Sunday, December 28, 2014

“Hy moet meer word en ek minder”

1.     INLEIDING:
In Joh.3:1-21 gee Johannes ’n gesprek weer, waarin Jesus die weg tot saligheid uiteengesit het en waarby Johannes enkele opmerkings bygevoeg het. Hy het verder ook reeds in hoofstuk een daarop gewys dat Johannes die Doper bloot net ’n getuie was wat getuig het oor die koms van die Messias (Seun van God). Johannes draai egter die soeklig vir ’n oomblik weer weg van Jesus en fokus weer op die "Die Doper" en weer sê hy dat Johannes slegs ’n boodskapper is – ’n getuie is van die Verlosser wat gekom het.
       Nadat ʼn mens die Evangelie van Johannes van hoofstuk 1 af, tot en met 3:21 gelees het, weet jy nou wat Jesus van mense verwag. Jy weet dat Jesus ’n radikale wedergeboorte verwag. Jy weet ook dat jy vorentoe in die Evangelie sal sien dat Jesus vir jou sonde gaan sterf; jy weet dat diegene wie in Jesus glo, die ewige lewe gaan ontvang, terwyl diegene wie nie glo nie, alreeds veroordeel is. Met dit in gedagte wil Johannes nou vir oulaas daarop wys dat "Die Doper" slegs ’n getuie was én dat "Die Doper" hom volkome aan Jesus onderwerp.

2.     SKRIFLESING: 
Joh.3:22-36 ~ Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het ’n rukkie daar gebly en mense gedoop. 23Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. 24Johannes was nog nie in die tronk gesit nie. 25Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ’n woordewisseling ontstaan oor die reiniging. 26Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.” 27Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. 28Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’29Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. 30Hy moet meer word en ek minder. 31“Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, en tog aanvaar niemand sy getuienis nie. 33Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is. 34God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. 35Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. 36Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.” 

Ons kan ons gelese gedeelte in drie hoofdele verdeel:
·           Johannes die Wegwyser (vv.22-26);
·           Johannes die Getuie (vv.27-29);
·           Johannes die Nederige (vv.30-36).

3.     JOHANNES DIE WEGWYSER:
Johannes (die outeur van hierdie Evangelie) beskryf vir ons ’n toneel waar Jesus en Sy dissipels uitgewyk het na die platteland van Judea, waar Jesus mense o.a. gedoop het. Johannes die Doper was terselfdertyd in die omgewing van Enon, naby Salim, waar hy steeds van Jesus die Messias getuig het – ook hy het nog steeds mense gedoop. Ons is nie vandag presies seker waar Enon was en hoe ver dit van die plek was waar Jesus op daardie selfde oomblik besig was om mense te doop nie. Daar bestaan wel sterk getuienisse dat Enon in die omgewing was, waar heelwat fonteine ontspring het en dit was ook binne Griekse regeringsgebied en derhalwe buite die invloedsfeer van Herodus Antipas.

As ons na v.25 kyk, sien ons dat daar ’n argument tussen die dissipels (volgelinge) van "Die Doper" en ’n Jood ontstaan het. Johannes se doop word deur die Jode bevraagteken en wel in die lig van die Joodse reinigingsgebruike (dit blyk duidelik uit v.25).

As ons na v.26 kyk, lyk dit ook asof Johannes se volgelinge, Jesus as kompetisie vir Johannes die Doper sien, veral omdat Jesus soveel "sukses" behaal het. Hulle wil by Johannes weet wie se doop die regte doop is, want beide Jesus en Johannes doop. Johannes word egter nie bedreig deur hierdie gestryery en vrae en die feit dat Jesus meer "sukses" behaal nie, want soos ons reeds in 1:6 gesien het, het Johannes onomwonde verklaar dat hy slegs deur God gestuur is om ’n boodskapper vir die Lig wat aan't kom was, te wees – Hy is slegs die Wegwyser en nie die Christus self nie.

