1. INLEIDING:
Ons
het tot nou o.a. gesien dat die skrywer van die Hebreërbrief, eers vir ons die Ou
Verbond beskryf en daarna die Nuwe Verbond – die Nuwe Verbond wat Jesus
Christus tot stand gebring het en dan het ons ook gesien dat Christus, die
Middelaar van ’n beter Verbond geword het en dat Hy vir ons ’n Hoë Priester is
wat voortdurend vir ons by die Vader intree.
In
vandag se hoofstuk, kyk die apostel na die Tabernakel waarbinne die priesters
van die Ou Verbond gewerk het. Die probleem met die Tabernakel (en
die latere Tempel) is dat
dit steeds geen direkte toegang vir die gelowige tot God gebied het nie. Jesus
Christus het hierdie ontoeganklikheid vir die gelowige egter permanent verander
– Hy het die Hoë Priester van ’n beter Tabernakel geword.
Die
Apostel benader hierdie feit op ’n baie interessante, dog verstaanbare wyse,
deur eers in die eerste 6 verse, na sewe voorwerpe te verwys wat in die Tabernakel
aangetref was en wat aantoon dat die Ou Verbond en Tabernakeldiens, nie toegang
vir gelowiges tot God gebied het nie. Vanaf vers 11 begin die apostel dan om
die toeganklikheid van die gelowige in die Ou Verbond, te kontrasteer met dít
wat Christus gedoen het en waar Hy nou as Hoë Priester op tree. Hy sluit dan af
met die feit dat ons wat in die tydvak van die Nuwe Verbond leef, direkte
toegang tot God het.
2. SKRIFLESING:
Hebr.9:1-15
~ Die eerste verbond het voorskrifte
vir die erediens gehad, en ook ’n aardse heiligdom. 2Die
verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige
genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. 3Agter
die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word. 4Daarin
was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud
oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron
wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop
geskrywe. 5Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God
voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede
kan ons nie nou verder ingaan nie. 6Met die dinge só ingerig, het
die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om
die dienste te verrig. 7Maar in die agterste gedeelte het alleen
die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder
bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend
gedoen het. 8Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na
die Allerheiligste toe nie oop is solank as die voorste gedeelte van die
verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd
waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit
bring, ’n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net
betrekking op voedsel, drank en ’n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is
voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God
’n beter orde sou instel. 11Maar Christus het gekom as Hoëpriester
van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter
en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot
hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van
bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige
verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en
bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle
uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons
gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende
God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die
ewige Gees aan God geoffer. 15Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n
nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge
wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde
ewige erfenis kan ontvang.
3. DIE
AARDSE TABERNAKEL:
In
die eerste vyf verse van hierdie hoofstuk verwys die skrywer na sewe voorwerpe
wat in die Tabernakel gebruik was, asook waar hulle aangetref was. Ons moet ook
in gedagte hou dat die doel met die Tabernakel was om die teenwoordigheid van
God in die midde van die volk te verbeeld, hoewel Hyself nie werklik daar
teenwoordig was nie. Hierdie Tabernakel moes indrukwekkend gewees het en
daarmee saam die voorwerpe wat in die Tabernakel was:
·
Die Kandelaar: Die Hebreeuse woord vir hierdie
kandelaar is, "menorah" en dit was gemaak uit goud en het sewe takke
gehad wat uit ’n sentrale stam geloop het. Aan die punt van elke tak was daar
’n olielamp. Hierdie olielamp is waarskynlik vandag nog steeds, dié mees
uitstaande simbool van die Judaïsme en die Joodse volk.
Die metafoor (betekenis)
van die lig in die
duisternis is ’n baie duidelike simbool van God se teenwoordigheid in die Tabernakel
– maar ’n simbool bly dit steeds ’n simbool.
·
Die Tafel met die Offerbrode: Hierdie tafel was in opdrag van God,
van akasiahout gemaak en oorgetrek met goud (die N.A.V. praat
van doringhout, maar al die ander vertalings vertaal dit met akasiahout). Op die tafel was daar ongesuurde
brode wat die twaalf stamme van Israel verteenwoordig het. Die brood was
uitsluitlik bedoel vir gebruik deur die priesters en was vars gebak vir elke
Sabbat (Matt.12:1-8). Die simboliek van hierdie tafel en brode, dui op God se
versorging van Sy volk.
