Sunday, March 22, 2015

Gelowiges en die Joodse Paasfees

1.            INLEIDING:
      n Baie groot gedeelte van die Christelike Kerk oor die wêreld heen, vier eersdaags Paasfees. Daar is egter ook n groot groep Gereformeerdes wat voortdurend wys op die heidense oorsprong van die Paasfees en daarmee saam dan ook Paaseiers, ens. Ek wil nie vanoggend teen die Westerse Paasfees, of anders gestel, die hedendaagse Paasfees preek nie, wat ek wel kan en wil sê, is dat die huidige Paasfees wél sy oorsprong so ver terug het as die Ou Testament en is dit gedurende die vierde eeu na Christus ver-Christelik as fees deur die Rooms Katolike Kerk bevestig - l.w. as ek verwys na die Paasfees, verwys ek nié na die Joodse Paasfes of Peshag nie. 

      Die woord Paasfees (Engels - Easter) word ontleen aan die antieke Anglo-Saksiese godin by name Eostre. Sy was die verpersoonliking van die opkomende son en is as n vrugbaarheidsgodin aanbid. Sy was ook beskou as vriendin van kinders en om die kindertjies te vermaak het sy haar troetelvoëltjie in n hasie verander en hierdie hasie het veelkleurige eiers voortgebring wat die godin aan die kindertjies uitgedeel het. n  Fees is verder elke jaar tot haar eer gehou om die nuwe lewe wat die lente bring, te vier. Ons weet verder dat die vroeë Kerk nie Paasfees gevier het nie en nie een van die Apostels het iets van die Pase vermeld nie. 

      Wat moet ons as gelowiges se gesindheid wees t.o.v. die Paasfees (diesefde geld vir Kersfees)? My gevoel hieroor is, dat ons versigtig moet wees om nie die baba met die badwater uit te gooi nie - ons besef tog immers dat die wortels vir die moderne Paasfees in die heidendom lê; dat ons weet dat Paaseiers en Paashase en selfs ook Hot Cross Buns na die heidense Paasfees verwys, maar waarom moet ons, ons rug styf maak en alles wat met hierdie tyd van die jaar te doen het, bloot net afskiet en stof opskop daaroor?

      Waarom kan ons nie gedurende dieselfde tyd nie ook die fokus laat val, waar dit moet val nie, nl. op Jesus  Christus nie? Waarom kan ons nie ook doen wat Johannes Calvyn en Martin Luther en Jonathn Edwards en George Whitefield en John Piper en vele ander Gereformeerdes deur die eeue heen gedoen het nie en gedurende hierdie tyd oor Jesus Christus se lyding, kruisiging, soendood en opstanding preek nie? Wat meer is, ek is van mening dat die heidene met hulle heidense fees eerder die waarde van die Bybelse probeer steel, as wat ons die heidense nadoen.

      Kom ona kyk dan na wat die betekenis van die Bybelse Paasfees is, ten einde beter te verstaan waarom dit nodig was dat Christus aan die Kruis op Golgota moes sterf as volmaakte soenoffer vir ons sonde.

2.            SKRIFLESING:
      Eks.12:1-14 ~ In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2 Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. 3 Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. 4 As n huisgesin te klein is vir n lam, kan n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5 Dit moet n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, n skaap of n bok. 6 Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. 7 Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. 8 Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9 Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10 Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11 Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die Paasfees van die Here. 12 Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13 Die bloed aan die huise waarin julle is, sal n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie. 14 Hierdie dag moet vir julle n gedenkdag wees. Julle moet dit as n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

3.            DIE PAASGEBEURE:
      Hierdie gebeure wat homself in Egipte afgespeel het, is vir die Joodse volk van die uiterste belang, omdat hulle hierdie gebeure sien as die begin van hulle nasieskap.  Hierdie gebeure het hulle begrip van God gevorm; het hulle lewens-en-wêreldbeskouing gevorm; het as basis vir hulle wette gedien; het hulle sosiale lewe gemodelleer en het hulle totale aanbidding omvat.

      Hierdie geskiedkundige gebeure in Egipte het ook aanleiding gegee tot allerlei ander feeste en gedenkdae wat die Israeliete sou hou en steeds hou feeste soos die Paasfees (Eks.12:14, 24-28, 43-49); die Fees van die Ongesuurde Brode (Gen12:14-20), ens.  

