Sunday, January 27, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 02 ("Jona word verlos van Jona")


 

1.    INLEIDING:
       In vv. 1-3 van Jona, het ons gesien dat God die profeet geroep het om na ’n heidense volk te gaan, maar dat Jona glad nie daarvoor kans gesien het nie en dat hy sy eie planne gemaak het ten einde God te ontduik – hy is ongehoorsaam aan sy roeping waartoe God hom geroep het en in die volgende verse van hoofstuk 1, sal ons sien wat die nadraai van Jona se ongehoorsaamheid en sonde was en ons kan hierdie nadraai in die volgende vier bedrywe uitgebeeld sien:
·           God se reaksie;
·           Die heidene se reaksie;
·           Jona se reaksie;
·           Ons reaksie.


2.    SKRIFLESING:
       Jona 1:1-16 ~ Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: 2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” 3Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ’n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af. 4Maar die Here het ’n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was ’n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek. 5Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap 6en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.” 7Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.” Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys. 8Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?” 9Jona het hulle geantwoord: “Ek is ’n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” 10Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?” Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel. 11Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?” Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword. 12Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.” 13Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle. 14Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.” 15Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar. 16Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom ’n offer gebring en geloftes afgelê.

3.    GOD SE REAKSIE:
       Jona se sondige en naïewe ontduiking van die opdrag om na Nineve te gaan, het nie ongesiens by God verby gegaan nie, inteendeel! God reageer deur ’n geweldige storm op see te laat losbars.

       Dit is so ironies dat dit juis ’n storm op see is wat ons aandag vestig op God se reaksie op Jona se "slim plannetjies", want storms en die see is gereelde beelde wat in die Ou Testament gebruik word te midde van ’n persoon se eie innerlike "storms". As voorbeeld kan ons bv. na Job kyk, waar God vanuit ’n stormwind met Job gepraat het, terwyl Job blootgestel was aan onuitspreeklike beproewing (Job38:1). Daar was Elia in 1 Kon.19:11 wat in vrees gelewe het, want die Israeliete het die verbond met God verbreek en al die profete dood gemaak – net Elia kon ontvlug en nou is die Israeliete op soek na hom en in ’n stormwind praat die Here met Elia ~ Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. In Jer.23:19 verwys Jeremia na God se gramskap (God se woede) as ’n stormwind.

       En die see? Die see weer, was tiperend van alles wat donker en ongenaakbaar was – simbool van die dood self.

       Hier in Jona sien ons ’n man wat vlug vir God; iemand wat ongehoorsaam is aan God; iemand wat weet dat God se gramskap op hom gaan losbars en tipies soos baie mense, gaan slaap Jona, waarskynlik om te ontvlug van sy gewete en die diepliggende vrees wat hy beleef vir wat God aan hom gaan doen.

       Nog voor hy wakker word, gebeur dit! In v.4 sien ons dat God wat Skepper van die heelal is; Hy wat in beheer staan van wind en reën – Hy laat ’n storm losbars rondom die bootjie waarop Jona wegvlug van God se aangesig en ons sien God se gramskap wat losbars op Jona se duistere optrede en die tafereel word pragtig uitgebeeld in die natuur – onstuimige verwoestende see wat wil verswelg en ’n stormwind wat wil vernietig! En om te dink, dit is een mens se verkeerde optrede wat hierdie reaksie tot gevolg gehad het, maar God is deurgaans daar en ook dít, soos ons weldra sal sien, vind plaas om God uiteindelik te verheerlik.

       Jona en Sy Skepper is egter nie die enigste "karakters" in die eerste bedryf van hierdie drama wat homself ter see afspeel nie – daar is ook heidense matrose en hulle gaan nie onaangeraak deur hierdie gebeure kom nie, trouens dit is alreeds in Ps.107 dat ons sien dat God ook bemoeienis maak met heidene ~ “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” 2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide. En dan gaan die Psalmis voort in vv.23-30 en sê ~  Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. 24Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. 25Op sy bevel het ’n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. 26Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs 27en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie. 28Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. 29Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. 30Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte. God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom. Ook hierdie heidense matrose op Jona se skip gaan die God van hemel en aarde weldra ontmoet!

       Die verhaal tot nou, laat geen twyfel oor Wie werklik in beheer is nie en vorentoe sal dit soveel te meer bevestig word – God die Skepper van hemel en aarde is in beheer en Hy alleen!

4.    DIE HEIDENE SE REAKSIE:
       Wanneer ons van God af wegvlug is Sy reaksie gewoonlik meer "stormagtig" en ontstellend as wat dit stil en rustig is. Hy weet presies hoe om ons ellendig te laat voel – en wat meer is, gewoonlik voel diegene rondom ons, op die ou einde net so ellendig.

