Sunday, February 3, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 18 ("Die Middelaar van ’n Beter Verbond")


   

1.    SKRIFLESING:
       Hebr.8:1-13 ~ Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het ’n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. 2Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur ’n mens nie. 3Elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring; daarom moet ook hierdie Een iets hê om te offer. 4As Hy nog op aarde was, sou Hy nie eens priester kon wees nie, omdat volgens die wet daar reeds priesters is wat die gawes offer. 5Hulle bedien egter slegs ’n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het.” 6Maar nou het Jesus ’n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ’n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is. 7As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou ’n tweede nie nodig gewees het nie. 8Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê: “Kyk, daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 9Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. 10Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. 11Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal, klein en groot, sal My ken. 12Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” 13Deur van ’n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.

2.    INLEIDING:
       Dít wat die Hebreërskrywer tot nou geskryf het, vind ons pragtig saamgevat in hierdie hoofstuk wat ons so pas gelees het. M.a.w. hy sê vir ons dat Jesus Christus die enigste ware Hoë Priester is.

       Hoofstuk 8 fokus verder op die nuwe verbond. Voor die skrywer egter hierop uitbrei, noem hy nog twee dinge t.o.v. Christus se Hoë Priesterskap:
·           Sy posisie as Hoë Priester (v.1);
·           Die plek van Sy Ampsvervulling (vv.2-5);

       Hierna gaan die skrywer voort en beskryf vir ons Jesus as Middelaar van ’n beter verbond.
 
3.    CHRISTUS SE POSISIE AS HOË PRIESTER:
       In v.1 word Christus aangetoon as ’n Hoë Priester wat nie sy gelyke het op aarde nie en benewens die feit dat Hy ontuitspreeklik roemryk is, is Hy boonop nog in die teenwoordigheid van God self ~ Hy het ... gaan sit aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel (v.1b).

       Wanneer die Jode verwys het na God se regterhand, het hulle verwys na Sy onbeskryflike voortreflikheid en volmaaktheid, asook Sy almag en daarom verwys die Hebreërskrywer na Hom as die Majesteit en spreek Hy dus nie die naam van God direk uit nie, want dit was ongehoord en onaanvaarbaar vir enige Jood om dit te doen, want hulle het die heiligheid van God baie hoog geag – daarom dat Jode tot vandag toe na God verwys as HaShem – dit beteken, "geseënd is die Naam", of in kort net "die Naam". God is die Naam bo alle name en dit is in hierdie lig dat die skrywer vir ons meer leer van die Here Jesus Christus se bediening as o.a. Hoëpriester ~ Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is (Fil.2:9).

       Die hele gedagte van Christus wat as Hoëpriester aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel sit, word ontleen aan Ps.110:1 ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp. Jesus het dus ’n hoër status as die Levitiese priesters, omdat hulle net in God se teenwoordigheid kon staan – hulle werk was dus nooit afgehandel nie, maar Jesus daarenteen sit, omdat Sy offerwerk eens en vir altyd afgehandel is. 

       Die gawes en offers wat die aardse priesters een maal per jaar op die Groot Versoendag
 gebring het, is niks in vergelyking met die een enkele offer wat Jesus gebring het nie – menslike offers kán net eenvoudig nie klaar speel met sondaars se sonde nie. Net Jesus Christus s’n kan – daarom dat Jesus Christus ’n Middelaar van ’n baie beter verbond is – ’n beter verbond as wat enige vorige verbond met enige mense of groep mense ooit kon of sal wees.

       ’n Baie interessante brokkie uit die Joodse geskiedenis is van geweldige waarde vir ons t.o.v. die hele gedagte dat Jesus aan die regterkant van die Vader stelling ingeneem het. Die destydse Sanhedrin (die hoogste Joodse hof en regeringsinstelling) het bestaan uit 70 burgerlike en geestelike leiers. Wanneer die Sanhedrin as hof gefunksioneer het, het daar altyd twee baie belangrike skribas of sekretarisse, weerskante van die voorsittende beampte gesit – die funksie van die een aan die linkerkant was om al die veroordelings (condemnations) neer te skryf en dié aan die regterkant, al die kwytskeldings (acquittals).

       Onder die nuwe verbond (nou op hierdie oomblik dus), sit daar niemand aan die Vader se linkerkant nie – niemand om beskuldigings teen God se kinders in te bring nie – net Jesus as Hoë Priester sit aan die Vader se regterhand – dié Een wat net al die kwytskeldings neer skryf ~ God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh.3:17). Jesus se posisie in die hemel is dus nie net een van eer en mag nie, maar ook een van genade – Hy sit daar en doen voortdurend voorbidding (Hebr.7:25) en skryf die heeltyd kwytskeldings!

