1.
SKRIFLESING:
1 Kor.11:23-34 ~ Ek het van die
Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag
waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24 en, nadat Hy God
daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my
liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit
tot my gedagtenis.” 25 Net so ook het Hy ná die maaltyd die
beker geneem en gesê:
“Hierdie beker is
die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik
dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 26 Elke keer as
julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood
van die Here totdat Hy kom. 27 Elkeen wat op ’n ongepaste wyse
van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan
sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28 Maar elkeen moet
eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die
liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor
homself. 30 Daarom is daar
baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie
onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons
deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel
sal word nie. 33 Daarom, my broers,
as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. 34 As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis
eet, sodat julle nie ’n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die
ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.
2. INLEIDING:
Charles
Hodge het op ’n keer gesê: ”We cannot commemorate Christ as our Saviour without thereby
acknowledging ourselves to be His, the purchase of His blood and devoted to His
service.”
Die
Nagmaal is ’n verordening, of instelling, en natuurlik, ’n sakrament wat ’n permanente beslaglegging op ons harte
beklemtoon, maar ook ’n permanente heilige toewyding van ons vereis.
Paulus
suggereer aan ons hierdie permanensie wanneer hy in vers 26 van ons Skriflesing
sê ~ Elke keer as
julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood
van die Here totdat Hy kom – elke keer.
Ek wil
graag vanoggend drie sake t.o.v. die Nagmaal met u behandel:
-
Vir Wie is die Nagmaal bedoel?
-
God
se Doel met die Nagmaal.
-
’n Toets vir Opregtheid.
3. VIR WIE IS DIE NAGMAAL:
Eerstens
dan, vir wie is die Nagmaal bedoel?
•
Ons moet in die eerste plek besef dat die Heilige Nagmaal, slegs vir mense
is wat bely dat hulle Christene is.
Thomas Doolittle het op ’n keer gesê: ”Dooie mense mag nie aansit aan die tafel
van die Lewende God nie.”
Nee, die Nagmaal is slegs vir diegene wat saam met Tomas kan uitroep, My Here en my God! (Joh. 20:28).
Die
Nagmaal is ’n baie sterk Evangelistiese middel, omdat
gelowiges deur hul deelname aan die Nagmaal, aan die wêreld
toon dat hulle Jesus Christus as Saligmaker en Here navolg en dat hul harte van
klip verander is in harte van vlees ~ Ek sal hulle 'n
ander hart gee en' n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit
hulle liggaam verwyder en hulle 'n hart van vleis gee (Eseg.11:19).
Daar is mense wat redeneer, omdat Judas
die Iskariot teenwoordig was by die instelling van die Nagmaal, mag ongelowiges
daarom ook deelneem aan die Nagmaal – hulle slaan egter die bal ver mis. Judas het tot en met daardie stadium, Jesus
Christus as Here bely en was hy een van Jesus se dissipels. Sy mededissipels het hom aanvaar as ’n broeder in Christus en Jesus het hom op sy woord geneem (al het Hy in Sy
Goddelike alwysheid geweet dat Judas nie gered was nie). Judas was
egter vals en skynheilig en was kort voor lank ontbloot as ’n huigelaar. Vir ’n tyd lank het hyself gedink dat hy gered was en wel op grond van sy
belydenis, maar gedurende die Paasfees waartydens Jesus gekruisig is, het Judas
besef dat hy nie gered is nie en dat hy slegs voorgegee het dat hy ’n gelowige is. As ’n verraaier van Jesus, is hy waarskynlik een van die beste voorbeelde van
iemand wat die Nagmaal op onwaardige wyse gebruik het en derhalwe ’n oordeel oor homself geëet en gedrink het
- kan u ook hierin sien hoe belangrike heiligmaking is?
• Die Heilige Nagmaal is tweedens ’n maaltyd waartydens God ons wil versterk en bevestig as gelowiges.
Die
Heilige Nagmaal is een van die sakramente waarvan die 1689 Baptiste
Belydenis van Geloof praat (hoofstuk 28) – die ander sakrament is natuurlik die
heilige doop (hoofstuk 29). Die woord sakrament
is nie ’n Bybelse uitdrukking nie, maar word van
die Latynse woord sacramentum afgelei, wat na iets heiligs en
misterieus verwys en wat ’n baie diepliggende geestelike betekenis
het. Die eed wat Romeinse soldate afgelê het, het ook bekend gestaan as ’n sacramentum en dit het op ’n baie
dieper vlak van toewyding gelê as wat ’n gewone werknemer se lojaliteit bv. gelê het.
