Sunday, July 7, 2013

Die Boodskap van Hooglied - 01 (Eerste Siklus – Hartstogtelike Verwagting - 01)


1.    INLEIDING:

Waar ons verlede week aan die hand van Ps.25 gefokus het op God se verhouding tot ons, het ons o.a. gekyk na Sy volmaakte liefde vir ons, asook die feit dat Hy ons lei en ons volkome vergewe het. Vandag gaan ons fokus op ons verhouding met die Here Jesus Christus en óns aandeel in hierdie verhouding.
Daar is talle vooraanstaande predikers en teoloë wat deur die eeue heen gesê het en steeds sê, dat die boek Hooglied een van die kosbaarste van al die boeke in die Bybel is. Charles Spurgeon het o.a. die volgende oor Hooglied gesê: This Book stands like the tree of life in the midst of the garden, and no man shall ever be able to pluck its fruit, and eat thereof, until first he has been brought by Christ past the sword of the cherubim, and led to rejoice in the love which have delivered him from death. The Song of Solomon is only to be comprehended by men whose standing is within the veil. The outer court worshippers, and even those who only enter the court of the priests, think the Book a very strange one; but they who come very near Christ can often see in this Song of Solomon the only expression which their love to their Lord desires.

Die boek van Hooglied begin in vers 1 met die boek se titel, nl. šîr haššîrîm, wat ’n Hebreeuse idioom is wat die oortreffende trap uitdruk. Dit wil dus letterlik vir ons sê dat hierdie lied, die lied van alle liedere is – die beste en die mooiste m.a.w. Soortgelyke Hebreeuse uitdrukkings wat die oortreffende trap van iets uitdruk, is bv. die bekende uitdrukking in Eks.26:33 waar ons lees van die tabernakel se "Allerheiligste".

Die eerste woordjie šîr, dui op ’n vrolike lied en is gewoonlik gebruik in liedere wat tydens feeste gesing is – ’n pragtige voorbeeld hiervan is bv. Jes.30:29 ~ Maar julle sal sing soos in die nag voor ’n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Geen wonder dan, dat die titel van hierdie boek, Salomo se mooiste lied is nie.

2.    SKRIFLESING:
Wanneer ons uit ons Skriflesing vir vandag lees, sal u merk dat die oorheersende struktuur van Hooglied, ’n reeks van monoloë en dialoë is. Die hele boek is verdeel in 6 siklusse en ons gaan vandag kyk na die eerste gedeelte van die eerste siklus.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                            
Hooglied 1:1-7 ~ Salomo se mooiste lied.
Sy: 2“Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn, 3jou parfuum ruik so lekker, jou naam is suiwer parfuum: daarom het die meisies jou so lief. 4Vat my saam met jou, kom ons hardloop!” Die koning vat my toe na sy kamer toe.
Hy: “Kom ons juig, kom ons wees vrolik oor jou!”
Sy: “Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou. 5“Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van Salomo. 6Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. 7“Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”

3.    DIE BEMINDE SE EERSTE PLEIDOOI:
Die eerste woorde wat ons in hierdie lied hoor, is dié van die meisie in vv.2-4. Dit is interessant om te sien dat die meisie se woorde, meer as die helfte van die totale gesprek in beslag neem – haar woorde spreek van verlange; van hunkering; van vrees en van genot.

Haar eerste woorde is ’n dringende pleidooi en ’n diep begeerte wat sy tot haar minnaar rig – sy begeer sy liefkosings en sy soene; sy begeer sy intieme teenwoordigheid, sodat sy, sy parfuum kan ruik – in die oorspronklike teks word daar eintlik gepraat van "salf" – dit was natuurlik ’n welriekende salf wat gebruik was om mans lekker te laat ruik. Sy sê dat haar minnaar so heerlik ruik, dat dit geen wonder is dat die meisies so gek is na hom nie (ons moet vir geen oomblik dink dat hierdie man verwyfd was omdat hy parfuum gebruik het nie – dit was alledaagse gebruik onder die jong Israelitiese manne van daardie dae – iets soos ons "deodorant").

Sy sê ook dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is. Omdat wyn ’n baie belangrike rol gespeel het in enige vorm van die destydse feesvierings, is dit gepas dat die geliefde haar begeerte na haar minnaar vergelyk met wyn en sy sê dat sy liefkosings vir haar selfs beter sal wees as wyn.

Hy gee gehoor aan haar diepste begeerte; haar pleidooi en hy neem haar na sy kamer toe en hy is saam met haar opgewonde en vrolik oor die vooruitsig van hul liefkosings wat op hande is en dan herhaal sy in v.4. as refrein, dít wat sy aan die begin van haar pleidooi (v.2) gesê het ~ Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is vir jou.

Wat ook uitstaan in hierdie gedeelte, is hierdie meisie se  openlike verklaring van haar liefde vir haar minnaar. Hulle wil dus hê dat die ganse wêreld moet weet van hul liefde vir mekaar, maar hulle tye van intimiteit spaar hulle vir die privaatheid van haar geliefde se kamer – daar waar die openbare oog nie kan sien hoe hy haar soen en liefkoos nie.

Hierdie paartjie verteenwoordig elke man en elke vrou en hulle versugting en optrede is ’n weerspieëling van elke man en elke vrou se intiemste verlange.

Hierdie boek is deur Salomo geskryf is en die vraag is: Oor wie en watter omstandighede skryf hy hier? Salomo gee hier ’n beskrywing van een van drie jong meisies:
·           Die een moontlikheid is dat Salomo 'n beskrywing hier gee van ’n meisie wat teen haar sin weg gevoer is na die koning se kamer en deel gemaak is van sy harem en terwyl sy daar is, roep sy na haar geliefde buite die paleismure.
·           Of  dit is 'n beskrywing van ’n jong meisie wat deel is van sy harem, maar wat terselfdertyd verlief is op hom.
·           Is dit dalk ’n beskrywing van die aankoms van Salomo se bruid – ’n Egiptiese prinses en dié se hartsbegeerte wat sy hardop teenoor hom uitspreek (1Kon.3:1 ~ Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte. Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar gebou het)?

 Wat die geval ook al mag wees, ons moet enersyds tevrede wees met die gebrekkige inligting, maar andersyds is die motief van Salomo dalk juis hier om dubbelsinnig van aard te wees, sodat elkeen van ons hiermee kan identifiseer.

Ons moet verder in gedagte hou dat hierdie pragtige boek wat Salomo geskryf het, deel is van die wysheidsliteratuur en daarom is hierdie eerste vier verse van Hooglied, ’n pragtige beskrywing van ’n hart wat vernuwe is deur God se genade en wat uitroep na Jesus Christus, die groot "Objek" van so ’n gelowige se liefde. Daarom dat Spurgeon sê dat hierdie boek, ...is only to be comprehended by men whose standing is within the veil. Iemand wat nie in Christus ingeplant is nie, sal hierdie stuk prosa en lied van Salomo glad nie verstaan nie.

