1. INLEIDING:
Ons het die afgelope
twee weke in Petrus se tweede brief gesien hoe Adam (en daarmee saam
die ganse mensdom) sy geregtigheidsaard, asook sy juridiese geregtigheidstand
voor God verloor het - hy en sy nageslag (wat ons insluit) was verdoem. Ons
het egter ook gesien dat diegene wie hul geloof in Christus Jesus stel, by wyse
van spreke uit Adam uitgehaal word en oorgeplant word in Christus Jesus in -
Adam se sonde wat aan ons toegreken was, of teen ons geestelike rekening
gedebiteer was, was op Golgota teen Jesus se rekening gedebiteer en is ons
rekening in “God se Boeke”, gekrediteer.
Ons het ook gesien, dat
daar nie net straf was om te ontkom nie, maar daar was ook nog nog loon wat ons
moes verwerf ten einde die ewige lewe te kan beërwe, maar hierdie
dilemma was ook deur Christus aangespreek, omdat Hy namens ons volkome
gehoorsaam aan Sy Vader was.
Wanneer ons Jakobus se
brief lees, het ons egter met nog ’n probleem te doen
~ Jou
dwaas, wil jy 'n bewys hê dat
geloof sonder dade nutteloos is (Jak.2:20). Hier is sprake
van dade en as ons geloof, volgens Jakobus, nie gerugsteun word deur dade nie,
is ons geloof dood. Petrus het hierdie selfde saak in vv.1-4 aangespreek en ons
het gesien dat ons krag ontvang om wel heilige lewens te leef en ons het
verlede week heelwat tyd aan hierdie aspek spandeer.
Petrus is baie besorgd
daaroor dat sy lesers nie net sal verstaan dat hule gered is nie, maar dat hul
lewens ook moet verander, daarom gaan hy voort in vv.5-7 en praat hy verder oor
hierdie aspek van ons geestelike lewe en spel hy bepaalde eienskappe uit wat
noodsaaklik is vir geestelike groei.
2. SKRIFLESING:
2 Pet.1:5-7~ En juis om hierdie
rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met
deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die
selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met
liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
3. EIENSKAPPE:
Petrus begin v.3 met
die woorde ~ …en juis om hierdie
rede moet julle alles in die stryd werp… Ons kan sekerlik
vir onsself afvra, om watter rede moet ons, wát in die stryd
werp? In die voorafgaande vier verse het hy gepraat van die resultaat van
Chirstus se geregtigheid wat ons deelagtig geword het, nl. dat ons die ewige
lewe beërwe het, maar ook
dat ons die krag ontvang het, om afgeskei van hierdie wêreld te kan leef en
juis om hierdie twee redes moet ons alles in die stryd werp om ons geloof te
versterk - en hoe moet ons dit doen? Hy gaan dan voort in vv.5-7 en sê vir
ons hoe ons dit moet doen.
Net voor ons egter
daarna kyk, moet ons ook net kyk na die woordjie “verryk” ~ …julle (moet) alles
in die stryd werp om julle geloof te verryk. Hierdie woord “verryk” het ’n baie interessante
oorsprong. Oorspronklik was dit ’n woord wat in die
teaterwêreld gebruik was. Daar was gepraat van ’n “teater-engel”, of te wel in die
Grieks, ’n χορηγέω (chorēgeō) en hierdie “teater-engel” was ’n welgestelde persoon wat saam met die skrywer en
produksiespan van so ’n teaterstuk gewerk het, deur geld te voorsien, sodat die
teaterproduksie net die beste kon wees (in ons dae sou
ons dit ’n borg noem). Hierdie kon egter ’n baie duur
welwillendheidsgebaar geraak het, want ander “chorēgi” het dikwels met so ’n “teater-engel” meegeding om te kyk
wie die meeste kon skenk vir hulle bepaalde produksies en het die produksies al
hoe meer uitspattig geraak - so ’n donateur het dan
uiteindelik ’n oorvloedige gewer geword. Later het hierdie Griekse woord
vir “teater-engel” verander na ἐπιχορηγέω (epichorēgeō), wat steeds die
gedagte van oorvloedige voorsiening impliseer.
