Sunday, February 1, 2015

Die Tweede Brief van Petrus - 02 (“Krag vir Godvrugtigheid”)

1.    INLEIDING:
       Voorverlede week het ons na die eerste 2 verse van die Tweede Brief van Petrus gekyk en het ons gefokus op God se geregtigheid en dan spesifiek op daardie faset van God se geregtigheid wat handel oor ons verlossing en wat ons in en deur Christus Jesus ontvang het.

       Ons het gesien dat Adam (en daarmee saam ons ook), Sy geregtigheidsaard of geregtigheidstoestand met die sondeval verloor het en dat hy daarna ʼn sondige natuur ontvang het sonde het ons gesien is die teenoorgestelde van geregtigheid. Hierdie situasie word die erfsonde genoem.

       Adam het egter ook sy juridiese geregtigheidstand voor God verloor en dit word die erfskuld genoem, wat impliseer dat alle mense strafwaardig voor God is selfs babatjies.

       Ons het egter ook gesien dat wanneer 'n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus oorgeplant Adam se sonde wat aan ʼn sondaar toegereken was, oftewel gedebiteer was, word nou gekanselleer hy word derhalwe gekrediteer (geen skuld meer nie).

       Daar was egter nog een dilemma en dit was dat Christus se vryspraak nog nie voldoende was nie, want al is ons ná Sy soendood kwytgeskeld van alle skuld sit ons nog met ons daaglikse sonde. Daar is dus nie net straf om te ontkom nie; daar is loon om te verwerf en as ons die ewige lewe wil beërwe, moet ons God volkome gehoorsaam en dit is ons grootste probleem, want ons kan dit nie uit eie krag verdien of verwerf nie! Hierdie onoorkombare dilemma van die sondegevalle mens word egter óók deur Christus aangespreek. Hý het God volkome gehoorsaam van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy dood aan die kruis, want Hy was volkome, ja tot die dood toe, gehoorsaam aan Sy Vader en hierdie selfde gehoorsaamheid word aan elkeen wat waarlik glo, toegereken! Christus se volkome gehoorsaamheid word oorgeboek na sy of haar rekening wat glo! Ons moet dus ons geloofsvertroue in die verdienste van die Plaasvervanger, Jesus Christus plaas en dan word ons óók met Sy volmaakte geregtigheid gekrediteer!
 
2.    SKRIFLESING:
       Ek wil dat ons vandag fokus op 2 Pet.1:3-4, maar hierdie twee verse kan nie in isolasie van die voorafgaande verse gelees word nie en verder vorm vv.3-4 ook die fondasie vir v.5.

       2 Pet.1:1-4 ~ Van Simon Petrus, n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. 2Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! 3Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

3.    KRAG VIR GODVRUGTIHEID:
       Wat is die kruks van die eerste twee verse? Dit gaan oor die oorvloedige en soewereine geskenk van geregtigheids-genade wat gelowiges van Hom in wie hulle glo, ontvang het, maar dan in vv.3-4 skryf Petrus oor geestelike brandstof wat ons as gelowiges ontvang het om ons lewensvlam aan die brand te hou en hierdie vlam word ook uit genade aan ons geskenk sonder dat ons ʼn oog hoef te knip. As dit nie vir hierdie lewensvlam was nie, sou ons nie kon lewe nie nie fisies nie (God se algemene genade), maar beslis ook nie geestelik nie (God se toegespitste genade). Ons moet egter daarop let dat hierdie krag waarvan v.3 praat, dui op geestelike lewe daardie eenheidslewe wat ons met Christus Jesus beleef.

       Ons het egter nie net God se krag ontvang om geestelik te lewe nie, v.3 leer ons dat ons as gelowiges, wat uit genade God se geregtigheid deelagtig geword het, al die krag ontvang om te lewe en om Hom te dien. Ons as gelowiges het dus een primêre roeping en dit is om só te lewe, dat ons die Here altyddeur sal verheerlik en dit word deur 1 Pet.4:11b bevestig ~ So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid, asook 1 Kor.10:31 ~ Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.
      
       As ons nie hieraan voldoen en hierdie opdrag gehoorsaam nie, kan ons, onsself nie gelowiges noem nie as dit nie ons daaglikse en opregte strewe is om God-Drie-enig te verheerlik deur ons lewe nie, moet ons ernstig besin of ons God se geregtigheid werklik ontvang het en laat ek dit sommer nou hier uit die staanspoor sê; indien jy wel op ʼn punt is en jouself ernstig afvra waar jy staan wat hierdie primêre roeping van jou aan betref en jy oortuig is dat jy dalk tog nog nie God se geregtigheid ontvang het nie, is dit nie nodig om in ʼn hoekie te gaan sit en jouself jammer te kry nie daar is tyd dat jy jou kan bekeer en na God kom en jou geloof en vertorue in Christus Jesus plaas en Hom vra om jou wel deel te laat kry aan die Vader se genadige gergetigheid, maar dan moet dit ook jou opregte voorneme wees om jou te bekeer van jou verkeerde weë.