       Hierdie beeld herinner ’n mens aan Hand.7:55, toe Stefanus, net voor hy vir sy geloof en in opdrag van die Sanhedrin, gestenig is, ~ ...opgekyk (het) na die hemel en die heerlikheid van God gesien (het) en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Hy het die besef- en die wonderlike troos gehad, dat Jesus reeds sy kwytskelding uitgeskryf het en spreekwoordelik, die kwytskeldingsnota reeds aan God oorhandig het, sodat Stefanus in die hemel "ontvang" kon word!

       V.4-5a is ’n baie interessante vers, maar ’n baie belangrike vers ~ As Hy (dit is Jesus) nog op aarde was, sou Hy nie eens priester kon wees nie, omdat volgens die wet daar reeds priesters is wat die gawes offer. 5Hulle bedien egter slegs ’n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Op aarde sou Jesus volgens tradisie nie eers ’n priester kon wees nie, omdat Hy nie volgens afkoms (Hy was nie afstammeling van Aäron) vir priesterskap gekwalifiseer het nie, maar dit is ook maar goed so, want daardeur kan ons die versekering hê, dat Sy Priestersamp nie maar net ’n voortsetting is van ’n aardse priestersamp nie, maar dat dit in totaliteit ’n nuwe en ander bedeling en amp is.

       U mag dalk nou vra wat die doel dan met die ou verbond was, as die hele sisteem, letterlik oornag vervang is met ’n nuwe? Wel, die ou sisteem was ’n tydelike verbond wat God uitsluitlik met Israel gesluit het, ten einde tydelike voordele aan hulle as nasie te bied – voordele soos tydelike vergifnis van sonde, maar uiteindelik het die ou sisteem vooruit gewys na die beter een wat sou kom – ’n beter verbond wat geestelike seën en ’n ewige lewe impliseer, soos geopenbaar in die Evangelie en vasgemaak is in Jesus Christus.

       Christus se Priesterskap is dus nie van hierdie wêreld nie – al het Sy offer in hierdie wêreld plaasgevind – Hy sit nou in die teenwoordigheid van God waar Hy as Hoë Priester namens ons optree en hierdie Priesterskap is ’n permanente een – m.a.w. Sy eenmalige offer was voldoende – Hy hoef nie weer en weer offers te bring soos die destydse priesters nie, want hulle moes dit gereeld herhaal het ~ Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie (Hebr.10:1). Jesus gaan ook nie net een keer per jaar in die Allerheiligste in om vir ons in te tree nie – nee, Hy is permanent in die teenwoordigheid van God en Hy tree onophoudelik in vir ons by die Vader.

       R. Kent Hughes sê die volgende van hierdie onbeskryflike gedagte van Jesus wat vir ons intree: Think of it! Jesus, our eternal priest who sits at the Father's right hand in ineffable glory enthroned on emerald atop a crystal sea amongst the adoration of millions, serves in our behalf! "God serves me!" It is a ludicrous expression but true. Take a deep breath, swallow your incredulity, and humbly believe it. Jesus' prayers are placed in your service and mine. There are no lapses, no disaffections, no uneven devotion – only loving constancy of intercession – serving, serving, serving....

4.    DIE PLEK VAN CHRISTUS SE AMPSVERVULLING:
       Nadat die skrywer vir ons kortliks gewys het op Christus se verhewe posisie, gaan hy voort in die volgende verse (vv.5b en verder aan) en brei hy uit oor die plek van Christus se ampsvervulling – die plek waar Hy tans Sy amp as Hoë Priester dus vervul.

       Hierdie plek van Jesus se ampsbediening, is in die verbondstent wat deur God self in die hemel opgerig is. Wat wonderlik is en wat duidelik blyk uit v.2, is dat Christus se regerende funksie, in dienende terme uitgedruk word – m.a.w. Sy werk as Hoëpriester gaan steeds op hierdie dag en in die toekoms voort, totdat Hy ons kom haal.

