Sunday, January 25, 2015

Die Profeet Sagaria - 08 (“Die Loot”)

1.     INLEIDING:
       Die naggesigte wat Sagaria tot nou gesien het, was grootliks bemoedigend, maar dit het nie te veel troos vir die huidige inwoners van Jerusalem op daardie tydstip gebring nie, want dit is een ding om swaar te kry en die beloftes van die Here te hoor en dit kom in vervulling, maar dis iets anders as die beloftes nog nie in vervulling gekom het nie en jy steeds die swaarkry aan jou lyf voel – en dit was presies die geval met die volk van die Here in die tyd dat Sagaria die gesigte van die Here ontvang het.

       Is dit nie maar grootliks ook die geval met ons nie – ons ervaar swaarky van allerlei aard en omvang en dan word daar gereeld hier “van voor af” gesê dat ons ʼn ewigheidsperspektief moet ontwikkel, maar dit bring nie altyd die nodige bemoediging en oplossing vir my probleem nie, want wat ek nou ervaar is nie wat ek eendag sal ervaar nie, maar ek is nou hier in die nou en nie daar in die ewigheid nie.

       Wat die Judeërs aan betref – baie van hulle was nog in Babilon en kon nog nie op daardie stadium terugkeer na Jerusalem nie. Diegene wie reeds terug was in Jerusalem het nog nie ʼn tempel gehad waar hulle kon aanbid nie; hulle het nog nie ʼn koning nie; hulle goue voorwerpe wat in die tempel was en wat nodig was om God te aanbid en Sy teenwoordigheid te ervaar, was weggevoer – in kort, die volk kry swaar; hulle is verarm en hulle kan God nie aanbid soos hulle wil en moet nie – hoe nou verder?

2.     SKRIFLESING:
Sag.6:9-15 ~ Die woord van die Here het tot my gekom en gesê: 10Gaan vandag nog na die huis van Josia seun van Sefanja toe waar die ballinge Geldai, Tobija en Jedaja uit Babel aangekom het 11en kry by hulle silwer en goud. Maak dan daarvan ’n kroon en sit dit op die kop van die hoëpriester Jesua seun van Josadak. 12Dan moet jy vir hom sê: So sê die Here die Almagtige: Daar is ’n man met die naam Loot. Hy maak vinnig opgang en hy sal die tempel van die Here bou. 13Dit is hy wat die tempel van die Here sal bou, dit is hy wat die mag sal besit, wat op die troon sal sit en sal heers. ’n Priester sal saam met hom regeer en daar sal vriendelike oorleg tussen hulle twee wees. 14Die kroon moet in die tempel van die Here bly as ’n gedagtenis aan Geldai, Tobija en Jedaja en aan die goeie gesindheid van die seun van Sefanja. 15Mense sal van ver af kom en aan die tempel van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God.

3.     SAGARIA – WAT OM TE DOEN:
       Te midde van God se volk se swaarkry en dilemma gee Hy opdragte aan Sagaria oor wat om volgende te doen. Hy verwys hom na die huis van Josia, seun van Sefanja, waar drie manne pas uit ballingskap vanaf Babel in Jerusalem aangekom het en hierdie drie manne het silwer en goud by hulle gehad – silwer en goud wat hulle vanaf Babel saamgebring het. Ons sien in Esra 1 :7-11 dat Sesbassar deur Kores (Cyrus) aangestel was as eerste goewerneur in Juda en hy het opdrag van Kores ontvang om al die goud en silwer wat deur die Babiloniërs weggevoer was, terug te neem na Jerusalem. Hierdie drie manne het waarskynlik intussen en in opdrag van Sesbassar van die goud en silwer solank na Jerusalem geneem. Sagaria ontvang ʼn boodskap van die Here dat hy hierdie goud en silwer moes gaan haal.

       Sagaria se opdrag het ook behels dat hy dieselfde dag nog hierdie drie manne moes besoek, want daar was nie tyd om vermors te word nie en dit plaas die klem op die belangrikheid van dít wat verder gedoen moes word met hierdie goud en silwer.

       Ons lees in v.11 van ene Jesua (of Josía soos dit in die OAV vermeld word) en hierdie man is net so onbekend soos die drie ballinge wat terug gekeer het uit Babilon. Ons vind tog egter ʼn wenk oor wie dit moontlik mag wees in die verwysing na die feit dat hy die seun van Sefanja was. Sefanja word ook in 2 Kon.25:18 vermeld en daar sien ons dat Sefanja die “tweede-in-bevel” hoëpriester was tydens die ballingskap en daarom kan aanvaar word dat Josía die tweede priester in Jerusalem was, tydens die gebeure waarvan ons gelees het en derhalwe was die huis van Josía dan ook die ideale plek vir die simboliese seremonie waarvan daar in v.11 sprake is, nl. die kroning van die hoëpriester. Wat ons egter verseker weet, is dat Josía voortaan ʼn baie belangrike rol in die lewen van die Israeliete sou speel.

