Sunday, February 20, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 10 (“Die Gawe van Vergenoegdheid!”)

1.     SKRIFLESING:
Fil.4:10-13 ~ Ek was baie bly in die Here dat julle na so ’n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. 11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. 12 Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. 

2.     INLEIDING:
Ons kom nou aan die einde van Paulus se brief aan die gemeente van Filippi en hy spreek sy dank en waardering uit teenoor die gemeente vir hul ondersteuning.

Ons moet besef dat Paulus nie in die bediening gestaan het ter wille van geld nie.  Hy skryf in 1Tes.2:5 ~ Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie.  Paulus was ’n tentmaker en hy het dit bly doen terwyl hy as Apostel, die gemeentes in Klein-Asië en elders bedien het met die Woord.  Ons sien dit bv. in Hand.18, toe hy op ’n keer na Korinte gegaan het en by Pontus en Priscilla, wat ook tentmakers was, gaan bly het en saam met hulle gewerk het, maar op die Sabbatdag het hy na die sinagoge gegaan om daar met die mense te redeneer en hulle te probeer oortuig.

Ons sien hierdie feit ook duidelik in Fil.4:11-13.  Hy hanteer die hele aangeleentheid van “gee en ontvang” in v.15 en hy probeer hard om ’n balans te handhaaf tussen die Filippense se gulhartigheid en sy finansiële onafhanklikheid. Dit laat ’n mens dink aan Abraham en die koning van Sodom – Gen.14:23 ~ ...ek (sal) niks van jou vat nie, nie eers ’n garingdraad of ’n skoenveter nie, sodat jy nie kan sê: ‘Ek het vir Abram ryk gemaak’ nie.

Paulus behandel dan nou in hierdie gedeelte, drie baie belangrike beginsels.  Hy begin egter eers oor sy eie vergenoegdheid te praat en daarna spreek hy drie beginsels t.o.v. vrygewigheid aan, nl.:
·           Vrygewigheid as Karaktertoets;
·           Vrygewigheid as Geestelike Belegging en
·           Vrygewigheid as Aanbiddingsoffer.

Hy sluit sy brief af met ’n kort groetewoord.  Ons sal D.V. volgende week kyk na hierdie drie beginsels, asook die groetewoord. 

3.     PAULUS SE VERGENOEGDHEID EN GELOOF:
Vir die eerste keer maak Paulus werklik melding van die bydrae wat die gemeente in Filippi saam met Epafroditos na hom gestuur het en hy sê dat hy “in die Here” baie bly daaroor is.  Hy het moontlik reeds in 1:3-5 daarna verwys, toe hy hulle bedank het vir hulle samewerking aan die verkondiging van die evangelie, maar of hy op daardie stadium na geldelike, of ander materiële bystand verwys het, is nie seker nie.

Hy bedank hulle egter nou hier in 4:10.  Die vraag is egter:  Waarvoor bedank hy hulle hier? Bedank hy hulle vir ’n geldelike bydrae?  Bedank hy hulle vir ’n materiële bydrae?  Of bedank hy hulle bloot net vir die feit dat hulle vir hom omgee en dat hulle ’n brief vir hom gestuur het, saam met Epafroditos wat hom kom versorg en bystaan het?   Ons vind ’n gedeeltelike antwoord op hierdie vrae in die konteks van ons gelese gedeelte en dit is dat hulle benewens die brief en Epafroditos se hulp en teenwoordigheid, hom beslis ondersteun het, deur geld en/of materiële middele vir hom te gestuur het.

Paulus begin hierdie laaste gedeelte van sy brief op ’n baie eienaardige wyse, wanneer hy iets sê wat ’n mens voel hy eintlik maar kon gelos het, maar uiteindelik sien ’n mens dat dit baie goed was dat hy die gesê het.  Hy begin deur te sê ~ Ek was baie bly in die Here dat julle na so ’n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink.  Dit kan op die oog af klink asof hy sê:  Sjoe, ek het al begin dink dat julle van my vergeet het, maar uiteindelik dink julle darem aan my en stuur julle ’n ietsie vir my!  Hy stel enige moontlike misverstande egter onmiddellik reg deur hulle die versekering te gee dat hulle hom nog nooit in die verlede vergeet het nie, maar hy is bewus daarvan dat dit vir hulle vantevore, nie maklik was om hom te ondersteun nie.  Bo en behalwe die feit dat dit vantevore vir hulle moeilik was om iets vir hom te gee, gee hy  hulle ook die versekering dat hy niks van hulle verwag het nie, want dit is nie sy gesindheid nie en hier het hy waarskynlik 2Kor.11:9 in gedagte en soos verlede week gesien, was die Filippense waarskynlik ook bewus van hierdie skrywe van Paulus aan die Korintiërs ~ Toe ek by julle was en geld kortgekom het, het ek niemand lastig geval nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ruim in my behoeftes voorsien. Ek het gesorg en sal ook verder sorg dat ek in geen opsig vir julle ’n las word nie.

