1. INLEIDING:
In teenstelling met die kortste Psalm, nl. Ps.117 wat uit net
twee versies en vyf reëls bestaan en wat ook die kortste hoofstuk in die Bybel
is, kry ons net twee Psalms later, die langste Psalm, asook die langste
hoofstuk in die Bybel in die vorm van Psalm 119. Psalm 119 bevat 176 verse en
315 reëls.
Ps.119 is ’n sg. "naamdig" en is verdeel in 22
strofes en elkeen van hierdie 22 strofes begin met een van die letters van die
Hebreeuse alfabet.
Wat egter die heel belangrikste eienskap van Ps.119 is, is
die feit dat elkeen van die 176 verse van hierdie Psalm, met die uitsondering
van hoogstens 5 verse, ’n verwysing na die Woord van God is. Daar is verder ook
minstens agt sinonieme wat in hierdie Psalm vir die Skrif gebruik word. Die Wet
("Torah") kom
25 keer voor; die Woord ("dabar")
word nagenoeg 24 keer gebruik; Insettinge ("mispatim") – 23 keer; Getuienis ("hedot") –
23 keer; Opdragte ("miswoth")
– 22 keer; Verordeninge ("huqqim") – 21 keer; Voorskrifte ("piqqudim") –
21 keer en Beloftes ("imra") –
19 keer.
Die naam Here ("Jahweh") kom 24 keer voor in hierdie Psalm, terwyl
die naam God ("Elohim")
net een keer voorkom. Die verwysing na God, met die uitdrukking of woord
"U" kom egter 211 keer voor. Dit is baie duidelik dat God dus die
sentrale tema van hierdie Psalm is. Die feit dat die Naam vir God, nl.
"Jahweh" meerendeels gebruik word en nie "Elohim" nie, dui
waarskynlik daarop dat Dawid die outeur van hierdie Psalm was, alhoewel daar
sommiges is wat glo dat Jeremia en selfs Daniël eerder die outeur was.
2. SKRIFLESING:
Ps.119:1-8 ~ Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens
die woord van die Here. 2Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge
gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, 3geen onreg
pleeg nie en in sy weë wandel. 4U het u bevele gegee dat dit ten
volle uitgevoer moet word. 5As ek tog maar net op ’n vaste koers
kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! 6As ek al u gebooie in ag
neem, sal ek nooit raad-op wees nie. 7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met ’n opregte hart. 8Ek
sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie.
Wanneer ons kyk na die inhoud van hierdie eerste strofe van
die Psalm, kan die tema hiervan, soos volg verwoord word: Dié wat wandel volgens die Woord
van die Here.
3. VERS-VIR-VERS
VERKLARING:
Vers 1 (Dit
gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord
van die Here) – hierdie vers begin met die woord
"welgeluksalig" (O.A.V.) of "blessed" (E.S.V.). Die Hebreeuse woord van
"welgeluksalig" of "geseënd" begin ook met
"Aleph" (die
eerste woord van die Hebreeuse alfabet).
Hierdie eerste 8 verse van Ps.119 moet saam met Psalm 1
gelees word en dan sal ons sien dat die eerste drie verse van Ps.119, die
positiewe kant van Ps.1:1 is ~ Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van
goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie.
Ons eerste drie verse verduidelik dus aan ons hoe ons nié saam met die
goddeloses moet wandel nie, trouens dit toon aan ons hoe ons vlekkeloos kan
wees – iemand van integriteit. Hoe sê die Psalmdigter, hoe moet ons optree ten
einde vlekkeloos te wees? Hy sê in v.1 dat ons onberispelik moet lewe en hoe
kan ons dit regkry? Ons kan dit regkry deur volgens die Woord van God te
wandel.
In v.2 (Dit
gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart
sy wil doen) wil die Psalmis die tema van hierdie strofe beklemtoon,
wanneer hy sê dat ons God se wil met ons hele hart moet doen. Ons moet met ons
hele hart, volgens God se Woord wandel.