Hierdie
selfde diepgaande eed en ooreenkoms vind ons in die Nagmaal, waar die huidige
en toekomstige toewyding van die gelowige aan die Verlosser herbevestig en
vasgelê word. Dit lê dus amper op die vlak van ’n hertoewyding aan Jesus Christus deur
elke individuele gelowige.
•
Die
Nagmaal is ’n korporatiewe gebeurtenis, of ’n gesinsmaal. Niemand kan die
Nagmaal aan homself bedien nie. Die Nagmaalstafel behoort aan die huisgesin van God en hulle
nuttig dit, terwyl hulle die Here Jesus Christus loof en prys en dien. Die feit dat die Nagmaal die vorm van ’n maaltyd aanneem, beklemtoon die gemeenskap van die gelowiges, of
die broederskap, rondom die Tafel, ten einde geestelik gevoed te word en dit is
dan ook in ooreenstemming met Joh.6:35 ~ Ek is die
brood wat lewe
gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal
nooit weer dors kry nie.
4. GOD SE DOEL MET DIE
NAGMAAL:
God
wil deur die Nagmaal, bepaalde praktiese doelwitte met Sy kinders bereik.
• Eerstens moet ons besef dat die doel met die
Nagmaal nié is om mense wat daaraan deelneem, in te lyf in die Koninkryk van God
nie. Dit is dus nie ingestel om mense
te bekeer nie. Dit is dus nie ’n “bekerings-ordonansie” nie, of ’n maaltyd wat ook aan ongelowiges gebied word met die hoop dat hulle hul
tot Christus sal bekeer nie.
• Nee, soos reeds gesê, is
die Nagmaal ingestel vir gelowiges en het dit ten doel om die deelnemers aan
die Nagmaal, die geleentheid te bied om hul geloof in Jesus Christus te
verklaar en te bevestig – dit is dus ’n “bevestigings ordonansie”. Die Nagmaal het dus ten doel om toegewyde
gelowiges se persoonlike heiligmaking en geestelike groei, opnuut weer aan te
wakker.
• Hierdie geestelike groei en heiligmaking word
gewerk deur die Heilige Gees in en deur die sakrament van die Heilige
Nagmaal. Dit gebeur nie outomaties
nie. Daar is geen magiese kragte
aan’t werk tydens die Nagmaal nie. Dit alles gebeur deur geloof – ons geloof in Jesus Christus, asook deur die Nagmaal op ’n waardige wyse te gebruik.
Ons
sien in 1 Korintiërs dat die gemeentelede in Korinte, dikwels deel
gehad het aan die Nagmaal, maar hulle het ook dikwels, die Nagmaal op ’n onwaardige wyse gebruik en dit het dan tot gevolg gehad dat die Here Sy krag van hulle weerhou het
en hulle gestraf het vir die onwaardige wyse waarop hulle die Nagmaal gebruik
het – 1Kor.11:30 ~ Daarom is daar
baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. God
hanteer ons as verantwoordelike wesens en daarom verwag Hy dat ons Hom ernstig
sal opneem.
Tydens
die instelling van die Nagmaal het Jesus verwys na die Heilige Gees wat sou kom
en wat die dissipels in alle waarheid sou inlei – Joh.16:13 ~ Wanneer Hy kom,
die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van
Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en
Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.
• Dit is dan ook die rede waarom die bediening van
die Nagmaal altyd voorafgegaan behoort te word deur die prediking van die
Woord, want sonder die Woord word die sakrament van die Nagmaal bloot
afgewater tot simbole en ’n ritueel – gestroop van die ware
betekenis. Dit is natuurlik iets wat
reeds algemeen voorkom in kerke wat hulle verankerdheid in die Skrif verloor
het.
• Deur die krag van die Woord en die werking van die
Heilige Gees, dien die Nagmaal as bevestiging van die Here Jesus se soendood,
waardeur ons vergifnis van ons sonde
ontvang het, asook ons redding.
• Omdat die Nagmaal die fokus plaas op die dood van
Christus en dit ons, by wyse van spreke, “by die voet van die Kruis bring”, lei dit ons ook na ’n leë graf en die feit dat Christus opgestaan het.
• Jesus is nie meer aan die kruis nie en Hy is ook
nie meer in die graf nie. Hy het gely,
gesterf en weer opgestaan uit die dood, ten einde die verheerlikte Middelaar
en Verlosser van God se uitverkorenes; die Redder van die verlorenes
en die Hoof van die Kerk te word.
5. SELFONDERSOEK:
Wat dus
vanuit die Kruis vloei, is nuwe lewe in die verrese Redder. Om hierdie punt te mis wanneer ons
die Nagmaal gebruik, is om alles te mis wat die Woord vir ons leer oor môre
en die ewigheid.