Ons moet ook besef dat hierdie verse (2-4) nie soseer ’n  beskrywing is van die Here Jesus Christus (die Bruidegom van die Kerk) nie – dit is eerder ’n beskrywing van die begeerte van ’n kind van God na geestelike gemeenskap met Christus en ’n ervaring van Sy liefde vir Sy kind. ’n Ware en opregte en reddingservaring deur Christus, het altyd ’n hartstogtelike liefde vir Hom tot gevolg.

Ons kan vv. 2-4 kan dus diagrammaties as volg voorstel:
V.2
Die minnaar se soene
Die genieting van Christus se liefde
V.3
Die geur van sy parfuum
Die voortreflikheid ("excellence") van Christus se Naam
V.4
Die privaatheid van sy kamer
Die intimiteit daarvan om in Christus se teenwoordigheid te wees

Kom ons kyk dan eerstens na v.2 ~ Die minnaar se soen: Hierdie woorde is woorde wat deur iemand uitgespreek word wat reeds bemin word deur Christus.

Die wortelbetekenis van hierdie Hebreeuse woord vir soen, is "om saam te voeg", spesifiek, "mond tot mond". Hierdie pleidooi van die gelowige wat gerig word tot Christus, is die begeerte van die Christelike kerk deur die eeue heen na nóg meer van Jesus se liefde, asook ’n erkenning daarvan dat Christus se liefde vir haar (die Kerk) die beste en grootste liefde van alle liefdes is. Fil.3:10-11 vat dit baie mooi saam ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. Dit is dus ’n voortdurende begeerte om nóg meer en nóg meer van Sy, die Bruidegom se liefde te ervaar.

Waarom sou die meisie sê dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is?
·           Eerstens natuurlik, omdat dit Christus se liefde is en geen liefde kan daarmee vergelyk word nie.
·           Christus se liefde kan sonder vrees geniet word, terwyl daar baie besliste gevare gekoppel is aan die gebruik van wyn wat o.a. kan lei tot afhanklikheid daarvan. Geen wonder dat Spr.20:1 as volg lees nie ~ Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie. Christus se liefde daarenteen, het nét die goeie tot gevolg en kan geen skade berokken nie – slegs seën en vreugde en plesier.
·           Ps.104:14-15a sê ~ U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: 15wyn om mense se harte bly te maak. Hierdie blydskap wat wyn tot gevolg kan hê, is egter van korte duur, terwyl Christus se liefde, blywende genot inhou.
·           Wyn mag van goeie gehalte wees, maar wyn is nooit volkome suiwer nie, terwyl Christus se liefde absoluut volmaak is. Ook moet ons besef dat Christus se liefde in die meervoudsvorm gebruik word – Sy liefde verwys dus na Sy verbondsliefde; Sy uitverkiesingsliefde; Sy reddingsliefde; Sy aannemingsliefde; Sy leidings- en lydingsliefde; Sy Volhardingsliefde; Sy verheerlikingsliefde; Sy vergewingsliefde; Sy dissiplineringsliefde; Sy voorsieningsliefde; Sy leringsliefde; ens. En wat meer is, hierdie liefde van Christus duur vir ewig!

Die beminde se verwysing na haar minnaar se parfuum, of soos ons netnou gesien het, sy welriekende salf, herinner aan Ps.45:9 ~ Die geur van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere; musiek uit u ivoorversierde paleis maak u bly. Dit herinner egter ook aan die Sterrekykers uit die Ooste, of te wel die Wyse Manne se geskenke wat hulle vir Jesus met Sy geboorte gebring het ~ Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre (Matt.2:11). Wat hier van belang is, is dat Salomo in v.3 sê (en daarvoor moet ek uit die O.A.V. lees) ~ U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf (en dan hierdie woorde) wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief – "wat uitgegiet is" (E.S.V. = …your name is oil poured out). Met hierdie vergelyking van die beminde waar sy haar minnaar vergelyk met salf wat uitgegiet is, word ons o.a. herinner aan Jesus se majesteit – Hebr.1:9b sê ~ ...Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote. 

Wie is die meisies in v.3, of die "jonkvroue" soos die O.A.V. na hulle verwys, of die "maagde" soos die meeste Engelse vertalings na hulle verwys? As ons na Openb.14:4 blaai, kan ons ’n antwoord op hierdie vraag kry ~ Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. ’n Duidelike verwysing dus na die Matt.5:8-gelowiges ~ Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

In vers 4 sien ons die effek van hierdie liefdesverhouding tussen die beminde en die minnaar, of te wel Christus en die kerk. Christus trek elke gelowige nader na Hom en kan ons die intimiteit van Sy teenwoordigheid ervaar. Elke sprankie ervaring van Jesus se liefde en Sy genade, laat die liefde in die gelowige se hart toeneem en is die begeerte na die hereniging tussen die gelowige en Christus in die hemelse Koninkryk, soveel groter.

4.    DIE ONSEKER MEISIE:
Nadat die meisie en haar minnaar met mekaar gepraat het in vv.2-4, sien ons nou in vv.5-7 dat die meisie vir die eerste keer haar onsekerheid en haar vrese uitspreek. Sy is onseker oor wat die reaksie van die "dogters van Jerusalem" sal wees oor haar donker gelaatstrekke. Op die koop toe, sê sy ook nog dat haar broers vir haar kwaad is.

Sy sê in v.6 waarom sy so donker van kleur is, nl. dat haar broers haar gedwing het om in hulle wingerd te werk en daar het die son haar bruin gebrand en het sy nie genoeg tyd gehad om haarself behoorlik te versorg nie. Om dit te verstaan, moet ons ietsie van die kultuur van daardie tyd weet en dit is dat mans in daardie dae meisies met ’n ligte vel verkies het en verkieslik ook nog een met blonde hare – ’n donker of blas meisie was dus nie in aanvraag nie en sy voel onseker en minderwaardig, maar tog is sy beeldskoon en sy is baie deeglik bewus daarvan. Dit maak dus nie saak wat die ander meisies van haar dink nie en dit maak nie saak of haar uiterlike dalk verwaarloos is op hierdie stadium nie – feit is, sy weet dat sy mooi is, maar wat meer is, sy weet dat sy beeldskoon vir haar minnaar is.

Sy vergelyk haarself ook met die tente van Kedar. Die nomade van Kedar was afstammelinge van Ismael en het in tente van bokvel gebly – hierdie bokvelle het met die tyd saam al donkerder geword a.g.v. blootstelling aan die son en stof. Hierdie tente staan in skrille kontras met Salomo se kleurvolle en skoon paleis- en tempeldoeke.

Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Hierdie is ’n tipiese beeld wat die gelowige van homself het – ons weet dat ons gered is, maar tog aan die anderkant is ons steeds sondaars.