       Dit is presies dan ook wat met die matrose op die skip gebeur – v.5 ~ Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Die heidense matrose is vreesbevange en uit desperaatheid roep hulle, hul gode aan. Hulle begin om die skip se vrag oorboord te gooi en in ’n poging om die vrag in die ruim van die skip ook na die dek te bring ten einde dít ook in die see te gooi, ontdek die kaptein ’n slapende Jona en hy vra Jona om ook tot sý God te bid (v.6).

       Die matrose se poging om die skip ligter te maak en hulle sodoende te spaar van ondergang, blyk ook futiel te wees en daarom begin hulle glo dat die storm oor hulle gekom het, a.g.v. iemand wat die gode kwaad gemaak het en daarom vertrou hulle die gode om vir hulle met behulp van die werp van die lot, te wys wie die oorsaak van hulle
ellende is (v.7).

       Ons sien in vv.13-14 dat hierdie geharde matrose in ’n worsteling verkeer, want hulle het besef dat hulle te doen het met die ware en lewende God en hulle het net nie kans gesien om ’n mens se lewe te neem nie, want wat sal God aan hulle doen as hulle Jona oorboord sou gooi? Daarom, eerder as om Jona oorboord te gooi, roei hulle nog harder, maar einde ten laaste gooi hulle Jona oorboord en "speel hulle baie mooi in God se hand", deur Sy wil (onwetend) uit te voer – Jona moet nog dieper in die duisternis in daal voor God hom gaan red.

       Wat doen hierdie spul heidense matrose nog? In v.14 sien ons dat hulle, hul uiteindelik wend tot die God van die heelal – Jona se God en hulle bring offers aan Hom!   

5.    JONA SE REAKSIE:
       Waar was Jona al die tyd terwyl die storm buite gewoed het en die matrose besig was om die vrag in die see te gooi? Jona sak al dieper weg in sonde en hy probeer om nog verder weg te hardloop van God af. Die Engelse teks stel dit baie mooi ~ Jonah had gone "down" to Joppa to find the ship, he went "down" into the ship's hold, and he lay "down" and now sleeps. Om van God te vlug is altyd ’n "afwaartse beweging" en het altyd ’n duur prys tot gevolg en dit ontneem ons van ’n lewe wat God wil hê ons moet leef en dit beroof ons van die grootste seën denkbaar ~ Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige (Ps.91:1).

       Jona kruip nog verder weg en gaan slaap in die ruim van die skip en hy is totaal onbewus van wat aan die gang was rondom hom – of was hy? Was hierdie nie maar net ontvlugting of ontkenning van sy benarde omstandighede nie – "ek slaap eerder voor ek 'opgevreet' word deur die angs en spanning en skuldgevoelens oor dít wat ek oor myself gebring het"? Slaap, die misbruik van dwelms, drank, ens. is baie dikwels die wyse waarop mense hul omstandighede wil vermy, of onderdruk.
       Jona het verklaar dat hy in God glo; dat hy God gehoorsaam, maar in werklikheid – daar waar niemand hom kan sien nie, daar lê hy laag, maar weereens vergeet Jona die woorde van sy "voorgangers", wat hy as goeie Israeliet en boonop nog ’n profeet ook, baie goed behoort te ken ~ Ek is nie ’n God wat net naby is nie, sê die Here. Ek is ’n God wat ook ver weg is. 24Niemand kan in ’n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here (Jer.23:23-24).
                                                                                          
       Jona word egter uit sy skuilplek geruk en gekonfronteer met die werklikheid, asook die erns van die situasie – die kaptein konfronteer hom met sy ongeërgdheid en die kaptein sê vir hom dat hy tot sy God moet bid ten einde hul lewens te spaar. Ons lees nie in die teks of Jona wel tot God gebid het nie, trouens ek dink dat hy dit waarskynlik nie gedoen het nie, want ten diepste moes hy geweet het wat aan die gang was en wie die oorsaak van hul ellende was en omdat hy te skaam was om tot dié Een te bid van wie hy weghardloop, bly hy liewer stil. Is dit nie dikwels ook maar so met ons nie? Wanneer ons volhard in sonde, is biddeloosheid dikwels – miskien moet ek sê, altyd die gevolg van ons sonde en dit is waar Jona homself ook bevind – in sonde en sonder vrymoedigheid om te bid.

