1. SKRIFLESING:
Ps.90 ~ 'n Gebed van Moses, die man van God. Here, U was vir ons' n toevlug van
geslag tot geslag. 2) Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! 3) U laat die mens sterwe:U sê net: "Word weer stof!" 4) Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos
een enkele wagbeurt in die nag. 5) U maak 'n einde aan' n mens, hy gaan die doodslaap in. Hy is soos gras wat
in die môre afgesny word: 6) in die môre is dit nog
groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog. 7) Ons vergaan onder u toorn, ons gaan te gronde onder u
gramskap. 8) U sien ons
oortredinge raak, U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig. 9) Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos
'n gedagte. 10) Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na
ons einde toe. 11) Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars? Wie ken u gramskap beter?
12) Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. 13) Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U
tog oor ons. 14) Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en
bly wees. 15) Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap. 16) Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons
kinders. 17) Laat ons die
goedheid van die Here ons God belewe:hou die werk van ons hande in stand, ja,
die werk van ons hande, hou dit in stand.
2. INLEIDING:
Hierdie
Psalm is ’n gebed van Moses en is op die oog af seker die somberste
stuk wat hy ooit geskryf het - maar tog is dit ook nie. Hierdie Psalm handel
oor die realiteit van die donker tonnel wat vir elkeen van ons voorlê van ons geboorte, tot en met die
onafwendbare en uiteindelik dood van elke siel op aarde, (behalwe natuurlik diegene wie Christus se wederkoms lewend gaan beleef) en met die wederkoms gaan elke verlore siel, die ewige en soewereine God
se toornige oordeel beleef. Daarteenoor gaan diegene wie in Christus Jesus is,
God se onverdiende en onbeskryflike genade ervaar en dit is die ligpunt in
hierdie oëskynlike somber Psalm. Hierdie gebed van Moses is dus
beide ’n klaaglied of ’n weeklag, sowel
as ’n loflied.
Ten
einde hierdie aanvanklik somber gebed van Moses beter te verstaan, moet ons na
die historiese agtergrond kyk waarteen dit geskryf is. As ons na Numeri 20 kyk,
sien ons dat Moses verskeie hartseer gebeurtenisse rondom hom ervaar. In v.1
van Num.20 lees ons dat sy geliefde suster Miriam dood is. Ons moet in gedagte
hou dat Moses op die stadium rondom Miriam se dood, nog net vir haar en sy
broer Aaron, asook Kaleb en Josua oor gehad het, met wie hy herinneringe uit
die volk se tyd in Egipte kon deel - op hierdie stadium was almal wat saam met
hulle in Egipte gewoon het, reeds dood - sy oorspronklike familie en
volksgenote is nie meer met hom nie.
Sy
hartseer eindig egter nie hier nie, want in vv.2-13 sien ons hoe Moses
ongehoorsaam was aan die Here, deurdat hy die Rots van Meriba geslaan het,
terwyl hy dit net moes aanspreek. Vir 38 jaar het die 120 jaar oue Moses die
Here getrou gevolg en die volk geduldig gelei - hulle is amper in die Beloofde
Land, maar nou, hier by Meriba word sy geduld beproef en knak hy, want hy hy
kan dit net nie meer hanteer dat die murmerende volk nie meer geduldig vashou
aan God se beloftes - soos hulle voorvaders wat saam met Moses uit Egipte
getrek het nie - hulle het net nie meer dieselfde visie en roeping as oupa en
ouma nie (klink dit bekend - as ons dink aan die Hugenote en selfs
geslagte daarna nog - mense met ’n roeping en ’n visie, maar as ons hulle vergelyk met ons huidige geslag, dan kry ons so
bietjie meer simpatie vir Moses - nie waar nie?). Wat was die
gevolg van Moses se ongeduld en ongehoorsaamheid? Hy sou op die berg Nebo sterf
en derhalwe ook nie die Beloofde Land binne kon gaan nie (Deut.34).
Laastens
in Num.20:22-29 het Moses ook sy broer Aaron aan die dood afgestaan. ’n Maand van treur of ’n geweeklaag het hierop gevolg. Vir veertig jaar het die
twee broers saam gewerk en nou is die laaste lid van Moses se familie ook weg.
Hierdie
hartseer momente word regdeur die Psalm gehoor, maar dit het nie een keer ’n toon van verietiging, of bitterheid, of pessimisme nie - somber ja, maar
nooit sonder hoop nie.
Soos
Num.20, handel Ps.90 ook oor die korstondigheid en verganklikheid van die mens,
maar terselfdertyd ’n stille vertroue
in God, wie die vaste hoop vir die Regverdiges is.