Ten spyte van die feit dat ons voortdurend bewus is van ons sonde, is ons terselfdertyd pynlik bewus van God se genade en vergifnis in ons lewe. Ons voel dikwels donker of duister in ons binneste en tog is ons ’n lieflike geur vir die Here Jesus. Ons word voortdurend onderwerp aan beproewing en tog stel God ons in staat om te volhard. Soms voel ons soos die tente van Kedar – vuil en swart en tog in Christus kan ons vergelyk word met die mooiste en kleurvolste doeke in Salomo se paleis en tempel – ons is, soos Paulus dit stel in Rom.13:14,...beklee met die Here Jesus Christus... (O.A.V.).

Aan die eenkant is daar ’n gevoel van onwaardigheid en wegwerplikheid by ons as gelowiges teenwoordig en tog aan die anderkant, beskik ons oor ’n vaste wete van wie en wat ons in Christus Jesus is ~ ...ons (is) meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet (Rom.8:37).

Die meisie in ons Skrifgedeelte sê ook dat sy ten koste van haarself na haar broers se wingerde omgesien het. Ons moet so versigtig wees dat ons nie ons eie geestelike lewe afskeep ter wille van andere en allerlei programme en "geestelike aktiwiteite" nie. Ons eerste prioriteit is altyd om tyd met God te spandeer – skeep ons dit af, betaal ons die prys daarvoor. As jou eie "wingerd" afgeskeep word, groei die vuilgoed geil daarin en is die oes op die ou einde skraal tot geen.

Hierdie feit verduidelik dan ook aan ons die vraag wat die meisie in v.7 aan haar minnaar stel ~ Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek? Hierdie meisie is op soek na haar geliefde – waarskynlik is sy moeg gewerk in haar broers se wingerde en vir die feit dat sy haarself te na gekom het wat haar fisiese voorkoms betref en daarom wil sy na haar minnaar gaan, sodat sy kan rus en vernuwe kan word na haar uiterlike. Sy vra na ’n geheime ontmoeting met hom, sodat sy, sy liefde en nabyheid kan ervaar, maar sy weet nie waar hy is nie en daarom vra sy spesifieke aanwysings na waar hy homself bevind, want anders sal sy haarself moet versluier en na hom gaan soek en dit was hoegenaamd nie fatsoenlik ("respectable") vir ’n meisie om haar geliefde te gaan opsoek nie. As sy ’n sluier dra, het dit egter ook bepaalde implikasies, want dit was hoofsaaklik prostitute wat in daardie dae sluiers gedra het (Tamar bv. in Gen.38:14-15). Sy wou nie graag ’n verleentheid vir haar geliefde wees nie en ook nie die oorsaak van die ander vroue se geskinder nie.

Hierdie meisie se fokus verskuif dus nou van arbeid in ’n wingerd onder dwang van haar broers, na die kleinvee van haar geliefde – daar waar sy eintlik wil wees.

Opregte en ware geloof sal onverpoosd die aangesig en teenwoordigheid van Christus opsoek – daar sal ’n voortdurende begeerte na gemeenskap met Hom wees. Ware geloof is nooit selfversekerd en selfgenoegsaam nie  Indien dit afwesig is, is daar vuilgoed in jou wingerd en is dit rede tot ernstige kommer. Hebr.12:1-4 moet voortdurend my leuse in hierdie geestelike wedloop op aarde wees ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

5.    AFSLUITING:
Geliefdes, ons moet besef en glo dat ons in en deur die Here Jesus Christus, volmaak aanvaarbaar gemaak is vir God. Om dit te bevestig kan ons in die lig van Salomo se wysheidsliteratuur hierdie feit dat ons aanneemlik vir die Vader is, bevestig deur die woorde van die profeet Esegiël ~ Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. 10Ek het vir jou ’n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. 11Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 12’n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en ’n pragtige krans op jou kop. 13Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om ’n koningin te wees. 14Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was ’n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God (Eseg.16:9-14).

Waar staan jy vanoggend as jy jouself en jou verhouding met Christus, vergelyk met dié van die meisie en haar verhouding met haar beminde?
·           Is daar 'n diep begeerte en verlange na gemeenskap met jou Beminde? Of is jy soos die meisie wat weggevoer was en steeds roep en terug verlang na haar beminde buite die paleismure?
·           Of is jy soos die meisie wat in die Koning se harem is en wat dolverlief is op hom? Het jy daarom ook 'n dringende begeerte en hunkering na jou Bruidegom, Jesus Christus? Is Hy vir jou die ALLER BELANGRIKSTE en grootste vreugde van jou lewe? Streef jy daarna om 'n skoon wingerd te hê?

Oswald Chambers het op ’n tyd gesê: Discipleship means personal, passionate devotion to a Person, Our Lord Jesus Christ. Our Lord never proclaimed a cause; He proclaimed personal devorion to Himself. To be a disciple is to be a devoted love-slave of the Lord Jes


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 07 Julie 2013

Sunday, June 30, 2013

Psalm 25 ("Dawid en sy Krisis")



1.    INLEIDING:
       Bitter min mense indien enige hou van krisisse, of gebeurtenisse wat nie te wagte was nie. Ons verkies om in ons "hokkies" te bly sit, eerder as dat ons "hokkies" geskud word. As verandering moet plaasvind, hou ons daarvan om bekend te wees met die detail van die verandering, maar wanneer die uitkoms daarvan onseker is, raak ons ongemaklik en selfs angstig en baie mense is dikwels geneig om altyd die ergste uitkomste in enige onbekende situasie te voorsien. 

       Ek luister die afgelope week na ’n bespreking op RSG oor die gevolge vir blankes in Suid-Afrika, wanneer Madiba te sterwe sou kom. Een ou tannie van iewers op die platteland het ingebel en vertel hoe sy in angs die afgelope paar maande al leef oor die gevolge wat Madiba se afsterwe gaan inhou vir haar en die blankes in die breë; kort-kort word die "Nag-van-die-langmesse", wat verkeerdelik toegedig word aan Siener van Rensburg, opgehaal en kon jy agterkom hoeveel mense in vrees leef – vrees vir die onbekende.   

       Die vraag is, hoe moet ons as gelowiges die onbekende hanteer? Hoe moet ons reageer as iets negatiefs; iets onaangenaams ons moontlik in die gesig staar? Kom ons kyk wat die Psalmdigter aan die hand doen om sulke krisisse die hoof te bied.

2.    SKRIFLESING:
       Psalm 25:1-22 ~ Van Dawid. Tot U, Here, rig ek my, 2my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. 3Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. 4Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. 5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. 6Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. 7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. 8Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, 9Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. 10Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. 11Ter wille van u Naam, Here, vergewe my, my sonde, want dit is groot. 12As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, 13sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. 14Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. 15My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. 16Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. 17Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende. 18Kyk hoe sleg gaan dit met my en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes. 19Kyk hoe baie vyande het ek en hoe fel haat hulle my. 20Beskerm my en red my, laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. 21Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. 22O God, red Israel uit al sy nood.

