Sunday, February 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 29 (Die Eerste Dier - 01)

1.     INLEIDING:
Dit kan sonder twyfel gesê word dat hoofstuk 13 waarskynlik die gewildste hoofstuk van die hele boek Openbaring is.  Hierdie hoofstuk fokus op die “Dier”, of die “Bees” (Engels = “beast”) en meer korrek moet daar gepraat word van die “Diere”.  Daar word van die eerste Dier in 13:1-10 gepraat en van die tweede in 13:11-18.  Daar word 37 keer van die Dier in Openbaring gepraat en 16 van daardie kere vind ons in hoofstuk 13.  Hierdie hoofstuk het waarskynlik ook die meeste aanleiding gegee tot sg. “koerant-eksegese”, of  onbybelse topverkoper romans (dink maar o.a aan Frank Peretti en Rebecca Brown se boeke), rolprente (dink aan 2012) en allerlei “vreesaanjaende riemtelegramme” soos o.a. dat die einde naby is, want kyk net na al die vloede in Australië en hier ter plaatse en dan word daar nog bygevoeg, dat alles in Australië gaan begin – en wanneer?  Sept. 2012 (die afgelope week het ek die nuutste datum gehoor:  Mei 2011).  Hierdie gewaagde en onbybelse uitsprake kom al jare voor en voorspelde datums kom en gaan en steeds sluk liggelowige mense nuwe valsprofete se “profesieë”!

Baie van hierdie “profete” gebruik die woord “Dier” en die “Antichris” uitruilbaar – dit terwyl die woord “Antichris” nêrens in Openbaring gebruik word nie (slegs 1Joh.2:18, 22; 4:3 en 2Joh.7).  Toe die persoonlike rekenaar bekend geraak is, was dit selfs die Antichris of die Dier genoem – dink maar aan kredietkaarte, asook die “micro chip”.  Politieke en geskiedkundige gebeure regoor die wêreld het soortgelyke reaksies ontlok – dink aan Hitler en “Moedertjie Rusland”.  Dink aan die Europese Unie (aanvanklik was tien Europese lande deel van die E.U. en het mense gesê dat dit die tien horings van die Openb.13:1-Dier verteenwoordig en daarom gaan die leier van die E.U. die Antichris wees) en selfs die V.V.O.  Op 13 Mei 1981 het die Pous ’n sluipmoord aanval oorleef en is daar gesê dat dit ’n bewys is dat hy die Dier is, want hy kon onmoontlik nie so ’n  dodelike wond oorleef het nie en daarom moet hy die Dier wees.  Selfs Nelson Mandela se gevangenisnommer (46664) ken die titel van die Antichris aan hom toe.

Die hartseer gevolg van dit alles, is dat die Evangeliese kerk vandag met die spreekwoordelike eier in die gesig sit, as gevolg van al hierdie vals voorspellings en uitlatings.    Al hierdie nonsens en vals bewerings kan maklik in die kiem gesmoor word, as almal net opnuut wil kyk na die eerste sewe verse van Openbaring, waar daar in geen onduidelike taal gesê word dat al die profesieë in Openbaring “binnekort” ná die skryf van die brief aan die sewe gemeentes, sou plaasvind (m.a.w. binne die leeftyd van die baie van die oorspronklike ontvangers van die brief).  Ons kan al hierdie bewerings dus niks anders noem as eskatologiese nonsens nie!

Openbaring gaan nié oor Christus se wederkoms nie, maar oor God se oordeel oor Jerusalem gedurende die eerste eeu, wat sy hoogtepunt in 70 n.C. sou bereik.  Daarom hoef ons nie die koms van ’n verskriklike en afskuwelike Dier te vrees nie, trouens ons moet in geloof leef, nl. dat ons dieselfde oorwinning sal behaal as wat die vroeë kerk behaal het, toe hulle politieke en godsdienstige vervolging ervaar het.

Openbaring 13 stel ons voor aan twee Diere met wie die kerk van die eerste eeu gekonfronteer is:  ’n Politieke Dier (13:1-10) en ’n godsdienstige Dier (13:11-18).  Ten spyte van die teenstand wat die kerk van die eerste eeu ervaar het, het hulle m.b.v. God se genade oorwin en ons kan dieselfde oorwinning en in die lig van die vorige studie, op dieselfde arendsvlerke weggevoer word na veiligheid van ons huidige swaarkry en vervolging, deur God se genade – ons moet net glo!

