Sunday, March 6, 2011

DIE BOEK ESRA ~ 01 (“God ÍS ’n betroubare God”)

1.     INLEIDING:
Iets wat nie algemeen bekend is onder die deursnee gelowige, is die feit dat die boeke Samuel, Konings en Kronieke, aanvanklik een boek in die Hebreeuse Bybel gevorm het.  Net so was daar ook ’n tweede groep boeke wat saam ’n eenheid gevorm het nl. Esra en Nehemia.  Dit was eers heelwat na die vestiging van die Christelike era, dat hierdie boeke geskei is.  Dit is dus goed as ’n mens na hierdie versameling boeke as ’n eenheid kyk.  So sal ons bv. in Esra sien hoe die tweede tempel herbou is, terwyl in Nehemia sal ons sien hoe die stadsmuur herbou is. 

Ek wil dan dat ons vir die volgende klompie weke na hierdie tweede groep boeke, nl. Esra en Nehemia as eenheid kyk en daarom moet ons by Esra begin.

Dit word algemeen aanvaar dat Nehemia die skrywer van beide Esra en Nehemia was.  Dit word bereken dat Esra gedurende die jaar 440 v.C. geskryf is en dit is 100 jaar nadat die Israeliete terug gekeer het uit ballingskap.

Ten einde die omstandighede te verstaan waaronder Esra en Nehemia geskryf is, moet ons ook net kortliks kyk na wat die ballingskap behels het – hoe dit begin het en hoe dit geëindig het.

2.     DIE BALLINGSKAP:
Die Babiloniese Ryk was geweldig sterk rondom die 6de eeu v.C.  In nagenoeg 604 v.C. het hulle weermag deur Palestina beweeg en in die proses gedurende 597 v.C. het hulle Jerusalem binnegeval.  In 587 v.C. word groot gedeeltes van die stadsmuur deur die Babiloniërs vernietig en in 586 v.C. word die indrukwekkende tempel vernietig.

Terwyl die Babiloniërs in Palestina doenig was, het hulle groot getalle mense weggevoer na o.a. Babilon (in die omgewing van die huidige Bagdad in Irak), waar hulle spesifiek by die Kebarrivier gewoon het.  Andere is na Susa (in die huidige Iran) weggevoer.  Dit is opmerklik dat die meerderheid van die weggevoerde Israeliete, van die vernaamstes en die aansienlikste mense was – die heel armes is in Palestina agtergelaat, maar hoofsaaklik was dit die priesters en Leviete en die stamme van Juda en Benjamin wat weggevoer is.  Onder hierdie ballinge was manne soos die profete Jeremia en Esegiël; Daniël van “leeukuil faam” en dan ook o.a. Esra, ’n priester en skrifgeleerde wat veral onthou word as die man wat die Torah (die Wetsrol) voorgelees het aan die teruggekeerde ballinge op die plein voor die Waterpoort in Jerusalem, waarop daar toe ’n herlewing uitgebreek het onder die Israeliete (Neh.8).  Dan was daar ook Nehemia wat bekend was vir sy administratiewe bekwaamheid en ’n organiseerder by uitstek, wat die volk help herstel het ná die ballingskap en wat instrumenteel was in die herbou van die stadsmuur in Jerusalem.  Beide Esra en Nehemia het van Babilon af teruggekeer na Jerusalem.

Die lewe vir ballinge in Babilon was nie te onaangenaam nie.  Hulle kon werk en trou, huise bou en tuine aanlê, ens.  Jeremia het hulle ook aangemoedig om dit te doen, want hulle terugkeer na die Beloofde Land, sou nie gou geskied nie.  Hulle het dus ’n  georganiseerde samelewing gehad.  Ten spyte van die feit dat hulle redelik goed aangepas het by hulle nuwe omstandighede, het die meeste tog intens terug verlang na hul land – Die bekende Ps.137 is hier ’n pragtige weerspieëling van hul verlange ~ By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. 2 Aan die wilgerbome in daardie land het ons ons liere opgehang 3 toe dié wat vir ons gevange weggevoer het, ons gevra het om ’n lied te sing, toe dié wat vir ons leed aangedoen het, van ons vrolikheid wou hê: “Sing vir ons ’n lied oor Sion!” 4 Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land? 5 As ek jou sou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan verlam raak. 6 Mag my tong aan my verhemelte vaskleef as ek aan jou nie dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie. 7 Onthou die Edomiete, Here, die dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe hulle aangehou het met sê: “Breek af, breek af die stad tot op sy fondamente!” 8 Dat jy verwoes sal word, Babel, is seker. Gelukkig is die man wat jou terugbetaal vir wat jy ons aangedoen het! 9 Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ’n klip verbrysel.