3.    AGTERGROND:
       Hierdie Psalm is ’n "Akrostieke Psalm". Dit is ’n Psalm wat in die vorm van ’n naamdig, of te wel ’n alfabetiesegedigsvorm, geskryf is. Dit beteken dat, in die geval van ’n Hebreeuse Naamdig Psalm ("acrostic psalm"), elke vers met die opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Die Hebreeuse alfabet bestaan uit 22 letters, vandaar die 22 verse in hierdie Psalm – hoewel 3 van die letters weggelaat is en 3 herhaal word. Daar is in totaal, 9 sulke naamdig Psalms, waarvan Ps.119 waarskynlik literêr die beste vorm daarvan is (die ander is Ps. 9, 10, 34, 37, 111, 112 en 119).

       Daar is verskeie verklarings waarom dit in hierdie vorm geskryf is, maar die mees aanvaarbare verklaring is dat die Psalmdigter dit só geskryf het, sodat hierdie Psalm makliker gememoriseer kon word, wat hierdie Psalm dus ’n "bloudruk vir dissipelskap" maak, want bykans elkeen van die verse in hierdie Psalm het te doen met leiding en daarom kan ons hierdie Psalm ’n "teksboek-psalm" noem, omdat dit vir ons ’n pragtige voorbeeld stel van hoe om te leef ten einde God te verheerlik en derhalwe deur Hom geseën te word.

       Die skrywer van hierdie Psalm, wat volgens oorlewering, Dawid was, skryf van ’n dubbele krisis wat verandering in sy lewe tot gevolg gaan hê. Eerstens, is daar ’n militêre dreigement van buite – Juda se vyande is aan die opmars teen hulle en tweedens ervaar Dawid ’n innerlike krisis, want hy word gekonfronteer met sy eie sonde.

       Wat doen Dawid om hierdie twee probleme die hoof te bied? Hy bid tot God. Hy maak nie maar net vinnig sy eie plannetjies om hierdie twee krisisse te hanteer nie – hy vra die Here watter pad hy moet kies en wat hom te doen staan, want hy besef dat watter keuse hy ook al maak, dit nie ’n maklike pad vir hom sal wees nie, veral nie as hy die weg kies waar hy sonder die vriendskap en ondersteuning van God loop nie en daarom kies hy om die Goddelike pad te bewandel, wat tot gevolg het dat hy baie ernstig tot Sy Skepper bid. Waarskynlik het Dawid Ps.1 hier ingedagte gehad, omdat Ps.1 vir ons baie duidelik daarop wys dat ons die regte pad moet kies en daarom kan Ps.25 ook, net soos Ps.1, gesien word as ’n wysheidspsalm.

4.    DAWID SE GEBED:
       Kom ons kyk dan na Dawid se gebed in meer besonderheid.
      
       Die eerste gedeelte (vv.1-7) begin waar Dawid sy fokus vestig op die Here – hy spreek sy geloofsvertroue in God uit, asook sy afwagting op ’n antwoord en leiding van die Here. Hierdie gedeelte van sy gebed word afgesluit met sy versugting daarna dat die Here sy nood sal onthou, maar nie sy sonde en rebellie nie.

       In die tweede gedeelte van sy gebed (vv.8-15), fokus hy op die feit dat indien hy nederig en gehoorsaam is; indien hy berouvol oor sy sonde is; indien hy God eer en eerbied teenoor Hom betoon en indien hy in afwagting is op God se leiding, sal die Here hom lei en beskerm.

       Die finale gedeelte van Dawid se gebed vind ons in vv.16-22. Hy erken die feit dat wanneer hy die Here aanbid en dien, hy noodwendig vyande in hierdie lewe sal hê en daarom het hy die Here se liefde en genade soveel meer nodig in sy lewe en daarom is dit vir hom só belangrik dat ’n intieme verhouding tussen hom en Sy Skepper gehandhaaf sal word.

4.1  Afhanklikheid (vv.1-3):
       In die openingsverse van hierdie kosbare Psalm kom Dawid en hy bely sy afhanklikheid van God ~ Tot U, Here, rig ek my, 2my God, op U vertrou ek (v.1-2). Die feit dat die Psalmdigter hier begin met die woorde, .... Tot U, Here... en dan, ... rig ek my – eers die Here en dan eers Dawid – dit is nie bloot net stilisties van aard, of ter wille daarvan dat die gebed poëties van aard moet wees nie – dit is spesifiek in hierdie volgorde geskryf nie, ten einde die fokus op God te vestig en nie op Dawid nie. Dieselfde volgorde vind ons in v.2, waar die skrywer weer God eerste noem en daarna homself.

       Dawid gebruik die woord "beskaam" in v.3, op 'n ander manier as waarop ons deesdae die word "skaam" gebruik ~ Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Paulus gebruik ook hierdie woord in Rom.8:24 en wel as "hoop", wanneer hy sê ~ Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.... Van watter hoop praat Paulus hier? Die hoop van verwagting – daardie verwagting wat ons as gelowiges het, nl. dat ons ’n vaste verwagting het dat Christus gaan terugkeer en dat ons in ewigheid met Hom verenig gaan word – Hy sal ons dus nie in die steek laat nie – ons sal nie beskaam word nie!

       Die tema en die betekenis van hierdie uitdrukking "beskaamd", is nie om verleentheid uit te druk nie, maar om te sê dat iemand wat Sy vertroue in God stel, nie teleur gestel sal word nie, juis omdat God betroubaar is – letterlik staan hier dus dat God ten alle tye vertrou kan word en Hy Sy kinders, wie hul vertroue in hom plaas, nie sal verwoes, of ruïneer nie. Ons kry dieselfde gedagte in Ps.31:2 wanneer Dawid sê ~ By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou. Hierteenoor, rig die Psalmdigter ’n waarskuwing tot alle mense wat nie die Here in alles vertrou nie, wanneer hy sê ~ Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Hier verwys hy natuurlik na sy vyande wat in opmars is teen Juda en maak hy ’n geloofsverklaring en sê hy dat sy vyande wat nie op God vertrou nie, bedroë daarvan gaan afkom wanneer hulle Juda probeer aanval. Sy vyande het geen hoop op oorwinning nie, maar hy wat Dawid is, het ’n vaste vertroue dat God aan sy kant is.

       Dawid sê dus in v.3, dat niemand wat sy verwagting, of sy vertroue in die Here stel, teleurgestel sal word nie.

4.2  Leiding (vv.4-10):
       In vv.4-10 gaan hy nou voort met sy gebed en hy vra vir die Here, dat Hy hom nou sal "wys", "leer" en "lei".