Johannes, het ons gesien, sê dat die redenasie tussen die Jood en Johannes se dissipels, o.a. oor die Joodse reinigingsrituale gegaan het. Dit is iets wat nie maar net ongesiens verby kan gaan nie, want dit is duidelik dat daar tydens hierdie woordewisseling, parallelle getrek was tussen die reinigingsrituele en die doop. In beide is o.a. water gebruik en waarskynlik wou die Jood weet of Johannes se doop ook mense reinig soos wat die geval was met die reinigingsrituele in die Ou Testament – bv. Num.19:17-19 ~ Wanneer ’n persoon op hierdie manier onrein geword het, moet iemand van die as vat van die sondeoffer wat verbrand is, dit in ’n pot sit en vars water daaroor gooi. 18Dan moet iemand wat rein is, ’n hisoptakkie in die water doop en die water sprinkel oor die tent, oor al die gebruiksvoorwerpe en oor die mense wat by was. Dieselfde moet gebeur met iemand wat aan doodsbene geraak het of aan die lyk van iemand wat doodgemaak is of aan iemand wat gewoon gesterf het of aan ’n graf. 19’n Rein persoon moet op die derde en die sewende dag die water oor die onreine sprinkel, en op die sewende dag moet die onreine homself reinig. Daarna moet hy sy klere was en hom bad, dan sal hy teen die aand rein wees. Die hele kwessie van reiniging was derhalwe ’n baie belangrike saak vir die Jode soos ons bv. ook in Mark.7:1-23 kan sien en hierdie Jood wou waarskynlik weet waarom hy nou ook hierdie nuwe vorm van reiniging moet navolg en wat meer is, daar is nog ’n ander Man (Jesus) wat ook doop – wie is nou eintlik reg en wie nie?

4.     JOHANNES DIE GETUIE:
Met hierdie Jood se konfrontasie wat Johannes se volgelinge oënskynlik onkant gevang het en ook die feit dat hulle allerlei gerugte oor Jesus se "suksesse" hoor, laat hulle na Johannes gaan en hulle vra hom om duidelikheid aan hulle te gee oor hierdie vrae waarmee hulle te kampe het. Eienaardig genoeg meld hulle niks oor die hele kwessie van die reinigingsredenasies nie, maar is meer bekommerd oor die feit dat Jesus meer aftrek kry as Johannes.

Johannes het na hulle geluister en toe met hierdie merkwaardige woorde vorendag gekom – vv.27-29 ~ Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. 28Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’29Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. Johannes raak ’n baie belangrike beginsel hier aan, nl. dat geen mens enige iets kan besit, as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee word nie.

Johannes het hier spesifiek gepraat van Jesus se gewildheid en die gesag wat noodwendig daarmee gepaard gegaan het. Hierdie is ’n baie belangrik opmerking, omdat daar so baie mense is wat dink dat hulle oor bepaalde gawes, of talente, of materiële dinge beskik, sonder dat hulle dit van God ontvang het, m.a.w. hulle skryf hierdie talente en gawes, ens. aan hulle eie vermoëns en gene, ens. toe en God wat die Gewer van dit alles is, kry geen eer daarvoor nie.  

5.     JOHANNES DIE NEDERIGE:
Johannes se nederigheid blyk duidelik wanneer hy sy volgelinge verder antwoord en vir hulle sê dat hy nie die Christus is nie. Hy eien homself geen gesag of posisie toe nie. Hy spreek indirek sy verbasing uit dat hulle vir hom kom vra wie nou eintlik die belangrike een is – hy of Jesus, want hulle het dan al die antwoord in 1:20 gekry toe hy gesê het ~ Ek is nie die Christus nie.

