1. INLEIDING:
In 2 Pet.1:1-4 het ons aandag
geskenk aan die feit dat God aan elke gelowige, die krag geskenk het om ’n Godvrugtige lewe
te kan lei - ons het dus geen verskoning om nié Godvrugtig te lewe
nie. Ons het ook gesien dat ons hierdie krag ontvang, deur Chritus Jesus te ken
- te ken deur Sy Woord en gehoorsam te wees aan Hom. Laastens het ons gesien
dat wanneer ons wel Godvrugtige lewens leef, ons twee beloftes ontvang, nl. ’n belofte van
ontvlugting van die begeerlikhede van hierdie wêreld en tweedens ’n belofte van
verheerliking aan die einde van ons lewe.
In
vv.5-7 het Petrus vir ons daarop gewys dat ons afgeskei van hierdie wêreld en Godvrugtige
lewens moet leef en dan het hy voortgegaan en ses eienskappe of deugde genoem
wat ons moet byvoeg tot ons geloof, ten einde geestelik te groei en hierdie
deugde was, deugsaamheid; kennis; selfbeheersing; volharding; Godsvrug
en liefde.
Petrus gaan nou voort in die
volgende gedeelte en sê vir ons dat ons hierdie deugde ons eie
moet maak en daarvolgens moet leef.
2. SKRIFLESING:
2 Petrus 1:8-11 ~ 8)As
julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle
met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 9)Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog
erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. 10)Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle
lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen,
sal julle nooit struikel nie. 11)En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige
koninkryk van ons Here en
Verlosser, Jesus Christus.
3. PETRUS SE WAARSKUWING (vv.8-9):
Baie mense glo vas dat, nadat
hulle wederbaar is, hulle maar kan agteroor sit en hulle totale lewe - al hulle
doen en late aan die Here kan oorlaat en Hy sal hulle lewenspad - hulle pad van
heiligmaking, uitwerk. Iemand het eenkeer gesê dat sulke mense se
gesindheid een van, “let go and let God” is, terwyl sy
gesindheid en oortuging een van “hold on and let God” is. Ons mag nooit
passief wees in ons geestelike lewenswandel nie, trouens ons het ’n baie groot
verantwoordelikheid wat op ons skouers rus.
Ja, ons is nie meer van
hierdie wêreld nie, maar ons
is steeds in hierdie wêreld en daarom waarsku Petrus ons in
vv.9-10, dat indien ons as wedergeborenes nie vrug in ons lewe dra nie (verwysende na die
eienskappe of deugde wat hy in vv.5-7 genoem het), sal ons die vrug
van ons wedergeboorte, wat ons nog in hierdie lewe kon ervaar het, verbeur.
Sulke gelowiges sal nie die vertroue en sekuriteit ervaar wat saam met
wedergeboorte gaan nie. Dit is waarom ons soveel gelowiges kry wat altyd wonder
en selfs twyfel oor hul redding. Wanneer daar nie vrug in jou lewe is nie, weet
niemand dat jy wederbaar is nie, maar dan sal jy beslis ook self twyfel oor jou
wedergeboorte - jy sal geestelik blind wees.
Petrus
gaan voort in v.9 en skryf hy oor die gevolge van hierdie geestelike blindheid.
Hy sê dat so iemand kortsigtig en blind is. Waarvoor is hy
blind? Petrus antwoord hierdie vraag deur te sê dat so ’n persoon blind is vir die vergifnis van sy sonde; hy het vergeet dat hy
gered is; hy is gevul met twyfel, veral as hy sy eie lewe in oënskou neem, of
as andere vir hom op sy vrugtelose lewe wys. Waarskynlik het Petrus hier die
gelowige se doopgeleentheid in gedagte, waartydens hy ’n openbare
belydenis gedoen het van sy sonde en dat hy nou gereinig is daarvan ~ En nou, waarom
nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het (Hand.22:16). Wanneer Petrus dus sê dat so ’n persoon blind is, dan sê hy dat daardie
persoon sy rug keer op dit wat hy met sy
wedergeboorte en doop bely het.
So ’n persoon, sê Petrus dus, is kortsigtig. Die betekenis hiervan is dat so ’n persoon net
naby dinge kan sien, maar hoe verder hy kyk, hoe dowwer en meer uit fokus raak
sy visie. So ’n kortsigtige persoon kan dus nie die ewigheid sien nie - hy kan nie ’n
ewigheidsperspektief ontwikkel nie. Johannes skryf in Joh.9:39-41 hieroor ~ Toe sê Jesus: "Ek het na hierdie wêreld toe gekom
met die oog op 'n beslissing, sodat dié wat nie sien
nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word." Party Fariseërs wat by Hom
was, het dit gehoor en vir Hom gesê: "Ons is
mos nie blind nie!" Jesus antwoord hulle: "As julle blind was, sou
julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: `Ons sien.' Daarom bly julle skuldig. So ’n persoon
vergeet en besef ook nie dat hy midde in ’n geestelike
oorlog staan nie - ’n oorlog waar
daar geveg word om sy siel!
