Monday, February 28, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 11 (“Die Gawe van Vrygewigheid”)

1.     SKRIFLESING:
Fil.4:10-23 ~ Ek was baie bly in die Here dat julle na so ’n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. 11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. 12 Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. 14 Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. 15 Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. 16 Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. 17 Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. 18 Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. 19 En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. 20 Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. 21 Groete aan almal wat aan God behoort deur Christus Jesus. Die broers hier by my stuur vir julle groete. 22 Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete. 23 Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees. 

2.     INLEIDING:
Verlede week het ons gesien hoe dat Paulus die gemeente in Filippi bedank vir hulle bystand en ondersteuning.  Ook het ons gesien dat hy vir hulle sê dat hulle (soos hy), te alle tye tevrede (vergenoegd) moet wees met hul omstandighede.  Hy gaan egter voort en hy sê aan hulle in v.14 ~ ...nietemin....  Wat hy dus eintlik deur hierdie woord “nietemin” vir hulle wil sê, is dat hy swaar gekry het en alhoewel dit vir hulle vir ’n lang tyd nie moontlik was om hom by te staan nie, het hulle hom wel nou in sy moeilike omstandighede bygestaan.

Hy gaan egter verder in vv.15 en 16 deur hulle daaraan te herinner, dat hulle eintlik wonderlik vir hom gesorg het.  Hy noem aan hulle dat hulle die enigste gemeente was wat aan die begin van sy bediening, ondersteunend by hom betrokke was,  Ook toe hy in Tessalonika was het hulle meer as eenkeer na sy behoeftes omgesien. 

Ek het ook verlede Sondag gesê dat ons dalk mag wonder wat die bydrae van die gemeente behels het en ons het ook gesien dat die konteks van hierdie gedeelte vir ons duidelik wys dat hulle wél, o.a. geld gestuur het – v.15b ~ ...julle (was op daardie stadium) die enigstes (wat) ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe....

Paulus wil dus deur hierdie opmerkings vir die Filippense sê dat hy hulle betrokkenheid hoog ag en dat hy hulle waardeer, omdat hulle deel het aan sy bediening, maar ook deel het aan die verkondiging van die Evangelie.  Hy gaan egter verder deur vir hulle te verduidelik dat hulle vanuit hul eie tekort, hulleself gegee het deur hul vrygewigheid en dat dit nie ongesiens verbygaan nie – allermins by God en daarom verduidelik hy aan hulle drie beginsels t.o.v. vrygewigheid, nl.:
·           Vrygewigheid as Karaktertoets;
·           Vrygewigheid as Geestelike Belegging en
·           Vrygewigheid as Aanbiddingsoffer.

Nadat hy hierdie beginsels met hulle behandel het, sluit hy sy brief af met ’n kort groetewoord en daarna sal ons ook net kortliks kyk.

3.     VRYGEWIGHEID AS KARAKTERTOETS:
Paulus begin hierdie laaste gedeelte van sy brief in v.10, met die woorde ~ Ek was baie bly in die Here.  Die O.A.V. sê ~ EK het my grootliks verbly in die Here.  Die E.S.V. sê ~ I rejoiced in the Lord greatly.  Die N.L.T. (New Living Translation) sê ~ How I praise the Lord that you are concerned about me again.

Wat maak Paulus so bly oor hierdie bydrae van die gemeente in Filippi?  Ja, in die eerste plek is dit so dat hy baie bly was oor die feit dat die Filippense aan hom gedink het in sy nood.  Verder wil hy ook, ná sy openingswoorde wat dalk die indruk kon skep dat hy nie regtig dankbaar is nie, vir hulle verseker van sy opregte dankbaarheid.  Máár, hy wil veral vir hulle sê dat hy besonder bly is oor die feit dat hulle volgens v.14, goed gedoen (het) deur (hom) in (sy) moeilike omstandighede by te staan.

Wat het Paulus hiermee bedoel?  Het hy bedoel dat dit goed was dat hulle hom uit sy penarie van swaarkry gehelp het?  Waarskynlik dit ook ja, máár ek glo dit was veral omdat hulle goed gedoen het in die oë van die Here om vrygewigheid aan die dag te lê, ten spyte van hulle eie gebrek. 