Om dit wat hy tot nou gesê het, te illustreer, doen hy dit aan die hand van die huwelik. Hy sê dat die bruidegom die belangrike persoon by ’n huwelik is, maar dat sy vriend wat hom tydens die huwelik bystaan (in ons tyd – ’n strooijonker) egter ook ’n baie belangrike funksie vervul – hierdie vriend moet baie reëlings tref t.o.v. die seremonie en dinge wat die bruidegom aangaan – o.a. moet hy toesien dat die bruidegom by die bruid uitkom (onthou: die manne het na die bruid se huis gegaan vir die seremonie en daarna het hulle na die bruidegom se huis gegaan vir die dae lange feesvieringe). Die oomblik as die strooijonker se verantwoordelikhede egter afgehandel is, verdwyn hy op die agtergrond, want nou is dit die bruid wat langs die bruidegom staan – dit is die bruid wat aan die bruidegom behoort en die strooijonker deel nou net in die bruidegom se vreugde.

Johannes voel presies net so oor die Bruidegom Jesus en hy gaan ook nou op die agtergrond verdwyn. Johannes sê dus in geen onduidelike taal aan sy volgelinge, dat Jesus en nie hy, die Bruidegom is.

In sy reaksie op sy volgelinge se vraag, raak Johannes die Doper ’n tweede belangrike beginsel in v.30 aan, wanneer hy sê dat Jesus meer moet word en hy wat Johannes is, minder. Hierdie uitspraak van Johannes is waarskynlik een van dié grootste en belangrikste uitsprake wat nog ooit oor enige mense se lippe gevloei het ~ Hy moet meer word en ek minder! Hierdie is ’n pragtige samevatting van wat heiligmaking in ’n gelowiges se lewe behels. Waarskynlik een van die grootste struikelblokke in ons as gelowiges se lewens is trots – daarom dat Johannes verwys het na die eerste beginsel in v.27, nl. dat alles waaroor ons mag beskik en wat ons mag besit, vanuit die hemel aan ons geskenk word en nie uit onsself kom nie. Trots verdwyn egter soos mis voor die son wanneer eer en dank aan Christus gegee word vir alles wat ons is of het ~ Hy moet meer word en ek minder!

       Ek wil net kortliks iets oor vv.31-36 van ons Skriflesing sê voor ek by ’n toepassing van my boodskap kom. In hierdie gedeelte van ons gelese gedeelte vind ons iets van ’n herhaling, of ’n vaslegging van wat Johannes tot nou in sy antwoord op sy volgelinge se vraag, gedeel het. Hy lewer ’n wonderlike getuienis t.o.v. Jesus en hy verklaar in geen onduidelike taal, dat Jesus...:
·           Vanuit die hemel gestuur is en dat Hy met groter gesag beklee is as enige persoon of enige iets op aarde.
·           Dat Jesus op grond van waarneming gepraat het en nie vanuit teoretiese kennis nie – Hy praat dus oor die dinge wat Hy rondom Hom sien en ervaar.
·           Dat Jesus met God se gesag gepraat het – Hy het dus, omdat Hyself God is, God se woorde gespreek.
·           Dat God die Vader se liefde tot gevolg gehad het dat Hy Jesus toegerus het met die nodige gesag ten einde Sy sending en doel te volvoer.

       Hierdie eienskappe van Jesus het Hom in alle opsigte en by verre verhef bo Johannes die Doper, alhoewel "Die Doper" ’n baie belangrike funksie vervul het deur van Jesus te getuig en die mense se aandag op Jesus gevestig te kry. Wanneer Johannes minder word en Jesus meer, word die aandag dus onmiddellik op Jesus gevestig.

       Johannes wys egter ook daarop dat Jesus nie maar net ’n boodskapper was wat deur God gestuur is nie. Nee, Hy was self die objek van geloof – in Hom moes die mense hulle geloof plaas ten einde gered te word en sodoende die ewige lewe in besit te kan neem, terwyl diegene wie nie in Jesus glo nie, reeds onder die oordele van God staan [dit is interessant om te weet dat hierdie die enigste plek in die ganse Johannes Evangelie is, waar die woord "toorn" (O.A.V), of wrath (E.S.V., ens.) gebruik word].