·
Die Goue Wierookaltaar: Vir die grootste deel van die jaar
het die meeste van die werk van die priesters rondom die Goue Wierookaltaar
plaasgevind, want daagliks is daar wierook en ander offers op hierdie altaar
gebring. Daar was egter een
uitsondering en dit was dat die Hoë Priester een maal per jaar en wel op die
Groot Versoendag, kole van hierdie altaar, met ’n goue lepel geneem het en
daarmee na die Allerheiligste gegaan het, om daar tot God te offer (Lev.16:12). Hierdie simboliek is natuurlik dan
ook die fokus van die Hebreërbrief, nl. dat die reukoffer, die Israeliete se
gebede verteenwoordig wat opstyg na God – dit laat ’n mens dink aan Openb.8:3-4 ~ ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue
wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van
al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4Die
rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die
gelowiges opgestyg voor God.
Hierdie eerste drie items in die Tabernakel, het in die "Heilige"
gestaan en was deur ’n gordyn afgeskerm van die "Voorhof", wat deur ’n
groot wit muur omring was (sien skets aan einde).
·
Die Verbondsark:
Agter ’n verdere gordyn (voorhangsel) is die Allerheiligste, waarin ’n
voorwerp geplaas was, wat sonder gelyke was, nl. die Verbondsark. Hierdie ark
was oorgetrek met goud en hierdie ark was verteenwoordigend van God se
teenwoordigheid en groot genade vir Sy volk. Hierdie Ark het ook gedien as
houer of kis, waarin ’n paar voorwerpe in opdrag van God geplaas was, om die
volk te herinner aan God se beskerming in die wildernis.
In die Ark van die Verbond wat in die Allerheiligste gestaan
het, was daar drie objekte:
-
Die Goue Kruik met Manna: Dit was die een voorwerp wat in die
ark was. Hierdie was ’n herinnering aan God se getroue versorging in die
wildernis, toe Hy die volk vir nagenoeg veertig jaar voorsien het van kos om te
eet. Die Fees van die Tabernakels wat
tot vandag toe deur die Jode gevier word, is ’n herdenking aan hierdie genadige
versorging van die Here. Die wonderlike hiervan was dat die volk teen God
gerebelleer het en dat hulle ondankbaar was teenoor Hom en daarom moes hulle
gestraf word, maar God het hulle steeds nie laat vergaan van honger nie – Hy
versorg te midde van straf!
-
Die Kierie van Aäron: Hierdie kierie verwys na Aäron se
kierie wat wonderbaarlik, bloeisels gekry en amandels begin dra het, as
bevestiging dat Moses en Aäron, God se gekose leiers vir die Israeliete in die
wildernis was (Num.17).
God laat nooit Sy kinders sonder leiers nie en dit opsigself dui op Sy eie
gesag.
-
Die Kliptafels met die Wet: Die laaste artikel wat in die ark
was, was die kliptafels waarop God die Wet met Sy vinger geskryf het en aan
Moses op die Berg Sinaï gegee is. Hierdie kliptafels verteenwoordig God se
openbaring en spreke met Sy volk. Net om weer na God se wonderlike genade te
verwys; genade wat Hy keer op keer bewys – Nadat Moses die kliptafels ontvang
het, het die volk in sonde verval en ’n goue kalf begin aanbid, waarop Moses uit
woede vir die volk se optrede, die kliptafels stukkend gegooi het op die grond (Eks.32-34). Wat doen God? Hy gee aan Moses
opdrag om ’n tweede stel kliptafels te maak!
Hierdie
is maar net weereens bewys dat God se optrede en woede oor Sy volk se sonde,
spruit uit ’n diepe liefde vir hulle, asook ’n liefdevolle toewyding jeens
hulle – hierdie straf wat spruit uit liefde, word baie mooi omskryf in
Spr.3:11-12 ~ My
seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy
teregwysing verset nie, 12want die Here straf die mens wat Hy
liefhet net soos ’n vader doen met sy seun. God se optrede teen die volk se sonde
en daarom sonde deur enige iemand anders (ons dus ook), spruit nié uit ’n wispelturige
geaardheid nie, maar uit liefde ~ Terwyl
Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en
genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde
aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar
Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die
sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag” (Eks.34:6-7).