       Jy is dalk een van baie gelowiges wat sê dat jy ʼn opregte en vaste begeerte en strewe het om God te verheerlik, deur heilig te lewe en Hom te dien, maar dat jy dit net nie regkry nie dat jy net nie kan nie en daarom probeer jy nie eers nie indien dit waar is van jou, moet jy mooi oplet op Petrus se woorde in v.3, want hy dink so bietjie anders oor hierdie saak hy sê in v.3 dat God, deur ...Sy Goddelike krag, ons alles geskenk (het) wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. As ons derhalwe sê dat ons dit nie kan regkry nie, omdat ons nie geestelik sterk genoeg is nie, het ons te kampe met een of meer probleme:
        Die eerste is dat ons God se Woord nie glo nie – Petrus sê dan dat ons wel die krag ontvang het en as ons sê dat ons dit nié ontvang het nie, glo ons nie die Woord van God nie.
        ʼn Tweede moontlikheid is dat ons nie glo dat God almagtig is nie en dat Hy derhalwe nie daartoe in staat is om grote ek van die nodige krag te voorsien nie.
        Nog ʼn moontlikheid is dat ek moedswillig en doodeenvoudig nie lus is om gehoor te gee aan God se opdrag om Hom met oorgawe te dien nie die wêreld en my eie vlees is net té lekker en té aanloklik.

       Indien enige van hierdie drie moontlikhede waar is van jou, moet jy 2 Pet.3:7 in gedagte hou wat sê ~ Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. Ons moet egter daarteenoor die belofte in gedagte hou wat Petrus ook in 2 Pet.3:13 vir ons gee nl. ~ Maar ons leef in die verwagting van n nuwe hemel en n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God
sal heers.

       Indien jy en ek wel glo dat ons God se geregtigheid deelagtig geword het, maar nie regtig tot Sy eer lewe nie, moet ons, ons daadwerklik bekeer en die woorde van Petrus ter harte neem, nl. dat God, deur ...Sy Goddelike krag, ons alles geskenk (het) wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.

       Jesus stel baie hoë standaarde aan ons om te lewe en Hom te dien, m.a.w. om ʼn goddelie, of heilige lewe te lei. Hierdie heilige lewe waarna Petrus verwys en waaraan ons, onsself moet onderwerp, maar ook waaraan ons, ons kán onderwerp, omdat Christus ons die krag daarvoor gee hierdie heilige lewe, was ʼn tema wat Jesus regdeur Sy aardse bediening beklemtoon het en dit is nêrens meer duidelik uitgespel as juis in die Bergpredikasie nie (Matt.5-7).

       Wanneer ons egter na die Bergpredikasie kyk, raak die meeste, indien nie almal van ons nie, heeltemal moedeloos, want om aan daardie eise te voldoen is bykans ʼn saak van onmoontlikheid. Ons moet egter onthou, dat Jesus nié Sy standaarde vir ʼn heilige lewe voorop kom stel het vir volmaakte mense nie, maar vir gebroke en onvolmaakte mense wat in afhanklikheid van Hom lewe.

       Paulus sê vir ons in Ef.2:8 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is n gawe van God. Indien ons glo dat God ons gered het indien Hy ons die gawe van verlossing en ʼn ewige lewe geskenk het, dan moet ons 2 Pet.1:3 daarmee saam glo, nl. dat Hy ook aan ons die vermoë geskenk het om Hom te dien en goddelike lewens te lei m.a.w. Hy wat ons geroep het, stel ons ook in staat om Hom te dien en heilig te lewe Hy red én Hy bemagtig. Hy red ons nie net en laat ons dan aan ons eie lot oor nie. Nee, Hy gee aan ons die krag en die mag om heilig te lewe en indien ons nie hierdie krag gebruik nie - ons nie die wil het om heilig te leef nie, is ons in sonde en moet ons, ons bekeer.

       Let ook op dat, net soos wat ons redding en vergifnis reeds ontvang het, hierdie belofte van God se krag, ook reeds aan ons gegee is dit gaan nie nog gegee word nie, dit is rééds gegee. Petrus sê in v.3 ~ Sy Goddelike krag het ons alles geskenk. Wat meer is, wanneer ons na die Grieks kyk, is hierdie belofte nie sterk genoeg in ons moderne tale vertaal nie, want die Grieks vir hierdie uitdrukking dui op n vrygewige, oordadige en koninklike geskenk en dít alles dui op ʼn gratis en volmaakte geskenk wat uit genade deur die Almagtige God aan Sy kinders geskenk word.