Vir
baie – nee, vir miljoene is die gebruik van die Heilige Nagmaal, slegs ’n godsdienstige viering of voorskrif wat nagekom moet word en is dit dus
niks anders as ’n sondige ritueel nie. Dit het tot gevolg dat diesulkes se lewe
tussen die een Nagmaal en die volgende Nagmaal ook niks anders is as ’n lewe van godsdienstige voorskrifte wat nagekom word – of wat hulle poog om na te kom.
Hulle hele lewe word dus niks anders as ’n
godsdienstige ritueel nie.
Wanneer ons die Nagmaal gebruik,
moet ons in alle nederigheid, in die woorde van Gal.2:20 bely, ...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.
Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God
wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. Enige iets minder as dit, is koud,
klinies, meganies, werke gedrewe en slegs ’n nakoming van ’n bepaalde ritueel of rituele – in kort, dit is ’n tragedie, want dit is ’n aanduiding van ’n hart en lewe wat nié in die regte verhouding tot God staan nie.
Ons moet vir onsself ’n paar vrae vra wanneer ons die Nagmaal gebruik:
•
Watter effek gaan
die Nagmaal op my en my lewe hê, gedurende hierdie komende week en weke?
•
Spreek die
gebruik van die Nagmaal jou aan t.o.v. jou lewe, jou lewenstyl, jou optrede ens.?
•
Oor wat spreek
die Heilige Gees jou aan, wanneer jy “aansit” by die
tafel?
•
Het jy Christus
waarlik lief?
•
Wy jy jou ganse
lewe toe aan Hom?
•
Wil jy Christus
waarlik volg as Verlosser en Here in jou lewe?
’n Nuwe, vars voorneme om jou lewe te wy aan Christus, is ’n aanduiding dat jy die Nagmaal in opregtheid gebruik – dit is ’n bevestiging van jou lewende geloof
in Christus Jesus.
Die tragiese van die Nagmaal is
dat miljoene mense die betekenis van die Nagmaal in hulle daaglikse lewe
weerspreek deur hul optrede.
weer wat Jesus vir jou gedoen het – waarvoor Hy waarlik gesterf het. Is
dit sodat ons ’n skoon gewete kan hê? Waarvoor het Hy opgestaan uit die
dood – is dit sodat ons maar steeds kan leef soos ons wil, sonder ’n gedagte aan sonde, geregtigheid en oordeel?
6. ’N TOETS VIR
OPREGTHEID:
Wanneer ons onder God se “soeklig van geregtigheid” kom, is die regte reaksie om ons sonde te bely. Indien dit nié die geval is nie,
sê die Apostel
Johannes in 1Joh.1:10 die volgende ~ As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is
sy woord nie in ons nie.
Belydenis van sonde is egter een
ding, maar dit is nie dieselfde as persoonlike heiligmaking nie en daarom gaan
Johannes verder en sê hy dat die
uiteindelike doel met sondebesef en die belydenis van sonde, is om ’n heilige lewe te leef, daarom dat hy in 1Joh.2:1-3 die volgende sê ~
Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie
moet sondig nie. En as een van ons sondig-ons het Jesus Christus, die
regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2 Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. 3
As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan
dat ons Hom ken.
Sien u die oorgang hier van vers
2 na vers 3? In vers 2 praat Johannes
van Jesus se soendood vir ons, sodat ons aanneemlik kon raak vir God, maar Johannes gaan voort in vers 3 en sê in geen onduidelike taal aan ons, dat indien ons versoen
is met God deur Christus, ons ’n verantwoordelikheid het om God se “gebooie” te gehoorsaam. Ons lewe moet dus
gekenmerk word deur gehoorsaamheid aan God en aan Sy Woord.
Johannes gaan voort in sy eerste
brief en hy gee ’n paar toetse aan ons deur, waardeur
ons kan vasstel, of ons, ons vertroue waarlik in Christus plaas en daarom in
gehoorsaamheid aan hom leef.
•
Ons vind die
eerste toets in 1Joh.2:3-4 ~ As ons die
gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Hiermee saam
1Joh.2:5a ~ Wie sy woord egter gehoorsaam-in hom het die liefde van
God werklik sy doel volkome bereik. Ons moet dus gehoorsaam wees aan God se
Woord.
•
Tweedens moet ons in en deur ons lewe, navolgers van Christus wees ~ Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort
self ook te lewe soos Jesus gelewe het (1Joh.2:5b-6).
Hierdie laaste Skrifgedeelte
konfronteer ons dus met ’n baie direkte vraag, nl.: Ken jy régtig die Here Jesus?
7. AFSLUITING:
Wanneer ons dan die Nagmaal
gebruik, word ons na die Kruis van Jesus gebring en word ons in die woorde van
Ps.116:12, opnuut weer opgeroep om onsself toe te wy aan Christus ~ Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?