’n Gelowige wat
dus min tot geen vrug tot sy geloof byvoeg nie, is blind - hy fokus op die wêreld en die
dinge van hierdie wêreld en teen die tyd dat hy na die ewigheid wil kyk, is
dit so uit fokus dat hy dit nie kan begryp, of in perspektief sien en waardeer
nie, soveel so dat hy ook nie daarna kan uitsien nie, trouens so ’n situasie in ’n gelowige se
lewe, kan hoogs waarskynlik die begin van geloofsversaking wees (“apostosy”), wat niks anders is as sonde teen die Heilige Gees - sonde wat tot die
ewige dood lei!
Indien
jy op hierdie punt in jou lewe is, kan jou kortsigtigheid nogsteeds verander
word na versiendheid (as ek die woordspeling mag gebruik). Hoe doen jy
dit? Opregte belydenis van jou sonde; bekering weg van jou sonde; ’n hertoewyding
aan die Here en die toevoeging tot jou geloof, van daardie deugde wat Petrus in
vv.5-7 gemeld het, nl.: deugsaamheid; kennis; selfbeheersing; volharding; Godsvrug
en liefde.
Mag nie een van ons ooit só kortsigtig en blind raak dat die woorde van Johannes in Openb.3:14-16 waar word van ons nie ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud.
4. BEVESTIGING VAN
VERKIESING (vv.10-11):
In vv.10-11 dring Petrus daarop aan dat sy lesers hul geloof vas sal maak.
Mense
wat dikwels twyfel oor hulle geloof; mense wat kortsigtig en blind is, wil baie
dikwels hê dat God vir húlle die
versekering moet gee dat hulle gered is, maar punt is dat God nie die probleem
is nie - ’n blinde en kortsigtige mens wat nie seker is van sy geloof en redding
nie - hy is die probleem. God hoef nie seker te maak van ons redding nie - Hy
weet maar te goed wie gered is en wie nie ~ Ek het jou naam
in my handpalms gegraveer… (Jes.49:16a), trouens
Openb.13:8 en 17:8 is duidelik daaroor dat die uitverkorenes se name reeds van
die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf staan. As daar
vrug in jou lewe is, sal jy nooit twyfel oor jou redding nie.
V.10
begin met die woorde, Daarom, broers… Hierdie woorde
verwys na die voorafgaande rede van Petrus en wil hy daardeur sê dat ons, in die lig van die feit dat ons geestelik blind en kortsigtig kan
raak, ons des te meer op ons hoede moet wees om ons verhouding met Christus te
verinnig deur vrug tot ons geloof by te voeg (vv.5-7). en daarom
herhaal Petrus homself weer hier in v.10 deur te sê dat ons, ons … des te meer
daarvoor (sal) beywer om deur (ons) lewe te bewys dat God (ons) geroep en
verkies het. Dan gaan hy voort en sê hy… ~ As julle hierdie
dinge doen, sal julle nooit struikel nie. Wanneer Petrus dit sê, gebruik hy ’n Griekse
uitdrukking hier (in die Aoristus imperatiewe vorm) wat vir ons sê dat dit gebiedend noodsaaklik is, dat ons dit sal doen.
Hierdie
selfde vers word in die OAV en die meeste Engelse vertalings nog beter gestel ~
Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om
julle roeping en verkiesing vas te maak; want as jule dit doen, sal julle nooit
struikel nie [Therefore
brothers, be all the more diligent to confirm your calling and election, for if
you practice these qualities you will never fall (ESV)]. Wat ook
belangrik is om hier te vermeld, is die betekenis van die woord “struikel”. In die Grieks
is hierdie woord, πταίω (ptaiō) wat letterlik beteken om daarin te misluk om die Wet van die Here te
gehoorsaam, of om te struikel teen iets.
Wanneer
ons na hierdie woorde van Petrus kyk, nl. dat ons, ons roeping moet vasmaak,
anders struikel ons en as ons sê dat hierdie “struikel” na
’n mislukking om die Wet te onderhou verwys, kom ons by die hart van die
paradoks (skynbare teenstrydigheid) tussen die uitverkiesing (Gereformeerd/Calvinisme) aan die eenkant en die mens se
eie vrye wil (Armenianisme) aan die
anderkant en moet ons baie mooi daarna kyk ten einde dit reg te verstaan.