Wanneer ’n mens Skrif interpreteer, is daar drie beginsels wat altyd in gedagte gehou moet word: 
1.     Daar moet eerstens na die kontemporêre konteks gekyk word en dit moet deurentyd in gedagte gehou word.   Hier moet ons dus deurgaans Openb.1:1 in gedagte gehou ~ God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak.  En Johannes verseker sy lesers (sou hy dan lieg hieroor!) dat vervulling hiervan, binnekort sou plaasvind ~ ...want die eindtyd is naby (1:3). Soos aan die begin gesê is:  2 000 jaar is nie “binnekort” nie en ook nie “naby” nie.  Ons moet ons dus self in die sandale van die oorspronklike ontvangers van Johannes se brief plaas en gebeure in Openbaring deur hulle bril interpreteer.  Die Dier moes dus iemand of iets gewees het met wie die eerste eeuse lesers bekend was.  Dit was aan hierdie eerste eeuse gelowiges dat Johannes geskryf het ~ Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig (Openb.13:18).  Dit sou tog onmoontlik vir die eerste eeuse gelowiges gewees het om die identiteit van die Dier “wat in 2012 sou verskyn”, te kon bepaal – om die minste te sê, dit sou absurd van Johannes gewees het om dit van hulle te verwag, want dit sou geen relevansie gehad het en geen troos vir hulle ingehou het in hulle vervolgde omstandighede nie.

2.     Tweedens moet ons die verbondskonteks in gedagte hou wanneer ons ’n vers of paragraaf, of hoofstuk wil interpreteer en – spesifiek dan nou in hierdie geval, Openb.13.  Om dit eenvoudig te stel, handel Openbaring oor God wat Sy verbondoordele oor ’n ongehoorsame Judaïsme in vervulling bring.  Dit impliseer dus dat Openbaring vóór 70 n.C. geskryf moes gewees het, want (soos ons nou al verskeie kere gesien het) Judaïsme het in 70 n.C. tot ’n baie vinnige einde gekom met die val van die Tempel en Jerusalem.  Om dit eenvoudig te stel, die Dier moes dus iets of iemand gewees het wat deur God gebruik was om Sy oordeel ten uitvoer te bring.  Indien die profesie neergeskryf was voor 70 n.C., moes die Dier gelewe het voor 70 n.C.  M.a.w., die Dier moes iets of iemand gewees het wat God reeds voor 70 n.C. begin gebruik het om Sy oordele oor ’n ongehoorsame Israel ten uitvoer te bring.

3.     Laastens, moet ons die konteks waarbinne hierdie gedeelte geskryf is, in ag neem.  Openb.13 word onteenseglik verbind aan Openb.12.  Indien die eerste 12 hoofstukke daaroor gegaan het dat Openbaring handel oor gebeure wat gedurende die eerste eeu na Christus tot vervulling sou kom, dan is dit tog sekerlik eksegeties korrek om ook te sê dat dit die geval met hoofstuk 13 moet wees – dit sou eksegeties inkonsekwent gewees het om hoofstuk 13 anders te interpreteer, nl. dat dit in ons tyd, of selfs in die toekoms nog tot vervulling moet kom.  Konsekwente en korrekte eksegese vereis dus dat Openb.13 ’n profesie is oor iets wat tot vervulling moes kom in die lewe van die eerste eeuse gelowiges.

In hoofstuk 12 het Johannes ’n “hemelse visie” gehad van wat aan die gang in die hemel is, tewens wat reeds vir eeue aan die gang was, nl. die geveg tussen Migael die Aartsengel (Jesus Christus) en die groot rooi draak.  Die uiteinde weet ons nou al, was glansryk:  Satan was oorwin en uit die hemel en wel op die aarde, neergewerp (12:12-13). Johannes is egter nou “terug op die aarde” en letterlik staan daar in 13:1 dat Johannes op die sand by die see gestaan het (Griekse teks) en toe sien hy iets (’n verdere visioen)!