6.    TOEPASSING:
Ek wil graag ten slotte vir ’n oomblik stilstaan by Johannes se grootse verklaring ~ Hy moet meer word en ek minder! Wat beteken hierdie woorde regtig? Wayne Mack sê in sy boek "The Fear Factor", When God calls a man to come to Christ, He calls him to come and die: to die to self, to die to selfish desires, to die to living for this world, and to die to all the idols of his heart. Jesus het dit baie duidelik gemaak toe Hy in Luk.9:23 gesê het ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.

Ek glo dus dat wanneer gelowiges hul kruis opneem, dan word Christus meer, m.a.w. wanneer ek myself neerlê, word Christus verhoog. Paulus bevestig dit wanneer hy in Fil.3:10 sê ~  Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Christus word dus meer wanneer ons met Hom identifiseer in Sy krag en Sy lyding en dit prakties toepas in ons lewe.

       Die vraag is egter wat dit beteken en hoe moet dit ’n realiteit word in my lewe? Ek glo dat ons deel van ons antwoord in Jesus se Bergpredikasie vind (kom ons blaai saam na Matt.5:1-12) ~ Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê: 3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11“Geseënd
is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” Hierdie is die dinge wat Jesus sê ons móét doen – en wees verseker, dat om hierdie dinge te doen, vra om jou kruis op te neem en Jesus te volg – ja, tot die dood toe onsself neerlê en nie ons eie belang te soek nie. Wanneer ons dít doen, sál ons vind dat Jesus meer word in ons lewe en ons minder.

       Kom ons kyk na elkeen van hierdie fasette:
·           In vers 3 sê Jesus dat ons geseënd sal wees wanneer ons weet hoe afhanklik ons van Hom is. In die moderne era waarin ons leef, leer ons nie meer om afhanklik te wees nie, trouens om afhanklik te wees, is ’n skeldwoord. Die wêreld leer ons om trots te wees; om ons selfbeeld te bou en om  onafhanklik te wees en in die proses het ons ook "ontleer" om afhanklik van God te wees. Jesus leer ons dat ons die Koninkryk van die hemel as beloning kry as ons afhanklik van Hom is, trouens dit is ’n waarheid wat al sedert die profeet Jesaja se tyd belowe word. Jesaja sê in Jes.57:15 ~ So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. In Jak.4:7-10 leer Jakobus ons hoe ons afhanklik van God kan wees ~ Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. 8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 10Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
·           Tweedens sê Jesus in v.4 dat ons geseënd sal wees wanneer ons treur. Weereens stel die wêreld ’n wêreld en lewe voor van geluk ten alle koste. Waaroor moet ons treur? Ons moet treur oor ons sonde en gebrokenheid. Hoe doen ons dit? Hier kan ons weer na Jak.4 kyk en dan spesifiek die gedeelte waar daar staan ~ Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9Bekla julle ellende, treur en huil! (v.8-9).
·           In v.5 sê Jesus dat die sagmoediges geseënd sal wees. In ons dae word mense wat sagmoedig van geaardheid en ’n sagte gees het, as papbroeke en "sissies" beskou. In teenstelling daarmee sê Jesus in Matt.11:29-30 ~ Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig. Mense wil in ons dag oor mag beskik en in die proses vertrap hulle andere; staan hulle op hul regte en wil hulle altyd hulle sin hê. Niks is goed genoeg nie en niemand kan iets beter doen as hy nie. Jesus het nie op Sy regte gestaan toe Hy gekasty en bespot is nie. Hy het nie andere vertrap in ’n poging om Sy kruisdood te ontglip nie. Nee, Hy was nederig en sagmoedig en Hy wil hê dat ons ook so moet optree – en ons beloning? Ons sal die nuwe aarde ontvang!
·           Jesus sê ook dat ons moet honger en dors na wat reg is. Wat beteken dit? Dit beteken dat ons voortdurend ’n begeerte sal hê na God se geregtigheid. Dit dui m.a.w. daarop dat ons heiligmaking voortdurend sal najaag.
·           Ons ervaar in toenemende mate gevoelloosheid in die mensdom rondom ons – mense het net nie meer tyd en empatie en simpatie met mekaar nie – hulle "voel niks meer vir mekaar" nie. Daarteenoor leer Jesus ons om onsself neer te lê en ons kruis op te neem, deur barmhartig (Eng. = "merciful") teenoor andere te wees. Die mensdom het nie meer tyd en genade vir mekaar nie. Jesus sê dan ook dat diegene wat barmhartig optree, self barmhartigheid as beloning sal ontvang – en wie sal hierdie barmhartigheid skenk? God die Vader self!
·           Vers 8 leer ons dat ons rein van hart moet wees. Indien ons God wil sien, moet ons besef dat ons lewe deurspek is van sonde en dat ons voortdurend geneig is tot sonde en daarom moet ons, ons sonde voor Hom bely en ons bekeer. Dit is só in teenstelling met die wêreld wat nie eens bewus is van hul sonde nie en hulle gee ook nie eers regtig om indien hulle sondig nie.
·           Die tweede laaste eienskap wat ons moet uitleef, ten einde ons kruis op te neem en ons neer te lê voor Christus, is volgens v.9, "vrede". Die wêreld jaag ook vrede na, maar dit is primêr gerig op die self. Elkeen wil vrede in homself hê en hy gee nie ’n snars om of hy andere se vrede versteur in die proses nie. Ons moet vredemakers wees en nie in die eerste plek vrede vir onsself soek nie. Op vertikale vlak moet ons die vredesboodskap van Jesus Christus aan ’n verloregaande wêreld verkondig, sodat vrede tussen sondaar en God bewerkstellig kan word. Ons moet egter ook op horisontale vlak vredemakers wees omdat God ’n God van vrede en eenheid is. Dit is waarom Paulus ook in Fil.4:2 ’n oproep gedoen het tot vrede en eenheid tussen Euodia en Sintige.
·           Dit is nie maklik om ’n toegewyde gelowige in hierdie lewe te wees nie, want die wêreld dink niks van Christene nie en is selfs vyandiggesind teenoor gelowiges. Die wêreld dwing ons voortdurend om kompromie te maak en ontrou aan God te wees, maar Jesus sê in v.10 dat ons getrou moet bly – ons moet vas bly staan, al vervolg en spot die wêreld ons, want as ons vas bly staan te midde van vervolging (ja, selfs tot die dood toe), sál ons die Koninkryk van God beërwe!