Kom ons
kyk net eers na die ander plekke in die Nuwe Testament waar hierdie woord πταίω (ptaiō) voorkom en ons sal
sien dat dit net op twee ander plekke voorkom, nl. Jak.3:2 en Rom.11:11 en lg.
~ 'n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken?
Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom
om die Jode jaloers te maak.
Wat hierdie
woord “val” of “struikeling” dus vir ons
wil sê, is dat dit nie ’n finale, of onherstelbare val is nie. M.a.w. iemand wat
struikel kan weer opstaan en homself regruk en weer vas op sy twee voete staan.
Die probleem is egter, dat jy só kan struikel dat jy plat op die grond kan lê en so ’n val kan geestelik gesproke tot die ewige dood lei.
Ons moet
onthou dat ons aan die begin gesê het dat Petrus
sy lesers gewaarsku het teen vals leraars wat o.a. verklaar het dat hulle
wederbaar is, maar dat hulle terselfdertyd kan doen wat hulle wil, want hulle
is dan uitverkies. In die lig daarvan wil Petrus dan hê dat sy lesers en daarom ons ook, só diep geanker sal
wees in die Waarheid van God Drie-heilig, asook in ons verhouding met Jesus
Christus, dat daar geen kans sal wees dat ons sal val nie - struikel ja, maar
val, nooit nie! Wat meer is, hoe stewiger ons geanker is in die Waarheid, hoe
minder sal ons struikel. Hierdie Waarheid en verhouding is nie ’n lys van moets
en moenies nie, maar ’n verhouding en die Vrug van die
Gees en ’n Godvrugtige lewe waarna Petrus verwys en dit is alles deel
daarvan om ons te help om hierdie verhouding instand te hou. Ons kan nie net
teer op ons wedergeboorte nie - soos iemand dit gestel
het, We must be sure of our relationship with Christ, not only in the past,
but also in the present tense. We cannot merely clip coupons on the past, but
we must follow Christ in the present!
Indien ons dit
doen en indien ons getrou bly aan die basiese beginsels van ons geloof, nl.
kennis van God deur die Woord; ’n intieme verhouding met Jesus en
gehoorsaamheid aan Sy Woord, sal twee beloftes vir ons gemoedsrus gee in tye
wanneer ons wil twyfel, nl. eerstens, dat ons nooit
sal val nie (v.10). Dit is soos ’n Pa en seun wat
in ’n woud gaan stap en die donker oorval hulle. Die Pa ken die voetpaadjies
wat hulle uit die bos gaan lei, maar hy gee opdrag aan sy seun om kort agter
hom te bly anders kan hy verdwaal - doen die seun dit, gaan hy
saam met sy pa uit die bos kom. Doen hy dit nie, gaan hy sy pa uit die oog
verloor en gaan hy hopeloos verdwaal. Net so moet ons, ons oë in hierdie lewe, op Jesus Christus gevestig hou en die basiese beginsels
van ons geloof en ons kennis van die Woord toegewyd uitleef, dan sal ons nie
val nie.
Met dit
alles gesê, moet ons in gedagte hou dat, om geroep te wees as gelowige (uitverkiesing
en wedergeboorte) gaan hand-aan-hand met met ’n gehoorsaamheidslewe. Die gelowiges se
wedergeboorte kom enkel en alleen van God af, maar die gelowige se
gehoorsaamheidslewe is ’n bevestiging van God se uitverkiesende genade
in sy lewe. Hierdie oënskynlike paradoks waarna ek netnou verwys het, is dus
nie ’n regtig ’n paradoks as ons beide erken nie - dit kan dus nie die een of die ander
wees nie, maar beide. Kom ons kyk net na enkele teksverse wat daaroor
gaan dat ons heiligmaking moet najaag:
• 1 Kor.9:25 ~ Almal wat aan 'n
wedstryd deelneem, ontsê hulleself
allerlei dinge. Hulle doen dit om' n verganklike oorwinnaarskroon
te verkry, maar ons 'n onverganklike.
• Titus 2:2-6 ~ Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees,
eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding. Net so moet
jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag
moet dié wees van mense
wat 'n heilige lewe lei. Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees
nie. Hulle moet goeie raad kan gee, sodat hulle die jonger vrouens kan leer om
liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, verstandig en kuis, goeie
huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die woord van God nie in
diskrediet kom nie. Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig
te gedra.
• Gal.5:22-26 ~ Die vrug van die
Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks
nie. Dié wat aan Christus
Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes
gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. Ons
moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie (Let op die
konteks: Die Vrug van die Gees).