Dit is baie interessant om te sien dat die woorde, "met jou hele hart"
ook die sleutelgedagte van die boek Deuteronomium is. Dit is ook interessant om
te weet dat Deuteronomium die basis vorm vir talle Psalms, soos ook vele ander
Skrifgedeeltes. Die Nuwe Verbond se wortels is ook in Deuteronomium geanker en
Jesus het male sonder tal, uit Deuteronomium aangehaal.
Hoe dit ook al sy, daar sit veel meer agter die woorde in
v.2, wanneer dit sê dat ons God se wil met ons hele hart moet doen. God is glad
nie tevrede met bloot uiterlike gehoorsaamheid en -diens nie. Nee, Hy kyk na ons
hartsgesindheid wanneer ons gehoorsaam is aan Sy Woord – Hy wil hê dat ons van
harte, volgens Sy Woord en wil sal optree – Hy wil hê dat ons dit met oorgawe
en dankbaarheid en opgewondenheid sal doen – van harte dus en nie uit
pligpleging of om Hom te probeer beïndruk nie, want so ’n optrede beïndruk Hom
hoegenaamd nie.
Wanneer ons God se wil van harte uitleef, wandel ons in Sy
weë, soos v.3 tereg opmerk (Dit gaan goed met hulle wat... 3geen
onreg pleeg nie en in sy weë wandel). Ons optrede en ons karakter
moet dus iets van Sy karakter reflekteer, want dan wandel ons waarlik in Sy
weë. 1Pet.1:14-16 sê ~ As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig
volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het
nie. 15Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook
in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daar staan immers
geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Hierdie opdrag wat ons hier in Petrus se brief
vind, nl. dat ons heilig moet wees, is ’n herhaling van wat in Lev.11:44a staan
~ Ek is die
Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig.
Ps.119 fokus dus op ons gehoorsaamheid aan die Woord en
Jakobus is baie duidelik hieroor wanneer hy in Jak.1:22 sê ~ Julle moet
doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle
julleself.
Die Psalmis se opmerking in v.3 dat ons nie onreg moet pleeg,
of ongeregtigheid (O.A.V.)
moet doen nie, mag dalk duidelik en eenvoudig klink, maar hy skryf dit
spesifiek om twee redes:
·
Eerstens wil die Psalmis ons leer dat ons ganse
lewe; ons totale wese onder die beheer van God moet wees;
·
Tweedens, dat ons toegewyd en sorgvuldig aandag
moet skenk aan God se Woord en daarvolgens moet leef.
Dit is voor die hand liggend dat wanneer ons volgens God se
Woord leef, ons nie van die pad kan dwaal nie, maar daar is ’n voorwaarde
hieraan verbonde en ons vind dit in die woorde van Ps.1:2 wat sê dat ons God se
Woord dag en nag moet oordink.
Wanneer ons daaraan dink dat ons God se Woord dag en nag moet
oordink, is daar twee dinge waaraan ons aandag moet skenk, nl.:
·
"Dag en nag";
·
"Oordink".
Kom ons begin by die tweede, nl. die
uitdrukking "oordink" wat ook vertaal kan word met
"mediteer". Die Hebreeuse woord vir "God se Woord" dui op
die Torah of te wel die Mosaïese Wette en natuurlik was die Mosaïese Wette die
riglyn vir die Hebreërs se lewe. Die Hebreërs (of Jode as jy
wil), waarvan die Psalmis
natuurlik deel was, was demonstratiewe mense – hulle was, om dit in Engels uit
te druk, baie "vocal" – hulle het dus hulle stemme laat hoor (soos
ook in die Afrika kultuur).