Bitter
min mense deur die geskiedenis heen, het God waaskynlik so goed geken soos
Moses, want Moses het God intiem geken, wat meer is, hy het “mond tot mond” met God by meer as een geeentheid
gepraat (Num.12:8).
3. GOD IS EWIG (vv.1-2):
Ten
spyte van sy hartseer en andersyds omdat hy God so goed ken, begin hy hierdie
gebed van hom met ’n loflied oor God en praat hy direk met Hom. Hy sê vir die Here dat hy en die Israeliete (God se volk) vir veertig geen aardse woning gehad het nie, maar dat die Here deurgaans
hulle toevlug en skuiling (woonplek) was.
Ongeag
hierdie situasie (of dalk juis a.g.v hierdie situasie) verklaar Moses dat sy siel rus in die Here en dat geslagte kom en gaan -
dat die mens kom en gaan, maar God is ewig - Hy is ewig daar en daarom elke
oomblik van die mens se lewe, is Hy daar, ook in tye van onsekerheid, en ook
wanneer die mens die dal van doodskaduwee betree. Trouens in v.2 verklaar hy
dat God al voor die skepping daar was - voor enige iets daar was, was God
alreeds. In ’n voortdurend veranderende wêreld is God die enigste onveranderlike. Daar was nog nooit ’n tyd dat God nie was nie en daar sal ook nooit ’n tyd wees dat God nie is nie! Hy sal vir ewig God wees!
4. GOD IS SOEWEREIN (vv.3-6):
In v.3
draai Moses geen doekies om nie en sê hy dat, in skrille kontras met God, die mens niks meer as blote stof is
nie. Die mens is deur God uit stof geformeer (Gen.2:7; 3:19) en aan die einde van sy lewe sal die mens maar net weer terugkeer na stof
- God het die mens geskep en God is die Een wat die mens se lewe beheers en God
is die Een wat die mens se lewensdae bepaal - God is dus soewerein.
In v.4
draai Moses die fokus weg van die soewereine God en fokus hy op die
verganklikheid van die mens en kan ’n mens wonder oor
wat hy nou eintlik wil sê, maar as ons na die onmiddellike konteks kyk (v.3) dan dui dit ook vir ons op die skrille kontras tussen
die kortstondigheid van die mens se lewe aan die eenkant en God se ewigheid aan
die anderkant - vir God is ’n duisend jaar soos een nagwaak en daarom is die mens se
lewe hier op aarde in ’n oogwink verby - soos ’n nag se slaap, of soos hy in v.6 sê, so kortstondig
soos gras ~ …in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep
en dit verdroog. Jesaja sê in Jes.40:6-7 ~ Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is
soos 'n veldblom: gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor
laat waai. "Dit ís so, die volk is
soos gras.
Die
gevolg van die mens se sonde is dus die doosdvonnis wat God oor Adam
uitgespreek het in Gen.2 en 3. God is soewerein en ewig - die mens is sterflik
en sy lewe van korte duur - hy is niks in vergelyking met God nie!
5. GOD IS TOORNIG (vv.7-12):
In die
derde gedeelte van hierdie Pslam, nl. vv.7-12 erken Moses dat die mens se
grootste probleem nie sy verganklikheid (“frailty”) is nie, maar die feit dat hy onder die toorn van God
staan, omdat hy sondaar is - dit is juis sy sonde wat die oorsaak is van sy
dood, soos ons netnou reeds in Gen.2 en 3 gesien het.
Die Israeliete
was ongehoorsaam aan God in die wildernis, trouens hulle het hulle geloof in
God versaak en hulleself oorgegee aan agodediens en as gevolg daarvan, het
hulle met God se toorn te doen gekry, deurdat hulle daar in die woestyn gesterf
het en gevolglik nie deel gehad aan die verbondsbelofte wat aan Moses gemaak
was nie, nl. die inbesitneming van die Beloofde Land (hierdie is weereens ’n klassieke voorbeeld daarvan dat daar gevolge is vir
diegene met wie God ’n verbond sluit, maar wie nie die voorwaardes van die
verbond nakom nie).
Moses sê dat geen sonde vir God weggesteek kan word nie Dit is dan ook waarom die
Hebreërskrywer in Hebr.4:13 sê ~ Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is
nie; alles lê oop en bloot voor
sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.