Die Hebreërskrywer sê in Hebr.10:32-33 ~ Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het.  Die Hebreërskrywer sê hier aan die ontvangers van sy brief (dit is nie seker waar hulle gewoon het nie – waarskynlik iewers in Palestina[2]), dat hulle, terwyl hulle self  beledigings en vervolging beleef het, hulle hulself steeds uit lojaliteit en t.w.v. hulle openbare getuienis, met ander gelowiges geïdentifiseer het, want daardeur het hulle ’n opregte en noodsaaklike waardering t.o.v. die eenheid van die Liggaam van Christus bewys.  Slegs opregte liefde vir jou broer en suster in Christus, kan dit moontlik maak om met soveel vrymoedigheid jou medegelowige te ondersteun en te bemoedig in hulle uur van nood.

Dit is hierdie selfde gesindheid wat Paulus by die Filippense wil aanprys.  Hulle kry self swaar, maar steeds betoon hulle, hulle liefde, deur met iemand anders (in hierdie geval Paulus) te identifiseer en hom met hart en daad by te staan en te ondersteun in sy uur van nood.

Ook Johannes het hierdie gesindheid van vereenselwiging teenoor medegelowiges geopenbaar, toe hy in Openb.1:9 gesê het ~ Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding.  Omdat hy ook ’n gelowige is, deel hy in hulle verdrukking.

Paulus sê dus vir die gemeente, dat hulle veel meer gedoen het as om hom finansieel te ondersteun – hy sê dat hulle ’n goeie ding gedoen het en die letterlike betekenis daarvoor in die Grieks, is dat hulle ’n “pragtige goeie ding” gedoen het.  Hulle het inderwaarheid ’n karaktertoets geslaag.  Ons vind hierdie selfde uitdrukking in Mark.14:6 toe Maria van Betanië, die vrou met die albaste fles, baie duur nardusolie oor Jesus se kop uitgegooi het en Hom gesalf het, het Jesus vir Sy dissipels gesê dat hulle haar moet uitlos, want sy het ’n goeie daad verrig.

Die Filippense het dus veel meer gedoen as om bloot net Paulus se swaarkry te verlig – hulle het inderwaarheid deur hulle gawe wat hulle gestuur het, deel geword en geïdentifiseer met sy bediening en die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus. 

4.     VRYGEWIGHEID AS GEESTELIKE BELEGGING:
Tweedens sê Paulus dat hy nie met sy bediening van die Evangelie van Jesus Christus ten doel het om geldelik wins te maak uit individue en gemeentes nie.  Daarom sê hy in v.17 ~ Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie.... 

As dit dan nie gaan oor die gawe of die finansiële bydrae wat hulle vir hom gestuur het nie, waaroor gaan dit dan vir hom?  V.17b ~ Dit gaan...om die vrug daarvan..., want sê hy, ...daardeur word julle self ryker.  Die vrug wat Paulus hier van praat, impliseer dus dat hierdie bydrae van hulle ’n rendement of ’n voordeel vir hulle inhou.  Dit is soos wanneer ons ’n belegging maak en ons rente op ons belegging ontvang.  Daardie “rente” (die vrug) waarvan Paulus hier praat gaan die Filippense ook ryker maak.  Maar natuurlik gaan hulle nie noodwendig fisiese geld of ’n vermeerdering in hul beursies waarneem nie – Paulus bedoel hiermee, dat hulle primêr ’n geestelike voordeel wat hulle geestelik baie ryk gaan maak, as rendement op hulle bydrae gaan ontvang (onthou: hulle bydrae was onder moeilike omstandighede gemaak).

Spr.11:25 sê ~ Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.  Kan jy die rendement sien op hierdie vrygewige offer?  Jy sal self oorvloed hê – dit is ’n belofte!.  Jy sal self nie dors raak nie.  In Matt.5:7 sê Jesus ~ Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Soos julle uit hierdie teksverse kan sien, lê vrygewigheid nie nét op die vlak van finansies of materiële dinge nie – dit kan ook jou tyd behels, of jou ondersteuning; jou meelewing; jou fisiese kragte; die deel van jou kennis, aanleg en gawes, ’n ete, of gasvryheid, ens.

