Sunday, February 17, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 04 ("Jona word weer Geroep")


 

1.    INLEIDING:
       Aan die einde van Jona 2 het ons gelees dat die Here die vis opdrag gegee het om Jona op die vasteland uit te spoeg. Jona kry inderdaad ’n tweede kans en hy kan ’n nuwe begin maak en ’n mens kan maar net wonder wat hy van hierdie geleentheid gaan maak en wat op daardie oomblik deur sy gemoed gemaal het, toe hy uiteindelik weer op die strand gestaan het.

        Ons het gesien dat hy weggehardloop het van God se aangesig en dat God nie Jona se ongehoorsaamheid en naïwiteit om te dink dat hy van ’n alomteenwoordige God kan weghardloop, geduld het nie en daarom keer God hom voor deur ’n storm oor die boot te laat losbreek waarop hy was. Jona kon dalk gedink het dat hy so misluk het dat God hom nie eers waardig genoeg ag om hom Sy kind te noem nie en daarom dat hy eintlik maar weer moet wegkruip en net boedel oorgee, of hy kon dalk gedink het, dat God hom ’n tweede kans gegee het en dat Hy steeds ’n doel met hom het – dat daar steeds ’n toekoms en hoop is vir hom wat Jona is? Wat ons wel sal sien, is dat Jona steeds in die nabye toekoms, nood gaan hê aan die Evangelie.
     
       Net om onsself weer te oriënteer t.o.v. waar Jona vandaan gekom het en waarheen hy moes gaan, kan ons net vlugtig weer na die kaart kyk:

2.    SKRIFLESING:
Jona 3:1-10 ~ Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” 3Toe maak  Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” 5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. 6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.” 10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

3.    GOD SE OPDRAG (3:1-2):
       Jona het skaars grond gevat (letterlik en figuurlik), of God herbevestig sy roeping wat Hy oorspronklik aan Jona gegee het ~ Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee” (vv.1-2). Enersyds moes hierdie herbevestiging van Jona se roeping, vir hom ’n geweldige verleentheid voor sy Skepper gewees het, maar andersyds sien ons God se geweldige en grootse genade op wonderlike wyse hier in aksie – Hy gee aan Jona ’n tweede kans ........... en steeds bely Jona geen sonde nie!

       Net ’n terloopse opmerking hier: Ons moet nie aanvaar dat ons, soos met Jona, altyd en in alle omstandighede, noodwendig ’n tweede kans sal kry indien ons gefaal of verbrou het nie, want is dit nie wat ons maar al te dikwels aanvaar nie – God sal ons ’n tweede kans gee? Dink maar net aan Ananias en Saffira (Hand.5), of Lot se vrou (Gen.19) wat nie tweede kanse gekry het nie.

       Jona kry egter ’n tweede kans – niks het aan God se kant verander sedert Hy Jona die
eerste keer geroep het nie. Dit is asof Hy kies om bloot net te vergeet van Jona se aanvanklike ongehoorsame en dwase optrede – dit is asof Hy Jona se sonde so ver verwyder soos wat die ooste van die weste af is! Een ding wat egter soos ’n paal bo die water staan, is dat God se reaksie op Jona se sonde net genade op genade is en dat enige een wat van God af weghardloop en uiteindelik terug keer na Hom, altyd deur Hom terug verwelkom word!

       Toe God sy opdrag ’n tweede keer aan Jona herhaal, moes Jona dalk Josef se woorde in Gen.41:32 aan die Farao, in gedagte gehad het ~ Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer. Wanneer God 'n tweede keer gepraat het, staan dit vas – baie vas!

       Jona moes so opgewonde gewees het, dat God weer met hom praat en hom belowe dat hy die boodskap wat Jona vir Nineve moet bring, vir hom sal gee, dat Jona sonder huiwering reageer en soos ons in v.2 sien ~ Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Met die eerste opdrag het Jona gevlug – nou met die tweede opdrag, gehoorsaam hy God se bevel. Al is uitgestelde gehoorsaamheid steeds ongehoorsaamheid, kan dit en word dit in Jona se geval, verplaas met ware gehoorsaamheid, bewerk deur God se oneindige genade.