God se
morele reaksie op ongehoorsaamheid en sonde is Sy toorn. Omdat Hy ’n heilige God is, kan en mag Hy nie sonde ongesiens laat verbygaan nie en
dit is nie net “groot” volksondes, of individuele openlike
sonde nie, dit is ook privaat sonde - daardie sonde wat net ek van weet …en God - dit is waarom Dawid in Ps.19:13 bid en vir die Here vra ~ Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek
onwetend gedoen het nie.
In v.10
maak hy melding van die kortstondigheid van die mens se lewe wanneer hy sê dat die mens maar net sowat 70 jaar lank lewe en as hy sterk is, 80 en dan
kom die onfwendbare dood.
Moses is
ietwat sinies wanneer hy voortgaan in v.10 en sê dat hierdie lewe verbyvlieg en dan gaan dit nog gepaard met moeite en
verdriet ook! Agter hierdie woorde van Moses lê die realiteit van ’n lewe wat in ’n oogwink verby
is en dan is hierdie kort lewe nog boonop vol van mislukkings ook - ’n lewe waar bykans niks regtig bereik is nie.
Omdat
Moses bang is dat Hy die Here aanstoot kon gee met sy sinisme, gee hy dadelik
erkenning aan die feit dat God heilig is en dat Hy sonde haat en dan bring hy
dit in v.11 in verband met de volk se beproewing en lyding in die wildernis en
sê hy dat as daar nou iemnad is wat besef
wat God se toorn en gramskap op sonde is, dan is dit hy en sy volksgenote. Hy
sluit dan ook vv.11-12 af deur te vra dat die Here hulle sal leer om die res
van hulle lewe reg te leef, sodat hulle in wysheid kan groei.
Wat sê Moses met hierdie woorde? Hy sê dat die beste manier om nie aanstoot aan God te gee nie, is om oor die
regte begrip van God se toorn te beskik. Om dus te besef dat die lewe kort is
en die tyd behoorlik uitgekoop moet word, sodat ons nie aanstoot aan God sal
gee nie, sal Goddelike wysheid tot gevolg hê wat God tevrede sal stel (netnou meer hieroor). Geen wonder dat Paulus in Ef.5:16 ook gesê het ~ …Maak die beste gebruik van elke
geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd.
Moses se
gebed gaan dus daaroor dat die Here hulle moet help, sodat hulle hul kort
lewens só sal deurbring dat hulle God nie
aanstoot gee nie en dat hulle in wysheid sal groei en derhalwe nie hul kort
lewens sal mors op tydelike verbygaande beuselagtighede nie, maar om in die
ewigheid te belê.
6. GOD IS GENADIG (vv.13-17):
Hierdie
gebed van Moses sluit in vv.13-17 af met ’n pleitrede om
God se genade, wanneer hy sê ~ …Keer terug Here! (OAV). Letterlik vra hy dat die Here weer
Sy genade en Sy liefde oor hulle sal uitstort voor hulle sterf, want hierdie
straf waaronder die volk gebuk gaan, hou nou te lank aan en hulle kan nie meer
nie!
Waarom
die NAV v.14 vertaal het met, …skenk ons elke
dag…, weet ek nie,
want die OAV en die meeste gesaghebbende Engesle vertalings vertaal dit korrek,
wanneer dit sê ~ Versadig ons in
die môre… Die ESV en die NASB sê ~ Satisfy us in the
morning… Moses vra dus dat die Here gou sal
maak om genade teenoor hulle te betoon - sommer vroeg-vroeg al, want die nag
van swaarkry en God se toorn was lank.
Hy vra
dat die Here hul swaarkry sal verander in blydskap en jubeling en wat meer is,
hy vra dat die Here hulle nie net vir ’n kort tydjie sal
seën met blydskap nie, maar dat die tyd van blydskap net so
lank as die tyd van swaarkry sal wees (v.15).
In
vv.16-17 sluit Moses sy gebed af deur te vra dat die Here Sy werk, m.a.w. God
se genade en daarom Sy grootsheid, sigbaar sal laat word in hulle midde en wat
meer is, hy vra dat hulle nageslag dit ook sal ervaar.
Moses
het sy roeping volvoer, maar nou vra Hy om genade, sodat die Israeliete, as
volk gevestig kan word.
Hierdie
genade en liefde en vreugde waarom hy vra gaan nie net daaroor dat hulle uit
die wildernis waarin hulle al veertig jaar ronddwaal, verlos moet word en dat
hulle dadelik die Beloofde Land binne gebring moet word nie - hy vra dit nie -
nee, dit gaan daaroor dat Moses vra dat God Sy toorn oor hulle sal beëindig en al moet hulle dan nog vir veertig jaar in die wildernis deurbring,
dat dit onder Sy genade en liefde sal wees en dat hulle in daardie tyd God se
vreugde deelagtig sal wees, omdat hulle as volk doen wat reg is; dit waartoe
hulle geroep is en dit wat God sal verheerlik.