Hy stel hulle egter ook onmiddellik gerus deur vir hulle te sê dat hy hulle nie verkwalik vir die feit dat hulle hom nie regtig vantevore kon ondersteun nie, want net soos in die geval van die Korintiërs, het hy nie nodig gehad om hulle “in die oë te kyk” vir versorging nie.  Waarom nie?  Omdat, soos hy getuig, hy nooit ’n tekort het nie, ongeag die omstandighede waarin hy verkeer, want (en hierdie is ’n uiters belangrike “want”) hy het geleer om te alle tye tevrede te wees met sy omstandighede – of dit nou armoede is en of dit rykdom is; of hy honger ly en of hy genoeg het om te eet.   Hy hou ongetwyfeld vas aan sy eie woorde in 2Kor.12:9, toe hy gesê het ~ En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Paulus het uit persoonlike ervaring geleer wie en wat Sy Verlosser is en daarom het hy niks te vrees oor sy huidige en toekomstige omstandighede nie en daarom is hy nie besorgd oor sy tydelike omstandighede, of sy fisiese versorging nie.  Hy ken ’n God wat hom tot op hede versorg het en wat hom daarom ook nie in die toekoms sal versaak nie, maar sal voortgaan om hom ook in die toekoms te versorg.  Hy het daarom geen behoefte om aan die gemeente in Filippi te sê of hy ’n tekort het of nie.  Dit sou natuurlik nie verkeerd van hom gewees het om dit te doen nie, maar hy is so oortuig van sy hemelse Vader se versorging, dat hy nie die nodigheid daarvan insien om sy behoeftes bekend te maak nie.  Die enigste keer dat hy iets van iemand gevra het, was toe hy in 2Tim.4:13 vir Timoteus gevra het, dat wanneer hy na Paulus kom, hy Paulus se reismantel, sy boeke en veral die perkamente vir hom moet bring.

Het Paulus ’n “individualiteitsstreep” weg gehad?  Was hy “sondig-onafhanklik” van mense?  Ek glo nie, veral nie as ’n mens kyk na hoe hy bladsy op bladsy in die Nuwe Testament geskryf het oor liggaamslewe binne die gemeente, ens.  Nee, ek is van oortuiging dat hy net met sy hele hart op sy hemelse Vader se volgehoue versorging vertrou het en dat dit nie nodig was om sy behoeftes aan broers en susters bekend te maak nie, want hy het God se versorging, eerstehands in sy lewe ervaar.

Is jou vertroue in die Vader ook so sterk?  Ons dien ’n almagtige en soewereine God.  Ek wil jou uitdaag om God op Sy woord te neem en Hom ook onvoorwaardelik te begin vertrou vir jou bepaalde omstandighede; jou fisiese nood; jou geestelike nood; jou emosionele nood.

Dit is egter so dat ons nie hierdie lewenspatroon oornag kan aanleer nie.  Paulus het dit ook nie oornag aangeleer nie.  Dit het slegs vir hom gebeur, deur God keer op keer en weer ’n keer, keer op keer te vertrou, want as dit van nature gekom het, sou hy die nooit geleer het nie.

Eenvoudige vertroue en geloof in ’n versorgende, vertroostende, ondersteunende Vader, is nié ’n gewaagde en onseker sprong in die donker nie; dit is eerder soos die vas en seker tree van ’n kind na die liefdevolle en uitgestrekte arms van sy ma.  Geloof is vertroue in God – dat hy werklik leef; dat Hy daar is; dat Hy omgee; dat Hy getrou is; dat Hy ingryp en tussenbeide kom ..... en dat Hy Sy arms liefdevol en beskermd om ons vou, wanneer ons, onsself in sy arms gooi.

Het julle al agter gekom hoe maklik dit vir ’n kind is om te glo, maar hoe moeilik dit vir ’n volwassene is (en dit raak al moeiliker hoe ouer ’n mens word!).  Luister ’n bietjie wat gebeur het toe Jesus die lammes en die blindes genees het in Matt.21:14-15 ~ Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. 15 Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig.  Die kinders het God geloof en geprys vir Sy wonderdade, terwyl dit die volwassenes was wat hulle daarteen “gestamp” het – wat verontwaardig was daaroor!  Die eenvoud van kinderlike geloof word vir ons pragtig in Hebr.11:6 beskryf ~ As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

Om God dus volkome te vertrou is eintlik “kinderlik” eenvoudig.  Eerstens moet jy na God gaan.  Tweedens moet jy glo dat Hy waarlik God is en derdens moet jy Hom vertrou dat Hy Sy woord sal hou.