        Eerstens dan, vra Dawid dat God, Sy wil aan hom sal "wys", of te wel sal openbaar. Dit is dieselfde gebed wat Moses in Eks.33:13 bid ~ As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk. Wat is die wil van God waarvoor Dawid en Moses bid en kan ons ook daarvoor vra? Hierdie wil en waarheid waarvoor hulle vra, is dieselfde as dit waarvan die Here in Jes.55:8-9 praat ~ My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. Hierdie gedagtes en optrede van God wat ver verhewe bo ons gedagtes en optrede is – dít is waarvoor Dawid en Moses vra, nl. God se Waarheid.

        Dawid vra in Ps.15:2-5 dat God hom sal leer om in hierdie Waarheid te wandel, sodat hy ...onberispelik (kan) wandel en (sal) doen wat reg is, (en dat hy) met sy hele hart die waarheid (sal) praat, 3nie kwaad (sal) praat nie, sy medemens nie kwaad (sal) aan doen nie en niemand (sal) beledig nie; 4(om te verag) dié wat deur God verwerp is, maar almal (te) eer wat die Here dien; (om) sy woord (te) hou, selfs tot sy eie skade, 5sy geld nie op rente uit (te) leen nie en hom nie (te) laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.

       ▪ Dawid vra ook dat die Here hom in hierdie Waarheid van God sal lei, sodat hy daarvolgens kan wandel en lewe, want dan sal hy ...nooit wankel nie (v.6).

       Hierdie Waarheid is ook vir ons beskikbaar, want dit is opgeteken in God se Woord en daarom moet ons ook saam met Dawid en Moses daarvoor vra, sodat ons ook nooit sal wankel nie.

       In v.6 vra Dawid dat die Here Sy liefde en trou aan hom sal bewys. Hierdie liefde, of in Engels, "compassion", asook God se trou is in die Hebreeus in die meervoudsvorm geskryf. Wat hy dus vra, is dat God sal onthou om Sy oorvloedige trou en lojale liefde aan hom te bly betoon – dat God in ooreenstemming met Sy oorvloedige liefde en genade aan hom sal bly dink.
                
       In teenstelling met v.6, vra Dawid in v.7 dat God nié aan sy sonde van die verlede en sy rebellie van sy jeug, moet dink nie – dit laat ’n mens nogal dink aan Job wat in Job13:26 sê dat God hom laat boet vir die sondes van sy jeug.

       Genadiglik kan ons ook vra dat die Vader nie die sonde van ons jeug sal onthou nie, want Jesus Christus het juis vir al ons sonde gesterf en volkome vergifnis vir ons aan die kruis verkry. In vv.6-7 vra Dawid dus dat God nie sy sonde moet onthou nie, maar eerder na hom sal kyk deur die "bril" van God se oneindige en oorvloedige genade en liefde.

       In die volgende vier verse (vv.8-11) gaan die Psalmdigter voort om vergifnis te vra, deur homself en God aan ’n paar van God se attribute (karaktereienskappe) te herinner. Eerstens sê hy en bepeins hy die feit dat die Here goed en regverdig is – so goed en regverdig, dat Hy selfs aan sondaars die pad wys. Dit impliseer nié dat die Here, sondaars eensydig vergewe nie – daar is ’n voorwaarde, nl. dat Hy die sondaars wat na Hom in nederigheid (v.9) kom en hulle voor Hom verootmoedig en Sy verbond en verordeninge bewaar (v.10), m.a.w. wat aan Hom en Sy Woord gehoorsaam is, die regte pad sal aanwys – juis omdat Hy oorvloedig genadig en liefdevol is. Hierdie pad wat Hy vir ons aanwys, is ook nie ’n gedetailleerde padkaart vir ons lewe nie. Nee, die fokus is op die Waarheid soos vervat in God se Woord – daardie Waarheid wat ’n lig vir ons voet en ’n lamp op ons pad is.

4.3  Genade en Vergifnis (v.11):
            In v.11 vra Dawid weer dat die Here hom sal vergewe, maar die keer sê hy iets baie interessants – hy sê ~ Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde. Waarom vra Dawid dat sy sonde vergewe moet word t.w.v. God se Naam? Ps.130:4 ~ Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word (OAV). Ons word in die eerste en laaste plek vergewe, sodat God gevrees en verheerlik kan word!

4.4  Eerbied (vv.12-14):
       Die OAV vertaal v.12 as volg ~ Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Die Meeste Engelse vertalings vertaal v.12 op dieselfde wyse en gebruik ook die woord "vrees" ("reverence"). Hierdie teksvers fokus dus op die man wat die Here vrees en as Dawid vra wie hierdie persoon is wat die Here vrees, dan antwoord hyself en sê, dat dit diegene is wie deur die Here geleer word en wát leer die Here hulle? Hy leer hulle watter weg om te kies, of soos die NAV sê ~ ...watter pad hy moet kies, nl. die beste pad – daardie pad wat die Here sal eer en as hy daardie pad kies, sál hy voorspoed geniet – wat meer is, ook sy nageslag, sê v.13, sal hierdie voorspoed geniet.

       Hierdie feit is in ooreenstemming met Eks.20:12 wat sê ~ Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Die vraag wat ons dadelik vir onsself ook moet vra, is of hierdie voorspoed op materiële en/of geestelike dinge dui? Ek is van mening dat dit beide impliseer. Eerstens verwys v.13 uitdruklik na die land wat sy nageslag sal bly bewoon. Lev.26 is ook duidelik hieroor ~ As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, 4sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra..., ens. (vv.3-4) – dit dui dus op die materiële. Natuurlik kan ons nie nou wild en wakker begin rondloop en allerlei rykdom en materiële voorspoed van die Here opeis  nie. Nee, die voorwaarde is deurgaans - As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe. Hiermee saam moet ons egter ook onthou, dat die Here ons ook deur tye van beproewing kan neem en dat dit nie noodwendig altyd net "maanskyn en rose" sal wees nie – of anders gestel, wanneer ons God se voorskrifte nakom en Sy gebooie gehoorsaam en dit gaan terselfdertyd met ons sleg, lê die "fout" nie noodwendig by my nie, maar kan dit wees omdat God besig is om ons te beproef (sien ook Deut.4:1).

       Vers 14 sê egter vir ons, dat hierdie belofte van voorspoed beslis ook op geestelike vlak lê ~ Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. In v.4 het Dawid gevra dat die Here vir hom, Sy weë sal bekend maak en nou bevestig hy dat die Here dit wel doen, as hy wat Dawid is, die Here dien. Die feit dat God hom in Sy vertroue neem en Sy hart met Dawid deel, dui verder op ’n intieme verhouding tussen Dawid en die Here en dit is die voorwaarde wat God ook aan ons stel, indien ons Sy geestelike seën wil ervaar – ’n intieme verhouding en dan sal Hy ons deur Sy Woord en die Heilige Gees lei.