Die Israeliete het bly glo dat God hulle spoedig sou verlos en teruglei na hul tuisland, want hulle was tog immers God se volk (Jer.7:4).  Maar die Here het hulle nie verlos nie (in elk geval nie gou nie) en Jerusalem en die tempel wat beide ’n geweldig belangrike rol in die lewe van die Israeliete gespeel het, is intussen ook nog verwoes.  Te midde van hul verlange en die nuus dat hul geliefde stad en tempel verwoes is, kyk hulle na die Babiloniërs se tempels waar die afgode vereer word vir die Babiloniërs se suksesvolle veldtogte en die vraag kom by hulle op:  Is die Here onse God dan waarlik die Magtige in wie ons nog altyd geglo het? 

Twyfel ontstaan in hul gemoedere!  Uit Esegiël se prediking hoor hulle egter dat hulle omstandighede nie die gevolg van enige swakheid aan die kant van God is nie, maar dat dit straf is op hul eie sonde.  Maar soos so dikwels wanneer straf op sonde aangekondig word, blyk God se genade en liefde terselfdertyd en sal Hy ook nie te midde van hulle straf die volk verlaat nie en sal Hy hulle uiteindelik verlos en sál hulle weet dat Hy waarlik die Here is (Eseg.36:23). En Hy belowe in Eseg.36:10, dat ~ Die stede weer bewoon (sal) word, (en) die puinhope herbou word.  Deur die prediking het die volk dit reggekry om in hulle geloof te volhard.

Dit word algemeen gesê dat die ballingskap 70 jaar geduur het.  Hierdie 70 jaar was egter die totale tydperk (of ’n afgeronde getal) en sommige het dus korter as 70 jaar in ballingskap verkeer, want die eerste Israeliete, waaronder Jojagin, is reeds in 597 v.C. weggevoer (en Daniël selfs nog voor dit).  ’n Tweede wegvoering het gepaard gegaan met die val van Jerusalem in 586 v.C. (waarmee die eintlike ballingskap begin het).

Van die bekendes wat gedurende die ballingskap oor die Babiloniese Ryk regeer het, was manne soos Nebukadneser en Belsasar.

In 538 v.C. het die terugkeer van die ballinge egter begin, nadat Cyrus, of te wel Kores van die Persiese Ryk, die Babiloniese Ryk in 539 n.C. verower het (Dan.5:30).  Kom ons lees verder daarvan in die Woord.

3.     SKRIFLESING:
Esra 1:1-11 ~ In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk ’n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui: 2 “Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. 3 Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort-mag sy God by hom wees-mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem. 4 Elkeen wat van dié volk nog oor is, waar hy ook al tydelik gewoon het, moet deur die mense van sy omgewing voorsien word van die nodige silwer, goud, gebruiksgoed en vee, tesame met ’n vrywillige gawe vir die tempel van God in Jerusalem.” 5 Die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en die Leviete, elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou. 6 Al hulle bure het hulle hande gesterk deur silwerware en goud, gebruiksgoed, vee en allerlei kosbaarhede te gee, bo en behalwe al die vrywillige gawes. 7 Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het. 8 Koning Kores van Persië het dit aan Mitredat, die sekretaris van die tesourie, laat oorhandig, en dié het ’n lys daarvan gemaak vir Sesbassar, hoof van die stam Juda. 9 Die volgende stukke was op die lys: dertig goue bakke, duisend silwerbakke, en-toe dit weer getel is-nog nege en twintig by, 10 dertig goue komme, vier honderd en tien silwerkomme na hertelling, en ’n duisend ander stukke. 11 Daar was altesame vyf duisend vier honderd stukke goud en silwer. Sesbassar het alles saamgevat toe hy die ballinge van Babel af na Jerusalem toe gebring het.