       In vv.7-11 sien ons dat die matrose die lot gewerp het en God gebruik hierdie optrede om Sy wil te laat geskied. Jona word aangewys as dié een wie verantwoordelik is vir die storm en hulle konfronteer hom en vra hom waarom hierdie ramp hulle getref het (v.8). Jona antwoord hulle in v.9 ~ Ek is ’n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het. Die matrose moes geskok gewees het toe hulle hoor dat Jona erken dat hý die een was wat God, die Skepper van die see, wat dreig om hulle te verswelg, "kwaad" gemaak het. Hulle besef dat hulle gode nie kan doen wat Jona se God kan doen nie en daarom begin dit ook tot hulle deurdring dat God Almagtig, dié enigste God is wat in beheer is van hulle chaos. Hierdie besef by die matrose dat God in beheer is, moet saamgelees word met v.10b, waarin dit blyk dat Jona al vroeër vir hulle vertel het dat hy gevlug het van sý God af.
      
       Dit is dus duidelik dat Jona nie sy aandeel in die probleem probeer verbloem nie, maar dat hy dit juis bevestig – hy steek nou niks meer weg nie, want sy posisie is nou benard – nog meer benard as die matrose s’n, want behalwe dat hulle kan sterf, is hy nog "in die moeilikheid" by God ook. God se vangnet word al nouer en nouer om Jona gespan en uitkomkans is daar nie meer nie – Jona erken en bely !

       In vv.12-14 vind ons ’n groot stuk ironie, want Jona, die man wat sy Evangelistiese roeping na die heidene probeer ontduik het, bevind hom nou midde in ’n Evangelistiese situasie met heidene! Hy gee nou raad aan die matrose, want op hulle vraag wat hulle moet doen om gered te word, sê Jona openlik en nié die laaste keer in hierdie verhaal nie, dat sý lewe geneem moet word ~ Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed (v.12). Hierdie opmerking van Jona laat ons dadelik dink aan Iemand anders, nie waar nie? Jesus Christus wat in ons plek gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom.5:8) – op hierdie wyse word Jona dan ’n tipe van Christus, wat vooruit wys na Jesus wat sou kom as Verlosser vir alle mense – ook vir die heidene!

       In v.14 sien ons dat die matrose hulle rug draai op hul afgode en wend hulle hulself in gebed na die ware God. Wat hier opmerklik is, is dat hierdie afgodsaanbidders, God drie keer aanspreek as Here – dít natuurlik is God se verbondsnaam, Jahweh. Wat is so besonders hieromtrent? Hulle gee daardeur erkenning aan Hom as die soewereine God wat in beheer is van die ganse skepping en daarom ook van die see met sy storms. Die matrose weet nou Wie in beheer is en wat hulle te doen staan, maar steeds volg hulle, hul eie koppe en gooi aanvanklik nie vir Jona oorboord nie omdat hulle God nou vrees. Jona weet egter beter – hy weet dat dit wat hy aan die hand gedoen het, gedoen móét word, want hy verdien God se toorn op sy ongehoorsaamheid en sonde.

       Uiteindelik in vv.15-16 besef die matrose dat hulle geen ander keuse het as om Jona in die see te gooi nie. Hulle voeg onmiddellik die daad by die woord en hulle gooi Jona oorboord en ons sien in v.15 b ~ ... Die storm op die see het toe bedaar – God se toorn op Jona se ongehoorsaamheid is bevredig en die matrose ervaar terselfdertyd, beantwoording op hul gebed. Dit kan derhalwe nie anders as om die matrose in ontsag voor die Lewende God te laat staan nie, daarom dat ons in v.16a lees ~ ...Die manne het toe baie bang geword vir die Here.... Hul reaksie laat ’n mens dink aan die reaksie van die dissipels in Mark.4:41 toe Jesus die storm stil gemaak het en hulle uitgeroep het ~ Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!  (O.A.V.).

       Die matrose volg hul vrees op met offers wat hulle aan God bring (v.16). Hierdie bring van offers was nie net ’n tipiese reaksie van die destydse Israeliete, wanneer God hulle gered het van gevaar en nood nie, maar dit dui ook op ’n permanente verhouding wat deur die matrose aangegaan is met God ~ Ek sal U ’n offer van danksegging bring en die Naam van die Here aanroep. Ek sal my geloftes aan die Here betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk (Ps.116:17-18). Wat egter hier belangrik is om op te let, is die feit dat die tipiese Sionistiese elemente van aanbidding soos o.a. in Ps.107 beskryf, hier ontbreek – bv. v.32 waar opdrag gegee word dat God se grootheid in die volksvergadering en in die byeenkoms van die leiers moet geskied. Die implikasie hiervan is uiters betekenisvol, want hierdeur kan ons sien dat die Evangelie nie net vir Israel (of net die Afrikanervolk) bedoel is nie, maar vir alle nasies, volke en tale.