4.5  Afwagting (vv.15-21):
       Dawid wil in v.15 vir ons leer dat indien ons begeer om deur die Here geleer en gelei te                                                                                                        word, ons, ons oë gedurig op die Here moet rig. Oë in hierdie geval dui op ons geestelike fokus en waar dit moet wees – ons moet dus in die gewoonte kom, om tydig en ontydig in gebed tot die Here te verkeer ~ Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm (Ps.123:2). Paulus sê dus nie verniet vir ons in 1 Tes.5:17 ~ Bid gedurig nie.

       In vv.16 tot 20 neem Dawid ons terug na wat hy aan die begin gesê het, t.o.v. sy innerlike stryd oor sy sonde, asook die uiterlike bedreiging van sy vyande wat teen hom optrek. Hy vra die Here om te kyk ~ ... Kyk hoe sleg gaan dit met my (v.18) en ~ ... Kyk hoe baie vyande het ek (v.19). Om die Here te vra om te kyk, dui daarop dat hy wil hê dat God moet ingryp in sy situasie. By implikasie erken hy dan ook dat sy bedreigings – beide innerlik en uiterlik is as gevolg van sonde in sy lewe en daarom vra hy ter gelykertyd dat die Here hom moet vergewe.

       Nou wil ek net dadelik weer sê, dat ons weereens nie moet doen wat die mense wat die "voorspoedteologie" aanhang, doen nie, nl. om iemand anders, of onsself, konstant daarvan te beskuldig dat wanneer dit met ons sleg gaan, dit altyd is a.g.v. sonde in ons lewe nie (Job is tog ’n goeie voorbeeld hiervan). Ja, dit kan a.g.v. sonde in ons lewe wees, maar dit kan ook wees dat ons beproef word deur die Here. Hier in Dawid se geval, weet hy egter dat die innerlike en uiterlike bedreigings wat hy ervaar, die vrug van sonde in sy lewe is – ons sal ook weet wanneer ellende ons tref, of dit is a.g.v. sonde in ons lewe en dan moet ons ook sê wat Dawid sê ~ Sien my in genade aan, Here (v.16a) en ~ ... Vergewe tog al my sondes (v.18b). Ons moet egter ook doen wat Dawid gedoen het ~ ... want by U skuil ek (v.20b).

4.6  Voorspraak (v.22):
       Dawid sluit sy gebed af met die woorde in v.22 ~ O God, red Israel uit al sy nood. Hierdie vers volg nie die Naamdig volgorde van die Hebreeuse alfabet nie en was moontlik ’n liturgiese byvoegsel deur Dawid self gewees, maar dit is ’n gebed vir uiteindelike en volkome verlossing. Dit is ’n tydlose gebed wat ons ook gedurig behoort te bid in ons afwagting op die finale dag van verlossing ~ Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting (Rom.8:19-22) en in die woorde van Johannes in Openb.22:20 ~ Kom Here Jesus!

5.    AFSLUITING:
       Psalm 25 dien vir ons as riglyn oor hoe om te bid wanneer ons innerlike en uiterlike bedreigings en stryd ervaar; wanneer ons die onbekende in die gesig moet staar. Kom ons maak dit prakties op ons lewens van toepassing, deur daarop te let dat ons moet staatmaak op God se getrouheid (v.3) en die feit dat Hy ons altyd in die Waarheid lei (vv.4-5).

       Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat Hy ons Redder is (v.5) en in Sy groot genade en liefde ons vergewe (vv.6-10). Ons groot Beskermer is ook die Een wat ons in Sy vertroue neem, deur ons voortdurend in die Waarheid te lei (vv.15-20).

       My vraag is, waar staan jy en ek t.o.v. hierdie riglyne? Maak ons staat op Hom? Vra ons Hom na Sy Waarheid? Verlustig ons daarin dat Hy ons lief het?


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 30 Junie 2013.

Sunday, June 23, 2013

Die Boodskap van Daniël - 03 (God se Getrouheid)



1.    INLEIDING:
       Sinclair Ferguson sê: "True faithfulness in Scripture is first exercised in small things and in private. If we fail there, any faithfulness we show in public will be hypocrisy, a performance for the crowd and not an expression of loyalty to our Lord." Hierdie is ’n waarheid wat Daniël prakties in sy lewe toegepas het – hy was nie ’n man vir vertoon nie; vir voorgee nie – nee, hy was ook in die kleine getrou.

       Ons het die vorige keer gesien dat Daniël en sy vriende, Gananja, Misael en Asarja, na die paleis gebring was waar hulle opleiding moes ontvang om die koning en sy koninkryk te dien. Ons het egter ook gesien dat daar ’n geweldige aanslag geloods was teen hierdie jongmanne se taal, kultuur en godsdiens, ten einde hulle te breinspoel, sodat alles wat verband gehou het met hulle afkoms, vernietig kon word, maar God was getrou en Hy het hulle vasgehou deur hierdie beproewing en aan hulle die krag en die geloof gegee om vas te staan op die beloftes wat God aan hulle voorgeslag gegee het.

2.    SKRIFLESING:
       Daniël 1:8-21 ~ Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. 9God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël. 10Maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.” 11Toe sê Daniël vir die amptenaar wat deur die hoofpaleisbeampte aangestel is om toesig te hou oor Daniël, Gananja, Misael en Asarja: 12“Maak asseblief tien dae lank ’n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink. 13Vergelyk dan ons voorkoms met dié van die jongmanne wat van die koning se kos eet, en handel dan met ons na bevind van sake.” 14Die amptenaar het toe hulle versoek toegestaan en tien dae lank ’n proefneming met hulle gemaak. 15Ná tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het. 16Toe het die amptenaar die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee. 17God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê. 18Op die tyd wat koning Nebukadnesar bepaal het dat die jongmanne voor hom gebring word, het die hoofpaleisbeampte dit gedoen. 19Die koning het met hulle gepraat en hy het onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Toe het hulle in diens van die koning getree. 20In enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk. 21Daniël het in diens van die paleis gebly tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.

3.    DANIËL DIE STANDVASTIGE:
       Ons sien in v.8 dat die koning ’n bepaalde dieet voorgeskryf het vir die jongmanne wat hy uit die Judeërs geneem het om opgelei te word. Daniël het egter besluit om nié die koning se voorgeskrewe kos te eet en van die wyn te drink nie, want hy wou homself nie verontreinig nie.

       Die kruks hier is nié omdat die koning se kos en wyn  nie kosjer was nie, m.a.w. dat dit nie volgens die Joodse voedselwette (die "Kashrut") voorberei is, soos o.a. uiteengesit in Lev.11 en Deut.14 nie. Dit het ook nie daaroor gegaan dat die kos en die wyn eers aan die Babiloniese afgode gewy is, voor Daniël-hulle dit gekry het om te eet en te drink nie, want dan sou dit ook die geval gewees het met die groente wat hulle gevra het om te eet. Indien daar intrinsiek iets boos en onaanvaarbaar t.o.v. die Babiloniese kos was, dan sou Daniël hom permanent daarvan weerhou het en as ons later in Daniël kom, sal ons sien dat dit nie die geval was nie, maar dat hy tog later van die "lekker kos en vleis en wyn" geniet het (Dan.10:3).

