1. INLEIDING:
Kom ons vat net gou weer saam: Die Here
stuur Jona na die heidense stad Nineve (in Assirië) om hulle aan te spreek oor hul sonde. Jona
sien nie kans daarvoor om die Evangelie vir die heidene te neem nie en hy klim
op ’n skip om sodoende weg te vlug van God se aangesig. God los Jona egter nie
uit nie en stuur ’n storm wat die skip tref waarop Jona is. Skielik bevind Jona
hom in ’n Evangelistiese situasie – Jona betaal die prys ten einde die matrose
te red en die heidense matrose kom te bekering en bring offerandes aan God. Ons
het gesien dat hierdie offerandes o.a. ’n uitdrukking daarvan was dat hierdie
nuwe bekeerlinge hulle lewe wy aan die God van die hemel en aarde en daarom ook
die see. Ons het ook gesien dat die Here Jona help om van homself verlos te
raak.
2. SKRIFLESING:
Jona 1:17-2:10 ~ 17Toe stuur die Here ’n groot
vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.
2 Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. 2Jona
het gesê: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor.
Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor. 3U
het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring.
U het golf na golf oor my laat gaan. 4Ek het gedink ek het uit u
gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. 5Die
waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop
gedraai. 6Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die
aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood
gered. 7Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my
gebed het by U gekom, in u heilige tempel. 8Dié wat op nuttelose
afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon. 9Terwyl
ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het, sal ek
doen. Hulp kom net van die Here af.” 10Toe beveel die Here die vis,
en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg.
3. JONA
SE BEPROEWING (1:17):
In
God se voorsienigheid en groot genade, is daar ’n groot vis op die regte
oomblik op die regte plek om tot Jona se redding te kom (1:17)
– God is nog nie klaar
met Jona nie en daarom stuur Hy ’n groot vis om Jona te red!
Die
skrywer laat by ons geen twyfel nie, nl. dat dit die Here is wat
verantwoordelik daarvoor is dat Jona gered word ~ Toe stuur die Here ’n groot vis...
(1:17).
Wat
’n ervaring moes dit nie vir Jona binne in daardie vis gewees het nie, maar dit
is nie waar ons fokus moet wees nie – ons fokus moet gerig wees op Jona en God
– dit gaan derhalwe hier oor geestelike oorlewing en redding en nie oor fisiese
oorlewing en redding, of selfs oor die verhaal van ’n vis nie (Was
dit nou ’n walvis of nie? Kan ’n mens so lank in die maag van ’n vis leef?). Nee, dit gaan hier o.a. oor God se
ingrepe en genade en Jona se geestelike toestand.
Nog
iets wat van belang is in v.17, is die feit dat Jona vir drie dae en nagte in die vis se maag was. Hierdie is weereens vir ons ’n
pragtige heenwysing na Christus ~ Soos
Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun
van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. 41Die
mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan
en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer.
En hier staan Een wat groter is as Jona!
(Matt. 12:40-41).
Dit is egter baie duidelik uit die konteks van hierdie aanhaling van Jesus, dat
Hý die "Groter Een" van die twee is, maar ons weet egter dat dit die
geval is, want Jesus het gekom om God se wil te vervul, terwyl Jona wegvlug van
God se wil.
4. JONA
SE WANHOOP (2:1-6):
Jona
besef sy benarde posisie en ons sien in 2:1 dat hy begin bid – iets wat hy dalk
al moes gedoen het, nog voor hy besluit het om hawe toe te stap! Feit is egter
dat hy presies
dieselfde doen as wat menige onverskillige
en selfs ongelowiges doen, wanneer hulle desperaat is – wanneer hulle in nood
verkeer – hulle draai na God vir uitkoms en dit is presies wat Jona ook hier
doen. Jona bid ook nou, net soos wat Hanna uit desperaatheid haar tot God
gewend het ~ Sy was bitter
hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil (1 Sam.1:10). Of Klaagliedere 3:54-56 ~ ...die water het tot by my kop gestyg, ek het gedink dit is klaar met my.
55Ek het na U geroep, Here, uit die dieptes uit. 56U
het gehoor hoe ek smeek: “Moet tog nie afsydig staan nie, gee uitkoms en red
my!”