• 1 Pet.2:1 ~ Hou dan op met
elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.
Wanneer
ons kyk na die Vrug van die Gees in Gal.5:22-23 sien ons dat liefde eerste
genoem word en selfbeheersing laaste. Paulus het dit nie om dowe neute gedoen
nie. Liefde is tog immers die bron van die ander elemente van die
Vrug van die Gees - as dit nie vir liefde vir God en liefde vir jou naaste was
nie, sou en kan die
ander elemente nie uitgeleef word nie (terloops: kom julle agter
dat ons voortduend te doen het met werkwoorde en opdragte en “opneem” en
“aflê”?). Die
oorblywende agt kwaliteit en eienskappe van die Vrug van
die Gees, vloei dus voort uit die eerste nl. die liefde.
Paulus
noem egter “selfbeheersing” laaste en dit is ook nie sonder rede dat hy dit
gedoen het nie. Dit is asof Paulus vir ons wil sê: Sonder
selfbeheersing is dit nie moontlik om die vorige sewe elemente van die Vrug van
die Gees uit te leef nie en daarom sal die leef van liefde derhalwe ook nie
moontlik wees nie (terloops: ”selfbeheersng” is nie ’n voorsetsel, of
’n selfstandige naamwoord, of ’n lidwoord, ens. nie - dit is ’n werkwoord!). Anders gestel
liefde word betoon deur die sewe vermelde elemente, maar dit is nie moontlik as
daar nie selfbeheersing aan die dag gelê word nie. Nóg anders gestel:
Liefde word geleef deur die sewe elemente wat net kan geskied m.b.v.
selfbeheersing.
In Rom.6:12
maak Paulus dit baie duidelik, dat gelowiges nie toelaat dat hulle vleeslike
begeertes hulle lewe regeer, soos ’n slawemeester sy
slawe beheer nie - nee, gelowiges beheer hulle self, eerder as dat hulle
toelaat dat hulle beheer word. Selfbeheersing reguleer jou gewoontes en rig jou
gedagtes. Dit hou jou geestelike prioriteite in plek en weerstaan wêreldse
versoekings. Selfbeheersing laat jou volgens die Woord leef en nie volgens jou
nukke en grille nie. Selfbeheersing het vrug in jou lewe tot gevolg - die Vrug
van die Gees en dit hou jou in die geloof.
Petrus
sluit v.10 af, deur te sê ~ As julle hierdie
dinge doen, sal julle nooit struikel nie - ’n eerste
belofte vir gemoedsrus.
5. DIE
LOON OP
VRUG (v.11):
In v.11
gaan Petrus voort en noem hy vir ons ’n tweede belofte wat vir ons
gemoedsrus sal gee in tye wanneer ons wil twyfel, nl. …vrye en
feestelike toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus
Christus.
Hierdie
is ’n baie interessante en bemoedigende vers en is ’n bevestiging
van wat Paulus in 1 Kor.3:8b en 14-15 sê, nl. ~ …God sal elkeen
beloon volgens sy werk… en …As iemand se
bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie
beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die
vuur geruk is.
Na wat
se “werk”, of “bouwerk” verwys Paulus hier? Die Grieks vir “werk” in hierdie geval, is ἔργον (ergon) en dit beteken letterlik, die resultaat van iemand
se aktiwiteit, of sy vakmanskap.
As ons
kyk na die konteks waarin Paulus praat oor hierdie “werk”, dan sien ons
dat hy met gelowiges praat (nié met ongelowiges nie), trouens hy
praat met voorgangers, maar hierdie waarhede is egter nét so van
toepassing op alle gelowiges en n.a.v. v.12 is hier twee soorte materiale ter
sprake, nl. materiaal wat nie in ’n vuur sal verbrand nie en ander wat wel in ’n vuur sal
verbrand; duur- of goedkoop materiaal dus; onverganklike- of verganklike
materiaal.
Hierdie
twee beelde wys verder vir ons op diegene wat enersyds leef volgens die
Evangelie, m.a.w. wat gehoorsaam is aan die Woord en heiligmaking najaag (hulle word
geassosieer met goud, silwer en edelstene). Hulle werke sal
getoets word en as dit die toets deurstaan, sal hulle ’n beloning
ontvang.
Aan die
anderkant vind ons egter daardie gelowiges wat met hout en gras of strooi bou
en hulle sal sien hoe dat hulle werk opgaan in rook en as en sal hulle nié ’n beloning ontvang nie, MAAR Paulus is egter vinnig om te sê dat hierdie lg. groep gelowiges nié hulle redding sal verloor nie!