Wanneer jy “gee”, moet jy egter altyd die woorde van Paulus in 2Kor.9:7b in gedagte hou ~ ...God het die blymoedige gewer lief.  Wanneer jy dus gee, moet dit in opregtheid en met blymoedigheid geskied.

So gepraat van 2Kor.9, kom ons kyk na vv.6-11 en kyk dan spesifiek na enkele beginsels wat hieruit voortspruit en wat van toepassing is op ons onderwerp van vandag, nl. die gawe van vrymoedigheid ~ Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. 7 Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. 8 En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. 9 Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” 10 God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer. 11 Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word.

Indien jy wil hê dat jou vrygewigheid en jou uitdeling, ’n seën vir jou moet inhou, moet jy bedag wees op die volgende beginsels, soos wat Paulus dit vir ons hier in 2Kor.9 beskryf:
·           Eerstens spreek Paulus die “oesbeginsel” aan.  Hy verduidelik hierdie beginsel aan die hand van ’n boerdery- voorbeeld.  Wanneer ’n boer saad saai, hang die oes af van die hoeveelheid saad wat hy saai.  Hoe meer saad hy saai, hoe groter sal die oes wees.  Hierdie is natuurlik ’n beginsel wat God self toegepas het ~ Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? (Rom.8:32).  Beide in die natuur en wat ons geestesgoedere aan betref, is God ’n vrygewige Skenker.

·           Die tweede beginsel wat Paulus aanspreek is die beginsel van “motiewe”.  Dit is so dat motiewe geen rol speel by ’n saaiboer nie, want as hy goeie saad gebruik en die weersomstandighede, die grond, ens. is ideaal, sal hy ’n baie goeie oes inbring. 

’n Gelowige se motiewe, wanneer hý “saai”, is egter van kardinale belang.  Eerstens moet sy motiewe vanuit ’n suiwer hart voortspruit – motiewe wat God verheerlik en motiewe wat God welgevallig is.  Paulus sê dat ons blymoedige- en vrywillige gewers moet wees.  En waarom moet hy ’n blymoedige gewer wees?  Omdat hy weet wat God se vrywillige offer vir hom beteken het – hy het God se genade beleef en dít is genoeg rede om met ’n blymoedige hart uit te deel.  God kan jou dus nie seën as jou hartsgesondheid nie reg is nie (bv. wanneer jy “gee” om deur mense geëer te word).  Wanneer jou gesindheid egter reg is, sál God jou seën, maar Hy seën ook die gawe wat jy gee, asook die ontvangers van jou gawe.

Net soos wat God aan die saaiboer, genoeg saad voorsien vir die volgende plantseisoen, asook vir sy eie behoeftes en om te verkoop en uit te deel, net so voorsien God in die vrygewige uitdeler se behoeftes en primêr in sy geestelike behoeftes, máár ook in dit wat hy wéér kan uitdeel.

·           Derdens hanteer Paulus die beginsel van “oorvloed”.
V.11 in die N.A.V. stel dit as volg ~ Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg.  Die indruk wat hier geskep kan word, is dat wanneer ons in oormaat “saai”, ons finansieel ryk gaan word.  Dit is egter nie waar hierdie vers ophou nie.  Dit gaan voort deur te sê, ... om by elke geleentheid vrygewig te kan wees.  Wanneer die gelowige dus saai, sal God hom beloon deur nog meer aan hom terug te gee, SODAT hy weer en meer kan uitdeel.  Die oorvloed wat ons as gelowiges dus ontvang, is nie bedoel om ons ryk of ryker te maak nie, maar word gegee, sodat ons meer kan uitdeel en ander daarmee seën.  En let op, dat hierdie gemeente in Filippi (asook ander) mekaar en die bedienaars van die Woord ondersteun – hulle prioriteit het dus nie in die eerste plek by ongelowiges (die “hek-klokkie-drukkers” of die “verkeerslig-bedelaars”) gelê nie, maar by gelowiges.

