Sunday, February 6, 2011

Paulus se Brief aan die Filippense - 08 (Ons Hemelse Burgerskap)

1.     SKRIFLESING:
Fil.3:17-21 ~ Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19 Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21 Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.  

2.     INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat Paulus vir ons sê dat ons navolgers van hom moet wees.  Ons het ook gesien dat hy eintlik daarmee bedoel, dat ons soos hy, Christus met ons hele hart moet soek en navolg en nie navolgers van die aardsgebondenes moet wees nie, want dan kan ons uiteinde ook dieselfde wees as hulle wat vyande van die kruis van Jesus Christus is, nl. die ewige verdoemenis.

In teenstelling met die uiteindelike bestemming van die aardsgebondenes, kom Paulus nou en hy stel aan ons die anderkant – die ander bestemming as die ewige verdoemenis, daarom dat hy in v.20 sê ~ Maar ons is burgers van die hemel.

Vir wie is hierdie besondere burgerskap beskore?  Met ander woorde, wanneer Paulus sê, maar ons is burgers van die hemel, is die vraag:  Wie is hierdie “ons” van wie hy praat?  Nadat ons hierdie vraag beantwoord het, sal ons kyk na ’n tweede vraag, nl. wat die verwagting moet wees van diegene wie Paulus hier “ons” noem? 

3.    ONS BURGERSKAP – WIE IS “ONS”?:
Wie is hierdie burgers dan van die hemel?  Hier is veral Kol.3:1 vir ons belangrik ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit

Burgers van die hemel, is dus volgens Kolossense diegene wie eerstens saam met Christus uit die dood opgewek is, maar wie tweedens voortdurend streef na die dinge daarbo waar Christus is.  Ons moet, ten einde hierdie vers reg te verstaan kyk na wat dit beteken om saam met Christus uit die dood opgewek te wees.

In die Grieks [sunegeirw (sunegeiro)] beteken hierdie woord opwek, letterlik om saam, vanuit ’n vleeslike dood op te staan, of opgewek te word in ’n nuwe geestelike en geseënde lewe wat toegewy is aan God. 

As die verklaring van hierdie woord opwek, dan sê dat so ’n persoon, saam opgewek word, moet ons onmiddellik vir onsself afvra:  Saam met wie?  Wel, die teks sê ondubbelsinnig, dat hierdie burgers van die hemel, saam met Christus opgewek is.  Hierdie feit bring die hele aspek van Christus se opstanding vir ons onder die soeklig en ons sal eers kortliks daarna moet kyk. 

Daar is weliswaar verskeie aspekte wat belangrik is t.o.v. die opstanding, maar vir ons doel wil ek hê dat ons na twee van hierdie aspekte sal kyk, nl. dat Christus se opstanding, die onbetwiste waarborg is, dat Sy Middelaarswerk t.w.v. sondaars volkome en geheel en al deur God die Vader aanvaar is.  M.a.w. Sy opstanding verseker dat God tevrede is met Christus se offer wat Hy gebring het aan die kruis en burgers van die hemel kan die fisiese dood met vertroue tegemoet gaan. 

God die Vader sê aan die uitverkorenes, dat Sy Seun se soendood nie tevergeefs was nie, trouens Hy sê dat Jesus se reddingsmissie na hierdie wêreld suksesvol voltooi is – Rom.1:4 ~ ...op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.  En dan veral die woorde in Hand.17:31 ~ ...want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.  Sonder die opstanding het burgers van die hemel geen versekering dat Christus se werk enige gewig by God dra nie.

Ons moet besef dat Christus se opstanding van kardinale belang is, omdat Hy daardeur die volgende fase van Sy verlossingswerk kon voortsit en dit is elke gelowige se  heiligmakingsproses wat onder leiding van die Heilige Gees geskied.  Sonder die opstanding sou daar geen moontlikheid van heiligmaking vir gelowiges bestaan het nie [1].

Burgers van die hemel was dus voor Christus se soendood, geestelik dood as gevolg van die erfsonde, maar deur Christus se opstanding, is elke uitverkorene se sonde vergewe en is sy versoening met God die Vader verseker en afgehandel.  Dit impliseer dus dat elkeen wat eens dood was, saam met Christus opgestaan het in ’n nuwe lewe.  Die opgestane Christus heers dus in elkeen wat aan Hom behoort (Ef.1:19-2:7), met duidelik herkenbare tekens, nl. die Vrug van die Gees.  Paulus se opdrag in Fil.1:17 is dus belangrik vir elkeen wat hom-/haarself ’n burger van die hemel noem ~ Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.