Ons
moet egter daarop let dat daar baie beslis plek daarvoor is om jou tot die
Vader te wend wanneer jy beproewing, of angs of benoudheid ervaar, trouens
Jesus het dit, net soos Hanna, self ook gedoen ~ Hy (dit is Jesus) het in
doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels
geword wat op die grond val (Luk.22:44). Gebed in nood is dus nié net vir
mense wat "weghardloop" van God en dan in die moeilikheid beland nie
– dit is net ironies dat baie sulkes dit wel doen wanneer hulle by ’n
doodloopstraat kom, maar sonder moeilikheid bestaan God nie vir hulle nie. Jona,
as gelowige, neem egter die Here se uitnodiging aan in Jak.5:13a ~ As daar iemand onder julle is wat swaar kry,
moet hy bid.
Wat
interessant is, is dat Jona se gebed soos vir ons gegee in vv.2-5, een van dank
en lofprysing is. Hierdie gebed het dan ook die tipiese struktuur van ’n dankgebed
soos wat ons so dikwels in die Psalms aantref:
·
’n
Inleiding wat getuig van die beantwoording van sy gebed om redding (v.2).
·
Tweedens
gee hy ’n kort opsomming van die situasie waarin hy homself bevind, of bevind
het (vv.3-8).
·
Laastens
vind ons ’n gelofte waarin Jona onderneem om God te aanbid, nadat God sy lewe
spaar – hy wy homself derhalwe opnuut weer toe aan God (vv.9-10).
Net ’n terloopse gedagte t.o.v. Jona se gebed – en dít terwyl
hy steeds ín die vis is. In teenstelling met ander soortgelyke gebede in bv. die
Psalms – o.a. Ps.18 en 116, erken of bely Jona glad nie sy sonde nie, tewens hy
noem dit nie eens nie.
Wat
verder tragies is, is dat hy in die hele gebed wat bestaan uit 25 reëls, sy beskrywing
van God se reddende genade tot slegs twee poëtiese reëls beperk, nl. in v.6
wanneer hy sê ~ Maar U, Here my
God....
·
Die inleidende gedeelte van Jona se
gebed: Jona beskryf
die plek waar hy hom bevind terwyl hy bid, as die doderyk (sheol), of te wel die hel. Dit gee ons ’n goeie
aanduiding van hoe Jona sy omstandighede in die vis se binneste ervaar het en
dit is geen wonder dat hy sy omstandighede so ervaar nie, want om weg te
hardloop en weg te kruip vir God sal jou juis so laat voel, want ons is geskape
om gemeenskap met God te hê en wanneer ons wegkruip van Hom, sal ons noodwendig
so eensaam en verlore voel, dat dit voel asof ons in die hel is, want om in isolasie van God te leef is niks anders as
geestelike dood nie. Jona sak die dieptes van die see binne en hy sien niks
anders as net die dood en geen hoop op oorlewing nie.
·
Die situasie waarin Jona hom bevind: In vv.3-8 beskryf Jona sy ervaring
vandat hy oorboord gegooi is, asook die tydperk wat hy binne-in die vis was. Hy
bid tot God en al het die matrose hom oorboord gegooi, erken hy dat dit eintlik
God is wat verantwoordelik is vir sy benarde situasie waarin hy homself bevind;
dat dit God is wat agter sy penarie sit. Hy erken verder, dat God soewerein is,
deur te hierna te verwys, maar ook deur te verwys na die grootsheid en geweld
van die see – en tog, midde in hierdie angswekkende situasie, sien hy God se
almag raak en weet hy net dat God steeds in beheer is.
Beide die see met sy bruisende golwe, asook die matrose, was instrumente
in God se hand ten einde Jona te straf en God se doel met hom te bereik.
Hierdie situasie waarin Jona homself bevind, laat 'n mens dink aan Ps.88:7-8 ~ U het my onder in die put laat beland, in
diepe duisternis. 8U gramskap rus swaar op my, U laat al u golwe
oor my breek.
Jona begin die erns en implikasies daarvan besef van om deur God
verlaat te word en stadig maar seker begin ons ’n nuwe Jona na vore sien kom,
wat kort voor lank uit sy donker graf gaan opstaan, met ’n nuwe gesindheid en
toewyding en gewilligheid om gehoor te gee aan God se roeping op sy lewe ~ Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve
toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is (Jona 1:2).