       Nadat Sagaria die goud en silwer as bydraes van die drie manne ontvang het, maak hy ʼn kroon of krone daarvan – ek sê krone omdat hierdie woord in sy oorspronklike vorm in die meervoudsvorm geskryf was. Hier is weereens baie redenasies waarom die enkelvoud eerder gebruik moet word en waarom nie, ek wil egter net kortliks die volgende daarop sê:
·           Daar was twee metale teruggebring van Babilon;
·           Beide metale moes gebruik word om die opdrag uit te voer;
·           Die hoëpriester se kroon het altyd net uit goud bestaan ~ Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as ’n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het (Lev.8:9 – sien ook Eks.39:30).
·           Die Ou Testamentiese konings se krone het ook net uit goud bestaan – ons sien in Ps.21:1-3 dat Dawid hom verheug het in die goue kroon wat die Here aan hom gegee het. In Ester 8:15 lees ons van Mordegai se goue kroon ~ Mordegai het van die koning af weggegaan in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig.

       Op die oog af lyk dit dus asof hier twee verskillende krone gemaak moes word, maar kan ʼn mens ook aanvaar dat hier net een kroon ter sprake was, maar omdat ons nie regtig uit die konteks kan agterkom vir wie so ʼn tweede kroon gemaak moes word nie, is die moontlikheid  aanloklik om die opsie van net een kroon wat gemaak moes word, te aanvaar, maar dat die kroon uit beide metale moes bestaan – maar netnou meer hieroor.

       Dit is baie belangrik om daarop te let dat die twee ampte van koning en priester altyd apart van mekaar gehou was – daar was dus nooit ʼn koning wat terselfdertyd koning en hoëpriester was nie (of andersom nie) en wat meer is, die hoëpriesters het almal altyd uit die stam van Levi gekom en die konings uit die stam van Dawid. Hierdie saak was so ernstig dat toe Saul in 1 Sam.15 besluit het om self ʼn brandoffer in Samuel se afwesigheid in die tabernakel te bring, het die Here hom as koning uit sy amp verwyder.

       Sagaria was egter ʼn uitsondering op die reël, want hy was nie alleen ʼn profeet nie, maar hy het ook diens gedoen in die tempel. In Sag.1:1 sê hy dat hy seun van Berekja, seun van Iddo is. Iddo was die hoof van die priesterlike families wat uit ballingskap gekom het (Neh.12:4, 16) – dit het dus van Sagaria ʼn priester gemaak. Sagaria het egter terselfdertyd ook uit die nageslag van die koninklike familie van Dawid gekom.

       Ons moet ook in gedagte hou dat die volk se hoop op die koms van die Messias op hierdie stadium na ʼn lang tydperk van baie swaarkry in ballingskap, baie hoog was en baie mense het waarskynlik gedink dat Sagaria die uiteindelike Messias is, omdat hy by wyse van spreke en soos ons nou net gesien het, oor beide koninklike- sowel as priesterlike “bloed” beskik het – ʼn “volmaakte” getuigskrif en “kwalifikasie” derhalwe, om geïdentifiseer te word as die Joodse Messias. Ons sien ook die uitdrukking “Loot” (of Spruit – OAV) in Sag.6:12-14 – die Loot wat sou regeer en die tempel bou (lw. nie herbou nie) – hierdie profesie pas dus vir Sagaria soos ʼn handskoen, want hy is betrokke by die herbou van die tempel.

       Iets wat nog verder kon lei tot die oortuiging dat Sagaria die Messias is, kan gegrond word op dit wat in Ps.110 deur Dawid voorspel is, nl. dat die Messias, beide Koning en Priester volgens die orde van Melgisedek sou wees – koning en priester dus van Salem – die plek wat later Jerusalem geword het. Wat die volk waarskynlik nie verder onthou het nie, is die woorde in Hebr.7:1-3 wat sê dat Melgisedek nié oor ʼn geslagregister beskik het nie en daarom kon Sagaria nie die Messias gewees het nie, omdat Sagaria ʼn aangetekende en bekende geslagsregister gehad het.