Die Psalmis wil daarom in Ps.1 sê dat
wanneer hy en sy volksgenote die Woord oordink, of dan daaroor mediteer, doen
hulle dit hardop – hulle praat daaroor; hulle bid hardop daaroor en hulle sing
dit hardop. Ons weet natuurlik dat dit reeds bewys is, dat ’n mens baie beter
leer as jy dit hardop doen. Ek kan onthou toe ek in my vroeë onderwysjare
Tswana vir Laerskoolkinders geleer het, hoe ons altyd in onguns by die onderwysers
in die klasse langsaan was, omdat ons kort-kort gesing het, want die kinders
het die frases wat hulle in Tswana geleer het, op bekende wysies soos bv. “Vader
Jakob” gesing en dit is gedoen juis omdat die sing van frases, ’n nóg beter
tegniek is om daardie frases aan te leer en vas te lê... ...en síng, het die
Hebreërs gesíng! Nie sommer enige volksliedjies nie – hulle het die Woord
gesing! Dit is presies wat die Psalmis bedoel met die uitdrukking
"oordink" of te wel mediteer, nl. dat hy die Wet van die Here dag en
nag, hardop praat, bid én sing – ons kan dit in Engels "vocal meditation" noem.
Ek het die afgelope tyd baie daaroor
gedink, oor wat dit werklik beteken om God se Woord dag en nag te oordink?
Beteken dit dat ons elke oomblik, elke sekonde van die dag en nag aan God se
Woord moet dink? Baie van ons sukkel dikwels om net iets van ’n patroon in ons
"stiltetyd" te vind en derhalwe ’n vrugbare "tydjie" saam
met die Here elke dag te spandeer, wat staan nog dag en nag (in
die lig van bg. moet ons dalk maar nie meer praat van "stiltetyd" nie!). Dit is tog nie moontlik nie, of is dit?
Wat beteken dit regtig? Daar sal sekerlik mense wees wat van my mag verskil oor
die betekenis hiervan, maar as ons regtig wil weet wat dit beteken, moet ons ’n
antwoord in die Skrif daarvoor probeer vind en ’n goeie beginpunt, is dan
sekerlik Ps.1:2.
Die O.A.V. is hier ’n beter vertaling en
in ooreenstemming met die oorspronklike Hebreeuse teks. Die meeste Engelse
vertalings is dit ook eens met die O.A.V. Ps.1:2 lees dan as volg ~ ... maar sy behae is in die wet van die Here,
en hy oordink sy wet dag en nag.
Ek dink ons moet begin deur vir mekaar te sê dat dit nie hier gaan oor allerlei
"moets" en "moenies" nie – dit wat ek mag en nie mag nie.
Dit gaan eerder oor ʼn hartsgesindheid. My hartsgesindheid moet dus een wees
waar ek in alles wat ek doen en dink en sê, God wil verheerlik. My ganse
optrede en gesindheid moet dus dag en nag een wees waardeur ek Godgesentreerd
en Christus- verheerlikend wil optree. Wanneer dít my uitgangspunt is, sal ek
God in en deur my lewe verheerlik, want ’n mens se optrede word gemotiveer deur
jou gesindheid.
Ons totale oordenking (hou in gedagte wat tot nou gesê is t.o.v.
vokaliteit) moet dus van so ’n aard wees dat ons...
·
Eerstens vreugde daaruit sal put, trouens dit
moet ons soveel vreugde verskaf dat ons heeldag daaraan wíl dink én daaroor
praat én daaroor sing.
·
Tweedens moet my oordenking lei tot aksie. Dit
wat ek leer uit die Woord moet ek met ander woorde daagliks – elke oomblik, in
my praktiese lewe begin toepas en dit verg oefening en nogmaals inoefening om
daarop te konsentreer en dit te doen. As dit my ernstige voorneme is om
werklik, heeldag God se Woord te oordink, sal ek erns daarmee maak om dit te
begin toepas in en deur my lewe. Negatief gestel, as ek my nié daarop toespits
om dit te doen nie, is ek nie ernstig met en oor God se Woord en om dit dag en
nag te oordink nie.