       Ten spyte van Jona se ongehoorsaamheid en onwilligheid om die Evangelie aan ’n heidense volk (die Assiriërs) in Nineve te bring, laat God nie toe dat enige iets of iemand, Sy wil dwarsboom nie. Wat meer is, as gevolg van Jona se ongehoorsaamheid kom ’n klomp heidense matrose tot bekering en God is lank nog nie klaar met Jona self nie.

6.    ONS REAKSIE:
       God laat nie toe dat Sy wil onderdruk of gedwarsboom word deur ons ongehoorsaamheid, of onwilligheid nie – dit impliseer egter nié dat ons nou maar agteroor kan sit nie, want as ons ’n opdrag van God ontvang om uit te voer, en ons doen dit nie, omdat ons die gesindheid het dat Hy tog Sy wil sal laat geskied, is en bly ons steeds ongehoorsaam en in sonde.

       Ons kan God nie ontvlug nie – ja, ons kan dalk weghardloop, maar ons kan nie wegkruip nie.

       Wat egter hiermee saam gesê moet word, is dat God se genade oneindig groot is. Hierdie storm wat Jona en die matrose beleef het, toon ondubbelsinnig aan ons dat God alles sal doen om diegene wie van Hom weghardloop te gaan haal – dít is genade! God is altyd in ’n gesagsposisie en altyd in beheer, of ons dit besef of nie! Die vleeswording-, kruisiging- en opstanding van God se Seun, Jesus Christus wys vir ons ondubbelsinnig op die feit dat God absoluut niks in Sy pad sal laat staan om diegene wie weghardloop, voor te keer nie! Wat so wonderlik is t.o.v. hierdie feit, is dat die Christelike geloof, die enigste geloof is waar God die mens gaan haal en nie die mens wat moet "opklim" na God nie!

       Uit hierdie eerste hoofstuk van Jona, moet ons ook leer dat storms in ons lewe, nié straf is nie, maar God se liefdevolle ingrepe in die lewe van Sy kinders wie Hy waarlik lief het, omdat hulle in gevaar verkeer en dit nie altyd besef nie – Sy ingrepe is baie dikwels optrede om ons wakker te skud en ons oë oop te maak vir die selfvernietigende pad waarop ons onsself dikwels bevind – ’n pad wat dikwels in ontkenning gestap word. Sy ingrepe is ’n liefdevolle aksie om ons verhouding met Hom te verinnig.

       Solank ons die storms wat God oor ons pad laat kom, sien as straf, sal ons nie lig sien nie, trouens ons sal net meer en meer verval in bitterheid en negativisme.

       Die vraag is nie of jy andere of jouself moet blameer vir jou omstandighede nie. Die regte vraag is: Hoe reageer jy op jou situasie? Roep jy uit tot God en onderwerp jy jou aan Sy wil vir jou lewe?

       Sou dit beter vir Jona gewees het, as God hom maar net aan sy eie lot oorgelaat het? Natuurlik nie, dit sou veel erger vir Jona gewees het, as dit die geval was en God nie die storm gestuur het nie. Jona het hierdie ingrepe in sy lewe nodig gehad, sodat "Jona verlos kon word van Jona".

       Om ons te onderwerp aan God impliseer ware vryheid, omdat die diepste vorm van slawerny opgesluit lê in selfgesentreerdheid; selfvertoue en self-afhanklikheid. Wanneer ons lewe uitsluitlik berus op ’n geloof en vertroue in onsself – wanneer ons, ons eie Verlosser wil wees, moet ons ook besef dat ons blootgestel is aan ons eie swakhede, ens. Ware vryheid bestaan daarin dat ons, ons lewe wy aan God en ons afhanklikheid van Hom bekend maak en vertrou op Sy wysheid; Sy genade en liefde en Sy wil vir ons lewe.  

       Geliefdes, net die Evangelie van Jesus Christus kan ons red; net die Evangelie van Jesus Christus kan ons bevry; net die Evangelie van Jesus Christus verskaf sekuriteit aan ons. Die Evangelie van Jesus Christus is God se aanvaarding van ons op grond van wat Christus vir ons gedoen het en nié op grond van wat óns kan doen nie. Sy genade is en ek wil graag die woorde van Tullian Tchividjian hier aanhaal ....Grace can be defined as unconditional acceptance granted to an undeserving person by an unobligated giver. God skuld ons niks nie – Hy gee net en Hy red net – enkel en alleen uit genade.

       ’n Moralistiese godsdiens leer dat, omdat die mens gehoorsaam is, móét God die mens aanvaar. Die Evangelie van Jesus Christus leer egter dat wanneer ek glo en vertrou in Jesus Christus, aanvaar God my en daarom gehoorsaam ek.


[1]  Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 27 Januarie 2013.