       Maar terug na die twee metale en die krone. Ons het netnou gesien dat daar twee krone gemaak moes word en dit word gegrond op die tekskritiese feit dat die meervoudsvorm gebruik word wanneer hier gepraat word van “krone”. Ons kan dus aanvaar dat twee verskillende krone gemaak moes word – een van goud (die hoëpriesters en konings se krone was van goud) en nog ʼn kroon, gemaak van silwer. Ons teks sê ook wie moet watter een kry, nl. die goue vir die hoëpriester Jesua en die ander vir die man genaamd “Loot” of “Spruit”.

       Wie is hierdie “Loot”? Is dit Serubbabel wat in 538 v.C. uit ballingskap terug gekeer het en begin het om die tempel te herbou, of was hierdie kroon bestem vir ʼn ander onbekende persoon – óf dalk ʼn anonieme Messiaanse figuur in die toekoms?

       As ons na Jer.23:5 kyk, sien ons ʼn verwysing na hierdie “Spruit” ~ Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit sal laat opskiet, ’n koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. In Sag.6:8 lees ons dat hierdie “Loot” die tempel van die Here sal bou. Dit wil dus op die oog af lyk asof Serubbabel die een is wat hierdie tweede kroon moet kry, want hy is die volk se leier op die stadium en hy herbou die tempel. Dit kan egter ook nie hy wees nie, want na koning Sedekia wat 11 jaar geheers het (597-586 V.C.) weet ons, was daar nooit weer ʼn koning wat oor Israel geheers het nie. Die enigste ander moontlikheid is derhalwe dat hierdie “Loot” ʼn Messiaanse figuur is wat nog in die toekoms voorlê, trouens Ps.110 praat reeds hiervan, wanneer Dawid voorspel dat hierdie Messias, beide koning en priester sal wees – vv.1-2 ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! V.4 ~ 4Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.”

       Daar kan maar net Een wees wat aan hierdie beskrywing voldoen en dit is die Messias, Jesus Christus. Dit is dan ook so dat ons in Luk.1:32-33 sien dat die Here God aan Hom die troon van sy vader Dawid sal gee, en Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid.

4.     SAGARIA – WAAROM DIT DOEN?
       Waarom moes Sagaria die goue koninklike kroon op die hoëpriester Jesua se kop plaas as daar nie meer ʼn koning in Israel sou wees nie? Die antwoord hierop is baie eenvoudig – dit was ʼn simboliese handeling, want dit het gesimboliseer dat die “Loot”, beide ons Koning sowel as ons Priester sou wees – die twee krone verteenwoordig dus ʼn dubbele beeld, maar voortaan sou daar net ʼn Koninklike kroon wees – een kroon wat baie krone verteenwoordig en baie koninkryke van die wêreld oor wie die Hoëpriester en Koning sou regeer.

       Vv.12-13 is dus ʼn profetiese vooruitskouing van Jesus Christus, die ewige en enigste Messias wat sou kom. Ene prof. C. Feinberg, ʼn uitstaande Messiaanse Jood en kenner van die Ou Testament, beklemtoon die betekenis van hierdie twee verse só: “Dit is een van die mees merkwaardige en kosbaarste Messiaanse profesieë, en daar is nie ʼn duideliker profetiese uitspraak in die hele Ou Testament oor die Persoon van die beloofde Verlosser, die ampte wat Hy sal beklee en die taak wat Hy sal verrig nie.”

       Spoedig sal die magtige Priester-Koning van Israel én die hele wêreld kom om sy vyande te oordeel, die oorblyfsel in Israel te red en die wêreld uit die hemelse Jerusalem te regeer. Sy heiliges sal sy heerlikheid met Hom deel en saam met Hom as konings regeer.

       Hierdie hele profetiese drama wat hom in ons gelese gedeelte afspeel, gaan dus glad nie oor Sagaria, óf Jesua, óf Serubbabel en ook nie oor Josía nie, maar eerder oor dié Een wie Jesua verteenwoordig – dié Een na wie Jesua heenwys, nl. Jesus die Christus.

5.     DIE LOOT SE AMPTE:
       Wie en wat is ons Loot, Jesus Christus?
·           Christus is Koning: As Koning dra Christus ʼn kroon. Met Sy eerste koms het Hy ʼn doringkroon gedra, maar met Sy tweede koms sal Hy die kroon van heerlikheid dra en kom om te heers ~ Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self (Openb.19:12). Christus is dus ons Koning.
·           Christus is Hoëpriester: In v.13 van ons Skriflesing, lees ons dat Hy Priester op Sy eie troon sal wees en as Priester tree Hy op as tussenganger tussen die heilige God en die sondegevalle mens. Jesus moes o.a. ook Mens word ten einde met ons te kan identifiseer, sodat Hy tot God kan nader namens ons ~ Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen (Hebr.2:17). Christus is derhalwe ook Hoë Priester.