Paulus het baie duidelik hier in 2Kor.9 die woorde van Jes.55:10-11 in gedagte gehad ~ Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. 11 So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.  In hierdie gedeelte word “saad” en “brood” gebruik om beide na ’n letterlike oes op die land, asook die Woord van God te verwys. 

Ons moet onthou dat ons as gelowiges nie in twee wêrelde lewe nie – die een oomblik in hierdie materiële wêreld en die volgende in ’n geestelike, of God se Koninkryk nie.  Om geld, of ander materiële middele uit te deel, is net so geestelik soos om te bid of die Woord te verkondig.  Geld in die hand van ’n gelowige is saad, net soos wat die Woord, saad is.  As ons volgens Bybelse beginsels uitdeel, sal ons rendement op ons uitdeling toeneem tot eer van God en sal ons én andere se behoeftes bevredig word.  As ons nie volgens die eise van die Woord uitdeel nie, sal ons oes karig wees.

5.     VRYGEWIGHEID AS AANBIDDINGSOFFER:
Die gawe wat die gemeente in Filippi na Paulus gestuur het, was vir hulle waarlik ’n offer, omdat hulle dit onder moeilike omstandighede aan hom gegee het, maar nou sê hy vir hulle in vv.18-19, dat hulle spesifieke gawe vir hom só oorweldigend was, dat dit tot gevolg het dat hy nou oorvloed het, maar hy sê ook aan hulle dat God hierdie offer van hulle raaksien en dat dit vir God ’n offer met (’n) lieflike geur (is en dat dit ) vir Hom aanneemlik en welgevallig (is) – dit is m.a.w. vir hulle ’n aanbiddingsoffer!  Hy gaan egter voort in v.19 en hy sê vir hulle dat hierdie gawe van hulle nie net ’n welgevallige offer vir God is nie, maar dat hierdie gawe ook ’n belofte vir hulle inhou.  En wat is hierdie belofte?  V.19 ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.  Hierdie offer van hulle, wat hulle onder moeilike omstandighede saam met Epafroditos vir Paulus gestuur het, was met die regte motiewe gestuur en daarom sál God in elke behoefte van hulle voorsien – hulle sál oorvloedig oes – dit is ’n Koninkryksbeginsel!

Iemand het eenkeer gesê ~ “You can never outgive God”. 
·           God het alles gegee toe Hy Sy Seun, Jesus Christus gegee het om aan die kruis vir ons sonde te sterf.
·           God het die Heilige Gees vir jou gegee, om jou as gelowige te troos en te leer en te lei op ons lewenspad.
·           Jesus het Sy lewe vir jou gegee as soenoffer tussen God en jou.
·           Die Heilige Gees gee Homself elke dag ten einde jou by te staan op jou pad van heiligmaking.

Kan dit dan ooit teveel wees vir ons om vrygewig te wees?

6.     GROETEWOORD:
Paulus sluit sy brief aan Filippi af met ’n groetewoord en hierdie woorde is nie bloot net ’n formaliteit nie – dit is ’n swaar gelaaide groetewoord.

Hy sluit die brief op soortgelyke wyse af as waarmee hy dit begin het, nl. met ’n verwysing na die genade en die vrede van God die Vader en Jesus Christus.  Daardie selfde genade wat die eens ongenaakbare Paulus en vervolger van die kerk, verander het tot ’n apostel van die Here Jesus Christus (1:7; 3:6).  En Paulus wil deur sy groetewoord vir die Filippense sê, dat dieselfde genade wat hom verander het, ook hulle sal dra en versorg, namate hulle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus (is) (1:27).

Hierdie groetewoord is dus veel meer as maar net ’n formule wat Paulus hier aframmel ten einde sy brief af te sluit.  Hierdie woord, is die Evangelieboodskap in ’n neutedop wat in die gemeente se ore sal bly weerklink, omdat dit God se genade openbaar en verkondig en dít is baie goeie nuus wat genoeg rede aan ons verskaf om God voortdurend te loof en te prys.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 27 Februarie 2011
HUGHES, Philip E.  1977.  A Commentry on the Epistle to the Hebrews.  Grand Rapids, Mich. : Eerdmans.  623p.