Nadat Jona in vv.3-6 sy omstandighede beskryf het, bely hy in
v.7 dat hy "uiteindelik" aan God begin dink en kry hy hoop dat God
hom genadig gaan wees, daarom verwys hy na God wat in Sy heilige tempel is. Hy
vertrou die almagtige en heilige God wie sit in Sy hemelse tempel, nie alleen
vir fisiese redding uit die vis en die dieptes van die see nie, maar ook vir
geestelike herstel. Jona begin ook besef dat God nie net ’n genadige Redder vir
die Joodse volk alleen is nie, maar ook ’n Verlosser vir die heidene – soos die
heidense matrose, en die heidense Nineviete.
Jona se oortuiging en geloof dat hy gered gaan word, kom eers
nadat hy aanvanklik alle hoop op redding verloor het – hy het gevoel asof God
hom finaal verwerp het, daarom sy verwysing na die hel. Hoeveel van ons voel
nie ook dikwels asof ons van God verlate is nie? Dawid het op ’n stadium so
gevoel ~ Ek het in my angs
gedink: Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp. Tog, U het geluister na
my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het (Ps.31:23).
Dit was egter goed vir Jona om vir drie dae in die haglikste
omstandighede denkbaar te wees – donker; aaklig, met seegras om sy kop gedraai (v.5), uitsigloos en van God verlate, want
dit is daar ín die vis dat hy nie alleen van ’n watergraf bewaar word nie, maar
soos iemand dit eenkeer gestel het ~ The
fish's belly was not Jonah's prison or death chamber, but only a temporary
hospital for his soul! Terwyl Jona beproewing ervaar, is God besig om hom
geestelik te restoureer en voor te berei op dit wat hy van die begin af,
veronderstel was om te doen – om die Evangelie aan die heidene te bring.
In
die laaste gedeelte van Jona se gebed, bring hy lof en eer aan die Here. Deur
te verwys na afgodsdienaars en die nutteloosheid daarvan om afgode te dien, wil
Jona uitsluitlike erkenning aan God gee as dié Een en dié Een alleen wat kan
red en restoureer. Hy het waarskynlik Ps.16:4 hier in gedagte gehad, waar die
Psalmis sê ~ Mag elkeen wat ’n
ander god vereer, baie smart beleef. Vir afgode sal ek nie bloedoffers
uitgiet nie, hulle name sal ek nie op my lippe neem nie. Jona kontrasteer homself met afgodedienaars
en verklaar daardeur dat hy homself onderwerp aan die heilige God wat sit in Sy
heilige tempel.
·
Jona se toewyding: Jona sluit sy gebed af met die
presiese woorde van Dawid in Ps.3:9a ~ Hulp kom net van die Here af.
Hierdie woorde is tegelykertyd belydenis en lofprysing. Hierdie is ’n baie
goeie opsomming van die hele gebed en ook die uitkoms van die gebed. Jona neem
sy verlossing reeds in die geloof aan – verlossing is sy oortuigde verwagting –
hy glo dat God hom gaan verlos sy wanhoop word uit genade deur God omskep in
toewyding aan God en uiteindelik verlossing.
Wat
egter belangrik is om te onthou, is dat Jona se verlossing nie in sý geloof lê
nie, maar dit lê uitsluitlik opgesluit in God se genadegawe – Hý is die Een wat
verlossing en uitkoms skenk. Hierdie feit word deurgaans deur die Ou Testament
geproklameer – so verklaar Hosea bv. in
Hos.13:4 ~ ...behalwe My is daar
geen Heiland nie (O.A.V.) en Jesaja in Jes.43:11 ~ Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.
Jona
is dus baie dankbaar vir verlossing wat reeds tydelik gegee is (onthou
– hy het nie verdrink nie, maar is steeds lewend in die vis se binneste) en hy glo ook dat die Here hom steeds
op een of ander wyse uit die vis gaan kry – daar is egter een ding wat steeds "ten
hemele skreeu" – Jona bely egter steeds nie sy sonde nie – geen erkenning
vir sy dwaasheid en sy ongehoorsaamheid, deur God se opdrag te ignoreer en te
probeer vlug van God se aangesig nie! Het hy dit dalk gedoen en is dit dalk net
nie in hierdie verhaal weergegee nie? Ons sal later weer daarna kyk.