4.    DIE BRON VAN DIE KRAG:
       Die realiteit en Bybelse Waarheid t.o.v. die bestaan van hierdie krag, laat ons egter in ʼn posisie waar ons verantwoordelik voor die Here is oor wat ons daarmee maak en soos reeds gesê, ervaar baie van ons, indien nie almal nie, ʼn afwesigheid in ʼn mindere of meerdere mate daarvan.

       Die vraag is derhalwe waarom ons nie altyd hierdie beskikbare krag in ons lewe ervaar nie? Waar en/of hoe moet ons dit ontdek en vir onsself toe-eien, of dalk nog beter gestel, hoe kan ons dit vrystel in werking stel? Petrus gee vir ons die antwoord in v.3b ~ ...Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag geen geheime resep dus nie net, deurdat ons Hom ken.

       Om Jesus Christus te ken is ons geboortereg wat ons ontvang het, die dag toe Jesus ons geroep het. Hierdie woord roep is in die Grieks ʼn werkwoord wat in die aoristus vorm geskryf is - m.a.w., dit is ʼn aksie wat eenmalig plaasvind, maar met blywende gevolge. By wedergeboorte het ons dus hierdie krag ontvang en dit bly permanent teenwoordig en beskikbaar. Die antwoord is dus eenvoudig, ons ontvang hierdie krag deur Jesus Christus te ken.

       Die onmiddelike reaksie hierop kan dus wees dat indien ons nie oor die nodige krag beskik om geestelik te groei nie, dit a.g.v. ʼn gebrek aan kennis van Christus is, want Chirstus is die Bron vir geestelike krag en groei ~ Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God (Kol.1:9-10). Paulus skryf verder aan die gemeente in Kolosse ~ My doel daarmee is dat (julle) bemoedig moet word. (Julle) moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, 3en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kol.2:2-3).

       Om Jesus te ken; om Jesus beter te leer ken; om van Jesus te leer; om Jesus te gehoorsaam dít is die sleutel tot ontsluiting van hierdie krag wat lei tot ʼn heilige lewe – ʼn heilige lewe wat God van elkeen verwag aan wie Hy uit genade en in oormaat die krag daartoe geskenk het. Ons gebed vir onsself en vir mekaar moet deurgaans dié van Paulus wees wat ons so pas gelees het vanuit Kol.1:9-10 en Kol.2:2-3. nl. dat ons sal toeneem in die kennis van God en dat ons sal strewe na n diep en volledig insig sodat ons God se geheimenis kan ken.

5.    DIE GEVOLG VAN DIE KRAG:
       Wanneer ons as gelowiges beklee word met God se geregtigheid word ons nuwe skepsele ~ Iemand wat aan Christus behoort, is n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Kor.5:17). Wie en wat is hierdie nuwe skepsele? ʼn Kennis van my (Philip du Toit) het sy doktorsgraad oor hierdie uitdrukking (die Beklee-metafoor) gedoen en hy sê o.a. (p.114 van sy verhandeling) dat Christus in ʼn besondere eenheid met diegene staan vir wie Hy gesterf en opgestaan het. Die mens deel nou ten volle in dit wat Christus vir hom of haar gedoen het en deel ook in dit wat met Christus gebeur het. Dit gaan oor ʼn identifkasie met Christus in terme van die effek van Christus se versoeningswerk deur Sy dood en opstanding, asook die implikasies daarvan vir die manier hoe die gelowige moet lewe. Alles wat waar is van die nuwe mensheid is dus ook waar van die gelowige.

       Ons word derhalwe en inderdaad, nuwe skepsele wat deel kry aan Chrstus se aard ~ Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie (Rom.8:9). As ons deel kry aan Christus se aard, is dit nie meer ons wat lewe nie, maar Christus wat in ons lewe. Die vraag is weerspieël my lewe dit? Weerspieël my optrede Jesus Christus?

       Petrus sê in v.4 vir ons dat daar ʼn paar beloftes vir ons opgesluit lê indien ons die krag van God ervaar en aan Christus toegewyde lewens leef en let op dat hy sê dat hierdie beloftes, die kosbaartse en allergrootste geskenke ooit is hy sê ~ Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur (v.4). 