       Wat presies is hierdie verbondstent waarvan v.5 praat?
·           Eerstens is hierdie verbondstent, onuitspreeklik en oneindig ver verhewe bo die aardse verbondstent of – tempel van die ou verbond, want dit is nie deur mensehande gebou nie, maar deur die Here self opgerig (v.2).
·           Christus tree nie op as Hoë Priester in ’n tempel van sederhout en goud nie – Hy tree op in die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is (v.2) – ’n verbondstent wat nooit verwoes kan word nie, in teenstelling met die aardse Tempel wat in 70 n.C. saam met Jerusalem vernietig is. Ons moet daarop let dat die uitdrukking "ware verbondstent" nie daarop dui dat die aardse een, vals was nie – dit dui slegs daarop dat die aardse een net tydelik van aard was, terwyl die hemelse verbondstent ewig van aard is.
·           In v.5 sien die skrywer in sy geestesoog hoe dat Moses opdrag van God ontvang om die aardse Tabernakel te bou (Eks.25:40) en hoe Moses in die lug ingestaar het en ’n vae afbeelding van die hemelse verbondstent gesien het en die aardse Tabernakel daarvolgens gebou het – maar, die aardse Tempel was maar net ’n vae skaduwee van die ware hemelse verbondstent.

5.    JESUS DIE MIDDELAAR VAN ’N BETER VERBOND:
       Ons sien dus dat Christus se dienslewering as Hoë Priester in ’n plek geskied wat deur God self daar gestel is en wat oneindig ver verhewe is bo dié van die aardse, want die aardse Tempel was bloot maar net ’n skaduwee van die hemelse.

       Die diens wat Jesus as Hoë Priester verrig, is om die Middelaar te wees van ’n veel-veel beter verbond wat, in die woorde van v.6,’n beter verbond (is) wat op uitnemender beloftes gegrond is.

       Net om weer ons geheue te verfris moet ons onthou dat ’n verbond, ’n kontrak tussen twee partye is, nl. tussen God en die mens en Jesus tree as Tussenganger, of as Bemiddelaar op. Omdat God is Wie Hy is, kan Hy nie Sy kant van die ooreenkoms of kontrak verbreek nie, terwyl die mens nie net die ooreenkoms een maal verbreek het nie (erfsonde), maar dit voortdurend doen (sondesmet). Jesus kom egter nou as Tussenganger en Hy bemiddel die mens (ons) se saak, namens die mens voor God en na Jesus se offer wat Hy aan die kruis gebring het, is daar ’n nuwe verbond aangegaan – dié keer tussen God en Sy Seun en is dit derhalwe onmoontlik dat die nuwe verbond verbreek kan word en soos vroeër gesê, tree Christus nou namens ons op en kyk die Vader nie meer of ons die verbond verbreek al dan nie, want die verbond is nou tussen Hom en Sy volmaakte Hoë Priester Seun, Jesus Christus!

       Die Hebreërskrywer verduidelik vir ons in vv.7-8, dat die ou verbond vol tekortkominge was. Hierdie tekortkoming was dat die volk nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom het nie en hy staaf dit deur in vv.8-12, die profeet Jeremia uit Jer.31:31-34 aan te haal.

       In v.8 profeteer Jeremia en herhaal die Hebreërskrywer, dat die Nuwe Israel met wie hierdie nuwe verbond gesluit word, alle mense insluit wat in Jesus Christus glo – ook die heidene wat gered word – ook ons! 

       Jeremia het hierdie profesie gebring, sowat 600 jaar voor die Hebreërbrief geskryf is. Nadat die volk van die Here vir baie dekades ver weg van die Wet en die verbond geleef het, is die Wet weer opnuut ontdek en is ’n tyd van verootmoediging en hertoewyding aangekondig. Dit was egter nie lank nie, of die volk het maar weer hul rug op God se genade gedraai en die verbond gruwelik verbreek, maar te midde van hierdie donker tyd in die geskiedenis van Israel, sien ons die seën van God se genade maar weer in aksie en beloof God ’n nuwe verbond ~ Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here (v.9).

       In v.10 kondig die Here dan hierdie nuwe en beter verbond aan – die verbond waaronder ons ook nou staan ~ Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here. Wat behels hierdie verbond egter (vv.10-12):
·           Intimiteit – Baie van die beloftes van die ou verbond het te make gehad met dinge van die huidige lewe waarin die  verbondskinders van daardie tyd gelewe het – dinge soos ’n lang lewe; materiële voorspoed; ens. Daarteenoor val die klem in die nuwe verbond eerder op die geestelike gedurende die gelowige se lewe, maar ook daarna.

       Die eerste belofte wat spruit uit die nuwe verbond, vind ons in v.10 ~ Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Die probleem met die ou verbond was dat dit op kliptafels geskryf was (Eks.32:15-16) – dit het geen innerlike krag verleen aan die volk van God nie – ja, diegene wie die Woord uit hul koppe geleer het (Deut.6:6-9) en hulle wie die Woord op hul hande en voorhoofde gedra het, of dit vir hul kinders geleer het, het sekerlik in hul harte en gedagtes gestig gevoel (Deut.6:6). Ook Psalms 1 en 119 getuig van die voordeel daarvan om die Wet te ken, want dit kon die hart rig en beïnvloed, maar iets veel, veel meer as dit was nodig – die mense se harte moes verander word – hulle het "hartoorplantings" nodig gehad – weereens ’n profesie hieroor en die keer van Esegiël ~ En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee (Eseg.36:26 – ook 11:19).