Petrus voel ook baie
ernstig daaroor dat ons alles in die stryd sal werp om hierdie deugde tot ons
geloof te voeg - ons kan nie maar net agteroor sit en vertrou en glo dat dit so
met die tyd saam toegeveg sal word nie. Iemand het eenkeer gesê: “We are not called to ‘Let Go and Let
God do everything’; But: ‘Trust God and get going’”.
Petrus gaan nou voort
en hy noem ses eieskappe of deugde wat ons “oorvloedig moet
toevoeg” tot ons geloof, ten
einde geestelik te groei. Let op dat Petrus nié met hierdie lys wil
sê dat ons hierdie deugde in hierdie
volgorde moet toevoeg tot ons geloof nie, m.a.w. die een lei nie noodwendig tot
die volgende nie, of dat alvorens ons eers die een volkome onder die knie het,
die ander nie gaan volg nie.
• Deugsaamheid:
Eerstens sê hy
dat ons, ons geloof met deugsaamheid moet versterk. Wat is deugsaamheid? Die
ADV (Afrikaanse
Direkte Vertaling) vertaal dit met “uitnemendheid” en die ESV met “virtue”. Die Griekse woord
wat hier gebruik word, is ἀρέτη (aretē) en gee die idee van
sterk en energieke en gespierde manlikheid deur. Dit het egter ook morele
voortreflikheid of -uitmuntendheid in gedagte. Ons moet derhalwe sterk wees in
ons geloof, sodat ons kan uitstyg bo die versoekings van hierdie wêreld en ons eie
vlees. Die wêreld dink dat dit net swakkelinge is wat heiligmaking
najaag, maar Petrus sê in werklikheid, dat dit “’n man op ’n perd vat” om ’n heilige lewe te
lei.
Paulus help ons in
Fil.4:8 deur vir ons te sê watter deugde ons
moet toevoeg ~ Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles
wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is-
watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees- daarop moet julle julle
gedagtes rig.
Dit is derhalwe baie duidelik, dat geloof wat God-verheerlikend is,
oor ’n inhoud van deugsaamheid moet beskik.
• Kennis:
Indien geloof, aktiewe
gehoorsaamheid aan God beteken, impliseer dit, dat ons ook oor kennis moet
beskik. Toe Paulus tot bekering gekom het, het Jesus in Hand.22:14 vir hom gesê ~
Die
God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te
sien en sy stem te hoor. Ons is geroep om God te ken en Sy
wil te doen en as ons geestelik wil groei, móét ons groei in Sy
Woord.
Petrus gaan egter
verder en sê vir ons dat hierdie kennis nie net
kennis van ons redding en kennis van die Woord behels nie [ἐπίγνωσις (epignōsis)], maar kennis [γνῶσις (gnōsis)] wat daarin bestaan
dat ons sal weet wat van ons as gelowiges verwag word en wat aanvaarbare en
welbehaaglike optrede en gedrag vir gelowiges behels - daardie optrede wat
Jesus m.a.w. sal verheerlik. Hebr.5:14 omskryf dit ook pragtig ~ Vaste kos is vir
grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om
tussen goed en kwaad te onderskei.
Toe Petrus oor hierdie
deug geskryf het, het hy waarskynlik aan sy eie tekortkoming gedink toe hy nog ’n jong gelowige was
- ons lees in Matt.26:69-70 ~ Petrus het buite in die binnehof gesit
toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê:"Jy was ook
saam met Jesus die Galileër." Maar hy het dit voor almal
ontken:"Ek weet nie waarvan jy praat nie. In plaas daarvan
dat Petrus saam met Jesus gegaan het om Hom te ondersteun en solidariteit met
Hom te betoon, kruip hy weg en lieg hy oor sy verbintenis met Jesus.