      Wat ons moet besef en altyd in gedagte hou, is dat hierdie gebeure in Egipte, Gód se inisiatief was, daarom dat ons in vers 1 lees ~ ...die Here vir Moses en Aäron gesê... en in vers 11b ~ ...Dit is die Paasfees van die Here.  Hier is geen menslike instellings ter sprake nie.  Die idee en die opdrag en die inisiatief is by God gesetel.  Die Paasverhaal van Eksodus 12, is dus n openbaring van God se getrouheid aan Sy eie Woord.

      Ons lees in Gen.15:13-14, dat God aan Abraham gesê het ~ Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek

      Vierhonderd jaar nadat God n belofte aan Abraham gemaak het, kom Hy Sy Woord na en verlos Hy die volk Israel uit Egipte.  Die Here God kán dus vertrou word, dat Hy nooit ontrou sal wees aan Sy eie  Woord aan Sy eie beloftes nie (sien ook 2 Kron.21:4-7).

      Dit openbaar egter ook God se medelye met Sy kinders, want Hy
het die volk se jammerklagte oor die feit dat hulle in slawerny verkeer, gehoor (Eks.2:23-24; 3:7) en Hy verlos hulle van hul Egiptiese heersers en onderdrukkers.

      Vierdens sien ons hoe God se geregtigheid ook geskied teenoor ander volke en nie net teen Israel nie.  Hy is dus n soewereine God oor alle mense en nasies.

      Laastens openbaar die Paasgebeure, die mag en krag van God. Hy het nie in onderhandelinge betrokke geraak met die Egiptenare nie.  Nee, Hy tree op teen Egipte met ~ n uitgestrekte arm (6:6 O.A.V.)

      God van Israel kom dus Sy belofte aan Abraham na en Hy luister na Sy kinders se versugtinge en Hy red hulle uit slawerny in Egipte.  Die Paasfees lê egter aan die hart van hierdie grootse verlossingsaksie van die Here, want Hy gee baie duidelike voorskrifte aan die volk oor hoe hulle hierdie verlossingsdaad van Hom moet uitvoer, maar ook in die toekoms moet onderhou. 

4.            ONDERHOUDING VAN DIE PAASFEES:
      Deel van hierdie verlossingsdaad van God was n voorwaarde dat die volk bepaalde voorskrifte, noukeurig moes gehoorsaam. 

      Ook het die volk se verlossing uit Egipte nie nét van die eet van die Paasmaaltyd afgehang nie, inteendeel daar was veel meer opdragte wat hulle noukeurig moes navolg.

      Wat het die Here se opdragte behels?

      Dit behels o.a. dat die volk voorbereidings moes tref om n Paasmaaltyd op ...die tiende van hierdie maand (3b) te nuttig en hierdie dag (dit is iewers tussen ons Maart en April) moes die volk se Nuwejaarsdag word. Hierdie tiende dag van daardie spesifieke maand, was ook gesien as die dag waarop die koring ryp was en daarom word die Paasfees       ook gesien as n nuwe begin n nuwe begin vir Israel as       nasie.

      Daar moes egter n slagoffer wees en hierdie slagoffer moes n jaaroud skaap- of bokrammetjie wees wat vier dae later, teen laat die middag geslag moes word.  Die vleis van hierdie rammetjie moes die aand tydens n gesinsmaaltyd genuttig word en oortollige vleis moes met andere gedeel word (12:8)

      Daar was ook baie spesifieke voorskrifte t.o.v. hierdie rammetjie hy moes aan bepaalde voorwaardes voldoen het en die klem het op volmaaktheid geval n volmaakte offer moes dus gebring word en niks minder as die volmaakte nie (12:5).

      Wanneer die Israeliete hierdie ram se keel afsny, moes hulle die bloed opvang en dan daardie selfde bloed met n hisoptakkie teen hul huise se deurkosyne verf (12:22) hierdie bloed moes dus nie net alleen gestort word nie, maar ook aangewend word deur diegene wat verlos wou word uit slawerny en beskerm wou word teen die doodsengel.  Hierdie selfde prosedure sou later gevolg word in ander offerandes wat nog ingestel sou word (sien Lev.1:5,11; 3:2,8,13; 4:6,17; 7:2; 8:19,24; 9:12,18; 14:7).

