, is nederigheid. Die Nineviete was nie meer trots nie, maar nederig, want hulle het gerou oor hul sonde en hulle waarlik daarvan bekeer en berou daaroor gehad – iemand wat vas, rouklere aantrek en berou het oor sonde en hom bekeer, kan nie meer opgeblase wees oor sy sonde nie – ware belydenis het altyd nederigheid tot gevolg.

·           God belowe dat wanneer ons in opregtheid ons sonde bely, Hy ons sál vergewe en ons sál herstel (restoureer). Die Nineviete het vergifnis en herstel ervaar, wat altyd lei tot vrede – vrede met God, maar ook innerlike vrede oor daardie sonde. Indien jy nie vrede ervaar nie, moet jy onderskei of jou belydenis waarlik opreg was en of jy geteister word deur die satan, want ware belydenis lei altyd tot vergifnis en herstel en daarom vrede.

       In die Hebreeus is die woord vir vrede, "shalom" en die diepste betekenis van "shalom" is dat die verhouding tussen mens en God volkome herstel is en dat die verhouding weer is soos wat God dit bedoel het. Iemand het op ’n keer gesê dat sonde, die vandalisme van "shalom" is.

       "Shalom" het vrede tot gevolg; "Shalom" het herstel in verhoudings tot gevolg; "Shalom" kom slegs na opregte en ware belydenis en ’n diepe berou oor sonde.

       Het jy vrede in jou hart en met God?


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 03 Maart 2013.