• Selfbeheersing:
Om te weet is van
kardinale belang, maar om net te weet en niks te doen nie, is futiel en daarom
moet ons, ons kennis in aksie stel, maar daardie aksie moet gekenmerk word deur selfbeheersing. Dit
is waarom Jakobus in Jak.4:17 geskryf het ~ As iemand weet wat
die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.
Hierdie selfbeheersing
geld nie net vir dinge soos bv. kos en drank nie, maar dit geld vir elke aspek
van die lewe, so ook losbandigheid,
m.a.w. om nie gebind te wees deur sedelike wette nie - immoraliteit maak dus
ook deel uit van dit wat Petrus hier in gedagte het.
Vanuit die Griekse
agtergrond, beteken selfbeheersing dat jy jou vleeslike passies en begeertes
sal beheer en dat jy nie deur jou passies en begeertes beheer sal word nie.
• Volharding:
Omdat die volgende
deug, nl. “volharding” waarvan Petrus in
v.6 praat, met soveel ander woorde vertaal word, moet ons net eers na die woord
self kyk. “Volharding” kan ook vertaal
word met “lydsaamheid” (OAV). Die NASB vertaal
dit met “perserverance” en die ESV met “steadfastness”. Die Griekse woord
is ὑπομονή (hypomonē) en dit beteken om
te alle tye en onder alle omstandighede aan te hou; om te verduur dus en
hierdie uithouvermoë word geïnspreer en
gemotiveer deur die gelowige se hoop wat daar in Christus Jesus gesetel is.
Paulus praat van
hierdie hoop en volharding in Rom.8:25 wanneer hy sê ~
Maar
as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons
daarop met
volharding.
Hierdie is ook ’n baie mooi omskrywing van die uitdrukking wat ek so
gereeld gebruik, nl. om ’n
ewigheidsperspektief te hê. Wanneer Paulus
praat van die gelowige se “hoop” verwys
hy na ons verwagting van die wederkoms van Christus en ’n ewige lewe wat
ons deur Hom deelagtig geword het en ongeag van wat met ons in hierdie lewe
gebeur, ons klou naarstigtelik vas aan hierdie hoop - hierdie wete dat hierdie
lewe met al sy bekommernisse en swaarky en seerkry, van korte duur is en dat
daar ’n ewigheid op ons wag - ’n ewigheid van
verheerliking - dít is ons hoop.
Die NAV se gebruik
van volharding beskryf dus presies dit wat Petrus vir ons sê, nl. om te volhard
tot die einde toe, ten spyte van wat ookal. Hierdie “ookal” word deur die satan
geïnisieer deur op
twee vlakke sy aanslae teen ons te loods, nl. vanuit die wêreld in die vorm
van o.a teenstand en tweedens vanuit ons eie vlees. Die volhardende gelowige
swig egter nooit voor enige van hierdie aanslae nie, omdat hy ’n vaste hoop in
Christus Jesus het.
• Godsvrug:
Die tweede laaste
eienskap of deug wat Petrus noem ten einde geestelik te groei, is dieselfde
woord wat hy reeds in v.3 gebruik het ~ Sy Goddelike krag
het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Die meerderheid
Engelse vertalings, vertaal hierdie vers as volg ~ His divine power has granted to us all things that pertain to life and
godliness.
Petrus verwys met sy vyfde deug na hierdie “godliness”, of dan “godsvrug”.
Die Griekse woord is εὐσέβεια (eusebeia). Die
woord beteken om die regte eerbied te hê, of godvresend of
godsalig te wees. Die woord word gewoonlik gebruik om die lewenshouding van
gelowiges teenoor God en teenoor hul medemens te beskryf. ’n Ander vertaling
vir hierdie woord kan “vroom” wees.
Daar word van ons as
gelowiges verwag om “godvrugtige” lewens te leef en
dit impliseer dat ons op ’n baie praktiese
wyse, pynlik bewus sal wees van God se teenwoordigheid in elke faset van ons
lewe. As ons meer gereeld daaraan dink dat God Alomteenwoordig en Alwys is,
behoort dit ons te laat sidder, omdat ons dan behoort te besef dat God alles
weet wat ons dink en doen en sê - elke oomblik!