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Openb.13:1-3 ~ En toe het ek ’n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name. 2 Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee. 3 Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop.  Die Dier kom uit die see uit.  Ons het regdeur ons studie van Openbaring gesien dat die see, die heidennasies verteenwoordig (Openb.17:5 ~ Verder het hy vir my gesê: Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale).  Hierdie Dier of Diere kom dus vanuit die heidendom en in hierdie geval verteenwoordig dit ’n heidennasie.  Die vraag is, watter nasie?  Openb.17 (wat ook gesien kan word as iets van ’n kommentaar oor Openb.13) kan ons baie help ten einde ’n antwoord te vind op hierdie vraag.  Terwyl ’n Engel later in Openb.17, hierdie Dier aan Johannes beskryf, sien ons dat hy in v.9 sê ~ ...Die sewe koppe is sewe berge....  Die Dier kan derhalwe “die Dier met die sewe koppe”, genoem word.  Wanneer die Dier so genoem word, gee dit onmiddellik sy identiteit weg.  Onthou, ons het gesê dat die Dier verwys in hierdie geval na ’n heidennasie en hierdie beskrywing in 17:9 sê vir ons wie hierdie heidennasie is, nl. Rome, want Rome staan ook bekend as die “stad op sewe heuwels” (die Palatyn, Kapitolyn, Quirinaal, Esquilyn, Viminaal, Caelianus en Aventyn heuwels - wat later die hoof-stedelike gebied van dié stad gevorm het, maar wat vroeër klein dorpies en plasies was. Hierdie afsonderlike gemeenskappe het geleidelik tot een gemeenskap saamgegroei, wat die laerliggende gebied langs die Tiber-rivier ingesluit het. Dit is seker dat daar teen 600 v.C. 'n aansienlike dorp bestaan het wat in die Antieke Tyd as Roma bekend was [1]).


Daar word egter ook na Rome verwys as Die Dier en is dus verteenwoordigend van die Romeinse owerheid.  Rome was die grootste en sterkste wêreldmag in die tyd wat Johannes hierdie brief geskryf het.  Die koppe verwys na die kollektiewe Rome en individuele konings as verteenwoordigers van politieke Rome.  Ter verduideliking (in kort):  Elke heuwel was op ’n tyd sy eie koninkrykie en het sy eie koning gehad en saam het hulle die groter Rome regeer (uiteraard is dit baie meer ingewikkeld as wat ek hier baie kortliks probeer aandui, maar ons is nie nou besig met ’n politieke- of geskiedenis kursus nie – nie waar nie?).  Ons sal so bietjie later weer kyk na hierdie “koppe”.

Ons sien dat die eerste Bees, nie net “sewe koppe” gehad het nie, maar ook “tien horings”.  Indien die “sewe koppe”, die sewe konings verteenwoordig het, dan moet die “tien horings” verwys na ander heersers wat ondergeskik was aan die konings (Openb.17:12-13 ~ Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13 Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking).  Hoogs waarskynlik verwys hierdie “ondergeskiktes” na die goewerneurs van die tien Romeinse provinsies wat tydens Johannes se skrywe, regeer het (die tien provinsies het heel moontlik uit die volgende lande bestaan: Italië, Egeïese, Asië, Sirië, Egipte, Afrika, Spanje, Brittanje en Duitsland).

Ons lees verder dat daar op hierdie koppe van die Dier, godslasterlike name geskryf was.  Die “name” was op die koppe en nie die horings geskryf nie, omdat dit die konings was wat as goddelik verklaar was en nie die goewerneurs nie.  En hierdie “name” was waarskynlik die “goddelike” titels wat hierdie konings aan hulleself toegedig het.

Die Bees wat Johannes dus gesien het, was ’n bose en veragtelike wese, wat ’n bose en veragtelike nasie verteenwoordig het en wat daarop uit was om God se plek op onregmatige wyse in te neem.  En soos wat ons binnekort sal sien, was dit waar van antieke Rome.

Johannes gaan voort deur te sê dat hierdie Dier, ...soos ’n luiperd gelyk (het). Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu (v.2).  Hierdie beskrywing herinner ’n mens aan ’n vorige politieke profesie en wel in Dan.7:1-8 ~ In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2 Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3 Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4 Die eerste het soos ’n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee. 5 Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ 6 En toe ek weer sien, was daar nog ’n dier, een soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van ’n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7 My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar ’n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad. 8 Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

Dit is opmerklik dat “Johannes se Dier”, ’n samestelling is van “Daniël se eerste drie Diere”.  Die eerste Dier wat Daniël gesien het, was soos ’n leeu.  Die tweede soos ’n beer en die derde soos ’n luiperd, terwyl die vierde beskryf was as skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk met ystertande (v.7).  Daniël se visioen kan maklik geïnterpreteer word, wanneer dit vergelyk word met Nebukadneser se droom in Dan.2, asook met wêreldgeskiedenis.  U sal onthou dat Nebukadneser gedroom het van ’n groot beeld met ’n kop van goud; ’n bors en arms van silwer; ’n maag en heupe van brons; bene van yster en voete van yster en klei (Dan.2:25-35).  Die interpretasie van die goue kop, was dat dit Babilon verteenwoordig het (Dan.2:36-38) en die res van die beeld word geïnterpreteer as die Mede-en-Perse (silwer), die Grieke (brons) en die Romeine (yster en klei).  Die vier Diere van Dan.7 is net ’n verskillende weergawe van dieselfde koninkryke:  die leeu het die Babiloniërs verteenwoordig; die beer die Mede-en-Perse; die luiperd was die Grieke en die skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk Bees was die Romeine.