Die probleem met die meeste gelowiges wanneer hulle besluite moet neem, is dat hulle besluite nie gedryf word deur ’n vertroue in God nie, maar deur ’n vrees vir die toekoms.  Bv.:  Wat gaan van my word wanneer ek oud is en nie meer kan werk nie?  Die teenoorgestelde van vrees, is geloof.  Wanneer jy dus te doen het met vrees in jou lewe, moet jy eerstens verstaan wat geloof is.  Hebr.11:1 beskryf geloof as volg ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.  In God se soewereine plan met ons lewe, is dit Sy wil dat ons bepaalde behoeftes moet ontwikkel, sodat ons geloof en vertroue in Hom ontwikkel en versterk kan word.  Ons moet dus al ons huidige én toekomstige behoeftes sien as geleenthede om ons geloof te oefen en te versterk.  Hebr.11:6 leer ons dat God ’n beloner is van diegene wat Hom soek.  En dit is presies hier waar die “tekkie die teer slaan”.  Glo ek dit regtig – glo ek regtig dat God ’n beloner is van diegene wat Hom soek?

Geen gelowige kan God waarlik dien, maar terselfdertyd in vrees lewe nie.  In Matt.6:24 sê God dat ons te staan kom voor ’n swart-wit keuse – ons moet kies (in Matt.6 se geval) tussen God of Mammon.  Dit is presies dieselfde met ons vertroue en geloof in God – óf ons vertrou God volkome, óf ons vertou Hom nie.

Ons groot probleem met wantroue en ongeloof is omdat ons, ons lewe en ons gebedslewe selfgesentreerd deurbring.  Het jy al ooit iets van God gevra en wanneer God dit nie vir jou gee nie, is jy teleurgesteld in God?  Is dit nie vreemd dat ons gewoonlik verwag dat God se antwoord “ja” moet wees nie?  Ons moet altyd in gedagte hou dat daar vele redes is waarom God nie altyd reageer en ons versorg soos wat ons dit graag wil hê nie – om enkele redes te noem:
·           Ons motiewe is nie altyd suiwer wanneer ons vra nie ~  As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig (Jak.4:3).
·           Dit is die verkeerde tyd volgens God se plan (Luk.11:3-10).
·           Dit wat ons vra, of dit waaraan ons ’n behoefte het, is soms teenstrydig met God se groter soewereine plan (Hand.21:13-14).
·           Jy is hier op aarde om God te dien.  Met ander woorde, God is nie daar om jóú te dien nie ~ Wie wil aan My eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My (Job 41:2).

Hoe kan jy leer om God te vertrou vir jou behoeftes (materieel, sowel as geestelik en emosioneel)?
·           Jy moet God se voorsiening in jou lewe aanvaar  ~ ...want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8 As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees (1Tim.6:7-8).  Eerder as om jou vertroue in die wêreldse voorsieners van jou behoeftes te plaas – bv., jou werkgewer; of die staat; of jou man; of jou raadgewer, moet jy jou vertroue en genoegdoening plaas in die Bron van jou Voorsiening.
·           Begin fokus daarop om jou vertroue daadwerklik in jou hemelse Vader te plaas – dit is soos om op Don Francisco se tema voort te borduur wanneer hy oor die liefde sing, is dit presies dieselfde met geloofsvertroue:  “It’s an act of your will”.
·           Omdat God nie volgens ons tydskale “werk” nie, moet jy leer om geduld aan die dag te lê – jy moet leer om te wag. Om God se versorging en betrokkenheid in jou lewe in twyfel te trek, net omdat Hy nie volgens jou tydskale reageer nie, mag nie die rede wees waarom jy twyfel in God se betrokkenheid in jou lewe nie.  Josef het hoogs waarskynlik nie geweet wat God se langtermyn doel was met sy ontvoering na Egipte nie.  Hy hét egter geweet dat hy elke dag maar net moes doen wat God van hom verwag het om te doen – en hy het dit gedoen.  Dit is waarom Jesus in Matt.6:34 gesê het ~ Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.
·           Vierdens moet ons getrou en toegewyd bid.  Geloof en vertroue is nie moontlik sonder gebed nie – Paulus sê nie verniet in 1Tes.5:17-18 ~ Bid gedurig. 18 Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Paulus het egter nie net  onwrikbaar in sy Skepper geglo en in Sy Vader se versorging geglo nie.  Nee, hy was ook tevrede – meer nog, hy was vergenoegd.  Wat beteken dit om vergenoegd (Eng. = content) te wees?  Die Griekse woord (autarkh~ - autarkes) dui op ’n onafhanklikheid van andere en ’n volkome tevredenheid met wat jy het.  Dit gaan egter nie hier oor ’n heidense selfvoldaanheid nie, maar ’n tevredenheid met wat God in jou lewe wil – wat Hy aan jou gee.  Ons as gelowiges  se vergenoegdheid is dus gesetel in die wete dat ons niks in hierdie lewe ingebring het nie en dat ons niks daaruit kan neem nie en daarom moet ons, soos Paulus dit aan Timoteus gestel het ~ As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.  Paulus sê net ’n bietjie vroeër in v.6 aan Timoteus, dat ...Die godsdiens ’n groot wins (is) as iemand tevrede is met wat hy het (1Tim.6:6-8).