Daar word heel party
keer in die Woord gepraat van godsvrug. In Hand.22:12 lees ons van Ananias wat ’n godvrugtige of
vroom lewe geleef het en dan sien ons dat hy vroom genoem was, omdat hy volgens
die Wet geleef het. Hy het dus altyddeur geleef volgens die verwagtinge wat God
aan ons as mense stel.
In Titus 2:12 sien ons
hoe dat Titus opdrag kry om sy gemeente te leer om weg te draai van
goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede en ingetoë en regverdig en
vroom te lewe, maar wat meer is, dit word van ons verwag dat ons godsvrug ook
deurentyd sigbaar vir die wêreld sal wees.
In 1 Tim.4:7 gee Paulus
opdrag aan Timoteus om op te hou om hom aan ouvroustories te steur en dan gaan
hy voort en sê ~ Oefen jou liewer om
in toewyding aan God te lewe. Ons moet Godsvrug inoefen.
In 2 Tim.3:2-5 word
mense beskryf in wie se lewe godsvrug kortskiet - luister bietjie hierna ~ Die mense sal
selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor
hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig;
hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed,
sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en
hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die
uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van
die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
Hierdie mense wat
hier beskryf word is mense in wie se lewe godsvrug of vroomheid, of “godliness” ontbreek. Benewens
ons Skrifgedeelte waarna ons vandag kyk, kan ons, nee móét ons hierdie
gedeelte uit 2 Timoteus ook neem en ons eie godvrugtigheid, al dan nie, hieraan
meet.
Soos ons kan sien en
weereens kan ons ook sê dat ons godsvrug, net soos die ander
deugde, leer ken en verstaan deur die Woord van God te bestudeer en tesame met
dit moet ons die Heilige Gees vra om
ons daarmee te help.
Godsvrug is geen
opsionele luukse in ons lewenswandel as gelowiges nie en dit is ook nie ’n eienskap wat net
gereseveer word vir die apostels en sekere ander superieure gelowiges van ons
dag nie; dit is die plig en voorreg van elke gelowige om godsvrug na te streef
en homself te beklee met godsvrug deur dit te bestudeer in die Woord en hard te
oefen daarin en dit uit te leef in die praktyk.
In Gen.5:21-24 het
Moses die volgende gesê ~ Toe Henog vyf en
sestig was, het hy die vader geword van Metusalag. Henog het na die geboorte
van Metusalag nog drie honderd jaar naby God geleef en het seuns en
dogters gehad. Henog se ouderdom was dus drie honderd vyf en sestig jaar. Hy
het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na
Hom toe weggeneem. Henog het naby God geleef - dít is om godvrugtig
te wees.
Die Nuwe Testamentiese
gebruik van hierdie woord, dui op toewyding aan God en toewyding is nie
in die eerste plek, ’n aktiwiteit nie, maar ’n gesindheid en
hierdie gesindheid bestaan uit vier elemente, nl. die vrese van die Here; ’n liefde vir God; ’n begeerte om Hom
beter te ken en vierdens om Hom te behaag.
Onthou ook, dat ons nie
buitengewoon talentvol, of super-geestelik hief te wees (’n Henog m.a.w.) om dit na te jaag
nie - Petrus het enkele verse vantevore reeds gesê ~
Sy
Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te
dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag (2 Pet.1:3).
• Liefde:
Johannes sê in
1 Joh.4:20 ~ As
iemand sê:"Ek het God lief," en hy
haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie
liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan
sien nie.
Liefde is die laaste eienskap wat Petrus aanspreek en ons sien dat hy dit
verdeel in twee soorte liefde, nl. liefde vir mekaar en liefde vir ander mense.