      Ons sien dus dat daar figuurlike lewe was in hierdie bloed wat aan die deurkosyne geverf is en dit het nie net lewe geïmpliseer vir die eersgeborenes nie, maar vir elke Israeliet wat daardie nag nog n nuwe lewe van bevryding sou ontvang.  Lewe (die van n jaaroud rammetjie) moes dus afgelê word, ten einde lewe vir andere moontlik te maak.

      Ons het gesien dat daar nie net bloed aan die deurkosyne geverf moes word nie, maar die vleis van die rammetjie moes geëet word (12:8).  Die maaltyd het dus verder daarop   gedui, dat die lewe van die offerlam nie alleen neergelê is       nie, maar dit moes ook fisies deel word van die binneste      van die volk hulle moes dit dus eet en verteer. 

Deur hierdie offerlam word daar dus n nuwe lewe geskenk aan die gesin wat dit eet, maar ook word die lewe van die eersgeborene gespaar én die gesin word voorsien van voeding en energie vir die ontsnappingstog uit Egipte wat daardie nag nog vir hulle sou begin.

      Daar word in die fynste besonderhede instruksies gegee van hoe die maaltyd genuttig moet word ~ Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9 Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10 Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11 Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die Paasfees van die Here (12:8-11).  Let op, hulle moet ook hulle reisklere aantrek (stapklere).

      Kan u dink wat se atmosfeer het daardie aand aan tafel in elkeen van die Israelitiese huise geheers afwagting, opgewondenheid, selfs vrees dalk!

      Al hierdie detail is egter nie om dowe neute gegee nie en ons sal dit sien as ons dit begin toepas op die werk wat Christus gedoen het, maar eers moet ons klaar kyk na die agtergrond en verduideliking van die Paasfees.  Ons moet o.a. kyk waarom God opgetree het soos wat Hy opgetree het en wat is bereik tydens die aand van daardie eerste Paasfees.

5.            GOD SE MOTIEF:
      Vyf uitstaande dinge is gedurende daardie eerste aand bereik deur God.  Dit was enersyds n werk van oordeel, maar andersyds ook n werk van verlossing en redding. Weereens n weerspieëling van nog n karaktereienskap van God.

      Eerstens sien ons dat God n Regter is.  In Eks.1:15-16 lees ons dat ~ Die Egiptiese koning vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê (het):16 As julle n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit n dogter is, mag sy bly lewe.  Farao wou volksmoord pleeg, maar sy sonde haal hom in, want dieselfde nag wat geweldige vreugde vir die Israeliete sou bring, het onbeskryflike droefheid vir die Egiptenare tot gevolg gehad die Israeliete word uit Egipte gelei, maar terselfdertyd sterf al die eersgeborenes van die Egiptenare onder die hand van die doodsengel (12:29) presies soos wat God in Eks.12:23 belowe het. 

      Ons moet besef dat hierdie doodsengel nie n demoniese mag of n demoon was wat buite beheer opgetree het en wat God nie kon hanteer nie dit is dieselfde engel waarvan 2 Sam.24:16 praat ~ Net toe die engel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om dit te verdelg, het die Here besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf onder die volk aanrig, gesê: Dis nou genoeg. Trek jou hand terug. Die engel van die Here was toe net by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.

      Ons weet ook nie presies waaraan die Egiptiese eersgeborenes (dier en mens) gesterf het nie, maar wat wel belangrik is, is die feit dat hierdie optrede van God aan ons demonstreer hoe Hy oor sonde voel.  Ps.78:49-50 beskryf bv. God se gevoel oor sonde as volg ~ Hy het sy gloeiende toorn op hulle losgelaat: gramskap, woede en rampe, n hele vrag onheil; 50 Hy het sy toorn vrye loop gegee, hulle lewens nie gespaar nie en hulle aan die pes uitgelewer. Die Hebreërskrywer sê in Hebr.10:30-31 ~ Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld; en verder: Die Here sal oor sy volk oordeel. 31 Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

      Die beskrywing van hierdie faset van God se karakter is nie in hierdie dae baie gewild nie, want daar word meer klem gelê op God se lankmoedigheid en liefde en vergifnis, maar ons moet nooit uit gedagte verloor dat God die sonde haat.  Eers wanneer mense dit begin besef en verstaan, word wedergeboorte en vergifnis van sonde beter verstaan en aanvaar. 