4.     DIE TERUGKEER:
Iets wonderliks het in 538 v.C. gebeur – ons lees in v.1 ~ ... die Here het koning Kores van Persië laat besluit.  Die Here het die koning laat besluit!  Hoe wonderlik om te besef dat God agter regerings en regeerders se besluite sit en dat Hy bepaal hoe hulle volgens Sy raadsbesluit moet optree.  Ons het reeds in Eks.7:3 ’n pragtige voorbeeld hiervan, toe die Here vir Moses gesê het ~ Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen.  Ook in Kores se geval, plant God die gedagte in sy gemoed vir sy proklamasie en Kores reik dan die volgende verklaring uit ~ Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. 3 Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort-mag sy God by hom wees-mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel.  Die tempel gaan herbou word en wat meer is, al die Israeliete wat op daardie stadium as ballinge in die Babiloniese Ryk gebly het, ontvang toestemming om terug te keer na Jerusalem.

Hierdie woorde van Kores is egter niks nuuts nie, want hierdie aankondiging is bloot maar net ’n vervulling van ’n profesie wat Jesaja nagenoeg 200 jaar vantevore gebring het in Jes.44:28, maar ook Jeremia het in Jer.29:10 hieroor geprofeteer ~  So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring.  Jeremia gaan in Jer.33:10-11a voort, deur verder te profeteer ~ So sê die Here: Daar word nog gehoor dat julle van hierdie plek sê dit is verwoes, sonder mense en sonder diere. Maar in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes en sonder mense en sonder inwoners en diere was, 11 sal daar weer blydskap en vreugde wees, ook huweliksfeeste, die mense sal die Here die Almagtige loof.  God het belowe dat Hy Sy kinders sou terugbring na Jerusalem en nou doen hy dit deur Kores se proklamasie!

So dikwels gebeur dinge in die wêreld rondom ons en is dit moeilik om God se hand agter dit alles te sien, omdat ons dit beskou as die normale en natuurlike verloop van sake.  Om God agter sulke gebeure te sien vereis ’n geloofsvisie en sonder so ’n visie sal ons armer wees en sien ons nie God se daaglikse betrokkenheid in daaglikse dinge raak nie en mag ons selfs oor Sy bestaan begin twyfel.  Dink jy dat die huidige gebeure in Noord-Afrika en die Midde-Ooste (Egipte, Oman, Libië, ens.) waar die een diktator na die ander nou in die stof byt, bloot maar net deel is van die beloop van die lewe?  O nee, ook daar agter sit God Almagtig!  Wat Sy plan hiermee is, weet ons nog nie, maar Hy orkestreer gewis daardie gebeure!

Kores het bevel gegee dat die tempel herbou moet word.  Hy gee ook opdrag dat al die tempelgereedskap teruggegee moes word, wat voor die tempel verwoes is, deur Nebukadneser uit die tempel gebuit is.  Daar is ’n behoorlike lys van al hierdie gereedskap saamgestel deur die sekretaris van die tesourie en hierdie tempelstukke word met koninklike waardigheid hanteer en gesertifiseer, omdat dit gawes van die Here is.  Nadat die lys saamgestel is, word dit aan Sesbassar wat op daardie stadium hoof van die stam van Juda was, oorhandig om terug te neem na Jerusalem.  Wanneer ons na die lys kyk, sien ons dat daar 5 400 stukke in totaal was.  Hierdie getal vind ons in v.11, maar as ons na vv.9-10 kyk en die getalle daar bymekaar tel, vind ons slegs 2 499 stukke.

Hierdie oënskynlike verskil kan egter maklik verklaar word.  Eerstens weet ons dat ook hierdie boek onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf is en dat daar dus nie ’n fout begaan is met die getalle nie.  Die mees waarskynlikste verklaring is dat Esra in vv.9-10 eers net ’n lys gemaak het van die belangrikste items en in v.11 het hy die totale hoeveelheid vermeld.

Wanneer ons later in hoofstuk 7 by Esra terugkom, sal ons sien dat hierdie terugtog van Sesbassar, nagenoeg 4 maande geduur het en dat dit waarskynlik gedurende die lente van 537 v.C. plaasgevind het.  Ons sal ook sien dat Sesbassar deurgaans die waardigheid van hierdie kosbare vrag moes handhaaf.