’n Baie belangrike aspek van die Verbondsark, was die twee
groot afbeeldings van engele of gerubs wat bo-op die Verbondsark geplaas was (Eks.25:18-22;
37:7-9). Dit was
natuurlik gerubs wat na die sondeval, die toegang tot die Tuin van Eden, namens
God bewaak het (Gen.3:24). God het Homself dikwels in die teenwoordigheid van gerubs
aan verskeie mense geopenbaar, bv. Moses in Eks. 25:22; Num.7:89 en andere (1
Sam.4:4; Ps.80:1; 99:1; Jes.37:16; Eseg.10:1-5). Hierdie gerubs in die allerheiligste het dus God se
teenwoordigheid gesimboliseer.
Die woord "teenwoordigheid" in die Hebreeus, is veelseggend,
want die woord vir "teenwoordig", is "shekinah". Hierdie
woord kom van dieselfde stamwoord waaruit "Tabernakel" spruit, nl.
"mishkan", Die Tabernakel beeld dus die teenwoordigheid van God uit.
Hierdie selfde woord vir "God se teenwoordigheid", word dikwels
vertaal met "God se heerlikheid" – die gerubs was dus ook verder
simbool van God se heerlikheid. Hierdie gerubs was derhalwe, die simbool van
die plek waar God se genade ontvang kon word, want dit was hier in die
teenwoordigheid van die afbeeldings van die gerubs en in die Allerheiligste,
dat die hoëpriester in die "shekinah" teenwoordigheid van God verskyn
het en God Sy vergifnis oor die volk uitgespreek het (sien
Lev.16).
Hierdie praktyk van vergifnis wat een keer per jaar verkry is
deur die hoë priester namens die volk, is verplaas met Jesus Christus se offer
wat Hy eens en vir altyd vir ons gebring het ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié
wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat
Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe.
Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy
oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo (Rom.3:25).
In
vv.6-7 verwys die apostel na die verantwoordelikhede van die priesters en die
hoë priester en hy noem dit om daarop te wys dat die hele doel met die Tabernakel
juis was om die volk voor te berei vir die koms van Christus d.m.v. bepaalde
geestelike beginsels. Wanneer ons vandag terugkyk na die Tabernakel en die
verantwoordelikhede van die priesters, verstaan ons beter wat Christus reeds
vir ons gedoen het en wat Hy steeds besig is om vir ons te doen.
Die
feit bly egter staan – en dit is belangrik – dat die Tabernakel nooit regtig
volledige toegang tot God bewerkstellig het nie.
Die
skrywer draai ons aandag nou weg van die Tabernakel self en vestig ons aandag
vir ’n oomblik op die rituele in die Tabernakel en spesifiek op dít wat op die
Groot Versoendag gebeur het.
In
v.6 verwys hy na "dienste wat verrig is", nl. die alledaagse rituele
wat die priesters moes verrig in die Heilige en soos omskryf in veral Num.4. Hulle
moes o.a. die ark en ander toebehore vervoer het as daar getrek is.
Ons
sien dat v.7 met die woord "maar" begin. Dit beklemtoon vir ons die
groot verskil wat daar bestaan het tussen die funksies van die gewone priesters
en dié van die hoë priester en dan spesifiek Aäron (die
hoë priester) se
verantwoordelikheid ~ Elke
oggend wanneer Aäron die lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar
brand. 8Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook
brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here,
gebring word (Eks.30:7-8). In Lev.24:3-4 gee die Here ’n
verdere opdrag ~ Aäron
moet sorg dat daar dwarsdeur die nag ’n lig brand in die tent van ontmoeting,
voor die voorhangsel waaragter die ark met die getuienis is en waar die Here
teenwoordig is. Dit is ’n vaste voorskrif ook vir julle nageslag. 4Aäron
moet die lampe van die goue kandelaar gereeld versorg oor die Here [2]. T.o.v. die toonbrode, was daar ook ’n
spesifieke opdrag ~ Die brood moet
gereeld op elke sabbat daar voor die Here vervang word. Dit is ’n verpligting
wat vir altyd op die Israeliete rus. 9Die brood kom Aäron en sy
seuns toe. Hulle moet dit op ’n gewyde plek eet, want dit is ’n besondere
gewyde gawe. Dit is ’n deel wat hulle altyd moet kry uit die offers wat aan die
Here gebring word (Lev.24:8-9).
’n
Belangrike aspek t.o.v. die hoë priester wat ons nie uit gedagte moet verloor
nie, is dat hy elke keer wanneer hy een maal per jaar op die Groot Versoendag (Lev.16) in die Allerheiligste in gegaan het
om versoening te bewerkstellig tussen God en die volk, hy homself eers moes
reinig van sy eie geheime sonde (sien ook: Pred.23:2,
14). Hierdie was dus ’n
onvolmaakte man wat die volk se sonde kom bely het en daarom was hierdie
vergifnis ook nooit permanent van aard nie en moes dit jaarliks herhaal word.