       Niks is belangriker as gehoorsaamheid aan God nie, dit blyk ook duidelik uit 1 Sam.15:22-23 ~ Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. 23Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp”.

       God se tweede opdrag aan Jona vestig ons aandag op drie aspekte van Sy genade:
·           God dra geen wrokke nie. Jona ontvang weer die aanvanklike opdrag van God, sonder dat enige verwyte teen Jona se kop geslinger word – Jona word nie herinner aan sy misstap nie – God se woorde dra geen wrok nie.

       Dit is presies wat die Evangelie van Jesus Christus impliseer. God sal nooit ’n sondaar wat hom bekeer en vergifnis ontvang het vir sy sonde, deur God herinner word aan sy sonde nie en dit is die wonderlike van die voortgaande Evangelie vir alle gelowiges (daarom ook vir ons) – God sal ons nooit herinner aan ons misstappe en sonde nie – Hy sal ons nooit verwyt nie; Hy sal nooit weer daaraan dink nie – trouens, getrou aan Sy karakter, kan Hy nie weer aan ons sonde dink nie, omdat Hy ons reeds vergewe en vrygespreek het. Paulus bevestig hierdie feit en waarheid van die Evangelie in 2 Kor.5:21 wanneer hy sê ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. Ons sonde word dus teen Christus en Sy geregtigheid en volmaaktheid gereken en nooit teen ons swakheid en sonde nie – Hy aanvaar ons dus, nie op grond van wat ons doen nie, maar op grond van wat Sy Seun, Jesus Christus gedoen het. Dit is waarskynlik die beste verduideliking van wat genade is en dit is die enigste godsdiens in die ganse wêreld wat dit vir die mensdom aanbied.

·           God "gee nie kop nie". Toe Hy die tweede keer met Jona praat en Sy opdrag aan Jona herhaal, het God nie Sy opdrag ligter of makliker gemaak nie – Hy was nie bang dat Jona die eerste keer nie kans gesien het vir die opdrag en daarom, net om "veilig te speel", gee Hy aan hom ’n ligter opdrag nie. Nee God "gee nie kop nie". Hy onderhandel nie met ons wanner Hy Sy genade op ons uitstort nie. Hy sê bv. nie vir ons: Ek weet dat jy ’n swakheid het vir dit of dat en daarom sal ek jou oorsien as jy dit weer en weer doen nie. O nee, te midde van Sy groot genade, sal Hy nie kompromie maak ten einde ons te akkommodeer nie – Hy gee aan ons ’n kans – dalk ’n tweede, of derde, of vierde kans, maar die kans wat Hy gee geskied binne Sý voorwaardes. Jona kry nie ’n makliker opdrag nie – hy ontvang presies dieselfde opdrag ~ Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan (v.2a).

       Voor jy dalk sê, maar dan is daar geen kans dat ek God se voorwaardes sal kan nakom nie, moet ons onthou dat Jesus reeds elkeen van hierdie vereistes wat God aan ons mag stel, reeds namens ons nagekom het.

       Soos wat God die onmoontlike vir ons moontlik gemaak het toe Hy Sý Seun tot verantwoording geroep het vir óns sonde – Hy stel die vereistes, maar Hy maak dit ook vir ons moontlik om daardie vereistes na te kom. Ons sien hierdie feit ook baie duidelik in die opdrag wat Jona ontvang het ~ Maak klaar, gaan na die groot stad (v.2a) ... en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee (v.2b).

·           God stel meer belang in die werker as wat Hy belangstel in die werker se werk. Jy moet altyd onthou, dat God meer belangstel in jou as persoon, eerder as wat Hy belangstel in wat jy kan doen of nie kan doen nie. Vanuit Jona se perspektief, moet ons verstaan dat indien God meer belang gestel het in Sy opdrag om na Nineve te gaan, as in Jona self, sou Hy eenvoudig ’n ander profeet na Nineve gestuur het. Nadat Jona weggehardloop het, hou God Sy hand nog steeds oor Jona en herhaal Hy Sy opdrag aan Jona – God stel belang in Jona se persoon – Hy het ’n doel met Jona, want Hy weet dat Jona nood het aan die Evangelie en Hy gaan Jona nie uitlos voor Hy nie Sy doel met Jona bereik het nie.