Ons moet verstaan dat Bybelse meditasie of –oordenking, nie
inhoudloos, soos baie ander wêreldse tegnieke is nie. Nee, Bybelse oordenking
is vol inhoud en dit is hierdie Bybelse inhoud wat ons moet toepas op ons
daaglikse lewe. As ek vanoggend in die Woord die volgende vers bv. sal lees,
moet ek vir my vra hoe ek dit vandag en elke dag in my lewe sal toepas en dan
moet ek dit begin doen (elke
dag). Kan ek weer sê – En dit begin doen – dit moet dus deel word van my
daaglikse optrede – dit moet dus deel uitmaak van my verwysingsraamwerk – alle
toekomstige optrede moet daarvolgens gerig word. Kom ons neem sommer enige twee
voorbeelde uit die Skrif, bv.: 1Kor.6:1 ~ Gaan iemand
van julle wat ’n saak teen ’n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg
by heidense regters soek en nie by gelowiges nie? Dit gebeur op ’n
bepaalde oggend dat ’n medegelowige wat saam met jou in die gemeente is, nie sy
skuld aan jou betaal op die dag waarop daar ooreengekom is nie – wat doen jy?
Dagvaar jy hom, of volg jy ’n ander roete? Natuurlik sal jy n.a.v. hierdie teksvers
’n ander roete volg en daardie roete sal ondersteun word deur ’n ander
Skrifgedeelte wat jy dalk twee jaar terug oordink het en wat jy ingeoefen en gememoriseer,
daaroor gepraat het (en
dit selfs dalk gesing ook?) en dit toe gepas het by vorige geleenthede –
ja ek praat van Matt.18:21-22 ~ Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy
iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” 22Jesus antwoord
hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. Daarmee saam natuurlik ook
Matt.18:15-17 ~ As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle
eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16Maar
as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê
word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17En
as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die
gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.
Hierdie verse sal dus jou optrede teen so ’n broer bepaal en wanneer jy so
optree, is jy besig om die Woord, dag en nag te oordink.
Nog ’n voorbeeld waarop ek nie nou in detail wil ingaan nie,
is bv. Jak 3:9-10 ~ Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die
tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit
dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie
– wanneer ’n taxi skielik in ’n kruising voor jou stilhou – hoe wend jy jou
tong aan? Is jou tong vir jou gegee om te loof, of om te vloek en te vervloek?
In die praktyk van die lewe moet ek dus alles wat ek
vantevore geleer het, in my gedagtes oproep en toepas op die situasie waarin ek
my bevind. Dit is waarom Dawid ook in Ps.143:5 sê ~ Ek dink aan die verre verlede, ek
peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na.
Josua rig waarskynlik dié belangrikste waarskuwing tot elke gelowige wanneer hy
in Jos.1:8 sê ~ Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag
en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag
in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Hiermee saam en nóg belangriker,
is Jesus se opdrag in Joh.8:31-32 (O.A.V.) ~ As julle in my woord bly, is julle waarlik my
dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Om in die Woord te bly beteken dus voortgesette dissipelskap, wat ’n bewys van
jou kindskap van God is – anders gestel: Om kind van God te wees impliseer dat
jy nie die bestudering van God se Woord sal afskeep nie; jy sal die
memorisering van die Woord nie afskeep nie én jy sal dit wat jy lees en leer en
memoriseer, toepas in jou daaglikse lewe – dit is bewys dat jy waarlik kind van
God is. Dit is dan ook die basis vir heiligmaking in jou lewe: Lees die Woord;
oordink die Woord; pas die Woord toe in jou lewe; jy word meer heilig; jy lees
die Woord; oordink dit, ens.
Om ’n voortgesette en getroue "stiltetyd", jaar in
en jaar uit te hou, is sekerlik een van die grootste gevegte wat ons in ons
lewe veg, maar ons moet ons net eenvoudig self dissiplineer om dit te doen en
wanneer dit die geval is, sê Ps.1:3 vir ons, sal ons ~ ...soos ’n boom
(wees) wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en
waarvan die blare nie verdroog nie. (Ons sal) voorspoedig (wees) in alles
wat (ons) aanpak.