Waarom
sal gelowiges wat met hout en gras bou, nie hulle redding verloor nie? Omdat
hulle, hulle redding uit genade en
op grond van hulle geloof ontvang het. Hierdie gelowiges se persoon gaan nie geoordeel word nie, maar hul
werke.
Vir
Paulus is daar egter geen twyfel daaroor dat elke
gelowige alles in die stryd sal werp om ‘n beloning te ontvang nie. Vir hom is redding dus ’n geskenk, maar ook ’n
verantwoordelikheid.
Presies
wat die beloning behels wat die gelowiges wat met goud en silwer en edelstene bou,
gaan ontvang, weet ons nie en daarom ook nie wat die gelowiges wat deur hul
lewe met hout en gras gebou het, gaan verloor nie.
Dit wil
dus op die oog af lyk asof sommige gelowiges wat heiligmaking najaag, ’n beloning gaan
ontvang, terwyl die gelowiges wat nie erns met heiligmaking maak nie, die
beloning gaan verbeur en soos deur vuur heen, gered gaan word (v.15). Paulus waarsku
egter hierdie “geskrooide-gelowiges” in v.v.16-17 wanneer hy sê ~ Weet julle nie
dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As
iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God
is heilig, en die tempel is julle. Diegene wat volhard in
hulle onbybelse en wêreldse optrede moet versigtig wees, want hulle is dalk in
ewige gevaar - m.a.w. hulle is dalk nie waarlik wederbaar nie en daarom is dit
beter om weg te draai van die “hout en gras en
die strooi- aktiwiteite, of werke” in hulle lewens en eerder te bou met goud en
slilwer en edelstene, want dalk, net dalk is hulle nie wedergebore nie.
Daarteenoor is ’n lewe wat gekenmerk word deur heilignaking die seël op die
gelowige se wedergeboorte.
6. AFSUITING:
Mark Dever het
in ’n artikel oor 1 Kor.3:9-15 die volgende gesê: “If you have built
or sold a home, you know how important inspection day is. Yet no matter how
confident you are that your
home will pass inspection, there is still apprehension that the inspector will
find your craftmanship lacking. If you have been cutting any corners the
inspection day will bring it to light. This sould cause each of us to humble
our heart and prostate our soul before Christ. The time to prepare for tomorrow
is today!”
Baie
gelowiges gee nie om vir die opdrag om met onverganklike materiaal te bou nie;
om heilige lewens te leef nie en die gevolg sal wees dat hulle nie hul beloning
gaan ontvang nie. Sulke gelowiges kan baie maklik sê dat dit maar in die haak is as hulle nie ’n beloning ontvang nie, solank
hulle dit net hemel-toe maak. Weereens moet sulke mense
oor meer as dit bekommerd wees, want die vraag is, is hulle waarlik gered? Mark
Dever gaan voort en hy sê vir diegene wat so blasé is oor hulle redding: “I can assure you that
when you stand before Jesus Christ, you will wish more than anything in this
world that you had obeyed His command.” Dan
sluit hy weer af met hierdie woorde: “The time to prepare for tomorrow, is today!”
Op die
oordeelsdag sal die woorde van 2 Kor.5:10 ’n verskriklke
realiteit wees ~ Ons moet immers almal voor die regterstoel van
Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe
gedoen het, of dit nou goed was of kwaad. Johannes het
hierdie woorde van die Here in Open.2:23 ontvang ~ Haar volgelinge
sal Ek deur 'n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat
dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal
elkeen van julle straf volgens julle doen en late. Jesus het self
in Matt.12:36-37 gesê ~
Dit sê Ek vir julle:
Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle
rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy
vrygespreek of veroordeel word, Op daardie dag sal die woorde van Ef.6:8 ook waar wees ~ Julle weet tog
dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is
of vry.
Wat is vir jou die belangrikste - om gered te word soos deur vuur heen,
sonder enige verdere beloning (onthou
die ewigheid duur ’n
ewigheid - ’n ewigheid sonder beloning), of wil jy gered word en ’n ewige beloning ontvang?
Laastens
- Ons mag nooit uit gedagte verloor dat ons eerste motief om heilige lewens te
leef, nié sal wees om ’n beloning te ontvang nie en natuurlik
ook nie om verlossing te ontvang nie, want ons weet dat ons enkel en alleen uit
genade gered word en nie op grond van ons goeie werke nie - nee, ons primêre
motief met heiligmaking moet altyd wees om God te verheerlik, asook om Hom te dank vir redding aan ons geskenk.
Hoe dankbaar is jy teenoor die Here vir jou redding? Kan mense deur die vrug in
jou lewe sien hoe dankbaar jy vir jou verlossing is?
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 01 Maart 2015