Alles
in die Tabernakel het gewys op en almal herinner aan die noodsaak aan reiniging,
maar almal het geweet dat permanente reiniging, hulle nog nie beskore was nie,
omdat nie een van die talle rituele dit aan hulle kon verskaf nie. Ook was die Tabernakel
simbool van God se teenwoordigheid, maar niemand behalwe die hoë priester het
werklik toegang tot God gehad nie – die gordyn in die Tabernakel was dan ook
simbool van hierdie ontoereikendheid – twee belangrike feite wat ons nie moet
vergeet nie.
Dit
is egter so dat al hierdie simbole en rituele in die Tabernakel, nie heeltemal
tevergeefs en sinneloos was nie, want dit het die volk voortdurend daaraan
herinner dat iets beters en iets groters – ’n beter Verbond, aan die kom was.
Wat
die Hebreërskrywer o.a. ook deur sy verwysing na die Tabernakel vir ons (en
die Jode) wil sê, is dat
daar 6 heilige voorwerpe in die Tabernakel was, maar selfs dít kon nie toegang
tot God bewerkstellig nie. Daarom dat die skrywer in vv.8-10 sê ~ Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na
die Allerheiligste toe nie oop is solank as die voorste gedeelte van die
verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd
waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit
bring, ’n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net
betrekking op voedsel, drank en ’n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is
voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God
’n beter orde sou instel.
4. DIE
HEMELSE TABERNAKEL:
Tot
nou het ons kennis gemaak met heelwat eienskappe van die Nuwe Verbond. In die
laaste gedeelte van ons Skriflesing (vv.11-15), spreek die skrywer egter eienskappe aan
wat uiters belangrik is om van kennis te neem, ten einde die kontras tussen die
Oue en die Nuwe te beklemtoon en daarop te wys dat die Oue, slegs ’n afbeelding
is van die Nuwe wat gekom het. Hy beklemtoon hierdie feit in vv.13-14 deur te
sê (ek parafraseer),
As hierdie ou dinge, sulke goeie en
wonderlike simbole was, hoeveel beter is die werklike dinge wat dit simboliseer
dan nie? Indien die uiterlike en fisiese en tydelike Verbond, sy doel so
pragtig kon vervul het, hoeveel te meer nie die innerlike, geestelike en ewige
Verbond nie!
In
die laaste vier verse noem die skrywer dan net kortliks drie eienskappe van die
Nuwe Verbond ten einde die kontras tussen die Oue en die Nuwe te beklemtoon:
·
Die Nuwe Heiligdom (v.11): Die ou Tabernakel was deur God
ontwerp, maar deur mense gebou, met materiaal vanuit die aarde. Vir daardie tyd
en vir die doel waarvoor dit opgerig moes word, was dit indrukwekkend, maar dit
was net ’n tent, gebou deur mense en uit aardse materiaal wat onderworpe was
aan verval en uiteindelike verdwyning en/of vernietiging van die Tabernakel, asook
die latere Tempels in Jerusalem [3].
Die nuwe Tempel is egter nie deur mensehande van aardse
materiaal gebou nie. Dit is deur God self in Sy woonplek, nl. die hemel
voortgebring en ons het nou al herhaalde kere gesien dat die Hebreërskrywer vir
ons daarop wys, dat Jesus Christus volgens die orde van Melgisedek aangestel is
as Hoë Priester en Hy regeer en bedien vanuit dieselfde plek as waar God is,
nl. die hoogste hemele – die ou plek van aanbidding en simbool van God se
teenwoordigheid, is nou vervang met die hemel – die Koninkryk van God; die
Troonkamer van die Drie-Enige God.
Ons Hoë Priester, Jesus Christus verrig derhalwe Sy
onophoudelike en volmaakte diens in ’n nuwe, maar ook perfekte en volmaakte
Tabernakel, waar Hy aan die regterhand van God sit.
Die aardse priesters moes elke keer in de Allerheiligste
ingaan – ons Hoë Priester is vir ewig daar. Die aardse priesters het alleen en
namens die volk ingegaan – ons Hoë Priester neem Sy kinders saam met Hom na die
hemel, waar ons in die teenwoordigheid van God self sal wees – nie na ’n
simboliese teenwoordigheid van God nie, maar die werklike teenwoordigheid van
God Almagtig! Christus het ons nie alleen vooruitgegaan nie, maar Hy neem ons
ook uiteindelik saam met Hom ~ Maar
God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot
liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus
lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus
het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die
hemel gegee... (Ef.2:4-6).