       Waarom het hierdie jongmanne dan hierdie dieet versoek? Dit was vir hulle iets soos ’n vastydperk wat hulle vir hulself uitgeroep het, ten einde hulle voortdurend te herinner dat hulle nie afhanklik is van die koning se voorsiening nie, maar dat hulle afhanklik is van hulle Skepper God. Indien hulle afhanklik sou wees van Nebukadneser se kos, sou dieselfde sonde in hul lewens herhaal word, as wat koning Hiskia begaan het, toe Hiskia sy afhanklikheid van Babel getoon het, deurdat hy al sy skatte vir die gesante uit Babel gewys het en waarop Jesaja vir hom gesê het ~ Daar kom ’n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here (2 Kon.20:17).

       Daniël se gesindheid t.o.v. die weerhouding daarvan om die koning se kos te eet het dus eerder gelê op die vlak van wat Paulus in 1 Kor.10:25-26 vir ons sê ~ Alles wat in ’n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen, 26want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here, asook 10:31 ~ Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Vir Daniël het dit in die eerste en laaste plek gegaan oor die eer van die Here en in hierdie spesifieke situasie, dat hy daardeur sy afhanklikheid van God wou betoon en nie die koning van Babel nie.

       Ons moet ook in ons dag bepaalde dinge in ons lewens inbou, om ons te herinner aan ons afhanklikheid van God – een so ’n goeie gebruik is bv. om die seën aan tafel te vra wanneer ons eet. Nog ’n manier is om daagliks, bv. ’n skriftelike lys by te hou van al die seën wat ons van die Here ontvang. Nog ’n manier is om van tyd tot tyd te vas van kos, of ander plesier wat die wêreld ons bied. Onthou net, dat ons nie wette oor hierdie sake moet maak, of sulke wette op ander gelowiges aanlê nie, want dan is ons juis presies net waar Sinclair Ferguson, wat ek aan die begin aangehaal het, sê ons nie moet wees nie – "True faithfulness in Scripture is first exercised in small things and in private." Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar en dit is dat ons andere wat dalk ’n ander oortuiging huldig (t.o.v. vas bv.), moet respekteer.

       Daniël het nie hierdie besluit van hom sommer so op die ingewing van die oomblik geneem nie – v.8 sê dat hy "hom voorgeneem" het om nie die koning se kos en wyn te geniet nie. Hy het ’n besluit voor God geneem om dit nie te doen nie – dit laat ’n mens nogal dink aan Jonathan Edwards se 70 Vastevoornemens waarvan ons so maand of drie gelede gepraat het, nie waar nie? Daniël het ’n vaste voorneme geneem en hy het vir die voorgenome tydperk (ons weet nie hoe lank nie) daarby gehou – kom wat wil en daarom het die standvastige Daniël die hoofpaleisbeampte, of te wel Aspenas (1:3) versoek om hul dieet te verander na net groente en water. Let ook daarop, dat Daniël nie ’n bohaai opgeskop het oor die kos nie – nee, v.8 sê, ...hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. Dit was nie nodig om stof op te skop nie, want Daniël het ’n verbond met God aangegaan oor hierdie saak en daarom het hy geweet dat God aan sy kant was.

4.    DIE BEAMPTE SE ONWILLIGHEID:
       Nadat Daniël sy versoek gerig het aan Aspenas, was Aspenas baie huiwerig om toe te gee aan hierdie versoek, maar ons sien in v.9 dat God (ek wil amper sê: "weereens") nie slegs betrokke is by die groot dinge van die heelal nie, maar selfs ook by die klein, alledaagse en oënskynlik onbenullige dingetjies soos hierdie versoek van Daniël. Omdat die Here hierby betrokke is, kan ons sê, dat die amptenaar geen keuse gehad het as om toe te gee en gehoor te gee aan Daniël se versoek, maar nie voor hy eers sy onwilligheid te kenne gegee het nie – v.10 ~ Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.

5.    DANIËL SE VOORSTEL:
       Omdat Daniël vas oortuig daarvan was dat die Here sy en sy maats se begeerte sal eer, nl. om getrou aan Hom te bly en Hom altyddeur te verheerlik, gee Daniël nie bes nie – hy aanvaar nie Aspenas se kommer nie en hy maak ’n baie wyse voorstel in v.12 – ’n voorstel wat hy geglo het sal werk, nl. dat Aspenas ’n proefneming moet maak.

       Ons moet nie vergeet dat Daniël se doel met hierdie dieet was om uiteindelik eer aan God te bring, eerder as aan Nebukadneser nie, want as hulle goed gelyk het ná die koning se spesiale dieet, sou die koning die eer gekry het, maar nou gaan God die eer ontvang en soos wat ek in die begin gesê het, is dit die primêre rede waarom hulle nie die koning se kos wou eet nie.

       Aspenas gee toe aan Daniël se versoek, want het hy moontlik gedink, hy het nog tien dae grasie om te kyk of die jongmanne se dieet dalk tog werk en as dit nie werk nie – wel, die koning gaan mos nie weet van hierdie onderlinge reëling nie. Wat Aspenas egter nie besef het nie, is dat God ook die hart van ’n heidense amptenaar kan sag maak en guns by hom vir God se kinders bewerk en dit is presies wat hier gebeur het – hy gee toe aan die versoek en hy laat toe dat die jong Judeërs vir tien dae lank slegs groente en water gebruik, want God het guns in sy hart vir die jongmanne gewerk.

6.    DIE GEVOLG:
       Wat was die gevolg van hierdie proefneming? Vier dinge:
·           V.15 ~ Ná tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het. Hulle het fisies uitgestaan bo die ander "studente".
·           V.16 – Aspenas het ...die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee.
·           Daar gebeur egter ook iets anders met hierdie jongmanne se verstand – v.17a ~ God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid..
·           Vierdens ontvang Daniël ook op geestelike vlak, die vermoë om ...enige gesig of droom uit (te) lê (v.17b).

       God seën hierdie jongmanne op fisiese, verstandelike en geestelike vlak vir hul gehoorsaamheid aan Hom en omdat hulle Sy eer deurgaans eerste gestel het. Hierdie seën wat hulle uit Sy hand ontvang was natuurlik ook noodsaaklike toerusting wat hulle vorentoe in diens van die koning sou nodig kry, sodat God weereens verheerlik sou kon word.