      Indien God die mens, wie Hy geskape het, sou toelaat om te doen net wat hulle wil, d.m.v. allerlei booshede, sonder om die mens ooit tot verantwoording te roep, of om Sy uiterste afkeur oor hul sonde uit te spreek en daarteen op te tree indien God dit sou toelaat, hoe kan Hy heilig genoem word?  Hoe kan Hy waardig wees om aanbid te word?

      God is dus n Regter wat oordeel oor sonde, maar God is ook lewend en almagtig en Hy vernietig en onderwerp ook alle ander gode, daarom dat Hy in Eks.12:12 sê ~ Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!  Die wedywering tussen Egipte en Israel; tussen Farao en Moses, was nie net n wedywering van krag nie, maar ook van geestelike krag tussen die lewende en almagtige God en die kragtelose en lewelose afgode van Egipte.  Ons sien in hoofstukke 7 & 8 van Eksodus, dat God telkens die gode van Egipte oortref en vernietig deur die plae wat Hy gestuur het, bv. die vrugbaarheidsgod van die Nyl, by name Hapi, is vernietig deur die bloed in die Nyl (7:14-24).  Die tweede plaag, nl. die paddas, het die godin Hegt wat as rein beskou is en wat vroue gehelp het met die geboorteproses, onder verdenking gebring, omdat paddas as onrein beskou is.  So is elke afgod van die Egiptenare in diskrediet deur God gebring.

      Die Egiptiese towenaars kon enkele wonderwerke naboots wat Moses-hulle gedoen het, maar toe dit kom by die nabootsing van muggies, het die towenaars hul beperking bereik en kon hulle nie stand hou teen God nie en het hulle begin besef dat Moses en Aäron nie besig is met towerkunste nie, maar dat hulle besig is om die almag van God te demonstreer.

      Die laaste plaag was die dood van die eersgeborenes, wat die eersgeborenes van die diere ingesluit het.  Waarom het God ook die diere getref?  Omdat baie van die diere ook gedien het as afgodsoffers en God ook sy afkeur daarin wou toon.  God het dus nie alleen deur die plae, elke denkbare afgod verneder en aan die Egiptenare getoon dat hulle magteloos en leweloos is nie, maar hy vernietig terselfdertyd die afgodsoffers deur die eersgeborenes te laat sterf.

      In die derde plek leer die Paasgebeure in Egipte, vir ons dat God ook n Redder is.  Daar is twee wyses waarop die Paasgebeure beskerming bied aan n bedreigde volk die een is algemeen van aard en die ander is spesifiek van aard.

      Die Joodse eersgeborenes was nie outomaties beskerm teen die doodsengel se wraak, net op grond van hul etniese afkoms nie, maar omdat hulle net so sondig was soos die Egiptenare, en daarom moes ook die Israeliete se eersgeborenes sterf.  Die eersgeborenes was egter net beskerm indien bloed van die Paaslam, teen hul deurkosyne geverf was.  Dit was dus die dood van die lam wat geïmpliseer het dat hulle beskerm was teen die oordeel van God.  Die klem val dus hier op die die bloed van die lam as teken wat die vernietigingswerk van God afgeweer het. 

      As hulle hul lewens dus wou red van God se wraak op die sonde, moes n ander in hul plek sterf en moes hulle, hulle identifiseer met daardie bloed wat gevloei het.   Hebr.11:28 som dit mooi op ~ Omdat hy (dit is Moses) geglo het, het hy die Pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.  Die sleutel tot die betekenis vir die woord Paasfees lê ook in hierdie teksvers.  Die Engelse woord pass in Passover verwys na die Doodsengel wat die bloedbeverfde deurkosyne sou pass (verbygaan) en nie dood in daardie huis sou saai nie.

In kort dus:  Die bloed van die Paaslam, het die regverdige oordeel van God daarvan weerhou om diegene wie die dood verdien het, uit te wis.  Die God wat belowe het dat Hy Sy volk met n uitgestrekte arm (6:6) sou beskerm, hou dus by sy Woord.

      Vierdens sien ons dat God ook n Verlosser is.  Die Israeliete moes die lam braai en dit eet saam met ongesuurde brood en as daar iets sou oorbly moes dit die volgende oggend verbrand word.    

      Dan skielik gedurende die nag nadat die eersgeborenes van Egipte sterf, kom die woord en word die Israeliete uit Egipte gelei na vryheid hulle word verlos van slawerny Vryheid uiteindelik!  God is die een wat die inisiatief neem en die Israeliete verlos.  Die Skepper van die heelal is voorwaar n Verlosser!