5. JONA
SE VERLOSSING (2:10):
In
v.10 kom Jona se veelbesproke seereis op ’n einde wanneer God opdrag aan die
vis gee om Jona op droë land uit te spoeg. Weereens sien ons God se wonderlike
genade in ’n sondaar se lewe in aksie – en dit terwyl Jona steeds nie insig in
sy sonde het nie en dit ook nog nie bely het nie!
Jona
se veelbesproke ervaring op see en dan veral in die vis, verteenwoordig iets
veel, veel groter as wat hyself kan besef. Jesus het dit baie duidelik gemaak
in Matt.12:40 ~ Soos Jona drie dae
en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens
drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Die drie dae wat Jona in die vis deurgebring het, is so
’n sterk heenwysing na Christus se dood; begrafnis en opstanding, dat Paulus
daarna verwys in 1 Kor.15:4 ~ Hy
is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Van watter geskrifte praat Paulus hier?
Daar is geen ander geskrifte wat in Paulus se tyd bestaan het, as juis die Ou
Testament nie en daar is twee verwysings na die "drie-dag element"
waarvan Paulus hier praat, nl. Hos.6:2 en dan natuurlik ook hier in Jona. Jona
se tydperk in die vis is dus baie meer betekenisvol as wat dit sommer so op die
oog af lyk – dit wys direk heen na Christus se dood en opstanding en daarom ook
na ons uiteindelike redding en opstanding.
Jona
se verhaal was daarom ook ’n wonderlike aanknopingspunt vir Jesus se gesprek
met die Emmausgangers, wie bekend was met die Geskrifte en Jona se verhaal (Luk.24:27). Heel waarskynlik het Jesus weer die
aand toe Hy met ’n groep van Sy dissipels vergader het en die Skrifte vir hulle
oop gemaak het, na hierdie gedeelte van Jona in die vis verwys en verduidelik hoe
dit na Sy opstanding heenwys (Luk.24:44-45).
6. TOEPASSING:
Dit
is nou alles goed en wel om Jona se verhaal te lees en te besef dat God ’n
genadige, alomteenwoordige en almagtige God is, maar hou dit vir ons nog enige
ander betekenis in?
Jona
moes beslis deur geweldige beproewing gegaan het – net soos ons baie dikwels
vir korter of langer tydperke deur beproewing gaan. Die vraag is nou, kan ons
enige iets uit Jona se verhaal leer om ons te help te midde van beproewing?
·
Onderskeiding: Die Here stuur baie dikwels
beproewing oor ons pad, ten einde ons te toets en ons geestelik te laat groei –
en natuurlik is daar nog ander redes ook. Dan vind ons ook verdrukking en
versoeking wat van die bose is. Verdrukking en versoeking is aanhoudend en
wreed en bindend, terwyl beproewing uiteindelik opbouend en bevrydend van aard
is en dit is hier waar ons onderskeiding nodig het – is dit wat ek beleef,
beproewing, of is dit versoeking en verdrukking?
Natuurlik kan hierdie onderskeiding nie los van gebed staan
nie en daarom moet ons die Heilige Gees bid om ons te lei en te wys of hierdie
beproewing van die Here is en of dit iets is wat van die bose kom.
Omdat ons nou fokus op die verhaal van Jona, wil ek nie ingaan
op verdrukking nie, maar net fokus op beproewing, want dít is wat Jona ervaar
het.
·
Gebed: Dink aan die man by die bad van
Betesda. Die Here Jesus het vir hom gevra ~ ...Wil jy gesond word? (Joh.5:6). Die vraag is of ons werklik verlos
en genees wil word van ons beproewing (en as jy wil,
verdrukking). Wil jy
werklik genesing/verlossing ervaar, of wil jy graag in die modder bly rondrol?
Wil jy "jammer gekry word"? Is jy ’n smartvraat? Baie mense wíl nie
uit die "modder" kom nie, want hulle ontvang simpatie van sommiges,
maar dít is hoegenaamd nie ’n getuienis van oorwinning en geloof in Jesus
Christus is nie.