7. AFSLUITING:
Hierdie gebed van Moses erken die kortstondigheid van die mens se lewe en leer
ons, dat ons, ons kort lewe, só sal leef soos wat dit God se uitverkorenes betaam.
As ons
egter ons lewe wil deurbring soos wat dit “God se
uitverkorenes betaam”, moet ons verstaan wat ons redding werklik beteken - wat
die Evangelie van Jesus Christus werklik beteken, want dit is in essensie wat
Moses se gebed ook behels het - Nie net redding nie Here, maar ’n vol lewe.
Daar
bestaan ’n baie bekende beeld om die Evangelie aan mense te
verduidelik, te midde van die feit dat dit ’n pragtige
uitbeelding van die Evangelie is, is dit nie verteenwoordigend van die totale
prentjie nie. Hierdie beeld waarvan ek praat is dié van ’n mannetjie wat aan die eenkant van ’n onoorbrugbare afgrond staan en aan die anderkant van die afgrond en die
enigste manier om aan die “oorkant” te kom, is om oor ’n brug te loop en dan sal die mense wat hierdie beeld gebruik, ’n kruis teken wat van die eenkant van die afgrond tot die anderkant strek
en wat dan illustreer hoe dat Chirstus ons Brughoof is - dat Christus vir ons ’n Brughoof geslaan het - en dit is alles waar, maar Christus se versoenings- en verlossingswerk, gaan om
veel, veel meer as net daaroor dat ons ’n persoonlike
verhouding met Jesus Christus het en dat ons hemel toe gaan - dat Hy dit vir
ons moontlik gemaak het, deur ons Brughoof te wees.
Die
Evangelie begin nie by my vergifnis en daarom my redding nie - nee, die
Evangelie begin by die mensdom se verlorenheid - by my en jou verlore toestand
- ons doemwaardige toestand voor God - dat ons wegwerplik is in die oë van God; dat ons Adam se sonde geërf het (Gen.3) - dit is waar die Evangelie begin!
Die
Evangelie begin dus deur God Sy regmatige plek te gee in ons reddingsproses, want enersyds wys dit vir ons op Sy heiligheid (Hy sien nie sonde oor nie), maar ook wys dit op Sy
onuitspreeklike genade, want Hy het Sy Seun, Jesus Christus gestuur om
versoeing vir ons aan die kruis te bewerkstellig. Die Evangelie gaan dus oor
veel-veel meer as net ek en myself - dit gaan daaroor dat Jesus gekom, nee dat
dei Vader Sy enigste geliefde Seun gestuur het, het om die ganse kosmos - nie
net vir my nie, maar die ganse kosmos, te kom verlos en te herskep (Gen.3:17-18 ~ Vir die mens het die Here God gesê:"Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur
jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe
lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal
veldplante eet). Jesus en Sy Evangelie is dus veel groter as net die “Brug-illustrasie”.
Die
volgende stap is dus nie nou die hemel en ’n ewige lewe nie,
daar is nog eers ’n tydperk (as ek mag
uitbrei op die “brug-illustrasie”) wat ons op (in) die kruis oor die afgrond moet stap -
hoe ons as verlostes in die hier en die nou moet lewe - ná ons wedergeboorte en vóór ons afsterwe. Die fokus in die hier en die nou, is om
die heilge en toornige God van wie ek vervreem was, trouens, deur wie ek,
a.g.v. die erfsonde, verdoem was, nou lief te hê en te verheerlik deur my lewe as verloste en God te verheerlik deur ’n heilige- en dankbaarheidslewe te leef, maar ook om ’n verskil in die res van die skeping wat deur Christus verlos is te bring,
nl. om die wêreld te vertel van hierdie bevrydende Boodskap - hierdie
wonderlike Evangelieboodskap van Jesus Christus - ons mag nie stil bly nie,
anders is ons selfsugtig.
Mag die “laaste veertig jaar” van ons lewe, die teenoorgestelde wees
as die “eerste veertig jaar” toe ons in die wildernis van die vlees en sondegevalle toestand, doelloos
rondgeswerf het - mag ons hierdie “laaste veertig
jaar”, ook ’n vol lewe vir die Here lewe en mag ons, …die goedheid van die Here ons God belewe: (en mag Hy) die werk van ons
hande in stand (hou).
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptostegemeente - Sondagoggend 15 Maart 2015