Om ons aanvanklike vraag dus te beantwoord – Burgers van die hemel, is diegene wat saam met Christus Jesus opgestaan het in ’n nuwe geestelike en geseënde lewe wat toegewy is aan God.

Wanneer dit die geval met iemand is, nl. dat hy saam met Christus uit die dood opgewek is, sê Paulus hier in Kol.3:1b dat daar nou ’n opdrag is wat uitgevoer moet word, nl. dat diesulkes nou moet strewe na die dinge daarbo.  Hierdie dinge wat daarbo is, verwys na die geestelike waardes wat deur Christus voorgeleef is; dinge soos, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23a) en waarop gelowiges hier op aarde hul lewe moet skoei.  Gelowiges se lewens moet dus so oorheers word deur beginsels van die hemel, dat hierdie hemelse beginsels hulle lewe hier op aarde sal rig.  John MacArthur stel dit pragtig wanneer hy sê:  When Christians begin to live in the heavenlies, when they commit themselves to the riches of the “Jerusalem above” (Gal.4:26), they will live out their heavenly values in this world to the glory of God [2].  Dit is so pragtig in ooreenstemming met wat Jesus self in Matt.6:33 gesê het ~ Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Burgers van die hemel het dus saam met Christus opgestaan en beywer hulle deurentyd vir die koninkryk van God, deurdat (soos Paulus dit in Fil.1:17 stel) hulle ...lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus (is)..

4.     ONS VERWAGTING:
Paulus gaan egter voort in Fil.3:20, deur te sê ~ Maar ons is burgers van die hemel (en dan hierdie woorde), van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.  Burgers van die hemel het dus nie alleen saam met Christus opgestaan nie en hulle beywer hulle nie alleen deurentyd vir die koninkryk van God in ooreenstemming met die evangelie van Christus nie – nee, hulle het ook ’n voortdurende verwagting – hulle verwag Jesus Christus as Verlosser!  Hulle kan nie wag om die ewige heerlikheid saam met Christus binne te gaan nie.  Hierdie woord “wag” [apek-decomai (apekdechomai)] is nie maar net ’n passiewe agteroor sit en wag nie – wag op so ’n wyse dat jy maar net so nou en dan daaraan dink nie – nee, dit is ’n aktiewe, angstige en opgewonde gewag – so asof jy die dae aftel en jy dit net nie meer kan uithou nie.  Dit is soos wat ek en Jeanne elke keer die kalender “op-kyk” om te sien hoeveel maande en later dae dit is voor ons kind wat permanent in Londen bly, kom kuier.  En hoe nader die tyd kom, hoe meer opgewonde raak ons – ons is aktief, deurdat ons sy kamer gereed kry en ons werk ’n program uit van wat ons alles gaan doen saam met hom.  Ons reël tye waar sy broers en skoonsussies saam met hom kan kuier – ons wag aktief en sorg dat alles haarfyn beplan is; alles netjies is en alles net die beste en aangenaamste vir hom sal wees wanneer hy hier is.

Paulus het baie te sê oor hierdie “wag” van gelowiges in 1Kor.15 (julle kan dit gerus gaan lees).  Soos wat ons alles “spikkenêrs” wil kry voor ons kind se koms, net so moet gelowiges alles in die stryd werp om hulle lewens bo verdenking te kry in hulle afwagting op Christus se koms.  Hoor wat sê Johannes in 1Joh.2:28 en 3:2-3 ~ En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie.....2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3 Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

Burgers van die hemel het saam met Christus opgestaan.  Burgers van die hemel strewe na die dinge daarbo en burgers van die hemel kan nie meer wag dat Jesus se wederkoms moet plaasvind nie!

Hierdie aktiewe verwagting wat gelowiges koester t.o.v. Christus se wederkoms, het een groot gevolg.  Paulus sê in v.21b ~ Hy (sal) ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.  Ten einde te verstaan wat Paulus met hierdie uitdrukking bedoel, moet ons na 1Kor.15:43-53 gaan kyk ~ ...wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44 ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ’n natuurlike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. 45 So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword. 46 Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike. 47 Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. 48 Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees. 50 Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. 51 Kyk, ek maak ’n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. 52 By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. 53 Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.

Paulus sê hier, dat gelowiges in hierdie lewe, natuurlike liggame het wat impliseer dat dit geskik is vir ’n aardse omgewing en lewe.  Hierdie natuurlike liggaam het ons van ons eerste ouer, Adam ontvang toe hy deur God, uit stof geformeer is en die lewensasem in sy neus ingeplaas is (Gen.2:7).  Die mens wat nou hier in hierdie lewe leef, moet en gaan egter op ’n stadium sterf, maar daar is en gaan ’n opstanding wees en wanneer dit gebeur, gaan die gelowiges se liggame, verheerlikte liggame wees wat geskik sal wees vir ’n geestelike omgewing en -lewe. 