      Laastens sien ons dat God Homself ook openbaar as Here.  Ons lees in Eks.12:10; 43-49 en ook in Lev.8, dat Aäron en sy seuns toegewy word as heilige priesters in diens van God.  Met hierdie toewyding, moes hulle ook n ram slag; dit braai en saam met ongesuurde brood eet en dit wat oorgebly het moes ook verbrand word. 

      Op dieselfde wyse het die Paasmaaltyd ook gedien as n offermaal en met die eet daarvan word Israel ook toegewy as n heilige nasie.  Van daardie oomblik af, was die Israeliete ... n koninkryk wat God as priesters dien, en n gewyde nasie (19:6) en het

      God, Jahweh, of Here vir die volk geword.  Wanneer ons kyk na die Griekse betekenis van die naam Here, nl. kurios (koo'-ree-os), sien ons dat dit o.a. verwys na gesag.  Dit het bv. die gesag van die vader in die huis beskryf.  Verder is dit ook die gebruiklike woord vir Heer en Meester, teenoor slaaf.  Of dit verwys na die onbetwiste eienaar van eiendom en hierdie benaming het gewoonlik ook verwys na die gesagsfiguur wat besluite neem.  Om God dus as Here aan te spreek beteken dat ons Hóm alleen erken as ons hoogste gesag.

      Dit is presies wat God vir Israel was dié Een wat die besluite geneem het en wat Homself onbetwisbaar bewys het as die Oppergesagdraer en deur die Paasmaaltyd onderwerp die Israeliete hulle dan ook self aan die Here as hul enigste gesag. 

6.            DIE VERVULLING VAN DIE PAASFEES:
      Wanneer ons kyk na ander gedeeltes in die Ou Testament wat na Christus heenwys, is dit nie altyd so kristalhelder nie, maar die Paasgebeure is n eksplisiete heenwysing na Christus.  So verbind Paulus bv. Christus direk met die Paasgebeure in 1Kor.5:7, wanneer hy sê ~ Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus.  In 1Pet.1:19 skryf Petrus ~ Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.  Hier word dus ondubbelsinnig van Jesus as Paaslam gepraat.  Ook die Lam waarvan daar in Openb.5:6, 8, 12, 13 en 12:11 gepraat word, is n verwysing na Jesus die Christus.

      Lukas het ook in Luk.22:13, geen geheim daarvan gemaak dat die Avondmaal, die laaste Paasmaal sou wees, daarom dat hy in Luk.22:15-16, Jesus se woorde ook herhaal, nl. ~ Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16 Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.  Ook Jesus se woorde in Mark.14:24, nl. ~ Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word, is n direkte verwysing na die vervulling van die Paasmaal, want Sy bloed word net soos die Paaslam se bloed gestort t.w.v. die vrymaking van duisende.

      Selfs die hisoptakkie wat gebruik was om die bloed aan die deurkosyne te verf, word weer gebruik in Joh.19:29, wanneer die soldate vir Jesus n spons vol suur wyn op n hisoptakkie gesit (het) en dit teen sy mond gehou (het).

      Die Paasfees en -lam was dus n vroeë templaat of vorm vir die offer wat Christus, ons Paaslam later sou navolg.  Net so is die Paasfees ook n templaat vir die Nagmaal wat Jesus ingestel het, en wat ons gereeld moet gedenk.  Die Paasoffer is verder, n paradigma of n patroon waarvolgens die kruisiging van Jesus sou plaasvind.

      Alles wat dus rondom en deur en met die Paaslam gebeur het, gebeur net so rondom en met en deur Jesus Christus.  Hy is volmaak en sonder gebrek.  Hy is volkome geoffer. Hy het Sy bloed ook gestort, ten einde ons vry te koop en te beskerm teen God se wraak op die sonde en net so bewerk Hy ook uiteindelike vryheid vir die wat in Hom glo.


      Die groot verskil egter tussen die Paasfees en die kruisiging van Jesus, is dat die bloed van die Paaslam se funksie beperk was tot Israel, terwyl Openb.5:9-10 vir ons die volgende leer van Christus óns Offerlam ~ ...U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. 10 U het hulle n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.  Christus se bloed is dus gestort vir beide Jood en heiden ook vir jou en my! 

Boodskap deur Kobus van der Walt  Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere)  Sondag 22 Maart 2015