Johannes borduur voort op hierdie visioene wanneer hy hierdie skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk Bees (wat in sy dag bestaan het) beskryf en hy gaan voort, deur te sê dat hierdie Bees, ’n samestalling en kulminasie (hoogtepunt) van die vorige drie politiek Beeste was wat hierdie huidige een voorafgegaan het.

Johannes sien dus in hierdie visioen van hom, ’n vervulling van die Daniël se visioen, nl. die finale heidense wêreldmag wat deur die Groot Rooi Draak geïnspireer was, daarom dat hy in Opneb.13:2c sê ~ Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee.  Hierdie is dan ook die eenparige slotsom waartoe al wat kommentator is kom (synde pre-millennialis, of post-millennialis).  Die verskil is dat die Pre-millennialiste (Futuriste) glo dat Johannes hier praat van ’n herrese Romeinse Ryk wat iewers in die verre toekoms gaan herleef (baie glo dat dit in ons tyd sal wees - 2012?), terwyl die Post-millennialiste (en dit is waar ek my skaar) glo dat Johannes hier praat van die Romeinse Ryk wat in sy tyd bestaan het.  Dit is moeilik om te verstaan hoe die Futuriste kan glo dat daar nog ’n herrese Romeinse Ryk in die toekoms gaan ontstaan, terwyl daar nêrens in die Woord sprake van so ’n toekomstige gebeurtenis gaan wees nie.  Jay E. Adams skryf op p.76-77 van sy boekie “The Time is at Hand” [2], Why, then, speculate that “revived” Rome and Jerusalem will be revived and retsored to exactly what they once were, only to fall again precisely as they once did?  Is it not apparent that this is an artificial interpretation invented to circumvent the clear intent of the passage?  That Jerusalem and Rome should fall again exactly as they did in the past is not only improbable, but virtually impossible.  That such a wooden interpretation must be forced upon the book in order to explain away the obvious meaning of the revelation, is by itself a very strong argument for the contemporary view.  Dit is duidelik dat Johannes, die Romeinse Ryk in gedagte gehad het toe hy Openbaring geskryf het.

In Daniël se visioen is daar ook sterk getuienis dat die vierde Dier die Romeinse Ryk verteenwoordig het.  Daniël se visioen het oor vier opeenvolgende politieke koninkryke gehandel en die vierde (Rome) het direk gevolg op die derde, nl. Die Griekse Ryk.  N.a.v. van Nebukadneser se droom in Dan.2, sou die vierde koninkryk (die yster-en-klei koninkryk) in die tyd van Christus geregeer het.  Jesus Christus (die “klip” wat later ’n “rots” sou word – Dan.2:34) sou daardie koninkryk verwoes en Sy eie vestig (die “klip” wat ’n “groot rots sou word wat die hele aarde sou bedek - Dan.2:35).  Daar is geen (en dit is belangrik) aanduiding in die ganse Daniël óf Openbaring wat daarop dui dat die vierde Dier sou sterf en weer op ’n stadium lewend sou word en ’n millennium later sou terugkeer nie!

In kort, die vierde Dier verteenwoordig dus die Romeinse Ryk wat aan bewind was in Johannes se tyd.  Hierdie feit word ondersteun deur ’n boek van Publius Cornelius Tacitus (55n.C. – 120 n.C.) wat oor die geskiedenis van die Romeinse Ryk verslag gelewer het.  Hy noem o.a. in hierdie geskrif dat die Romeinse Ryk vanaf die derde eeu voor Christus, sy invloed laat geld het in Europa, Asië en Afrika.  Wat egter veral van belang is, is dat die verdere datums wat hy noem en spesifiek die beëindiging van die Romeinse Ryk, die tydperk insluit waartydens Johannes, Openbaring geskryf het, asook die feit dat dit die laaste keer was, dat een land, heerskappy sou voer oor die ganse Middellandse See gebied.


[2]ADAMS, Jay E. 2000.  The Time is at Hand.  Woodruff, SC : Timeless Texts.  132p. (ISBN: 1-889032-24-7)