Die opgestane liggaam sal dan ook die voltooiing van die reddingsproses wees en die uiteinde is dan dat gelowiges na die beeld van Christus gevorm sal wees en sal elkeen van hierdie verrese gelowiges, deel in Christus se heerlikheid en in ewigheid in die teenwoordigheid van God Almagtig deurbring!

Burgers van die hemel beskik dus oor ’n wonderlike en geseënde toekoms!  Paulus beskryf hierdie gebeurtenis as volg in 1Tes.4:16-18  ~ Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde

Net ter wille van die wêreld en onkundiges wat dalk mag vra, hoe dit moontlik is dat die eens natuurlike liggaam, na sy dood verander kan word in ’n geestelike- en verheerlikte liggaam, verskaf Paulus die antwoord in v.21a ~ Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp

Dit is so asof Paulus wil sê dat ons mos alreeds die antwoord op hierdie vraag het, want die krag wat nodig is om ’n liggaam te laat opstaan en so ’n liggaam te omskep in ’n verheerlikte liggaam, was mos alreeds gedemonstreer op verskeie wyses.  Dit is dieselfde krag wat God gebruik het, deur net ’n woord te spreek en die ganse kosmos het tot stand gekom (Gen.1:3-26);  dit is dieselfde krag wat vanaf God uitgegaan het toe Hy Jesus uit die dood opgewek het (Ef.1:19-20); dit is dieselfde krag wat gebruik is om elke burger van die hemel te wederbaar.  In kort, God is ’n almagtige God en volgens 1Kor.15:28 sien ons dat God alles aan Hom onderwerp.  Hierdie almagtige God wat tot al hierdie dinge in staat is, is dieselfde God wat die burgers van die hemel gaan laat opstaan uit die dood en aan elkeen van hulle ’n verheerlikte liggaam skenk. 

5.     AFSLUITING:
Die vraag waarmee elkeen van ons vandag gekonfronteer word, is of ons waarlik burgers van die hemel is?  Is ons waarlik saam met Christus uit die dood opgewek? 

Is die offer wat Christus aan die kruis gebring het, ook vir jou gebring?  Het jy opgestaan in ’n nuwe lewe?  Gaan jy die dood met opgewondenheid en ’n onuitblusbare verlange tegemoet, omdat jy ’n verwagting het van ’n ewige lewe?   Lei jy ’n toegewyde lewe aan Christus?  Werk jy saam met die Heilige Gees aan jou heiligmakingsproses?

Om John MacArthur se aanhaling te herhaal en effe te verander, wil ek vir jou vra:  Are you living in the heavenlies?  Have you committed yourselve to the riches of the “Jerusalem above”?  Are you living your heavenly values out in this world to the glory of God?

Die eerste geboorte skenk aan gelowiges, dít wat natuurlik of aards is, terwyl die tweede geboorte aan die gelowige skenk, dít wat geestelik (of hemels) is.  God verwerp die eerste (natuurlike) geboorte en daarom sê Hy, dat die mens weergebore moet word.  Hy het Kain verwerp en Abel gekies.  Hy het Abraham se eersgeborene Ismael verwerp en Abraham se tweede seun Isak gekies.  Hy het Esau verwerp en Jakob gekies,  Indien jy op jou eerste, vleeslike geboorte staatmaak vir redding, sal jy verdoem wees vir ewig; maar indien jy waarlik die tweede geboorte (wedergeboorte) ervaar het, sal jy God se ewige seën ervaar.  Dan sal die dood geen angel vir jou hê nie, want Christus het die angel van die dood getrek. 

Die antieke Grieke het geen hoop gehad op ’n lewe na die dood nie en daarom is daar op baie van hulle grafstene geskryf, dat die dood hul grootste vyand is.  Die graf is egter nie die eindbestemming vir die mens nie, want in Christus Jesus kan elke mens hoop hê om ’n burger van die hemel te wees, maar dan moet jy bereid wees om die knie te buig voor Jesus Christus en jou ganse lewe aan Hom toewy in gehoorsaamheid en diensbaarheid.


Van der Walt, Nico.  Herout No.7 – Die Opstanding van Jesus Christus, p.3&4.
MacArthur, John.  1992.  The MacArthur New Testament Commentry – Colossians & Philemon. Chicago. : The Moody Bible Institue.  249p.