       Geliefdes, ons hét die krag ontvang om ons kruis op te neem en onsself te verloën en sodoende Christus meer te laat word en ons minder. Petrus sê in 2Pet.1:3 ~ Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

       Ek wil afsluit met die woorde in 1Tes.4:3a ~ Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. God wil hê dat ons heilig moet lewe en as Hy dit van ons verwag, behoort dit tog sekerlik moontlik te wees, nie waar nie? Die vraag is dus of ek bereid is om God toe te laat om heiligmaking in my te bewerk. Is ek en jy bereid dat Jesus Christus se lewe en wil deur ons weerspieël kan word? Ons moet ophou sê: O, ek wil so graag ’n heilige lewe lei. Ons moet heilig begin lewe. Ons moet ook ophou om vir die Here te vra om ons heilig te maak. Hy het ons reeds, met groot piëteit gesê, heilig gemaak toe Hy ons uit genade gered het. Hy het alles volkome gedoen om ons redding en heiligmaking moontlik te maak (Rom.5:8 is baie duidelik daaroor ~ Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was). Ons moet in gehoorsaamheid aan die Woord begin lewe – dit is wat nodig is om heilige lewens te leef; dit is wat nodig is om te groei in heiligmaking; dit is wat nodig is om minder te word sodat Christus meer kan word!


Mag die woorde wat William Carey aan ’n vriend gerig het, toe Carey op sterwe gelê het, ook waarlik ons opregte hartsversugting en lewenspraktyk wees – Carey het gesê: When I'm gone, don't talk about William Carey; talk about William Carey's Saviour. I desire that Christ alone might be magnified.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Drie Riviere, Vereeniging) - Sondagoggend 28 Desember 2014