Vers 4 van Ps.119 sluit pragtig aan by wat ons tot nou uit
Psalm 1 gesê het (4U
het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word). Hier
beklemtoon die Psalmis die feit dat God nie Sy bevele, of te wel Sy Wet, of dan
Sy Woord, vir ons om dowe neute gegee het nie – nee, Hy het dit juis gegee
sodat ons dit ten volle sal uitvoer. Hoor u wat hy sê? Ten volle. Nie net deels
nie – ten volle! Nie net somtyds nie – ten volle, m.a.w. ten alle tye. Die
meeste Engelse vertalings stel dit pragtig – dit sê ~ You have commanded your
precepts to be kept diligently – "diligently",
m.a.w. dit moet ywerig, toegewyd en nougeset nagevolg en toegepas word.
Waarom moet ons God se Woord nougeset navolg en toepas?
Ps.19:8 ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee
lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
Die Psalmis is voorwaar ’n man van God, maar in v.5 erken hy
egter ook dat hy pynlik bewus is van hoe onheilig hy nog steeds is, deurdat hy
’n versugting uitspreek waarmee elkeen van ons sekerlik ook kan identifiseer ~ As ek tog
maar net op ʼn vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou!
Dit is waarskynlik hierdie vers wat Paulus in gedagte gehad het toe hy in
Rom.7:15-23 gesê het ~ Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil
doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek
nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17Maar
nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek
weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar
is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die
goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie,
dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is
dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21So
vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is
die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar
ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my
gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late
aan die werk is.
Met hierdie versugting is die Psalmis eerlik en sê hy
enersyds dat ook hy van tyd tot tyd daarmee sukkel en dat hy nie altyd getrou
is in sy oordenking van die Wet nie. Wat belangrik is, is dat ons nie sal
identifiseer met die Psalmis se, "van tyd tot gebrekkige oordenking van
die Woord nie", maar met "sy versugting om die saak reg te
stel".
Die kerngedagte hier is egter dat hierdie versugting die
primêre begeerte van ons hart moet wees – dit moet ook ons daaglikse gebed
wees, want uit onself kan ons dit nie doen nie – Here hou ons op ’n vaste koers, sodat ons aan U voorskrifte kan bly hou.
In verse 6-8 neem die Psalmis standpunt in en gaan hy oor tot
aksie (6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie. 7U bepalings is regverdig; as ek
hulle ter harte neem, sal ek U loof met ’n opregte hart. 8Ek sal
my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie). Hy
motiveer homself en herinner hom net weer daaraan, dat God se Wet regverdig is
en as hy dít in ag neem, sal hy nooit raadop wees nie en hy weet ook dat indien
hy gehoorsaam is, hy nie anders sal kan as om God te loof en te prys nie.
In
v.8 kom hy in die teenwoordigheid van die Here en neem hy homself voor en maak
hy ’n belofte aan die Here, dat hy homself aan God se voorskrifte sál hou. Hy
hou egter steeds sy swakhede en tekortkominge in ag en in nederigheid en
afhanklikheid vra hy weer vir die Here om hom by te staan in hierdie
noodsaaklike proses van heiligmaking. Hierin is daar ook ’n les vir ons
opgesluit. Ons moet nie net vra nie, ons moet net soos die Psalmis in
afhanklikheid van God, ’n besluit neem en oorgaan tot aksie.
4. AFSLUITING:
Geliefdes, mag hierdie
worsteling, maar ook kragdadige optrede van die Psalmis, ook vir ons as
bemoediging dien. Mag ons ook soos hy, ernstige besluite neem t.o.v. ons
oordenking van God se Woord, maar mag ons ook in nederigheid en opregtheid ons
sonde en tekortkominge bely, maar mag ons egter ook ons afhanklikheid aan God
se genade en hulp verklaar en hom daarom vra. Laat ons altyd die woorde van die
Hebreërskrywer in gedagte hou ~ Ek sal
jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. 6Daarom kan
ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan
’n mens aan my doen?
(Hebr.13:5b-6).
Boodskap gelewer deur Kobus van der
Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde
Baptistegemeente – Sondagoggend 04 Januarie 2015