Die teenoorgestelde daarvan om vergenoegd te wees, is om te kla.  Ek praat Woensdag oor die foon met iemand wat ek ongeveer 30 jaar laas mee gepraat of gesien het (iemand wat julle nie ken nie) en die volle duur van die gesprek het hy net aanmekaar gekla.  Hy het o.a. gekla oor die feit dat daar al weer, volgens die Weerburo ’n klomp reën oppad is, dat die munisipaliteite net nie meer begraafplase in stand hou nie, want daar word nie meer geskoffel nie en die heinings lê op die grond, ens.  Hy’t gekla oor die feit dat aftreeoorde onbetaalbaar duur geraak het en dat kinders weer na hul ouers sal moet begin omsien in hul oudag.  Die afgelope twee weke het menige mens op “Bakkiesboek” (my benaming vir “Facebook”) onophoudelik gekla oor die hitte.  Nee, die Woord van God leer ons, dat ons tevrede moet wees met ons omstandighede – te alle tye, onder alle omstandighede. 

Waarom moet jy as gelowige vergenoegd wees met wat jou omstandighede of situasie ook al is?  2Kor.12:10 verskaf aan ons die rede ~ Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.  Jy as gelowige, indien jy jouself dissipel van Jesus noem, móét voortdurend identifiseer met Christus en dink maar net aan wat Hy alles deurgemaak het – veel, veel erger as wat ek en jy ons kan indink of al ooit beleef het.  En waarom?  Sodat jy en ek vrygekoop kon word van God se wraak op die sonde.  Ons moet dankbaar wees – nee Paulus sê, ons moet bly wees oor ons situasie, ongeag wat dit ook al is, want daardeur identifiseer ons met ons Meester.

Daar is ’n belofte opgesluit in die Woord vir elkeen wat vergenoegd is en dit is aan hierdie belofte wat Paulus vasgehou het – Hebr.13:5 ~ Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.

Om vergenoegd te wees is nie iets wat natuurliker wys ontwikkel, of ontstaan, net omdat jy ’n gelowige is nie.  Van nature wil geen mens vergenoegd wees nie.  Geen mens hoef te leer om te kla nie – hy is dit van nature.  Ons moet egter leer om vergenoegd te wees.  Iemand het eenkeer gesê:  The precious things of the earth must be cultivated. If we would have wheat, we must plough and sow; if we want flowers, there must be the garden, and all the gardener's care. Now, contentment is one of the flowers of heaven, and if we would have it, it must be cultivated; it will not grow in us by nature; it is the new nature alone that can produce it, and even then we must be specially careful and watchful that we maintain and cultivate the grace which God has sown in us.  

Paulus het ook nie natuurliker wys beskik oor vergenoegdheid nie – dit is waarom hy in Fil.4:11b sê ~ ...want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.  Jy en ek as gelowiges moet hard daaraan werk om vergenoegd te wees, maar die vrug op vergenoegdheid is so onbeskryflik groot, want dit het rus in die Here tot gevolg; dit het geestelike seën tot gevolg; dit het Goddelike versorging tot gevolg en deur dít identifiseer jy met Jesus Christus jou Verlosser!

4.     AFSLUITING:
Daar is egter iets baie belangriks wat Paulus in v.13 vir ons sê, nl. ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.  Hy is dus baie duidelik daaroor dat hy hierdie gawe van vergenoegdheid nie op sy eie kon aanleer as dit nie vir Christus was wat hom die krag daartoe gegee het nie.  Daarom moet jy ook voortdurend bedag daarop wees dat jy nie hierdie gawe van vergenoegdheid op jou eie sal kan aanleer nie – doen dit dus voortdurend deur kinderlike geloof en in opregte afhanklikheid van Christus Jesus.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 20 Februarie 2011