       Die priesters tydens die Aäronitiese bedeling het nooit gesit terwyl hulle in die Tempel was nie (daar was geen stoele nie) omdat hulle werk nooit afgehandel was nie. Hulle moes voortdurend sondeoffers gebring het vir hul eie sonde en dié van die volk sʼn, terwyl Jesus net één offer gebring het en dit was ʼn voldoende offer- en ʼn aanvaarde offer vir God en daarom sit Hy nou aan die regterhand van God  ~ Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is (Hebr.10:12-13).

       In die lig hiervan, sal geen mens ooit volkome vrede kan ervaar as Jesus Christus nie beide Koning én Hoëpriester in sy of haar lewe is nie, want ons het ʼn volmaakte Hoëpriester nodig om die volmaakte offer te bring, ten einde ons skuld voor God te hanteer en wanneer jy jou volle vertroue in Hom stel, dan is daardie offer op jou van toepassing.
 omHo
· 
       Jy en ek het egter ook ʼn Koning nodig om oor jou lewe te heers en aan wie jy jouself moet onderwerp – Hy is beide Koning en Hoëpriester en daarom kom alle lof en eer Hom alleen toe.

6.     DIE LOOT SE TEMPEL:
       V.12 eindig met dit waarmee v.13 begin, nl. dat “die Loot”,  die tempel self sal bou – met die herhaling van hierdie feit word die klem geplaas op die feit dat Christus self Sy tempel (Sy Kerk) bou. Die gedagte met hierdie herhaling was enersyds om die moeë werkers wat aan die herbou van die tempel deelgeneem het, te bemoedig om hul werk te voltooi. Dit wys egter ook heen en veral, na die Kerk wat Christus bou ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18). Natuurlik is hierdie Kerk, ʼn geestelike tempel (Ef.2:21), waarheen al die nasies van die wêreld sal stroom (bedoelende al die uitverkorenes uit al die volke en nasies en tale – sien Jes.2:1-4; 56:6-7; Eseg.40:48; Miga 4:1-7; Hag.2:7-9).

       Die hoof gedagte met die Tempel is om heen te wys na God se woonplek onder Sy kinders, die plek waar Sy heerlikheid en teenwoordigheid onder Sy kinders weerspieël was. Die objekte in die Tempel het Sy karakter verteenwoordig en dit alles dui vir ons aan in watter gesindheid ons tot Hom moet nader. Die Ou Testamentiese Tempel was die naaste “iets” waar mense God kon sien en die wonderlike is dat ons as gelowiges onder die nuwe Verbond, nou self die Tempel van die lewende God is – die Tempel is nou ín ons ~ Hoe kan ’n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees” (2 Kor.6:16) en 1 Pet.2:5 ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

7.     DIE LOOT SE VOLGELINGE:
       In v.15 lees ons ~ Mense sal van ver af kom en aan die tempel van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. Hier word daar verwys na mense wat van ver gaan kom en aan die tempel gaan werk en dit dui op die impak wat die gelowiges van oor die hele wêreld op die kerk van Christus gaan hê – Openb.21:24-26 ~ Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. 25Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. 26Die mense sal luister en die rykdom van die nasies daarheen bring.

8.     AFSLUITING:
       Ter afsluiting kan ons net kortliks na die laaste gedeelte na v.15 kyk ~ Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God. Hierdie is een van daardie “indien-beloftes” waarna ons die afgelope Woensdag gekyk het nl. daardie beloftes wat voorafgegaan word deur die woord “indien”, of “as”, of o.a. die uitdrukking, “Jy moet, dan…”. Wanneer ons so ʼn belofte sien moet ons weet dat dit bepaalde gehoorsaamheid vereis, voor ons kan verwag dat die belofte vervul sal word in of deur my lewe.

       Indien daar sulke “indien- beloftes” is en ons ignoreer die voorwaardes, moet ons ook weet (al neem ons nie die belofte vir onsself nie) dat ons ongehoorsaam is. Ons is m.a.w. baie keer geneig om die belofte vir onsself toe te eien, maar ons vergeet gerieflikheidshalwe van die voorwaardes van swaarkry indien ons nie aan die voorwaardes voldoen nie.


       Net so met die vervulling van die belofte in v.15, nl. ~ Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God. Die Here sal toesien dat Sy planne vir die herstel en opbou van Jerusalem en die tempel volgens plan verloop, maar die voorwaarde is dat die volk na Sy opdragte sal luister. Presies dieselfde geld vir ons vandag – indien ons verlang dat die Here ons herstel en opbou moet ons ook na Sy opdragte luister – moet ons na Sy Woord luister en dit gehoorsaam, want dan sal Hy ons, wat nou Sy tempel is, opbou in die allerheiligste geloof.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 25 Januarie 2015