       Waarom stel God meer belang in die werker as die werk self? Dit is omdat werkers, almal sondaars is en God sondaars lief het en om geen ander rede nie! 

       Kom ons keer egter terug na Jona se tweede roeping en opdrag. God sê nie alleen aan Jona dat hy na Nineve moet gaan nie; Hy sê ook aan Jona, dat hy wat Jona is, die boodskap wat gebring moet word, van God self sal ontvang. Jona hoef dus nie in vertwyfeling te wees oor wat hy vir die Nineviete moet sê nie en ook nie hoe hy dit moet sê nie, want God self sál aan hom die boodskap gee en God sál met hom wees.

       Ons moet ook net weer vir ’n oomblik dink aan die situasie waaruit Jona so pas gekom het, of anders gestel, waardeur hy is sedert sy eerste roeping. Jona was hel toe en terug; hy het uitgeroep na God, soos wat die matrose gedoen het; hy is eers gered deurdat ’n vis hom ingesluk het en daar binne-in die vis het hy die haglikste omstandighede denkbaar beleef, maar dan ervaar hy ook hoe dat God hom ’n tweede keer red. Ek sou derhalwe reken, dat hy nie graag weer dieselfde paadjie sou wou volg nie! Ook dink ek dat ons almal sal reken dat Jona na dít wat hy alles beleef het, nie weer dieselfde mens sou wees nie. Hy is ’n nuwe mens, met splinternuwe en intense lewenservaring agter die rug, wat hy op wonderlike wyse in sy nuwe situasie, of tydens sy tweede roeping kan toepas. Hy behoort ook met nuwe ywer sy "tweede roeping" aan te pak en hy moet verseker ’n nuwe oortuiging hê dat God hom nie in die steek sal laat nie, want God het dit nie op die boot en in die see gedoen nie, waarom sal hy dit op pad na en in Nineve doen?

4.    TOEPASSING:
       Jona is ’n nuwe mens, met ’n nuwe visie en nuwe durf en nuwe hoop en sal hy en behoort hy ’n nuwe impak op die Nineviete te hê, net soos wat elke gelowige ’n besondere impak op die wêreld rondom hom behoort te hê en daarom behoort ons ook uit hierdie verhaal te leer dat ons redding nie ’n privaatsaak mag wees nie, maar ’n saak wat die wêreld om ons moet raak.

       Elkeen van ons het ’n roeping om te vervul in hierdie wêreld en die vraag is of ons gaan maak soos die "vóór-die-storm-Jona", of soos die "ná-die-storm-Jona"? Daar mag verskeie redes wees waarom ons nie ons roeping na behore vervul nie – een van die redes kan wees omdat ons bloot net ongehoorsaam is en daarom in sonde is; ons kan allerlei verskonings aanvoer, soos ek weet nie hoe om bv. te getuig nie, of ek sien nie kans nie, ens., maar dit is ook niks anders as ongehoorsaamheid nie. Ons kan ook voel dat die opdrag té groot vir ons is, of soos in Jona se gevoel, dat dit nie ’n regverdige, of billike opdrag is nie.

       Wanneer ons na die dissipels kyk, is dit verstommend om hul onmiddellike gehoorsaamheid en positiewe reaksie op Jesus se roeping te sien ~ En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg (Matt.4:19-20 – O.A.V.). Die dissipels het hul werk, hul besittings (bote en nette) en familie net daar gelos en Jesus – die "totaal onbekende Jesus", gehoorsaam en gevolg (lw. hulle het nie vrouens en kinders gehad nie – hulle het dus nie hul huweliks- en ouerlike pligte net opgesê nie – Jesus sou dit in Sy roeping in ag geneem het).