        Die belofte van ontvlugting: Die eerste belofte waarvan Petrus getuig, is dié van ontvlugting - ontvlugting van die begeerlikhede van hierdie wêreld en dit opsigself is deel van die heiligmakingsproses. Hoe ver is jy al gevorder op hierdie pad van heiligmaking? Jou ontvlugting van die begeerlikhede van hierdie wêreld is ʼn aanduiding van hoe ver jy al gevorder is op hierdie pad.

       Weereens wat moet ons reaksie wees op hierdie beloftes en hierdie feite?
-        Vers 1 het reeds die eerste vereiste uitgespel, nl. geloof geloof wat ons uit genade deelagtig geword het.
-        Tweedens sien ons in v.4a dat ons moet vlug van die wêreld, bedoelende dat ons nie deel moet wees en deelneem aan die wêreld wat uit rebellie vervreem van God is nie ~ Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16Die wêreldse dingealles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besitkom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 17En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe (1 Joh.2:15-17).

        Die belofte van verheerliking: Wanneer Petrus oor die tweede belofte in v.4 praat, raak hy die teologiese kwessie van die eskatologie aan (die leer van die laaste dinge). Hy skryf oor hierdie kwessie omdat daar vals leraars in die gemeente was wat n ekstreme kant van die eskatologie aangehang het.

       Ons vind vandag nog twee ekstreme kante van die eskatologie, nl. n onder-beklemtoonde eskatologie. Met hierdie uitgangspunt word die geweldige transformasie wat plaasvind in die verhouding tussen God en die mens a.g.v. Christus se lewe, dood en opstanding bloot net geïgnoreer. Hierdie groep mense benader God nog soos in die Ou Testamentiese tye, met die verskil dat daar nie meer diereoffers plaasvind nie, maar asemrowende geboue (katedrale) wat gebou word en daar word gebruik gemaak van  o.a. mistiese musiek, wierook, kerse, mantels en allerlei mistiese tekens en gebruike. Die gevoel wat so gelaat word, is dat God nogsteeds nie direk deur aanbidders genader kan word nie, behalwe deur n uitgesoekte klompie mense. Die enigste manier om God tevrede te stel is om streng wette en reëls na te kom - dít terwyl God reeds tevrede gestel is deur Jesus se soendood.

       Die ander faset van ekstreme eskatologie is dié van n oor-beklemtoonde eskatologie. Met hierdie uitgangspunt glo hulle dat alles wat belowe is vir die tyd ná Jesus se terugkeer, vandag alreeds n relaiteit is - bv. n sondelose toestand. Hierdie kan tog ook nie wees nie, omdat ons steeds te doen het met die vlees en sonde.

       In die lig van hierdie valsleraars se dwaling, skryf Petrus dan aan sy lesers dat hulle in die hier-en-die-nog nie tydperk lewe - die tydperk tussen Christus die Dienskeng en Christus die Here. Eendag sal ons verheerlikte liggame hê, maar intussen voer ons steeds die stryd teen sonde en intussen sterf ons nog. Petrus leer sy lesers dat hulle mense is en nie gode nie - ons is skepsele en nie Skepper nie (Gen.1:26).

       Ons is van nature rebels en jaag die vlees na en daar is maar net een manier om God se oordeel op ons rebellie te ontsnap en dit word deur Petrus in 2 Pet.3:10-12 beskryf ~ Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met' n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop moet is, vergaan. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Hier is dit weer ~ julle (moet) des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor.

       Die keuse is ons sn - óf ons leef soos die wêreld wat deur God veroordeel gaan word, óf ons leef volgens die standaarde van Hom wat gaan oordeel.

       Hoe is dit moontlik? Deur die krag wat ons van Christus Jesus ontvang het!

6.    AFSLUITING:
       Geliefdes, ons moet die Heilige Gees vra om ons aanspreeklik te hou (accountable) t.o.v. hierdie genadige geskenk van krag om heilig te lewe - ons moet Hom m.a.w. vra om ons op ons sonde te wys, sodat ons dit kan bely en ons bekeer, ten einde heilige lewens te leef. Dit eindig egter nie daar nie - ons moet ook ons broers en suster vra om ons aanspreeklik te hou en wat meer is; ons moet met dankbaarheid toelaat dat broers en susters in ons lewe inspreek (Matt.18) waarom is dit nodig?
    Sodat ons tot eer van God kan leef;
    Sodat ons kan groei in heiligmaking;
    Sodat die Bruid van Christus suiwer kan bly;

    Sodat die beloftes soos uitgelig deur Petrus n realiteit in ons lewe kan wees en word, nl. om die verderf (te kan) ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel (te kan) kry aan die Goddelike natuur.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente  Sondagoggend 01 Februarie 2015