Die
eerste ding wat Jona gedoen het, toe hy oorboord gegooi is, was om te bid. Jona
het sy probleem in oënskou geneem en besef dat sy beproewing van God gekom het
en daarom "praat " hy met God daaroor. Wanneer ons bid oor ons
situasie/beproewing, moet ons ook die begeerte hê om verlos te word daarvan.
·
Geloof: Jona se geloof het ten spyte van sy
onbesonne optrede en ongehoorsaamheid nie verdwyn nie. Terwyl hy in die dieptes
van ellende verkeer het, het hy steeds uitgeroep ~ Hulp kom net van die Here af
(v.9b).
Wanneer ons beproef word, moet ons deurentyd besef dat God leef en dat Hy die
enigste waaragtige God is, wat terselfdertyd die enigste Bron van hulp, verlossing
en bevryding is. Ons moet die woorde van Jes.30:18 glo en daaraan vashou ~ Tog is die Here gretig om julle genadig te
wees en wil Hy hom oor julle ontferm: Die Here is ’n God wat reg laat
geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.
Ons moet ook vashou aan die vaste wete dat ons ’n Hoë Priester
het wat voortdurend vir ons intree by die Vader.
·
Vergifnis: Jona het nie getwyfel aan God se
genade en vergifnis nie (al het hy nog nie sy sonde op hierdie
stadium van die verhaal bely nie),
daarom dat hy in vv.4 en 7 met vrymoedigheid terugkeer na die Vader ~ Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn,
maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou
(v.4) en
Toe ek wou vergaan, het ek aan
die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel (v.7). Hy verwys juis hier na God se
heilige tempel, omdat dít ’n plek van veilige en permanente toeganklikheid is
vir sondaars soos Jona en soos jy en ek.
Ons moet altyd onthou en veral wanneer ons beproewing ervaar,
dat dit nie noodwendig altyd a.g.v. sonde in ons lewe nie is. Dit bied egter
vir ons geleentheid om onsself te ondersoek en indien die beproewing a.g.v.
sonde in ons lewe is, kan ons met vrymoedigheid daardie sonde op grond van
Christus se soendood bely en kan ons beproewing verwyder word, behalwe
natuurlik as daar nog iets is wat die Here in ons lewe wil bereik.
·
Hoop: Op grond van ons geloof en op grond
van die gebed wat ons gebid het om verlossing, moet ons ’n vaste hoop en
vertroue hê dat ons verlos sál word, want in die woorde Hebr.11:1 is ook in
hierdie omstandighede van toepassing ~ DIE geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys
van die dinge wat ons nie sien nie.
Lofuiting: In Jona se donkerste uur het hy die
Here God geloof en geprys vir wie Hy is (o.a. v.9a). Dink hier aan die oudste Psalm in
die Bybel (’n Psalm wat Moses geskryf het) Ps. 118. Die volk Israel was
ongehoorsaam aan die Here en hulle weier om Moses te volg en God te vertrou en
die Beloofde Land by Kades binne te gaan – die gevolg: God laat hulle vir ’n
verdere 40 jaar in die woestyn rondswerf, totdat almal gesterf het wat bo die
ouderdom van twintig was – hoor net wat was Moses se reaksie midde in hierdie
krisis (ek haal enkele verse aan) ~ Loof die Here, want Hy is
goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! (v.1); In my nood
het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. 6Die
Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen? 7Die
Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat. 8Om
by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou (vv.5-8). Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het! (v.14a). Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het. 22Die
klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in
die gebou geword (’n verwysing natuurlik na Jesus se
veroordeling) (vv.21-22). Gaan lees gerus weer hierdie volledige Psalm en hou
ingedagte wat die omstandighede was waaronder Moses hierdie Psalm geskryf het.
Sing en loof en prys ons, ons hemelse
Vader nog steeds, ongeag ons omstandighede? Dink maar net weer aan wat Hy alles
vir ons gedoen het en steeds doen!
·
Hertoewyding: In v.9b sien ons dat Jona sy lewe
opnuut wy aan die Here wanneer hy sê – en onthou, die vis het hom nog nie
uitgespoeg nie ~ .... (ek) wil aan
U ’n offer bring... ’n
Opregte hertoewyding aan jou Verlosser tydens beproewing is van kardinale
belang t.w.v. verlossing en vrymaking.
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt – Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 10 Februarie 2013.