Die detail waarmee hierdie gebeure rondom die tempelgereedskap opgeteken is, was nie om dowe neute nie.  Nebukadneser het hierdie heilige tempelstukke weggevoer en dit in die proses ontheilig deurdat hy dit in die Babiloniese afgodstempels laat plaas het.  Nebukadneser het daardeur probeer aantoon dat sy gode groter was as die God aan wie hierdie gereedskap gewei was.

Dit was egter nou tyd dat God aan Sy volk toon wie hulle God waarlik is en Hy begin deur die tempelgereedskap byeen te bring.  In 2Tim.2:20-21 vergelyk Paulus gelowiges ook met hierdie tempelgereedskap wanneer hy sê ~ In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21 As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.  Ten spyte van die verskeidenheid van voorwerpe (van goue bakke tot silwerstukke), weet ons dat daar net so ’n verskeidenheid van gelowiges is, maar net soos elke stukkie van die tempelgereedskap kosbaar en heilig vir God was, net so kosbaar en heilig is elke gelowige in die oë van God.

5.     TOEPASSING:
Ons sien in hierdie eerste hoofstuk van Esra ’n voortsetting van die Bybelse tema van die “oorblyfsel” (“remnant”).  Regdeur die Ou Testament sien ons telkens hoe God se volk in sonde val, waarop ons God se oordeel in aksie sien, maar elke keer red Hy ’n klein groepie mense vir Homself – ’n oorblyfsel.  Noag en sy gesin is ’n goeie voorbeeld hiervan.  Hier in Esra sien ons dat nagenoeg 43 000 mense terugkeer na Israel (Esra 2:64-67), in vergelyking met die ...ag honderd duisend weerbare man wat kon oorlog maak en Juda (se) vyf honderd duisend (2Sam.24:9), ’n totaal dus van 1,3 miljoen weerbare manne wat maar nagenoeg 422 jaar vantevore in Israel onder Dawid se heerskappy in Israel geleef het – voorwaar slegs ’n oorblyfsel! 

Hierdie tema van ’n oorblyfsel wat God telkemale spaar is ’n tema wat ook in die Nuwe Testament voortgesit word.  So sien ons bv. ’n klein groepie gelowiges wat God in 70 n.C. uit Jerusalem na Pella gelei het, toe die stad en tempel onder die hand van die Romeine verwoes is.  Paulus skryf ook oor hierdie tema in Rom.11:5 wanneer hy sê ~ Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is. 

God gaan steeds voort om ’n oorblyfsel van gelowiges wat getrou bly aan Hom, te bewaar en daarom hoef jy en ek nooit bevrees te wees dat God Sy rug op ons sal draai nie – Hy het ons uitverkies en daarom sal ons deel bly van God se oorblyfsel, omdat ons ...as Sy eiendom beseël (is) en die Heilige Gees in ons harte gegee (is) as waarborg van wat ons nog sal ontvang (2Kor.1:22). 

Die boek Esra in die algemeen en die eerste hoofstuk in die besonder, is ’n boek en hoofstuk van hoop en herstel vir elke gelowige.  Indien jou lewe deurspek is met sonde en rebellie teen God, is daar steeds hoop omdat God ’n God van vergifnis is, ’n God wat nie Sy rug sal draai op elkeen wat Sy aangesig soek en om vergifnis vra nie, want  1Joh.1:9 leer ons ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. En ons het uit hierdie eerste hoofstuk van Esra tog immers geleer, dat God ’n betroubare God is wat Sy beloftes nakom.

Ons verkeer baie dikwels ook in krisisse en mag ons dalk wonder of Hy waarlik die magtige en liefdevolle God is in wie ons nog altyd geglo het.  So dikwels lyk dit asof daar nooit uitkoms uit ons omstandighede gaan wees nie en tree daar dikwels twyfel in ons gemoed in.  Maar net soos met die ballinge van destyds, moet ons weet dat God in beheer is en het Hy reeds ’n meesterplan in plek vir ons lewe.  Ons moet net bly vashou aan Hom en bly uitroep na Hom en Hy sál uitkoms stuur.  Hy neem ons baie dikwels deur beproewing, maar Hy weet wat ons in ons omstandighede nodig het en al weet ons dikwels nie wat die uiteinde gaan wees nie, sál Hy toesien dat ons nie bo ons kragte versoek word nie.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 06 Maart 2011