·
Die Nuwe Offerdiens (v.12): Die tweede eienskap wat die
Hebreërskrywer vir ons uitlig ten einde die kontras tussen die Ou- en die Nuwe
Verbond te illustreer, is die nuwe offerdiens. Christus verrig Sy diens as
ewige en volmaakte Hoë Priester op drie maniere:
-
Eerstens
gebruik Hy nie die bloed van offerdiere nie, maar Hy het Sy eie bloed gestort
vir Sy eenmalige en volmaakte offer aan die kruis – die Offer, was die "Offeraar" (Christus)
self.
-
Tweedens
was Christus se offer ’n eenmalige offer vir almal wat in die verlede in Hom
geglo het; almal wat tans in Hom glo en vir almal wat nog in die toekoms in Hom
sal glo.
-
Laastens
het Christus ’n ewige verlossing verkry vir almal wat in Hom glo, want Sy offer
was ’n volmaakte offer, wat God die Vader volkome tevrede gestel het.
·
Die Nuwe Betekenis (vv.13-14): Die laaste eienskap wat die
Hebreërskrywer vir ons uitlig ten einde die kontras tussen die Ou- en die Nuwe
Verbond te illustreer, is die nuwe betekenis wat die Nuwe Verbond vir ons
inhou. Die Ou Verbond met al sy gebreke het sy doel gedien, maar hoeveel te
meer sal die Nuwe Verbond met Christus as Hoë Priester nie sy doel dien nie,
trouens dit is ’n volmaakte Verbond – niks kan weggeneem word en niks hoef en
kan bygevoeg word nie. Die doel met die Ou Verbond was om die afwassing van uiterlike sonde te
simboliseer, maar die doel met die Nuwe Offer is om die reiniging van ons
innerlike sonde (hartsonde) te bewerkstellig.
Isaac
Watts het die volgende hieroor gesê:
Not all the
blood of beasts on Jewish altars slain,
Could give
the guilty conscience peace or wash away the stain.
Christ the
heavenly Lamb takes all our sins away,
A sacrifice
of nobler name and richer blood than they.
5. AFLSUITING:
Die somtotaal van die Nuwe Verbond in teenstelling met die Ou
Verbond, lê vir ons opgesluit in die woorde van v.15 ~ Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy
dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste
verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan
ontvang. Dit is wat
Christus vir ons gedoen het, sal ons nie daarom.....
·
Elke
dag ’n ernstige poging aanwend om tot hierdie wonderlike en volmaakte Hoë
Priester te nader in ons gebede, wat soos wierook voor Hom opstyg nie?
·
Sal
ons dan nie ons lewe op die altaar offer in Sy diens nie? Laat ons dit dan doen
soos in Rom.12:1-2 in "tabernakel-terme" beskryf word ~ ...Gee julleself aan God as lewende en heilige offers
wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle
moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word
nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle
ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en
volmaak is.
·
Sal
ons nie altyd op Sy nabyheid staatmaak nie?
·
Sal
ons, ons nie voortdurend verbly in die Here nie (Fil.4:4).
·
Sal
ons nie ons vertroue volkome op Hom vestig nie ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur
gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Fil.4:6).
Met
Christus by Sy kinders, en met Sy wederkoms naby, kan ons volhard op die pad
van geloof; die pad van hierdie tydelike "woestynlewe", totdat
hierdie tentwoning vervang word met die permanente – die hemelse stad van God,
waarvan Hy, die groot Argitek, die plan ontwerp het!
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt – Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 24 Februarie 2013.
[2] Die indruk
word dikwels geskep dat die hoë priester net een keer per jaar in die
Allerheiligste ingegaan het, maar dit is nie korrek nie – wanneer daar van
"een maal..." gepraat word, dui dit op die een keer per jaar wat die
hoë priester gegaan het om versoening te gaan doen op die Groot Versoendag (Lev.16)
– hy het egter ook ander kere in gegaan – drie keer word algemeen aanvaar, maar
Joodse tradisie wil dit hê dat dit selfs dalk vier keer per jaar was (Lev.16:12,14,
15).
[3] Die eerste Tempel is in 587 v.C. deur Nebukadneser vernietig en in 70
n.C. is die herboude Tempel deur die Romeine vernietig.