- …vir Mekaar:
Wat e.g. betref, nl.
liefde vir mekaar, of soos die OAV daarna verwys as broederliefde, verwys dit
na ons liefde vir medegelowiges - die sg. “φιλαδελφία” (philadelphia)- liefde.
Liefde vir
medegelowiges is ’n uitstaande kenmerk vir ’n ware dissipel. Moenie hierdie eienskap sommer so “woerts warts” aftiek van jou
lysie van eienskappe tot ’n Godvrugtige lewe,
of -heiligmaking nie. Gaan dink eers baie mooi daaroor. Gaan bid eers daaroor
en ondersoek jouself. Is jy waarlik lief, só lief vir jou broers
en susters in hierdie gemeente, dat jy hulle aanvaar met hul bindekolle en al?
Is jy só lief vir hulle dat
jy nie sal skroom om in te spreek in sy of haar lewe ten einde hom of haar op
die regte pad te help hou nie? Is jy waarlik só lief vir elkeen dat
wanneer jy inspreek in iemand se lewe dat jy dit met ’n hart vol opregte
liefde en genade doen?
Kom ons neem dit ’n stappie verder.
Is jy só lief vir hulle dat
jy sal toelaat dat hulle met hulle blindekolle en al ook in jóú lewe mag inspreek
en dat jy in liefde na hulle sal luister en bereid sal wees om jou te bekeer?
Nog verder… Wat is jou
gesindheid t.o.v. gelowiges wat uit ander kulture kom? Glo jy werklik dat ’n Sotho en ’n Kleurling en ’n Zimbabwiër en ’n Indiër, of ’n Rus ’n gelowige kan
wees? As jy ja sê, dan moet jy ook mooi nadink oor jou diepste, ja, jou heel
diepste gesindheid jeens anderskleuriges, want wie sê daardie onbekende
anderskleurige waaroor jy ’n negatiewe opinie
wil utspreek of wat jy “name” wil noem, is nie
dalk ’n broer in Christus nie? As iemand sê:"Ek het God
lief," en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy
kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan
sien nie
(1
Joh.4:20).
Michael Green het op ’n keer gesê: “Those who have been born again,
must show their royal birth in royalty of behaviour towards other children of
the King”.
Wanneer dit kom by
broederliefde, laat ons Paulus se woorde in Rom.12:10 in gedagte hou ~ Betoon hartlike
broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar
daarin tot voorbeeld, asook 1 Joh.5:1 ~ Elkeen wat glo dat
Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet,
het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.
- …vir Alle Mense:
Petrus spreek ten
slotte ’n tweede tipe liefde aan en dit is die sg. “ἀγάπη” (agapē)- liefde, ons kan
ook daarna verwys soos die OAV wel doen, nl. naasteliefde.
In broederliefde is
beide partye lief vir mekaar, net soos wat daar in die seksuele liefde, ’n wedersydse
vervulling is, maar wanneer dit kom by “ἀγάπη” (agapē)- liefde, of te wel
naasteliefde, is dit meestal ’n eenrigting
situasie - ons wat die ander persone lief het, ongeag… Dit is nie omdat
ons so liefdevol is dat ons “ἀγάπη” (agapē)- liefde uitleef
nie, want dan sal ons nie maklik vreemdelinge lief hê nie,
maar ons weerspieël bloot die liefde
wat God teenoor ons geopenbaar het toe Hy Sy lewe vir ons opgeoffer het - ons
wat eens vreemdelinge en vyande van God was. Dít is wat God vir
ons gedoen het (Joh.3:16) en dít is wat Hy wil hê ons
moet doen (1
Joh.3:16).
4. AFSLUITING:
Geliefdes,
geen gelowige kan ooit op ’n punt kom waar hy of sy “gearriveer” het as
gelowige nie. Een van die kenmerke van geestelike volwassenheid, is juis om te
besef hoe ver ons tekort skiet - dit moet ons egter nie moedeloos laat nie,
maar eerder motiveer om nog harder aan ons heiligmaking te werk.
(Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente op 07 Februarie 2015)