       Geliefdes, as God in ’n heidense amptenaar se hart kan werk en as hy hierdie wonderlike dinge in die lewens van jongmanne kan bewerkstellig, dan kan en sal Hy dit mos met ons ook doen – nie sodat ons noodwendig enige gewin daaruit sal put nie, maar om primêr beter toegerus te kan wees om in die nou en in die toekoms, God se eer nog meer en beter te kan verklank – die voorwaarde: Dit is iets van ’n "heilige kringloop": Ons moet God se eer deurgaans eerste stel en nie onsself gedurig op die voorgrond wil plaas nie, sodat Hy weer en weer verheerlik kan word.

7.    DIE BELONING:
       Na die tien dae "vastydperk" het Daniël-hulle voor Nebukadneser verskyn en die koning het, in die woorde van v.19 ~ ...onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Wat het Nebukadneser so beïndruk? Uit die konteks kan ons sien dat hul voorkoms hom moes beïndruk, maar hulle sou ook in wysheid en met diep insig op al die koning se vrae gereageer het, trouens ons sien dit in v.20 ~ In enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk. "Tien maal" beter was die resultaat van Daniël en sy vriende se getrouheid aan God en hul vaste voorneme om Hom deurgaans te verheerlik in al hul doen en late!

       Hoe wonderlik is dit nie dat God vir Daniël-hulle weg geneem het uit hul geliefde Juda en hul koesterende kultuur en godsdiens en hulle in vreemde en vyandiggesinde omgewing geplaas het nie – ’n omgewing waar hulle reeds en in die toekoms nog baie beproewing sou ervaar, ten einde hulle in ’n unieke posisie te plaas waar hulle ’n seën vir hul vyande en die gemeenskap waarin hulle hulself bevind het, kon wees!

       Sien ons, ons omstandighede en beproewing altyd in hierdie lig – ’n situasie waarin God ons geplaas het, sodat ons ’n seën kan wees vir diegene wat die Here oor ons pad in daardie betrokke situasie bring?

       As die Here vir Daniël en sy vriende in hulle omstandighede, getrou kon hou aan Hom, dan kan Hy dit mos ook vir ons doen in ons onaangename en beproewende omstandighede – God is daartoe in staat om juis dit te doen, trouens dit is wat Hy van die begin af gedoen het en wat Hy sál doen, totdat Hy ons kom haal, ongeag die intensiteit, die duurte, of die plek van ons beproewing, want wanneer die wêreld op sy "slegste" is, is God se genade en getrouheid voldoende.

       Ons lees in v.21 dat Daniël in diens van die koning gestaan het tot die eerste regeringsjaar van koning Kores. Wanneer was dit en wat het toe gebeur en wat moet ons daarvan maak?
·           Die geskiedenis toon aan ons dat koning Kores 70 jaar nadat Daniël en sy vriende in ballingskap weggevoer is, aan bewind gekom het.
·           Kores se eerste jaar as heerser, was ook die jaar waarin die ballinge toegelaat was om weer terug te keer na Juda vanuit ballingskap (2 Kron.36:22-23).
·           Derdens, impliseer dit dat Daniël vir bykans die res van sy lewe in ballingskap, in die paleis vir die koning van Babel, diens gedoen het. Hierdie feit is nog meer verstommend, of sal ek liewer sê, wonderbaarlik as in ag geneem word dat Daniël diens gedoen het onder verskeie konings wat gekom en gegaan het deur hierdie tydperk van ballingskap – en almal was tevrede en beïndruk met hom. God se getrouheid jeens Daniël was derhalwe meer as genoeg, om hom te dra vir die volle tydperk wat die ballingskap geduur het.

8.    TOEPASSING:
       Wanneer ons so na Daniël se verhaal luister, dan is ons meer geneig om ons te identifiseer met die massas ballinge waarvan daar niks in Daniël gesê word nie – daardie Judeërs wat ook ander name ontvang het; wat ook vir ’n leeftyd blootgestel was aan ’n nuwe kultuur en die afgodediens van Babel; hulle wat as slawe gewerk het en nie die luukse van Daniël en sy maters se paleislewe geniet het nie. As ons Daniël lees, kan ons maklik dink dat die boodskap van Daniël is, dat ons soos Daniël moet wees en dan sal alles goed gaan met ons, maar hoe meer ons luister na hierdie verhaal, hoe meer besef ons dat ons nie naastenby is, of kan wees soos Daniël nie.

       Die goeie nuus van die Evangelie van Jesus Christus, is egter nie net dat God trou bewys aan ons, as ons getrou aan Hom is nie. Dit is dat ’n Verlosser gekom het om ons juis los te maak – om ontroue individue soos ons, te verlos. Ons redding hang dus nie af van ons pogings en ons getrouheid om nie toe te laat dat hierdie wêreld ons besmet nie, maar uit en uit op die suiwere en onbesmette offer wat Jesus Christus aan die kruis op Golgota gebring het. Jesus was nie ’n hemelse banneling wat vir ongeveer 33 jaar na die aarde weggevoer is nie – nee, Hy het vrywillig gekom en vrywillig Sy lewe kom neerlê. Hy het baie meer en erger verduur as wat Daniël en al die ander ballinge in Babel beleef het – óf as wat ons ooit kan droom om in ons lewe te verduur ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie (Hebr.4:15). Jesus het getrou en onbesmet gebly deur al hierdie beproewing heen, tot die einde toe ~ Inteendeel (1 Pet.1:19), julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Wat meer is, Jesus het reeds deur Sy beproewing gegaan en Hy sit nou aan die regterhand van God waar Hy optree as ons Hoë Priester en voortdurend intree vir ons. Hy het reeds vir ons ’n plek berei in die hemel en Sy teenwoordigheid in die hemel is juis  sekuriteit en bewys vir ons dat ons eendag saam met Hom in die hemel sal wees.

       Die kruis is dus die middel of wyse waarop God se getrouheid ons as ontroue mense verlos en gered het en Christus se opstanding en hemelvaart is bewys en sekuriteit van jou en my ewige erfenis wat op ons wag.

       Ons moet onsself gereeld herinner aan die Evangelie. Ons moet ons oë vestig op die gekruisigde, opgestane en verheerlikte Jesus Christus, juis omdat Hy die weg na die ewige lewe is. Plaas jou vertroue in Hom en vra Hom om opregte en ware getrouheid in jou te werk. Vra Hom om jou in plekke te plaas waar jy ’n seën en ’n getuie vir Hom kan wees. Kweek ’n ewigheidsperspektief en leef daarvolgens, sodat jy ook in tye van beproewing aan daardie ewigheidsperspektief kan vashou.

       Wees altyddeur afhanklik van Christus se verlossingswerk en hou op om soos Daniël te probeer wees, want Daniël was nie so oulik om dit in eie krag te kon doen `nie – hy het dit reggekry, omdat sy oë op sy Hemelse Vader gevestig was en Hom vertrou het om die goeie in hom te doen.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 Junie 2013