       Nie een van die dissipels het Jesus probeer systap, of gerasionaliseer oor waarom hulle Hom nie moet volg nie. Jy mag dalk sê dat hulle persoonlik deur Jesus geroep was en dat dit anders was. Nee, dit was nie anders nie – Jesus roep ons ook persoonlik, bv. ~ Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matt.28:19). Dalk sê jy dat die dissipels meer "heilig" was as jy. Nee, hulle het verlossing en vergifnis net so nodig gehad soos jy en ek – hulle was sondaars nes ons – dink aan Petrus, die Rots waarop Jesus Sy Kerk sou bou in Joh.13:38 ~ Jesus antwoord hom: Sal jy jou lewe vir My gee? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.

       Ons moet ook nie dink dat dit heel dag en al dag, maanskyn en rose vir die dissipels en apostels was nie. Ons lees bv. in 2 Kor.11:25-28, waar Paulus in detail beskryf wat hy alles t.w.v. sy roeping moes deurstaan ~ Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring — dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Dan praat ons nie eens van die feit dat al die dissipels (met die uitsondering van Johannes), ’n martelaarsdood gesterf het nie.

       Ons het ook uit die roeping van Jona gesien, dat die Here nie met Jona onderhandel nie – Hy gee net opdrag aan Jona om te gaan, met die bemoedigende woorde ~ ...gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee (v.2). God sal Jona die boodskap gee om te preek. Ons het dieselfde bemoedigende belofte van Jesus ontvang ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand.1:8). Wat is hierdie krag wat Jesus hier belowe het? Die Griekse woord wat hier gebruik word, is δύναμις (dynamis) en beteken letterlik om die vermoë te ontvang om ’n bepaalde optrede te kan uitvoer. Ons kan dus die versekering hê dat die Heilige Gees ons al die toerusting sal gee wat ons nodig het om ons roeping uit te leef. Geen verskonings dus nie!

       Dié Een wat roep, is ook dié Een wat bevry en toerus – of dit altyd ’n "Sondagskool piekniek" gaan wees, is beslis nie gewaarborg nie, daarom dat Jesus Sy dissipels (en vir ons) in Luk.14:27 gewaarsku het ~ Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie. Hierdie waarskuwing van Jesus mag ons egter nie afskrik, of ontmoedig nie.

       Abraham is nog ’n goeie voorbeeld van iemand wat deur God geroep was en wat dit nie maklik gehad het nie – hy moes in ’n vreemde land tussen heidene gaan bly; hy was geroep om sy seun te offer – sy seun in wie se nageslag die belofte van die verbond gesetel was. God het egter deurgaans voorsien en verlossing en uitkoms gegee.

       Dawid, toe hy van Absalom gevlug het, het troos gevind by God asook sy bemoediging en beskerming ~ Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien (N.A.V.) en die O.A.V. sê ~ Maar U, Here, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef (Ps.3:4). Die Here sal ook ons skild wees in die uitvoering van ons roeping, of dit nou is om ons roeping as evangelis uit te leef; of as huweliksmaat; of ouer onder moeilike omstandighede; of as werknemer in ’n vyandiggesinde werksmilieu.

       Jona het aanvanklik sy roeping geminag; die objekte van sy roeping gehaat (die Nineviete); hy het vyandskap en vernedering verwag, maar hy het hom bekeer en homself opnuut weer toegewy aan Sy "Opdraggewer" en met nuwe moed en nuwe ywer sy roeping hervat. Wil jy nie ook maar weer daardie roeping waartoe jy geroep is, met nuwe moed en ywer hervat nie – ter wille van God se eer en hulle wie God deur jou wil seën? Dalk sal jy hierdie vrug op jou lewe nooit in jou lewe beleef nie, of dalk eers in jou oudag die uitkoms daarvan beleef. Punt is, ons moet maar net gehoorsaam wees aan ons roeping en/of roepinge en die Here sál ons gebruik en Hy sál ons toerus om ons roepingspad, enduit te volvoer!

       Mag ons saam met Miga sê ~ So seker as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek sê! (1 Kon.22:14).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 Februarie 2013.