       Wat is die verskil tussen die oue en die nuwe in hierdie geval? Wat beteken ’n hart van vlees? Dit beteken maar net dat God se Wet nie maar net ’n boek met mooi en goeie en belangrike voorskrifte en wenke vir ’n persoon onder die nuwe verbond is nie – nee, God se Woord is iets wat hy diep in sy hart koester en lief het – hy sê in alle opregtheid saam met Paulus ~ Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God (Rom.7:22). Die O.A.V. stel dit nog mooier ~ Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens. Die E.S.V. stel dit net so mooi ~ For I delight in the law of God, in my inner being. Diegene wie harte van vlees het, maar deur die Heilige Gees aangeraak word, ontwikkel ’n begeerte daarna om in ’n intieme verhouding met die Here Jesus Christus te staan en bo en behalwe hierdie begeerte na  intimiteit, word God se aard of natuur deel gemaak van die gelowiges onder die nuwe verbond (2 Pet.1:4).

·           Verhouding – ’n Tweede aspek wat voortspruit uit die nuwe verbond, is dat diegene wie onder hierdie verbond staan, in ’n baie nou verhouding met God staan – soveel so, dat God, hulle God sal wees en ons Sy volk (v.10b). Daarom dat ons kan uitroep, Abba Vader (Rom.8:15-17). Dit alles is moontlik gemaak omdat die vleeswording, kruisiging en opstanding van God se Seun, Jesus Christus plaasgevind het en dieselfde God wat ons gered het, is die God wat almal wat in Christus verlos is, na Hom trek en in ’n baie spesiale verhouding met hulle staan. Wat meer is, elke gelowige weet dat hy weet, dat hy kind van God is en dat hy in ’n baie spesiale verhouding met God staan, omdat die Heilige Gees dit in sy hart bevestig.
      
·           Kennis – Die ou verbond was ’n verbond wat deur God met ’n volk aangegaan is – dit was dus ’n korporatiewe verbond wat talle mense ingesluit het wat God nie eens geken of nagevolg het nie. Die nuwe verbond daarenteen, is ’n verbond wat met individue gesluit word. Elke individu wat in ’n persoonlike verhouding met God, deur Jesus Christus staan, ontvang die ewige lewe en hoor net wat sê Jesus in Joh.17:3 van sulke gelowiges ~ En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Tussengangers is dus nie meer nodig om kennis van God by mense uit te bring nie, want God openbaar Homself voortaan in en deur Sy Woord.  Dit impliseer natuurlik nié dat gelowiges nie meer leraars nodig sal hê nie, trouens die Woord is vol daarvan dat leraars onmisbaar is ~  Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” (Rom.10:14-15).
      
·           Vergifnis – Die basis vir die voorafgaande drie elemente van die nuwe verbond, berus op hierdie vierde element, nl. vergifnis. Mense van die ou verbond moes gedurig allerlei offerandes bring, maar hulle kon nooit permanente vergifnis en daarom vrede met God ervaar nie en was hulle rituele slegs ’n skadu van die beter verbond wat aan die kom was. Mense van die nuwe verbond daarenteen hoor die woorde van die Here ~ Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie (v.12). God dink nooit meer oor en aan ons sonde nie! Die nuwe verbond het volkome en volmaakte vergifnis tot gevolg. God vergeet nie alleen ons sonde nie – Hy kan dit glad nie onthou nie.

6.    AFSLUITING:
       Geliefdes, elkeen van ons moet onsself die vraag afvra of ons werklik die betekenis en die inpak en die gevolge en die volle omvang van hierdie nuwe en beter verbond verstaan. Ons is deel van hierdie nuwe verbond – besef ons regtig hoe bevoorreg ons is om nou onder hierdie wonderlike vrymakende verbond te leef? In en deur Jesus Christus het ons deel geword van hierdie nuwe verbond – hierdie beter verbond en Jesus is ons Hoë Priester wat onophoudelik vir ons intree by die Vader, maar dit het ook tot gevolg dat ons in permanente vrede met God kan leef, omdat Hy, op grond van Jesus se soendood, nooit meer aan ons sonde dink nie! Watter groter seën en genade kan ons ontvang as juis dit?

            Saam met Simon Petrus kan ons maar net uitroep ~ Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is (Joh.6:68-69).


[1]  Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 03 Februarie 2013.